Читать книгу Haar naam was Marina Neser - Susanna M Lingua - Страница 6

4

Оглавление

Die volgende môre verslaap Marina haar behoorlik. En toe sy eindelik ontwaak, is dit reeds oor nege en moet sy haar haas om betyds te wees vir ’n laat ontbyt. Sy is egter nie die enigste laatslaper nie, want etlike tafeltjies is nog beset toe sy die eetkamer binnestap.

Die kelner plaas die bestelling voor haar en binne enkele minute draf sy die snytjie geroosterde brood, gebakte eier en glas lemoensap kaf. Toe kom sy haastig orent en gaan verklee haar in ’n modieuse groen bikini. Sy voel uitgerus en gereed vir enigiets wat die dag ook al vir haar inhou.

Soos ’n skoolmeisie draf sy ligvoets met die paadjie af strand toe. Haar goue krulle rus liggies op haar skouers, en af en toe waai haar veelkleurige strandjassie voor oop en word ’n lenige, volmaak gevormde figuur vertoon. Onder haar arm dra sy ’n opgerolde handdoek en in haar een hand word haar swempet sorgeloos heen en weer geswaai. Sy skep ’n prentjie van volkome sorgeloosheid.

Sy bereik die strand en ’n kort oomblik bekyk sy die baaiers met ’n belangstellende uitdrukking in haar vrolike blou oë. Sy laat die handdoek langs haar op die goue, skoongewaste sand val, skop haar sandale uit, trek ook haar strandjassie uit en gooi dit langs die handdoek neer. Sy neem haar swempet en wil dit net oor haar blonde krulle trek, toe sy meteens ’n diep stem agter haar hoor sê: “Bon dia, señorita Marina!”

Sy swaai om na die spreker en die volgende oomblik kyk sy in Renaldo se streng, onvergenoegde oë.

“Bon … bon dis, señor marquês,” groet sy terug, effens uit die veld geslaan. Met groot moeite kry sy dit reg om die versnelde klop van haar hart te verontagsaam.

Dis baie duidelik dat die marquês se onverwagte verskyning haar heeltemal ontsenu. Dat hy intens daarvan bewus is, laat hy egter nie blyk nie. Om sy mond is ’n harde trek, en sy blik rus openlik afkeurend op haar skamele baaipakkie toe hy koel sê: “Sulke gemengde baaiery is hoogs onbetaamlik.” Hy buk sonder meer af, neem haar strandjassie en hang dit liggies oor haar naakte skouers. Hy blik haar skerp, deurdringend aan. “So ’n goedkoop vertoning van ’n liggaam, so mooi en volmaak, is absoluut skandalig,” voeg hy onverbiddelik by.

’n Warm gloed sprei stadig oor Marina se pragtige gesig.

“Ek sien daar niks skandaligs aan nie, señor,” voeg sy hom met ’n verontwaardigde blik toe. “Ek is immers nie naak nie, ek het ’n baaipak aan!”

“Noem jy dit ’n baaipak?” Sy oë blits op haar. “So ’n skamele bedekking verg nie veel verbeelding van ’n man om jou geheel en al naak voor sy geestesoog op te tower nie, señorita. Ek sal jou aanraai om behoorliker swemklere aan te skaf.”

Ergerlik retireer sy ’n tree van hom af weg.

“Señor, presies waaraan het ek hierdie besoek van jou te danke – om beledig te word?” Haar oë vlam van verontwaardiging en sy maak geen geheim van haar gebelgdheid nie.

Hy is nou wel ’n hooggeëerde edelman, dink sy by haarself, maar ek gaan beslis nie sy beledigings langer duld nie. As ek die enigste was wat ’n bikini aanhet, kon ek nog toegee. Maar byna elke tweede meisie dra ’n bikini en niemand lig ’n wenkbrou daaroor nie. Waar kom hy vandaan om my die leviete te wil voorlees?

“Ek het nie bedoel om jou te beledig nie, señorita,” hoor sy hom weer sê. “Maar ek herhaal: daardie skamele kledingstuk wat jy aanhet, is onbehoorlik, absoluut onbehoorlik vir ’n dame.”

Hy kyk na sy polshorlosie en lyk skielik haastig. “Ek vrees ek het nie hierheen gekom om ’n argument met jou te voer nie. Inteendeel, ek wou jou net in kennis stel dat ons môreoggend baie vroeg vertrek en dat jy liewer vanaand in die castelo moet oornag. Dit is gebruiklik en die res van die geselskap het reeds aangekom.”

Besluiteloos staar sy Renaldo aan. Vir hom lyk dit of sy finaal gaan weier om mee te doen aan die uitstappie. Haar volgende woorde stel hom egter weer gerus.

“Na al jou beledigings behoort ek eintlik nie mee te doen aan die uitstappie nie, señor. Maar ek het jou gister reeds belowe dat ek om Elena en Celesta se ontwil sal gaan, dus sal ek my woord gestand doen en saamgaan. Maar ek wil jou waarsku dat ek nie bereid is om meer beledigings van jou te duld nie!”

“Maar, señorita, ek bedoel hoegenaamd nie om beledigend te wees nie,” maak hy beswaar teen haar aantygings. “Ek wys jou maar net daarop dat jy dinge hopeloos verkeerd doen!”

“Dit sal jou absoluut niks baat om begaan te wees oor my doen en late nie, señor,” spreek sy hom driftig aan. “Ek is nie ’n Portugese vrou nie en derhalwe nie aan jul konvensies en gebruike gebind nie –”

“Maar jy is verkeerd, señorita!” val hy haar ernstig in die rede. “Solank jy hier in Portugal vertoef, is jy onvoorwaardelik gebind aan ons sedes en wette!”

’n Oomblik staar sy hom sprakeloos en met ontnugterde oë aan.

“Ek vrees ek het dan op die verkeerde plek kom vakansie hou,” is al wat sy sê. Haar stem klink opvallend moedeloos, en dit ontgaan sy oor nie.

’n Gerusstellende glimlaggie plooi meteens om Renaldo se mond by die aanhoor van soveel moedeloosheid. Dat Marina op hierdie oomblik bitter teleurgesteld is, is vir hom maar alte duidelik. Maar hy is ook vasberade om toe te sien dat sy binne die kring van hul gebruike bly.

“Die wêreld het nog nie vergaan nie, señorita,” paai hy goedig, “dus is dit werklik onnodig om so ongelukkig te lyk. Glo my, ons gebruike is glad nie so moeilik om te gehoorsaam soos wat jy dink nie. Die moeilikheid met jou is net dit: jy is gans te impulsief en juis daardeur sal jy altyd in ’n onbenydenswaardige posisie beland. Maar kom, dan gaan verklee jy jou eers in ’n behoorlik swempak. En as jy nie ’n respektabele een besit nie, gaan koop ons gou vir jou een.”

Sy werp die nougesette marquês ’n driftige blik toe en verklaar met net soveel vasberadenheid: “Dankie, maar ek besit wel ’n ‘respektabele’ swempak, señor, dus sal dit nie nodig wees om een te gaan koop nie. Maar as jy my nou sal verskoon,” en sy gooi die strandjassie van haar skouers af …

“Nie met daardie skamele kledingstuk aan nie, señorita,” onderbreek hy haar met ’n gebiedende stem, en aan die harde trek om sy mond is dit baie duidelik dat hy woedend is oor haar doelbewuste uittarting. “Trek dadelik jou strandjassie en sandale aan,” gebied hy sag dog onverbiddelik, en dit laat die koppige meisie verskrik na hom kyk.

Die marquês is ’n vasberade man, gewoond daaraan dat sy wense deur almal gehoorsaam en eerbiedig word. Dus staan Marina se eiesinnige houding hom glad nie aan nie; te meer nog omdat sy ’n vriendin en ’n gas aan sy castelo is. Hy is vasberade om haar na sy wil te buig.

Sonder ’n enkele woord buk hy af, neem haar strandjassie en help haar om dit aan te trek. Daarna neem hy haar handdoek, rol dit netjies op en lei haar sonder meer in die rigting van die hotel.

“Die hotel bied ’n wonderlike uitsig op die baai,” kondig hy ’n oomblik later uit die bloute aan. Marina verbaas haar vir die man se geoefende beheer oor sy emosies. Minute gelede het sy oë nog vuur gespat van woede, nou klink sy stem weer so kalm en gewoonweg asof hy hom nog nooit vir haar vererg het nie.

Hy is voorwaar ’n merkwaardige man, erken sy onwillekeurig aan haarself. Maar hierdie jongste gril van hom, om my te wil domineer asof ek deel van sy familie is en hy alle reg daartoe het, staan my glad nie aan nie. Hy sal moet begryp dat ek my plesier nie aan bande sal laat lê nie en dat sy inmenging uiters onwelkom en irriterend is!

Hulle bereik die hotel en onderwyl Marina haar haastig dog innerlik gebelg in haar helder rooi swempak verklee, stap die marquês op en neer voor haar geslote kamerdeur.

Die marquês Renaldo de Conna staan onder sy volk bekend as ’n uiters deeglike man wat elke taak gewoonlik met die grootste nougesetheid afhandel. Ook nou maak hy dubbel seker dat Marina wel sy opdrag uitvoer deur hier voor haar kamer op haar te wag. Sy leuse is: waardigheid, hoflikheid, voortreflikheid en … absolute gehoorsaamheid. Swakheid van enige aard is iets waarmee hy geen genoeë neem nie en hy beskou dit as ’n euwel.

Die kamerdeur gaan meteens oop en Marina, geklee in dieselfde strandjassie en sandale, maak haar verskyning in die gang. Met sy gewone waardigheid stap Renaldo haar tegemoet. Hy kyk haar vraend aan, en Marina besef dat hy versekering en bevestiging verlang oor die opdrag wat sy moes uitvoer. Op ’n impulsiewe ingewing pluk sy haar strandjassie wyd oop vir hom om te sien dat sy wel voldoen aan sy wens.

Hierdie ongekunstelde gebaar lok ’n glimlaggie uit wat die marquês se streng gesig ’n wonderlike metamorfose laat ondergaan.

’n Kort oomblik staar sy die man voor haar met openlike verwondering aan, toe tref dit haar soos ’n weerligstraal dat sy hopeloos verlief is op hierdie man wat deurentyd so koel en onverstoord is en tog ook so warm en innemend kan glimlag.

Hy behoort meer te glimlag, dink sy, maar sê hardop en nadruklik: “Is jy nou tevrede, señor marquês, en het ek nou jou toestemming om te gaan swem?” In haar oë verskyn ’n ondeunde vonkeling wat die edelman se noulettende blik nie ontgaan nie.

“Met hierdie swempakkie aan, volkome, señorita,” glimlag hy nog steeds met daardie warm, onweerstaanbare glimlag wat Marina se hart so diep raak en haar verruklike drome laat droom. “Maar met hierdie gemengde baaiery van julle sal ek nooit genoeë neem nie,” vervolg hy, en dadelik verdwyn die glimlaggie van sy gesig en is hy weer die koel, onversteurbare marquês wat sy ’n paar dae gelede by die spuitfontein van die Castelo Conna ontmoet het.

“Ek vrees ek sal nou moet gaan,” hoor sy hom sê onderwyl hulle in die rigting van die hysbak beweeg. “Jy is seker ook al haastig om te gaan swem.”

Hulle stap die reeds oorvol hysbak binne. Die ruimte is uiters beperk, en met ’n beskermende arm trek Renaldo haar dig teen hom aan sodat sy uit die pad van gevaarlike elmboë en geniepsige hoë hakkies is.

Sy staan in die kring van sy arm met haar blonde kop dig teen sy breë skouers aangedruk. Hierdie intieme nabyheid, met sy asem warm en vertroulik op haar kroontjie, laat Marina se hart opgewonde bons van geluk en diepe tevredenheid. Heimlik wonder sy of hy darem ook bewus is van haar nabyheid. Sy waag dit egter nie om op te kyk nie. Sy vrees dat haar hele wese dalk haar gevoel vir hom kan verraai, en dit mag nooit gebeur nie. Hy dink reeds sy is ’n wispelturige vlinder wat graag met elke man flankeer. En wat hy van haar sal dink as hy moet weet dat sy hom liefhet – daaraan wil sy nie eens dink nie.

Eindelik kom die hysbak op die grondverdieping tot stilstand en geruisloos skuif die deure oop. Met sy arm nog steeds om haar, hou die marquês haar terug deur haar effens stywer teen hom aan te druk totdat almal die hysbak verlaat het. Toe hy haar eindelik laat gaan, kyk hy haar met ’n tergende blik aan en verklaar gewoonweg: “Dit spyt my dat omstandighede my genoodsaak het om jou so in my arms te hou, señorita. Maar ek is oortuig daarvan dat jy my aanraking sal oorleef.”

Sy bloos vuurwarm. Maar voordat sy iets hierop kan sê, bereik hulle die hoofingang van die hotel, en met ’n saaklike: “Adeus, señorita Marina,” stap hy na sy motor wat voor in die straat staan, en kan sy hom net met gemengde gevoelens agterna staar.

’n Eienaardige, loodswaar gevoel neem van haar hart besit. Meteens besef sy dat sy Renaldo onherroeplik bemin en dat haar gevoel vir hom van geen verbygaande aard is nie; dat die gevoel wat sy vir Frikkie het, niks is in vergelyking met dit wat sy vir hierdie streng edelman voel nie.

Haar hart voel leeg en eensaam, en met ’n bedrukte gemoed draai sy om en stap met loodsware treë af strand toe. Dit is kompleet of die son eensklaps uit haar lewe verdwyn het; of alles om haar saam met sy vertrek koud en onaantreklik geword het.

Hoe sy ook al probeer, sy kan Renaldo nie vergeet nie. Sy beeld bly voortdurend voor haar en die warm aanraking van sy liggaam daar in die hysbak bly soos ’n wonderlike droom by haar.

Sy bereik die strand en werktuiglik raak sy van haar strandjassie en sandale ontslae. Met haar oë droomverlore op die swellende golwe gerig, trek sy die rooi swempet oor haar sagte krulle en enkele oomblikke later is sy een met die klomp baaiers en die koel golwe wat haar sag omvou.

Met lang hale swem sy uit na die diep water waar ’n paar baaiers uitgelate te kere gaan. Toe kom sy orent en trap water met die doel om haar omgewing te verken, maar die volgende oomblik slaan ’n groot brander onverwags haar voete onder haar uit. Outomaties gryp sy in die lug na vashouplek, en wonder bo wonder raak haar vingers verstrik in iets soos sysagte seewier.

Sy herwin haar balans en is byna dadelik orent. Maar tot haar groot ontsteltenis merk sy dat dit nie seewier is wat so sag tussen haar vingers deur vleg nie, maar die blonde krulle van ’n yslike, uitgegroeide mansmens, en sy laat sy hare onmiddellik los.

’n Kort oomblik meet hul oë mekaar woordeloos, toe bars Marina heerlik uit van die lag, en ook die onthutste jong man begin later suur glimlag.

“Ek is regtig vreeslik jammer oor die ongerief wat ek jou aangedoen het, meneer,” maak sy op Engels verskoning vir haar gedrag. “Hemel, ek kon jou verdrink het!” voeg sy berouvol by.

“H’m,” snork hy half vies en vervolg sag op suiwer Afrikaans: “Jy lyk ’n –”

“Verskoon my, meneer,” onderbreek sy hom ook op Afrikaans, “misgis ek my, of het jy regtig Afrikaans gepraat?”

Meteens is dit of daar veel meer lewe in die kêrel kom. Hy kyk haar verbaas aan en vra belangstellend: “So, dan is jy nie Engels of Portugees soos wat ek aanvanklik gedink het nie, juffrou?”

“Nee, ek is nie; ek is Afrikaans, meneer … e …”

“Fanus Erlank,” vul hy aan en reik haar sy hand oor ’n swellende golf.

“Aangename kennis, Fanus,” glimlag sy vriendelik. “Ek is Marina … Marina Neser, en ek wil nogeens sê ek is jammer oor die ongerief wat ek veroorsaak het. Jy het seker ook nie geweet watter ongedierte so skielik besluit het om nes te maak in jou hare nie, nè?”

“O nee, moet jou glad nie misgis nie, juffroutjie,” lag hy nou ewe opgewek. “Ek het daardie grypende handjies van jou gesien kom en toe maar gewag om te sien watter planne jy in die mou voer. Maar nou gaan ek jou behoorlik terugbetaal.”

Met hierdie woorde duik hy haar netjies onder die water in. Toe Marina eindelik weer die oppervlak bereik, wag hy haar met ’n geamuseerde blik in.

“So,” sê hy laggend en skud die water uit sy hare, “nou is ons kiets en kan ons maar teruggaan strand toe.”

In volkome harmonie swem hulle terug, maar toe hulle eindelik op die strand uitstap, val Marina se blik dadelik op Ricardo wat haar met oë vol verering inwag.

“Kom, ek wil jou graag aan ’n vriend bekendstel, Fanus,” sê sy en stuur hom sonder meer in Ricardo se rigting terwyl sy haastig verduidelik wie en wat die vriend nou eintlik is.

“Jy moet hier baie versigtig wees met jou keuse van vriende, Marina,” vermaan Fanus haar ernstig. “ ’n Portugese man is beslis nie iets om mee te speel nie, hulle is ’n warmbloedige nasie.” Hy kyk haar opsommend aan. “En jy lyk maar tingerig, glad nie opgewasse teen een van hulle nie!”

“A, dis wat jy dink,” lag sy hom uit. “Glo my, ek kan my man terdeë staan in ’n krisis.”

Voordat hy iets daarop kan sê, bereik hulle Ricardo en Marina stel die twee mans aan mekaar bekend.

Geselsend lei sy hulle na waar haar handdoek, jassie en sandale op ’n bondeltjie lê. Presies soos Renaldo vroeër gedoen het, neem Ricardo haar strandjassie en hang dit liggies om haar skouers, asof hy haar liggaam vir ongewenste oë wil bedek. Dit ontlok ’n glimlaggie van vermaak by die meisie.

Nadat sy haar sandale aangetrek het, nooi Fanus hulle na die strandkafee vir ’n koeldrank. Maar Ricardo is skielik haastig en bedank sy uitnodiging.

“Ek het eintlik net die señorita kom verwittig dat sy om drie-uur vanmiddag gereed moet wees om na die castelo te vertrek,” verduidelik hy aan Fanus. Toe draai hy na Marina en vervolg: “Die gaste het reeds almal aangekom en Elena is al ongeduldig om jou ook daar te hê. Sy sê die getal is onvolledig sonder jou … Maar nou ja, ek vrees ek sal nou weer moet gaan. Sien jou dus om drie-uur, pequena.”

Hy buig galant en met ’n vriendelike: “Adeus, menina … señor Erlank,” neem hy afskeid en stap haastig in die rigting van die hotel.

Dat Marina hier ’n man uit haar eie volk raakgeloop het, is ’n gedagte wat die jong Ricardo nie in die minste aanstaan nie. Hy het so gehoop om haar liefde te wen, maar nou lyk dinge vir hom ’n bietjie deurmekaar met hierdie ander man wat bykom … En dan is daar nog Renaldo; Renaldo wat dit sy dure plig ag om ’n streng, wakende oog oor die meisie se veiligheid te hou.

Vir die verliefde jong Portugees is dit alles steurende elemente wat meedoënloos meewerk om sy geluk te ondermyn. Maar hoe hy ook al probeer, hy kan geen geskikte plan prakseer om van dit alles ontslae te raak nie.

Nadat Ricardo vertrek het, stap Marina en Fanus soos twee ou bekendes na die kafee. Sy was nogal in die kol met haar bespiegeling oor die jong Suid-Afrikaner, want hy is by die twee meter lank met gespierde ledemate wat elke man hom sal beny.

Met ’n koeldrank in die hand vertel Marina hom van die jare lange droom wat sy nou eintlik verwesenlik het. Hy, op sy beurt, vertel haar weer van sy beesboerdery en sitrusplaas in die Laeveld.

“Jare lank al wou ek gaan reis,” vervolg hy, “maar ek kon nog nooit die tyd daarvoor vind nie. Verlede jaar het die geluk my egter getref en het ek sommer ’n uitstekende ou raakgeloop om my op die plaas te help. Dus kon ek eindelik ’n rukkie wegbreek van die boerdery … Maar van watter deel van Suid-Afrika is jy afkomstig?”

Sy vertel hom van haar ouers, haar werk en haar verhouding met Frikkie Basson. Toe merk sy meteens dat die baaiers besig is om terug te gaan hotel toe en dit dring tot haar deur dat dit al haas tyd moet wees vir middagete.

“Ek vrees ons sal nou moet gaan,” kondig sy eindelik aan en neem haar handdoek en swempet op. “Dis al byna eenuur, en ek moet nog gaan inpak vir die week se uitstappie na die marquês se quinta. Ek ken die gaste nie, maar hulle sal natuurlik almal uit die hoogste kringe wees. Dus sal ek fyn moet beplan wat ek vir die geleentheid gaan inpak.”

Ook Fanus neem sy handdoek en weldra stap hulle met die smal paadjie terug hotel toe.

Haar naam was Marina Neser

Подняться наверх