Читать книгу Nuwelinge op Keurboslaan #3 - Theunis Krogh - Страница 3
1
ОглавлениеDIE GRAP
Meneer Burger staan voor die hoof se tuinhekkie en kyk hoe doktor Serfontein van die tennisbaan af teruggestap kom.
Hy het op Keurboslaan begin skoolhou net nadat doktor Serfontein sy Amerikaanse peetpa se fortuin geërf het, en toe die eerste skooltjie by die destydse hoof en eienaar, meneer Schoonbee, gekoop het. Dit beteken meneer Burger was reeds hier toe vandag se groot kosskool met al die buitegeboue en swembaddens en sportvelde opgerig en aangelê is.
Dis egter lank gelede, soos seuns tyd bereken. Meneer Schoonbee met wie doktor Serfontein, wat nie juis uitreik na ander mense nie, ’n hegte vriendskap gesluit het, is lankal oorlede. Party van daardie dae se “skoolbabas” is nou al prefekte.
Vir meneer Burger lyk die hoof nog net soos toe hulle mekaar ontmoet het: lank, lenig en buitengewoon indrukwekkend. Wienand, sy voormalige hoofseun en deesdae sy sakebestuurder in Amerika, beskryf hom altyd tergend as “onnodig aantreklik”.
Meneer Burger weet die skoolhoof het pas aan ’n nuwe roman begin werk en het die tydjie vir tennis afgeknyp omdat hy, om Wienand weer aan te haal, “’n ding het oor fiksheid”.
“Ekskuus tog,” sê meneer Burger toe die hoof by hom is. “Kan ek ’n bietjie pla?”
“Ja. Kom binne.”
Danster, die hoof se persoonlike assistent, bring die silwer teestel in.
Doktor Serfontein trek sy wit sweetpakbaadjie aan, haal sy sigarette uit, en skink die tee: swart en bitter vir homself, maar met melk en suiker vir die oorgewig onderwyser wat dit eintlik moet vermy.
“Ek sal nie nou rook nie, dankie,” sê meneer Burger.
Maar die hoof is nooit lank sonder ’n sigaret nie en steek een aan. Hy bly staan, met sy elmboog op die kaggel. “Waarmee kan ek help?” vra hy. “Moet ek weer iemand se oortreding oorsien?”
“Nee, nee, dis iets anders,” keer meneer Burger goedig. “My broer wat op Groendal predikant is, het ’n seun daar in die bosse gekry. Die kind se pa het glo geestelik versteurd geraak en met sy jong vrou en seun, toe nog ’n baba, die bosse in gevlug om daar te gaan woon. Sy vrou is ’n ruk daarna dood, en hy onlangs ook, altans so dink almal, want hy het net skoonveld verdwyn. Toe my broer die kind kry, was hy al rasend van die honger, want sy geweer was stukkend en hy het nie geweet waar om kos te kry nie. Die pa het hom totaal van die wêreld afgesonder. Ek het gewonder of een van jou liefdadigheidsprojekte met jou peetpa se geld die arme seun nie dalk …”
“Kon jou broer geen naasbestaandes opspoor nie?” onderbreek die diep stem hom.
“Daar is ’n verlangse neef en niggie, maar die seun se oupa en oom is ook onlangs oorlede, so sy pa sou vandag groot plase en baie geld geërf het. Nou wil die familie hierdie kind in ’n gestig laat sit sodat hulle sy erfgeld kan kry.”
“En is hy versteurd?”
“My broer dink nie so nie. Die pa het so snaaks geword nadat ’n wawiel oor sy kop geloop het. Die seun was natuurlik nooit op skool nie. Dit laat hom minderwaardig voorkom.”
“Ons het verskeie inrigtings waar hy ondersoek en behandel kan word. Een van my broers help ons met sulke gevalle. Maar ek wil die seun eers sien. As sy familie so agter sy geld aan is, sal dit beter wees as hy hier in ’n gewone skool opgeneem kan word. Vra jou broer om hom te bring, as dit moontlik is.”
“Dis baie gaaf van jou.”
“Hy kan gerus hier oorslaap ook. Reël dit asseblief.”
“Ek maak so!”
“Bel so gou moontlik.” Die hoof beëindig die gesprek soos gewoonlik met ’n onbewustelik streng knik van sy swart kop waarop die hare so netjies lê, anders as dié van meneer Burger, wat altyd lyk of hy deur ’n doringbos gesleep is.
Terwyl meneer Burger na die hoofgebou loop, is daar oral om hom bedrywighede by die groot skool.
In die swembad is meneer Gerritson, die sportonderwyser, besig om ’n paar seniors af te rig.
Meneer Burger sien Rothman, die hoofseun, se bruin krulkop in die water. Krynauw, die onderhoofseun, lê op die rand en hyg na asem. Sy blonde hare is netjies, al het hy pas uit die water geklim.
Bo op die hoogste duiktoring staan drie jonger seuns.
“Krynauw!” sê meneer Burger.
“Meneer?”
“Is dit nie Nieuwenhuis en sy maats daar bo nie?”
Krynauw dra gewoonlik ’n bril wanneer hy nie swem of rugby speel nie. Maar hy voel daar is eintlik niks fout met sy oë nie. Soos hy sê, hulle is elkeen uitstekend; hulle werk net nie mooi saam nie!
“Ja, meneer, dis Nieuwenhuis,” antwoord hy vinnig, “saam met Venter en Pieterse.”
“Gaan jaag hulle daar af.”
“Reg, meneer. Ek het die blikskottels nie gesien nie.”
Krynauw beweeg so vinnig dat hy bo op die toring is voor die juniors iets agterkom.
“Nee! Nie Krynauw nie!” skree Flip verskrik. Maar dis te laat.
Die onderhoofseun se voet gly onder hom uit en hy skiet soos ’n pyl van bo af water toe. Gelukkig is hy die skool se beste duiker, so hy kry sy arms en bene vinnig in posisie, anders kon dit aaklige gevolge gehad het. Die toring is so hoog dat net Krynauw en Smit, afgesien van meneer Gerritson en die hoof, daarvan mag afduik.
Toe Nieuwenhuis besluit het om die duiktoring se blad met seep te smeer, het dit na pret geklink. Dalk vang hulle meneer Gerritson daarmee. Hy het hulle mos gister met die duikles pampoene genoem!
Maar toe Krynauw so val, besef die juniors skielik wat ’n gevaarlike ding hulle aangevang het. Hulle kyk met groot verligting hoe hy uit die swembad klim. Almal wat hom ken, kan sien hy wat gewoonlik so rustig is, is woedend kwaad.
Maar Krynauw gaan lê om van die skok te herstel.
Meneer Burger is reeds ’n entjie weg en het nie gesien wat gebeur het nie. Maar meneer Gerritson, wat intussen klaar is met Rothman, klim uit die water en kom na Krynauw toe.
“Wat makeer jou om sonder my toestemming te duik?” vra die sportonderwyser vies.
Krynauw kom wankelrig regop en hou sy hande agter sy rug sodat die onderwyser nie moet sien hoe bewe hulle van skok en woede nie.
“My voete het gegly, meneer,” sê hy.
“Nonsens! … Jy’s te groot vir sulke lawwighede! Jy weet baie goed jy mag net onder my toesig daar afduik.”
“Ek het nie tot vandag gewag om te begin lieg nie!” vat Krynauw vlam.
Keurboslaan se onderwysers duld nie so ’n houding en stemtoon van ’n leerling nie. Meneer Gerritson is maar net twee-en-twintig en hy is nou ook te kwaad om die saak kalm te hanteer.
“Jy het seker jou kop met daardie duik gestamp,” sê hy, “anders sou jy dit nie waag om so met my te praat nie. Vra dadelik om verskoning.”
“Waarvoor? Dis nie ek wat iemand sonder rede beskuldig dat hulle lieg nie!”
“Reg, dan weier ek om jou in die vervolg met enige sport te help.”
“Ek sal in elk geval nooit weer ’n voet hier of by rugby sit nie!”
Tot dusver was die ander prefekte wat intussen nader gekom het, te verbysterd om te roer. Rothman kom eerste tot verhaal en vat Krynauw aan die arm.
“Eugene!” sê hy kwaai.
Maar Krynauw gooi sy handdoek oor sy skouer en hardloop vies terug na die skool.
Toe Rothman weer omdraai, staan die drie juniors in ’n ry voor meneer Gerritson en boor benoud met hulle tone in die sand.
“Meneer, Krynauw het die waarheid gepraat,” sê Nieuwenhuis versigtig.
“Hoe durf julle inmeng wanneer ek ’n prefek dissiplineer?”
“Skuus, meneer, maar dit was ons skuld,” verduidelik Flip. “Ons was op die toring en Krynauw het ons kom afjaag, toe gly hy op die seep. Dis hoekom hy ingeval het.”
“Seep? Watse seep?” Dis nie lank nie of meneer Gerritson besef watter gruwelike ding die spul aangevang het.
“Loop!” beveel hy bars. Hy is bang hy verloor sy selfbeheersing as hy hulle op hierdie oomblik te lank onder oë het.
Die juniors vlug, maar weet goed dis nog lank nie die einde van hierdie saak nie.
Meneer Gerritson trek sy sweetpak aan en mik skool toe. Rothman stap saam.
“Wil meneer vir Krynauw sien?” vra hy.
“Hoekom?”
“Hy het die waarheid gepraat, en toe het meneer …”
“Hou op met hierdie snert oor waarheid en leuens! Ek het hom per ongeluk onregverdig beskuldig, maar dit verskoon nie sy gedrag nie.”
“Meneer, Krynauw moet groot geskrik het toe hy daar afval. Sy oë het heeltemal snaaks gelyk. Ek dink hy’t nie lekker geweet wat hy sê nie.”
“Ek besef dit … As hy ordentlik om verskoning vra, is dit goed so. Anders moet ek hom aan die hoof rapporteer.”
“Is dit regtig nodig, meneer?”
“Natuurlik! Ek kan ’n leerling nie van sport skors sonder om vir die hoof my rede daarvoor te gee nie.”
“Nee, seker nie, meneer.”
Nadat hy aangetrek het, stap Rothman moedeloos na die prefekte se kamer.
Krynauw is by sy tafel besig om te studeer en die hoofseun kan sien hy wil nie praat nie.
Die hoof het ure lank getik en is nog steeds hard aan die werk, maar hy stoot alles opsy toe Rothman vir die gebruiklike aandbesoek opdaag.
“Goeienaand, meneer,” sê die hoofseun somber.
“Goeienaand. Wat is daardie papiere? Tog nie strafverslae nie?”
“Ja, meneer.”
“Lees dan die eerste een hardop, asseblief.”
“Dis oor Kannemeyer in graad tien, meneer. Meneer Bekker kla oor sy … Hier staan … ‘volgehoue laksheid in sy skoolwerk’.”
“Wie het nog verslae gestuur?”
“Meneer Gerritson, meneer.” Die sportonderwyser rapporteer selde leerlinge.
“Ek sal dit self lees,” sê die hoof.
Rothman oorhandig die verslag dankbaar. Hy wonder hoe die hoof hierdie saak gaan hanteer. Krynauw is al hier vandat hy agt jaar oud was, en hy en die hoof het ’n eienaardige vriendskap waaroor nie een van hulle ooit praat nie.
Die hoof se gesig verraai nou egter niks. “Stuur Kannemeyer in, asseblief,” sê hy.
Toe Kannemeyer inkom, kyk doktor Serfontein hom so kwaai aan dat hy wens hy kan in die grond wegsink.
Rothman gaan wag buite. Hy kyk sonder simpatie na die juniors, maar met ’n heel ander uitdrukking na Krynauw wat voor ’n venster staan met sy rug na hulle gedraai. Dis ook maar goed so, voel die juniors wat hom in die moeilikheid laat beland het, want hulle weet nie hoe om hom in die oë te kyk nie.
Kannemeyer kom gou weer uit. Hy lyk ongelooflik verlig en net so ongelooflik verbaas terwyl hy sonder ’n woord by die huis uitloop.
Rothman gaan weer in en die hoof gee vir hom die verslag waarop hy aantekeninge gemaak het. Die hoofseun lees vlugtig:
Ekstra melk … Doktersadvies … Daagliks ’n uur in ’n donker kamer lê en rus.
Die hoof se benadering tot party probleme is dikwels vir Rothman verstommend!
“Gee dit vir meneer Bekker. Laat hy dit lees en dan vir die huismoeder gee. Stuur nou die juniors in, maar haal asseblief eers ’n lat daar uit die kas … Moenie so bekommerd lyk nie. Ek gaan dit nie self gebruik nie.”
Die lat is die eerste ding wat die drie juniors sien toe hulle voor die lessenaar kom staan. Hulle word bleek onder die hoof se blik.
“Hoekom het julle vanmiddag so ’n dom ding gedoen?” vra hy. “Nieuwenhuis!”
“Meneer, ek … ons … wou niemand laat seerkry nie. Dit was sommer net ’n grap.”
“Verduidelik dan vir my hierdie grap, soos jy dit noem.”
“Meneer … dis nou nie meer vir my so snaaks nie,” sê Nieuwenhuis verleë.
“En vir jou, Venter?”
“Nee, meneer.”
“Pieterse?”
“Meneer? … Nee, meneer.”
“Afgesien van die gevaar is so iets ook gemeen. Gaan vra vir meneer Gerritson om julle te straf. Ek weet hy het nie ’n lat nie, so gee vir hom hierdie een met my komplimente.”
Skaam, maar oneindig verlig, gee die drie pad.
Hierdie soort behandeling verstaan Rothman beter.
“Krynauw, meneer?” vra hy toe die jonger seuns weg is.
“Ja.”
Die onderhoofseun is reeds by die deur en hy kom dadelik in.
“Dis al dankie, Rothman,” sê die hoof.
Hy kyk na Krynauw en die bruin oë kyk ernstig terug. Daar is ’n baie sterk band tussen hulle en op tye soos hierdie is hulle intens bewus daarvan. Hulle behandel mekaar egter baie formeel.
“Hier is jy nou weer,” sê doktor Serfontein. “Twee weke gelede het ons ook probleme gehad en jy het toe belowe om gehoorsaam te wees. Nie waar nie?”
“Dis waar, meneer.”
“Jy het reeds strafwerk vir die vakansie omdat jy ongehoorsaam was. Nou begin jy met ’n nuwe streek: parmantigheid teenoor ’n onderwyser. Jy is ons skool se onderhoofseun, en dit maak jou gedrag selfs nog meer onaanvaarbaar.”
Die hoof se stem is ysig. “Jou gedrag vandag, veral voor ander en jonger seuns, is onvergeeflik. Hoekom het dit gebeur?”
“Dis moeilik om nou te sê, meneer,” antwoord die diep, aantreklike stem wat die hoof s’n onbewustelik naboots. “Ek het van die duiktoring afgeval en simpel gevoel. Toe beskuldig meneer Gerritson my dat ek jok en toe verloor ek my selfbeheersing.”
“Meneer Gerritson was ’n leerling hier toe jy op Keurboslaan aangekom het. Hy is nog jonk en behandel julle seniors soos sy gelyke. Dit beteken nie julle moet minder respek vir hom hê nie.”
“Glad nie, meneer. Ons waardeer sy vriendelikheid.”
“Nogtans het jy hom vandag aangespreek op ’n manier wat jy nie teenoor ’n ander onderwyser sou gewaag het nie, hoe onskuldig jy ook al tereggewys is.”
Dis natuurlik waar en Krynauw sien dit dadelik in. Hy sou dit nou erken het, maar ongelukkig praat die hoof eerste.
“Jy is die sportvelde en swembad belet tot jy om verskoning vra. Dis niks minder as reg nie. En totdat jy jou behoorlik gedra, het ek ook niks meer vir jou te sê nie.”
Dis al jare lank Krynauw se gewoonte om saans by die hek te wag en saam met die hoof na Aandgodsdiens in die hoofgebou te stap. Hulle gesels nooit veel nie, maar vir Krynauw wat sy ma vroeg verloor het en daarna nie juis aandag by sy pa gekry het nie, beteken hierdie kort oomblikke saam met die hoof baie.
Om in soveel woorde aangesê te word om weg te bly, is so ’n klap in die gesig dat Krynauw hom dadelik lelik opruk.
Die hoof wag vir ’n antwoord, maar dit kom nie. “Dis al, dankie,” sê hy uiteindelik.
Ná ’n nag se slaap kom Krynauw darem tot sy sinne.
Tydens die elfuurpouse, terwyl die ander melk en tee drink, draf hy na die gimnasium.
Voor die deur ontmoet hy een van die kombuis se personeel wat meneer Gerritson se tee op ’n skinkbord dra. “Gee vir my,” sê hy. “Ek gaan tog soontoe.”
Meneer Gerritson is besig om een van die klimtoue te toets. Toe hy die onderhoofseun sien, gly hy met die tou af.
Krynauw sit die skinkbord op ’n bank neer en stap tot by die onderwyser.
“Môre,” sê albei tegelyk. En dan weer saam: “Ek wou net sê …” Hulle albei lag hardop.
“Wel, wat wou jy sê?” vra meneer Gerritson.
“Dat ek ’n aap was. Ek hoop meneer sal my gedrag verskoon.”
“Natuurlik. Ek is self ook jammer oor wat gebeur het. Ek wou gesê het dis belangrik vir die skool se sport dat jy om verskoning vra. Aangesien ek dit nou eenmaal geëis het, sal doktor jou nooit los voordat jy dit gedoen het nie, al wil ek ook.”
“Nee, natuurlik nie.”
“Wel, dis verby so kom ons vergeet dit. Het jy al tee gehad?”
“Nee, meneer, maar dit maak nie saak nie.”
“Natuurlik maak dit saak. Ek gooi die suiker in die beskuitbakkie en skink vir jou tee in die suikerpotjie. Hulle bring altyd vir my ’n yslike pot tee; nugter weet hoekom.”
“Baie dankie, meneer!”
Toe die hoof op een van sy gevreesde rondes, wat hy gewoonlik onverwags op die skoolterrein doen, die gimnasium se deur oopmaak, sit die sportonderwyser en die onderhoofseun gesellig en tee drink. Krynauw het so pas iets snaaks gesê en albei brul van die lag. ’n Vreemdeling sou moeilik geweet het watter een die jongste is.
Hulle sien die hoof eers toe sy: “Verskoon my, meneer Gerritson,” hulle regop laat wip asof die bank aan die brand is.
“E, g- … goeiemôre, doktor,” stamel die jong onderwyser asof hy weer twaalf jaar oud is.
Krynauw kom baie gouer oor die skok. “Ek het om verskoning kom vra, meneer,” sê hy.
“Is die tee ’n vredesoffer?”
“Dis omdat hy nie gekry het nie,” sê meneer Gerritson verskonend.
“Hy’s gelukkig om op so ’n dag warm tee in plaas van koue melk te kry.”
“Ja, dis nogal koud.”
Meneer Gerritson is vies vir homself dat hy soos ’n skoolkind optree.
“Het doktor al tee gehad?” vra hy.
“Nee, ek drink nie elfuur iets nie.”
“Maar wat van nou, doktor? Dis dan so koud!” nooi Krynauw hartlik. “Meneer Gerritson het syne klaar gedrink. Ek sal die koppie gou gaan was.”
Hy draf weg na die kleedkamer waar daar warm water is.
“Alles nou in orde?” vra die hoof vir die onderwyser.
“O ja … tot my verligting!”
Die hoof glimlag.
Die onderhoofseun kom op ’n draffie met die skoon koppie terug. Hy skink die tee swart en bitter soos die hoof daarvan hou. Dis nog lekker warm.
“Drink nou jou tee klaar,” sê die hoof vir Krynauw. “As jy laat is vir klas verwag jy verniet spesiale behandeling. By wie is julle die volgende periode?”
“Meneer Weyers, doktor. ’n Mens soek nie by hom ’n guns nie. Hy behandel almal presies dieselfde.”
“Ek het die klok hoor lui.”
“Ek is weg. Tot siens, doktor … meneer!”