Читать книгу Misverstand op Keurboslaan #9 - Theunis Krogh - Страница 5
DIE MISVERSTAND
ОглавлениеBy Keurboslaan Seunskool word alles reggemaak om die drie-honderd seuns te verwelkom. Hulle kom binne vier-en-twintig uur terug van die wintervakansie af. Almal is kosgangers, want hier is nie dagskoliere nie.
Die hoof se studeerkamer lyk die middag eerder huislik as amptelik, want hy en sy vrou geniet ’n rustige tydjie saam met hulle gesinslede wat tuis is.
Mevrou Serfontein lyk baie jonk vir ’n negentienjarige seun se ma. As vrou van een van die land se bekendste skrywers en rykste sakemanne, verskyn haar foto dikwels in tydskrifte en sy is selfs in die buiteland as ’n skoonheid bekend.
Die dogters, veertienjarige Dian en negejarige Laetitia, is heel mooi. Die dertienjarige Bernard begin ook in ’n aantreklike seun ontwikkel; klein Lavrans, wat al sy ouers se beste eienskappe geërf het, is op sy beurt die mooiste kind in die omtrek.
Maar selfs met al hierdie aantreklike mense in die geselskap, is dit nog steeds doktor Serfontein wat die meeste aandag trek. Al vind sy kinders hom nie baie genaakbaar nie, is hy vir hulle en die paar mense wat kan sê hulle is sy vriende, die middelpunt van die lewe.
Ná ’n oomblik van stilte word een van die lang skuifdeure oopgeskuif en twee mans kom by die vertrek in.
Die bekende dokter, Eugene Krynauw, is baie ouer as die hoof se tweede seun, Richard, maar hy en die sewentienjarige is byna ewe lank. Hulle is net ’n rapsie korter as die hoof, wat ’n besonder lang man is. Albei het rybroeke en leerjasse aan, want hulle het so pas ver in die fris, koel buitelug perd gery.
“Hier is ons!” sê dokter Krynauw. “Die mis lê dik aan Swaziland se kant. Ek het in ’n stadium gedink ons haal dit nie.”
Sy goedige bruin oë betrag sy vriende van agter ’n bril. Sy stem is diep en strelend, en klink baie na die hoof se manier van praat. Hy was sy hele skoolloopbaan lank hier op Keurboslaan. Ná die hoof se troue was Eugene Krynauw soos ’n seun in die huis. Krynauw en mevrou Serfontein is eerder soos ’n broer en suster.
Helen Serfontein se uitsonderlike groen oë, wat die oudste seun Josef en die derde seun Berrie by haar geërf het, kyk liefdevol na dokter Krynauw en haar seun wat by die vertrek instap. Richard het sy goue hare by sy ma geërf en dié is nou nat en krullerig van die ligte reën wat so dikwels in die winter hier val. Sy pa het swart hare en oë, maar afgesien van die verskil in haarkleur is Richard sy pa se ewebeeld, met dieselfde byna perfekte gesig wat altyd ernstig lyk, totdat ’n flou glimlag ’n eie sjarme daaraan verleen. Die seun se swart oë is ekstra opvallend by die ligte hare.
“Julle is net betyds vir ’n lekker koppie tee,” sê mevrou Serfontein.
Die hoof is gewoonlik suinig met woorde, maar hy heet hulle hartlik welkom.
“Dis jammer doktor kon nie saamkom nie,” sê Krynauw.
“Ja … Nou ja, môre is nog ’n dag.”
“Dan moet ek weer in die stad wees. Ek het reeds meer tyd afgeknyp as wat ek moes.”
“Ons sien te min van jou,” kla mevrou Serfontein. “En ek is kwaad dat jy Tessa nie saamgebring het nie.”
“Sy maak haar seun se skoolklere reg,” verduidelik dokter Krynauw met ’n glimlag vir sy mooi vrou se oom en aangenome pa. “Dian en Tiesjie, hoe lyk dit, gee julle om as ons môre baie vroeg ry?”
“Nee, glad nie, oom Gene,” antwoord Dian bedees.
“Natuurlik nie,” sê Tiesjie. Haar ma gee haar ’n raps met haar silwer vingerhoed en dan voeg sy nors by: “Oom Gene.”
Helen Serfontein glo nie daarin om haar kinders te bederf nie.
Haar man se wenkbrou trek effens op, maar hy maak nie ’n opmerking oor die vermaning nie. Sulke sake het hy nog altyd aan sy vrou oorgelaat.
“Goed dan,” sê dokter Krynauw wat maar altyd die vredemaker is. “Ek vat julle jong dames skool toe, en dan moet ek my eie gesin gaan groet voor ek aan die werk spring.”
“Dis gaaf van jou om hulle te neem,” sê die hoof effens formeel, so kenmerkend van hom, selfs teenoor sy gesinslede. “Dis jammer ek moet nou ’n draai by die Lochiels se plaas gaan maak.”
“Dis vir my ’n groot eer om in sulke mooi dames se geselskap te wees. Maar moenie dat die plaasbestuurder langdradig wees nie, anders gaan doktor nie saam met die skoliere per trein van Johannesburg af hierheen kan ry nie, en dan sal niemand weet wat aangaan nie.”
“Dít sal nooit gebeur nie!” sê mevrou Serfontein. “Riekie, nog tee? Hoekom eet jy nie? Die besigste deel van die rugbyseisoen is mos verby. Jy hoef nie bang te wees om koek te eet nie.”
“Dankie, Mamma. Ek sal maar tot aandete wag.”
Hier is weer ’n geval waar die hoof se sterk invloed opmerklik is. Richard praat sag en beheers met ’n diep stem net soos sy pa s’n.
Hy tel Lavrans van die mat af op en laat die krulkop op sy skoot sit.
“Kyk my twee blonde Serfonteins, Gene,” sê die ma. “Lyk Riekie en Lavrans nie verbasend baie na mekaar nie?”
Krynauw kyk vol bewondering na die seuns.
“Hulle is die stil Serfonteins,” sê hy, “nes Dian. Jy het drie stilles en drie woeliges, Helen.”
“Miskien gaan Berrie na die stilles se kant oor. Hy het meer as ’n uur laas gepraat.”
“Sy mond is die hele tyd vol koek, dis hoekom!” sê Tiesjie vies.
Berrie se groen oë gluur onder lang, dik wimpers uit. “Is nie! Ek dink,” sê hy.
“Dit sal die dag wees,” spot dokter Krynauw. “Nou ja, wat gebeur dan môre? Riek, kom jy saam met my en die meisies?”
“Ja, asseblief, oom Gene. Ek moet Josef by die lughawe gaan kry. Pa het daardie tyd ’n vergadering in die stad.”
“O ja. Dan kom Josef sommer met jou pa se motor huis toe? As hoofseun gaan jy seker saam met jou pa om die jongspan op te pas.”
“Dis reg, ja.”
“Ons span het hierdie keer goed gevaar oorsee,” sê dokter Krynauw. “Veral vir Josef was dit ’n baie suksesvolle toer. Dis jammer jy kon nie saamgaan nie, Riek. Die bestuur wou jou vreeslik graag daar gehad het, en jy het tog verlede jaar gegaan toe jy maar net sestien was. Ek kry nou nog lekker as ek dink hoe jou kolf die buitelanders se balle gemoker het!”
“Ek het hom belet,” sê Helen Serfontein koel. “Hy was die afgelope tyd onder te veel spanning met al sy skoolwerk, sy pligte as prefek en die sport en alles. Verder het Roelof as eksperiment vier seuns uit verbeteringskole ingevoer, en dit was baie geslaagd, veral wat Loggenberg betref. Maar al vier is in Riekie se slaapkamer en daar was hoeveel probleme voor hulle tot bedaring gekom het. Jy weet self hoe dit hier gegaan het. Ek kon sien sy senuwees is gedaan en ek wou hom nie ná al die rugby so gou op ’n belangrike kriekettoer laat weggaan nie.”
Almal luister met respek. Mevrou Serfontein se man sal nooit teen haar besluite oor die kinders ingaan nie.
Helen is warm en liefdevol, maar nogtans streng en beslis – ’n voorbeeld van wat ’n ma behoort te wees, dink dokter Krynauw, wat sy eie ma baie vroeg verloor het.
“Meisies, gaan pak julle nou in,” sê mevrou Serfontein, “en Berrie, kry jy ook jou goed bymekaar sodat dit skool toe gedra kan word. Riekie, neem Lavrans na Fräulein toe en dan kan jy gerus gaan bad. Daardie leerjasse hou nie regtig die nattigheid uit nie.”
Niemand stribbel teë nie. Baie gou bly net die grootmense in die vertrek oor.
Die waardige Danster, heelwat gryser as die hoof al is hy effens jonger, kom haal die silwerteeservies, en die drie mense wat al so dikwels saam in dié vertrek was, maak klaar om ’n gesellige halfuur deur te bring voor hulle uitmekaar gaan om vir aandete aan te trek.
“Gene,” sê Helen Serfontein, “wat dink jy van die groot projek? Ek weet Roelof het jou daarvan vertel.”
“Dis beslis groot,” antwoord Krynauw. “Om twaalf sulke yslike boeke te skryf, is nie ’n grap nie. Dis darem romans?”
“Op ’n manier,” antwoord doktor Serfontein. “Geskiedenis eintlik.”
Hy hou nie daarvan om privaatsake en veral sy skryfwerk te bespreek nie, maar hy kan nie hierdie nuwe reeks vir sy vrou en Krynauw wegsteek nie. Hy wil dit aanpak saam met die skool se administrasie, sy liefdadigheidswerk en die sake wat sy swaer, Oscar Wienand, in Amerika bestuur. Daarom sal hulle hom moet help, soos hulle altyd doen.
Die hoof gaan sit en klem sy hande effens stram om sy stoel se arms. “Ek wonder of dit nie ’n bietjie laat is om so ’n groot stuk werk aan te pak nie,” sê hy styf. “Dis van so ’n aard dat een deel nie sonder al die ander kan staan nie. Om dit te voltooi, sal ek oor die twee miljoen woorde moet skryf. Dit gaan minstens twaalf jaar verg. Miskien is dit te laat om nou met so iets te begin.”
“Te laat?” vra dokter Krynauw.
“Ja. Om padlangs te praat: ’n mens moet eers betreklik seker wees jy gaan lank genoeg lewe om jou werk te voltooi.”
Die hoof frons oor die twyfel wat dadelik in sy vrou en sy vriend se oë verskyn. Soos by almal wat hom waardeer, is die gedagte dat hy net ’n gewone sterfling is vir hulle ondraaglik. Hy vervolg dan kortaf, asof hulle houding hom irriteer. “Dis tog nie te veel gevra nie: dat ’n mens minstens lank genoeg mag lewe om jou werk te voltooi. Sal jy my daardie versekering kan gee, Eugene?”
Dit word half tergend gesê om die spanning te verlig.
“Nee,” sê dokter Krynauw ook tergend om die skaduwee uit Helen se oë te laat weggaan. “Geen dokter kan so ’n belofte maak nie.”
Buite op die stoep staan ’n uiters aantreklike jong dame in ’n reënjas. Sy lyk asof sy in ’n soutpilaar verander het.
Barbara Venter, die hoof se persoonlike sekretaresse, was op pad om hom oor ’n paar kleinighede te kom sien, toe sy die laaste deel van die gesprek deur die oop glas hoor. Die lang gordyne hang voor die deur, daarom sien sy nie mevrou Serfontein is ook in die vertrek nie. Soos dikwels vantevore het sy te veel gehoor, maar nogtans nie genoeg nie.
Die hoof het nie meer lank om te lewe nie! Hy weet dit, sy vriend weet dit … en nou weet Barbara dit!
Doktor Serfontein was van kleins af haar held. Barbara se stiefbroer, Flip, is ’n oudskolier en nou een van die personeel. Haar pa was saam met die hoof op universiteit. Wanneer sy en haar ouers vir konserte en ander geleenthede hier by die skool was, het sy die hoof altyd bewonder. Sy het toe al gesê sy gaan eendag studeer totdat sy die beste sekretaresse in die wêreld is.
Die geld wat doktor Serfontein by sy peetoom, P. F. Maxim die Amerikaanse miljoenêr, geërf het, maak dat hy belange regoor die wêreld het. Barbara het haar op tale toegelê en daar is min meisies wat so bekwaam is soos sy, veral wat tale betref.
Dis net Fräulein se vinnige Switserse Duits wat haar soms baasraak.
Maar nou bedreig die afgryslikste van alle gevare haar en ontelbaar ander mense se lewens! Barbara onderdruk ’n hartverskeurende snik en vlug terug na die skoolgebou, na die enigste troos wat binne bereik is.
Mevrou Mostert, die huismoeder, het die hele dag hard gewerk. Sy rus nou en wag vir die koffie wat een van die kombuispersoneel vir haar moet bring. Hier kom Barbara aan – altyd aan die hardloop. Maar daar is min jong meisies wat ’n week voor die skool begin al sal terugkom om aan die werk te spring.
Hierdie aangename gedagtes word lelik versteur.
“Mevrou … Dis … Het Mevrou nie geweet nie?” snik Barbara nog voor sy behoorlik in die vertrek is.
“Wat? Wat makeer, kind?”
Woorde borrel uit soos Barbara haar skokkende nuus oordra.
“Onsin,” is mevrou Mostert se eerste reaksie.
“Dis waar! Ek het elke woord gehoor! Hy het so vreemd gepraat … so vreeslik kalm … asof hy hom nie eens daarteen wil verset nie … asof hy weet dis hopeloos! Hy’t gesê: ‘’n Mens moet eers betreklik seker wees jy gaan lank genoeg lewe om jou werk te voltooi.’ Hy’t natuurlik bedoel die roman waarmee hy nou net begin het. Toe vra hy dokter Eugene of hy vir hom die versekering kan gee hy sal genoeg tyd hê en die antwoord was weer so … so vreeslik kalm … en net so hopeloos: ‘Nee. Geen dokter kan so ’n belofte maak nie.’”
Mevrou Mostert is al van die skool se stigting af hier. Sy lyk nou so verslae dat Barbara oor haar ook onrustig word.
“Ons moenie sommer net hoop opgee nie,” sê sy bewerig, maar dapper. “Hier kom die koffie. Dis wat ons nodig het.”
“Een ding is seker, mevrou Serfontein mag dit nie agterkom nie,” sê die koshuismoeder, wat Helen al ken sedert sy as sekretaresse hier kom werk het. “Hy steek dit tien teen een vir haar weg. Jy weet, sy was ’n jong weduwee toe sy destyds na ons toe gekom het.”
“O ja, Flip het my vertel.”
“Sy is getroud toe sy byna nog ’n skoolmeisie was. Sy en haar man het albei vir koerante gewerk, en hulle het dit nie breed gehad nie. Toe kry hy tuberkulose en hy is sommer gou dood, en hulle babatjie kort daarna.”
“My aarde! Ek het altyd gedink dit was ’n motorongeluk of so iets.”
“Baie mense dink so. Helen was skaars twintig toe dit gebeur het, en nie veel ouer nie toe ek haar leer ken het. Daarna was sy altyd maar bang vir die lewe en doktor moes haar baie mooi vra om te trou. Sy wou haar nie weer aan moontlike hartseer blootstel nie. En nou is dit hy …”
“Ons moet sorg dat niks of niemand hom ontstel nie,” sê Barbara beslis. “Ons sal die personeel moet vertel …”
“Genugtig, kind! Hoe lank dink jy sal dit neem voor iemand alles aan Helen uitlap? Die personeel bestaan uit seuns wat hier by hom skoolgegaan het of uit mans wat saam met hom hier begin skoolhou het toe hy nog brandarm was, voor hy al die geld geërf het. Die paar wat oor die jare bygekom het, is totaal aan hom toegewy. Sy broer is een van ons senior onderwysers. Toe doktor net ná sy troue so siek was, was die hele omgewing soos ’n begraafplaas. Helen het vinnig agtergekom daar skort iets.”
“Nou maar dan … Ek weet!” Barbara sit regop. “Ons moet Riekie in ons vertroue neem.”
“Nee, hy is nog te jonk daarvoor. Om so ’n las op sy skouers te laai …”
“Iemand moet die kruis dra! Hy kan besluit hoeveel hy vir die ander kinders wil vertel sodat hulle die lewe vir doktor kan makliker maak. Hulle luister altyd na Riekie. Josef kom nou mooi reg, maar ek dink nie ons moet hom hiermee vertrou nie.”
“My liewe tyd! Josef is ’n wonderlike seun. Hy was altyd baie slim en hardwerkend, hier en op universiteit. Maar net omdat hy en sy maats ná ’n groot wedstryd ’n bietjie gaan kuier en ’n paar blombeddings platgery het en hy nie goed met sy geldsake werk nie, het doktor vir hoe lank gemaak of die kind ’n moord gepleeg het.”
“Dis nie nou die tyd om doktor te kritiseer nie!”
“Ek kritiseer hom nie. Ek voel net hy het die arme seun gans te streng behandel deur hom uit die universiteit te haal en hier te laat kom sit.”
“Ek het niks teen Josef nie. Flip sê hy gaan een van ons land se grootste wiskundiges word. Maar Riekie is meer verantwoordelik. Ek sal iemand stuur om hom te roep.”
“Wat gaan ons vir hom sê?” wonder mevrou Mostert onrustig.
“Net wat ek gehoor het. Dis erg genoeg!” sê Barbara bedroef.
Dokter Krynauw en die jongmense ry die volgende oggend so vroeg dat selfs Dian nie tyd het om te huil nie.
Op pad beweer Tiesjie sy voel sleg en gaan naar word, maar niemand steur hulle aan haar nie. Sy is die enigste Serfontein met donkerrooi hare en ook die een met die meeste nukke.
Richard het vandag sy skooldrag aan: ’n grys broek, kleurbaadjie en donkerblou jas. Die prefekte se wapen pryk saam met die hoofseun en sportkaptein se balkies op sy kleurbaadjie se borssak. Niemand wat Richard se loopbaan gevolg het, kan sê hy beklee hierdie posisies net omdat hy die hoof se seun is nie.
Vanoggend kyk dokter Krynauw hom kort-kort vraend aan. Hy ken hierdie kinders so goed soos sy eie Felix, Adolf en baba Annette, en daar skort iets met Richard. Wat kan dit wees? Hy het nie met sy pa vasgesit nie, want Krynauw was tog die hele aand by die Serfonteins.
“Voel jy nie lekker nie?” vra hy in die ry vir Richard langs hom.
“Nee, alles is reg; dankie, oom Gene.”
Maar die seun is beslis gespanne.
Hy kyk onderlangs na hulle familievriend. Richard verwonder hom aan oom Eugene wat so normaal lyk en praat. Maar die dokter dink natuurlik net hy en die hoof is bewus van die geheim, en hulle wil die bekommernis en vrees so lank as moontlik vir sy ma wegsteek. Al is sy ook hoe sterk, pak daardie ou vrees van destyds haar soms onverwags beet. Wanneer dit gebeur, kan net haar man se aanraking en rustige woorde die skaduwees verban … Maar Josef sal moet weet, en Richard moet hom vertel. Terwyl hulle pa nog lewe, is daar hoop en hulle moet hulle ma so lank as moontlik beskerm.
Richard voel skoon oorweldig deur al die verantwoordelikhede. Dis nie net hulle gesin wat betrokke is nie, maar baie ander mense ook. As daar enige gewone sterfling ooit onontbeerlik was, dan is dit sy pa.
“Wat gaan in jou kop aan, Riek?” vra dokter Krynauw ná nog ’n lang stilte. “Goeie voornemens vir die komende kwartaal?”
“Ek kan doen met ’n paar. Ek sukkel nog om my humeur te bedwing, oom Gene.”
“Wel, jy is ’n Serfontein. Jou pa het ’n onmenslike kwaai humeur, maar dit keer nie dat hy wonderlike werk doen nie.”
Richard se kenspiere trek styf asof hy seerkry.
“Jy kan hom baie help,” gaan Krynauw verder, “veral in die tyd wat vir hom voorlê. Hy het jou ondersteuning nou meer as ooit nodig.”
Die dokter kyk onrustig na die uitdrukking op Richard se gesig.
“Ek kon my pa baie meer gehelp het. Ek sal myself altyd verwyt dat ek dit nie gedoen het nie,” kom dit so gebroke dat dokter Krynauw nie weet wat om te dink nie. Hy bly daarom maar stil.
Maar Richard weet wat om te dink. Oom Gene het hom gewaarsku … sonder om in woorde te sê wat verkeerd is.
“Ek laai jou nou by die lughawe af, dan stuur jou pa later sy motor met een van Morgan se garagemense soontoe sodat Josef dit huis toe kan neem.”
“Dis reg so, oom.”
“En wat van jou?”
“Ek gaan na my oupa-hulle toe. Josef moet hulle ook gaan groet. Ek sal daar vir Pa wag tot ons die trein moet haal. Pa huur ’n motor vir die dag se gebruik.”
“Dis alles baie ingewikkeld. Dit sal makliker wees as jy jou eie motor het … Pas jou op, Riek. Jy wil tog nie hê jou pa moet oor jou ook onrustig wees nie. Hy moet weet jy kan jou ma bystaan as Josef nie daar is nie.”
Richard kan nie hierop antwoord nie, en dokter Krynauw is allesbehalwe tevrede toe hy van hom afskeid neem.