Читать книгу Shéri - Shéri Brynard - Страница 10

My pa se dood

Оглавление

Ek wonder baiekeer hoekom my pa moes doodgaan.

Ek het maande lank gewonder waarom juffrou Susan deur ’n motor omgery moes word, sy wat nie eens motor bestuur het nie.

En waarom my pa so alleen en so ver van ons af, by ’n waterval, moes doodgaan. Hy wat altyd vroeg huis toe gekom het om by ons te kon wees. Hy wat ons altyd by hom wou hê. Hy wat gesê het hy kan nie sonder ons lewe nie. En hy wat hoogtevrees gehad het.

In 2001 is hy twee maande ná juffrou Susan dood, op ’n manier wat ons nooit sou kon voorsien nie, en net so onverwags soos juffrou Susan.

Op 14 Augustus was ek negentien jaar oud, Marisa was in matriek in die Meisieskool Oranje en Suzette in die laerskool. Ek was by die huis besig om TV te kyk, Marisa het geleer vir die September-eksamen en Suzette was by ’n skoolkoor-oefening. My ma het by my ouma gaan kuier. Toe bars die bom.

Prof Stef Coetzee, destyds die rektor van die Universiteit van die Vrystaat, en ’n vriend van my pa, het gehoor dat hy by die Augrabies-waterval vermis word. Hy en sy vrou, Rienie, het dadelik na my ouma toe gery om vir my ma te sê.

Mense het toe na ons huis begin stroom. My ma het toe al vir Suzette gaan haal en haar van my pa se verdwyning vertel. Marisa het agtergekom iets is fout, na my ouma toe gery en die nuus daar gehoor. Net ek het nie geweet nie. Toe my ma by die huis kom, het sy boontoe, na my kamer toe, gehardloop om vir my te vertel. Ek was in die gang toe ek dit hoor. Ek het na my kamer toe gestorm en die deur toegeklap. Ek wou alleen wees en met niemand praat nie.

Oom Charles Mitchell, die dominee, het ons kom besoek, en my ma het vir hom gesê dat ek nog nie uit my kamer gekom het nie en niemand wil sien nie. Oom Charles het na my toe gekom en ek en hy het ’n hele rukkie gesels. Hy het vir my gesê dat ek altyd my liggie vir Jesus moet laat skyn. Ek onthou dit soos gister.

Daardie aand het my ma besluit dat ons so gou moontlik Augrabies toe moet gaan om my pa te gaan soek. Iemand van die universiteit het ons soontoe gevat en vroeg die volgende oggend was ons op pad. Dit was vreeslik ver en ons het heeltyd in die kar gehuil. Oom Riaan van der Merwe, ons ander dominee, het vir ons by Augrabies gewag. My pa se broer en suster het ook soontoe gery van Calvinia af. My pa se broer van Kaapstad ook.

Die klippe rondom die waterval was seepglad. Terwyl ons daar rondgedwaal het, was ek meestal by oom Riaan, Marisa by my ma, en Suzette by Mariette Klopper, ’n vriendin van my ma en kollega van my pa.

Later die dag, terwyl ons almal steeds huil, het my ma gesê ons moet vir my pa ’n kruis maak. Dit het ons besig gehou. Oom Attie Smit het ons gehelp. Ons het twee stukke hout en ’n plastieksak gebruik en veldblommetjies by die plastiekband ingedruk in die kruis vir my pa op die plek waar hy verdwyn het.

My ma, Marisa en Suzette het saamgery in die ligte vliegtuig wat my pa gaan soek het. Ek wou dit glad nie doen nie. Ek wou alleen wees. Ek het glad nie geweet hoe om hierdie vreeslike hartseer te hanteer nie. Ek was so lief vir my pa. En dit was erg om ons hele gesin so hartseer te sien.

Die volgende dag het my ma besluit dit is tyd om afskeid te neem. Dit was vir my asof my wêreld ineenstort. My ma het geweet my pa se liggaam sou eers uit die water opkom as hy ontbind het en sy wou nie hê ons moet dan daar wees nie.

Oom Riaan het besluit om ’n diens te hou waar my pa gegly het. Ek wou nie gaan nie, want die klippe was seepglad. My ma het vir oom Riaan gesê dat daar ’n probleem is en na my gewys. Hy het toe ’n ruk met my gesels en gesê dit is nou regtig tyd om te groet. Hy het my hand gevat en ek en hy het gestap tot daar waar my pa gegly het.

Die diens was nogal mooi, al het die waterval vreeslik geraas. Ons was almal ontsettend hartseer. Ek het heeltyd gehuil. Die ander ook. Ná die diens het ek, my ma en sussies alleen agtergebly en nog ’n rukkie daar gesit om my pa te groet.

Ons het briefies vir hom afgegooi en bo die gedruis van die waterval na hom probeer roep. Maar die waterval het ons stemme stilgemaak.

Toe ons die volgende dag terugry, het ek nog nie vrede in my hart gehad nie. Dit was nog vir my so onwerklik om te dink dat my pa nie weer gaan terugkom nie. En ek was net negentien jaar oud. Oom Riaan het ons huis toe gevat en tannie Mariette Klopper het agter ons aan gery.

Terwyl ons gery het, het my ma ’n gedenkdiens begin reël. Ek en my sussies het net gehuil.

Daar was vreeslik baie mense by die diens. Die kerk was stampvol. Ek het net gewens dat die nare dag verbygaan. Ons huis was heeltyd vol mense. Ek was so bly dat my ma niemand by ons laat slaap het nie. Saans, nadat die mense weg is, was ons gesinnetjie bietjie bymekaar. Die baie mense het nie gou opgehou nie. Tannie Mariette Klopper het ons heeltyd met alles kom help.

Drie weke later het Suzette aan ’n redenaarskompetisie in Bethlehem gaan deelneem. My ma is saam soontoe. Daardie oggend vroeg het die polisie van Augrabies haar gebel en gesê dat my pa se liggaam in die water dryf. Iemand sal gestuur moet word om hom uit te ken nadat hy uitgehaal is.

Sy het besluit om nie vir Suzette te sê nie, en hulle het nie die karradio aangeskakel nie. Hulle het saam met vriende, oom Ryk Neethling en tannie San-Marie, gery. Mense het heeltyd vir my ma gebel en boodskappe gestuur en sy moes dit so beantwoord dat Zettie niks agterkom nie.

Zettie het die Vrystaat-kompetisie gewen. Eers op pad terug Bloemfontein toe het my ma vir haar vertel dat my pa se liggaam gevind is. My ma het oom Edrich Krantz, ’n dokter en my pa se baie goeie vriend, gevra om saam met haar Kimberley toe te gaan om my pa te gaan uitken.

Sy het ná die tyd nie veel oor daardie dag gepraat nie.

Die groot diens was toe gelukkig klaar verby. My ma het oom Riaan gevra om net ’n klein diens by die graf te hou, sonder baie mense. Sy het ook gereël dat ses van my pa se beste vriende die kis dra. En sy het gereël dat heliumballonne losgelaat word terwyl die kis in die graf neerdaal. Ons moes ook self ballonne in die lug opstuur, en my pa so laat gaan.

Almal het dit gedoen, behalwe ek. Ek wou my liefste en enigste pa nie laat gaan nie. Ek het my ballon huis toe gebring. Daardie aand kon ek nie slaap nie. Later het ek keer op keer gedroom dat my pa terugkom. As ek dan soggens wakker word, was dit vir my van voor af bitter swaar.

In ’n stadium het mnr Ben Janecke, die sielkundige van Martie du Plessis, na my toe gekom. Hy het met my kom gesels en vir my gesê dat my pa binne-in my is. Hy het ’n stoel voor my neergesit. Ek moes my verbeel dat dit my pa is en dan alles wat ek vir my pa wou sê, vir die stoel “vertel”. Toe ons geselsie verby is, het ek die lewe weer in die oë gekyk, al was dit hoe moeilik.

Shéri

Подняться наверх