Читать книгу Shéri - Shéri Brynard - Страница 8

Die mense wat my help word het wie ek is

Оглавление

Dit is ’n gelukkige oomblik. Nou kan ek uiteindelik vir almal vertel van die mense wat my help word het wie ek is.

Dalk moet ek een van die swaarste dele eerste vertel, die storie van juffrou Susan Hattingh, my klavieronderwyseres. My ma en juffrou Susan se man het saam klas gegee by die Bloemfonteinse Onderwyskollege nadat my ma weg is by die skool. Juffrou Susan het vir my sussie Marisa en ook vir Zettie, die jongste, klavierles gegee. Ek het baie keer by my sussies gaan staan en luister wanneer hulle hulle stukke op ons klavier oefen. Ek het la-la-la gesing as hulle vashaak.

Ek het later vir my ma gevra of ek ook klavierles mag neem. Juffrou Susan het ingestem: “Bring haar, dan kyk ons hoe dit gaan.”

Ek was so bly. Juffrou Susan het die name van die note vir my geleer. Ek het van die swart note se klank gehou. Dit was die lekkerste ding in die wêreld toe ek ’n stuk leer speel met ’n F-kruis daarin. En toe later ’n G-kruis ook. En ’n B-mol. Juffrou Susan het saam met my gelag oor swart note wat mólle genoem word.

Almal in die huis, behalwe my pa, kon toe klavier speel. Eendag het hy vir my ma gesê hy wou nog altyd leer klavier speel. Hy wil ook by juffrou Susan lesse kry.

Toe gaan hy. Juffrou Susan het gesê nou sien sy al die Brynard-hande. My twee kleinsussies het klavierspeelhande. Myne is klein. My voete ook. En Jerry Brynard het die grootste en harigste hande van almal wat by haar klavier neem.

My pa het eintlik nie genoeg geoefen nie.

Juffrou Susan was vriendelik en snaaks en vrolik en verskriklik mooi. Sy was lief vir almal, vir haar man en twee dogters en een seun. Net een ding was bietjie vreemd aan haar. Sy was bang vir bestuur. Sy wou nie leer motor bestuur nie.

Sy het my ná ’n ruk ingeskryf vir ’n item op die eisteddfod. Maar nie vir my pa nie.

My ma het later vir my gesê juffrou Susan het meer as ek oor die eisteddfod gestres. Sy het nie oor my simbool gestres nie; sy wou net hê ek moet oukei wees, want dit is ’n groot ding om op die Odeion se verhoog te gaan klavier speel.

Maar juffrou Susan het vir my gesê ek moet eers mooi rustig op die stoeltjie sit en vir die beoordelaars kyk. Wanneer die hoofbeoordelaar knik, moet ek my hande rustig op die klawers sit en my asem diep intrek. Die musiek wat ek gaan speel, moet in my kop begin opklink. Wanneer ek dan my asem stadig uitblaas, moet ek begin speel. Ek moet net aan die mooi musiek dink, aan hoe mooi en lekker dit is.

Daarna, as iemand voor ’n nuwe ding vir my sê hoe ek dit moet doen, doen ek dit presies so. Dit maak my rustig. Ek kou nie my naels nie; ek stres nie.

Toe ek my musiekstuk klaar gespeel het, het die mense in die gehoor lank hande geklap en opgestaan. Die hoofbeoordelaar ook, en sy het ’n bietjie gehuil! Al die beoordelaars het geskryf asof skryf uit die mode gaan en toe het die hoofbeoordelaar aangekondig dat ek ’n A+ gekry het. My ma het gehuil en toe sy haar trane afvee, het ek gesien haar een nael is lelik afgekou. En óns mag dit nie doen nie!

Een oggend het juffrou Susan saam met een van haar dogters gaan koffie drink by Oliewenhuis, oorkant Oranje Meisieskool. Haar dogter het daar musiek gegee en dit was haar af periode. Toe hulle terugstap, het ’n motor teen die bult afgekom en juffrou Susan omgery.

Toe my ma dit daardie middag ná kollege vir my vertel, was ek bitter hartseer. Ek het die aand baie gebid en geweet dat ek elke dag na my juffrou toe wil gaan. Sy was in die waakeenheid in die hospitaal.

Net een besoeker word op ’n keer by ’n pasiënt in die waakeenheid toegelaat. My ma het altyd saamgegaan, maar buite gebly terwyl ek daar by juffrou Susan is.

Ek het nie eintlik geweet wat ek vir haar kon doen nie. Ek het net daar gestaan en haar liefgehad en gewens sy wil beter word. Die masjiene en pype en drips en sakkies aan die bed en die reuk van ontsmettingsmiddels het my nie bang gemaak nie.

Ek het nie geweet wat ek moet doen nie. Ek wou nie hê sy moet doodgaan nie. Haar lippe was so droog, ek wou iets daaraan doen, maar ek het geweet ’n mens kan nie aan iemand met sulke dik verbande vat nie. Ek kon op die verpleegster se gesig sien dat my juffrou dalk kan doodgaan.

Partykeer het ek ná ’n rukkie gevoel ek wil vir haar bid. Dan het ek dit gedoen. Maar baie sag, ek het net met die Here gepraat.

Een aand het ek anders as ander aande gevoel. Toe ek daar uitloop, het ek vir my ma gesê ek het juffrou Susan gegroet. Ons hoef nie weer te kom nie. Sy is daardie nag dood.

Juffrou Susan se begrafnis was die hartseerste dag wat ek tot toe in my hele lewe gehad het. Die dominee het gesê sy is by Jesus en sy leef en sy is gelukkig. En eendag gaan ons haar weer sien. Die hemel het soos in die Bybel geklink, maar baie ver.

Ek het geweet ek wou nooit by enigiemand anders klavier neem nie. En ek het nie. Ek het my klaviertyd by juffrou Susan gehad, en dit was so lekker en so mooi. Dit is genoeg vir my.

My ma

Ek dink baiekeer dat my ma net nie moet doodgaan nie. Sy laat my elke jaar al hoe meer dinge alleen doen, en ek hou daarvan. Maar ek wil nie sonder haar lewe nie.

My ma beteken die wêreld vir my en sy is – soort van – geduldig, regtig liefdevol en altyd ondersteunend. Sy druk my glad nie en alles wat ek regkry is vir haar ’n bonus. Wanneer ek sukkel met my gewig, is sy vreeslik streng en dan vat sy my afstandbeheer van my TV weg sodat ek nie my stories kan kyk of opneem wanneer ek verkeerd eet nie. Ek weet sy doen dit met die grootste liefde omdat sy my wil help. Wanneer ek self besluit ek wil reg eet, is my ma trots op my. So, as iemand ’n kind met Downsindroom het, moet daai ma nie vir die kind jammer kry en hom toelaat om verkeerd te eet nie. Sy moet die kind leer om die regte kos te kies, al is sy nie by nie.

Partykeer as ’n ma swanger is met ’n baba wat Downsindroom het, kies sy ’n aborsie, of besluit sy ná die geboorte om die kind in ’n inrigting sit. Kyk, ek voel só daaroor: Ons met Downsindroom verdien om te lewe. Ek wil sommer huil as ek dink aan die klein babatjies soos ek wat die reg om te lewe ontneem word. Ons kan ’n vol lewe hê en ons kan ’n positiewe verskil in ander mense se lewe maak. Ek is baie bly my ma het my so ’n kans gegee. Ek is bly oor al die geleenthede wat ek gekry het. Die presidentstoekenning wat ek van die Hamlet-stigting vir mense met gestremdhede in Johannesburg ontvang het, was vir my kosbaar omdat ek vereer is as die persoon wat die meeste gedoen het vir mense met intellektuele gestremdhede in Suid-Afrika. Dit het my laat besef enige mens kan ’n verskil maak, selfs dié wat nie so slim is soos ander nie.

So, aan elke ma met ’n Downsindroom-kind wil ek sê: Moenie jou kind wegsmyt of doodmaak voordat hy of sy gebore is nie. Ons is liefdevolle kinders, al is ons soms hardkoppig (my ma sê ek is erg hardkoppig). Moenie te gou moed opgee met jou kind nie. Juffrou Spies, wat die skoolhoof van Oranje Meisieskool was toe ek gebore is, het vir my ma gesê sy moet my grootmaak soos ’n normale kind. Die kind moet inpas in die samelewing en nie simpel goed doen nie. Leer jou kind om die huisreëls na te kom. Dis al manier hoe ons sosiaal aanvaarbaar sal wees.

My ma gun my alles. Wanneer ek iets goeds bereik, is sy net so bly soos ek. As daar lekker goed met my gebeur, soos toe ek in die TV-sepie Binnelanders was, is sy by my en trots op my.

My ma maak altyd vir my tyd, en ek voel soms so sleg omdat ek kan sien hoe baie werk sy het. Ek is vreeslik dankbaar dat ek so ’n vriendelike en liefdevolle ma het, want my ma is eintlik soort van my sekretaresse. Wanneer iemand my vra om as gasspreker op te tree, dan kyk sy altyd eers in haar dagboek. As sy ’n dag kry wat oop is, skryf sy my praat-afspraak in.

Ek en my ma doen omtrent alles saam. As ek Vrydae my hare laat blaas, is sy by, en as ek my naels laat mooi maak, dan is sy ook daar. As daar nie onderskrifte is nie, gaan ek ook graag saam met haar na die flieks waarvan sy hou. Soms gaan kyk my ma haar fliek en ek myne. Daarna ontmoet ons mekaar by ’n koffiewinkel en bespreek die flieks.

My ma sorg dat ons mae altyd vol is en sy sorg ook dat ek mooi klere en skoene het. Ek sukkel vreeslik met skoene, want ek dra ’n nommer 1 of 2. Party dae is ons gelukkig en kry ek tot vier paar skoene, maar ander dae niks nie.

Wanneer ek as motiveringspreker optree en die mense staan vir my op, begin my ma se trane loop. Dit het veral in New York gebeur. Toe ek daar gepraat het, het my ma so gestres dat sy nie foto’s kon neem nie. Haar hande het te veel gebewe.

My ma bid altyd saam met my voor ek gaan praat, dan vra sy die Here om by my te wees, maar ook by die mense wat luister sodat hulle nie vir my sal raaksien nie, maar vir die Here, wat my so geseën het.

My pa

Sjoe, dis nou nogal ’n moeilike een. Wat ek van my pa onthou is dat hy warm en saggeaard was. Hy was altyd die een wat lag in die huis gebring het en ons geterg en gekielie het. Hy het dikwels gelag.

Maar my pa was ook baie streng met my. Hy het my gestraf wanneer ek stout en onhebbelik was, maar ek het altyd geweet hy doen dit omdat hy lief is vir my en net die beste vir my wil hê.

Naweke het ek vir my pa whiskey ingegooi met baie ys en water. Wanneer hy vir middagete huis toe gekom het, het ek vir hom ’n broodjie gemaak en ’n halwe koppie swart koffie met een suikerpilletjie in. Ná werk het hy altyd so teen vyfuur se kant huis toe gekom, want hy het gesê sy gesin is vir hom die belangrikste.

My pa was pynlik netjies. Hy het altyd sy hemde genommer sodat dieselfde hemde bymekaar gesit word. Sy nommer 1-hemde was die wittes, nommer 2 die gekleurde werkhemde, en so aan. Sy kantoor was ook altyd netjies.

Net voor my pa dood is, het hy ’n boek, Innie skylte vannie Jirre, gelees. Wanneer ons verby die woonkamer geloop het, het hy ons geroep om na stukkies uit die boek te luister. Dan het hy gelag dat sy oë skrefies word.

Wanneer my pa rugby gekyk het, het hy met die spelers en skeidsregters baklei as hy nie met iets saamgestem het nie. As sy span gewen het, het hy opgespring van opwinding.

Ek wens partykeer ek kan soos my pa wees, wat kon terg en grappies maak, maar nou is ek nie so iemand nie. My pa was die warmste, liefdevolste, saggeaardste mens. Ek sal hom nooit vergeet nie.

Oom Sam

Dit was vir my in die begin baie moeilik om oom Sam du Plessis as my tweede pa te aanvaar, maar ek het ook geweet dat hy nooit my regte pa se plek sal probeer vat nie. Al wat vir my getel het, was dat hy my ma gelukkig maak.

Oom Sam se vrou, Lana, is in 2002 aan kanker oorlede. So nege maande ná my pa se dood het hy by ons begin kuier. Oom Sam en my ma se eerste uitgaan was na die Bainsvlei-begraafplaas, waar sy vrou en my pa begrawe is. Hulle was al twee hartseer en hulle het al twee verlang na die mense wat dood is. Ná omtrent vyf jaar is hulle getroud.

Dinge was in die begin nie so maklik tussen oom Sam se drie dogters – Lizanne, Michelle en Anchen – en ons drie nie. Maar toe besluit ek dat oom Sam my ma gelukkig maak, so ek sal hom aanvaar. Ek het vir Michelle genooi om te gaan koffie drink, net ek en sy. Ek wou haar op ’n mooi manier vra dat hulle ons asseblief moet aanvaar. Ons het baie lekker gesels daardie dag.

Mettertyd het ons almal begin aanpas, en my nuwe sussies het my aanvaar vir wie ek is. Ons het gewoond geraak aan die nuwe huis, en ek moet sê, die laaste klomp jaar is ons almal gelukkig saam. Ek het die dierbaarste drie sussies bygekry.

Lizanne het die twee oulikste kindertjies. Sy en haar gesin het in ’n stadium lank by ons gekuier en ons het mekaar toe goed leer ken. Sy sal sommer by my in my kamer kom sit en gesels. Sy was hier toe ek dertig geword het en ná die partytjie het sy en Anchen my ma help opruim. Dit het gevoel of ons ’n regte gesin is.

Ek dink oom Sam gee vir my om asof ek een van sy eie kinders is. Ons is weer ’n gelukkige gesin al is my pa en oom Sam se vrou oorlede. ’n Mens kan ’n gelukkige gesin nooit genoeg waardeer nie. Mag ons hemelse Vader aan ander ook hierdie lekker gee. Of nog beter, mag ons almal leer om daar te wees vir ander wat hulp nodig het.

My sussies

My ma het altyd vir my en my sussie Marisa, wat net 21 maande jonger is as ek, dieselfde aangetrek en vir ons twee bokstertjies gemaak. Sy het ons hare so styf in die rekkies vasgevang dat ons al twee Chinese ogies gehad het.

Ek en Marisa het saam geleer toe ons op skool was. Sy kon die meeste van die goed regkry. Ek het die meeste van die tyd gesukkel. My ma het my altyd my werk laat herhaal. Dan voel ek soos ’n gek omdat ek so sukkel, maar sy het vir my mooi verduidelik dat dit deel van die lewe is om soms te sukkel. Party mense sukkel meer as ander, maar dit maak nie saak nie. Hulle moet steeds hulle bes doen.

Ons het popgespeel en geswem. Dit was heerlik. Later het my “tweelingsussie” vinnig langer geword en ek het baie stadiger gegroei. Nou is Marisa al uit die huis uit en getroud. Sy en haar man, Pieter Steyn, het ’n seuntjie, Josua, en ’n babadogtertjie, Mia. Mia Shéri is vernoem na ons pa (sy volle naam was Jeremia) en na my. Dit is die grootste eer denkbaar vir my. Dit was vir my vreeslik sleg toe sy uit die huis is. Maar ek weet sy is baie gelukkig in Londen en dat haar man haar gelukkig maak. Ek gun dit vir haar om gelukkig te wees, al mis ek haar elke dag.

Toe my jongste sussie gebore is, was ek baie opgewonde. Toe my ma en klein Suzette van die hospitaal af gekom het, het ek ’n pienk rokkie aangehad en Marisa ’n groene. My pa het ’n grys drasak vasgehou waarin die mooiste klein sussie gelê en slaap het.

Toe Suzette, of Zettie soos ons haar noem, groter geword het, het ons haar in ’n boks vol speelgoed gesit. Sy het dit vreeslik geniet so tussen die speelgoed. Op skool het sy baie buitemuurse goed gedoen, net soos Marisa. Sy het begin viool speel en later klavier. Toe was dit skoolkoor, Bloemfonteinse Kinderkoor, hokkie en tennis.

Ná skool het Zettie bourekenkunde gestudeer. In ’n stadium het sy besluit dis nie wat sy wil doen nie. Sy wou mense help. My ma sê toe vir haar sy moet eers haar graad klaarmaak. Toe sy haar graad gekry het, is sy Kaapstad toe om daar spraakterapie te studeer. Dis wat sy nou doen. Ek mis haar ook vreeslik, maar ek het een keer alleen Kaapstad toe gevlieg en vir haar gaan kuier. Dis vir my heerlik om alleen te vlieg en dat niemand my hoef te help nie. Zettie en haar man het aan die einde van 2016 Johannesburg toe getrek en woon nou nader aan ons.

Maar laat hulle self vertel hoe hulle dit ervaar om my as ousus te hê.

Marisa

Mense het bitter min negatiewe opmerkings oor Shéri gemaak waarvan ek bewus was. Dalk is dit omdat my ma ons grootgemaak het dat dit ’n baie positiewe ding is dat sy anders is. Ons het daardie beginsel uitgeleef – daar was nie vir ons ’n negatiewe konnotasie aan Downsindroom nie – en ek dink mense rondom ons het ons voorbeeld gevolg. Ek dink ook hulle het geweet hoe lief ons ons sussie het. Hulle sou dit nie wáág om iets leliks oor haar voor ons te sê nie!

Ek onthou ons het een vakansie in die Kaap by familie gaan kuier. Ek en Shéri was in die laerskool, ek so tien of elf. Op ’n dag het ons saam met ’n klomp kinders, baie van hulle Engelssprekend, buite gespeel. Ons het net Afrikaans in die huis gepraat. So, hoewel ek Engels kon verstaan, was ek die taal glad nie magtig nie.

Een van die seuns het dit durf waag om voor my te sê Shéri is “retarded”. Ek was buite myself van woede. Ek het nie regtig die betekenis van die woord geken nie – ek het die woord waarskynlik net in flieks gehoor, waar dit gewoonlik gebruik sou word om ’n persoon sleg te sê. Ek het dus onmiddellik aanvaar hy bedoel dit lelik. Ek het so erg met daardie seun baklei dat die grootmense kom kyk het wat aangaan.

My ma was altyd so rustig en kalm in sulke situasies. Sy het vir my gevra wat fout is daarmee dat hy gesê het sy is “retarded”; dis mos die waarheid. Die wind was heeltemal uit my seile. Ek het probeer verduidelik dat dit nie was hoe hy dit bedoel het nie, maar ek dink nie ek het my argument mooi verwoord nie. As ek nou daaraan dink, raak ek sommer van voor af kwaad vir daardie seun wat dit gewaag het om lelik te wees met my sussie.

Die enigste ander insident wat ek kan onthou (en net omdat my ma my daaraan herinner het) is iets wat by koor gebeur het. Ek en Suzette was albei lid van die Bloemfonteinse Kinderkoor, en ons het ure aan kooroefening bestee. Ons maats by die koor het soos familie geword.

Die meeste mense wat in die 1980’s en vroeë 1990’s grootgeword het, onthou die TV-reeks Môre is nog ’n dag waarin Chris Burke, wat Downsindroom gehad het, gespeel het. Hy was Shéri se groot held en rolmodel. En ons gesin het die reeks baie geniet. Ek kon identifiseer met Becca, Corkie se sussie in die fliek. En ek is seker my ouers kon identifiseer met van die dinge wat Corkie se ouers moes trotseer. Shéri het altyd gesê haar groot droom is om eendag vir Corkie te ontmoet. Of selfs om self eendag in ’n TV-reeks te kan speel!

Toe van die kinders by die koor na mekaar as “Corkies” begin verwys, het dit my baie ontstel. Hulle het dit gesê as iemand iets onbesonne, of net plein stupid, aangevang het. Ek het nie lekker geweet hoe om dit te hanteer nie. Aan die een kant wou ek nie ’n spoilsport wees nie, want ek het geweet hulle besef nie heeltemal wat hulle sê nie. Maar aan die ander kant wou ek nie stilbly nie, want ek het gevoel hulle doen dit waarskynlik net omdat hulle oningelig is oor mense met Downsindroom.

Ek kan nie onthou hoe ek uiteindelik gereageer het nie. Maar ek vermoed ek het vir hulle iets gesê soos: “Besef julle ek het so ’n sussie?” Hulle het nie weer voor my so gepraat nie.

Shéri se gestremdheid het nooit my geloof laat wankel nie. Inteendeel. Die feit dat ek Shéri as ’n sussie het, het waarskynlik my geloof versterk. Shéri is baie na aan die Here. Sy glo soos die Bybel vir ons sê om te glo – soos ’n kind. Ons het altyd geterg dat as jy iets in die lewe wil hê, jy vir Shéri moet vra om daarvoor te bid, want sy het ’n direkte lyn hemel toe. Haar voorbeeld van absolute, onwankelbare geloof was nog altyd vir my iets om na te streef.

Ek dink dis heeltemal anders om groot te word met ’n gestremdheid wat altyd daar was. Vir my was Shéri nog altyd daar. Ek ken nie ’n lewe sonder haar nie. En ek sou haar nooit wou verander nie. Vir my is sy my sussie, net soos sy is. ’n Normale ouer sussie sou iemand anders wees, dit sou nie Shéri wees nie. Dus het dit nooit by my opgekom om vir die Here kwaad te wees oor haar gestremdheid of om dit te bevraagteken nie. Sy is wie sy is. En ons is lief vir haar soos sy is. Sy is ’n geskenk van die Here. En ons loof Hom vir haar in ons lewens.

As iemand my dus sou vra of ek ooit opstandig gevoel het of gewonder het hoekom dit met my sussie gebeur het, kan ek onomwonde sê nooit nie. Vir my is dit nie iets wat met haar gebeur het nie. Dis wie sy is. Dis so goed om my te vra of ek opstandig voel omdat ek ’n sussie het in plaas van ’n boetie.

Shéri het ons ingesteldheid teenoor mense met gestremdhede beïnvloed. Ek dink ek is meer bewus van mense met gestremdheid rondom my en sal uit my pad uit gaan om hulle tegemoet te probeer kom. Die feit dat ons vir Shéri in ons lewe het, het ons ook bewus gemaak van baie ander gestremdhede. Saam met haar in die skool was daar kinders met allerhande verskillende uitdagings. Ons het elke jaar na mekaar se prysuitdelings, uitvoerings of funksies toe gegaan. Ek het dus baie blootstelling aan verskillende gestremdhede gehad.

Was dit moeilik om deel te wees van ’n gesin wat “anders” is? Nee, ek dink nie regtig so nie. Maar ons ken natuurlik nie ’n ander gesinslewe nie.

Ons gesin het verseker uitgestaan, maar ek dink ek het nogal van die aandag gehou – veral as klein dogtertjie. Toe ons predikant die gemeente verlaat het, is ons drie susters gevra om namens die gemeente blomme aan hom en sy vrou te oorhandig. ’n Paar jaar later, toe die NG Kerk besluit het om kinders toe te laat om nagmaal te gebruik, het die dominee ons gesin gevra om daardie oggend saam met hom aan die nagmaaltafel te sit as voorbeeld van ’n gesin wat saam nagmaal gebruik.

Maar ek het nooit gevoel Shéri kry meer aandag as ek of Suzette by my pa of ma nie. My ouers was baie, baie bewus van die feit dat hulle nooit wou hê enigeen van ons moet voel die ander een word voorgetrek nie. Vandat ek kan onthou, was ek en my ma bitter na aan mekaar. Sy het altyd raakgesien as ander mense vir Shéri meer aandag gee as vir my. Dan het sy daarvoor probeer vergoed. Ek het nooit aan haar liefde vir my getwyfel nie.

Shéri was baie na aan my pa. Hy het ’n ongelooflike slag met haar gehad en hulle band was baie spesiaal. Tog het ek nooit gedink dat hy vir Shéri voortrek nie. Ek was baie bewus van sy liefde vir my.

Maar my ouma het Shéri blatant voorgetrek. Sy het dit nie eens probeer wegsteek nie. Shéri het die plek op haar skoot gekry as sy stories vertel het; ek en Suzette moes op die grond sit. Ons begroting vir Kersgeskenke van my ouma af was R50. Daar was geen limiet vir Shéri se geskenke nie. Sy het een jaar selfs ’n CD-speler gekry.

My ma het dit baie duidelik gemaak dat sy nie met my ouma se optrede saamstem nie. My ma en my ouma was baie na aan mekaar. Ons het amper elke dag by my ouma gaan koffie drink. Die enigste keer wat ek hulle ooit sien baklei het, was toe my ouma Shéri weer erg voorgetrek het. My ma was woedend. Ek het geweet dit maak nie saak wat gebeur nie, my ma sal altyd daar wees vir my en haar bes doen dat ek regverdig behandel word.

My oupa het ook op sy manier probeer om vir my ouma te vergoed. Hy was nie ’n man van baie woorde nie, maar wanneer my ouma vir Shéri so voortrek, het hy my soms na sy kamer toe geroep en vir my ’n plak sjokolade gee wat ek in my klere moes wegsteek sodat my ma en Shéri dit nie sien nie. Ek het my ouma as Shéri se ouma beskou en my oupa as mý oupa.

Ander mense – familie, vriende en die publiek – het wel oor die algemeen baie meer aandag aan Shéri gegee as aan my. Shéri is ’n jaar teruggehou voor sy skool toe is en sodoende is ons twee dieselfde jaar sub A toe. Ek onthou hoe die tannie van die poskantoor vir Shéri ’n stel kryte gegee het om haar sterkte toe te wens met skool. Ek het niks gekry nie. Ek was skaars ses en dit was moeilik om te verstaan hoekom sy sulke geskenke kry en ek nie.

My ma vertel ook hoe ek en Shéri eenkeer in die winkel vir haar in die trollie gewag het terwyl sy vinnig iets op ’n rak daar naby gaan haal het. Toe sy terugkom, het ek vir haar gesê: “Mamma, ’n tannie het nou net vir Shéri sjokolade gegee. En sy het nie eens dankie gesê nie.” Die frustrasie was soveel groter omdat Shéri nie eens dankie gesê het nie!

Jare later het die feit dat Shéri soveel aandag trek my wel bietjie skaam begin maak. Shéri is dikwels smiddae saam met my na plekke toe. Onder meer is sy elke Vrydagmiddag saam met my orkesoefening toe. Sy het gesit en luister hoe ons oefen, buite rondgeloop en die af tye tussenin saam met my en my vriende deurgebring.

Op ’n dag het ek vir my ma gesê ek dink nie dis so ’n goeie idee dat Shéri saam met my orkesoefening toe gaan nie. My ma vertel dat sy gewag het vir die dag dat ek gaan begin skaam raak vir my sussie, en dat sy my nie kwalik sou neem nie. Sy het egter nie haar eie afleiding gemaak nie en my verder uitgevra. Toe ek sê ek is bang mense dink ek brag met my sussie, het my ma net geglimlag.

Ek dink die grootste en belangrikste ding wat ek geleer het deur Shéri as ’n suster te hê, is dat elke gesonde, normale baba ’n groot geskenk is. Dit is nie ’n gegewe nie. ’n Gesonde liggaam en verstand is ’n ongelooflike genade. Dis nie iets wat enigeen van ons ooit kan verdien nie; dis werklik net ’n groot geskenk uit God se hand.

Met albei my swangerskappe was ek baie bewus daarvan dat daar ’n kans is dat ek ’n baba kan kry wat nie aan die wêreld se standaarde van normaal voldoen nie. Dit het my egter nooit laat twyfel of ek kinders wil hê nie.

Die toetse wat gedoen word om te bepaal of ’n baba Downsindroom het, het baie ontwikkel. Met my eerste swangerskap kon hulle met ’n bloedtoets redelik akkuraat bepaal of daar ’n kans is op Downsindroom. Wanneer dié toets positief was, is ’n amniosintese gedoen. Met my tweede swangerskap was daar reeds nuwe tegnologie wat medici in staat stel om met ’n bloedtoets meer as 99% akkuraat te kan bepaal of ’n baba Downsindroom het of nie.

Ek het met albei swangerskappe die toets laat doen. Die enigste rede is dat ek daarvan hou om my lewe te beplan. As ek weet die baba wat ek verwag is gestremd, kan ek en my man ons daarop voorberei. Dan is die groot skok verby as die babatjie die dag gebore word, en kan ’n mens werklik net opgewonde wees oor die nuwe lewe. Let wel: Die uitkoms van die toets sou absoluut geen verskil maak aan of ek die baba sou hou of nie.

Ek voel baie sterk oor aborsie van gestremde fetusse. Dit breek my hart om te dink dat ’n ma nie haar baba ’n kans op lewe gun nie, net omdat daardie baba nie aan haar standaarde vir ’n perfekte baba voldoen nie. Ek kan my nie indink hoe ’n ma dit oor haar hart kan kry nie.

Dus sal ek nooit, ooit aborsie oorweeg nie. Maar as ek so bevoorreg is om weer swanger te raak, sal ek verseker weer die toets laat doen. Ek gun dit vir elke ouer van ’n kind met Downsindroom, of enige ander gestremdheid, om so gou moontlik bewus gemaak te word daarvan sodat hulle hulleself so goed moontlik kan voorberei.

Suzette

Shéri’tjie. Wanneer ek aan my ousus dink, steek dit sommer soos ’n pyn in my hart. So lief is ek vir haar.

Ek is gebore en het grootgeword in ’n gesin waar daar baie liefde en sekuriteit was. Mamma en Pappa was lief vir mekaar, en baie lief vir ons.

My ma en pa het altyd mooi vir my verduidelik dat Shéri’tjie nie soos ons almal is nie – dat sy soms goedjies bietjie stadiger doen, dat sy meer sukkel om te leer, en dat sy ’n mongooltjie is. Hierdie term was nie vir ons snaaks nie. Eers heelwat later in ons lewe het ons gehoor dat dit blykbaar nie mooi is om die woord te gebruik nie. Ek het altyd gewonder wat fout is daarmee.

Om ’n sussie te hê met Downsindroom (ek sê dit maar, want dit val deesdae sagter op mense se ore) was nie vir my snaaks nie. Dit was al wat ek geken het. Sy het haar rol as ousus in die huis so mooi vervul. Sy het my baie dinge geleer, soos om jou panty tot bo-oor jou naeltjie te trek, anders kan die mense jou skiet. Ek het haar geglo – want sy was my ousus.

Toe ek ’n bietjie ouer was, so laerskool se kant, het ek en Shéri lekker maats geword. Maats wat ook lekker baklei het. Ons het baie saam geswem en skool-skool gespeel.

Ek het haar graag geïrriteer. Ek het haar gekielie, met haar grappies gemaak, en wanneer sy moes leer, vir haar briefies onderdeur haar deur gestoot. Daar was die keer wat ek harsingskudding opgedoen het toe ek hoor sy kom na die deur toe en vinnig probeer opstaan het – toe tref my kop die deurkosyn.

Wanneer ons op ’n Sondagmiddag gespeel het en ek haar weer so geterg het dat sy van kwaadgeit begin gil, het ek vir haar gesê: “Jy’s nie ’n baba nie, moenie so skree nie” – eintlik net omdat ek geweet het Mamma sou met my raas. Maar laat iemand anders nou net met haar skoorsoek, dan was daar moeilikheid!

Shéri het ook maatjies gehad wat soms kom speel het. Dit was gewoonlik kinders wat saam met haar in Martie du Plessis was. Ek het lekker saamgespeel en geen gestremdheid was vir my vreemd nie. Ek was baie beïndruk deur die kindertjies in rolstoele. Sommige kon prentjies verf met hulle voete en toertjies met hulle rolstoele doen.

Toe ek ouer word, en ook nou in my werk as spraakterapeut, het ek baie empatie ontwikkel vir die ouers van kinders met gestremdhede en ook die mense met gestremdhede self. Dalk omdat ek die pad so bietjie ken.

Behalwe dat Shéri my dinge geleer het toe ek klein was, het sy my ook gehelp wanneer ek skooltoetse moes skryf. Wanneer my ma of pa nie by die huis was nie, het sy vir my vrae gevra om seker te maak dat ek my werk ken. Sy het my veral met Suid-Sotho gehelp.

Ek kan nie onthou dat mense ons ooit snaaks aangekyk het oor Shéri nie. Al ons vriende het Shéri honderd persent aanvaar en nooit gemaak of sy “anders” is nie.

Deesdae is dit wel moeilik om êrens te gaan sonder dat mense vir haar kyk. Ek neem aan dis omdat sy in Binnelanders gespeel het, en verskeie TV-onderhoude met haar gevoer is. Ek kyk mos ook mense agterna wat al op die TV was as ek hulle êrens sien.

Ek onthou een Vrydagaand as tiener toe seunsvriende by ons huis kom kuier het. My een vriend het ’n neef van hom saamgebring, en met die ontmoeting het hulle gemaak of die neef gestremd is. Net daarna het Shéri ingestap gekom en al twee seuns was bleek van skrik, want hulle het nie van haar geweet nie. Ek en my vriendinne, wat Shéri goed geken het en vir haar lief was, het gelê soos ons lag.

Dis iets wat ons nogal kon doen in ons gesin. Lag vir en saam met mekaar. So, ons kon vir Shéri ook lag en sy vir ons.

My ma het so ’n goeie balans met haar kinders gehandhaaf. Sy het vir Shéri al die hulp en geleenthede gegee wat sy kon en terselfdertyd gesorg dat ek en Marisa ons drome kon uitleef. Ek het nooit gevoel een van ons word voorgetrek nie. My ouma was ’n ander storie, maar ons het maar net gelag daaroor en was nooit jaloers nie.

Shéri moes baie smiddae saam met my ma agter ons aanry of kom kyk as ek aan redenaarskompetisies deelneem of ons Kinderkoorkonserte het, of ons groet wanneer ons met koortoere oorsee gaan. Dit was vir my sleg dat sy alleen moes agterbly.

Dit was vir haar ook sleg. Maar my ma het ons altyd verseker dat Shéri ook haar plekkie in die son sal kry. As ek vandag na haar kyk, weet ek sy het haar stukkie son gekry. Vandag ry my ma agter haar aan waar sy weekliks gaan praat met mense, en sy vlieg oorsee om haar storie te gaan vertel. Dit maak my só bly!

Ek het altyd gewonder hoe nuwe mense in my lewe haar sal hanteer. Sal hulle normaal optree, of sal hulle skrikkerig wees en nie weet wat om vir haar te sê nie? My man, Jaco, was van die begin af gemaklik met haar, al het hy nie eintlik voorheen met gestremde mense te doen gehad nie. Hy is so ’n bietjie soos ek en het haar ook sommer dadelik begin terg en grappies gemaak met haar. Toe ons op die punt van trou kom, was dit vir my moeilik. My hart was soms seer om te weet dat Shéri’tjie nooit die vreugde van ’n verlowing en troue sal ervaar nie.

Hoe ouer ek word, hoe meer wil ek haar beskerm. Ek wil haar beskerm teen enige aanslae van die lewe, in tye van hartseer, as sy voel sy pas nie in nie. Maar ek kan nie altyd nie. En dit laat my hart soms pyn.

Shéri se storie en haar lewe versterk my geloof keer op keer. Die Here sê in sy Woord Hy kyk na sy kinders en dat Hy dié wat sy naam groot maak, ook groot sal maak. Ek wonder soms of daar mense is wat jaloers is op die sukses wat Shéri’tjie behaal het, mense wat nie ’n idee het hoe haar en my ma se pad gelyk het en hoe moeilik dit partykeer was nie. Maar die Here maak letterlik daagliks, weekliks, maandeliks vir hulle nuwe deure oop om haar storie van hoop met die wêreld te gaan deel, want dit is deur Jesus Christus en baie harde werk dat Shéri is waar sy vandag is. Ek glo ook die deure sal aanhou oopgaan terwyl haar getuienis hoop gee en tot eer van Hom is.

Hoe my ouers my grootgemaak het

My ma leer my om selfstandig te wees. In die begin kon ek nie eens ’n eier kook nie. Nou doen heelwat meer.

Toe my ma en oom Sam in die begin van 2017 vir drie dae weg is, het ek alleen gebly. Dit was vir my heerlik om my eie ding te doen en na myself te kyk. Ek het maats oorgevra en by ons wonderlike buurvrou gaan kuier, maar ek het alleen geslaap en self kos – gesonde kos – gemaak.

Ek kan ook self my vliegtuig-instapkaartjie kry as ek alleen in Johannesburg, Kaapstad of Durban gaan praat. My ma kan my net by die drop off aflaai. Ek kyk op die kennisgewingborde en volg die pyltjies. Die organiseerders van die konferensies waar ek praat, laai my ook so af. Dan gaan ek self deur sekuriteit en gaan drink koffie by die Wimpy voordat ek hek toe gaan om vir my vliegtuig te wag. Om alles so op my eie te doen, laat my baie goed voel oor myself.

Ek onthou ons het altyd Kersfees in Bloemfontein die geboorte van Jesus opgevoer. Marisa was die verteller en Maria. Suzette was die engel Gabriël en klein Jesus, en ek was Josef. Marisa het ons gewoonlik afgerig. Ek het natuurlik my eie idees ook gehad.

My pa en ma het ons geleer dat Kersfees nie gaan oor die kos en die geskenke nie, maar oor God se liefde vir ons, dat Hy ons so liefhet dat Hy sy seun, Jesus, vir ons gestuur het. Met Kersfees kan ons dit vier.

In my kinderdae het ons wonderlike Kersfeeste op Calvinia by een van my pa se broers, oom Gerrit, en sy vrou, tannie Louise, gehad. Plaaswerkers het Kersliedjies by die voordeur kom sing. Ek onthou die skuinskoek wat tannie Louise gebak het. Dit lyk bietjie soos vetkoek met vreeslik baie olie en ’n mens eet dit soos beskuit.

Die aand voor Kersfees het ons geskenke oopgemaak nadat oom Gerrit vir ons gelees en gebid het. Ons het ook Kersliedjies gesing. Op Kersdag was ons altyd in die kerk. Op ’n keer, toe Zettie nog baie klein was, het ons gesin heel voor in Calvinia se kerk gesit. Toe kondig die dominee kliphard aan dat daar ’n moederskamer is. Hy het gemeen my ma moet ons soontoe vat. Dis duidelik dat hy nie geweet ons is gewoond om elke Sondag kerk toe te gaan nie. Ons het geweet van stilsit in die kerk.

Die eerste skeepsreis wat die Brynard-gesin aangepak het, was op die Sinfonia. My ouma het gesê sy sal vir my betaal as my pa-hulle vir hulleself en my sussies betaal. My en my ouma se kajuit was pragtig luuks en my ma, pa en sussies s’n piepklein. As een van hulle gestaan het, moes die ander drie op die beddens lê.

Dit was die vakansie van ’n leeftyd!

Kersfees op die skip was die wonderlikste ooit. Daardie Oukersaand sal ek nooit vergeet nie. Laatmiddag het my pa-hulle na my en my ouma se kajuit toe gekom, hy met die Bybel onder die arm. Ons het gelees en gebid, ons geskenke oopgemaak en toe saam met die ander mense gaan kuier.

Die kelnerinne en meisies wat saans die lekker programme aangebied het, was hartseer. Hulle het huis toe verlang, want dit was Kersfees. My pa en ma het dit raakgesien. Hulle het hulle getroos, drukkies gegee en uitgevra oor hulle ouers en hulle familie. Party van hulle het so bietjie gehuil, maar dit het gelyk of dit vir hulle iets beteken dat my ouers daardie aand vir hulle soos ’n tweede pa en ma was.

Shéri

Подняться наверх