Читать книгу Harry Griesel 2: Die spookplaag - Sonja Kaiblinger - Страница 6

Die spookbril

Оглавление

Bert sweef by die yskas uit en stel hom met ’n diep buiging aan Emily voor. “Aangename kennis, juffrou Emily. Dis wonderlik om mekaar uiteindelik van aangesig tot aangesig te sien. My naam is Albert Gustav Smith, voormalige sjef van Sir Tony,” verduidelik hy hoflik. “Deesdae is ek die oppasser van hierdie yskas. Ek pas die voorraad op. Dis nie ’n slegte werk nie.” Hy vee ’n paar sjokoladestukkies van sy hemp af en glimlag.

Pas die voorraad op! Ek sou eerder sê: vreet dit op, dink Otto en kyk na sy beste vriendin, wat ’n bietjie be­sluiteloos teen die kombuiskas leun en deur die dik lense na die spook kyk. Emily is nog tjoepstil, maar sy is ten minste nie meer so bleek om die kiewe nie.

Dit was nog altyd haar grootste droom om met spoke te kan praat. Paranormale verskynsels fassineer haar on­eindig en sy het Otto nog altyd sy buitengewone gawe beny.

Wie sou kon dink dat oom Archibald se bril meer kan doen as net lelik lyk. Baie meer – dit kan spoke sigbaar en hoorbaar maak!

“My … my naam is Emily,” antwoord sy verleë.

“Ek weet, ja, ek ken jou lankal.” Bert se oë vonkel ondeund. “Ek kon jou al voorheen sien.”

“Dis nogal waar.” Emily gaan sit stadig op die kombuisstoeltjie en vryf haar slape. “Ekskuus, Bert, dinge vang my ’n bietjie onkant.”

“Ek verstaan.” Bert gryp onderlangs ’n paar druiwekorrels uit die yskas. “ ’n Mens ontmoet nie aldag spoke nie. Dis nogal eienaardig dat jy my skielik kan sien! Is dit dalk daardie aaklige bril se skuld?”

Emily haal die bril versigtig af en knip haar oë. “Ja.” Sy knik haar kop. “Sonder die bril kan ek net die oop yskas en um … vlieënde druiwekorrels sien.” Sy sit die bril weer op. “Met die bril sien ek jou baie duidelik.”

Otto loop diep ingedagte heen en weer voor die yskas. “Dié ding moes aan oom Archibald behoort het. Dit lyk of hy met spooknavorsing besig was. Hy het die bril seker self ontwerp.”

“Bert, jy het oom Archibald geken.” Dit lyk of Emily uiteindelik tot verhaal kom en doen wat sy die beste doen: om raaisels op te los deur die regte vrae te vra. “Het jy iets buitengewoons agtergekom terwyl hy hier gebly het?”

“Nee.” Bert skud sy kop. “Toe Archibald en Sharon hier ingetrek het, was Molly, Tony en ek al dood. Op dié manier kon ons die twee nuwe eienaars van die villa goed dophou. Maar Archibald het nie baie in die kombuis gekom nie. As ek reg onthou, het ek hom amper nooit gesien nie. Otto se kamer was destyds sy kantoor en hy was gedurig daar besig. Hy en sy assistent het partykeer dae lank daarin weggekruip.”

“Assistent?” Emily spits haar ore.

“Ja, so ’n lang, nors ou met die naam Bernard.”

“Het hulle eksperimente in die kamer gedoen?” wil Otto weet.

“Dis moontlik.” Bert glip terug in die yskas en druk sy lyf tussen die melksakkies in. “Hoekom wil julle al die goed weet? Hoekom vra julle nie net vir Sir Tony nie? Hy snuffel mos orals rond om seker te maak ‘dat alles reg verloop’ soos hy altyd sê. Ek is seker hy sal meer oor Archibald weet as ek.”

Otto skud sy kop. “Ek dink nie ons moet nie. Toe ek netnou die bril opgesit het, het Sir Tony skoon mal geword.”

Bert rol sy oë. “Asof dit iets nuuts is.”

“Nee.” Otto skud sy kop. “Hierdie keer was anders. Hy het soos ’n maer vark geskree, na die sitkamer se hoek gevlug en die volgende oomblik het hy sommer net in die lug opgelos. Dit het gelyk of … of hy getraumatiseer is.”

“Ek moet erken, dit klink nie soos hy nie.” Bert lig sy wenkbroue vraend. “Waar is hy nou?”

“Ek het g’n idee nie.”

“Maar ek weet.” Vincent duik agter Otto en Emily op en fladder al in die rond­te bokant die eettafel. Hy is hoogs ontsteld. “Hy kruip in die kaggel weg, bibber en beef soos ’n riet en praat ’n klomp nonsens. Julle

beter hom daar uithaal as julle nie wil hê Vader Krismis moet oor vier weke dadelik weghol nie.” Hy skud sy kop. “Ek het my hart al klaar op die nuwe, taai vlieëvanger ge­sit wat hulle op die tele-inkopie­kanaal adverteer.”



Emily kyk om. “Kruip hy in die skoorsteen weg? Dis vrek ongemaklik!”

“Tja, ek sê mos die ou toppie is getik.” Vincent gee ’n stout laggie. “Terloops, daai sterk bril, Emily … ek wil nou nie snaaks wees nie, maar jy lyk al mal genoeg sonder die ding.”

“Hou jou bek, Vincent!” knor Otto vererg.

“Wat’s dit nou? Dis die waarheid.”

Met sy kop effens skuins gedraai kyk Vincent na Emily. “Hoekom sit jy die ding op? Is jou oë só swak?”

“Nee.” Otto vou sy arms. “Emily kan spoke met die bril sien. Dis iets wat oom Archibald ontwerp het.”

Vincent se bek hang behoorlik oop. “Jy maak seker ’n grap.”

“Nee, dis waar,” antwoord Emily.

“So njannies?” Vincent gaan sit op Emily se skouer en vat aan die brilraam. “Dis vir jou ’n ding. ’n Regte spookbril? Dit sal maklik duisende op die internet haal, dink julle nie ook so nie?” Sy klein ogies rek soos pierings. “Kan ek dit dalk ’n bietjie leen? Net vir … vir ’n klein rukkie?”

“Oor my dooie liggaam.” Otto stoot Vincent van Emi­ly se skouer af en die vlermuis gaan sit skel-skel op die gordynreling. “Ons moet aan ’n plan dink om Sir Tony uit die kaggel te kry. Ek wed julle hy weet meer oor oom Archibald se navorsing. Miskien kan hy ons ook vertel waarvoor hierdie vreemde sonroom gebruik word.”

Otto is skoon senuweeagtig van pure nuuskierigheid. Hy het ’n duisend vrae oor die goed wat hulle in die aardbol gekry het. Oom Archibald sou beslis die Nobel­prys gewen het vir ’n bril waarmee ’n mens spoke kan sien. Sy uitvindsel sou ’n revolusie in die wetenskaplike wêreld veroorsaak het. Hoekom het hy dit ’n geheim gehou? Otto sug. Dis jammer oom Archibald is al amper vyf­tien jaar gelede oorlede en dat hy hom nie kan vra nie. Tannie Sharon het gesê Archibald moes destyds Skot­land toe gaan om ’n prys te ontvang vir sy groot pres­tasies en sy werk in die farmaseutiese bedryf. Hy het daardie tyd nog vir ’n paar maande in Londen gewerk. Dit was winter en tannie Sharon het hom aange­raai om liewer nie met die motor soontoe te ry nie, sy was bekommerd oor die gladde yspaaie. Maar oom Archi­bald wou niks hoor nie.

Hulle het sy verfrommelde motor aan die voet van ’n steil krans gekry. Oom Archibald moes van die pad gegly en oor die afgrond gery het. Daar was egter nie ’n spoor van oom Archibald nie.

Tannie Sharon wou vir ’n lang tyd nie glo haar man is dood nie. Maar hoe langer hy weg was, hoe skraler het haar hoop geword om hom weer te sien. Sy het uiteindelik ’n grafsteen ter nagedagtenis aan hom in die kerkhof laat oprig. Sy praat omtrent nooit oor Archibald nie, maar partykeer sien Otto dat sy na die foto in die sitkamer kyk en baie hartseer raak. Arme tannie Sharon. Die onsekerheid moet verskriklik wees.

Otto sit en tob oor alles. Dis eienaardig dat daar so baie geheimsinnige sterfgevalle in sy familie is. Otto se ouers het twee jaar gelede tydens argeologiese uitgra­wings in Mexiko verongeluk. Dis in elk geval wat in die koerante gestaan het. Hulle lyke is nooit gevind nie. En dan is daar nog die kwessie van Otto se paranormale gawe. Hoekom het juis hý hierdie vreemde gawe?

Otto het soveel vrae, hy weet nie meer hoe het hy dit nie. Hy hoop Sir Tony kan hom ten minste met sy vrae oor oom Archibald help. Maar daarvoor moet hy die spook eers uit die skoorsteen lok.

***

Ongelukkig werk dinge nie uit soos Otto dit wil hê nie. Sir Tony bly sit in die skoorsteen en weier volstrek om uit te kom. Hy is ook nie bereid om met hulle oor die bril te praat nie. Hulle kry net so hier en daar ’n enkele woord as antwoord en kry niks verder uit hom uit nie. Dis ’n uitputtende besigheid.

“Dit moet iets ergs wees as Sir Tony botweg weier om met ons daaroor te praat,” dink Emily hardop. “Dis nou jammer. Ek sou hom baie graag persoonlik wou leer ken.”


“Jy kan eintlik bly wees. Hy is vet, dink baie van hom­self en is beterweterig,” sê Vincent. “As hy agterkom dat jy hom nou kan sien en hoor, gaan hy net op jou senuwees werk.”

“Ek voel jammer vir Sir Tony,” sê Otto. “Al is hy partykeer ’n bietjie … moeilik.” Hy sug. “As hy net met ons wil praat!”

Sir Tony kruip die hele middag weg. ’n Rukkie later lui die telefoon en Emily se ma laat weet dis amper tyd vir aandete. Nadat Otto saam met sy vriendin tot by die voordeur gestap het, gaan hy terug kamer toe. Hy gaan sit op sy gunstelingplek op die vensterbank en blaai in­gedagte in oom Archibald se boek rond.

Hy hoor tannie Sharon hard aan die werk in die kom­buis.

“Ek kan nie kop of stert uitmaak van al die goed in hier­die boek nie,” sê Otto vir Vincent, wat in ’n oop laai op Otto se dik trui sit en slaap. “Daar’s ’n paar bladsye weg. Party van die bladsye is so vol inkkolle en koffie­vlekke dat ’n mens dit skaars kan lees. Om nie te praat van die handskrif nie. Dit is ’n onleesbare, bewerige ge­mors. Dit lyk amper of iemand anders dit geskryf het.”


“H’m.” Vincent gaap en rek hom uit. “Kon jy intussen uitvind wat die storie met die sonmelk is?”

Otto skud sy kop. Emily het probeer uitvind deur haar gesig daarmee te smeer en in die son te gaan staan.

Maar sy het nie deurskynend geword nie, ook nie begin glinster of vreemd begin gloei nie.

Vincent snuif neerhalend. “Het die goed haar ten minste teen sonbrand beskerm?”

“Ek weet nie. Dis die middel van die winter.”

Otto ruik iets baie lekkers. Tannie Sharon is besig om heerlike pampoensop te kook.

Sy maag grom onmiddellik, hy het nie eens agtergekom hoe honger hy is nie.

Hy sit die boek eenkant neer en besluit om die getob daaroor vir eers te los. Hy vorder in elk geval nie.

Onder in die sitkamer staan tannie Sharon op haar knieë voor die kaggel; sy kyk aandagtig in die skoorsteen op. Otto gaan staan botstil en wonder … Kan tannie Sharon ook skielik spoke sien?

Sy het in elk geval nie die bril op nie. Otto het dit intussen onder sy matras weggesteek.

“Wat ’n gemors!” raas tannie Sharon en kyk op na Otto; haar wange is vol roet en as. “Ek dink een of ander gedierte het hier in die skoorsteen kom nesskop. Mis­kien is dit ’n vlermuis.”

“Vlermuis? Miskien ’n wyfietjie?” sis Vincent hoop­vol uit Otto se hempsak.

“Sjuut.”

“Of dalk ’n duif,” raai tannie Sharon en haal haar skouers op.

“Presies!” giggel Vincent. “ ’n Vet duif met ’n halwe bleskop en allergiese asma.”

“Het jy iets gesê, Otto?” Tannie Sharon vee die sweet van haar voorkop af.

Otto maak keelskoon.

“Ek wou weet … um … wat jou so laat dink, tannie Sharon? Het jy dalk iets gehoor?”

Sy kyk na haar vuil vingers. “Hier val konstant klein klippies af. En die stof is iets verskrikliks. Ek is seker daar is iets bo in die skoorsteen.”

“Miskien um … moet ons maar die skoorsteenveër laat kom,” stel Otto voor.

“Ek het ’n beter idee.” Tannie Sharon steek ’n vuur­hou­tjie aan en gooi dit op die hoop hout. Die hout vat dadelik vlam. “ ’n Bietjie rook behoort die vabond op sy plek te sit.”

O, gonna! Otto kyk benoud na die vlamme en die grys rookwolke wat in die skoorsteen opstyg. Hy kan niks doen nie, want dan sal tannie Sharon lont ruik.

“Ha … ha … tiesjoe!” weerklink dit feitlik onmiddellik van bo af. “Wat de ongeluk … . is julle mal? Kan ’n mens nêrens in hierdie plek rus vir jou siel kry nie? Die stofsuier word aanhoudend gebruik en mens kan nie eens in die skoorsteen tot rus kom nie …” Sir Tony se geskel word deur ’n hoesbui onderbreek. “Die plek is erger as ’n rookkamer. Ek is nie ’n stuk ham nie!”


Tannie Sharon vee haar hande aan ’n vadoek af. “Dit behoort die ding te doen. Die sop is in elk geval ook amper reg. Otto, sal jy asseblief die tafel gaan dek? Otto? Waar is jou ore?”

“Um, ja, natuurlik sal ek.” Otto probeer sy bes om ongeërg te lyk.

“Dis nou genoeg. Genoeeeeg!” skree Sir Tony hard. “Dis nie meer snaaks nie. My agterstewe is aan die brand!”

Toe tannie Sharon in die kombuis verdwyn, gryp Otto ’n nat lap, hol kaggel toe en gooi dit op die gloei­ende kole. Dit stink verskriklik en die rook trek sulke bolle die lug in, maar uiteindelik is die vuur geblus. En só kom tannie Sharon se beheptheid met skoonmaak tot die redding.

“Die vuur is dood,” sis Otto in die skoorsteen op. “Jy moet nou dadelik uitkom, Tony!”

“Nee!”

“Toe, kom nou. Jy is hopeloos te fyngevoelig.”

“Het jy nog die bril op?”

“Nee, toe, maak gou. Dis deksels koud buite en ek kan nie vir tannie Sharon keer as sy weer die vuur wil aan­steek nie.”

“Nou goed, nou goed, ek gee oor.” Sir Tony is heel­temal oortrek van die roet en hoes amper sy longe uit. Sy gewone deurskynende kleur het in ’n lelike rokerige grys verander. “Jy wen.”

“Reg,” sê Otto tevrede. “En nou gaan jy my vertel wat jou storie met die bril is.”

“Oukei,” kom dit roggelend van Sir Tony se kant af. “Ná aandete in die kamer. Maar dis ’n taamlik lang, grieselrige storie.”

Harry Griesel 2: Die spookplaag

Подняться наверх