Читать книгу Raaisels op Keurboslaan #5 - Theunis Krogh - Страница 3

1

Оглавление

’N NUWE SKOOLJAAR

Jong meneer Nieuwenhuis wens vanaand hy het sy aandpak saamgebring Keurboslaan toe. Doktor Serfontein, die hoof van die groot seunskool, lyk so deftig aan die eettafel. Hy is buitengewoon lank met breë skouers en sy klassieke gesig maak hom nog meer indrukwekkend.

Meneer Nieuwenhuis kan nie glo hy gaan vir ses maande een van hierdie bekende man se personeellede wees nie. Hy het aansoek gedoen en is genooi om op Keurboslaan te kom oornag sodat doktor Serfontein hom kan leer ken. Meneer Papenfus, wat lankal hier werk, is onlangs getroud en het nou ses maande verlof. Die jong onderwyser sal in sy plek waarneem.

Hierdie reëling pas Nieuwenhuis goed, want hy wil aan die verhandeling vir sy meestersgraad werk. Hy verstaan egter nie hoekom net hy genooi is om die pos te bespreek nie.

Is dit miskien omdat sy boetie, Fanie, ’n skolier hier is? Nee, dit kan nie wees nie. Fanie is gans te stout. Wat Nieuwenhuis nie besef nie is dat die hoof graag belowende jongmense soos hy help.

Daar is ook ander gaste: pa’s van seuns wat nuut in die skool is en spesiale probleme het.

Meneer Nieuwenhuis is byna te skaam om te eet, maar mevrou Serfontein, ’n pragtige vrou met goue hare, is nie so teruggetrokke soos haar man nie. Sy gesels met elke gas asof hy die belangrikste persoon in die wêreld is.

Ook aan tafel is Eugene Krynauw, ’n mediese student. Fanie het hom as die gaafste prefek van sy jaar beskryf, en vertel hoe hy as leerling reeds ’n besonderse band met die hoof gehad het. Hy was op Keurboslaan vandat hy agt jaar oud was, en is baie goeie vriende met die Serfonteins. Meneer Nieuwenhuis weet nie hoe enige gewone mens vriende met die hoof kan wees nie, maar Krynauw is hier aan tafel, soos ’n seun in die huis. Hy noem mevrou Serfontein boonop Helen. Sy is heelwat jonger as haar man, wie se sekretaresse sy voorheen was, en nie in jare soveel ouer as Krynauw nie.

Ná ete, toe almal vir koffie na die sitkamer gaan, kom ’n mooi elfjarige dogtertjie ingestap. Soos alles wat aan doktor Serfontein behoort, is sy vir die nuwe onderwyser interessant. Tessa is die hoof se aangenome dogter. Haar ouers is doktor Serfontein se broer Adolf en sy vrou Coralie.

Tessa gedra haarself vanaand besonder goed. Sy dra ’n wit rokkie en skoene, en haar krullerige hare is gevleg en op haar kop vasgebind, soos haar tannie Helen s’n ook gekam is. Haar groot grys oë onder die lang swart wimpers laat haar sag en onskuldig lyk.

Sy groet die gaste bedees en help koffie bedien. Krynauw vermoed egter onraad. Tessa is vandag gedwing om ’n uitnodiging van Sylvia Lambrecht, ’n senior personeellid se dogter, te aanvaar. Sylvia is baie delikaat, terwyl Tessa saam met die skoolseuns grootword. Die meisies het min vir mekaar te sê.

“Het jy die middag geniet, Tess?” vra Krynauw.

“Ja dankie, Gene,” sê ’n stroopsoet stemmetjie.

Doktor Serfontein se wenkbrou flikker net effens. Maar Krynauw is nuuskierig. Hy vertrou nie hierdie sedige gesiggie voor hom nie. “Wie was daar behalwe jy? Was dit ’n partytjie?”

“O ja. Daar was baie ander kinders. Gawie Jonker en …”

“Wat? Jou grootste vyand!”

“Dit was Sylvia se partytjie, en sy hou van hom. En …”

“Dis tyd om nag te sê, Tessa,” onderbreek haar oom. Hy voel sy het nou genoeg aandag gekry.

Sy gaan na hom toe. “Goeienag, oom Roelof,” sê sy soet. Sy lig haar gesig sodat hy haar op die voorkop moet soen.

Krynauw glimlag onderlangs. Hy weet die hoof hou nie van so iets in die openbaar nie. Tessa besef dit natuurlik goed. Dit lyk of mevrou Serfontein ook geamuseer is.

Sy soen die meisie hartlik. “Slaap lekker, my liefie,” sê sy.

“Mag ek na Josef gaan kyk?”

“Ja. As jy net kyk, sal jy hom nie wakker maak nie.”

Tessa sak op haar knieë neer langs Krynauw waar hy naby mevrou Serfontein op ’n lae rusbank sit. “Nag, liefste Gene!” sê sy en soen hom op sy wang.

“Nag, Tess.”

Hy staan op, maak die deur vir haar oop, en kom met ’n breë glimlag terug.

“Daar lui die telefoon in die studeerkamer,” sê mevrou Serfontein.

“Sal ek gaan antwoord?” bied Krynauw aan.

“Nee, toemaar. Dan sal jy my tog moet kom roep,” sê doktor Serfontein.

Die hoof is dankbaar vir hierdie kans om uit die geselskap te ontsnap. Hy is lankal uitgepraat.

Maar toe hy ’n vrouestem oor die telefoon hoor, frons hy.

“Mevrou Jonker hier,” sê die stem.

“Waarmee kan ek help, mevrou?” vra hy ysig.

Mevrou Jonker klink meer soos ’n neulerige skoolmeisie as ’n negejarige seun se ma. “Net omdat ons elf jaar gelede verloof was, en ék dit beëindig het omdat ek nie langer …”

“Is dit werklik nodig om dit nou te bespreek?”

Elf jaar gelede, gedurende sy eerste maande hier, het Dora Kock aan hom ‘verloof geraak’ deur eenvoudig vir almal op ’n partytjie te sê dit is so. Die hoof was te ordentlik om dit te ontken. Sy was mooi en bedorwe, en wou die ander meisies jaloers maak omdat sy die wonderlike nuwe skoolhoof gekry het.

Doktor Serfontein het besef Dora is meer kind as vrou en dat haar ambisieuse ma haar in haar kwaad sterk. Hy het haar daarom voorlopig laat begaan, en soveel moontlik by die skool weggekruip.

Oscar Wienand, wat nou sy swaer en sakebestuurder is, was destyds ’n toegewyde senior skolier en het hom gered deur eenvoudig vir Dora te sê die hoof, wat toe reeds besig was om sy eerste boek te skryf, gaan haar liefdesbriewe laat publiseer. Wienand het die briewe gesteel en dit vir haar gaan gee, op voorwaarde dat sy die verlowing beëindig. Die onwillige verloofde het baie van die briewe nie eens oopgemaak nie!

Dis te verstane dat die verhouding tussen doktor Serfontein en hierdie vrou hierna nooit gemaklik sou wees nie.

“Natuurlik is dit nie nodig om ons kastige verlowing te bespreek nie!” sê sy nou. “Wat ek wil sê, is dit. Net omdat ek jou huweliksaanbod jare gelede van die hand gewys het, is dit g’n rede om daardie afskuwelike Tessa aan te hits om my arme seun te verkleineer nie! As jy …”

“Wat het Tessa gedoen?” vra die hoof.

“Sy’t hom vandag by die Lambrechts se partytjie aanhoudend verspot laat lyk. Sy het hoër as hy in bome opgeklim en hom uitgelag en gesê hy is ’n sissie. Daarna het sy die seuns aan die boks gesit, en toe my Gawie se beurt kom en hy nie teen die ander seuns wou boks nie, het s´y teen hom baklei.”

“Het sy hom seergemaak?” vra die hoof met ’n hoopvolle klank in sy stem.

“Nee, en dis die ergste! Sy het nie aan hom geraak nie – en hy ook nie aan haar nie. Sy het so rondgespring dat hy haar nie kon bykom nie. Besef jy watse vernedering dit vir ’n trotse seun is?”

“Nee, mevrou. Die fyngevoeligheid en trots wat maak dat ’n seun teen ’n meisie boks, lê buite my ervaring. As jy dink dit sal van nut wees, sal ek Tessa beveel om in die vervolg stil te staan sodat hy sy trots kan red deur haar raak te slaan. Maar hier in ons gimnasium boks Tessa teen seuns, en sy weet seker nie wat om met jou kind te maak nie.”

Die sarkasme is, soos die hoof se skoliere sal sê, ver bokant mevrou Jonker se kampeerterrein.

“Daar’s nog iets!” neul sy verder. “Sy het haar rok uitgetrek en die ander seuns het dit vir my Gawie aangetrek!”

Die hoof glimlag selde. Dis jammer niemand is hier om hom nou te sien nie. “Verskoon my, mevrou. Ek kan jou ongelukkig nie verder help nie,” sê hy en sit die foon neer.

Doktor Serfontein vertel niks hiervan wanneer hy terug sitkamer toe gaan nie.

Later, toe die gaste wat hier oornag na die gastekamers in die skoolgebou geneem word, gaan hy na die tweede verdieping en klop aan sy vrou se deur. ’n Lig skyn onderdeur, maar toe hy geen antwoord kry nie, stap hy weg.

“Helen is nie in haar kamer nie,” sê Krynauw wat agter hom by die trap opgekom het. “Sy is ondertoe om Josef se tienuur-bottel reg te kry.”

“O dankie.” Hy gaan by die kamer in.

Toe sy vrou met die warm bottel inkom, staan hy effens oor die wiegie gebuk. Hy hoor haar sykamerjas ritsel en kom haastig regop.

Sy bedwing ’n glimlag. “Soek jy my?” vra sy.

“Ja. Daar is weer klagtes oor Tessa.”

Sy het die baba intussen opgetel en sit hom so skielik in haar man se arms dat hy nie kan padgee nie.

“Hou jou seun vir ’n oomblik vas en maak hom wakker sodat ek vir hom sy kos kan gee.”

Die hoof is ongemaklik, maar doen sy bes.

“Jy is baie goed met die baba,” sê sy vrou. “Ek moet jou meer vra om te help.”

Sy praat soos altyd skertsend met hom, maar haar groen oë het ’n sagte uitdrukking. “Wat het Tessa nou weer aangevang?” vra sy.

“Sy het ’n gek van mevrou Jonker se seun gemaak.”

“Het die ma jou gebel?”

“Ja.”

“Weet jy sy en Coralie is groot vriende?”

“Dit verbaas my nie.”

Die hoof dink nie baie van sy broer Adolf se vrou nie. Sy het haar eie dogtertjie so te sê weggegooi, bloot omdat Tessa nie ’n seun is nie. Toe doktor Serfontein die meisie wou aanneem, het sy dit net so toegelaat en ’n paar maande later ’n veertienjarige seun aangeneem. Coralie hou ewe min van haar swaer. Hy het haar man immers omgepraat om hier te kom skoolhou … by hierdie skool wat sy “the last jumping-off place” noem. Sy weier volstrek om Afrikaans te praat.

Mevrou Serfontein paai haar man nou. “Coralie se selfsug is haar grootste vyand. Dit maak dat niemand van haar hou nie. Maar sy’t baie verbeter vandat sy vir Tonie het. Hy is ’n liewe kind.”

“Ek is nie so seker dis goed vir die seun nie, maar hopelik het sy nie ’n slegte invloed op hom nie. Adolf is gans te sag met Coralie.”

“Hy is lief vir haar. Ek verstaan dit nie, maar so is dit.”

“’n Mens moet selfs jou eie vrou nie meer as jou eer liefhê nie.”

Helen kyk stip na hom terwyl sy die kind neem. In die diepte van haar groen oë lees die hoof haar wete dat selfs hy eenkeer baie op die spel sou geplaas het vir die liefde van die Russiese sangeres wat verkies het om met sy vriend, die pianis Arthur Spaulding, te trou. Die vrou se dood het hom geestelik geknak, maar hy het hier op Keurboslaan herstel, danksy ’n hegte vriendskap met die skool se vorige eienaar, meneer Schoonbee. Daarna het doktor Serfontein die nou beroemde skool opgebou.

Die hoof bloos nie, want dis nie sy geaardheid nie, maar die spiere in sy ken word styf.

Sy vrou glimlag skielik en laat haar hand vir ’n oomblik op sy skouer rus. Hy neem dit en druk dit teen sy lippe. “Ek is jou meer as dankbaarheid verskuldig,” sê hy.

Die hoof gaan uit om nog ’n lang skof aan sy nuwe roman te werk. Die feit dat sy peetpa vir hom ’n fortuin nagelaat het, keer nie dat hy hard werk nie. Skryf is in elk geval nie vir hom werk nie. Dis sy passie.

Meneer Nieuwenhuis kom eers laataand terug by die huis. Hy het soveel om vir sy ouers te vertel dat hulle byna die hele nag deur gesels. Nadat hy opgewonde alles van die kosskool en pragtige omgewing vertel het, is hulle net so gelukkig soos hy.

“Dis wonderlik dat oom Hennie vir Fanie betaal om daar skool te gaan,” sê sy pa. “Ek wens ons kon dit vir jou gedoen het, Herman. Maar die oom was altyd geheg aan Fanie.”

“Ek was baie gelukkig hier by die huis,” troos die jong onderwyser.

Sy ouers glimlag waarderend.

“Wel, ek sal nou seker vir Fanie moet vertel.”

“Hy sal baie soet wees met jou daar … Ek weet dit,” sê mevrou Nieuwenhuis met ’n optimisme wat totaal ongegrond is.

Meneer Nieuwenhuis vertel die nuus die volgende oggend vir sy boetie. Hulle is in sy kamer waar hy van sy goed begin inpak. Fanie sit op die bed en swaai sy lang, dun bene heen en weer.

Sy sproetgesig onder die ligte hare is buitengewoon ernstig.

“Jy kom na ons toe … Dit kan nie wees nie,” sê Fanie.

“Hoekom nie? Jy’s verniet bang ek sal hier by die huis op jou kom klik.”

“Ek’s nie bang daarvoor nie, man.”

Sy broer verstaan die gedagte agter die bot antwoord.

“So jy was daar toe niemand my wou sê waar jy is nie. Wat dink jy van doktor? Was hy vriendelik met jou?” vra Fanie.

“Baie. Maar hy maak ’n mens op jou senuwees sonder om dit te bedoel, net die manier hoe hy daar aan tafel sit en na alles en almal luister, maar skaars ’n woord sê. Krynauw is baie tuis daar. Hy’s ’n gawe ou. Hy en Helen het doktor geterg omdat die filmster, Robert Markham, niks van hom wil weet nie, en hy’t ewe koel en kalm gebly.”

“Wat? Wat het Robert Markham met doktor te doen?”

“Onthou jy hulle’t laas week in die koerant gesê Markham gaan volgende maand in lewende lywe daar wees wanneer sy nuwe fliek vrygestel word?”

“Natuurlik onthou ek.”

“Wel, Krynauw vertel my later daai man en doktor het in Engeland saam gestudeer, maar toe die Serfonteins laas in Amerika was en doktor weer vir Markham wou sien, het sy agent botweg geweier. Hy besef seker nie wie en wat doktor nou is nie, al dog ek byna die hele Amerika weet hy’t die Maxim-fortuin geërf.”

Fanie se oë blits. “En daai vent wil hiernatoe kom!” sê hy vererg. Hy spring op en loop deur toe.

“Waarheen gaan jy?”

“Nêrens.”

Fanie loop in sy ou sweetpakbroek en gelapte hemp met sy hande in sy sakke straataf. Wat sal die hoof sê as hy een van sy leerlinge só sien? Wat sal hy sê van die kinders saam met wie Fanie die res van die oggend deurbring?

Hulle is die taaiste seuns in die minder gegoede buurt wat aan die Nieuwenhuise se voorstad grens. Hulle ken Fanie as ’n seun wat meer beskaafd as hulle is, maar hom nie beter hou nie. Hy gee dikwels vir hulle van sy lekkers, en selfs van sy sakgeld. Die seuns kry hom jammer dat hy in so ’n deftige, bekende kosskool is. ’n Mens kry glo slae daar. As ’n onderwyser hier dit waag, sal die seuns se pa’s en ouer broers die skool stormloop!

Toe Fanie hulle vandag vra om iets vir hom te doen en belowe om hulle daarvoor te betaal sodra hy sy verjaardaggeld kry, stem hulle in. Hulle weet hy sal woordhou.

Die res van die oggend werk almal aan ’n plan van aksie.

Die vakansie is vinnig verby en ná die uitpakkery op skool hardloop al die seuns na die waterkuile. Fanie roep sy spesiale vriende op die rotse bymekaar. Hy vertel vir hulle wat hy gehoor het, en hoe die kastig beroemde meneer Markham op sy plek gesit gaan word.

Die hele bende is hier: Bertrand Spaulding met sy silwerblonde hare en vonkelende, spottende oë; Flip Venter, ’n gesonde seun met bruin oë en ’n snaakse neus; Neels Pieterse; Dollie Combrink; Snyman wat verwag om met respek behandel te word omdat sy suster Annabelle met die hoof se broer dokter Martin Serfontein getroud is; die slaperige Koos Krige; die stil, groot Wentzel Elsenach met sy rooibruin hare; Tonie Wilke, die aangenome weeskind; Geer, ’n skraal sestienjarige met dromerige blou oë wat jare lank reeds die bende se leier is; Breda; Bezuidenhout en nog ’n hele paar. Die bendelede verskil heelwat in ouderdom, maar nie wat deursettingsvermoë betref nie.

“Jammer ons kan nie self daar wees nie!” sê Bertrand wie se stem nie meer ’n spoor van ’n Engelse aksent verraai nie. “Dis nie genoeg om die vent met vrot tamaties en eiers te gooi nie. As ék daar kan wees, sal ek hom met my buikspraak nog tien keer meer simpel laat lyk.”

“Sal ons hoor wat gebeur het … Ás dit ooit gebeur?” vra Flip.

Hy verafgod doktor Serfontein wat soveel vir hom gedoen het, en geen straf is volgens hom te kwaai vir iemand wat die hoof nie ordentlik behandel nie.

“Ons sal dit in die koerante lees,” sê Fanie seker van sy saak.

“Kyk, hier kom die uitverkorenes!” sê Bertrand.

Vanjaar se prefekte was lank besig by die koshuis en kom nou eers by die kuile aan. Almal is stewige kêrels, danksy al die sport waaraan hulle hier op Keurboslaan deelneem.

Die jonger seuns kyk hulle met respek aan terwyl hulle verbyloop: Piet Kannemeyer, Rools Lategan, Meyer Bruwer, Hannes Nolte, Hektor Strydom, Paul Kreft en Gerard Bornmann.

Almal wonder hoe Bornmann as hoofseun gaan vaar. Sy broer wat ’n paar jaar gelede ook hoofseun was, het hom buitengewoon goed van hierdie taak gekwyt. Gerard het miskien nie so ’n sterk persoonlikheid nie, maar hy is pligsgetrou en slim, en onder sy leiding behoort dinge glad te verloop.

“Swem julle kêrels dan nie?” vra hy vir Geer-hulle.

“Een van die dae!”

“Spring nou in, of gaan trek aan. Die windjie raak koud. Ons wil die jaar nie met verkoues begin nie. Dan verwaarloos julle weer julle sport.” Hy bly staan om te sien of hulle na hom luister.

Die seuns doen dit maar.

Toe hulle later weer warm aangetrek is, kom hulle saam by die koshuisgebou uit. Die bendelede is nooit ver van mekaar af nie. ’n Mens weet nooit wanneer jy hulp nodig kry nie.

Bertrand gaan sit met sy trekklavier op die trap wat na die groot voordeur lei, en speel deuntjies terwyl die ander saam fluit of neurie. Hy het met die hoof se hulp ’n goeie dansorkes gestig en die skool is trots daarop. Baie van die lede speel ook in die simfonie-orkes wat die bejaarde meneer Beunk met soveel geesdrif lei.

“Kyk!” sê Flip skielik. “Daar kom Tessa, en dit lyk of sy begrafnis toe gaan.”

Tessa groet almal, vaag en afgetrokke, en stap stadig en bedruk verby.

In plaas van haar gewone seunsagtige klere, dra sy nou ’n netjiese rokkie en haar hare is gevleg.

Bertrand glimlag geamuseerd. Hy geniet haar toneelspel.

Hy loop met trekklavier en al na haar toe. “Wat nou?”

“Moenie met my praat nie,” sê sy. “Ek mag nooit meer iets met julle te doen hê nie.”

“Hoekom nie?” vra Geer.

“Oom Roelof sê ek mag nie meer met seuns speel of seunsklere dra nie. Ek gaan miskien kosskool toe gestuur word. As straf omdat ek teen daai nare Gawie Jonker geboks het en die ander seuns hom uitgelag het …”

“Watter Gawie Jonker is dit?” vra Geer.

“Die mense met die groot plaas anderkant die dorp se seun,” vertel Bezuidenhout. “Hy’s so bederf, dit maak ’n mens siek. My oom en tannie wat daar naby bly, is bang as hy met hulle seuns kom speel, want hulle wil hom in stukkies opkerf.”

“Hy moet baie simpel wees om teen ’n meisie te boks – ja, ek weet ons eie kleintjies boks teen Tess, maar dis anders – en dan ook nog by sy ma te gaan tjank. Het hy nie ’n pa wat hom kan foeter nie?” vra Geer.

“Ja. Tannie Helen sê hy is gaaf, maar hy is baie weg met verkiesings en goed, en hy dink Gawie is maar so omdat hy nog klein is,” sê Tessa.

“Toemaar, ons staan by jou,” sê Bertrand. “Ek sal ’n plan maak, al weet ek nog nie wat nie. Die Jonkers gaan jammer wees hieroor!”

Raaisels op Keurboslaan #5

Подняться наверх