Читать книгу Harry Griesel 2: Die spookplaag - Sonja Kaiblinger - Страница 4
ОглавлениеArchibald se groot geheim
“Uiteindelik,” sug Emily en gaan sit op oom Archibald se afgeleefde leerstoel wat in die geheime biblioteek staan. Mens kom deur ’n versteekte valdeur in Otto se kamer daar. Hy vermoed sy oorlede oom het die plek so ingerig. Hy en Emily kom baie keer hiernatoe as hulle met die spoke wil gesels, en seker wil maak hulle word nie gepla nie. Of sommer vir die lekkerte. Die kamer het ’n rustige atmosfeer.
Emily is poegaai en vou ’n deurmekaar haarstring agter haar oor in. “Ek het gedink skool gaan nooit end kry nie. Die onderwysers is almal mal!”
Otto moet met sy beste vriendin saamstem. Die hele lot onderwysers van die Sybrand Swaelkop Skool het vandag baie snaaks opgetree. Meneer Schreiber, die Duitse onderwyser, het byvoorbeeld die oggend met donker kringe onder sy oë die klaskamer ingestrompel en gesê hy maak al nagte lank nie ’n oog toe nie en daarom kan hy nie klas gee nie. Toe het hy die hele klas vyftig bladsye van hulle Duitse handboek alleen laat deurkou. Otto het nie eens die helfte daarvan verstaan nie.
In die wiskundeklas was dit nog erger. Die wiskunde-onderwyser, meneer Phillips, is gewoonlik die rustigheid vanself, maar vandag was hy senuweeagtig en op ’n ander planeet. Hy het vier keer ’n berekeningsfout met ’n enkele vergelyking gemaak. Hy was glad nie sy gewone self nie.
“In my tyd was skool ook g’n grap nie,” preek Sir Tony vir Emily, hoewel sy hom nie kan sien of hoor nie. “Skoolwerk was baie uitputtend. Ons moes ure lank op aandag staan en die onderwysers het soos drake straf uitgedeel.”
“O ja,” weerklink ’n klokhelder stem vanuit die hoek. Dis Molly, die enigste vroulike huisspook in tannie Sharon se villa. Sy sit gehurk op die reuse-aardbol en draai al in die rondte. “En jy het hulle maniere goed onthou en dit op jou huispersoneel toegepas, nie waar nie?”
“Pfff!” Sir Tony is glad nie beïndruk nie. Toe hulle nog geleef het, het Molly en haar beste vriend, Bert, in die villa se kombuis gewerk. Hulle het nou nog nie vir Sir Tony, die voormalige eienaar van die huis, heeltemal vergewe vir die swak manier waarop hy hulle behandel het nie.
Otto sug en gaan sit op die stoel se armleuning. “Drake, nè? Ek is verlig hulle is nie meer so in vandag se skole nie. As mens konstant in die moeilikheid gebring word deur ’n babbelende vlermuis wat in jou boeksak sit, begin mens gawe onderwysers waardeer.” Hy knipoog vir Emily.
Sir Tony trek sy neus op. “ ’n Mens kan nie deesdae se onderrig met onderrig in my tyd vergelyk nie. Ons het destyds immers nog maniere geleer.”
“O rêrig?” Molly grynslag vermakerig.
“Natuurlik!” Sir Tony ignoreer die sarkastiese manier waarop dit gesê is en lig sy dubbelken. “Deesdae gaan dit net oor die internet. Rekenaars hier en rekenaars daar. Al wat julle skoolkinders nou leer, is hoe om stout te wees,” kla hy. “Het julle nog vakke soos aardrykskunde? Julle weet seker nie eens meer waar Groot-Brittanje is nie.”
“Dis nie waar nie!” stry Otto.
Sir Tony lig sy wenkbroue en sweef na die aardbol waarop Molly sit. “Sit eenkant toe, Molly,” brom hy en draai die aardbol in die rondte.
Molly verloor haar balans en val pens en pootjies af. “Wat dink jy doen jy?”
“Ja, ja, jammer,” mompel Tony kortaf en waai met sy hand. “Nou toe, Otto? Het jy in die aardrykskundeklas opgelet?”
Otto laat nie op hom wag nie. “Natuurlik.” Triomfantlik druk hy sy vinger op die plek waar Groot-Brittanje op die aardbol is. “Dis makliker as maklik! Selfs Stian sou … Wat op …?”
Otto bly onmiddellik stil. Toe hy aan die aardbol gevat het, was daar ’n kliek-geluid asof iets meganies aangeskakel is.
Hy kan sy oë nie glo nie … die twee helftes van die aardbol skuif stadig uitmekaar en die een helfte skuif onder die ander een in. Die binnekant van oom Archibald se aardbol het ’n lewe van sy eie!
“Dit kan nie waar wees nie!” Emily beweeg nuuskierig nader. “ ’n Geheime plek in die aardbol! Wie sou dit nou kon raai! Ek dink jy het iewers op ’n knoppie gedruk, Otto.”
Presies! Die aardbol het nou in ’n halwe bol verander en wys sy binnekant vir hulle: op ’n houtrakkie is ’n stowwerige kissie. Dit lyk nie of dit gesluit is nie.
Die vier staan nader.
“Oe, is dit ’n skat?” vra Molly met groot oë. “Ek het altyd geweet jou tannie steek ’n skat weg! Goudstawe, munte, robyne, diamante … Ons is ryk!”
“My tannie?” Otto glimlag en lig sy wenkbroue. “Ons is nie nou in ’n seerowerfliek nie. Tannie Sharon het so nooit as te nimmer ’n skat weggesteek nie. Sy weet nie eens hierdie kamer bestaan nie. Kyk net die dik laag stof op die rakke. Om die waarheid te sê, niks en niemand is veilig teen tannie Sharon se skoonmaak-obsessie nie. As sy ooit die kamer ontdek, sal sy alles dadelik wil ontsmet.”
Otto kou sy onderlip. “Ek wed julle oom Archibald het die kissie hier weggesteek.”
Molly rol haar oë. “Ag, hoe jammer. Hy was net ’n vervelige wetenskaplike wat seker ’n klomp stowwerige proefbuisies hier weggesteek het. Dit beteken hier is nie ’n skat nie!” Haar vlegsels hang sommer van pure teleurstelling.
“Sir Archibald? Vervelig?” meng Sir Tony in en gluur na Molly. “Jy weet duidelik nie waarvan jy praat nie. Otto se oom was nie sommer ’n doodgewone wetenskaplike nie. Hy het hom besig gehou met … met …” Sir Tony se stem bewe.
“Waarmee?” vra Molly kriewelrig.
“Wel, met … met …”
“Met spooknavorsing,” fluister Otto. Hy het intussen die kissie oopgemaak en hou ’n boekie met ’n leeromslag in sy hand vas. Dis omtrent so groot soos ’n skoolboek en die titel is Paranormale Navorsingsreeks – streng geheim.
“Rêrig?” Emily is vreeslik opgewonde. “Jou oom Archibald, ’n regte spooknavorser? Hoe opwindend! Maar wie sê die boek het aan hom behoort?”
“Ek is taamlik seker daarvan.” Otto blaas oor die boek. ’n Stofwolk trek deur die lug en ’n hewige hoesbui oorval Sir Tony dadelik.
“Ek weet hoe oom Archibald se handskrif lyk,” verduidelik Otto verder. “Tannie Sharon het vir my ou briewe van hom gewys.” Hy blaai stadig deur die boek en kyk aandagtig na die bladsye. “Die eerste klomp bladsye is net vol formules. Chemiese elemente. Ek het nie die vaagste benul wat dit beteken nie.”
“Kyk hier, Otto!” Emily trek hom aan sy hemp nader. “Vergeet van die boekie. Hier is nog meer goeters in die kissie weggesteek.”
Molly sweef oor Emily se kop en probeer sien wat daar nog is. “Miskien … is daar tog ’n skat in?” Sy het heel duidelik nog nie moed opgegee dat hulle dalk ryk gaan word nie. “Of ten minste ’n paar muntstukke? Dalk net een robyn? Ag, asseblief tog! Dan kan ons ’n tuimeldroër koop. Dink net, om daarin in die rondte te draai, kan net vet pret wees!”
Otto kan nie help om te giggel nie. Molly is mal oor alles wat draai en geniet dit gate uit om in tannie Sharon se wasmasjien rondomtalie te ry.
Hy draai weer na Emily en vra: “Watse goeters?” Hy frons … Hy sal ook daarvan hou om ryk te wees, maar die idee om meer van sy oom uit te vind, is vir hom aanlokliker. Hy het Archibald nooit leer ken nie en tannie Sharon het ook nie baie oor hom te sê nie.
En nou ontpop Archibald as ’n geheimsinnige spooknavorser. Otto weet nie eintlik hoe hy daaroor voel nie.
“Ek het ’n bril ontdek.”
Emily trek ’n yslike groot bril uit die kissie. Dit het ontelbare skroefies en draadjies en lyk soos een van die lelike goeters wat Otto se oogkundige gebruik om sy oë te toets.
Op die raam is ’n klomp knoppies. Kan dit luidsprekers wees?
Otto ondersoek die lense wat so dik soos ’n vinger is. “Lyk my oom Archibald was so blind soos ’n mol.”
“Sit dit ’n bietjie op,” sê Emily en giggel.
Otto maak soos sy sê. Dit vat ’n rukkie voor sy oë aan die bril gewoond is, maar dan herken hy vir Emily wat voor hom staan.
“En toe? Wat sien jy?” wil Emily weet.
“Dis alles ’n bietjie uit fokus.” Otto trek sy oë op skrefies. “Maar andersins lyk dinge normaal.” Hy voel ’n bietjie teleurgesteld. Hy weet nie wat hy eintlik verwag het nie. Miskien dat die wêreld deur die bril pienk sou lyk, of dat alles omgekeer sou wees soos wanneer jy in ’n spieël kyk. Die ding is nie juis opwindend nie.
“Die bril pas jou glad nie,” is Molly se kommentaar.
Sir Tony het intussen ophou hoes. Otto draai om sodat hy met die spook kan praat. “Wat dink jy, Tony?”
“Whaaaaaa!” Soos blits spring Sir Tony tot op die boonste sport van die leer wat by die boekrak staan. Hy trek sy bene tot teen sy bors en begin bibber en beef. Hy staar na Otto asof hy in ’n harige monster verander het.
Otto loop ’n paar treë in sy rigting. “Wat gaan met jou aan, Tony? Jy skrik nie gewoonlik so maklik vir iets nie.”
Sir Tony probeer homself nog kleiner maak. Groot sweetdruppels rol teen sy voorkop af. “Moenie naby my kom met daardie … afskuwelike ding op jou neus nie!”
Otto probeer hard om nie te lag nie. “Lyk ek so sleg met ’n bril?”
“Haal dit af! Haal dit af!” skree Sir Tony en word nog bleker as wat hy al is.
Otto kyk verbaas na die gespanne spook. Tony kan partykeer ’n bietjie snaaks optree, maar hy het hom nog nooit só gesien nie. “Wat gaan aan met jou?”
“Ek w … weet … nie,” stotter Sir Tony van benoudheid. Hoe nader Otto aan hom kom, hoe kleiner probeer hy homself maak. Dit lyk behoorlik of hy met die boekrakke saamsmelt. “Ek dink net die bril is … is iets af … afgrysliks.”
“Ja, maar hoekom …”
Paff! Nog voordat Otto ’n woord verder kan sê, los Sir Tony in die lug op en verdwyn.
Al wat Otto nog hoor, is die spook se jammerlike gehuil. Hy klink amper soos ’n hond wat aan ’n ketting vasgemaak is.
“Ek het geen idee wat met hom aangaan nie.” Molly skud haar kop so hard dat haar vlegsels behoorlik bokspring. “Ek sal gaan kyk of hy oukei is.”
’n Oomblik later is Emily en Otto weer alleen.
Otto skud sy kop. “Dis baie vreemd.”
“Nie so vreemd soos die goed wat oom Archibald nog hier gebêre het nie.” Emily haal ’n klein glasflessie uit die kissie. Die fles is vol van ’n melkerige wit vloeistof. “Dit lyk soos jogurt.”
Sy skroef dadelik die deksel af en druk haar vinger in die vloeistof. Sy kyk na die wit massa en ruik daaraan.
“Vir die wetenskap,” sug sy en lek aan haar vinger.
“Moenie, Emily!” skree Otto hard. “Die goed is seker teen hierdie tyd al vrot.”
“Sies!” Emily spoeg dit uit en gee die botteltjie vir Otto. “Dit … dit proe nog slegter as vrot jogurt. Dit proe soos … sonbrandroom.”
Otto het nie die vaagste benul hoe sonbrandroom proe nie, maar dit kan beslis nie lekker wees nie.
“Laat ons bietjie sien …” Otto staan ’n tree terug en kyk na die kissie met sy vreemde inhoud. “Ons het hier ’n boekie met oom Archibald se geheimsinnige aantekeninge, wat ’n definitiewe bewys is dat hy met spookverskynsels doenig was.”
Emily knik. “En ’n vreemde bril wat beslis nie eens in Archibald se tyd modern was nie. En sonbrandroom.”
“Ja.” Otto krap bietjie kop. “Die prentjie maak nie sin nie.”
“Ag wat, ten minste het ek nou ’n fantastiese nuwe ding wat ek kan leen.” Emily gryp die bril en sit dit op. Haar oë, wat twee verskillende kleure is, lyk dubbeld so groot as gewoonlik. “Dis cool, nè?”
“Baie mooi.” Otto gee haar ’n speelse hou in die ribbes. “Jy gaan die ster van die skool wees met daai ding!”
“Jong, ek weet nie hoe jy daaroor voel nie, maar ek is nou lus vir regte jogurt,” sê Emily en klim met die leer op tot in Otto se kamer, “met aarbeie en vanielje.”
Otto sluit die valdeur van die geheime kamer toe, skuif sy bedmat daaroor en volg Emily kombuis toe.
“Tannie Sharon het altyd baie jogurt in die yskas. Dit wil sê as Bert nie al alles opgevreet het nie.”
Emily maak die yskasdeur oop. “Ag, as dit moet, sal ek ook tevrede wees met ’n gewone sjokoladepoeding; dit sal oukei wees …” Sy bly skielik stil en staar asof gehipnotiseerd in die yskas.
“Wat is dit?” Otto stap nader. “Is daar niks meer oor nie?”
“D … daar is,” mompel Emily en trek die bril reg. Sy klou aan die yskas se handvatsel asof sy bang is sy gaan val. “B … Bert is in die yskas. Hy sit presies tussen die broccoli en die houer met suurroom.”
Otto kan sy ore nie glo nie. Hy stoot Emily versigtig uit die pad uit en loer in die yskas. So wraggies! Bert sit tussen die broccoli en die suurroom en knibbel aan ’n blok sjokolade waarvan hy nie eens die foelie oopgeskeur het nie.
“Wil jy ook ’n blokkie hê?” Ewe vrygewig bied Bert die sjokolade vir Otto aan. “Ek sal maar liewer nie vir jou vriendin Emily vra nie. Lyk my sy gaan enige oomblik naar word.”