Читать книгу Raaisels op Keurboslaan #5 - Theunis Krogh - Страница 4

2

Оглавление

DIE TOETS

Meneer Nieuwenhuis stap stadig met die gang langs tussen die slaapkamers deur; sy eerste aand op skool. Meneer Serfontein het hom aangeraai om voorlopig sy oë oop te hou, en sy mond so ver moontlik toe. Die nuweling is bly ’n ervare kollega soos die hoof se broer kan hom as koshuisonderwyser touwys maak.

Sover lyk alles in orde. Fanie bly uit sy broer se pad. Hy voel effens ongemaklik met sy ouer broer op die personeel, maar ignoreer sy vriende wat hom daaroor terg.

Die heel kleintjies se slaapsaal word deur mevrou Mostert versorg. Nadat meneer Nieuwenhuis haar ontmoet het, is hy nie bang hulle sal moeite gee nie. Maar hy ken natuurlik nog nie Keurboslaan se leerlinge nie.

Een van die kamerdeure is oop en hy bly staan om in te kyk. Daar is agt beddens in hierdie wit-en-groen vertrek waarin seuns van verskillende ouderdomme woon. Twee lyk klein genoeg om nog in die babasaal te wees. Klein Oosthuizen sit regop in die bed en lyk baie trots op sy verhoogde status.

’n Ander outjie lyk minder tevrede met die lewe. Sy hande is styf om sy knieë gevou en sy oë knip byna nie.

Al die seuns, groot en klein, kyk ernstig op toe die nuwe onderwyser inkom.

“Wat is jou naam?” vra hy vir die grootste een.

“Geer, meneer.”

“O.” So dís die leier van sy boetie se bende waarvan die gesin elke vakansie hoor. “Is jy die prefek in hierdie kamer?”

“Nee, meneer. Dis Bruwer. Hy kom later die ligte afskakel.”

“En wat is jou naam?” vra die onderwyser vir die seuntjie wat so gespanne lyk.

“Dewald Thiessen … meneer,” kom dit huiwerig.

“Jy en jou maat hier is seker nuut in dié kamer.”

“Ja, meneer,” sê Oosthuizen opgewek. “Dis ons eerste kwartaal as senior juniors.”

Meneer Nieuwenhuis glimlag en stap uit.

Ná ’n gesellige aand in die personeelkamer waar almal, selfs die stil adjunkhoof, meneer Holst, moeite doen om hom tuis te laat voel, gaan meneer Nieuwenhuis na sy kamer. Hy wens homself weer eens geluk met sy nuwe betrekking in hierdie wonderlike plek waar sulke aangename mense woon.

Sy kamer is stylvol en gemaklik ingerig; hy voel of hy in ’n hotel bly. Hier sal hy in sy vrye tyd, veral saans, ongehinderd kan studeer.

Nieuwenhuis haal die laaste paar goed uit sy tas.

’n Geluid buite sy deur laat hom vassteek.

Hy stap soontoe en maak die deur oop.

’n Wit figuurtjie vlug by die gang af. Meneer Nieuwenhuis volg hom, maar by die draai in die gang sien hy niemand nie. Hoekom het die rondloper voor sy deur kom raas?

Nieuwenhuis is die enigste onderwyser wat in die gebou slaap. Meneer Adolf Serfontein het hom tot elfuur met koshuisdiens gehelp, maar is daarna huis toe om deur te loop omdat sy vrou so lank alleen was sonder enige beskerming, behalwe die huishulp wat sy van die Kaap af saamgebring het toe Adolf hom deur sy broer laat ompraat het … en ’n duisend ander verwyte.

Wel, hoe nou? Wou iemand hê die nuwe onderwyser moet uit sy kamer kom, en indien wel, hoekom? Hy weet dis ’n gekskeerdery. Die seuns gaan hom volgens sy reaksie hierop beoordeel. Hy moenie kwaad word nie, want wanneer jy jou selfbeheersing verloor, praat jy op ’n manier wat later spottend nageboots sal word. Fanie het hom al baie daarvan vertel.

Daar klink nou van alle kante af geluide op. ’n Hele paar seuns is duidelik nie meer in hulle kamers nie.

Toe hy nag sê, het meneer Serfontein vir hom ’n bos sleutels gegee. Een is die loper vir die boonste verdieping. Iemand mag dalk ’n badkamer sluit – al word dit belet – en daarbinne flou word. Baie dinge kan gebeur.

Meneer Nieuwenhuis se gesig kry ’n uitdrukking wat nie baie van sy boetie s’n verskil nie.

Hy gaan haastig terug na sy kamer.

Hier besef hy dadelik hy is nie alleen nie.

Hy druk die ligskakelaar, maar niks gebeur nie.

Hy praat nie, want hy is nou baie kwaad, en sy stem sal bewe. Hy weet dit.

Hy gaan na die tafeltjie langs sy bed en kry ’n onaangename verrassing. Die tafel is daar, maar die bed is weg!

Hoor hy ’n gesmoorde gegiggel, of verbeel hy hom? Onderdruk iemand ’n nies? Hy smag na ’n goeie, dik lat en tien minute alleen saam met die vabonde wat hom hierdie poets bak.

Hy beweeg na die lessenaar en maak die laai oop. Die sleutels is nog daar. So, die lessenaar het nog nie aan die beurt gekom nie.

Hy gaan uit in die gang en dink vlugtig daaraan om ’n paar prefekte te roep, maar dit sal lafhartig wees.

Nou gaan sluit hy elke slaapkamerdeur, behalwe dié van die juniorsaal. Niks sal daar skort nie. Mevrou Mostert slaap op die onderste verdieping, maar die kinders sal dit nie waag om haar kwaad te maak nie. Meneer Nieuwenhuis sal self ook nie.

Hierdie deur is ’n goeie plek om wag te hou, want van hier af kan hy die hele gang na albei kante sien, al is dit donker. Die lang rye vensters laat tog ’n bietjie lig in. Maar wag. Behoort daar nie snags ligte in die gang te brand nie? Sy kamerlig het nie gewerk nie so dit beteken …

Hy wag doodstil.

Die misdadigers word nou ’n bietjie benoud. Die nuwe meneer het spoorloos verdwyn. Waarheen?

Geer stuur die paar dapper kleintjies wat die bende altyd vir kattekwaad gebruik, terug na hulle eie kamer. Niemand weet wat om te verwag nie.

Maar toe ’n lang mansfiguur stil uit die skaduwees buite die slaapsaal se deur verskyn, skrik die kleintjies so groot dat hulle omdraai en weer by die gang af hardloop.

Hulle storm by meneer Nieuwenhuis se kamer in, waar nog moles gemaak word.

“Haai!” skree Denzil Thiessen heeltemal onversigtig. “Hy’t ons amper gevang! Hy staan wag by ons kamer!”

“O, maggies,” sê Geer.

“Ek het julle mos gewaarsku,” sê Fanie vol familietrots. “Hy’s nie ’n bobbejaan nie.”

“Bertrand, wag tot ons almal terug in die kamers is, dan gaan sit jy die hoofskakelaar weer aan,” sê Geer. “Julle kleintjies kan nie na julle kamer gaan as hy daar staan nie. Kom saam na ons s’n toe.”

“Dan sal daar nog groter nonsens wees,” sê iemand.

Dis waar; nagtelike besoeke aan mekaar se kamers word ten strengste verbied. Niemand wil eers dink wat die gevolge van so ’n oortreding sal wees nie.

“Ek kan by Dewald slaap,” sê Denzil.

Hy sal eintlik bly wees. Dis die eerste nag wat hy en sy tingerige ouer broer nie langs mekaar slaap nie, en al steek Denzil dit weg met sy selfversekerde houding, is hy bekommerd oor sy broer.

“Reg, en Neels, jou boetie kan by jou inkruip. Ons moes hom nie op sy eerste nag hier laat saamspeel het nie. Dawie en Skapie, kom julle saam met my. Ek sal ’n kombers vat en op die mat lê.”

“Ek hou nie daarvan dat ons die spul na ons kamers toe vat nie,” sê Bertrand se lui stem. “Ons het lekker moles gemaak en ons ore gaan tien teen een afgekap word. Maar genoeg is genoeg. Julle weet hoe voel doktor oor die kamerreëls.”

Flip Venter praat nou ook.

Toe hy destyds by die skool gekom het, was hy lank in Krynauw se slaapkamer, en hy onthou baie dinge wat hy by die prefek geleer het, sonder dat daar veel gesê is.

“Ek dink nie ons moet dit doen nie,” sê Flip ernstig.

“Ek weet, maar ons is in die knyp,” steun Geer.

Denzil raak al meer bekommerd oor Dewald.

Hy sluip weg en draf vinnig na sy broer se kamer. Hy moet versigtig wees om Bruwer, die stewige kamerprefek, nie wakker te maak nie.

Hy draai versigtig aan die deurknop, maar … die deur is gesluit. Wat gaan nou aan?

Denzil probeer baie versigtig weer, maar die draaiende deurknop dring deur Dewald se ligte, rustelose slaap. Hy staan op sonder om wakker te word, soos hy dikwels hier op skool doen. Hy stap met sy hande voor hom uitgestrek na die deur. Hy raak met sy knieë aan ’n bed en bly dadelik staan. Sy voelende hande vind ’n slapende gesig.

Die nuwe twaalfjarige, Conrad Vosloo, weet eers nie waar hy is nie. Dis die eerste nag ooit dat hy weg van sy ouerhuis af slaap. Die hoof het hom op skool aanvaar ten spyte van die senuaanvalle wat hy onlangs begin kry het. Hier kan hy miskien gesond word … Maar beslis nie as yskoue hande oor sy slapende gesig streel nie!

Denzil draai weer aan die deurknop. Dit klink vir Conrad na ’n gerinkel van kettings. En nou raak Dewald se hand aan sy keel …

’n Angskreet weergalm deur die nag.

Bruwer spring op sonder om behoorlik wakker te word. Hy probeer die lampie langs sy bed aanskakel, maar daar gebeur niks.

Buite ruk en pluk Denzil nou aan die deur. “Dewald! Dewald!” skree hy.

“Wat de duiwel gaan aan?” brul Bruwer wat nou ook met die deurknop worstel. “Maak oop!”

Die prefek se stem stel Denzil effens gerus.

“Geer! Venter! Hoe slaap julle deur hierdie lawaai?” roep Bruwer.

As antwoord hoor hy net die geluid van iemand wat op die bed langs die deur na asem snak.

“Wilke!” probeer die prefek verder. “Oosthuizen!”

Hy roep verniet.

Die geraas het die hele boonste vloer op horings en die prefekte in die ander kamers wat tevergeefs aan hulle deure gepluk het, wil ook graag weet wat aangaan.

Mevrou Mostert slaap lig. Sy is gou bo, ten volle aangetrek, met die verskrikte skoolsekretaresse, juffrou Stobbs, by haar. Die huismoeder se flitslig help ’n bietjie.

Bertrand kan natuurlik nie nou by die hoofskakelaar uitkom nie.

Mevrou Mostert gee meneer Nieuwenhuis ’n verwytende kyk en vra streng: “Wat gaan hier aan?”

“’n Paar seuns is uit hulle kamers, mevrou. Ek het al die deure gesluit. Kan iemand die ligte aanskakel?”

Juffrou Stobbs steun liggies. Sy is lief vir die seuns wat haar nog nooit geterg het nie en haar altyd vriendelik behandel, maar selfs sy moet erken hulle is vannag baie stout.

“Dis weer die hoofskakelaar,” sug mevrou Mostert. “Ek sal maar moet afgaan.”

“Nee, laat ek, mevrou,” sê meneer Nieuwenhuis.

“Jy weet nie waar dit is nie. Ek sal vir die kleintjies sorg. Meneer Nieuwenhuis kan die groter seuns se saak hanteer.”

Ná ’n minuut is daar weer lig. Voor Dewald se deur lyk Denzil baie klein, selfs vir ’n negejarige.

Die prefekte is omgekrap en dreig om die ou wat die deure gesluit het se nek te breek.

Selfs toe die deure oop is, bedaar hulle nie dadelik nie.

“Wie het ons toegesluit?” vra Bornmann rooi van ontsteltenis.

“Ek,” sê meneer Nieuwenhuis.

“Was dit nodig?”

“Ek dink so. Is jy die hoofseun?”

“Ja.”

“Hoeveel seuns is daar by jou in die kamer?”

“Sewe.”

“Roep hulle uit gang toe.”

“Hulle is nie daar nie … meneer.” Bornmann is skielik nie meer so kwaad nie.

“Waar is hulle?”

“Ek weet nie …”

“Hulle is natuurlik by die kamer uit terwyl jy geslaap het.”

“Maar meneer, ’n mens kan nie die hele nag wakker lê nie.”

“Nee, veral nie op jou ouderdom nie. Maar dan moet jy nie vies wees omdat ek op my eie manier moes optree om die orde te herstel nie.”

Bornmann weet al die ander prefekte kyk na hom.

Hy onthou sy broer se woorde toe hy hoor Gerard gaan op sy beurt ook hoofseun wees: “Dis nie maklik nie. ’n Mens moet altyd op jou hoede wees.”

“Teen die ouens?” het Gerard gevra.

“Nee. Teen jouself. Jy moet jou heeltyd inhou.”

“Ekskuus dat ek so met meneer gepraat het,” sê Gerard nou. “Ons was almal deur die wind toe ons wakker word.”

“Dis alles in die haak. Ek verstaan … Kom ons werk saam. Wat het die geraas veroorsaak?”

Bruwer maak keel skoon. “Meneer, een Thiessentjie het in sy slaap geloop terwyl die ander een die deur wou oopkry, en toe knak ’n nuwe outjie daar by my se senuwees amper. Hy is nou beter, maar hy lyk sleg.”

“Skryf almal wat weg is se name op. Maar moet julle nie verder aan hulle steur nie. Hulle sal wel opdaag … O, mevrou het teruggekom. Dis goed. Hier is ’n pasiënt.”

“Toemaar, ek weet van dié geval … Denzil Thiessen, wat maak jy hier?”

Die boeties hou mekaar se hande styf vas en sê niks nie.

“Dis nie net hy wat ronddwaal nie, mevrou.”

“Nee. Môre maak ek behoorlik werk hiervan, hoor! Bruwer, twee van julle kan vir Vosloo na die siekeboeg neem. Ek sal hom daar laat slaap. Hier moet nou stilte kom voor die hoof opdaag en vra hoekom al die ligte brand. Jy sal vanaand se kabaal natuurlik aan hom rapporteer, meneer Nieuwenhuis.”

“Nie tensy dit absoluut nodig is nie,” sê die nuwe onderwyser.

Dit beïndruk die skuldiges wat besig is om na hulle kamers terug te kom en hulle name gedweë vir die kamerprefekte gee.

Hulle plan was om al die nuwe onderwyser se meubels by sy badkamer in te dra en dan te verdwyn. Maar hy het hulle uitoorlê en nou is hulle in die sop. Boonop het hulle die kleintjies by hierdie kattekwaad betrek.

Volgens Bertrand gaan die hoof nie net hulle ore vir asbakke gebruik nie, maar op die ou end sal hulle boonop hulle eie mangels vir oorbelle kan dra.

Selfs hy en Geer, wat geharde bendelede is, gaan afgehaal bed toe. Dis waar, meneer Nieuwenhuis het vir mevrou Mostert gesê hy verkies om hulle nie aan die hoof te rapporteer nie, maar hulle ken die hoof beter as die nuwe meneer. Niks ontglip ooit sy aandag nie.

Sesuur die volgende oggend gaan Fanie na sy broer se kamer toe. Hy word nie vriendelik ontvang nie. Meneer Nieuwenhuis is nog nie aangetrek nie, maar hy studeer reeds.

“Uit hier!” beveel hy.

“Nee, wag! Dis voor skooltyd. Jy’s nou nog nie ’n onderwyser nie.”

“Jy sou nie by ’n ander onderwyser so instap nie. Jy doen dit ook nie by my nie.”

Fanie kyk na die mat en lyk opreg skaam. “Miskien sou ek, ná gisteraand,” smeek hy.

“Wat soek jy?”

“Die ouens is baie jammer oor alles.”

“Jammer oor hulle betrap is, ja.”

“As die hoof uitvind ons het die kleintjies laat saamspeel en jou meubels uitgedra, kry hy die stuipe!”

Maar dit lyk nie of sy broer se hart sagter word nie.

“Sê nou hy skors party van ons!” vervolg Fanie.

Sy broer kyk hom nog steeds onsimpatiek aan. Dan verras hy Fanie. “As dit jou sal troos, ek het nog nie besluit nie. Julle moet gestraf word. Maar ek is nuut hier en sal die saak eers met meneer Serfontein bespreek. Wat die meubels betref, wees gerus. Dis net ’n bietjie ontgroening. Ek het dit maklik weer reggeskuif.”

“Jy’s wraggies gaaf!” sê Fanie dankbaar.

“Moenie te gou praat nie … Daar’s druiwe op die kas. Vat dit vir jou. Dit lok net miere, maar Ma het aangehou ek moet dit vat.”

“Vreeslik baie dankie vir alles, Herman.”

Fanie gaan vertel dadelik vir sy vriende wat ’n wonderlike broer hy het.

Hy sou nog meer dankbaar gewees het as hy die hoof se gesig op dié oomblik kon sien. Dis ongelukkig een van daardie dae wat die skoolhoof met ’n verskriklike hoofpyn opstaan. Hy het die vorige nag tot laat aan sy roman gewerk, maar voel gefrustreerd. Die rus van baie maande – eers ná ’n ernstige operasie en daarna met Josef se geboorte – het hom ’n bietjie laat verroes.

Doktor Serfontein is nie iemand wat vir inspirasie wag nie. Wanneer hy ’n tema het, skryf hy gereeld, of dit vlot of nie. Maar hierdie tye van kreatiewe droogte wat die meeste skrywers so goed ken en vrees, tas sy senuwees kwaai aan.

By ontbyt sien sy vrou hom vir die eerste keer vandag. Met ’n waarskuwende blik na Tessa en Fräulein, die Switserse goewernante wat Josef nou oppas en later vir hom sal skoolgee, skink mevrou Serfontein vir haar man koffie, en praat net die nodigste.

Tydens Godsdiens bekyk die skool meneer Serfontein met buitengewone belangstelling. Hy lyk baie soos die hoof, maar verskil nogtans soveel van hom. Adolf het niks van sy broer se onwêreldse magnetisme wat so aantreklik kan wees, of wat die lewe vir sy medemens so ondraaglik kan maak nie. Die uitdrukking op sy gesig is amper altyd rustig en ontspanne.

Maar kyk die diep keep tussen die hoof se oë! Hoekom lyk ’n man wat so ryk en aantreklik en beroemd is, en aan wie hierdie groot skool behoort, só ontevrede?

Ná Godsdiens verlaat hy die verhoog met net ’n stug “Goeie-môre” aan die personeellede wat dapper genoeg is om hom te groet. Hy gaan terug na die studeerkamer in sy huis, aangesien hy eers heelwat later ’n klas het.

Hier kry hy nege-uur die verskillende klasse se registers. Hy blaai vinnig daardeur omdat hy nie verwag iemand sal die eerste dag van die kwartaal afwesig wees nie. Daar is nie dagskoliere op Keurboslaan nie en as ’n kosganger siek is, word die hoof dadelik in kennis gestel.

Maar nou sien hy op meneer Lambrecht se register dat Conrad Vosloo inderdaad afwesig is. Dis die nuwe seun wat senu-aanvalle kry. “Ongesteld” is die rede wat meneer Lambrecht aandui.

Die hoof trek die telefoon nader en vra om na mevrou Mostert deurgeskakel te word.

Toe die koshuismoeder sy stem hoor, weet sy dadelik sy was reg toe sy vanoggend sy gesigsuitdrukking as dreigend vertolk het.

“Die nuwe seun, Vosloo. Is hy siek?”

“Ja.”

Die flou hoop dat die nag se gebeure verswyg kan word, is nou daarmee heen.

“Hy het ’n aanval in die slaapkamer gekry, en later weer een in die siekeboeg,” rapporteer sy.

“Werklik,” sê die hoof in wat Bertrand Spaulding sy “suurmelk-stem” noem.

“Ek het die dokter laat kom en hy het vir my pille gegee.”

“Jy het die dokter laat kom sonder om my te laat weet?”

Mevrou Mostert was al op Keurboslaan toe die hoof as jong man daar opgedaag het. Sy het hom saam met ou meneer Schoonbee twee nagte lank verpleeg. Sy is nie bang vir hom nie.

“Dit was laat. Ek wou jou nie in jou werk hinder nie,” sê sy, stil-weg geamuseerd oor sy kil stemtoon.

Sy weet egter hy gaan nie nou laat los nie.

“Het die kamerprefek jou geroep toe hy die eerste aanval kry?”

“Ek was toevallig bo, want van my kleinspan was woelig. Toe sê die prefek vir my hierdie seun makeer iets.”

Die foon word onnodig hard op die mikkie neergesit.

Toe die koshuismoeder die hoof ’n rukkie later na die siekeboeg sien stap, slaan sy haar oë op na die hemel. Nou ja, besluit sy dan, as hy die saak self wil hanteer, soveel te beter. Sy kry die skuldiges nie jammer nie.

Conrad probeer die ander nie verklik nie, maar hy was die vorige aand so verdwaas van skok dat hy nie eers besef het daar is iets om te verklik nie. Hy kom nie agter watter uitwerking dié inligting op die hoof het nie. Hy word kalm en vriendelik aangespreek en die hoof verseker hom hy sal hierdie senuweeprobleem met ’n gesonde dieet, baie oefening en verstandige lewensgewoontes oorkom.

Die rus en verligting wat die hoof vir die angstige kind gebring het, moes iets aan sy eie gemoed gedoen het. Dis egter ongelukkig nie die geval nie. Hy het hom voor Conrad ingehou omdat dit hier oor ’n seun se hele toekoms gaan, maar toe hy na die skoolgebou loop, lyk sy gesig so dreigend soos selde vantevore.

Raaisels op Keurboslaan #5

Подняться наверх