Читать книгу Schalkie van Wyk Keur 15 - Schalkie van Wyk - Страница 7
4
ОглавлениеKayla en Trynie staar Annelize verbysterd aan, net half bewus van Sunette wat gretig nader tree aan Annelize en plegtig beloof: “As ek hier in Huis Kanferfoelie saam met tannie-hulle kom woon, sal ek persoonlik sorg dat Briand Olivier nooit weer sy voete in tannie se huis sit nie. Is Briand ’n misdadiger, tannie Annelize? Word hy deur die polisie gesoek? Wie het hy vermoor?” Haar oë rek dramaties en sy vervolg benoud: “Ons sal nie seker wees van ons lewens solank as wat die moorddadige Briand op vrye voet is nie!”
Annelize kyk na Sunette met ’n byna tasbare ergernis en beveel ysig: “Sunette, gaan weg … hoe verder weg, hoe beter. Ek het ’n persoonlike saak om met my huismense te bespreek en jou teenwoordigheid is beslis nie welkom nie. Stap, dogter!”
“Ek sou sê tannie kon darem ’n klein bietjie dankbaar gelyk het ná my groothartige aanbod om Briand hier weg te hou,” sê Sunette geraak en vervolg verwytend: “Ek sal oudergewoonte in die kelder gaan wegkruip en hoop die rotte vreet my nie lewend op nie. Kayla, kom soek my asseblief voordat net my kaalgevrete geraamte oorbly.”
Trynie wip orent en kry Sunette aan die arm beet. “Jy, skepseltjie, is veronderstel om in ’n restaurant te gaan werk en sakke vol fooitjies te verdien. Ek sal jou na die voordeur vergesel en die deur agter jou sluit en grendel.”
“Tannie kneus my sensitiewe velletjie!” protesteer Sunette luidkeels. “Los my arm, ta Trynie! Ek het van die werk in die restaurant vergeet, maar ek ry nou dadelik. Kayla kan my later van julle kriminele buurman vertel.”
Trynie bly in die eetkamerdeur staan, luister na Sunette se vinnige voetstappe en die toeklap van die voordeur, en draai dan met ’n ontstoke uitdrukking na Annelize. “Pleks dat jy Sunette se afstandbeheer terugeis sodat sy ons nie dag en nag kan pla nie, maak jy sinlose wette asof jy skielik ’n parlementslid geword het. Wat knaag aan jou siel, professortjie? Vir wat kies jy nou skielik my en Kayla se vriende vir ons?” vra sy omgekrap.
Annelize bly penregop langs die eetkamertafel staan, haar groen oë glimmend. “Trynie,” waarsku sy met ’n arktiese stemtoon, “ek is nie bereid om die situasie te bespreek nie. Ek het ’n opdrag gegee en solank as wat ek jou werkgeefster is, verwag ek dat jy my opdragte sonder teenspraak sal uitvoer.”
Trynie blik na Kayla wat nog roerloos aan die eetkamertafel sit en met ’n uitdrukking van hulpelose onbegrip na haar staar. Trynie draai haar kop sodat net Kayla haar vlugtige glimlaggie kan sien en sak op haar stoel aan die tafel neer. “Ek, professortjie,” sê sy ongesteurd, “het byna vyftig jaar gelede ’n kontrak by ’n prokureur onderteken waarin jou oorle ma in eenvoudige Afrikaans verklaar het dat ek tot aan die einde van my dae ’n blyplekkie in Huis Kanferfoelie sal hê. Is jy bewus van die kontrak, professortjie?”
Annelize slaag daarin om haar gelaat uitdrukkingloos te hou, maar die kille afkeer in haar oë verraai haar ware gevoelens. “Ek is volkome bewus van die kontrak, Trynie, maar ek hoop jy sal ter wille van –” begin sy beheers.
“Ter wille van rus en vrede, professortjie?” val Trynie haar in die rede. “Dis wat ek in gedagte gehad het toe ek ons gawe bure oorgenooi het om vanmiddag om vieruur hier by ons in Huis Kanferfoelie te kom koffie drink. Nou nie die rumoerige motorfietsryers nie, maar die aangename Sebastiaan van Oldenbarneveldt, die twee bejaarde blommekinders Sheilah en Ben, en die gawe jong man Briand Olivier. Ek sal Sheilah en Ben bearbei en hulle oorreed om so spoedig moontlik ander loseerders te kry – loseerders wat ek en Kaylatjie sal kies. As dit nie jou goedkeuring wegdra nie, professortjie, sal ek ons gaste in my eie woonstelletjie langs die kombuis onthaal, want daar is ék baas.”
“Ek is jammer, tannie Annelize, maar tannie se versoek is heeltemal onredelik,” sê Kayla reguit. “Waarom is tannie so gekant teen Briand? Hy is die fietsryer wat ek vanoggend per ongeluk omgery het en –”
“Dis jammer hy het nie in die hospitaal …” val Annelize haar in die rede, lees die skok in Kayla se oë en haal ’n paar maal diep asem. Sy gaan sit op die stoel langs Kayla en sê verskonend: “My poging om jou teen die man te beskerm, laat my dinge sê wat ek nie bedoel nie. Ek is jammer, Kayla. Ek wens die man geen kwaad toe nie, maar ek dring daarop aan dat jy niks verder met Briand Olivier te doen sal hê nie.” Sy neem Kayla se een hand pleitend in hare. “Ek besef my versoek klink onredelik, maar ek verseker jou, kindjie: hy sal jou lewe verwoes.”
“Hoe kan hy, tannie?” van Kayla opstandig. “Briand is nie een van die pa- en ma-hippies se loseerders nie. Hy besit ’n woonstel en kuier net soms by oom Sebastiaan; boonop werk hy meestal in Brasilië, en ons sal mekaar selde of nooit sien. Ek geniet sy geselskap, maar ons het nie ’n smeulende liefdesverhouding nie.”
Annelize huiwer en vra dan nadruklik: “Kayla, het ek jou al ooit in die verlede belet om iets te doen as ek nie ’n goeie rede gehad het nie?”
Trynie lag honend en antwoord doodluiters toe Annelize haar misnoeg aankyk: “’n Duisend maal, professortjie. Hoeveel maal het jy die arme Kayla belet om met Sunette vriende te wees of haar naweke hierheen te nooi? Hoeveel maal het jy jou vriendinne se hooghartige dogtertjies oorgenooi om kamtig nuwe maatjies vir Kaylatjie te wees – almal aanstellerige, onbeskofte klein klitse wat my gehiet en gebied het asof ek hulle persoonlike lyfbediende was? Sunette, professortjie, is ’n onmoontlike entjie mens, maar sy gee om vir Kayla. Of gaan jy haar die huis belet as Kaylatjie weier om aan jou onredelike versoek te voldoen?”
“Ek en Briand kan saam in ta Trynie se woonstel koffie drink, tannie Annelize. Ta Trynie sal ons chaperone wees en sorg dat Briand niks doen om my lewe te verwoes nie,” stel Kayla met oordrewe onderdanigheid voor.
Annelize huiwer, kyk beurtelings na Kayla en Trynie, en sê duidelik onwillig: “Ek glo elke mens het die reg op privaatheid, en om my vriende se privaat lewe te bespreek, gaan teen my grein. Maar aangesien julle nie die erns van die situasie wil insien nie … Kayla, jy was ’n bogkind toe hierdie dinge gebeur het, maar jy, Trynie, sal dit onthou. Professor Leendert Pelser en sy vrou, Elda, is my ouderdom en ons is sedert ons skooldae vriende. Hulle is gelukkig getroud met twee kinders, maar tien, elf jaar gelede …” Sy swyg, haar wange gloeiend van verleentheid.
“Haai, professortjie, het jy ’n skelm verhouding met prof Leendert gehad?” vra Trynie kamma geskok, haar oë vonkelend van onderdrukte lag.
“Soms, Trynie, is jy net so ’n irritasie soos Sunette,” antwoord Annelize bytend. Sy wend haar tot Kayla en vervolg: “Dit was die stomme Elda wat deur een van Leendert se studente …” Annelize bly stil, pers haar lippe hard saam en sê dan hees: “Die jong Briand Olivier het ’n verhouding met Elda Pelser gehad.”
Kayla staar haar oomblikke lank verbysterd aan en protesteer dan heftig: “Maar … tannie Elda is ’n stokou vrou soos tannie!” Sy sien Annelize se ergerlike frons, en sy bloos en vervolg verskonend: “Ek weet tannie is nie stokoud nie, maar elf jaar gelede was Briand net agttien. Dit kan nie waar wees nie!”
“Ek weet net wat Elda my in die strengste vertroue vertel het; ek weet ook dat sy en Leendert destyds byna geskei het, maar gelukkig het sy die dwaasheid van haar verhouding met ’n beginsellose jong pierewaaier betyds ingesien en haar huwelik gered,” vertel Annelize, haar woorde druipend van afkeer.
’n Laggie glip oor Trynie se lippe. Annelize kyk gesteurd na haar. Trynie probeer haastig om haar lag met haar hand te smoor, maar haar skouers begin te ruk en aardige snork- en piepgeluidjies word agter haar hand hoorbaar. “Agge help toggie!” sniklag sy, gooi haar kop agteroor en skaterlag totdat lagtrane oor haar wange loop. Sy dwing haarself met kort kuggies tot bedaring, vee met haar servet oor haar wange en kyk die verontwaardigde Annelize medelydend aan. “Professortjie, ek is dekades ouer as jy, maar met my oë skort daar niks nie. Elda Pelser het bene soos ’n kiewiet en stok-armpies wat by haar maer liggaam pas; en haar gesig… Sy het geen ken nie en ’n lang, spits neus soos ’n voëlsnawel. Ek glo prof Pelser het haar lief oor redes wat net aan hom bekend is, maar as jy dink ek sal glo dat ’n aantreklike knaap soos Briand jare gelede op haar verlief was, onderskat jy my intelligensie.”
“Dis presies hoe ek voel, tannie Annelize,” sê Kayla, oneindig dankbaar en verlig oor Trynie se woorde. “Ek is seker daar was hope studentemeisies wat maar te gretig was om in Briand se arms te val. Hoekom sou hy op … e … op ’n minder mooi, ouerige tannie verlief geraak het?”
“Ek kan nie aan ’n enkele rede dink waarom Elda oor so ’n intieme saak vir my sou gelieg het nie, Kayla,” antwoord Annelize bruusk.
“O, ek kan,” kom dit met sekerheid van Trynie. “Soos jy gesê het, professortjie, julle drietjies was saam-saam op skool, en aangesien ek heelwat ouer as julle is, onthou ek julle vriendskap dalk ’n bietjie beter as jy. Toe julle nog op skool was, het Leendert tydig en ontydig hier kom kuier om navraag oor jou te doen, want jy was ’n mooi skooldogter en jy is vandag ’n mooier vrou. Die arme Elda het graag by jou gekuier, selfs saam met jou gestudeer, net sodat sy met Leendert kon gesels. Foei, Annelize, het jy nooit agtergekom hoe jaloers die stomme Elda daardie jare op jou was nie?”
“Dit gaan nie oor ons kinderdae nie, Trynie. Elf jaar gelede was Elda getroud en die ma van twee kleuters. Sy het nie enige rede gehad om oor haar verhouding met Briand te lieg nie,” antwoord Annelize ergerlik en staan vinnig op.
“Behalwe dat sy dalk probeer het om jou jaloers te maak, want jy is nog steeds mooier as die arme Elda, en Leendert sukkel nog al die jare om hom nie aan jou te verkyk nie,” sê Trynie met ’n beterweterige glimlaggie.
“Onsin. Kayla, ek het my plig gedoen en jou gewaarsku teen Briand Olivier. Ek hoop dat jy uit respek vir my jou vriendskap met die man ’n vinnige dood sal laat sterf. Of dalk moet ek vir jou ’n vliegkaartjie koop.” Die opregte kommer in Annelize se oë laat haar poging om te glimlag misluk. “Wil jy nie graag Kersfees saam met jou ouers in Brasilië deurbring nie, kindjie?”
“Ek voel soos ’n donkie wat met ’n geelwortel verlei word,” antwoord Kayla verontwaardig. “Ek sal by Briand hoor of hy van plan is om Kersfees in São Paulo deur te bring, en daarna sal ek besluit of ek tannie se aanbod wil aanvaar.”
“Jy het daarna gesoek, professortjie,” verlekker Trynie haar. “Kayla is lankal te oud om omgekoop te word. En as jy jou geleerde verstand net ’n klein bietjie kan gebruik: dink jy nie Elda het haar skandelik gedra toe sy ’n jong seun verlei het nie? Hoe kan jy met so ’n sedelose vrou vriende wees, my stomme mens?”
“Elda se bekentenis het my so ontstel dat ek daardie dag my kuiertjie by haar kortgeknip het. Sy het nooit weer na haar verhouding met Briand verwys nie en mettertyd het ek … e … begin wonder hoe waar haar storie was,” erken Annelize halfhartig.
“Hoe kan tannie goedsmoeds stories oor Briand versprei as tannie self wonder of tannie Elda gejok het?” vra Kayla onthuts.
“Ek moes jou waarsku, Kayla, want as daar enige waarheid in Elda se storie steek … Doen wat jy wil, kind, maar moenie by my kom simpatie soek as die man jou seermaak nie,” antwoord Annelize traag, meer besorg as kwaad. Sy wend haar tot Trynie en gaan saaklik voort: “Ek het vir my ’n naweektas kom pak, ek gaan ’n paar dae saam met die Kirstens op hulle wildplaas deurbring. Ek sal Sondagaand weer terug wees.”
“Mag Sunette die naweek hier kuier, tannie Annelize?” versoek Kayla toe Annelize haar op die wang soen.
Annelize frons, lê haar hand op Kayla se skouer en sê met ’n moedelose suggie: “Ek is jammer ek moes jou teen jou nuwe vriend waarsku, kindjie, maar ek gee werklik om vir jou. As jy soos Sunette was, sou ek my nie so dikwels oor jou bekommer het nie, want Sunette sal weet hoe om ’n beginsellose man soos Briand Olivier te hanteer. Ja, nooi haar. Sy sal jou beskerm,” antwoord sy toegeeflik, druk ’n soen op Trynie se voorkop en stap die eetkamer uit.
“Ek sien kans vir tien Briands, maar nie vir een Sunette nie,” mor Trynie. “Verbeel jou: Sunette sal jou beskerm. Sussie, wie gaan die arme Briand beskerm as daardie sedelose skepseltjie haar flikkers vir hom gooi?”
“Tannie sal,” antwoord Kayla kamma lighartig, innerlik nog ontsteld oor Annelize se storie. Sy is dankbaar dat selfs Annelize die waarheid van Elda se storie bevraagteken, maar ’n flentertjie twyfel bly knaag in haar binneste. Nie dat dit haar werklik raak nie, redeneer sy met haarself. Briand is soos iemand wat sy op ’n lughawe ontmoet het: vandag ken sy hom, maar môre is hy moontlik net ’n aangename herinnering.
Ben en Sheilah Stassen dwaal verruk deur Huis Kanferfoelie, luister na Kayla se beskrywing van elke antikwiteit en keer beïndruk terug na die westelike sitkamer om nog ’n koppie tee saam met Trynie en Sebastiaan te geniet.
“Waar is Briand, ta Trynie?” vra Kayla.
“Hy sal nou weer terug wees, sussietjie,” antwoord Trynie gerusstellend. “Ek wonder of hy ’n bouer is, want hy verkyk hom so aan die dik mure, die ou plafonne en die marmerkaggels van dié ou huis.”
“Hoekom? Julle huis het tog dieselfde dik mure en hoë plafonne, Sheilah,” sê Kayla aan die bejaarde vrou wat ter ere van hulle besoek Indiaanse skoene dra, maar niks anders aan haar hippiedrag verander het nie.
“Dis nie reg nie, Sebastiaan,” merk Trynie gedemp teenoor hom op. “Ons kinders leer om ‘oom’ en ‘tannie’ te sê sodra hulle hul verstand kry. Kayla kan jou suster as ‘mevrou Stassen’ aanspreek as dit nie anders kan nie.”
Sheilah, haar oë dieselfde diepblou as dié van Sebastiaan, lag geamuseerd. “Ek is sonder ’n titel gebore, Trynie, en ek sal sonder een doodgaan. Laat my en Kayla met rus,” antwoord sy en vertel aan Kayla: “Ons huis het nie so ’n pragtige houttrap met die besonderse houtsneewerk nie, ook nie marmerkaggels en skoorsteenmantels of sulke pragtige versierde plafonne nie. Ek en Ben sou nooit die buurhuis kon bekostig het as dit so ruim en deftig soos Huis Kanferfoelie was nie.”
Sebastiaan kyk haar skerp aan, kug ’n paar maal agter sy hand en vra: “Wanneer het die huisagent sy storie verander, Sheilah? Het hy nie uitdruklik gesê ons kan ses maande in die huis woon voordat ons finaal besluit om die plek te koop nie? Jy en Ben het my ook nie geraadpleeg nie. Het julle die nodige finansies om so ’n duur huis te kan koop?”
Ben se lag klink soos die runnik van ’n perd. “Ons sal ons finansies in die privaatheid van ons eie huis bespreek, Sebastiaan, my ou swaer. Trynie, ek eet selde of nooit soetigheid, maar ek kan nie ’n tuisgebakte melktert weerstaan nie. Mag ek maar myself help?”
Kayla sien Briand in die deur van die sitkamer staan, sy oë effens geskreef terwyl hy beurtelings na Sebastiaan, Sheilah en Ben kyk. Sy wens sy kan Annelize se storie uit haar bewussyn vee, want kyk sy na hom, wonder sy opnuut oor hoe waar Elda Pelser se aantyging is. Sy oë vind hare en hy glimlag vlugtig voordat hy terugdraai na Ben.
“Dan het julle die koopkontrak klaar onderteken, Ben?” vra hy en neem op die rusbank langs Kayla plaas.
Ben verstik aan ’n mond vol melktert en word oorval deur ’n hoesbui wat selfs nie deur Trynie se toepassing van die Heimlich-maneuver tot bedaring gebring kan word nie.
“Vars lug!” sê Sheilah met onverwagte haas en kry Ben aan die arm beet. “Ons is jammer ons moet ons kuiertjie kortknip, Trynie, maar net vars lug en die rustigheid van die natuur sal my Ben se gehoes laat bedaar. Sit, sit, Sebastiaan. Jy ook, Trynie. Ek weet hoe om Ben te help. Ons sal sommer oor die lere klim om so spoedig moontlik by die huis te kom. Baie dankie vir al julle gasvryheid en al die lekker eetgoed. Ons sal weer kom kuier, Trynie. Tot siens, almal.”
Kayla groet en kyk verwonderd na Briand, wat met sy lippe saamgestreep fronsend kyk hoe Sheilah en Ben die vertrek verlaat.
“Ag, dis nou ’n ongelukkigheid,” sê Trynie spytig. “Ek wou nog vir Sheilah ’n ekstra melktert gegee het, aangesien Ben dit so opsigtelik geniet het. As jy nie omgee nie, sal ek die melktert saam met jou stuur, Sebastiaan.”
“Ja … ja, dankie, Trynie,” sê Sebastiaan, maar klink meer bekommerd as dankbaar. “Sheilah se storie het my heeltemal onkant betrap, Trynie. Moontlik het ek die huisagent se woorde verkeerd vertolk, maar ek was seker dat …” Hy swyg en vervolg met ’n verskonende glimlaggie: “Vergewe my, Trynie. Ek vergeet ek is ’n kuiergas en bespreek my kwellinge oor Ben en Sheilah met jou en die jong mense.”
“Ons is bure, Sebastiaan, en ek deel graag jou kommer – dis nou te sê as dit nie te persoonlik is nie,” antwoord Trynie.
Sebastiaan huiwer enkele oomblikke en knik dan. “Ja, wel, dit sal seker nie kwaad doen as ek julle vertel dat Ben en Sheilah nooit ’n yslike huis in ’n spogwoonbuurt van Johannesburg sal kan bekostig nie. Hulle het al die jare in hotelle of by my gewoon. Ek het nou onlangs my huis hier in die stad verkoop en vir my ’n plekkie langs die Ooskus aangeskaf, met die bedoeling om daar af te tree. Maar ek het die stadslewe gemis, en toe Sheilah my nooi om saam met hulle in die groot huis te kom woon … Dis seker net ’n misverstand, want ek was onder die indruk hulle huur die plek en dat hulle loseerders hulle help om die huur te betaal,” vertel Sebastiaan en tik-tik gespanne met sy geboë wysvinger op sy bolip.
“Dis presies wat ek gehoor het, oom Sebastiaan,” beaam Briand fronsend.
“Asof dit nou belangrik is!” kom dit sorgeloos van Trynie. “Wie weet, dalk was die liewe Sheilah so oorweldig deur al die weelde van Huis Kanferfoelie dat sy besluit het om te sê sy en Ben is ook huiseienaars. Gun haar die ou leuentjie as dit haar gelukkig maak.”
Sebastiaan betrag Trynie met ’n dankbare glimlaggie. “Jy het ’n mooi hart, Trynie, want jy vergewe so maklik ’n menslike swakheid. Sien, Sheilah was maar altyd so: probeer om andere te beïndruk met al die beroemde mense wat sy ontmoet het, en intussen was Ben net die hoofkok in die hotelle waar die beroemdes tuisgegaan het. Ignoreer maar haar storie oor die huis, want vra julle haar daaroor uit, sal dit vir haar net ’n verleentheid wees om die waarheid te erken,” versoek hy en blik hoopvol na Briand en Kayla.
“Ek en Kaylatjie sal nie ’n woord oor die saak sê nie, Sebastiaan,” beloof Trynie plegtig.
Kayla knik bevestigend met haar kop toe Sebastiaan haar vraend aankyk en vra hoopvol: “Sal Sheilah omgee as ek en ta Trynie vir haar ander loseerders sonder motorfietse soek, oom Sebastiaan? My tannie Annelize het die naweek op die vlug geslaan, want sy kan nie die voortdurende lawaai hanteer nie.”
“Sheilah se loseerders is vir my ook ’n raaisel,” kom dit van Briand. “Die manne maak ’n renbaan van die erf en die straat. Al sou professor Annelize geen beswaar teen die lawaai hê nie, sal van die ander bure in die omgewing binnekort ’n klag by die verkeersbeamptes of die munisipaliteit lê.”
“Ja … ja, dis natuurlik moontlik, Briand. Aangesien die loseerders maar pas ingetrek het, hoop ek dat hulle almal Maandag weer na hulle onderskeie werkplekke toe sal terugkeer,” antwoord Sebastiaan en lyk namens Sheilah skuldig. “Ek sal nietemin met Ben en Sheilah praat oor julle bereidwilligheid om hulle te help. Ek sal sommer nou gaan. As jy net die veiligheidshek vir my sal oopmaak, asseblief, Trynie. Ek ly aan hoogtevrees, ek sal nooit met behulp van die lere oor daardie hoë muur kan klim nie.”
“Kom ons stap eers spens toe en kry die melktert wat jy vir Ben moet saamneem, Sebastiaan,” antwoord Trynie en kom orent.
“Hoekom is jy vies, Briand?” vra Kayla toe Trynie en Sebastiaan die vertrek uitstap.
“Omdat jy nie my hand wil vashou nie,” terg hy halfhartig.
“Wees ernstig, Briand. Jy het begin frons toe Sheilah oor die koop van die buurhuis gepraat het. Het jy gehoop om die huis te koop?”
Hy lag ontspanne. “Allermins. Maar net soos oom Sebastiaan, het Ben aan my vertel hy en Sheilah huur julle buurhuis en dat hulle loseerders help om die huur te betaal. Oom Sebastiaan het te kenne gegee dat Ben en Sheilah nooit so ’n duur woonhuis sou kon bekostig nie, daarom het Sheilah se storie my laat wonder. Maar ek wil nie oor huise gesels nie. Gaan ek en jy vanaand uiteet en fliek? Of hou jy meer van dans, my swartkopmeisie? Ek weet dalk nie waar Baumann se restaurant is nie, maar ek ken ’n paar plekke waar die kos puik is. Wat sê jy?”
“Ek sal graag …” begin sy en swyg dan afgehaal. “Ek kan nie! Tannie Annelize is vir die hele naweek weg, en ek sal ta Trynie nooit stoksielalleen in die huis los nie.”
“Maar julle het tog seker ander personeel?”
“Hulle werk net tot vieruur smiddae en woon elders. Ek is jammer, Briand, maar dis net nie moontlik nie,” antwoord sy teleurgesteld.
“Ons kan altyd op die lere staan en gesels,” skerts hy.
“Ná tienuur vanaand as die motorfietsryers moeg is van hulle rumoerige speletjie?”
’n Frons keep weer tussen sy wenkbroue. “Dis nog iets waaroor ek wonder: waar kom Sheilah en Ben aan hulle loseerders? Ek weet hulle het die huis gemeubileerd gehuur, maar dis byna asof die loseerders ’n deel was van hulle huurpakket.” Hy kyk haar deurdringend aan. “Het jy of ta Trynie ooit met die huisagent gepraat?”
“Nee. Ons het almal geweet die huise weerskante van ons is in die mark, want die Jansens het afgetree en woon al twee maande in Nieu-Seeland, en ou mevrou De Nysschen het ná haar man se dood by haar dogter in Pretoria gaan woon. ’n Mens kyk nie in die erwe van leegstaande huise rond nie, want daar is niks te siene nie. Nie een van ons het ooit die huisagent met ’n oog gewaar nie.” Sy swyg en vra onseker: “Hoekom stel jy soveel belang in wie ons buurhuis gekoop het, Briand? Is jy ook ’n huisagent?”
’n Glimlag lig traag sy mondhoeke. “Nee, net ’n nuuskierige agie. As ek Hanco Erhart se stories moet glo …” Hy besef dat sy hom vraend aankyk en verduidelik: “Ek het jou vertel Hanco is ’n suksesvolle sakeman, maar ek begin te wonder of hy dié keer weet wat hy doen. Ek het ander projekte waarmee ek besig is en as hy nie vinnig besluite neem nie, vlieg ek terug São Paulo toe. Sal jy saam met my kom as ek jou vliegkaartjie koop, mooi Kayla?”
“Hoekom? Wil jy Kersfees saam met ons Jouberts op ons plaas deurbring?” vra sy skertsend en probeer om te vergeet dat hy binnekort sal terugkeer na Brasilië toe.
“As dit ’n definitiewe uitnodiging is, koop ek nog vandag vir jou ’n kaartjie! Gaan ons saam Kersfees hou, Kayla?”
Briand glimlag, maar die erns in sy oë is nie haar verbeelding nie, dink Kayla en lag gedwonge. “My ouers sal dit beslis nie waardeer as ek toelaat dat ’n wildvreemde man vir my ’n peperduur lugkaartjie koop nie – en die skok sal my tannie Annelize die een of ander noodlottige aanval gee.”
“Vreemd, dit voel asof ek jou my lewe lank ken,” sê hy ingedagte en staar haar aan asof hy die antwoord op ’n raaisel soek. “Voel jy nie ook so nie? Ek hoef nie voor te gee of jou te probeer beïndruk nie, want ons ken mekaar.” Sy oë vernou agterdogtig. “Daar is nie dalk ’n ander man wat jou gevra het om met hom te trou nie, meisiekind? Oorhaastige huwelike eindig altyd op die rotse.”
“Ek weet, daarom is ek en ta Trynie en my tannie Annelize geswore oujongnooiens. Hoeveel maal was jy al getroud?”
Briand snak na sy asem van verontwaardiging, verstik en kug ’n paar maal agter sy hand. “Voordat ek soos Sheilah en Ben gaan vars lug soek, beledigende meisiekind: ek het nog nooit en sal ook nooit ’n huwelik oorweeg nie. Dis waarom ek so maklik met jou oor die weg kom, want jy probeer nie om my met sielvolle kykies en uitlokkende glimlaggies verlief te maak op jou nie. Ek kan net ek wees. So: as ek die vleis koop, mag ek môre saam met jou en ta Trynie kom vleis braai?”
“Ek sal dit oorweeg as jy al my vrae bevredigend beantwoord,” skerts sy met gedwonge lighartigheid, ineens so hartseer dat sy wens sy kan in Trynie se arms huil. Briand wil nie trou nie. Nooit nie. Nie eens oor tien jaar nie. Maar solank hy nie met ’n ander meisie trou nie … “Hou jy net van getroude vrouens? Nee … nee, dis nie wat ek wou gevra het nie. Hou jy te veel van baie meisies om ooit een meisie lief te hê?”
“Ek hou van meisies, maar liefde …” Sy mond vertrek sinies. “Ek is nie werklik bygelowig nie, maar die mense wat ek werklik liefgehad en vertrou het, het my almal in die steek gelaat. Vreemd, my pa, vir wie ek geen gevoel het nie, is die anker in my lewe. Liefde is nie noodsaaklik vir geluk of sukses nie.”
“Hoe kan enige kind sê hy het geen gevoel vir sy pa nie?” vra sy onbegrypend.
“Toe ek jonger was, het ek hom gehaat, maar met verloop van tyd het daar ’n soort aanvaarding gekom. Renier Olivier is die man wat my skoolgeld betaal het en my universiteit toe gestuur het; met sy hulp kon ek die geleentheid kry om my as siviele ingenieur te bekwaam en ’n sukses van my loopbaan te maak. Ek is dankbaar teenoor hom, maar hy het nie my liefde of my respek nie.” Hy glimlag onverwags. “Hoekom vertel ek jou al dié dinge? Dis jou oë: op die oomblik is hulle die kleur van donkergrys stormwolke. Is jy ’n heks, mooi Kayla? Kyk jy in mans se oë en dwing hulle om hul lewensgeskiedenisse te vertel?”
“As jy by ons wil vleis braai, moet ek jou diepste geheime ken. Was jy ’n student aan ons universiteit? Miskien in een van professor Leendert Pelser se klasse?” vra sy gelykmatig.
“Ja!” antwoord hy verras. “Twaalf jaar gelede was hy nog nie ’n professoraat aangebied nie, en ek het hom as doktor Pelser geken. Hy was ’n gawe lektor – ek onthou hy het ons eerstejaarstudente vir ’n vleisbraai na sy huis toe genooi. Ons was almal grasgroen en doodsbenoud, maar ná die vleisbraai het ons begin besef dat ons lektore net gewone mense is.”
“Dan ken jy sy vrou, tannie Elda?” vra Kayla. Sy voel ineens gemeen en ontwyk sy oë.
“Sy vrou?” herhaal Briand nadenkend. “Wel, ja, sy was daar, maar hulle twee kleuters het haar voltyds besig gehou. Ek onthou, ná die vleisbraai het een van die manne gesê prof Pelser het seker self sy vrou ontwerp, want sy was so maer en hoekig soos ’n plank, en nie juis ’n skoonheid nie – jy weet hoe uitgesproke studente kan wees. As sy een van die liewe tannies in jou lewe is, vra ek jou namens my studentemaat om verskoning, maar die tannie was beslis nie ’n onweerstaanbare blondine soos jou lastige vriendin nie.”
“Ek het nog nie agtergekom dat jy voor Sunette se sjarme geswig het nie,” terg sy, lighoofdig van verligting omdat sy nie meer twyfel aan sy onskuld nie: Briand is eerlik oor Sunette se voorkoms, daarom kan sy aanvaar hy praat ook oor Elda Pelser die waarheid. Ta Trynie het die situasie reg opgesom: die onaansienlike Elda wou net haar tannie Annelize beïndruk met haar verspotte storie dat sy ’n verhouding met Briand gehad het.
“Geen man sal ’n normale gesprek met daai klein flirt kan voer nie. Dat jy en Sunette boesemvriendinne kan wees …”
“Gaan my klein verstandjie ook te bowe, Briand,” sê Trynie en kom die sitkamer binne. Sy glimlag tevrede toe hy opstaan. “Dis reg, boetietjie, ken jou maniere en staan op as ’n vrou ’n vertrek binnekom, want nou kan ek weer naby jou staan en normaal voel. Jy het nie dalk ’n paar broers by die huis wat jou lengte het nie?”
“Ongelukkig nie, ta Trynie, maar ek sal graag weer kom kuier. Gee tannie om as ek môremiddag oorkom en saam met tannie en Kayla vleis braai? Ek sal die vleis en die … e … bier koop. Drink tannie kwaai?”
“Jy soek ’n dwarsklap, broertjie! As jy die gawe Sebastiaan saambring en hy voel lus vir ’n biertjie, kan jy vir julle elkeen ’n bier koop. Ek duld nie dronk mans op die professortjie se werf nie,” antwoord Trynie streng.
“Goed, ta Trynie.” Briand kyk hoe Trynie die koppies op die teewaentjie pak en vra gekrenk: “Rinkel tannie opsetlik die koppies en pierings sodat ek moet agterkom ek is in die pad? Moet ek huis toe gaan, tannie?”
“Haai, bloedjie, dat jy nou so slim kan wees dat jy selfs my gedagtes kan lees. Ja, kry jou ry, Briand. As jy langer hier kuier, sal jy losies moet betaal. Nee, nee, los Kayla se hand. Jy ken die pad voordeur toe, jy het immers ’n uur lank deur ons huis gedwaal. Ons maak dit ’n middagbraai, boetie. Sorg dat jy en Sebastiaan so teen twaalfuur môremiddag by ons is.”
Briand groet Trynie gedwee, wag totdat sy weer ongeduldig na hom kyk en blaas ’n soentjie van sy vingerpunte na die glimlaggende Kayla. “Tot siens, minsame meisie. Ek sal vannag oor ons Kersfees in Brasilië droom,” beloof hy en stap die vertrek met lang hale uit.
“Kersfees in Brasilië, nè?” eggo Trynie, plant ’n groot hand op haar heup en kyk Kayla bekommerd aan. “Liefietjie, ek besef jy is ’n geleerde kind, maar ek het die mensekennis wat jy nie het nie. Briand is nie verlief op jou nie, my sussie. Hy dink jy is ’n gawe meisie en mooi genoeg om ander mans jaloers te maak, maar dis al. Het ek nou jou hart gebreek, my engelkind?”
Kayla glimlag gelate. “Nee, tannie. Ek weet Briand wil nie met my of enige ander meisie trou nie … Maar ek weet ook tannie Elda Pelser het gejok dat sy hop toe sy gesê het sy en Briand het ’n verhouding gehad.”
“Jy het tog nie die man prontuit daaroor uitgevra nie, Kaylatjie?” vra Trynie geskok.
“Nee, tannie, maar Briand het met soveel waardering van prof Pelser gepraat dat ek seker is hy het nie ’n skuldige gewete oor tannie Elda nie. Hy het my vertel hy en van die ander eerstejaartjies het by die Pelsers vleis gebraai – hoekom sou hy daaroor gepraat het as hy ’n skuldige gewete gehad het?”
“H’m,” kom dit niksseggend van Trynie terwyl sy Kayla met vernoude oë betrag, haar kop effens skeef. “En jy hou meer van Briand as van enige jong man wat jy tot dusver ontmoet het, my liefietjie?” vra sy simpatiek.
Kayla kreukel haar neus, hoop sy bloos nie en haal haar skouers op. “Ons gesels lekker, ta Trynie, maar ek weet ons gaan nie ’n lewenslange vriendskap hê nie.”
Trynie knik en sug diep bedruk. “Soos ek en Sebastiaan,” erken sy weemoedig. “Dis nie net my lengte nie, Kaylatjie, maar my groot voete en my seer knokkeltone wat maak dat ek maar meestal my geel tekkies …” Sy skrik op uit haar selfbejammering toe bulderende popmusiek skielik deur die oop venster bars.
Kayla hardloop na die venster en maak dit haastig toe.
“As ek daardie swernootse motorfietsryers in die hande kry …” grom Trynie.
“Dis nie hulle nie, ta Trynie,” sê Kayla verslae. “Kyk self, tannie: ’n hele band het blykbaar pas in die huis hier links ingetrek en bespeel nou hulle instrumente op die grasperk. Iemand wil ons uit Huis Kanferfoelie verdryf, skat ek.”