Читать книгу Hoe gemaak met my dikmond kind? - Suzette Truter - Страница 5

Gedrag

Оглавление

Buie, geite en skielike (en nie so skielike) streke

VRAAG 1

My tienjarige dogter is dikwels dikmond as iets haar pla. Haar hele houding sê dit. As ek uit haar probeer trek wat hinder, skud sy net haar kop. Met baie pamperlang kry ek haar inskikliker, maar sy laat my tog verstaan sy is nie regtig tevrede nie. Dan voel ek soos ’n onbekwame ma.

ANTWOORD

Jy kry verskillende grade van dikmond. Daar’s nie ’n greintjie navorsing agter dié stelling nie, maar elke ma weet dit! Die kuns is om te leer wat agter elke dikmond sit.

As jou kind ’n lang lip inspan met die uitsluitlike doel om jou aandag te kry, kan (en moet) jy korte mette daarmee maak, reken die Kanadese ouerskapskrywer Steve Biddulph. As jy heeltyd aandag aan ’n dikmond kind gee, maak sy gou die som: As ek net lank genoeg mislik en negatief is, kry ek hope gratis aandag en liefde. Maar in die “regte” wêreld werk dit nie so nie. Jy doen haar nie ’n guns om haar so te pamperlang en na haar pype te dans nie.

Steve se oplossing is eenvoudig. Wees vriendelik maar ferm as jou dogter weer so optree. En dan sê jy iets in die trant van: “Jy weet ek is lief vir jou en ek wil jou graag help. Gaan dink na oor wat jy regtig wil hê, en kom gesels as jy reg is.” Tien teen een sal sy later vir jou kom sê wat haar regtig hinder. Help haar dan. Dis in elk geval vervelig om dikmond te wees as niemand daarop reageer nie.

Dr. Erika van der Wateren, ’n kliniese sielkundige van Pretoria met ’n doktorsgraad in kindersielkunde en wat spesialiseer in kinders, stel voor dat jy sulke negatiewe gedrag so gou moontlik in die kiem smoor. “Gee vir jou dogter dadelik terugvoering as so iets begin kop uitsteek. Só keer jy dat dit ’n gewoonte raak. Doen dit as julle albei kalm is, sodat julle mekaar regtig kan hóór. Sê vir haar hoe haar gedrag jou laat voel, waarom dit onaanvaarbaar is en wat sy anders kan doen. Oppas om haar net te beskuldig.

“Vra vrae sodat sy insig kan kry in haar gedrag en hoe dit ander mense affekteer. Sê byvoorbeeld: ‘As jy dadelik dikmond raak sodra ek vir jou iets sê, maak dit my ook sommer moedeloos en dan kan ons nooit jou probleem oplos nie. Wat kan jy anders doen?’ Maak dan self positiewe voorstelle soos: ‘Kan ons ooreenkom om eers regtig na mekaar te luister voordat ons net begin terugpraat?’ ”

Erika sê ’n dikmond is oor die algemeen nie rede tot kommer nie – behalwe as jou dogter se gedrag ook skielik verander het. Hoe gaan dit deesdae oor die algemeen tuis en by die skool met haar? Hormonale veranderinge kan haar natuurlik ook meer buierig maak.

Skakel eers alle moontlike oorsake soos byvoorbeeld depressie uit, voordat jy dit sommer ignoreer. Hou jou oë oop, vertrou jou intuïsie en kry hulp as dit nodig is. Lees ook vraag 87 oor depressie.

DOENLYSIE

 Help jou kind om sosiale vaardighede aan te leer sodat sy moeilike situasies reg kan hanteer. Uiteindelik moet sy besef dat sy kan kies hoe sy wil reageer: Sy kan dikmond wees, ’n grappie maak oor dit wat haar pla, omdraai en wegloop, dadelik begin huil …

 Probeer die Amerikaanse sielkundige en ouerskapkenner dr. Kevin Leman se plan vir kinders wat hul wangedra om aandag te kry. Haal die wind uit haar seile (en heelwat van die pret uit die gedrag) deur te sê: “Ek sien jy het vandag ekstra aandag nodig.” Jy kan dan iets voorstel wat julle saam kan doen, maar maak dit ook baie duidelik: Sy hoef nie ongeskik te wees om jou aandag te kry nie, sy kan maar net vra vir daardie drukkie of soentjie. Dit werk meestal soos ’n bom.

 Lees vraag 33 vir wenke oor hoe om jou kind se sosiale vaardighede te verbeter.

VRAAG 2

My negejarige dogter manipuleer my. Sy vra nog tien minute voordat sy gaan slaap. Of nog ’n koekie. Of nog dit of dat. Ek gee elke keer toe … om die vrede te bewaar. Dit voel soms sy sit op my kop. Aanvanklik was dit oulik dat sy my so om haar pinkie draai, maar sy hiet en gebied my nou voor almal. Ek begin eintlik skaam kry.

ANTWOORD

Jy hoef nie ’n kenner te wees om te weet wie’s baas in dié huis nie. Die oplossing lyk ook voor die hand liggend: Verander net die reëls, Ma! Maar as jy al deur die meule was, weet jy dis makliker gesê as gedaan.

Dit help om die groter prentjie te verstaan. In dié geval, die gesagskrisis waarin baie ouers (en kinders) hulle bevind.

Elzan Frank, ’n sielkundige van Stellenbosch, verwoord waarmee baie ouers deesdae stoei: Wie se gesag moet ons aanvaar en waarom? Wat is reg en wat is verkeerd? Ons redeneer daaroor, lees daaroor, gaan soek raad by televisieprogramme … Ouers twyfel, kom nie tot ’n vergelyk nie en kinders oefen al hoe meer gesag uit – oor hul eie lewe én dié van Pa en Ma.

In ’n neutedop beteken dit: As jy nie die leiding neem nie, neem jou kind dit.

Elzan sê as jou kind jou heeltyd probeer beheer of manipuleer, daag sy jou leierskap uit. Gebrek aan goeie leierskap is een van die groot redes hoekom kinders vandag ongelukkig is. Te veel vryheid, te vroeg, maak jou kind baasspelerig, onsimpatiek teenoor ander en laastens maar nie die minste nie, verward.

“As jy keer op keer toegee, leer sy nie duidelike grense ken nie. Sy voel nie veilig nie. Later, as tiener en volwassene, kan sy ook nie haar eie grense trek nie, en sy het nie duidelikheid oor wat reg en verkeerd is nie. Sonder grense is haar keuses onseker. Haar wêreld voel buite beheer as sy dink: Ek kan my slaaptyd bepaal. Ek kan besluit of ek Ma se inkopiesessie wil kortknip deur ’n bohaai op te skop. Soveel mag is te veel en onvanpas vir ’n kind.”

Erika voeg by: Dissipline ís moeilik. Dis jou verantwoordelikheid as ouer om jou kind te leer om toepaslik op te tree. Dis jou rol om te help vorm aan haar gedrag sodat sy nie negatiewe reaksie van haar maats en ander mense om haar begin kry nie, want later gaan dit ook haar sosiale aanpassing benadeel, asook haar gewildheid onder haar maats.

Die bal is in jou baan. Lees ook vraag 3.

VRAAG 3

Hoe hanteer ek dit as my dogter my so manipuleer en op my kop sit?

ANTWOORD

Gebruik ons vierpunt-plan.

En voor jy skepties raak oor nog ’n 1-2-3-plan wat te maklik klink om waar te wees, probeer hierdie ene van Elzan. Dit wérk. Dis nie maklik nie; dit verg vasbyt en deurdruk, maar dit werk.

Elzan se stappe is: Onderhandel, bevestig jou gesag, spel die gevolge uit en gebruik positiewe versterking:

 Gesels met jou man (of as jy ’n enkelouer is, met ’n vriend of vriendin) en besluit wat jou die meeste pla. Kies een hinderlike optrede, byvoorbeeld as jou kind aanmekaar op ’n onbeskofte manier met jou terugpraat.

 Praat met jou kind hieroor. Sê: “As jy dit doen, hou ek nie daarvan nie. Ek weet dis moeilik, jy is al gewoond daaraan. Maar ek is ook skuldig, want ek het dit toegelaat. Ons twee gaan nou ’n plan uitwerk.” Sy leer dan ook sommer ’n nuwe vaardigheid – om dinge te bespreek waaroor nie gepraat word nie. (Erika sê ook negejariges hou daarvan om verantwoordelikheid te kry. Jy motiveer haar om die gevolge van haar gedrag te begin verstaan en betrek haar by die oplossing.)

 Moenie dit vir haar onmoontlik maak om te slaag nie. Verduidelik dat sy dalk een of twee keer mag misluk, maar dat jy seker is sy gaan dit regkry. Prys haar sodra dit werk.

 Sorg dat sy weet julle twee werk saam aan die probleem. Stel ’n week lange proeftydperk voor waarin julle albei ooreenkom om dinge te verander. As dit steeds nie werk nie, vra hoe jy kan help. Dit moenie in ’n eindelose probeer en weer probeer ontaard nie. As sy nie haar kant bring nie, moet sy weet daar is gevolge. En dat jy vasbeslote is. Elke keer as sy onbeskof is, vat jy haar aan die skouer, kyk haar in die oë en sê: “Jy praat nie so met my nie, ek praat nie so met jou nie, ons het respek vir mekaar in die huis.” Neem jouself dan uit die situasie. Bly in beheer.

 Die derde stap is gevolge. Hou dit binne konteks. Sê byvoorbeeld: “Ons moet eers leer om beter oor die weg te kom. Ons gaan nie vanmiddag klere koop nie.” Kies altyd iets wat gekenmerk word deur konflik. Moenie positiewe tye saam kies nie, want dan ondermyn jy die positiewe. Party ouers verkies om afkoeltye, oftewel uitsittye, te gebruik, wat veral met jonger kinders se woedebuie werk.

 Baie sulke pogings om dinge te verander het al skipbreuk gely. Dit gebeur dikwels omdat ouers so gewoond is aan konflik dat hulle nie die kind se pogings raaksien en waardeer nie. Doen moeite om haar probeerslae raak te sien, al is dit hoe klein. Bevestig dit op ’n rustige, positiewe manier.

’n Ma se wenk

“As jy moeg is of dis laat of jy worstel met jou eie probleme, lyk dit na so ’n maklike uitweg om net toe te gee. Moenie. Onttrek jouself tydelik (dis jou eie afkoeltyd) om eers jou selfbeheersing te herwin.”

VRAAG 4

My sewejarige seun wil nie eet nie. Ons het reeds taktiele defensiwiteit (’n teësin in teksture) uitgeskakel, maar hy pik letterlik net aan sy kos. Hoe kry ek hom aan die eet? Is daar ’n alles-in-een-mengsel met genoeg voedingstowwe? Hy het nie ’n probleem met sy liggaamsbeeld nie, hy stel net nie belang in kos nie. Hy drink wel baie pienk melk.

ANTWOORD

Begin by die begin. Maak jul eerste stop ’n geregistreerde dieetkundige wat hom deeglik sal evalueer.

Celeste Naudé, ’n geregistreerde dieetkundige en navorser van die Universiteit van Stellenbosch, sê by so ’n sessie sal die dieetkundige onder meer bepaal hoeveel kilojoules en voedingswaardes jou seun inkry en of hy genoeg groei en ontwikkel. Maak ook seker daar is nie enige mediese oorsake nie.

As jy dan meer gerus voel dat jou seun se lengte en gewig die regte groeikurwe volg, kan jy jou fokus verskuif na ’n praktiese benadering, sê Mariza van Zyl, ’n geregistreerde dieetkundige van BetterEat Voeding en Voedsel Konsult (www.bettereat.net). Net soos hy op sewe moet leer lees en skryf en somme maak, moet jy hom elke dag leer wat gesond eet beteken.

Mariza waarsku dat om te eet (of nie) nie ’n allesoorheersende kwessie moet word nie. Hoe jy die saak benader, is amper net so belangrik soos wát jy voorsit. Los eerder maaltyd-plaasvervangers, want dit kan net die probleem vererger. Dis net nodig as jou seun ondervoed is.

Onthou, kinders “vergeet” hulle is honger as hulle lekker speel of besig is met iets genotvols. Pleks van dat jy wag dat hy na jou toe kom, beplan etes en tussenetes min of meer drie uur uitmekaar.

“As jou seun nie gehardloop, gespeel of geklim het nie, gaan hy dalk nie so honger wees nie. Pas sy peuselgoed daarby aan. Sit ’n bakkie neer waar hy speel, met sy gunsteling-vrug in blokkies, of ’n paar neute en rosyne, kraakbeskuitjies of broodvingertjies en ’n stukkie kaas. Herinner hom daaraan wanneer jy verbyloop.”

Mariza sê die meeste kinders, veral gesonde kinders wat nie oorgewig is nie, is baie meer as volwassenes ingestel op seine dat hulle versadig is. Jou kind kry die meeste van die energie wat hy nodig het van die pienk melk. Dit is gesond, ja, maar saam met die pienk geursel bly dit ’n lekkerny.

Een van jou groot uitdagings is om ’n groter verskeidenheid van kosse deel van sy dag te maak. Begin deur sy pienk melk flouer te maak. Gee hom ook net soggens en laatmiddag melk – ná ete, anders sal dit sy aptyt bederf.

Leer hom dat ’n mens een keer per dag “lekkernye” eet of drink (koeldrank, sap, ysies) maar daar is heelwat ander lekkertes om aan te peusel, soos droëwors, biltong, ’n snytjie kaas met ’n bietjie heuning, droëvrugte, spesiale broodjies of volgraanbeskuit met ’n koppie tee.

Mariza stel ook voor dat jy ’n paar gunstelinge kies uit elke voedselgroep (proteïene, vrugte, groente, stysel, neute). Sluit minstens een gunsteling by sy maaltyd in, byvoorbeeld ’n boereworsie (proteïene) met oondskyfies en tamatiesous en gesnyde tamatie en komkommer of groente waarvan hy wel hou – al is dit elke dag dít en ’n ander soort groente. Lees ook vraag 5.

VRAAG 5

Moet ek sekere riglyne in ag neem as ek my halsstarrige etertjie aan die eet wil kry?

ANTWOORD

Jy is die ouer, en jy lê die riglyne neer, sê Mariza. “As die reël is dat almal saam eet en eers nagereg kry sodra die kos klaar is, dan is net jy te blameer as jy dit nie toepas nie. Jy kan wel besluit etenstyd is vanaand voor die TV of in die kombershuis wat hy onder die tafel gebou het, maar dit moet jóú besluit wees. En hou by maaltyd-tye vir die gesin waar almal aan tafel sit of oor ’n naweek buite piekniek hou.”

Mariza sê veral seuns hou van struktuur. Gee struktuur en hou daarby. Hulle geniet ook kompetisie. Beloon ’n maaltyd sonder kerm en kla, of die een wat die grootste broccoli opeet met ’n gunsteling-melkskommel of ’n stoeigeveg met Pappa!

“Neem sy persoonlikheid in ag. Dalk hou hy nie daarvan as sy kos aan mekaar raak nie, of hy verkies sy kosse gemeng. Vra hom. Stel ook vas of jou kos nie te sout, suur, sterk of te min gegeur is na sy smaak nie. Party mense proe fyner as ander. Vooraf- en kitsbereide souse, geurmiddels en geregte is dikwels te sout vir kinders. Kies eerder produkte met min of geen preserveer- en geurmiddels. Gebruik wel natuurlike geurmiddels soos knoffel, kruie en selfs kerries.”

Erika het nog ’n voorstel: Wat van ’n algemene huisreël dat almal aan tafel ’n happie van alles proe?

“Skep net ’n baie klein bietjie op ’n slag op. As hy ongelukkig raak, maak dit duidelik dat hy net een of twee happies hoef te proe. Só gaan jy baie verder kom as wat jy verwag dat hy sy bord moet leeg eet. Dit help ook as maatjies of ouer broers en susters van al die kosse eet en geniet, omdat kinders gedrag by mekaar afkyk. Sny ook ’n klomp vrugte in blokkies, los dit op die tafel en eet self met oorgawe daarvan.”

DOENLYSIE

Celeste doen aan die hand:

 As hy nie wil eet nie, wag tot die volgende etenstyd of geskeduleerde versnaperingstyd voor jy iets anders aanbied. Moenie vir hom ongesonde happies soos lekkergoed of iets anders gee as hy nie sy kos wil eet nie. (Anders kan hy begin verwag dat hy só “beloon” gaan word as hy nie eet nie.)

 Bied vir hom dieselfde kos aan as die res van die gesin.

 Stel ’n goeie voorbeeld deur self gesond te eet. Probeer om nie negatiewe goed te sê oor kos waarvan jy nie hou nie.

 Hou etenstye ontspanne. As jy pal kla en kritiseer, kan dit hom net gestres maak. Moedig hom aan – glimlag, gee drukkies en prys hom.

 Gee hom kans om nuwe kos te leer ken. Moenie ophou ná een of twee probeerslae nie. Soms moet jy iets agt tot tien keer vir ’n kind aanbied voor hy dit aanvaar.

 Kinders het sekere voor- en afkeure. Laat hy kies, soos byvoorbeeld tussen twee verskillende vrugte of twee verskillende toebroodjievulsels. Moet hom nie dwing om te eet nie.

 Moenie kos as ’n beloning aanbied nie. Wat van ’n beloning soos om parkie toe te gaan of ’n speelafspraak met ’n maat?

VRAAG 6

Die skoolhoof het my ingeroep oor my seun. Hy knou glo deesdae ander kinders af. Ek kan nie glo dat hy ’n boelie is nie. Ons het almal sterk persoonlikhede, en hy word groot in ’n huis wat hy moet deel met drie broers, maar dis tog nie ’n teelaarde vir boelies nie?

ANTWOORD

’n Mens weet amper nie wat is erger nie, om te hoor jou kind is ’n boelie, of dat hy die slagoffer van een is. Probeer koelkop bly, al is jou eerste reaksie om sommer die skoolhoof voor stok te kry.

Janine Shamos, ’n woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (Sadag) en selfbeeldafrigter van Johannesburg, som op wat baie ouerskapkenners aanraai: Moenie wag en kyk of die situasie vanself sal regkom nie. Tree dadelik op voor dit ’n siklus raak en die skade permanent is. (Janine sê dit lyk asof “chroniese” boelies as volwassenes daarmee aanhou. Dit beïnvloed hul vermoë om gesonde verhoudings te ontwikkel en daarmee vol te hou.)

Probeer eerstens agterkom hoekom jou kind sy maats afknou, sê Ronéll Lemmer, ’n kliniese sielkundige van Oudtshoorn in die Klein-Karoo. Kyk objektief hoe lyk dinge tuis. In ’n groot gesin is dit nie altyd moontlik om almal ewe veel aandag te gee nie. Vra jou af: Kry hy genoeg aandag? Is ek betrokke genoeg in sy lewe? Voel hy geborge? Hoe praat ek en my man met mekaar? Hoe los ons probleme tuis op?

“Dikwels volg so ’n kind sy ouers se voorbeeld. Is jou man dalk aggressief tuis en jou seun dink dis maar hoe hy moet optree? Hou hom dop. Dalk het hy ’n klomp opgekropte gevoelens of aggressie, en hy weet nie hoe om daarvan ontslae te raak nie. Word hy byvoorbeeld tuis heeltyd stilgemaak? Hoe tree hy op wanneer hy met sy broers of sy speelgoed speel?”

Janine sê ’n boelie het dikwels ’n lae selfbeeld en is onseker van homself. Hy verstaan nie ander se gevoelens nie en weet nie wat ander kinders regtig van hom dink nie. Hy probeer dalk sy maats beïndruk en voel belangrik en magtig as hy op iemand anders kan pik.

Kenners het verskillende benaderings tot die probleem, maar die meeste kom ooreen oor dié basiese riglyne:

 Moenie met geweld reageer nie.

 Praat met jou kind daaroor sonder om hom te verneder of hóm emosioneel te kwets.

 Maak dit wél duidelik dat sy gedrag vir julle onaanvaarbaar is.

 Verduidelik aan hom hoe dit die ander kind laat voel en wat dit ook aan hóm as mens doen.

 Dring daarop aan dat hy sy maat so gou moontlik om verskoning moet vra – en dit bedoel. Hou toesig dat dit nie weer gebeur nie.

Janine sê as jou kind ’n “gesoute” boelie is, sal hy eers moet leer om sy eie verkeerde gedrag te erken en in te sien wat die uitwerking daarvan op homself en ander is. Hy moet ander maniere kry om sy behoeftes te bevredig. Die ideaal is dat hy sterk verhoudings vorm met volwassenes wat bereid is om hom te help.

DOENLYSIE

 Gesels met jou kind oor wat pla. Verseker hom van jou liefde.

 Werk aan sy selfbeeld. Prys goeie gedrag. Stel realistiese doelwitte. Lê regtig klem op positiewe versterking. Komplimenteer hom as hy iets goeds doen.

 Wees ferm as hy lelik optree, maar moenie so ’n bohaai opskop dat al die aandag hom laat goed voel nie.

 Leer jou kind om sy woede in woorde uit te druk, sodat dit nie in sy gedrag uitkom nie. Of stel voor dat hy ’n slaansak pak as hy kwaad is.

 As jou kind werklik jammer is, moet jy nie bly vassteek en voortdurend al sy oortredings oprakel nie.

 Kry professionele hulp as jy bekommerd is oor sy aggressie en nie weet hoe om dit te hanteer nie.

VRAAG 7

Ek sukkel om my kind soggens uit die bed en aan die gang te kry. Ek smeek, dreig, koop hom om … en dan is hy steeds laat! Uiteindelik mis hy sy saamrygeleentheid met die bure en dan is ek ook laat vir werk omdat ek hom moet skool toe neem, en almal begin sommer die dag op die verkeerde voet.

ANTWOORD

Die een vraag wat by almal opkom as hulle dié ene hoor, is: Hoe laat gaan hy slaap?

Die meeste onderwysers met wie ek gepraat het, sê jy moet sorg dat jou kind saans vroeg genoeg in die bed kom. Omstreeks agtuur is ’n goeie maatstaf in graad een. (Pas dit aan soos hy ouer word.) As hy moeilik aan die slaap raak, hou sy slaaptydroetine so rustig moontlik. Dis onrealisties om te verwag dat hy dadelik aan die slaap sal raak as hy tot vyf voor agt nog na ’n opruiende TV-program gekyk het.

Kenners sê as hy elke oggend met die verkeerde voet uit die bed klim, en dis nie ’n nuwe verwikkeling nie, is hy dalk net nie ’n oggendmens nie. Party kinders hou eenvoudig nie daarvan om aangejaag te word nie en gaan dalk net meer verbouereerd raak as jy dit doen. Maak hom eerder effens vroeër wakker sodat hy ekstra tyd het om in sy eie tempo reg te maak. Julle sal dan albei minder gestres wees.

Kevin Leman het ’n redelik radikale voorstel vir trae opstaners in sy boek ’n Nuwe kind teen Vrydag. (Hoe dan nou anders met so ’n titel?) As jy kans sien daarvoor, probeer dit. Dis waarskynlik veral geskik vir ouers wat al alles probeer het en raadop is weens elke oggend se gejaag.

Kevin reken die onus moenie op jou wees om ewige laatslapers betyds by die skool te kry nie. Verduidelik baie kalm aan jou kind dat hy van nou af soggens self moet opstaan. Hy gaan dalk tienuur wakker word en bitter ongelukkig wees daaroor. Skryf dan ’n brief aan die skool in die trant van: “Daar is geen verskoning waarom hy laat is nie. Hy het bloot gekies om laat te slaap. Hanteer hom soos julle gewoonlik sulke kinders hanteer.” Dit sal nie vir jou kind (oud of jonk) lekker wees om met so ’n brief skool toe te gaan nie.

Daar is dalk tog salf te smeer aan daardie ewige agteros.

DOENLYSIE

 Moenie aanhou kerm en hom etiketteer as die laatslaper nie – jy bereik niks nie, hy mag dalk net nog langer vat.

 Gee die feite. As sy gesloer jou benadeel, sê: “Ek het vanoggend ’n spoedboete gekry omdat ek moes jaag werk toe nadat ek jou afgelaai het.”

 Moenie vergeet om dankie te sê wanneer hy merkbaar moeite doen om betyds te wees nie. Weerhou jou ook daarvan om dinge kwyt te raak soos: “Ek het jou mos gesê dit sal beter gaan as jy vroeër opstaan.”

’n Ma se wenk

“Stel saam met jou jonger kind ’n kaart op met oggendtakies wat afgetik word. Oorweeg ’n beloning as hy teen die einde van die week alles betyds voltooi het.”

VRAAG 8

My kind jok. Hy gebruik dit as maklike uitweg – as sy sussie byvoorbeeld huil, was dit nie hy nie. Ek is nou onseker wanneer hy die waarheid praat. Ek het eers gedink dis klein leuentjies, maar ek het hom al betrap op groter leuens oor skoolwerk. Hy is nege jaar oud, ’n dierbare kind, en het nie rede om te jok nie. Ek is bang straf vererger dit.

ANTWOORD

Dis normaal as jong kindertjies soms leuens vertel. Dit gebeur omdat hulle nog nie altyd tussen feite en fantasie kan onderskei nie, omdat hulle bang is vir die gevolge van straf, of bang is dat hulle nie heeltemal aanvaar word nie.

Op 9-jarige ouderdom is dit egter beslis al minder normaal óf aanvaarbaar, sê Erika. Die algemene reël geld soos met enige ander negatiewe gedrag. Sal jy toelaat dat jou kind sy sussie slaan? Nee, jy sal dadelik daarvan werk maak. “Klein leuentjies of grotes – sy gedrag moet so gou moontlik uitgesorteer word, anders word die probleem vinnig-vinnig groter en onhanteerbaarder. Onthou dat ’n kind met gedrag eksperimenteer. As hy aanvanklik met leuens wegkom, kan dit sy gedrag versterk en beteken dat hy dalk volgende keer weer die beproefde metode gebruik.”

As jou kind as leuenaar gebrandmerk is, gaan hy aanmekaar negatiewe terugvoering uit sy sosiale omgewing ervaar. Dis op lang termyn vir hom baie skadelik. Pak dus so gou moontlik die bul by die horings en doen iets aan die saak.

Erika stel voor jy praat openlik met jou seun. Laat hom verstaan dat jy aan sy kant is en hom wil help om ’n plan te maak. Hy kan moontlike oplossings voorstel.

Probeer vasstel wanneer en waarom hy jok. Vertel hy stories oor skoolwerk, ouers, geld, klere, vriende of aggressiewe gedrag? As hy in spesifieke situasies jok, probeer die situasie herstruktureer om die druk daarvan te verminder of om die versoeking te beperk. Kinders vertel soms aanhoudend leuens omdat hulle onseker is, nie veilig genoeg voel nie of omdat hulle druk ervaar van hul ouers of ander betekenisvolle persone in hulle lewe.

Johann Verster, ’n kliniese sielkundige van Kaapstad, deel ’n paar moenies:

 Moenie vir jou kind iets sê soos dat hy eers jou vertroue moet terugwen nie. Hy mag dan voel jy vertrou hom in elk geval nie. Sê eerder: “Ek het agtergekom jy vertel leuens, maar ek gaan jou nog ’n keer vertrou.”

 Moenie blaf: “Daardie leuen was noodsaaklik” as jou kind jou betrap dat jy jok nie. Sê eerder: “Haai, nou betrap jy my.” Dit maak jou meer toeganklik. Hy mag maar weet jy maak ook foute.

 As jy jou kind aanmoedig om vir jou álles te vertel (al is dit hoe sleg), moet jy jou reaksie (en jou gesigsuitdrukking!) reg hê as hy dit wel doen. As hy jou dalk skokkende goed vertel, kan jy nie dan oorreageer nie, want volgende keer sal hy dalk eerder jok of dit van jou weerhou.

DOENLYSIE

Erika stel voor:

 Kritiseer sy gedrag, nie vir hom nie.

 Jok hy weens te veel druk? Verminder dan die druk om met ander mee te ding. Of beklemtoon dat kompetisie met homself die belangrikste faktor is wat hom moet motiveer, byvoorbeeld: “Jy kon gister een bladsy van jou leesles lees, kyk of jy vandag twee kan doen in dieselfde tyd.”

 Maak seker jou kind weet hy is geliefd, hy word aanvaar en hy is in jou oë ’n sukses. Gee vir hom lekker verantwoordelikhede waaroor jy hom kan prys. Dit sal sy gevoel van sukses ’n hupstoot gee. Dis veral belangrik as sy leuens spruit uit ’n swak selfbeeld.

 Sluit ’n kontrak met hom om nie te jok nie. Omskryf aanvaarbare gedrag, sowel as hoe hy beloon gaan word. Belonings hoef nie altyd noodwendig tasbaar te wees soos speelgoed nie, dit kan iets insluit soos die lekker gevoel as hy die waarheid praat. Definieer ook wat is onaanvaarbare gedrag en die gevolge daarvan.

 Gee jou kind elke keer positiewe reaksie en erkenning as hy by die waarheid hou.

 Laat hy sy eie gedrag monitor, sodat hy bewus raak van sy gewoontes. Hy kan byvoorbeeld ’n merkie in ’n boekie maak as hy eintlik wou jok, maar tog by die waarheid kon hou. So dwing dit hom ook om verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar.

 Ruil rolle om. Vertel ’n verhaal van ’n kind met ’n soortgelyke probleem. Vra jou seun dan om die gevolge van die gedrag te beskryf en oplossings te bedink om die storiemaat te help. So kry hy meer insig in sy gedrag en kan hy begin fokus op moontlike oplossings.

 Gesels met hom oor hoe sy gedrag die ander gesinslede raak. Dit kan hom ook help om insig in sy gedrag te kry.

’n Ma se wenk

“Moenie strikke stel om hom te betrap nie. Dit vererger meestal die situasie.”

VRAAG 9

My man pendel al ’n jaar tussen provinsies. Soms is ek meer as ’n week lank ma én pa. My twee oudstes het ’n goeie band met hul pa, maar ons sesjarige seun wil niks met hom te doen hê nie. Dis amper lagwekkend – hy wurm homself letterlik tussen ons twee in! My man verlang baie na hom. Hy is so teleurgesteld as ons seun nie opgewonde is omdat hy terug is nie.

ANTWOORD

Dis glad nie so ongewoon dat dié mannetjie hom tussen julle probeer inwurm nie – Pa kom dan nou immers “inmeng” in jul verhouding!

Erika sê hierdie “wedywering” is doodnormaal as jy jul seun se ontwikkelingsfase in ag neem. So teen drie tot vyf jaar (neem in ag dis gemiddeldes, dit verskil van kind tot kind) leer ’n kind om al selfstandiger op te tree. Om te wedywer is deel daarvan: ’n Seun sal meeding met sy pa om Ma se aandag, en ’n dogter weer met haar ma om Pa se aandag. Dis natuurlik nie altyd so opvallend soos in julle geval nie, soms is dit baie subtiel. Boonop is jou seun gewoond aan jou onverdeelde aandag omdat jou man baie weg is. Jy is meestal die een wat hom versorg en tyd met hom deurbring.

Erika sê as jou man dié ontwikkelingsfase verstaan, sal dit vir hom makliker wees om nie jul seun se gedrag persoonlik op te neem of te oorreageer nie.

Onthou, as die mededinging eers oorwaai, vereenselwig ’n kind hom weer al meer met die ouer van dieselfde geslag. Kinders doen dan dinge wat tipies is van hul eie geslag – ’n seun sal saam met sy pa die kar was of ’n bal skop. Jou man hét ’n veeleisende werk, en dis vir hom moeilik om by al dié dinge uit te kom, maar met aandag en moeite kan hy hul verhouding versterk. Sien vraag 10.

MA SE DOENLYSIE

Erika se raad:

 Verduidelik saam met jou man aan jul seunskind waarom sy pa weggaan, wat hy daar doen en wat hulle alles gaan doen wanneer hy weer terug is.

 Hy kan dalk op sy ouderdom nog sukkel om die begrip tyd te verstaan. Maak dit eenvoudig, verstaanbaar en konkreet. As sy pa oor ’n week terugkom, trek byvoorbeeld saam met hom dae dood op ’n kalender. Dan kan hy al die dag of twee voor sy terugkoms opgewonde raak en ook geleidelik voorberei word op die afskeid. Koppel tydsverloop aan iets wat hy verstaan, soos: “As jy weer skooltjie toe gaan, kom Pappa terug.”

 Dis uitputtend om twee ouers se rolle te hanteer. Rus genoeg sodat jy kans sien vir die uitdaging. Probeer om nie voor hom negatief te wees oor jou ekstra verantwoordelikhede of omdat jou man weggaan nie.

 Gesinsrituele versterk die hele gesin. Doen ook ekstra moeite met die onderlinge verhoudings.

’n Ma se wenk

“Maak jou ‘afwesige’ man soveel moontlik deel van die gesin se doen en late; verwys na hom in jul gesprekke.”

VRAAG 10

Hoe kan ek as pa my verhouding met my jongste seun versterk as ek so baie pendel? Dit pla my dat hy my vrou bo my verkies, en haar aandag so opeis.

ANTWOORD

Begin deur tegnologie in te span.

Erika stel voor jy skype met jou seun sodat julle mekaar kan sien. Hy moet jou ook op sy eie kan kontak. Bel hom dikwels. Met jonger kinders werk meer gereelde en korter kontak. Maar moenie ontsteld wees as hy nie elke dag oor die telefoon wil gesels nie. Sulke kommunikasie is nog vir jonger kinders moeilik.

Maak ook vir hom ’n kort DVD vir dae wanneer hy verlang: Daarop kan jy vir hom nagsê of gesels oor die dinge wat julle saamdoen.

Erika sê dis belangrik om sy gedrag te probeer verstaan. “Maak ’n speletjie daarvan of ignoreer hom as hy jou vrou se aandag wil opeis.”

PA SE DOENLYSIE

As jy tuis is (soos naweke en vakansies) probeer soveel moontlik ononderbroke tyd saam met hom deurbring.

Erika se voorstelle:

 Gesels gereeld met hom, luister en weet wat in sy wêreld aangaan.

 Weet wie is sy maats, sy gunsteling-speelgoed en alles wat hom opgewonde maak. Doen dit saam met hom, veral dié dinge waarmee jou vrou nie so goed is nie. Bou ’n modelvliegtuig of skop ’n rugbybal saam.

 Betrek soms sy twee boeties sodat hy sien hoeveel pret dit is om saam te wees.

 Gebruik alledaagse geleenthede om jul verhouding te verstewig. Spring saam in die motor om te gaan petrol ingooi.

 Koop saam ’n sagte speelding wat hom troos as hy verlang. Sit ’n foto van julle twee langs sy bed.

’n Pa se wenk

“Skep ’n spesiale tuiskomsritueel vir julle twee. Ek en my seuntjie speel altyd ‘bakleiings’ – ons naam vir ’n vinnige stoei, of ’n jaagsessie deur die tuin met ons twee skaaphonde.”

Hoe gemaak met my dikmond kind?

Подняться наверх