Читать книгу Krisis op Keurboslaan #10 - Theunis Krogh - Страница 5
3
ОглавлениеJOSEF SE PLAN
Dis die eerste aand van die nuwe skooljaar. Driehonderd seuns vergader in Keurboslaan Seunskool se konsertsaal vir Godsdiens.
Die nuwe prefekte staan voor, net onderkant die verhoog waar die personeel binnekort sal verskyn. Loggenberg se kop steek ver bo die ander s’n uit. Maar Brian Spaulding se wit kop kom kort. Hoe werk dit dan? Is hy nie veronderstel om die hoofseun te wees nie?
Die personeel daag nou op. Vooraan is Miss Kennerley, die gevreesde onderwyseres wat Engels en Latyn gee. Geslagte seuns het al voor haar gebewe. Sy is ’n universiteitsvriendin van die hoof, uit sy dae op Cambridge. Hulle het albei beurse gewen en die mense sê hulle het vriende geword omdat albei tien keer slimmer as die ander studente was.
Miss Kennerley was jare lank die hoof van ’n spoggerige meisieskool in Johannesburg, maar sy het altyd tydens haar langverlof hier kom uithelp. Later het sy verveeld geraak met die meisieskool en selfs in die buiteland gaan werk, maar sy is nou al ’n hele ruk permanent op Keurboslaan. Al is sy tingerig, vrees die seuns die ondersoekende blik van agter haar knypbril meer as die hoof se koue woede – en dit sê heelwat.
Agter die Engelse dame volg die hoof se broer, Adolf Serfontein, meneer Dempers, meneer Böckl, meneer Venter en sy vriend meneer Geer, die sportonderwyser, en ’n paar ander. Mevrou Mostert, die huismoeder, verskyn ’n rukkie later saam met Barbara Venter, die hoof se sekretaresse. Sy en meneer Spaulding is al ’n paar jaar lank verloof, maar kom nie tot trou nie. Barbara is te gelukkig in haar werk om sommer ’n verandering te maak.
Tussen die heel kleintjies agter in die saal waar die diensprefek Theo Killian hulle dophou, staan ’n nuwe skolier met goue krulhare en ’n besonder mooi gesiggie. Ná heelwat beraadslaging is Lavrans hier toegelaat. Hy dra nou uiteindelik die roos-en-grys kleurbaadjie waarna hy so lank gesmag het. Hy is ’n kosganger nes al die ander en gaan vannag hier slaap.
Lavrans gaan nie huis toe verlang nie. Sy ouers bly net onderkant die skoolterrein en hy mag hulle elke aand gaan groet. Op die oomblik hou hy niks van die atmosfeer by die huis nie. Tiesjie en sy pa praat glad nie met mekaar nie. Sy ma was die vakansie siek en voel nog steeds nie lekker nie.
“Pa is kwaad omdat party seuns nie opgedaag het nie,” fluister hy vir Pietie Elsenach en Dolfie Krynauw, albei verlangs familie van hom en ook groentjies.
“Wie praat daar onder?” vra die hoof wat soos ’n onvergenoegde kardinaal op die verhoog lyk.
Hy is reeds die duiwel in, dink Killian omgekrap, en dan sien hy nie die kleinste oortreding oor nie.
“Watter prefek is daar aan diens?”
Asof hy met sy arendoë nie weet nie!
“Dis Lavrans wat gepraat het, doktor,” sê Killian.
Die hoof kyk na sy jongste kind en twee paar swart oë bots oor die afstand. Lavrans kyk nie weg nie. Inteendeel, dit lyk asof hy die situasie geniet. Dit gaan mos hier oor ’n dissiplinêre saak op skool en nie huislike moeilikheid nie.
“Jy is op ’n jonger ouderdom as wat ons gewoonlik toelaat hier opgeneem,” sê die hoof met die bekende knal van ’n sweepslag in sy stem. “Daar word van jou verwag om die reëls te gehoorsaam, anders moet jy die skool verlaat.”
Die arme kind gaan tot in die aarde verneder voel, dink almal simpatiek.
Maar die helder stemmetjie wat so mooi kan sing, antwoord beslis en duidelik: “Ja, doktor. Ekskuus, doktor.”
Sy seun se waagmoed doen iets aan die hoof se slegte bui. “Dis dan goed,” sê hy met groot selfbeheersing, terwyl sy lippe effens opkrul.
Die personeel glimlag verlig en daarna verloop sake vlot.
Die Serfontein-gesin woon Aandgodsdiens gewoonlik by. Maar vanaand het hulle gevoel dit sal ondraaglik wees om Lavrans, hulle baba, as ’n nuwe kosganger tussen die ander seuns te sien. Die hoof het hulle daarom verskoon, al was dit met merkbare ongeduld.
Die afgelope twee maande was vir hom allesbehalwe ’n vakansie. Sy personeel bly maar uit sy pad toe hulle die verhoog verlaat. Hy sê net kortaf: “Goeienag” en gaan huis toe.
Sy oudste seun wil hom spreek. Hierdie gesprek is reeds te lank uitgestel. En waar is Bertrand Spaulding en die ander twee afwesige seuns? Hy het gehoop om vannag aan sy boek te kan werk, maar hy sien al klaar daar gaan niks van kom nie.
Intussen gesels Josef laggend met sy ma en suster. Sy groen oë kyk ondeund langs sy effens Romeinse neus af na hulle. Nes Berrie het hy ook bruin hare.
“Ek moet seker nou eers met Pa gaan praat,” sê hy. “Hy hou niks daarvan dat ons soos rykmanskinders by die huis rondsit nie. Pa sal wil weet wat ek doen om werk te kry.”
“Hy sal nie toelaat dat jy die rigting volg waarvan jy praat nie,” sê sy ma. “Hy weet wat dit aan my sal doen. Julle gesprek gaan net moeilikheid veroorsaak. Ek weet dit sommer.”
“Ag, wat is dit nou weer met Mamma en die senuwees?”
Dian streel haar ma se hand.
“Dit het alles met Riekie begin,” kla mevrou Serfontein.
“Omdat hy dadelik ná skool militêre diens gaan doen het?” vra Josef. “Dit was tog beter om dit eers agter die rug te kry en dan universiteit toe te gaan.”
“Ja, maar hy het die Serfonteins se naam gebruik om hom en Ruyssenaer en Willemse vroeër te laat aansluit,” sê sy ma. “Dit het byna my lewe gekos. Pa het my soos altyd ondersteun, maar ek dink hy het nou genoeg daarvan gehad.”
“Riek het veilig terug huis toe gekom, en Louis skryf vir my hy is briljant op universiteit. Om nie eens van rugby te praat nie. Die Engelse sportmense noem hom The young Olympian!”
“Ja, hy is nou veilig, maar ek sal nooit weer so iets oorleef nie, en Pa weet dit.” Mevrou Serfontein wring haar hande. “Ek was net so bekommerd oor Tiesjie. Ek het in Dresden heeltemal ineengestort en was toe weer op jou pa aangewese.”
“Dit was darem nie so erg nie,” troos Dian.
“Mamma moes die kind nooit hier gelos het nie,” sê Josef.
“Pa het ná ’n paar dae aangebied om haar te laat haal, maar toe ek haar bel, het sy botweg geweier.”
“Sy het ’n goeie pak slae nodig, dis verseker … Maar as Mamma se senuwees so op hol is, gaan weer na oom Martin toe.”
Voor sy kan antwoord, kom die hoof van die stoep af in.
Hy groet sy vrou en dogter met ’n kopknik en sê dan: “Josef, ek kan nou ’n paar minute afstaan.”
“Regtig? Ek weet Pa het allerhande probleme. Nog niks nuus oor die seuns nie?”
“Nee, kom gerus in.”
In die studeerkamer gaan staan die hoof langs die kaggel.
“Sit, as jy wil … Rook?”
“Nie nou nie, dankie Pa.”
“Wil jy jou toekomsplanne bespreek? Wat dit ook al is, met jou graad lê die wêreld oop voor jou.”
“Ek wou al vroeër met Pa daaroor praat, maar Pa is so besig dat daar nog nie kans was nie.”
“Die afgelope tyd was buitengewoon besig. Wat het jy gedink om te doen?”
“Ek wil by ons lugmag aansluit.”
Josef praat verder toe sy pa nie antwoord nie.
“Ek het op fisika gekonsentreer omdat ek ’n bydrae tot die ruimtevaart wou maak. Daarom wou ek liewer in Amerika klaar studeer. Maar ek het nou van mening verander. Daar gebeur oral lelike dinge, ook in ons eie land.”
“Jy bedoel?”
“Daar is genoeg vir my om hier te doen. Ek was net nie altyd bewus van die dreigende gevare nie. Ek kan myself nie nou al veilig in ’n lesinglokaal gaan toespyker nie.”
Hy kry nog steeds nie ’n antwoord nie.
“Hoekom kyk Pa my so verbaas aan? Dis tog hier op skool en by Pa self wat ons geleer het om soos ’n ware man op te tree.”
“Jy wil dus lugmag toe gaan om in geval van ’n oorlog ook te kan veg?”
“Ja, ek is ouer as die ouens wat gewoonlik opgeneem word, maar my fisika en toegepaste wiskunde tel in my guns. Verder het ek ’n vliegkursus in Arizona gedoen, en ek hanteer ’n vliegtuig byna so goed soos ou Bart. Ek is besig om alles te reël. Dis hoekom ek vroeër alleen huis toe gekom het.”
Die hoof stap tot aan die ander kant van die groot vertrek, dan draai hy om en kom terug.
“Jy kan dit nie doen nie,” sê hy.
Josef frons. “Hoekom nie?”
“Dink aan jou ma … Sy weier om dit te erken, maar sy ly erg aan haar senuwees. Sy sal die onsekerheid oor jou veiligheid nie kan verduur nie.”
“Kom nou, Pa. Amper elke soldaat of matroos het ’n ma.”
“Dis anders. Jou ma se toestand spruit voort uit ’n tragedie van jare gelede. Jy besef sy was vantevore getroud.”
Josef weet hoe moeilik so ’n gesprek vir sy terughoudende pa is.
“Ja, natuurlik,” antwoord hy vinnig.
“Sy en Hans Bielefeld was baie jonk. Hulle het saam gestudeer en gewerk. Hulle lewe was volmaak.” Die hoof praat gevoelvol, heeltemal anders as gewoonlik. “Toe eensklaps is haar man en kind dood … Albei binne drie dae.”
“Ja, ek weet. Pa hoef nie …”
“Dis waarom sy die lewe nie vertrou nie. Sy het daardie tragedie nou nog nie ten volle verwerk nie.”
“Dis verstaanbaar, maar …”
Die hoof praat verder. Hy het nou een keer sover gekom om sy diepste gevoelens aan sy seun te openbaar. “Sy wou nooit weer trou nie. Sy wou haar nie weer aan sulke lyding blootstel nie. Uiteindelik het ek haar egter oortuig dit sou in ons albei se belang wees …”
Josef kan hom daardie saaklike, delikate huweliksaanbod goed voorstel. Maar hy het sy pa nog nooit so openlik soos vanaand hoor praat nie.
“Ek het haar my woord gegee dat sy nooit weer enige rede tot kommer sou hê nie …”
“Hoe kon Pa so iets belowe het?” vra Josef vererg. “Wat van toe Berrie byna verongeluk het toe hy klein was? En die mense hier praat nou nog van die vreeslike tyd kort voor my geboorte toe een van oom Martin se dokters gedink het Pa ly aan ’n ongeneeslike siekte … Sulke dinge gebeur. Niemand kan dit keer nie!”
“Ek het jou hierdie dinge vertel sodat jy kan verstaan waarom jy jou plan moet laat vaar. Dis nou genoeg daarvan.”
Josef is skielik woedend. “Niemand kan my beveel om dit te los nie! Ek stel Pa net uit ordentlikheid daarvan in kennis. Ek gaan my nie deur Pa se simpel beloftes laat terughou nie.”
Die hoof word deurskynend bleek. Nou dring die volle betekenis van sy woorde eers tot Josef deur.
’n Ysige, minagtende blik tref hom. “Verlaat hierdie vertrek en so gou moontlik daarna die huis.”
“Ek het my verkeerd uitgedruk! Pa dink tog nie … Ek het bedoel beloftes van lank gelede.”
“Besluit vinnig wie van ons verlaat hierdie huis – ek of jy.”
Die hoof is briesend en hy praat nog sagter as gewoonlik. “Jy het jou motor en klere en die jaarlikse toelaag wat in jou bankrekening betaal is. Gaan maak soos jy wil.”
Josef besef hy is magteloos teen hierdie onderdrukte woede.
Hy wil sy ma nie graag ontstel nie, maar hy kan ook nie wegry sonder om haar te groet nie.
Kort daarna daag Helen Serfontein in die studeerkamer op. Sy stap soos ’n keiserin en haar oë flits groen vlamme. Haar man sit agter die lessenaar, maar hy doen niks nie. Wanneer sy nader kom, staan hy op.
“Is dit waar dat jy Josef uit die huis gejaag het?” vra sy.
“Ek weier om dit te bespreek.”
Die uitdrukking in sy oë moes haar gewaarsku het, maar sy gaan voort.
“Wel, ék wil dit bespreek! Was jy weer in een van jou woede-buie? Eers moes Tiesjie deurloop, nou Josef. Wil jy een ná die ander van ons kinders ontslae raak?”
Die hoof antwoord nie. Al mevrou Serfontein se selfbeheersing is nou daarmee heen.
“Jy behoort jou as hoof van hierdie gesin te bedwing. Jy is verantwoordelik vir jou kinders se toekoms, sowel as vir jou eie … Jou pa was so kil teenoor jou as kind dat jy al jou liefde vir ’n vader op ’n vreemdeling soos meneer Schoonbee moes uitstort. Het dit jou niks geleer nie?”
Die ruwe manier waarop sy iets ophaal wat die hoof seker die seerste ooit gemaak het, vernietig enige hoop op ’n redelike gesprek met hom.
Sy vrou sien dit aan sy hele houding. Dis of hy hom afvra of hy haar ooit regtig geken het. Sy is skaam oor wat sy doen, maar gaan nogtans verder.
“Jy sal ons gesin finaal uitmekaar dryf,” sê sy, “want as jy Josef wegjaag, gaan ek saam met hom. Dis dan vir eens en vir altyd verby tussen ons. Dan is jy sommer van ons almal ontslae, want ek neem die ander kinders saam met my. Ek het nou genoeg van jou buie gehad!”
Hy antwoord so emosieloos asof hy ’n les gee.
“Jy hoef nie weg te gaan nie. Hierdie huis is met ons troue wettig op jou naam geplaas en alles wat jy en die kinders nodig het, is hier. Ek gaan by die skool inwoon so gou dit gereël kan word.”
“Dis ongelooflik, selfs komende van jou! So jy wil liewer die huis verlaat as om my tegemoet te kom ter wille van ons seun? Hoe sal dit lyk?”
“Dit sal lyk of ek liewer op skool wil inwoon. Ek het hierdie groot huis nie vir my eie gebruik nodig nie. Buitendien sal ek moontlik weggaan as ek ’n geskikte hoof vir die skool kan aanstel.”
Mevrou Serfontein is doodsbleek. Sy probeer om haar bewende hande stil te hou. “Hoekom haat jy my skielik? Ek weet ek het my humeur verloor, en ek moes meneer Schoonbee nie so gevoelloos bygesleep het nie, maar jy verloor tog ook dikwels jou humeur en sê onvergeeflike dinge.”
“Haat is nie hier ter sprake nie. Dis jy wat ’n einde aan ons lewe saam wil maak. Ek het jou oorreed om met my te trou, al was dit teen jou sin. Ek moes dit nie gedoen het nie.”
“Jy praat onsin, Roelof! Ons het goeie jare saam gehad. Ons het ons kinders.”
Die hoof ignoreer dit. “Hierdie keer bly ek by jou besluit,” sê hy.
Sy skud haar kop ongelowig. “So ’n gedoente, en dit oor ’n eiewys seun! Laat hy dan maar ’n ruk weggaan tot ons almal afgekoel het.”
“Of hy bly of gaan, maak nou geen verskil nie.”
“Is jy so verwaand dat jy nie jou woorde kan terugtrek nie? Ek is nie te trots om te erken ek was verkeerd nie.”
“Ek erken ek het verkeerd opgetree toe ek jou omgepraat het om met my in die huwelik te tree,” sê hy formeel.
“Maar die kinders …”
“Die kinders is joune. Ek sal hulle nooit teen jou beïnvloed nie. Vertel vir hulle wat jy wil. Soos ek reeds gesê het, hierdie huis is joune, en as jy dadelik van dié vertrek gebruik wil maak, sal ek êrens anders heen gaan. Maar met twee seuns afwesig, is dit dalk beter dat ek vannag nog hier bly waar almal my kom soek.”
Sy kyk na sy lang figuur en genadelose gesig. Terwyl sy nog huiwer, trek hy sy skouers op, tel ’n stapel papiere op en stap na die binnedeur.
“Toemaar, ek sal loop,” sê sy.
“Dankie.”
Kort daarna ry Josef weg. Hy kan tog nie hier bly as sy pa die huis gaan verlaat nie. Die hoof sien hom vertrek, maar hy verroer nie ’n spier nie.
’n Rukkie later spring meneer Spaulding uit sy motor en stap fluit-fluit met die stoep langs na die studeerkamer.
Hy is so gelukkig op Keurboslaan dat geen aanbod van ’n voltydse dirigentskap hom hier kan weglok nie. Hy gaan werk net vakansietye oorsee.
Die musikus daag ’n dag laat by die skool op en weet met watter verwytende blik hy ontvang sal word, maar hy het as seun meer as een goeie loesing in hierdie studeerkamer gekry en dit het niks aan sy verhouding met die hoof gedoen nie.
Vannag lyk doktor Serfontein egter nie soos die man wat hy ken nie. Sy lippe is saamgepers, en sy oë lyk gevaarlik.
“Haai, dit kan tog nie so erg nie wees nie,” wil meneer Spaulding graag sê.
Maar voor een van hulle kan praat, lui die telefoon.
“Ja, Oscar? Spaulding het so pas opgedaag. Wag.” Hy draai na die dirigent. “Waarom het die seuns hulle nie kom aanmeld voor hulle skool toe is nie?”
“Watter seuns? Wil jy vir my sê hulle is nog nie hier nie?”
“Het hulle nie saam met jou gekom nie?”
“Nee, maar … hoe is dit moontlik? Ek het hulle self Heathrow-lughawe toe geneem en seker gemaak hulle kom op die regte vlug. Ek het nog vir hulle gewaai toe hulle aan boord gaan. Wat het die klein twakke …”
“Net ’n oomblik … Oscar, Spaulding sê hy het hulle by Heathrow gaan afsien, maar hy het daar agtergebly. Ja, ek weet. Hou weer aan.”
“M … maar …” stamel meneer Spaulding en wens hy is eerder dood.
“Waarom het jy nie saam met hulle gekom nie?”
“Wel, doktor sien, die bestuur van Covent Garden wou my op die laaste oomblik spreek oor optredes gedurende hulle winterseisoen. Hulle wil sowaar hê ek moet …”
Die eer van so ’n uitnodiging maak hoegenaamd geen indruk op die hoof nie. “Dus het jy die seuns alleen laat vlieg?”
“Ek weet ek moes nie, maar hulle is tog al groot, en Covent Garden is deesdae belangriker as New York se Metropolitan …”
Die kyk wat die dirigent kry, laat hom swyg.
“Jy het geweet die polisie hou Alberts nog dop en ek is persoonlik vir hom verantwoordelik. Verder is jy vergoed vir jou moeite.”
Wat kan meneer Spaulding sê? Dis immers die waarheid.
Die hoof praat weer met Oscar Wienand.
“Jy het reeds vasgestel die seuns het verdwyn nadat hulle in Lissabon opgestyg het. Die lugredery steek iets weg. Hulle moet weet waar en hoe die twee uit die vliegtuig gekom het. Bel ons kantoor in Lissabon weer en laat hulle alle moontlike navrae doen. Tot siens.”
Vir meneer Spaulding sê hy: “Jy het jou plig versuim. Ek het niks meer om vir jou te sê nie. Gaan slaap gerus.”
“Doktor kan vir my enigiets sê, niks sal te erg wees nie. Maar moenie verwag ek moet nou gaan slaap wetende wat jy van my dink nie … Laat ek ten minste help.”
“Daar is niks wat jy kan doen nie. Ek dink ook nie vir een oomblik aan jou nie. Ek dink aan die seuns. Jy het self gesê Brian maak altyd moles. Alberts het dit uiteindelik reggekry om sy probleme te bowe te kom. Hy kan maklik weer in die moeilikheid beland as hy deur jou nalatigheid in ’n posisie beland waar hy miskien met die gereg bots. Moet my asseblief nie langer ophou nie.”
Meneer Spaulding maak hom haastig uit die voete. Niks wat sy verloofde en sy getroue kollegas sê, kan hom troos nie.