Читать книгу Chirurg van harte - Susan Pienaar - Страница 5
3
ОглавлениеHugo stap die volgende Maandag op die grondverdieping af in die gang na die radiokamer toe. Dit voel vir hom langer as die week wat hy amptelik by Avianto begin werk het.
Hy steek in sy spore op die drempel vas.
Wat de hel? Hy voel hoe sy bloeddruk styg. Rikus Maree se hand rus op die leuning van Natasja se stoel terwyl hy ’n paar sentimeters van haar af staan.
Sy konsentreer op die skerm, duidelik onbewus van die vent se nabyheid.
Hugo bly staan buite Natasja se gesigsveld terwyl sy op die skerm beduie.
“Dis wat ons noem die S1- en S2-klanke wat ons hoor. Hier kan jy sien die baba se hartklep maak nie heeltemal oop nie. Dit is die geruis wat jy tussen die hartklanke deur hoor. Die hart moet nou soveel harder werk om die bloed deur daai klein gaatjie te kry.”
Hugo trap rond van irritasie. Rikus is ’n verdomde kliniese assistent, in sy derde jaar in pediatrie, en hy behoort mos darem te weet wat op die skerm vertoon word. Hier staan hy waaragtig nog nader aan Natasja, als sodat hy kastig beter kan sien.
Langs sy sye klem Hugo se hande saam in vuiste. Hy weet vervlaks nie wat aangaan nie. Van die oomblik af dat hy Natasja die eerste keer gesien het, is hy ’n malende mengelmoes van onredelike en vreemde emosies. Is dit jaloesie wat hy voel? As dit is, is dit die eerste keer in sy lewe wat hy die geel baadjie dra. Hy haat die gevoel.
Laasnag het hy aan planne gedink oor hoe om Natasja buite die hospitaal te siene te kry. Maar hy klim ’n verkeerde boom, want na haar huis toe kan hy nie sonder uitnodiging gaan nie, en hulle werkskedules is van so ’n aard dat hy haar eenvoudig nie maklik by die hospitaal te siene kry nie.
Hoewel hy haar die afgelope paar dae en vanoggend redelik sagkens op hul rondtes behandel het, bly haar oë koel wanneer sy na hom kyk. Haar antwoorde is altyd perfek en haar aantekeninge oor die pasiënte netjies.
Natasja sug: “Siestog, die outjie moet so gou moontlik geopereer word. Die chirurg kan die klep wat nie mooi oopmaak nie, fisiek met ’n ballonnetjie oopskeur deur dit op te blaas sodat die klep groter oopgaan. Dit hang van die chirurg af. Hy sal ’n ander prosedure kies as die ballonnetjie nie werk nie.”
Hugo luister in stilte. Hoe de hel weet sy al dié dinge? Tot nou toe was en is sy steeds algemene chirurg. Nietemin stoot bewondering in hom op: Sy’s dêm begaaf. Haar empatie met die pasiënte raak aan sy hart en laat hom met verwondering in ’n beroep wat vir die meeste personeellede maar net nog ’n werk en geldmaakgeleentheid geraak het. Sy spandeer natuurlik elke oomblik wat sy nie uitgaan nie om nuwe tegnieke op te swot. Hy hou van die idee dat sy nie date nie, maar hy sal graag wil weet of die Kaapse man ’n imaginary vriend is, of een van vlees en bloed.
Neels Naude kom vanaf ’n ander kamer die vertrek binne met twee groot koeverte en gee hulle vir Hugo. “Dit is die X-strale van meneer Rossouw en die Steyn-pasiënt wat jy gevra het.”
“Dankie.” Hugo bly staan.
Natasja kyk oor haar skouer na hom en knik ’n groet. Sy glimlag vir Neels en staan op: “Ons is nou net klaar.”
Hugo hou haar oë vas met syne. “Ek opereer vanmiddag tweeuur op die Steyn-baba se hartklep. Teater agt is klaar vir twaalfuur bespreek. Gaan jy en Rikus en van die ander saam skrop?” Teater agt is groot, sal vreemd wees as hy van die ander dokters en kliniese assistente nie ook nooi nie.
“O? Ons het nou net na die X-strale gekyk.” Natasja huiwer, glimlag en knik: “Dankie, dokter, as niks voorval nie, sal ek daar wees.”
’n Glimlag breek oor Rikus se gesig. “Ek sal dit vir niks wil misloop nie. Dankie, dokter Massyn.”
Hugo rig sy oë heeltyd op Natasja om soveel moontlik van haar in te neem. Neels en Rikus stap verby deur toe en uit, en Hugo staan aspris ’n tree vorentoe sodat sy met so min spasie moontlik verby hom sal moet loop. Natasja skuur versigtig by hom verby. Magtig, sy ruik lekker, soos aarbeie en heuning. Haar vel is fyn en wit asof sy nooit son kry nie. Ragfyn, ligblonde haartjies hang onskuldig teen die agterkant van haar slanke nek af. Hy sou wát wou gee om sy lippe teen haar nek te kan druk – haar geur diep in te asem.
Hel, sy doen helder oordag dinge aan hom. Hy kyk haar agterna terwyl sy doelgerig wegstap.
Natasja haal ’n slag diep asem toe sy uit die radiokamer kom en hyser toe stap. Dokter Massyn straal ’n vreemde energie … ’n soort seksualiteit na haar toe uit. Die hemel help haar, want haar verraderlike en slinkse liggaam reageer vanself met ’n fisieke reaksie wat haar denke oorheers en haar asemloos laat.
Sy oë het ooglopend verdonker van kleur toe sy opgekyk het voor sy verby hom geskuur het. Dit was nie haar verbeelding dat hy haar daar binne gestaan en bekyk het nie. Sy kon sy oë op haar voel brand en voel gevlei deur die dokter se aandag, maar nogtans kon sy nie gou genoeg daar uit vlug nie.
Tog vreemd dat sy nie destyds, toe sy en Paul die keer seks gehad het, enigsins intense gevoelens van attraksie ervaar het nie. Sy was agterna bitter spyt dat sy haar sommer so aan Paul oorgegee het, maar daar in die oorloggebied was sy kwesbaar. Sy het gehuil oor inwoners se wrede dood en Paul het haar getroos, en op die ou end het sy maar net toegelaat dat hy haar neerlê en oor haar lyf begin streel. Sy het liggaamlike kontak nodig gehad, soos iemand wat lank deur die son verskroei en verwaarloos is en na water gedors het. Maar wát ’n eye-opener was dit nie! Die gedoente was gou oor en sy het net mooi niks gevoel nie, net die seerkry in die begin.
Sy kon nie verstaan wat ander vroue tydens seks ervaar nie. Haar onverskilligheid was dan ook die rede dat sy Paul die volgende keer weggestoot het toe hy toenadering gesoek het. Hy het haar verseker hy is lief vir haar, terwyl sy net vriendskap vir hom gevoel het.
Hugo Massyn het haar netnou soos ’n begeerlike vrou laat voel, en dít net deur sy smeulende blik. Daar is ander ouens ook wat haar aanstaar, maar hulle laat haar koud.
Sy haal diep asem: Hugo Massyn is dinamies en hartbrekend aantreklik. Geen wonder hy maak sluimerende gevoelens in haar wakker nie.
Ag, laat sy die getob nou los.
Sy is opgewonde om by te staan terwyl dokter Massyn opereer. Watter prosedure sou hy gekies het?
Natasja voel eufories toe sy teater agt verlaat. Dit was nou rêrig ’n ondervinding wat sy in geen omstandighede sou wou misgeloop het nie. Die sianotiese baba se hartklep was te sleg ontwikkel, toe doen dokter Massyn sleutelgat-chirurgie en sny die klep fisiek met ’n skalpel oop.
Hy was eenvoudig fantasties!
Sy het als op beeldskerm dopgehou, en die prosedure is in haar brein ingegraveer. Sy het gehou van die sagte en rustige musiek wat in die agtergrond gespeel het terwyl hy kalm en onverstoord aan die baba se hartjie gewerk het.
Sy byt op haar onderlip. Dit is seker net bakvissies wat ’n soort van verliefdheid ervaar omdat ’n dokter briljant is, maar sy kon net nie anders nie. Kort-kort het sy na dokter Massyn se gesig bokant die masker geloer en na sy digte, donker wimpers en wenkbroue gekyk, en sy mooi voorkop en hande bewonder terwyl hy deur die mikroskoop kyk en sekuur te werk gaan.
Sy sug.
Ag nee magtig, Natasja, is jy nou besimpeld? Jy het nie tyd om oor ’n man te staan en droom nie. Soggens op sy rondtes saam met die span behandel dokter Massyn haar nou wel beter as daardie eerste Woensdag, maar nogtans.
Vergeet van die man. Sy moet sorg dat sy buite sy spasie bly en konsentreer om haar uiterste bes te doen.
Natasja kyk op haar horlosie. Sy het darem nog tyd om gou koffie by die kafeteria te gaan haal voor sy met die galblaas-chirurgie begin.
Die hysbakdeur gly oop en sy wil-wil terugdeins. Sy wil nie alleen saam met dokter Hugo Massyn in ’n leë hysbak wees nie. Nee, liewer maar ingaan. Hy moenie dink sy is sku vir hom nie. Sy kyk asof geïnteresseerd na die nommers bo die deur, maar bly bewus van sy oë op haar.
Waar sou hy die afgelope week en naweek gewees het? Dalk het hy chirurgie by ander hospitale gaan doen? Klas gaan gee? Sy en die ander spanlede is net meegedeel dat daar dié week nie oggendrondtes sal wees nie.
Hugo gee ’n tree in haar rigting. “Hoe gaan dit deesdae met jou oupa?”
Nóú vra hy eers?
“Goed, dankie. Hy is dieselfde aand terug na die versorgingsoord waar hy die afgelope twee jaar al versorg word.”
Hy sug hardop. “Ek wou jou lankal om verskoning gevra het vir my harde woorde daardie aand, maar ons is nou vir die eerste keer eers regtig alleen.”
“Verskoning is onnodig. My oupa het by die deur uitgeglip toe ’n verpleegster haar rug gedraai het.”
Hy staan nog nader, sit dan ’n hand teen die reling langs haar by die spieël. “Nogtans, dit was ongevraag en onregverdig teenoor jou. Vergewe my?”
Hy vra so mooi.
Sy knik. “Dit was mos al weke gelede. Ons vergeet daarvan. Dokter het my oupa darem opgelaai. Ek sidder as ek daaraan dink dat hy kon verdwaal en oornag iewers in die reën gesit het. So ja, ek’s oneindig dankbaar.”
’n Sagte lig kruip in sy oë: “Ek wil jou lankal gevra het. Kan ons vriende wees? Dalk iewers ontmoet en gesels?”
Sy kan Massyn se verleidelike energie aanvoel, dit trek haar in, maar sy keer met al haar mag en skud haar kop: “Vriendskappe is teen die hospitaal se reëls.”
Hy lag geamuseerd sodat sy egalige tande wit skitter asof deur ’n tandarts gepoleer of gebleik. “Wat? Jy speel seker. Om vriende te wees, is teen die reëls?”
Sy knik ernstig en jok: “Dit is.”
“Jy’s verkeerd, dokter. Ernstige verhoudings word nie aangemoedig nie omdat dit teen ons werk kan indruis. Maar vriendskap is oukei. Daar is dokters en verpleegsters wat mekaar by uithangplekke ontmoet en dan saam kuier. As vriende kan ons mos drinkgoed bestel en in een van die sitkamers gesels en mekaar effens beter leer ken. Of hoe?”
Sy skud haar kop. “En dan word ons saam gesien en bespiegel die hele hospitaal of daar iets tussen ons aan die gang is? Nee, dankie.”
“Goed, Natasja, ek verstaan jou dilemma. Gee jy om as ek jou Natasja noem wanneer ons alleen is?”
Sy ruik ’n sweempie muskus en amber, en dit voel asof sy manlike hitte gerusstellend en warm om haar hart vou. Dit roer halfvergete gevoelens diep in haar. Hoe gesus sy gevoel het wanneer Paul haar soms, ná dae lange skofte met min rus, liggies vasgehou het, of wanneer daar in die DRK aaklige dinge met kinders en pasiënte of personeellede gebeur het.
Hugo Massyn straal seksualiteit uit, hy wil meer as vriendskap hê. Sy weet instinktief hy gaan nie lank met vriendskap tevrede wees nie; sy sou blind en doof en halfdood moes gewees het as sy dit nié besef het nie. Sy smag soms na aanraking, maar moet onthou ’n verhouding met ’n kollega werk nooit uit nie. Sy het mos gesien hoe skei van haar eertydse vriende omdat hul beroep hul energie tap en daar geen tyd vir mekaar oor is nie.
Natasja probeer wegstaan, maar slaag nie daarin nie. “Noem my wat dokter wil, ek gee regtig nie om nie. Maar ek noem jou dokter Massyn voor die ander personeellede, en ook wanneer ons miskien weer alleen is.”
’n Selfversekerde glimlag lig sy mondhoeke. “O, moenie daaraan twyfel nie, Natasja. Ons sal beslis weer alleen wees,” sê hy met ’n stoute glimlag.
Natasja kry hoendervel. Hemel, die man is onweerstaanbaar aantreklik wanneer hy die sjarme so oopdraai. “Droom voort, dokter Massyn.”
Hy leun nader: “Hoekom is jy bang om vriende met my te wees, mm? Ek’s ’n doodgewone ou wat nie ’n vlieg skade sal aandoen nie.” Sy stem is liefkosend sag, sy asem skoon teen haar wang en die vibrasie van sy liggaam stuur ongewone skokgolfies deur haar.
“Hoe … u-hm, waar sien jy … kom jy daaraan?” Hy dring haar spasie binne, haar asemhaling raak vlak en sy sukkel skielik om woorde te formuleer.
“Ek sien ’n soort versigtigheid in jou oë.”
Sy vou haar arms beskermend voor haar. “Ek is nie bang nie. Ek het net eenvoudig nie tyd om nuwe vriendskappe te sluit nie; daarvoor is ek te besig. My beroep kom eerste. Daar is nog te veel wat ek wil bereik, en die dae vlieg.”
“My werk is ook vir my belangrik, maar mens kan nie net swoeg nie. Wat doen jy op jou afdae?”
Sy antwoord dadelik: “Ek slaap, eet en bad, gaan vir my oupa kuier en slaap weer. Is dit nie ook maar wat jy doen wanneer jy vry is nie?” Sy wou eintlik sarkasties geklink het, maar om een of ander rede is sy maar net eerlik. Sy kyk op na die verdiepingnommers.
Iemand moet die hysbakdeur iewers oophou, want die gewoonlik flikkerende nommers staan steeds stil.
Hy skud sy kop liggies: “Dit is mos nie leef nie, Natasja. Daar is ’n wêreld wat geniet en verken moet word. Komaan, gaan een keer saam met my uit en ontspan ’n bietjie. Ons kan ’n opvoering gaan bywoon, of iets heeltemal anders doen. Jy kan die voorstel maak.”
“Ek date nie, dokter Massyn. Daar is nie plek in my besige lewe vir ’n man nie.” Sy moet by haar besluit hou, al is dit ook hóé moeilik. Die man is charismaties, verwoestend aantreklik en als, maar sy wil nie muisneste in haar kop ronddra terwyl sy spesialiseer nie. Veral omdat hy haar leermeester is.
Hy maak sy oë toe, en sy kyk vir hom terwyl hy praat: “Dink aan ’n soel aand op ’n boot op see met gekleurde ligte wat op die water kaats. Kelners wat ons met die heerlikste eetgoed bedien, sagte musiek in die agtergrond.”
Hy maak sy oë oop, en sy kyk gou weg.
Sy kon sowaar die idilliese toneel, wat hy met sy tong geskilder het, in haar verbeelding sien, maar sy lig haar wenkbroue vir hom. “Dokter het maar so pas ’n paar weke gelede in die hospitaal begin werk, so wanneer dink jy gaan jy kan wegkom?”
Hy dink ’n oomblik na: “Ek sal wel ’n plan maak, as jy natuurlik sal saamkom.”
Hy is sowaar ernstig! “Nee, ek … u-hm, weet nie.”
“Sal jy oor my voorstel nadink, Natasja?”
Ag tog, hy gaan aan haar torring tot sy toegee, en die vet weet sy wil saam met hom op daardie boot uitgaan en rus, maar sy durf nie regtig nie. Sy voel die aantrekkingskrag, wil toegee. Dit is gevaarlike gedagtes waarmee sy besig is. Hugo Massyn is duidelik welgesteld en gewoond daaraan om te kry wat hy wil hê. Dit is nie net sy duur naskeermiddel en ontwerpersklere, die gespierde liggaam en sy aantreklikheid wat hom onweerstaanbaar maak nie, dis ook iets ondefinieerbaar in sy houding. Die selfversekerdheid, gesag en rustigheid maak hom ongelooflik manlik en sterk van karakter in haar oë.
Sy oë gly oor haar gesig, haak begerig vas by haar mond.
O néé, hy moet haar tog nie probeer soen nie. Haar gevoelens is deurmekaar geskommel, wie weet of sy hom sal kan weerstaan? Ligloop, Natasja, mans wil oor die algemeen hê wat hulle nie kan kry nie, maar as so iemand met jou klaar is, spoeg hy jou soos ’n vis op droë grond uit.
“Mag ek?” vra hy en lig terselfdertyd ’n lok hare wat uit haar rekkie geglip het op en vryf dit tussen sy vingers. “Mm, sag soos sy.” Hy bring die string in ’n handpalm na sy neus toe, asem diep en met toe oë in, en glimlag. “Nes ek gedink het. Ruik na sonlig en sjampoe.”
Goeie genade, die man is besig om haar te verlei en die hyser wat weer beweeg, gaan enige oomblik tot stilstand kom. “Hou op,” sis sy en druk teen sy bors, maar hy vou sy hande oor hare. Sy kan sy hartklop onder haar palms voel voor sy hulle onder syne wegtrek.
Hy staan ’n tree terug. “Ek los jou, maar ek dink aangesien ons aansienlik meer in die toekoms gaan saamwerk, behoort ons mekaar ná werk iewers te ontmoet om te gesels en mekaar beter te leer ken. Wat sê jy?”
Sy skud haar kop. “Nie vanaand nie. Ek gaan vir my oupa kuier.” Sy is verlig toe die deur op die onderste verdieping, waar die teaters is, oopskuif.
Hugo stap agter haar uit die hyser, en ’n radioloog, ’n ander dokter en een van sy kliniese assistente sluit by hom aan.
Dankie tóg, nou kan sy weer asemhaal.
Sy kyk op haar horlosie en haas haar na teater drie toe, trek gou teaterdrag aan en begin skrop. Sy het op ’n laparoskopiese prosedure besluit om die galblaas te verwyder. Siestog, die ouerige man was oorstelp van verligting oor die voordele daaraan verbonde.
“Waar op aarde bly jy?” vra Izelle saggies terwyl Natasja hande afdroog en die handskoene by die skropsuster neem en aantrek.
“Die hysbak het vasgesteek,” sê Natasja en voeg by: “Dit moet gerapporteer word.”
“Die pasiënt gaan binne sekondes slaap,” sê Francois rustig, en Natasja knik vir hom. Dankie tóg vir die kalm blonde Francois. Sy verkies hom bo al die ander narkotiseurs.
Die pasiënt is met steriele doeke bedek en die area rondom sy naeltjie is reeds met Betadine ontsmet.
Izelle plaas die skalpel in Natasja se hand, en net vir ’n oomblik huiwer sy, want sy het ’n sweempie van Hugo se naskeermiddel geruik. Sy maak die eerste snit onder die naeltjie, kyk dan toe terwyl die kliniese assistent die abdomen met koolstofdioksied opblaas. So ja, nou kan sy sien waar die laparoskopiese kamera ingaan.
Sy snuif agter haar masker. Haar hare het aan Hugo se gesig geraak. Tog, die geur is lig en subtiel. Kyk nou net hoe beïnvloed die man haar denke tot in die teater!
Sy maak haar oë toe, haal diep asem en blaas dit stadig uit. Plotseling verdwyn alle gedagtes en is dit net sy en die pasiënt, die span en die prosedure.
Dis al skemer toe Natasja in die parkeerarea voor die versorgingsoord stilhou. Sy het haar oupa die afgelope paar weke bitter min gesien, maar het hom darem gebel wanneer sy kans gekry het. Dit gaan rof by trauma. Sy was die afgelope naweek op roep en voel steeds nie uitgerus nie.
Sy neem haar handsak en vat die sak met lekkernye raak voor sy uitklim en sluit. Sy het ballerinaskoene by haar Levi’s-jeans en wit bloes aangetrek omdat haar voete so seer is van staan en opereer. Eers het sy nie lus gehad nie, maar toe tog liggies onderlaag aangewend en op die ou einde geëindig met blink groen oogskadu en ’n laag maskara. Dit doen iets vir haar moraal wanneer sy moeite met haar voorkoms doen, veral in ag genome die uitmergelende werk wat sy doen en eenderse klere wat sy dag na dag moet dra.
Ai tog, as haar oupa haar net vanaand herken, sal sy so dankbaar wees. Sy gaan staan voor sy oop kamerdeur stil en hoor hoe hy hardop lag. Haar hart word sommer lig toe sy instap. Sy glimlag breed vir Oupa, maar voor sy nog rondkyk, voel sy al die vibrasie van aantrekkingskrag.
Sy steek in haar spore vas toe Hugo ’n opening in die gordyn toetrek en naderkom. Haar hart skop teen haar ribbes. Hy is eenvoudig die aantreklikste man nóg in ontwerpslenterdrag.
Vies oor haar gedagtes, draai sy na Oupa toe. Verdomp! Die één aand wat Oupa helder is, kom staan en bederf dokter Massyn dit nou. Hy is reeds baie lastig in haar gedagtegang. Plaas hy haar om vadersnaam net uitlos. Sy gaan hom ignoreer.
“Hallo, my liefste oupa,” sê sy vrolik en glimlag vir hom. “En hoe gaan dit vanaand hier?” Sy plant ’n soen op sy wang.
“Nee, soos jy kan sien, gaan dit goed, Tasjatjie,” sê hy met ’n knik in Hugo se rigting.
Dokter Massyn staan nader en steek sy hand uit. “Naand, Natasja.”
Terwyl Oupa vir hulle kyk, moet sy nou maar haar hand in syne sit: “Hallo, dokter.”
Waarneembare krag vloei uit sy hand na hare. Sy het vuurwerke verwag, nie kalmte nie. Verbaas kyk sy op in sy gesig. Daar is ’n onmiskenbare vonkeling in sy oë, asof hy haar gedagtes kon lees.
Sy sluk swaar en draai liewer na Oupa toe: “Kyk watse lekkernye het ek vir my oupa met die soettand gebring.” Hy sit regop teen kussings in die bed, en sy sit die papiersak op sy skoot neer.
Oupa loer in die sak. “Mm, heerlik, Tasjatjie.” Hy beduie na sy ingeboude kas. “Steek gou weg voor daai nuuskierige suster … u-hm … Jordaan sien. Sy weet mos te vertelle ek is halfpad diabeet en dat ek die soetgoed moet los. Gmf, asof ek ’n kind is wat nie my kos opeet wanneer ek lekkergoed geëet het nie.” Hy beduie met ’n vinger. “Kyk wat … u-hm … Hugo vir my gebring het. Daar iewers … heel onder. Fyngekerfde biltong, en in die ander papiersak is droëwors.” Hy glimlag selfvoldaan vir Hugo.
Natasja staan met haar rug na Oupa en Hugo gekeer. Sy vou die slaghuispapiersakke se randjies om en om, sit hulle dan langs haar pakkie neer. Dit is gaaf en bedagsaam dat Hugo vir Oupa wil bederf … So hoekom voel sy afgehaal oor haar oupa so oor die biltong straal?
Sy voel Hugo se oë op haar en draai om.
Hugo moet nou maar hoor, want sy moet sê wat nodig is: “Oupa moenie die biltong voor etenstyd eet nie. Netnou kla die susters of matrone weer dat Oupa nie eetlus het nie. En dan gee hulle vir Oupa daai pille om Oupa se eetlus aan te wakker.” Ag, laat sy die saak liewer los. “Oupa is glad nie ’n diabeet nie, maar ons het mos darem ook saamgestem dat Oupa eers kos moet inkry voor Oupa die lekkernye eet.”
Oupa knik net, beduie dan na Hugo: “Tasja-tjie, herken jy my weldoener wat my gisteraand huis toe gebring het? Jy’t hom nie gegroet nie.”
Oupa besef nie dit is al ’n klompie weke gelede nie, maar sy mag hom nie reghelp nie, want dit ontstel hom gewoonlik. Uit die hoek van haar oë sien sy Hugo kyk geamuseerd na haar. Sy gaan hom g’n ’n tweede keer groet net om haar oupa gerus te stel nie. “Ek hét hom gegroet, Oupa. Oupa het seker net nie gehoor of gesien nie.”
Oupa Gerrit frons hewig en trek-trek aan die laken oor sy bene. “Suster Jordaan sê ek is baie helder deesdae. Sy reken ek onthou beter en sien allerhande dinge raak … maar dalk … nou twyfel ek weer.”
Natasja kyk na Hugo met oë wat sein: “Kyk nou net wat het jy veroorsaak!”
Sy kyk na haar oupa: “Maar, Oupa, suster Jordaan is reg. Ek het juis vandag vir Izelle gesê ek kan nie gló hoe goed Oupa deesdae onthou nie,” dik sy aan.
Hugo skud sy kop. “Oom, daar skort niks met oom se geheue nie. Ons het netnou nog gelag oor die voetbalgrappie, onthou oom?”
Hy glimlag effens afwesig. “Ek onthou dit, ja.” Hy sug. “Ag, ja …”
Hugo staan op. “Nee wat, oom is so helder soos daglig.” Hy kyk na Natasja. “Ek dink ek sal Natasja maar ’n rukkie alleen by oom Gerrit los om haar ook kans te gee om te gesels.” Hy loop gee Oupa ’n handdruk. “Dit was nou regtig ’n lekker kuier by oom. Ek kom loer weer in, dan gesels ons oor als en nog wat.”
Oupa Gerrit glimlag afgetrokke. “Nee, dis reg.”
Sy moet Oupa probeer opkikker. Natasja wag tot Hugo by die deur uit is voor sy sê: “Kan ek vir Oupa van die biltong aangee?”
Oupa frons. “Het jy biltong gebring?”
“Nee, dokter Hugo Massyn het vir Oupa die biltong gebring.”
Hy kyk afwesig na haar. “Hoe lyk jy dan nou so … u-hm … halfbekend? Ken ek jou?”
Natasja se moed sak tot in haar skoene. Sy buk nader en vat sy hand. “Dis ek, Oupa. Natasja. Onthou Oupa my nie?” vra sy pleitend.
Hy kyk uitdrukkingloos na haar. “Ek is moeg,” mompel hy, lê agteroor en maak sy oë toe.
Natasja staan ’n hele rukkie vir haar oupa en kyk, soen hom op die wang en trek dan die laken tot onder sy ken op voor sy uitstap.
Trane verblind haar sig sodat sy ’n arm teen die deurkosyn stamp. “Eina, dêmmit!”
Hugo leun teen sy motor terwyl hy vir Natasja wag. Hy wil haar vra om gou iets saam met hom te gaan eet. Al probeer hy, kan hy haar nou maar eenmaal net nie uit sy kop kry nie. Tensy hy natuurlik opereer, dan is sy aandag ten volle by wat hy doen.
Hy frons. Die oomblik wat hy Natasja iewers in die hospitaal sien, of soos netnou daarbinne, strek daar iets soos ’n styfgespande lyn tussen hulle. Dit is die vreemdste ding wat hy nóg ondervind het. Hy kan sweer sy voel dit ook aan.
Voetstappe op gruis klink op. Kan nie Natasja wees nie, sy sal seker nog ’n rukkie kuier. Hy kyk oor sy skouer.
O hel, Natasja … Sy stap verby sy Jaguar na haar motor, maar hy sal haar darem betyds kan keer voordat sy inklim. Hy vou ’n hand om haar arm. “Natasja!”
“Wat is dit, dokter Massyn?” Trane loop teen haar wange af. “Het jy nie al genoeg skade vanaand aangerig nie?” Sy krap ’n spul snesies uit haar handsak.
“Wat? Ek het g’n skade … Hoekom huil jy?”
Sy vee met ’n snesie oor haar wange. “Omdat my oupa my vergeet het nadat jy uit sy kamer gestap het. Hy het glad nie eens geweet wie ek is nie.”
Jammerte wel in sy hart op. Dit moet hel-uit erg wees, sy’s baie lief vir oom Gerrit: “Toe nou maar, môre herken hy jou weer,” sê hy en trek haar in sy arms in.
Haar kop rus teen sy skouer onder sy ken en hy druk sy neus in haar skoon hare. Om haar darem so te kan vashou! Hy trek nou voordeel uit haar hartseer, maar hy troos haar mos darem ook. Haar borste druk sag teen sy bors toe hy haar vaster teen hom trek. Sy ruik lekker.
Verdomp, hy sal haar effens moet los, anders voel sy wat sy aan hom doen.
“Natasja?”
Sy hik. “’Skuus. Mmm?”
“Het jy al geëet?”
Sy skud haar kop liggies teen sy skouer. “Ek is nie honger nie.”
Hy sal harder moet probeer: “Los jou motortjie hier, dan kom klim jy in myne en gaan eet ons ’n ordentlike ete. Sodra jy die heerlike kos ruik en sien, gaan jy beslis jou eetlus herwin.”
Sy maak haar uit sy omhelsing los, vee dan met die verfrommelde snesie onder haar oë. “Dankie, maar ek moet liewer by die huis kom.”
“Dink eers daaroor, toe? Ek sal jou graag ’n paar vrae oor jouself wil vra terwyl ons eet. Dit sal jou goed doen om ’n bietjie –”
“Dis nie ’n goeie idee nie, dokter Massyn.”
“Hoekom nie?”
“Ek sal wil weet hoekom jy in die begin so mislik met my tydens oggendrondtes was. En hoekom jy toe skielik vriendeliker geraak het en nou vriende met my wil wees.”
Vroumense! Hoekom vra sy nou, op hierdie oomblik, wat hy nie in een sin kan sê nie? “Ek was nog nooit … u-hm, regtig lelik met jou nie, maar dit is juis die dinge waaroor ek met jou wil praat. Daar is … was ’n rede. Laat ons dit oor ’n bord kos bespreek, dan verduidelik ek, wat sê jy?”
Sy probeer praat, skud dan haar kop. “Vertel my nou, hier, en kry klaar. Wat het ek ooit aan jou gedoen? Jy het my soggens skaars gegroet. En dan het jy geblaf wanneer ek ’n geringe foutjie maak. Jy het my voor die ander kliniese assistente verneder.”
Hel, hy wil haar so graag ’n ruk naby hom hê. Hy vat liggies aan haar arm, maar sy ruk los. “Ek wil hê ons moet rustig sit en gesels terwyl ek my optrede verduidelik,” probeer hy water op die vuur gooi.
“Wat is so erg dat ons rustig moet wees terwyl jy verduidelik?”
Flip, sy’s mooi wanneer sy kwaad is. Haar groen oogskadu beklemtoon haar blink, groen oë en haar pienk lippe glim nat toe sy met haar tongpuntjie daaroor vee. Haar asemhaling is so hewig dat haar borste onder die toppie op en af dein. Hy wil haar vashou, vir haar sê sy moet bedaar, dan haar gesig en nek soen en haar begeerlike mond met syne liefkoos.
Hy sug.
Sy wag vir ’n antwoord. “Dit is ietwat … u-hm, gekompliseerd,” soek hy na ’n woord terwyl hy haar staan en bewonder.
Sy kyk hom ’n oomblik sprakeloos aan. “Gekompliseerd?” Haar stemtoon het nog laer gesak. “Jy het my behandel asof ek niks in jou oë is nie en dan noem jy dit kompleks?”
Hoe de hel het alles nou so gaan staan en verkeerd uitdraai? “Natasja, nee! Jy is verkeerd. Jy is alles wat …”
Sy hou ’n hand in die lug. “Ek wil liewer niks weet nie, dokter Hugo Massyn,” sê sy duidelik, draai om en klim in haar motor terwyl hy magteloos toekyk hoe sy wegry.
Hugo klim in sy motor en klap teen die stuurwiel. “Idioot! Nou het jy alles gaan staan en bederf.” Daar was ’n oomblik wat hy gedink het sy gaan instem …
Nou is sy éérs de duiwel in vir hom.