Читать книгу Raaisels op Keurboslaan #5 - Theunis Krogh - Страница 5

3

Оглавление

KONSERT OP DIE DORP

Die klas waar die hoof nou lesgee, bestaan uit ses matriekseuns wat later teologie wil studeer en daarom Grieks moet leer.

Vanoggend waag niemand dit om ’n woord te sê nie. Almal wens hulle het meer tyd aan hulle vakansietaak bestee. Afgesien van hulle werk, is die hoof vanoggend allesbehalwe lus vir hulle geselskap.

“Hy lyk of hy heelwat kan sê, maar dit vir later bêre,” sê Lategan toe die periode uiteindelik sonder ’n doodsvonnis verby is. “Ek wonder wat makeer?”

“Jy hoef nie te wonder nie,” sê Bornmann. “Hy begin uitvind van gisteraand se dinge.”

“As dit die begin is, wat gaan die einde wees?” vra Kreft.

“Maar ons het niks gedoen nie,” kla Strydom. “Hulle het uitgekom terwyl ons geslaap het …”

“In hierdie skool mag prefekte mos nooit slaap nie,” sê Bornmann bitter.

Elfuur daag die hoof nog steeds humeurig in die personeelkamer op. Dis vol onderwysers wat byna almal skielik in hulle eie klere probeer wegsink.

Die hoof neem ’n koppie tee by meneer Dempers, maar lyk nie of hy dit wil drink nie. Hy antwoord met een of twee kort woorde as iemand vir hom iets vra. Net Adolf Serfontein laat hom nie ontstel nie. Hy gaan staan met sy koppie voor ’n venster om die natuurskoon te bewonder.

Meneer Serfontein het ’n sin vir humor, soos sy hele familie. Hy weet sy broer wil met hom praat, maar terwyl hy met sy rug na die vertrek staan, kan hy hom nie nader wink nie.

Die hoof is uiteindelik verplig om langs hom te kom staan.

“Dit bly maar ’n pragtige uitsig hiervandaan,” sê meneer Serfontein sonder ’n glimlag.

“Is jy besig ná pouse?” vra die hoof kortaf, sonder om na die landskap te kyk.

“Ek probeer my salaris verdien, ja.”

“Ek bedoel, het jy dan ’n vry periode,” sê die hoof koud.

“’n Pligsgetroue onderwyser beskou sulke periodes nie as vry nie. Daar is altyd boeke om na te sien.”

“Ek twyfel nie aan jou ywerigheid nie,” kom dit nog killer. “Ek wou met jou praat, as jy tyd het. So nie moet dit tot later wag.”

“Nee, dis in die haak. Ek is toevallig nou beskikbaar. Moet ek in die studeerkamer verskyn?” vra meneer Serfontein sonder ’n sweem van spot.

“Ons kan hier bly,” antwoord die hoof stroef.

Sy broer knik.

Dan sê die hoof hard sodat almal kan hoor: “Meneer Nieuwenhuis, ek wil jou graag ná pouse spreek.”

“Reg, doktor,” sê die jongman, en hoop sy stem bewe nie.

Almal gee vinnig pad en laat die nuutste onderwyser agter by die hoof en sy broer, wat bemoedigend na hom kyk.

“Vertel my asseblief wat gisteraand hier gebeur het,” vra die hoof.

“Dit was maar net die gewone woeligheid van ’n eerste nag,” sê meneer Serfontein. “Nieuwenhuis het dit gou onder beheer gekry.”

“Watter metodes het jy gebruik?”

“Ek het geweet van die seuns is uit hulle kamers en die ligte was dood. Toe sluit ek die deure om die oortreders te betrap,” verduidelik die jong onderwyser.

“Dit sou beter gewees het om tot die oggend te wag en dan te vra wie die kamers verlaat het. Die skuldiges sou hulle kom aanmeld het.”

Meneer Nieuwenhuis is skielik te kwaad om versigtig of bang te wees. “Ek sê mos die hoofskakelaar was af. Alles was pikdonker. Moes ek hulle gelos het sodat hulle die hele nag kon lawaai?”

Hy verwag ’n bevel om onmiddellik sy tas te gaan inpak, maar tot sy verbasing sien hy ’n geamuseerde kyk tussen die twee ouer mans, en dan iets wat soos goedkeuring lyk.

“Hoekom het hulle so lawaai, om jou woord te gebruik?” vra die hoof, minder gevaarlik as vroeër.

“O … Hulle wou my maar net ’n bietjie ontgroen.”

Dis asof die hoof verstaan dit gaan hier oor ’n belofte, en hy laat dit maar daar.

Hoe kom ’n mens met so iemand oor die weg, vra die jongman homself af. Hy is nie twee sekondes ná mekaar dieselfde nie.

Meneer Serfontein kom hom op sy rustige manier te hulp. “Nieuwenhuis was verstandig genoeg om te besef hy ken nog nie al ons reëls nie. Hy het gewag om my te raadpleeg voor hy ’n besluit geneem het.”

“En het jy toe besluit om die saak nie aan my te rapporteer nie?”

“Nog nie, maar ek sou miskien.”

“Aangesien een van die jongste seuns hierdeur geraak is, kan ek die saak nie ligtelik afmaak nie. Al die seuns wat betrokke was, met uitsondering van die juniors, kom vanaand na die studeerkamer.”

Met ’n knik van sy kop stap die hoof by die vertrek uit.

“Ontspan,” troos meneer Serfontein die nuwe onderwyser. “Dis maar net een van sy Jupiterdae.”

“Wat beteken dit?”

“Dit was Krynauw se woord vir wanneer my broer so buierig raak … Die hoof het lankal van jou vergeet. Die seuns gaan dit nou ontgeld.”

Dit is inderdaad so. Dit bly ’n besonder onaangename dag, en teen die aand word daar op die klassieke manier straf uitgedeel. Al die skuldiges onder sestien kry ’n goeie pak. Die groteres kry soveel uitskryfwerk dat hulle die slae sou verkies het – en daarvoor sou gevra het as hulle dit kon waag om met die hoof te praat.

Lyfstraf is onaangenaam terwyl jy dit kry, maar ’n mens vergeet dit vinnig, en Tonie Wilke dink nie meer daaraan toe hy die volgende middag huis toe hardloop om by sy aangenome ma te gaan inloer nie. Hy noem meneer Serfontein “oom Adolf”, maar mevrou Coralie is “Ma”. Dit bring ’n lig in haar oë, en Tonie is die enigste mens met wie sy Afrikaans praat, al is sy Engels so goed soos hare.

Vandag het hy toestemming gevra om te kom kuier, so sy gewete is skoon. Coralie is baie bly om hom te sien, want sy hou vanmiddag ’n teepartytjie, en sy is trots op Tonie se goeie voorkoms en maniere. Hy help haar altyd mooi, veral omdat hy vooraf in die kombuis soveel kan eet soos hy wil.

Die dames wat in die deftige wit huis (die hoof se geskenk aan sy broer) onthaal word, kyk goedkeurend na hulle gasvrou se aangenome seun. Sy sal nog baie vreugde uit hom kry, vertel hulle vir mekaar.

Tonie vind hulle interessant. Hy is lief vir die mensdom, en nie skaam nie.

Hy dink Dora Jonker is baie mooi, maar enige seun van vyftien sal gril vir die manier waarop sy van haar seuntjie praat.

Klein Gawie is volgens haar op alle gebiede buitengewoon. Hy is nooit stout soos ander seuns nie. Hy is dolgelukkig as hy vir sy mammie kan sit en lees terwyl sy handwerk doen of sy kleertjies heelmaak.

Tonie frons en dink aan die uitbundige negejariges op Keurboslaan. Hulle kan skaars vir ’n oomblik stilsit.

“Jou Gawie sing ook soos ’n engel!” dweep ’n dame wat wil inkruip by die “Kock-Jonker-rykmansnes”, soos Tonie die families noem.

“O ja! Dis nie omdat hy my kind is nie, maar toe hy onlangs op Ermelo ‘Daddy’ gesing het, was almal se oë vol trane,” vertel mevrou Jonker.

Die skoolseuns het al meer as een keer van hierdie twyfelagtige prestasie gehoor.

“Lay your head om my shoulder, Daddy; Turn your face to the West; For you’ve been eating onions, Daddy; A thing you know I detest!” koggel Tonie ingedagte en amper hardop.

Arme Coralie skrik haar byna dood, maar gelukkig het mevrou Jonker dit nie gehoor nie.

“Hy gaan juis weer volgende Woensdag by die verskeidenheidskonsert voordra,” spog sy verder. “Die arme kind, dis nie altyd maklik om so talentvol te wees nie. As ek nie keer nie, sal hy elke aand van die week iewers optree.”

Dit raak nou te veel vir Tonie. Gawie is ’n oulike outjie wat kan wysie hou en sy versies mooi opsê, maar hy is niks besonders nie. Denzil Thiessen, wat regtig pragtig sing, maak nie ’n bohaai oor sy talent nie. En Dewald, die belowendste swemmer wat die sportonderwyser nog geken het, is beskeie. Dis jammer mevrou Jonker stuur haar oogappel nie na die hoof se skool nie. Hy het seunsmaats nodig.

Tonie is eintlik bly toe dit tyd is om te groet. In die hardloop, kyk hy na die omringende berge, die waterstrome wat soos silwer kettings om die dorp loop, en dan hoër op na die kerk teen die heuwel. Nou kom hy by die laan wat van die dorp na die skool lei. Die bome strek hulle lang arms ver bokant hom uit. Hierdie laan is ’n gepaste poort na die indrukwekkende skoolgebou waarop dit uitloop.

Terug by sy maats verdwyn Tonie se sensitiewe bui en hy is weer pure seun.

“Watter nuus bring jy uit die grootmenswêreld?” vra Bertrand toe hy by die seniors se sitkamer inkom.

“Niks. Die huis was vol vrouens. O ja, daar’s Woensdagaand weer ’n konsert. Dis ongelooflik hoe baie ons dorp konsert hou vandat mevrou Jonker voorsitter van die Kultuurvereniging is.”

“Hoe word iemand soos sy voorsitter?” vra Breda. “Sy’s nou wel mooi, maar …”

“Sy’s nog tien keer meer vasberade as mooi,” sê Bertrand. “Hulle sê doktor het destyds gesukkel om van haar ontslae te raak.”

“Waar jy darem alles uitsnuffel!” spot iemand.

“Toe ons ouens nog net ’n vonkel in ons ouers se oë was, was sy vir ’n ruk aan hom verloof en …”

“Hou op met jou gevaarlike geskinder!” raas Geer.

“Luister, ek is oorsee in kunstenaarskringe grootgemaak. Daardie mense verstaan nie julle oordrewe konserwatiewe maniertjies nie.”

“Hulle verstaan ook nie die basiese beginsels van ordentlikheid nie,” kap Geer terug.

Bertrand is glad nie beledig nie.

“Toemaar,” keer Tonie. “Almal weet hoekom mevrou Jonker gesorg het dat sy die voorsitter word. Dis sodat sy daai kind van haar elke vyf minute kan laat voordra.”

“Wat makeer haar man dan?” vra Geer. “Hy’s ’n gawe ou. Ek het gehoor hy was ’n goeie bokser.”

“Hy’s te veel van die huis af weg,” sê Tonie.

“Ek sou ook as ek met daardie vrou getroud was!” sê Bertrand.

Hy sleep sy lang lyf van die vensterbank af en begin sy boeke soek.

Die hoof bly maar buierig terwyl sy manuskrip nie vorder nie. Selfs teenoor sy vrou en Krynauw, wat getrou elke moontlike naweek opdaag, is hy effens styf, asof dit hulle skuld is dat hy sy werk so lank moes verwaarloos dat dit nou moeilik is om weer aan die gang te kom.

Arme Tessa kry die swaarste. Hy is op die oomblik onregverdig streng met haar.

Toe hy haar een middag saam met ’n paar van die seuns sien, berispe hy haar so kwaai dat sy histeries begin huil en haar tannie lank sukkel om haar te kalmeer.

Dis waar, Tessa is belet om met die seuns te speel, maar geen redelike mens sal haar vir ewig straf oor wat sy aan Gawie Jonker gedoen het nie. Ongelukkig is doktor Serfontein nie altyd redelik nie.

Almal weet teen hierdie tyd van Tessa se probleem. Sy laat niemand toe om dit te vergeet nie. Die hele skool besluit daar moet “iets” omtrent die Jonker-kind gedoen word.

Toe die seuns hoor die hoof het ’n uitnodiging na die verskeidenheidskonsert gekry en dit namens hulle aanvaar, besluit hulle om die kans aan te gryp. Dis moeilik om te sê hoe hulle vir Gawie voor al die dorpsmense en sy familie ’n les gaan leer, maar Bertrand neem die leiding, en dan kan jy enigiets verwag.

Bertrand Spaulding beskik oor meer verborge talente as die gemiddelde skoolseun. In Europa en Rusland, die land van sy ma se herkoms waar hy dikwels lang vakansies deurbring, het hy baie dinge geleer, onder andere buikspraak.

Niemand sal vanaand raai wat in sy kop aangaan terwyl hy saam met die ander seniors by die dorpsaal instap nie. Hy en sy vriende wat saam met hom in een ry sit, is almal netjies uitgevat. Keurboslaan Seunskool is regoor die land bekend, en almal verwag onberispelike gedrag van die skoliere.

Bertrand kyk rond. Dan stamp hy met sy elmboog aan Tonie.

Mevrou Jonker sit saam met haar ma en haar seuntjie, net skuins voor die seuns. Die negejarige Gawie het ’n opgewekte gesig met ’n breë, vriendelike mond. Dis net jammer hy dra ’n wit matroospak en wit kouse en skoene. Om alles te kroon is sy krullerige hare nie net ver te lank nie, maar ook geolie en gegolf.

“Simpelgeit!” snork Geer.

“Arme klein pes,” sê Flip wat agter hom sit.

“Arm se voet,” sê Neels vies. “As my ma my boetie so aantrek, gaan rol hy in die modder!”

“Jou ma is nie mevrou Jonker nie,” sê Flip.

“Dis reg,” sê Tonie terwyl hy agteroor leun. “Een keer by ons huis wou hy iets doen wat sy nie wou toelaat nie, toe sê sy: ‘Gawie! Wil jy Mamma laat huil?’ Die outjie het asvaal geword en dit maar gelos.”

“Dan laat ek my liewer morsdood slaan,” sê Flip.

’n Paar mense dra gedigte voor. Twee dames speel ’n klavierduet en twee ander sing solo’s.

Die seuns verdra dit sonder om uiterlike tekens van lyding te wys. Die hoof leer hulle om nooit afbrekend met kritiek te wees nie.

“Selfs die Taj Mahal,” het hy eenkeer gesê, “kan deur ’n geestelik minderwaardige persoon met ’n pik gesloop word as hy net genoeg tyd het.”

Daarom bedwing die seuns hulle vanaand so goed hulle kan en klap beleefd hande, al is dit allesbehalwe geesdriftig.

Toe Gawie Jonker vorentoe stap, is daar egter tekens van rusteloosheid onder die skoliere.

Gawie lyk heeltemal gelukkig op die verhoog. Hy is nie bang of skaam nie. Hy ken al die tannies in die gehoor; elkeen van hulle het op een of ander tyd al vir hom gesê hy is ’n skattige kind. Hy is seker hulle sien uit na sy voordrag, want sy ma het hom oortuig sy wonderlike talent verskaf groot vreugde. Hy kug sag om sy stembande los te maak en vou sy hande plegtig voor hom op ’n manier wat die seuns byna laat uitbars van die lag.

Bertrand is egter besig om vinnig te skryf. Hy vra kort-kort vir Tonie nog ’n vraag oor die een of ander lid van die gehoor na wie hy met ’n kopbeweging wys.

Dan begin Gawie voordra.

Maar in plaas van sy suiwer sopraanstem wat almal so goed ken, kom daar ’n gebroke seunstem oor sy bewende lippe. Gawie staan daar en hap na lug nes ’n makou wat verkeerd gesluk het, soos Bertrand later sou sê.

“Kyk, daar sit ou tannie Meintjies! Waar is al haar kleintjies?” sê die kind se lippe.

Mevrou Meintjies is bleek van woede. Dis waar dat sy agt kinders het, en sy dink self dis te veel, maar Dora Jonker gaan boet vir hierdie onsmaaklike grap!

Gawie se ma maak wilde handbewegings na die verhoog. Sy is te verlam van skok om op te staan.

Is haar seuntjie die kluts kwyt?

Die stem dra verder voor. “Langs haar sit mevrou du Toit. Lyk sy nie fraai nie? So mooi!”

Mevrou du Toit lag hartlik. Dis goed om te hoor jy lyk mooi as jy reeds tagtig jaar oud is.

Nie een van die ander dames lag nie. Elkeen wonder wanneer haar beurt gaan kom.

“En daar sien ons moeder Dyer. Sy word by die dag net kwaaier!”

Mevrou Dyer spring op, gee vir mevrou Jonker ’n vyandige kyk, en stap kop in die lug by die saal uit.

Gawie staan verslae op die verhoog. Sy ma en ouma is verpletter.

Maar die seuns weet presies na wie om te kyk … Bertrand!

Meneer Nieuwenhuis onthou te laat wat Fanie hom van sy vriend se buikspraak vertel het. Hy sien al die jonger seuns sukkel om hulle lag in te hou, maar die prefekte lyk boos.

Bornmann leun terug en fluister vir Bertrand. Bertrand haal sy skouers op en ontspan.

Gawie het intussen na sy ma gevlug. Hy snik teen haar bors.

Mevrou Jonker onthou ná ’n rukkie skielik die groot blonde seun het gehore al by skoolkonserte met sy buikspraak vermaak. Sy was nog nie self by een nie, maar sulke nuus versprei vinnig op ’n klein plekkie soos Keurboslaan.

Haar gesig, wat gewoonlik mooi is, is presies die teenoorgestelde toe sy meneer Nieuwenhuis ná die konsert buite stormloop.

“Sê vir doktor Serfontein sy plan om my deur middel van my kind te verneder gaan nie werk nie. Hy gaan dit berou. Wag net tot môre!”

“Wat ook al vanaand hier gebeur het, doktor Serfontein weet niks daarvan nie, mevrou.”

“Jy kan my niks van daardie man vertel nie. Ek ken hom al jare!”

Meneer Nieuwenhuis vervies hom bloedig en stap liewer weg.

“Is jy Spaulding?” vra hy vir die seun wat hom half spottend, maar goedig aankyk.

“Ja, meneer.”

“Hoe kon jy dit aan daai klein seuntjie doen?”

“Daai kastige klein seuntjie moet ’n les leer, meneer. En sy mammie ook.”

“Jy is die een wat ’n les moet leer. Waar’s jou maniere en respek vir jou skool? Ek rapporteer jou môreoggend aan die hoof.”

Bertrand haal sy skouers op.

Toe Bornmann die volgende aand die sitkamer se deur oopmaak, hou Bertrand hom net so ongeërg dop.

“Spaulding!” beveel die hoofseun.

“Met ’n glimlag op sy vasberade lippe gaan die dapper held sy einde tegemoet!” sê Fanie dramaties toe hulle vriend weg is.

“Hy het nie geglimlag nie!” sê Tonie ontsteld.

Mevrou Serfontein sit op die stoep in die donker toe Bertrand by die huis opdaag nadat Bornmann reeds in is.

“Is dit jy, Bertrand?” keer sy hom toe hy ook om die huis na die voordeur wil stap.

“Goeienaand, mevrou,” sê hy.

Al is hy gewoonlik so wêreldwys en half snedig, gedra Bertrand hom in haar geselskap altyd natuurlik. Helen verstaan die seun en hou van hom. Sy probeer ook soms om deur hom meer van sy ma uit te vind.

Mevrou Serfontein het ’n gesonde strepie jaloesie in haar, en wonder soms of haar man nie ook na oorlede Wanda Svoboda in die seun soek nie. Hy was werklik aan haar verloof, nie soos aan mevrou Jonker nie. Hoekom die sangeres toe met sy vriend, die pianis Spaulding, getrou het, is iets wat niemand ooit sal verstaan nie.

“Wat hoor ek weer van jou?” vra mevrou Serfontein verwytend.

“Ek was ’n ware ridder! ’n Dame is te na gekom, en ek het haar eer verdedig.”

“Jou Afrikaans is werklik verbasend, ná net twee jaar hier by ons … Jy bedoel natuurlik Tessa. Hoe sal jou optrede teenoor mevrou Jonker vir Tessa help?”

“Dit sal Tessa minstens laat beter voel.”

“Maar nie vir jou nie. Doktor is baie kwaad.”

“Ja, ek verwag dit.”

“Jy is verniet jammer vir Tessa. Sy word by die dag stouter, en jy ook. Julle kort elkeen ’n pak slae.”

“In my geval gaan mevrou se wens binne ’n paar minute waar word.”

Bertrand groet haar vriendelik en loop om na die voordeur.

“Waar bly jy so lank?” vra Bornmann. “Doktor wag lankal. Maar hy’s nie nou daar nie. Hulle het hom na sy perd toe geroep. Iets is verkeerd. Gaan wag solank binne.”

“Reg. Tot siens.”

“Sê liewer vaarwel.”

Die staanlamp brand dof in die studeerkamer.

Bertrand trek die deur toe. Hy staan vir ’n oomblik stil en geniet die rustige atmosfeer wat die donker, ryk kleure van die matte en gordyne, die glansende vloer en mooi meubels skep. Dan gaan hy na die groot musiekstelsel in die hoek van die vertrek. Die hoof was besig om na ’n musiekstuk van Delius te luister, sien hy. Hy weet die hoof het ’n groot voorliefde vir hierdie komponis wat blind, doof en verlam was.

Bertrand is besonder musikaal, al wy hy sy talent aan moderne dansmusiek, deels om sy pa te tart. Hy skakel die radio aan en stel die volume sag. Die gevoelvolle klank en harmonie van die snaar-instrumente kalmeer die onrustigheid wat hy so goed vir almal wegsteek. Hy kom hurk voor die luidspreker en sy gesig verloor alle tekens van astrantheid.

Die hoof tref hom so aan toe hy ’n rukkie later van die stoep af instap.

Bertrand staan op, maar met ’n handbeweging wat vra dat die musiek nie onderbreek moet word nie.

Doktor Serfontein knik. Hy kom stil langs hom staan.

Die een kant van die plaat is maar ’n klein gedeelte van die volledige werk. Bertrand sug sag toe dit verby is.

“Jammer ons kan dit nie klaar speel nie,” sê hy onwillekeurig.

“Kom doen dit ná Godsdiens,” word hy genooi.

“Mag ek regtig? Sal ek nie pla nie?”

“As jy hinder, sal ek jou sê. Kom na die lessenaar. Ons moet ’n sekere saak afhandel.”

Bertrand staan voor die lessenaar terwyl die hoof sy stoel regtrek en gaan sit.

Doktor Serfontein kyk lank na die seun wat binne twee jaar van ’n kind tot ’n jong man ontwikkel het. Hy kan nog enigiets word. Wie weet wat?

Bertrand ontmoet die swart oë se blik sonder om weg te kyk. Skielik glimlag hy breed. “Sir, if you look at me like that I shall burst into tears.”

“You will probably do that in any case. Maar kom, die taal-medium in hierdie skool is Afrikaans. Het ek jou dit nie al voorheen gesê nie?”

“Doktor het, ja.”

“Is jy trots op wat jy gisteraand gedoen het?”

Daar volg ’n stilte.

“Wel?”

“Jammer, ek dink hoe om te antwoord. ’n Mens wil die waarheid vertel sonder om ongeskik te wees.”

Die hoof gryns. Die mense naaste aan hom weet jy kan dit waag om reguit met doktor Serfontein te wees, solank jy nie astrant is nie en ’n bietjie humor aan die dag lê.

“Het jy nie aan die moontlike gevolge gedink nie? Die kind het ouers. Wat sal hulle reaksie wees?”

“Ek het gedink dit sal goed wees vir mevrou Jonker.”

“Miskien. Maar sy sal nie rus voor sy ons – vir my en die skool – teruggekry het nie.”

“Maar sy kan tog niks doen nie.”

“Moenie te seker wees nie. Afgesien daarvan was die rympies wat jy voorgedra het uiters onverfynd. Dit was dus ’n groter verleentheid vir jou as vir jou slagoffers.”

“Ek het te min tyd gehad, doktor. Ek moes eers vir Tonie oor elkeen uitvra en daarna gou die goed skryf. Ek wil nie grootpraat nie, maar as ek tyd gehad het, sou ek iets beters uitgedink het. Dit was verbeeldingloos.”

Die hoof begin frons. Bertrand lyk gans te ingenome met sy gedrag.

“Dit was onvergeeflik. As jy ’n onderwyser was, sou jy hopelik saamstem dat so ’n oortreding ’n pak slae verdien?”

“Ek weet nie … Ek sou my eers moes afvra of die straf regtig nodig is.”

“Dit ís.”

“Dan sou ek my moes afvra of dit van enige nut sal wees … Sal dit verhoed dat die skuldige weer dieselfde oortreding begaan?”

Hierdie keer glimlag die hoof. “Daarvoor sou jy as onderwyser moes sorg.”

Bertrand is so bly oor die glimlag dat hy ook met een vorendag kom.

“Dan sou ek my moes afvra of dit reg is om my te verneder deur sulke straf uit te deel.”

“Dis ’n vraag wat ’n onderwyser hom vroeg in sy loopbaan af-vra.”

“Ja, ek verstaan so, doktor. Maar dis ’n baie verouderde manier van straf. Mense frons deesdae al hoe meer daarvoor.”

“Dis al onder my aandag gebring. Lyfstraf is ’n onplesierige ding, maar daar is ander metodes wat wreder is, soos om iemand se lewe te ruïneer met ’n swak getuigskrif. Gewoonlik is lyfstraf vinnig en effektief. Die ontvanger leer hopelik hy moet in sy spoor trap as hy dit nie weer wil deurmaak nie. Vyf minute daarna is alles vergete en weer presies soos dit voorheen was.”

“Eina! Een minuut is genoeg, doktor.”

“Wel, ons gesels tog vooraf ’n paar minute, nie waar nie? En dalk ’n woord of twee daarna.”

“O, ek sien …”

“Maar dit ís ’n outydse strafmetode en niemand wat nie daarmee saamstem, word gedwing om hom daaraan te onderwerp nie.”

“Wat dan van die eerste pak wat ek hier gekry het?”

“Dit was die uitsondering. So iets gebeur soms,” sê die hoof gelate. “Maar ná ’n ervaring soos hierdie kan die betrokke persoon sy goed vat, die terrein verlaat en vir hom ’n skool met ’n moderne benadering soek.”

“Ek sien. Weg hiervandaan, van doktor en Keurboslaan?”

“En ver weg van lyfstraf af.”

“Ja … wel … Nou toe dan maar. Doktor moet natuurlik vir mevrou Jonker vertel wat u met my gemaak het.”

“Nie sonder jou toestemming nie.”

“Nee, laat haar maar lekkerkry. Dit hou haar dalk stil. Ek was gemeen met die arme klein aap. Dis mos nie eintlik sy skuld nie.”

’n Paar onaangename minute later groet Bertrand vriendelik.

Hy lyk nie besonder ongelukkig toe hy weer by die seniors se sitkamer opdaag nie.

Sy vriende kan maar dink wat hulle wil. Hulle mag reg raai, maar hulle weet nie vir seker nie.

Raaisels op Keurboslaan #5

Подняться наверх