Читать книгу Krisis op Keurboslaan #10 - Theunis Krogh - Страница 3

1

Оглавление

TIESJIE WEIER BOTWEG

Keurboslaan Seunskool naby die Swazilandse grens, staan op ’n heuwel omring deur hoë berge en kranse. Rondom die skool is ’n paar kleiner geboue, sportvelde, ’n spoggerige swembad, kuile in die rivier en ’n entjie verder die skool se eie plaas.

Die hoof en alleeneienaar van hierdie kosskool is doktor Serfontein. Hy het as jong man ’n fortuin by sy Amerikaanse peetpa geërf. Die bekende P.F. Maxim van New York het alles aan hom nagelaat, op voorwaarde dat hy die grootste deel daarvan aan liefdadigheid en die opvoeding van die jeug bestee.

Doktor Serfontein is dus ’n baie ryk man, en danksy Oscar Wienand, sy algemene bestuurder en swaer, se sakevernuf word sy geld net al hoe meer. Maar selfs ’n miljoenêr beleef moeilike tye …

Nog voordat hy die geld geërf het en toe hierdie skool kon koop en opbou, is sy eerste roman gepubliseer. Sedertdien het ’n hele paar ander die lig gesien. Die boeke is soms effens bo die gewone leser se vuurmaakplek, maar letterkundiges skryf die skoolhoof se werk hoog aan. Hy vorder egter pynlik stadig met sy volgende roman.

Doktor Serfontein hanteer self elke aspek van die skool se administrasie en gee ook Latyn en Grieks vir die ouer leerlinge. Boonop is daar al sy sakebelange. Dit beteken dat hy eers snags by sy skryfwerk uitkom.

As hy redelik wil wees, sal hy erken hy is uitgeput, maar selfs die mense wat hom bewonder en liefhet, stem saam oor een ding – hy is nie altyd redelik nie.

Die hele Serfontein-gesin gaan môre oorsee. Keurboslaan kry hierdie tyd van die jaar twee volle maande vakansie, maar vir die hoof beteken dit nie rus nie. Hy moet vergaderings bywoon en vooraanstaande mense ontmoet, en dan nog snags aan sy boek probeer werk. Boonop het hy ’n mooi vrou en ses kinders, elkeen met ’n sterk persoonlikheid.

Agter sy lessenaar in sy deftige studeerkamer lyk hy hierdie laaste middag van die kwartaal uiters ontoeganklik. Hierdie vertrek in sy huis is ’n entjie weg van die groot gebou af, maar dis die ware hart van die skool en miskien die hele distrik, waar doktor Serfontein die grootste grondeienaar en ’n lid van die kerkraad is. Hier moet hy binnekort ’n paar mense ontvang.

Die hoof kyk deur die vensters aan die westekant asof hy verlang na die buitewêreld en vryheid van alles. Selfs die daaglikse huislike geluide verder met die stoep af hinder hom vanmiddag.

Helen Serfontein, blond en lank en skraal, lyk soos ’n prinses in haar groen rok, maar sy hou skynbaar min van die kind wat hier in haar elegante voorkamer staan.

Tiesjie se kort, rooierige hare hang deurmekaar om haar besliste gesiggie. Selfs op twaalf is sy nog steeds klein. Sy dra ’n dun bloes en ’n ou sweetpakbroek wat vroeër aan Berrie, haar derde broer, behoort het. Sy is kaalvoet.

Toe dokter Eugene Krynauw haar van die kosskool in die stad huis toe gebring het, het sy haar ma net vinnig gegroet. Toe gaan pluk sy haar skoolklere uit en gooi dit in ’n bondel oor die balkon buite haar slaapkamer. Lizzie, die huishulp, het hierdie onaanvaarbare gebaar van verset sopas kom rapporteer.

“As ek vanmiddag my geduld verloor,” sê mevrou Serfontein, “sal jy ’n dure les leer.” Sy is taamlik streng met haar kinders.

Dokter Krynauw streel sy gladde, ligte hare nog gladder en bedwing ’n glimlag.

“Kom nou, Tiesj!” sê hy. “Kry dit verby. Gaan sê vir jou pa jy is geskors. Dit help nie om dit uit te stel nie.”

“Oom Gene kon hom gesê het, pleks van net by die stoepdeur verbystap.”

Die meisie se ma wil haar invlieg, maar Krynauw wys vir haar om vir eers te bedaar.

“Ek kon sien jou pa was besig,” verduidelik hy rustig. “Ek wag tot vanaand, wanneer ons soos altyd saam gaan pyp rook. Maar jy het hom nie eens gaan groet nie, en dis ongemanierd.”

“Almal weet oom Gene is bang vir hom.”

“Dis nou genoeg!” sê Helen.

Dokter Krynauw keer weer. “Ek ís bang vir jou pa, ja,” sê hy. “Ek is bang ek verveel hom. My vriendskap met jou ouers beteken vir my oneindig baie. Ek het hulle net so lief soos my vrou en kinders. Ek is as klein seuntjie hierheen gestuur, net ná my ma se dood. My pa het hom heeltemal van ons kinders teruggetrek. Jou pa het my getroos toe ek heeltemal verlore gevoel het. Daarna was hy vir my alles.”

“’n Kind moet iemand hê,” sê Helen.

“Ja, en die beste manier om die vriendskap nou te beëindig, is om hom te pla wanneer ek weet ek is nie welkom nie.”

“Dan sal ek seker maar moet gaan,” sê Tiesjie nors. Sy kyk na haar pragtige ma. By haar is daar nie hulp te vinde nie.

Dokter Krynauw kyk liefdevol na Tiesjie, maar vandag gaan hy haar ook nie help nie.

“Huh!” sê Tiesjie en stap uit.

Sy steek vas voor die studeerkamer se oop glasdeur en kyk na haar pa agter die lessenaar.

Hy lyk vandag selfs strenger as gewoonlik. Hy is besonder lank en skraal. Sy gesig, wat dikwels deur vroulike bewonderaars as “klassiek-perfek” beskryf word, toon nie ’n sweem van ’n glimlag nie. Trouens, hy glimlag selde. Die swart hare met ’n silwer streep bokant elke slaap, is glad geborsel sodat die ligte kartel ’n mens nie opval nie. Die hoof se donkergrys pak sit netjies, asof dit spesiaal vir hom gemaak is.

Tiesjie kry skaam vir haar eie klere, maar sy sal dit nooit erken nie. Voor sy kan ingaan, lui die telefoon. Haar pa tel dit op en luister vir ’n oomblik geïrriteerd.

“Skakel meneer Wienand dan maar weer deur.” Sy sagte, diep stem kan soms wonderlik strelend klink, maar nie nou nie …

So, dis oom Oscar, dink Tiesjie en wonder of die oproep haar taak enigsins makliker gaan maak. Oscar Wienand kan sy swaer dikwels in ’n beter bui sit.

Doktor Serfontein se een wenkbrou trek effens op, en dis altyd ’n goeie teken.

“Ek hou nie minder as gewoonlik van jou nie,” sê hy in die telefoon. “Ek is net druk besig met my nuwe roman, en dis nou die derde keer dat jy vandag bel – al die pad van New York af.”

Tiesjie kan natuurlik nie hoor wat haar oom sê nie. Sy staan en wag maar, bly dat die oomblik van afrekening uitgestel word. Afgesien van oortredings op skool wanneer haar broers saam met die ander moet deurloop, lig haar pa nooit sy hand vir een van hulle nie. Nogtans het sy kinders ’n byna heilige ontsag vir hom.

“Ek bel oor jou roman Verduistering,” hoor doktor Serfontein. “Frazers wil ’n nuwe Engelse vertaling uitgee, mits jou uitgewers in Suid-Afrika instem.”

“Hulle was met my in verbinding en het geen beswaar nie. Ek het gesê jy hanteer deesdae al my sake. Wat wil Frazers met die boek aanvang?”

“O, jy weet hoe gaan dit met sulke dinge. Hulle wil ’n ander omslag kry, ensovoorts. Maar hulle sal jou eie vertaling gebruik, met net ’n verandering hier en daar.”

“Goed dan. Maak soos gewoonlik.”

“Reg so. Dit sal ’n hele paar dollar inbring, en dis dan jou eie geld, nie Maxims s’n nie. Ons belê ons private inkomste mos al hoe meer in Suid-Afrika. Die ou dollar is nie altyd meer so gesond nie; dit lyk my hy het ’n bietjie hooikoors onder lede … Ek het vandag ons koper in Chili verkoop. Ons het ’n lekker wins gemaak. Dit kom nou ook Suid-Afrika toe.”

“Ja, toe-toe! Ek weet jy het ’n aanvoeling vir sulke dinge. Maak soos jy goed dink en laat my met rus.”

“Tot later dan … Terloops, Josef is al hier by ons.”

“Goed. Sê groete vir Leonie. Ekskuus? Ja, Eugene neem jou seuns en dan jou dogters lughawe toe. Hy het spesiaal gekom om met die vervoer te help.”

Die uitdrukking op die hoof se gesig lyk minder troebel. Maar hy frons weer toe hy sien hoe sy dogter aangetrek is. Hy kyk na die velle papier voor hom en sug.

“Goeiemiddag,” sê hy darem.

“Middag, Pa. Jammer om die skryfwerk te onderbreek.” Tiesjie kom huiwerig in. “Ek weet presies hoe irriterend so iets kan wees. Dis juis die ding.”

“Watter ding?”

“Dis hoekom ek uit die skool geskop is.”

“Jy is wát?”

“Ekskuus. Ek moes geskors gesê het.”

“Hoekom is jy … geskors?”

“Wel, ek het ’n stuk vir die jaarblad geskryf. Almal moes dit doen, en dan word die bestes gekies. Myne was ’n kortverhaal.”

Haar pa lyk so streng dat ’n ander kind aan die huil sou gegaan het. Maar nie Tiesjie nie. “En toe?”

“Toe kom Meintjies … ek bedoel juffrou Meintjies een dag by my en sê my storietjie is ’n oulike poging vir so ’n klein dogtertjie.” Die minagting in die kinderlike stem is duidelik. “Asof ek ooit omgegee of dit in die jaarblad verskyn of nie. Ek het dit net geskryf omdat dit vir my lekker was.”

Haar pa se swart oë toon belangstelling wat sy nie opmerk nie.

“Maar nou ja, dit het nogtans verskyn, betyds om vandag huis toe te bring. Ek maak die jaarblad toe oop en … en …”

“Ja?”

“Sy het kastig ‘verbeterings’ aangebring!” sis Tiesjie verontwaardig.

“Maar ’n redakteur moet tog enige taalfoute regmaak en seker maak dat …”

Tiesjie val haar pa in die rede soos nie een van sy ander kinders dit sal waag nie. “Ek praat nie daarvan nie, Pa. Sy kan regmaak soos sy wil. Ek praat van my storie. Sy het uitgekrap en bygeskryf sonder om eens dieselfde woorde as ek te gebruik. Ek skryf ‘blomgeel gordyne’ en sy verander dit na ‘gordyne van geel, geblomde materiaal.’”

“Nooit!”

“Ja, ek sê Pa mos. Ek vra haar toe hoe kan iemand ’n mens se werk so opmors. Dis al wat ek gevra het! Maar toe maak sy asof ek g’n reg het om vrae oor my eie werk te vra nie. En toe oom Gene my kom haal, sê sy vir hom ek is geskors tensy ek voor die hele skool om verskoning vra omdat ek haar voor ’n hele klomp mense beledig het. Maar sy kan gaan doppies blaas!” sluit Tiesjie haar koorsagtige toespraak af, met ’n uitdrukking wat sy by haar ouboet geleer het.

“Dis genoeg!” knal die basstem wat die skoolseuns so goed ken. “Jy raak onnodig opgewonde. Alle skrywers voel vroeër of later gekniehalter. Dis omdat hulle …”

“Maar kan Pa dink! Jy skep jou karakters en jy weet hoe voel hulle oor mekaar, en jy weet presies hoe hulle sal praat. Dan kom so iemand en mors alles op, en gebruik uitdrukkings wat die karakters nooit sal gebruik nie …” Sy snak na haar asem.

“Kom nou, jy neem die saak gans te ernstig op,” sê haar pa sussend en effens geamuseerd. “Dalk het jou juffrou baie nasienwerk gehad en toe was daar nie tyd om vas te stel …”

Tiesjie val hom weer in die rede. “Vas te stel! Daar’s net een ding wat sy wil vasstel. Sy wil hê Pa moet sien hoe wonderlik sý skryf! Sy vra altyd hoe dit met Pa gaan. Sy’s nes al die ander wat so oor Pa te kere gaan, en ek begin dink Pa hou eintlik …”

Daar is ’n oorverdowende slag. Die bietjie meegevoel wat die skoolhoof nog met sy dogter gehad het, is nou daarmee heen.

“Dis niks,” paai dokter Krynauw sy gasvrou in die vertrek langsaan. “Hy het net met sy vuis op die tafel geslaan. Hy’t dit eenkeer gedoen om te keer dat ek hom van ’n leuen beskuldig. Dit sou die einde tussen ons gewees het.”

In die studeerkamer het Tiesjie bleek geword. Haar stortvloed woorde het skielik opgedroog.

“Jou gedrag is onvergeeflik,” sê haar pa. “Ons ry op pad lughawe toe by jou skool aan en as daar nog iemand is, vra jy om verskoning en belowe om dit later in die openbaar te herhaal.”

“Ek sal dit nooit doen nie!” Sy gee nie om of hierdie woorde haar dood gaan kos nie. Tiesjie staan soos ’n klein martelaar voor ’n groot leeu.

“Jy maak soos ek sê of jy gaan nie saam oorsee nie. En as die skool jou ná die vakansie nie sonder ’n verskoning wil terugneem nie, bly jy tuis sonder om verder te leer.”

Tiesjie leer graag en maklik, en sy het reeds allerhande planne vir die volgende jaar, maar dit skeel haar nie nou nie. “Waar bly ek dan die vakansie?” vra sy met ’n skerp stemmetjie.

“By jou ouma en oupa in die stad, as hulle daarvoor kans sien.”

“Dis goed so.”

Sy loop sonder toestemming by die studeerkamer uit.

Krisis op Keurboslaan #10

Подняться наверх