Читать книгу Shéri - Shéri Brynard - Страница 11

’n Lang, hartseer storie

Оглавление

Partykeer vra mense vir my wie daaraan gedink het om my kollege toe te stuur om ’n kwalifikasie te kry. Dit is mos nie die soort ding wat mense vir iemand met Downsindroom voorstel nie.

Dit is ’n lang storie, en ’n baie hartseer storie, wat reg uitgewerk het.

Een middag toe ek nog op skool was – ek kan glad nie onthou hoe oud ek was nie – het ek ’n kleuterskool, Smiley Kids, oorkant my ouma se huisie in Serenitas-aftreeoord raakgesien. Die kinders het gespeel en geskree en gelag. Net daar het ek het besluit dat ek eendag daar sal wil werk.

Ek het later vir my ma van dié droom vertel. Sy probeer altyd my drome waar maak. Daarom het sy byvoorbeeld gesorg dat ons in Egipte met ’n lugballon oor die Vallei van die Konings ry! My ma en sussies was deel van daardie droom wat verwesenlik is.

Die droom om met klein kindertjies te werk, het nooit weggegaan nie. Net voordat ek klaar was met skool, het my ma vir Nella van Heerden, Smiley Kids se skoolhoof, gevra of ek hulle dalk in die middae en vakansies kan kom help.

Ek het toe ’n hele rukkie daar gewerk, en ek het die kinders vreeslik geniet. Ná ek graad 10 by Martie du Plessis geslaag het, het ek die einde van die jaar voldag gaan help. Toe het ek iets gehad om soggens voor op te staan.

Maar toe gebeur daar iets wat my hele lewe verander het. Een oggend, terwyl ek begin aantrek om werk toe te gaan, het my ma gesê die skool het gebel. Ek is nie meer welkom daar nie. ’n Ouer het gekla dat ek haar kind met my waterbottel op die kop geslaan het. Dit was sommer speel-speel, en die waterbottel was van plastiek. Die kind het gelag, en eintlik het niks gebeur nie.

Ek het geweet die ouer het eintlik gekla oor hoe ek lyk en is. Ek het soos ’n aap gevoel. My pa was vreeslik hartseer omdat iemand so iets aan sy skrefiesoognooi kon doen. Daardie oggend het hy saam met my gehuil. My ma was spierwit en het gesê ek moet saam met haar na haar werk toe gaan. Sy het my belowe dat sy ’n plan sal maak om my te help.

Dit was by haar werk ook ’n hartseerdag want dit was dieselfde dag wat die onderwyskollege ná meer as honderd jaar gesluit is. My ma en haar kollegas het gehuil, sommer ook omdat ek ook my werk verloor het.

Toe daai ouer oor my gekla het, het ek gevoel dat niemand buite my gesin meer vir my omgee nie. En ek het besef dat daar mense is wat nie van my hou nie, net omdat ek anders as hulle lyk.

Die middag het tannie Nella gebel en gesê dat sy met die personeel en ouers vergader het en dat hulle besluit het die ouer kan haar kind uit die skool haal as sy wil, maar hulle sal my nie laat gaan nie.

My ma het dit vreeslik waardeer, en selfs gehuil omdat hulle so gaaf was, maar sy het gesê sy wil dit nie aan die skool doen nie, en dat sy dink ek moet êrens gaan leer hoe om in ’n kleuterskool te help. Sy het gemeen as ek die regte kennis het, sal mense nie so maklik lelik wees met my nie. Ek het ook vir haar gesê ek wil graag gaan studeer om ’n kleuterskool-assistent te wees.

Toe het my ma vir juffrou Adri Swanepoel van Motheo Kollege gebel. Sy was die departementshoof van hulle Educare-program. My ma het gesê dat ek my graad 10 voltooi het en juffrou Adri het ingestem om my ’n kans te gee by die kollege.

Ek was die enigste mens soos ek daar, tussen baie studente van baie kultuurgroepe, maar ek was gewoond daaraan om anders as die ander kinders om my te lyk.

Die Engelse klasse was moeilik, maar ek het vasgebyt, want ek wou my droom waar maak. Ek het as ’n N2-student begin. Met baie harde werk en baie gebed het ek my matriek, wat ’n N3-kursus is, voltooi en toe het ek die Educare-kursus tot by N6 gevolg. Ek moes doen wat al die studente doen en niemand kon my help nie, want die vraestelle is nie by die kollege opgestel of gemerk nie.

Toe my pa aan die einde van my eerste jaar by die kollege oorlede is, het ek nie een van my vakke deurgekom nie. Dit was vir my baie sleg en dit het gevoel of ek nooit weer sou kon regkom nie. My ma het toe vir Heloise Pretorius, wat onderwys geswot het, gevra om my so twee keer per week vir ’n uur in die middae help. Ná my pa se dood het my ma nie tyd gehad om my te help nie, want sy het heeldag gewerk en my sussies het haar ook nodig gehad.

Al my aantekeninge en dosente was Engels, maar ek het goeie vriendinne op kollege gemaak en een van hulle, Liezel Reyneke, se ma het ons aantekeninge in Afrikaans vertaal. Toe was ek in my element. Dit het my baie gehelp om die werk te verstaan. Dit was ook lekker dat ek my klastoetse, groot toetsreekse en eksamens in Afrikaans kon skryf.

Ek het toe weer moed gehad en ek het baie beter oor myself begin voel. Om uiteindelik alles te slaag, was die beste gevoel wat ek nog ooit gehad het, miskien omdat dit nie maklik was nie.

Dit was ’n harde, tawwe tyd vir hierdie Downsindroom-meisie, maar ek het dit ook vreeslik geniet. My vakke was Sake-Afrikaans, Business English, Kindergesondheid en Didaktiek. Die praktiese deel was vreeslik lekker. Die lekkerste was dat ek geleer het hoe om klasse aan te bied. Ek moes verskillende lesse voorberei, soos ’n skeppende les van plak of teken, Bybelkring, musiekkring en storielesse. In dié tyd het ek in diepte geleer hoe om ’n kleuterskool-assistent te wees.

Ek het ook baie pret gehad in my studentejare. Ek sal dit altyd saam met my dra. As iemand verjaar het, was daar ’n partyjie. En ons het mekaar dit gegun om goeie punte te behaal.

Een naweek het Lanel Pietersen my en Riana Venter saam met haar plaas toe genooi. Hulle het my soos een van hulle behandel en dit het nie gevoel of ek “anders” is nie. Dit was nogal spesiaal. My tyd by die kollege het my baie selfstandig gemaak, en hoewel die meeste studente en dosente later Sotho was, het ek deel van hulle gevoel, en gevoel hulle aanvaar my. Niemand was ooit met my lelik omdat ek is soos ek is nie.

As deel van my kursus moes ek by kleuterskole praktiese onderwys doen. In 2002 het ek by Lettie Fouché begin werk om ervaring te kry. Ek het lesse aangebied met die apparate wat ek gemaak het toe ek geswot het.

In 2009 het ek ’n nasionale diploma in Educare van Motheo Kollege verwerf, en die Ewald Fichard Spesiale Akademiese Prys is aan my toegeken.

Die Suid-Afrikaanse Downsindroom-vereniging het sy hoogste prestigeprys aan my toegeken omdat ek die hoogste akademiese kwalifikasie van iemand met Downsindroom in die land verwerf het. Die prys is deur Helen Zille, die premier van die Wes-Kaap, aan my oorhandig.

Die aand voor my diplomaplegtigheid het my ma vir my ’n cocktail-partytjie gereël. Suzette en ’n paar maats het vooraf viool gespeel. Daarna was my ma aan die woord. Toe sy ’n heildronk op my instel, het sy gesê sy het haar erfgeldjies bymekaargemaak vir ’n geskenk vir my, en uitgeloop om dit te gaan haal.

Ek kon nie wag vir die verrassing nie. Die volgende oomblik het Marisa, wat in Londen woon, by die glasdeur ingekom.

Jaco Lamprecht was daardie aand vir die eerste keer by een van ons spesiale gesinsfunksies. Hy en Suzette het toe net begin uitgaan.

Die diplomaplegtigheid was ’n droomoggend. Die mense op die verhoog en almal in die stadsaal het vir my opgestaan omdat ek die enigste persoon met Downsindroom in Suid-Afrika is wat ’n nasionale diploma verwerf het. Ek het oor die skare mense gekyk en my ma sien huil. Al die harde werk was die moeite werd.

Shéri

Подняться наверх