Читать книгу Harry Griesel 2: Die spookplaag - Sonja Kaiblinger - Страница 7

Оглавление

Spookmarteling!

“Dis onmoontlik! Het Sir Tony dit rêrig gesê?” Emily laat die swaar naslaanboek oor die Middeleeue, waardeur sy en Otto vir die geskiedenistaak moet wor­s­tel, op die vloer val. Die harde slag weerklink deur die hele biblioteek en almal se koppe draai in hulle rigting. Juffrou Pienaar, die bibliotekaresse, gee hulle ’n vuil kyk toe Emily die boek haastig optel.

Otto praat steeds saggies met haar. “Sir Tony is oortuig daarvan ons sit die pot heeltemal mis as ons dink Archibald was ’n liewe oom wat hom in sy vrye tyd met die bonatuurlike besig gehou het. Hy het die spooknavorsing baie ernstig opgeneem. Sir Tony sê hy was skoon behep daarmee. Dit was … vreemd.”

Emily skud haar kop. “Ek verstaan nie so mooi nie. Hoe … is die spooknavorsing gedoen?”


“Oom Archibald en sy assistent, Bernard, het eks­peri­mente gedoen. Ná ’n rukkie het hulle uitgevind dat aluminium ’n soort gif vir spoke is. Daarna het hulle probeer uitvind of dit in staat sou wees om spoke heeltemal …” Otto gee ’n groot sluk, “… op te los.”

“O, my goeie genade!” Emily sit ’n rukkie en dink oor alles. “Wag ’n bietjie … Het die twee miskien hulle eksperimente op Sir Tony gedoen?”

Otto knik sy kop ernstig. “Blykbaar het oom Archibald hom in ’n houer wat met aluminium uitgevoer was, ingelok.”

“ ’n Lokval.”

“Presies. Die deksel het toegeklap en toe sit Sir Tony daarin vas … weke lank.”

“Maar dis … marteling!” sê Emily kliphard van ontsteltenis en bly onmiddellik weer stil toe juffrou Pienaar dreigend naderkom. Met saamgeperste lippe loer sy oor Emily se skouer en lees die titel van die boek wat voor haar lê.

Otto sluk benoud en hoop sy het nie gehoor waaroor hy en Emily nou net gepraat het nie.

“Dis prysenswaardig dat jy so belangstel in die Middeleeue, Emily,” sê juffrou Pienaar snuifend. “Maar kan jy dit dalk ’n bietjie sagter doen?”

Otto en Emily knik al twee ewe berouvol kop en juffrou Pienaar gaan sit weer op haar plek voor die deur.

“Jy’s reg,” fluister Otto terwyl hy juffrou Pienaar in die oog hou, maar al waarin sy belangstel is die nuutste skindertydskrif. “Dis niks anders as spookmarteling nie. Dis erger as in die Middeleeue.”

“Wat het toe gebeur?” wil Emily weet.

“Toe hulle Sir Tony uiteindelik weer vrylaat, kon hulle geen veranderinge aan hom sien nie, in elk geval niks … um … fisiek nie,” gaan Otto met sy storie aan. “Sir Tony was bang en getraumatiseerd, maar andersins het dit gelyk of hy oukei is. Toe besluit die twee navor­sers om die eksperiment te herhaal.”

“Oe, nee!”

“Ja, totdat hulle dit kon regkry om spoke heeltemal te vernietig. Sir Tony was gelukkig dat oom Archibald se werk in Londen en die prystoekenning in Skotland hulle onderbreek het en die eksperiment uitgestel moes word. Jy weet wat toe gebeur het. Oom Archibald het nie weer teruggekom nie.”

Emily sug diep. “Nou wat het van sy assistent … daai Bernard-ou, geword?”

“Ek het g’n idee nie.” Otto haal sy skouers op. “Nadat Archibald uit die land padgegee het, het hy nie weer hiernatoe gekom nie. Miskien het hy ’n ander leermees­ter gaan soek. Sir Tony weet ook nie wat sy van is nie, so ek kon hom nie eens google nie.”

“Dis ’n verskriklike storie.” Emily sit die geskiedenisboek in haar skooltas. “Ek kan nie glo jou oom was so ’n … ’n …” sy soek na die woord, “… ’n agterbakse misbaksel nie. ’Skuus vir die uitdrukking.”

“Dis oukei.”

As Emily reg is, is sy reg. Otto spook al die hele oggend met dieselfde gedagte.

Tannie Sharon het nog nooit ’n slegte woord oor sy oom gesê nie. As sy die slag wel oor hom praat, wens Otto altyd hy kon hom leer ken het. Sy het hom as ’n opgeruimde en hard­werkende man beskryf, wie se gunste­lingtydverdryf was – dis nou buiten sy navorsing – om die geskiedenis van die villa te bestudeer.

Otto dink skielik aan iets.

Het oom Archibald die huis in Radysstraat nommer agt gekoop net omdat hy toe al vermoed het dit spook hier? Het hy dit doelbewus ge­doen? Weet tannie Sharon ook iets hiervan?

Otto wonder wat hy moet doen. Moet hy sy tannie vertel wat hy ontdek het? Maar hoe op aarde gaan hy dit aan haar verduidelik? Ag, tannie Sharon, luister, een van ons huisspoke het my vertel my oom was eintlik ’n mal spooknavorser wat selfs nie gehuiwer het om martelmetodes te gebruik nie. Het jy miskien toevallig iets daarvan geweet?

Tannie Sharon sal vir hom lag. Nee, nog erger, sy sal omgekrap wees omdat Otto so oor haar oorlede man praat. Hy moet aan ’n ander manier dink.

***


Die volgende dag is dit al Donderdag en Otto en Emily is nog niks nader aan ’n oplossing vir oom Archibald se storie nie. Sir Tony is nie lus om na Emily se vrae te luister nie.

“Vrae? Nog ’n verhoor? Nee dan­kie! Ek probeer baie hard om die hele storie te verwerk,” kla hy en verdwyn in die stofsuier nog voordat Emily die spookbril kan opsit. “As Emily nie toevallig die adres van ’n baie goeie spooksielkundige ken nie, het ek niks vir haar te sê nie.”

Otto probeer om op sy gewete te speel. “Sir Tony, moenie so onbeskof wees nie.”

“Ek is getraumatiseer, nie onbeskof nie,” klink Tony se stem dof uit die Stofbreker 3 000. “Daar is ’n groot ver­skil tussen die twee.”


Met ’n diep sug besluit Otto om nie verder oor alles te tob nie. Ongelukkig is daar nog ander lastige goed wat gedoen moet word, soos skoolgaan. Otto en Emily moet vandag ’n toespraak hou oor die boere-opstande ty­dens die Middeleeue. Dis nie juis ’n opwindende onderwerp nie, maar Emily kry dit tog reg om die ander kinders in die klas met die storie te boei. Sy lewer baie goeie toe­sprake. Selfs Stian luister aandagtig na haar.

Net meneer Lewis, die geskiedenis­onderwyser, is nie juis beïndruk nie.

Hy is bekend daarvoor dat hy ge­du­rende ’n toespraak allerhande moeilike vrae vra. Maar van­dag doen hy dit nie. In plaas daarvan gebeur daar iets heeltemal buitengewoons: meneer Lewis is ná vyf minute vas aan die slaap. In die middel van die toe­spraak val sy kop met ’n klapgeluid op die tafel se blad. Hy is baie verleë en verduidelik dat hy die afgelope ruk baie sleg slaap.

En toe, amper asof hy met homself praat, mompel hy iets wat Otto penorent laat sit. Meneer Lewis sê hy hoor snags stemme. Dit klink amper of dit by sy huis spook!

Intussen lui die skoolklok en die volgende periode het hulle wiskunde. Meneer Phillips het so pas vir Me­gan, die wiskunde-genie van die klas, uitgevang dat sy nie haar huiswerk gedoen het nie. Hy kyk streng deur sy ronde brilletjie na haar.

Megan sak al laer in haar stoel af. “Ek is vreeslik jammer, Meneer. Dit sal nie weer gebeur nie.”

“Ha-ha!” Vincent loer nuuskierig uit Otto se skooltas en giggel vermakerig. “Juffrou Oorgretig het vergeet om haar huiswerk te doen. Wie sou dit ooit kon raai?”

“Sjuut!” Otto stoot Vincent terug in die voorste sak van sy tas en maak die knip vas. Hy wonder self wat aangaan. Megan is gewoonlik net so pligsgetrou met haar huiswerk soos Emily.

Dit lyk ook nie of meneer Phillips Megan se versko­ning sommerso gaan aanvaar nie. “Vergeet?” Hy skud sy kop. “Dis nie hoe ek jou ken nie, Megan.”

“Toe, vertel hom,” moedig Anne, die meisie wat langs haar sit, vir Megan aan. “Hy sal verstaan.”

“Hy sal nie. Ek skaam my dood,” jak Megan haar af.

“Wat sal ek nie verstaan nie?” Meneer Phillips gaan staan hande op die heupe voor Megan en Anne.

“My bulhond, Murphy … gedra hom baie vreemd,” fluister Megan uiteindelik saggies.

“Bedoel jy die slobberige gedoente wat nou die dag my sokkerbal opgevreet het?” vra Stian, maar meneer Phillips gee hom ’n vuil kyk en hy bly onmiddellik stil.

“Gaan voort,” moedig die onderwyser Megan aan.

“Murphy is gewoonlik baie liefdevol. Hy is net partykeer ’n bietjie kwaai.”

“Net ’n bietjie?” lag Stian. “Is dit veronderstel om ’n grap te wees? Die posbode lewer julle pos al by die bure af. Comprende?”

“Maar gister het hy skoon mal geword,” sê Megan met ’n huilstemmetjie. “Eers het hy blaffend deur die hele huis gehol. Toe kyk hy stip na my lessenaar asof hy iets daar sien … of iemand.”

Sy kyk na meneer Phillips wat met geligte wenkbroue na haar gluur.

“En toe wys hy tande en spring op my wiskundeboek.” Megan is na aan trane. “Die handboek het dit oor­leef, maar Murphy se naels het my wiskunde-huis­werkboek se bladsye fyn en flenters geskeur. Ek is vreeslik jammer, meneer Phillips.”

Dis doodstil in die klas. Almal kyk na Megan wat ver­leë na haar wiskundeboek kyk.

“Dis die simpelste storie wat ek nog ooit gehoor het,” laat Stian proesend van hom hoor. “Megan, chica, niemand sal jou glo nie, claro?”


“Ek dink Stian is vir ’n verandering reg.” Vincent hang in die hoek tussen die onderkant en die poot van die lessenaar en hou sy wollerige maag vas soos hy lag. “Me­gan se brak het haar huiswerk op sy gewete. Ha-ha! Dit moet die oudste verskoning onder die son wees. Ek sou dink die klein voor-op-die-wa-juffrou­tjie het ’n bie­tjie meer verbeelding as dit.”

“Bly stil, Vincent,” sê Emily verontwaardig. “Ek dink nie Megan jok nie.”

Otto dink ook nie Megan jok nie. Dit klink amper of Murphy ’n spook gesien en gejaag het.

Is dit moontlik?

“Dink jy ook wat ek dink?” fluister Otto in Emily se oor.

Emily haal haar skouers op. “Presies. Van wanneer af kan Stian skielik Spaans praat? Gewoonlik praat hy nie eens sy eie taal behoorlik nie.”

Otto kan nie help om te giggel nie, maar dan word hy skielik weer ernstig. “Nee, ek bedoel die storie met Megan se hond. Dit lyk of daar …”

“… ’n spook in haar huis is,” maak Emily sy sin vir hom klaar.

“Presies,” sê Otto ingedagte. Eers het dit by meneer Lewis gespook en nou ook by Megan. Dit kan nie toevallig wees nie! Weet Harry van al die nuwe spookaktiwiteite in sy gebied? Otto moet hom so vinnig as moontlik gaan vra.


Harry Griesel 2: Die spookplaag

Подняться наверх