Читать книгу Krisis op Keurboslaan #10 - Theunis Krogh - Страница 4
2
ОглавлениеDIE LAASTE AAND
Later, ná ’n harde stel tennis teen meneer Geer, die sportonderwyser, en ’n halfuur se swem, bad en verklee doktor Serfontein voor hy na sy vrou gaan soek.
Sy is in die sonkamer besig om briewe te skryf en het reeds haar groen aandrok aan. Hy lyk ook deftig in sy meer formele pak.
“Ek het ’n vermoede jy kom vra om van die ete verskoon te word,” sê sy.
“Wel, eintlik ja. Daar wag nog ’n magdom werk vir my. Ek moet onder andere ’n paar seuns spreek, en persoonlike probleme neem heelwat tyd in beslag.”
“As dit oor gevoelens gaan, laat dit aan Burger oor. Hy hou mos daarvan.”
“Hy het genoeg om te doen. Gee jy om as ek wegbly?”
“Nee wat. Eugene is hier, en Riekie sal netnou saam met Dian, Ruyssenaer en Willemse opdaag. Dis oorgenoeg mans. Die gaste sal jou buitendien verveel, dan sit jy weer daar en lyk soos ’n sfinks. Dit skrik almal af.”
“Is ek werklik so onopgevoed?”
“Jy is maar soos jy is,” sê sy glimlaggend en stap saam met hom uit stoep toe.
“Hoe lyk dit my die lewe druk jou? Ons gaan dan met vakansie!” probeer sy hom opbeur.
“Dis allesbehalwe vakansie vir my, met al die afsprake.” Hy kyk na die swart berge teen die aandhemel. “As ek en jy alleen kon weggaan …”
“Ons kan ongelukkig nie. Dink net hoe sal die kinders voel as hulle moet weet jy wil hulle nie saamneem nie.”
“Dis nie dat ek hulle nie by ons wil hê nie. Daar is net so baie dinge wat my aandag verg … En dan voel ek skuldig omdat ek so min vir hulle kan doen.”
“Ek is tog daar vir hulle. Wat van Tiesjie?”
“Sy weet wat sy behoort te doen. Sy is hardekop en ongemanierd. Sy moet hierdie keer ’n les leer.”
“Laat ek liewer die saak hanteer.”
“Nee, ek het haar voor ’n keuse gestel en sy moet self besluit.”
“Benut jy die kans om ons gesin se woeligste lid by die huis te los?”
Die hoof antwoord nie direk nie. “Soos altyd moet jy my gedrag maar probeer vergewe,” sê hy en skuur sy wang vir ’n oomblik teen haar hare.
“Wie kan ooit vir jou kwaad bly?” terg sy met teerheid in haar stem.
“Jy, baie keer.”
Metz, die uittredende hoofseun, stap saam met ’n paar ander seniors van die skoolgebou na die hoof se huis toe. Dis die gebruiklike tyd vir die hoofseun om verslag te lewer oor die dag, maar dit sal nie vanaand gebeur nie.
“Julle gelukkige ape,” sê Metz knorrig vir die ander.
Twee van hulle is besonder lank terwyl die ander drie effens korter is. Brian Spaulding, met sy lewendige gesig en woeste wit hare is nog nie sewentien nie, maar reeds net so lank soos die hoof, en Loggenberg is selfs nog langer.
“Daar lê nog ’n hele jaar vir ons voor,” sê Brian, “en ou Berrie het nog ’n jaar langer oor. Hy moes agterbly ná daai ongeluk. Maar dalk dop jy nog, Metzie, dan kom jy ook terug.”
“Nee wat,” sê Metz mismoedig. “Ek het nog nooit gedop nie.”
“Wel, Piet hier …” Jurie Verryne wys na Loggenberg,
“ … het mos laas jaar al ’n klomp matriekvakke deurgekom, maar hy’t hier gebly en skryf vanjaar nog ’n paar af – en volgende jaar doen hy Oud-Grieks.”
“Man, Pog is ’n genie,” sê Brian. “G’n skool sal hom wil verloor nie. Hy word hier aangehou om ons skool te laat goed lyk.”
Loggenberg antwoord in sy eienaardige skor stem wat soos ’n ou man s’n klink.
“Ek, Morrie, Jurie en Faan word hier gehou, want die proefbeamptes het ons hierheen laat kom op voorwaarde dat doktor vir ons verantwoordelik bly tot ons agtien is.”
Die Keurboslaners is lankal moeg vir hierdie storie. Vandat die vier seuns hier aangekom het, het Loggenberg die ander aangeraai om hulle verlede in verbeteringskole openlik te bespreek, en dikwels.
“Praat daaroor tot almal keelvol is,” was sy raad drie jaar gelede toe hulle almal maar net veertien was. “En doen julle bes met alles. Dan kan niemand iets teen julle sê nie.”
“Wat kom hier aangevlieg?” vra Metz.
’n Klein seuntjie kom by die huis uit gehardloop en pyl op Berrie af.
“Ek dag jy kom nooit nie!” sê die sewejarige Lavrans.
Berrie vang sy boetie, swaai hom tot op sy skouers en dra hom verder.
“Wat makeer jou?” vra Berrie dan. “Jy bewe soos ’n riet. Was jy stout?”
“Ja, maar Tiesjie was eerste stout, en toe was daar groot marakkas hier by ons.”
“Wie leer die kind sulke taal?” vra Metz terwyl die groot seuns lag.
“Wat het Tiesj gedoen?”
“Sy was stout by haar kosskool, en Pa sê sy gaan nie saam met ons Anderland toe nie.”
Daar is ’n snik in Lavrans se stem.
“Aag, hy dreig maar net.”
“Nee! Mamma sê ons moet oppas, want Pa word moeg vir ons almal.”
“Sy maak jou sommer net bang, man. Kom, ek en jy gaan kyk wat gaan aan … Wat het jy verkeerd gedoen?”
“Fräulein het gesê ek moet klavier oefen … Al het die vakansie al begin. En toe sê ek: ‘Sallie!’”
“Mamma gaan jou nog pak gee oor daardie ‘sallie’-ding.”
“Ek weet, maar sy wil nie hê Pa moet agterkom ek was ook stout nie,” sê Lavrans hartseer.
Berrie glimlag maar net.
Op die stoep waai hy vir sy pa. Die hoof knik en frons omdat Lavrans gedra word. Hy hou nie daarvan dat die kleintjie bederf word nie. Lavrans probeer afklim, maar sy broer hou hom vas op sy skouers en gaan met hom in die huis in.
Berrie het sy pa baie lief en verstaan hom beter as die ander kinders. Hy was nog nooit vir hom bang nie.
Die seuns wat die hoof moet spreek, stap om tot by die voorportaal. Hulle is skaars daar of doktor Serfontein lui die klokkie op sy lessenaar. Metz gaan dadelik by die studeerkamer in.
“Goeienaand, doktor.”
“Goeienaand. Gaan alles goed?”
“Ja, doktor, behalwe dat almal in die prefektekamer heeldag net sug en kla. Dis sleg om weg te gaan.”
“Dit kan nie anders nie,” sê die hoof saaklik.
Maar Metz wat hom nou al nege jaar lank goed ken, weet hy is nie onsimpatiek nie.
“Wie wag buite?”
“Loggenberg-hulle en Spaulding, doktor.”
“Laat Spaulding wag en stuur die ander in. Ek sien jou môre voor jy vertrek.”
Metz stap treurig terug voorportaal toe.
“Toe, binne!” beveel hy Loggenberg en sy maats. “Brian, jy moet eers wag.”
“Dalk kry ons ouens vanaand pak,” sê Loggenberg doodluiters.
“Daar is erger dinge wat ’n mens kan tref,” sê dokter Krynauw wat net toe met die binnetrap van die tweede verdieping af kom, “en in my jongdae het ek elkeen daarvan daar binne beleef … Terloops, ek het jou pa gister gesien. Hy stuur groete.”
“Dankie, dokter. Ek het geweet hy is weer in die hospitaal.”
Dokter Krynauw en sy hoof, professor Martin Serfontein, veg al jare lank in hulle private hospitaal wat die hoof borg om Loggenberg se pa aan die lewe te hou. Die seun is bewus van die ernstige bloedkwaal waaraan hy ly.
“Hy is ’n dapper man,” sê die dokter. “Hy laat ons allerhande toetse op hom doen, en verdra dit ewe gelate. Dit wat hy nou verduur, kan ander mense dalk later help.”
“Dit maak hom gelukkig, dokter,” sê Loggenberg beheers.
Die vier seuns is gewoond daaraan dat hulle probleme in mekaar se teenwoordigheid bespreek word. Hulle groet dokter Krynauw en stap by die studeerkamer in. Brian gaan sit solank en strek sy lang bene voor hom uit.
Die hoof betrag die vier seuns toe hulle by die studeerkamer inkom.
Loggenberg kyk ’n mens deesdae reguit in die oë. Hy het sy bobbejaanagtige gewoontes van vroeër lankal afgeleer. Alberts is meer tingerig en sy bleek gesig verraai min emosie. Logan is heelwat kleiner as die ander. Hy is hier op Keurboslaan van sy kleptomaniese neigings genees en lyk nou na ’n rustige, selfversekerde jong seun. Jurie Verryne, stewig en sterk, is die aantreklikste van die vier.
“Julle sal seker met my saamstem dat dié jaar vir ons almal goed afgeloop het,” sê die hoof.
“Ja, doktor,” antwoord die vier in ’n koor.
“Goed dan. Nou, wat die vakansie betref: Gaan jy huis toe, Loggenberg?”
“Ja, doktor.”
“Jy moet jou by doktor Smit aanmeld. Volgens hom het jy gevra hy moet vir jou bouwerk reël sodat jy sakgeld kan verdien.”
“Dis reg, doktor.”
“Wees baie versigtig met wie jy kontak maak. Al is jy ook hoe onskuldig, kan mense dinge doen en die skuld maklik op jou afskuif, as gevolg van jou verlede.”
“Ek weet dit, doktor.”
Hierdie vier seuns was blote kinders toe hulle vir die eerste keer oor die tou getrap het.
“En jy, Logan, gaan jy by die kliniek inwoon?”
“Doktor Smit het gesê ek mag na my oupa en ouma toe gaan, doktor. Hulle is al twee siek en al doen doktor soveel vir hulle, wil ek vir hulle wys hulle het nog familie wat omgee.”
“Jy bly maar vir ons almal ’n wonderwerk,” sê die hoof beïndruk.
“Dit was dominee Lagrange se raad, doktor.”
“Ek sal graag wil hoor hoe dit toe afgeloop het … Verryne, gaan jy huis toe?”
“Ja, doktor. Doktor Smit het gesê ek mag hom in die kliniek help om sakgeld te verdien.”
“Mooi … Alberts, jy besef hopelik wat ’n voorreg dit is dat jy saam met meneer Spaulding landuit kan gaan. Loggenberg en Logan was met die afgelope rugbytoer oorsee, en ons wil hê jy moet ook iets van die groot wêreld sien. Verryne se beurt kom later.”
“Ek kan nie vir doktor sê hoe waardeer ek dit nie,” antwoord Alberts. “Meneer Spaulding sê as iemand dalk siek is of iets, mag ek miskien junior viool speel wanneer hy dirigeer.”
“Dis net hy wat so iets kan reël. Dis ’n besondere kans vir jou.”
“Ja, doktor. Al wat ek in die lewe wil hê, is om in ’n orkes te speel. Ek wil nooit ’n solis wees nie. Nie soos Willemse wat ’n viool so laat sing nie.”
“Goeie orkeste het goeie spelers nodig. Jy sal die beste musiek hoor en interessante mense raakloop. Nou ja, tot siens dan. Loggenberg, gaan roep vir Spaulding en kom saam met hom terug.”
Alberts bly nog staan toe die ander uitgaan.
“Doktor … ek weet doktor betaal vir alles. Ek wil net baie dankie sê …”
“Toemaar, julle vier het ons met meer as geld vergoed.”
“Maar die viool wat doktor vir my leen …”
Soos almal wat Keurboslaan se geskiedenis ken, weet Alberts van die vriendskap jare gelede tussen die jong doktor Serfontein en die skool se bejaarde eerste eienaar, meneer Schoonbee. Dit is daardie ou heer se viool wat nou ter sprake is. Alberts weet hy sal nooit met sy geringe talent genoeg kan verdien om self so ’n pragtige instrument te koop nie.
Van die dag toe die hoof langs meneer Schoonbee se oop graf gestaan het, het hy sy vriend se naam nooit weer genoem nie.
“Ek weet die viool is in goeie hande,” is al wat hy nou sê. En daarmee is die gesprek afgehandel.
“Waar bly Loggenberg met Spaulding?” kom dit toe Alberts by die deur wil uitmik.
“Brian dwaal seker buite rond en nou soek Pieter hom, doktor,” sê Alberts filosofies terwyl hy uitgaan om hulle aan te jaag.
’n Jong man verskyn by die stoepdeur. Al is Richard byna een-en-twintig lyk hy nog net soos toe hy die skool se hoofseun was. Hy het sy ma se goue krulhare en sy pa se ernstige gesig en swart oë.
“Goeienaand,” sê hy. “Is Pa besig?”
“Welkom tuis. Ja, baie besig. Waar is Dian?” vra die hoof.
“Sy het voor om gegaan om Mamma te groet. Sy weet hoe gaan dit die laaste skooldag van die jaar. Ek groet sommer namens ons almal. Ruys en Wim sal ook nie nou kom pla nie.”
“Dis goed. Ek sal hulle later kom sien.”
“Dis lekker om by die huis te wees. Ek wens ons hoef nie weg te gaan nie.”
“Ja.”
Richard sien sy pa het nie veel te sê nie. Daarom gaan hy uit sonder om verder te praat.
Toe Brian en Loggenberg ’n rukkie later inkom, staan die hoof op.
“Ek het nie veel om vir julle te sê nie,” kondig hy aan, “behalwe dat jy volgende jaar hoofseun is, Spaulding – en jy is onderhoof-seun, Loggenberg.”
Brian snak hard na sy asem en stotter dan: “Doktor … kan dit nie doen nie … Dit sal ’n ramp wees vir die skool!”
“En baie goed vir jou. Ek sorg soos altyd vir die skool.”
Loggenberg maak keel skoon en sê dan: “Dis nie reg dat ek met my agtergrond onderhoofseun word nie.”
Die hoof se oë gaan effens toe asof hy dodelik verveeld is. “Julle is die hoof- en onderhoofseun. Spaulding, jy gedra jou op die vliegtuig. Jou pa sal jou in Londen ontmoet.”
“Hoe bedoel doktor ek moet my gedra?” vra Brian beledig. “Dis nie die eerste keer dat ek vlieg nie. Ek weet hoe werk dit.”
“Niemand het gesê jy weet nie. Dis juis die feit dat dit vir jou niks nuuts is nie wat jou oom bekommer. Hy wil van sy partiture tydens die vlug nagaan. As senior musiekonderwyser kry hy te min tyd daarvoor wanneer hy hier is. Probeer om hom nie te hinder nie.”
“Maar doktor, wanneer het ek iemand al ooit aspris gepla?”
Loggenberg gryns terwyl hy aan Brian se stormagtige verlede dink. Hy is verbaas dat die hoof, wat so gespanne lyk, Spaulding se teëpratery duld.
“Jou oom sê jy trek moeilikheid aan soos ’n magneet. Jy kan nie daaroor stry nie. Nou onlangs met die rugbytoer in Engeland het jy selfs met ’n groep betogers gebots.”
“Hulle het eerste begin moeilikheid soek.”
“Julle is gewaarsku om julle nie te laat uitlok nie. Jy het saam met die ander spelers belowe om jou in te hou. Maar toe huiwer jy nie om die persoon naaste aan jou te slaan nie. En soos die noodlot dit wou hê, was jou slagoffer ’n biskop.”
Die hoof se mondhoeke trek effens op. Dalk wens hy as oud-Springbok hy kon by gewees het met die voorval.
“Doktor,” pleit Brian, “een van die betogers wou my met ’n stok slaan, toe gryp ek dit uit sy hande uit en dit tref die biskop per ongeluk. Maar hoe moes ek raai dat ’n hoë kerkman saam sou marsjeer? Doktor moes gehoor het hoe vloek hulle ons.”
“Ek weet jy was onskuldig, maar die Engelse pers het jou ’n ‘Springbok bully’ genoem en gesê jy het die man opsetlik aangeval.”
“Maar dit was ’n leuen! Daar was nie sprake van Springbokke nie! Ons was mos ’n private span met Australiërs en Franse by.”
Die hoof wat in die stilligheid heelwat geld tot die toer bygedra het, maak Brian met ’n gebaar stil.
“As dit nie vir die res van die span se selfbeheersing was nie, was daar groot moles. Die ambassade moes spook om jou los te kry.”
“Ja, maar die polisie was aan my kant. Hulle pes daardie spul betogers! Hulle het vir my tee en koekies gegee tot iemand van die ambassade …”
“Ja, ja,” onderbreek die hoof. “Ek herhaal: Gedra jou hierdie keer asseblief.”
“Is doktor nie bang die skool kom in die skande as ek die hoofseun is nie?” vra Brian nors.
“Ek het geleer om met vrees saam te lewe. Dis al, dankie.”
Wanneer doktor Serfontein so sê, verdaag sy besoekers dadelik.
Hy gaan uiteindelik na die salon om sy dogter te groet.
Dian is agtien. Sy het haar pa se swart hare en oë, maar al is sy baie mooi, is sy skaam om uit te staan. Sy staan grasieus op om hom te groet.
“Wel!” sê haar pa net. Niemand weet werklik hoe hy voel oor hierdie beskeie kind van hom nie.
Die twee jong manne wat haar geselskap gehou het, staan ook op met ’n hartlike: “Goeienaand, doktor!”
“Alles reg by julle?” verneem die hoof.
“Voor die wind, ja doktor,” antwoord Ruyssenaer wat sommer ook namens Willemse praat. “Dis baie gaaf van doktor om ons te nooi.”
“Glad nie. Ek het julle mos self geleer hoe om julle as gaste te gedra.”
“Sal doktor ons verskoon?” vra Ruyssenaer beleefd. “Ons wil graag van die ouens by die skool gaan groet. Dis eintlik hoekom ons net vir die een nag gekom het. Môre gaan ’n klomp hierjye wat voor ons oë grootgeword het, mos weg.”
Die hoof is lankal gewoond aan sy voormalige onderhoofseun se manier van praat.
“Gaan gerus.”
Nou draai doktor Serfontein na Dian toe.
“Dis lekker om julle almal by die huis te hê – en oormôre sien ons vir Josef in New York.”
“Ja, dis wonderlik. Ek het nou die dag nog ’n brief van hom gekry …”
Sy huiwer. Haar pa sien dadelik iets skort.
Helen Serfontein kom terug van waar sy na die etenstafel gaan omsien het. “Wat skinder julle twee?” vra sy.
“Nee, ek sê net Josef het vir my geskryf,” sê Dian en bloos effens.
“Hoekom lyk jy so skuldig?” wil haar ma dadelik weet. “Moenie vir my sê hy is weer diep in die skuld nie.”
“O, nee!”
Dian sien haar pa frons. Sy is bang vir hierdie uitdrukking. Nes Lavrans kan sy dit nie verdra wanneer die huislike atmosfeer gespanne raak nie.
“Dankie tog hy het daardie onsin oor ’n ruimtevaart laat vaar,” sê mevrou Serfontein. “Hy sal baie beter vaar as ’n lektor in fisika.”
“Dink Mamma dis wat hy wil doen?”
“Seker maar. Hy kom tog huis toe, en hy het al sy graad.”
Die hoof kan sien Dian voel ongemaklik. Het sy oudste seun al weer moles gemaak?
Josef is ’n goeie student en ’n uithaler-sportman. Hy is gewoonlik heel vredeliewend, maar sy vrolike geaardheid veroorsaak dat hy soms met onverantwoordelike mense bevriend raak. Dit het hom in die verlede al dikwels in die moeilikheid laat beland.
“Het jy jou eerste jaar op universiteit geniet?” verander haar pa die onderwerp. Dis ’n teken dat hy voorlopig niks meer van Josef wil hoor nie.
“O ja, Etienne is baie goed vir my, en hy neem my oral na waar ek dit nie alleen sal waag nie …”
“Etienne?”
Nou bloos Dian regtig. “Ruys,” sê sy.
“O …” die streng gesig verlig ’n bietjie. “Ek ken hom so lank al as Ruyssenaer of Ruys dat ek soms sy voornaam vergeet. Hoe gaan dit met ouma en oupa?”
“Baie goed, dankie. Dis wonderlik dat ons studente daar in hulle rondawels kan bly. Losies is regtig ’n probleem. En al is ouma en oupa oud, help hulle my en Riek en Louis met alles. Oupa gaan nou weer ’n reeks lesings oor die radio gee.”
“Ja, ek verstaan so. Ons het vanmiddag oor die telefoon gepraat. Nou moet ek weg wees.”
“Gaan Pa dan nie eet nie?” kom dit verbaas van Dian, wat ’n gesonde eetlus het.
“Danster sal vir my iets bring.”
“’n Rou wortel en ’n appel,” sê sy vrou en rol haar oë.
“’n Mens kan nie net van vloeistof lewe nie …”
“Nee, jy het die een koppie bitter swart koffie ná die ander nodig,” spot mevrou Serfontein goedig.
“Soos ek wou gesê het toe ek in die rede geval is, ’n mens moet soms ook iets hards kou om jou tande sterk te hou. Verskoon my nou asseblief.”
Die hoof glimlag effens en gaan dan sy gang.
“Hy’s tog so dierbaar,” sug Dian. “Ek wens ’n mens kon hom help of … Ag, ek weet ook nie. Dis byna onmoontlik om iets met hom te bespreek.”
“Daar slaan jy die bal raak.”
“Ek wil so graag vir Tiesjie gaan pleit. Wat dink Mamma?”
“Nee, los dit. Pa is weer in een van sy buie. Hy wil alleen wees. Ek is al gewoond daaraan. Nou laat ek hom maar in vrede na sy dakkamer daarbo gaan. Sodra hy seker is niemand wil hom nog vanaand in die studeerkamer spreek nie, sal hy soontoe verdwyn.”
Sy praat ewe rustig en asof dit haar effens amuseer, maar Dian weet al lyk haar ma so beheers, is sy in werklikheid ’n senulyer. As selfs sy haar pa se prikkelrige bui kan aanvoel, moet dit haar ma pla, daarvan is sy seker.
Josef het sy suster gevra om hulle ouers in te lig oor sy voornemens, maar sy besluit dis nie nou die regte tyd daarvoor nie.
“Is daar ’n spesifieke rede hoekom Pa so af voel?” vra Dian. “Ek dink partykeer dis die goed wat hy skryf wat hom so rusteloos maak.”
Mevrou Serfontein kyk verbaas na haar dogter. “Dis waar wat jy daar sê. Dit ís rusteloosheid! … In dié geval is daar miskien ’n rede voor. Hy het onlangs ’n stapel boeke laat kom. Jy weet mos hy koop gereeld nog aan, al kry hy amper nooit tyd om dit te lees nie. In elk geval, een van hulle gaan oor die verlore kontinent Atlantis.”
“Ek kan skaars glo Pa sal so iets lees.”
“Wel, hy het. Toe ek een aand ingaan om nag te sê, sit hy agter sy lessenaar met dié boek en oorlede meneer Schoonbee se Feëverhale van Alle Nasies. En hy het vir ’n wonder daaroor gepraat, maar meer asof hy met homself gesels.”
Nou kan Dian sien hierdie dinge is vir haar ma moeilik. Sy streel haar ma se hand terwyl sy wag dat sy moet aangaan.
“Die boek oor Atlantis beweer oeroue mense of wesens het paaie oor die hele aarde gebou of gevorm, en dat ’n sekere magnetiese veld deur daardie weë loop en dat party uitverkorenes daardie energie nog kan voel. Soos ek kon agterkom, was dieselfde idee ook die uitgangspunt van meneer Schoonbee se boek. Hy wou bewys alle lande se fabels is basies dieselfde, al het die mense van destyds nooit kontak met mekaar gehad nie. Hy het geglo die verhale het langs sulke magnetiese weë na hulle toe gekom.”
“Maar hoe vind ’n mens uit waar daardie paaie is?” Dian is effens geskok om te dink haar pa hou hom met sulke fantasieë besig.
“Seker maar deur gevoel … Oorblyfsels van sulke weë kan glo uit ’n vliegtuig gesien word. Reguit lyne kan blykbaar van een geslag se heilige plek na ’n ander getrek word. Meneer Schoonbee se boek het ’n groot kaart van die aarde voorin waarop sulke paaie aangedui word. Toe ek oor Pa se skouer daarna kyk, het hy ewe sedig gesê: ‘Ons sou die Lang Reguit Pad gevolg het’ en kon hoor hy sou daardie naam met hoofletters skryf.”
Mevrou Serfontein probeer glimlag, maar haar oë lyk moeg.
“Hy en ou meneer Schoonbee was baie na aan mekaar. Nou lyk dit vir my of hierdie nuwe boek hom weer diep laat nadink. Hy het vererg bygevoeg: ‘Maar die wêreld dink mos net aan geld, geld, geld!’”
“Dit klink vir my glad nie na Pa nie. Is hy nie dalk siek nie, Mamma?”
“Miskien, maar onthou, hy is nie ’n gewone mens nie. Wir müssen uns damit abfinden,” beëindig mevrou Serfontein die gesprek in haar moedertaal.