Читать книгу Nuwelinge op Keurboslaan #3 - Theunis Krogh - Страница 5
3
ОглавлениеDIE VROU
Krynauw is verlig dat die hoof nie beplan om gou te trou nie, maar ’n ruk later gebeur daar iets wat hom weer van voor af benoud maak.
Rothman en Smit kuier die laaste week van die vakansie by hom. Bobbie het ’n ander mens van Wentzel gemaak, nes haar broer voorspel het. Advokaat Krynauw steur hom min aan sy kinders en hulle vriende, maar hy probeer nogtans om dinge vir hulle aangenaam te maak.
Krynauw se twee vriende is albei plaasjapies en hulle geniet die stadslewe. Die laaste dag van die vakansie bespreek advokaat Krynauw vir die drie groot seuns ’n tafel in ’n spoggerige restaurant en vra die bestuur om hulle soos volwassenes te behandel.
Die kos en bediening is uit die boonste rakke en hulle is van plan om later te gaan fliek. Môre is dit weer terug skool toe!
Gelukkig sien hulle die hoof nie voor hulle klaar geëet het nie, anders sou die heerlike kos na niks gesmaak het nie.
Hy sien hulle eerste raak. Krynauw het so pas ’n kwinkslag kwytgeraak. Smit lag hardop en die vrolike geluid klink bo die ander stemme in die restaurant op. Rothman glimlag breed sodat ’n mens sy gesonde tande kan sien.
Die hoof se gas kyk ook na hulle.
“Wie is dit?” vra sy.
“My hoof- en onderhoofseun, en ’n senior.”
“Hulle gedra hulle uitstekend,” sê die dame beïndruk. “Soms is seuns op hulle ouderdom buffels … Dis interessant om ’n paar van die mannetjies wat jou so uit die beskawing weghou, te sien.”
“Dan is dit goed dat jy môre kom kuier. Só sal jy die hele twee-honderd leer ken.”
Op hierdie oomblik sien Krynauw die hoof en sy baie aantreklike metgesel. Hy praat met die ander wat nou ook soontoe kyk.
Die Keurboslaners se glimlagte sterf weg.
Toe hulle opstaan, is die hoof ook op pad en hulle ontmoet mekaar by die toonbank waar hy sigarette koop. Die dame loop vooruit.
“Dag, doktor,” sê drie treurige stemme. Hulle gesigte is koud en styf.
“Het doktor die vakansie geniet?” vra Krynauw ná ’n ongemaklike stilte.
“Ja, op ’n manier, dankie. Al was daar nie veel tyd vir stilsit nie. Het julle lekker gerus?”
“Ja dankie, doktor,” antwoord hulle stroef.
“Hoe gaan dit met Elsenach?”
“Baie goed,” sê Krynauw asof hy sy eie dood aankondig. “Ek het ’n paar maal geskryf om te laat weet alles is in die haak. Doktor het die briewe seker nie gekry nie.”
“Ek was die afgelope paar dae by die skool en hulle het jou briewe daar vir my gehou. Dankie daarvoor. Jy het dus nie te veel moeite met Elsenach gehad nie?”
“Nee, glad nie. Hy kuier ook baie by die Venters. Hulle bly naby ons.”
“Rothman en Smit … Wat maak julle in die groot stad?”
“Ons kuier by Krynauw, doktor.”
“Nou ja, tot siens. Tot môre.”
“Tot siens, doktor.”
Die seuns is op die ouderdom wat hulle ’n goeie fliek geniet, al lyk die toekoms ook hoe donker. Maar toe hulle weer by die huis is, gemaklik voor die vuur in die sitkamer, word hulle van voor af moedeloos.
Die drie wat reeds so lank op Keurboslaan is, voel dieselfde: die hoof het alle reg om te trou as hy wil. Dit sal waarskynlik ’n goeie ding wees, want hy werk te hard en pas homself nie op nie.
Maar aan die ander kant sal niks ooit weer dieselfde wees nie. Oudskoliere sal nie meer soos gewoonlik by hulle geliefde skool kan kom kuier nie. Alles gaan verander as die hoof ’n vrou het.
Bobbie en Wentzel is die middag saam met klein Dawie dieretuin toe en daarvandaan na ander maats toe, anders sou sy hulle lekker uitgelag het. Die drie seniors jaag al hoe meer spoke op.
Dan gaan die deur onverwags oop en twee mans verskyn in die vertrek. Dis advokaat Krynauw en ’n gas.
Toe hulle die gas sien, wip die seuns uit hulle stoele.
Dis sowaar doktor Serfontein – nie ’n spook nie!
Hulle knik vir Krynauw se pa en dan sê drie skuldige stemme: “Goeienaand, doktor.”
“Goeienaand.”
“Ek het doktor Serfontein by die klub ontmoet en hom vir ’n drankie oorgenooi. Ons gaan in die sonkamer sit. Julle kan gerus saamkom.”
Die seuns volg sleepvoet.
Hulle maak hulle klein in hulle stoele terwyl die twee mans oor politiek gesels.
Uiteindelik besluit die hoof om met die seuns ook te praat. “Strafwerk klaar?” vra hy reguit vir Krynauw wat hom so suur aankyk.
“Ja, doktor.” Probeer die hoof hom vir die gek hou? Dit sal Krynauw niks verbaas nie.
“Wat het hy nou weer aangevang?” vra meneer Krynauw.
“Ek het al vergeet, behalwe dat hy en nog ’n paar strafwerk het. Waarvoor was dit?” vra doktor Serfontein vir sy woedende onderhoofseun.
“Ek het ook vergeet,” sê Krynauw kortaf.
Advokaat Krynauw kyk sy seun verbaas aan.
Die ander twee seuns is ook stil. Rothman is nooit geselserig nie, maar Smit het die afgelope kwartier glad nie gepraat nie, en vir hom is dit iets buitengewoons, selfs met die hoof in die vertrek.
“Ek eis vanaand ’n gelukwensing van julle,” sê die hoof uit die bloute. “Dis ’n belangrike geleentheid in ons almal se lewe.”
Rothman en Smit bly stom.
“Hoe so, doktor?” sukkel Krynauw.
“My nuutste manuskrip is vanoggend na die uitgewers toe. Ek sal nou vir ’n rukkie miskien minder kort van draad wees, en dit is tog goeie nuus vir almal, nie waar nie?”
“Geluk, doktor,” sê Krynauw flou.
Die hoofseun en Smit mompel ook iets.
Die advokaat skink vir hom en die hoof drankies en wys Krynauw moet dit vir hulle bedien. Hy maak so en Rothman kry die koeldranke wat vir hulle geskink is.
Smit het niks om te doen nie en verloor nou sy selfbeheersing. “Ek hoop nie ons het doktor vanmiddag gepla nie,” sê hy.
“Inteendeel.”
“Ek bedoel, as ’n mens ’n ou … ek bedoel ’n man … saam met ’n vrou sien, is dit dalk beter om nie met hulle te gaan praat nie, want dalk pla jy …”
“Daar kan tog niks betekenisvol by ’n restaurant se toonbank gebeur nie,” sê die hoof sonder enige aanduiding van ’n glimlag in sy oë. “In elk geval niks waarmee jy sou kon pla nie.”
“Nee, ek … het dit nie so bedoel nie …”
“Wees gerus. Die dame sien uit daarna om met julle kennis te maak. Sy kom ’n paar dae by ons skool deurbring.”
Advokaat Krynauw verstaan niks van wat hy pas gehoor het nie, maar voor hy kan uitvra, bars Bobbie by die vertrek in met Wentzel agterna.
Die hoof vergeet sy ligte gekskeerdery terwyl hy na die seun kyk. Dit was moeilik om hom sover te kry om by die skool weg te gaan, maar hier was hy so gelukkig soos nog nooit tevore nie. Hy het uiteindelik geleer om sonder doktor Serfontein klaar te kom, danksy Bobbie wat van die begin af al haar tyd aan hom gewy het.
Wentzel dra ’n grys pak wat op skool die Sondagdrag is. Sy rooibruin hare is netjies gekam en sy oë lyk wakker en opgewek.
“Doktor!” sê hy met die stem wat hom saam met sy lengte baie ouer as dertien laat lyk.
Die hoof glimlag beïndruk en staan op om Bobbie te groet.
“Lyk Wentzel nie wonderlik nie?” vra sy tevrede. “En weet doktor wat? Hy kan al skryf! Ek het hom geleer. Dit was nie moeilik nie, want hy kan goed lees. Hy gebruik nog net hoofletters, maar hy kan alles skryf wat hy wil sê. Ons het dit gedoen sodat hy vir my kan skryf en sê hoe dit met hom gaan wanneer ons weer op skool is.”
“Dis wonderlik!” sê die hoof met innige warmte.
“Waar is Dawie?” vra die advokaat.
“Hy’t weggehardloop toe hy die vreemde kar buite sien staan.”
“Is hy die een wat na ons toe kom?” vra die hoof.
“Dawid, ja.”
Die hoof het reeds te lank gebly. Hy gaan uit na die voorportaal om sy jas aan te trek. Krynauw weet dit is sy plig om ’n gas daarmee te help, maar hy kan homself vanaand nie sover kry nie. Hy groet doktor Serfontein styf.
Nie een van die seuns stap saam uit motor toe nie, en voor die hoof en advokaat Krynauw by die hek kom, klap die voordeur toe.
“Haai, wat’s dit met jou, Gene?” vra Bobbie. “Ek en Wentz het juis nie saamgegaan nie om jou die kans te gee!”
“Ek makeer niks!” sê haar broer vererg.
Buite lyk die advokaat bekommerd.
“Ek skaam my vir Eugene se gedrag,” maak hy verskoning. “Wat op aarde gaan aan met hom? Dit kan tog nie wees omdat hy strafwerk moes doen nie? Ek sal hom netnou gaan regsien.”
“Nee, moet dit asseblief nie doen nie. Dis my skuld.”
“Hoe? Jy is net goed vir hom!”
“Ek het Krynauw geterg. Hy is so volwasse dat dit soms goed is om te sien hy is eintlik nog maar jonk.”
Die drie mismoedige Keurboslaners sit weer in die sitkamer toe die advokaat sy seun kom soek.
“Eugene!” sê hy skerp. “Kom ’n bietjie hier!”
Hy volg sy pa gedwee.
“Wat het jou besiel om jou so te gedra?” vra die advokaat in die sonkamer. “Doktor Serfontein dink seker ons is ’n spul barbare! Die ander was net so verspot.”
“Ons wou nie onvriendelik wees nie, maar ons was omgekrap.”
“Oor iets wat gebeur het toe julle hom vanmiddag ontmoet het?”
Krynauw sluk swaar. “Daar was ’n vrou by hom, en Pa het self gehoor sy kom na die skool toe. Hy sou haar nooit genooi het as hy nie van plan was om met haar te trou nie.”
“Wil jy vir my sê dis hoekom julle seuns julle so gedra het? Is julle mal?”
“Pa, as gewone onderwysers trou, gaan bly hulle altyd buite die skool. Maar daai vrou sal daar by hom intrek en dit sal goor wees! ’n Mens sal nooit meer vir hom kan gaan kuier nie. Ons sal in die pad wees!”
“Snert! Jy moet ophou hiermee. Dit traak jou nie wat die skoolhoof doen nie. Jy gaan te kere soos ’n seun wie se pa ’n tweede keer wil trou!”
Eugene begin beter voel en glimlag effens. “Dit voel vir my amper so. Ek bedoel …”
“Toemaar, moenie jou oor my gevoelens bekommer nie. Ek is baie in my skik met die verhouding tussen jou en doktor Serfontein. Maar moenie dink hy gaan ter wille van jou lewenslank alleen bly nie. Almal gun hom dit om te trou.”
“Dis simpel! Hy het dan alles wat ’n mens wil hê – werk, geld, ’n goeie naam. Hoe kan ’n vrou opmaak vir al die vryheid wat hy sal verloor as hulle trou?”
Die advokaat glimlag byna teer. Sy seun sien vir ’n oomblik die man wat hy sou gewees het as sy vrou se ontydige dood hom nie so in homself laat keer het nie.
“Jy is nog ’n baba, soos Albert dikwels sê, al is jy ook hoe groot.”
“Ek verstaan nie hoekom hy sal wil trou nie.”
“As jy dit kon insien, sou jy nie ’n baba gewees het nie … Dis goed ek en jy kan af en toe so openhartig gesels. As jy ooit iets wil bespreek waaroor jy nie met doktor kan praat nie, kom gerus na my toe.”
Krynauw is verras en geroer. Sy pa het nog nooit so iets vir hom gesê nie. “Dankie, Pa. Ek sal graag wil.”
“Die feit dat ons nie te veel van mekaar sien nie, maak miskien dat ons op so ’n gebied makliker as ander ouers en kinders klaarkom … Intussen moet jy nie kinderagtig wees oor doktor Serfontein nie. Hy is iemand wat altyd sy eie gang sal gaan.”
Die eerste persoon wat Krynauw sien toe hy saam met Rothman en Smit by die stasie aankom, is die hoof.
Hy praat met meneer Papenfus en ’n ander jongman. Toe hy die seuns sien, wink hy hulle nader.
“Hier is drie van ons seniors,” sê hy vir die vreemdeling. “Rothman, hoofseun, Krynauw, onderhoofseun, en Smit, kaptein van verskeie sportspanne wat my op die oomblik ontgaan. Meneer Dempers sluit by ons personeel aan,” sê hy vir die seuns.
Die nuwe onderwyser is baie jonk. Hy is ’n groot vriend van meneer Papenfus, al verskil hulle heelwat in ouderdom. Hy het ligte hare, en sy blou oë weerspieël sy vertroue in die wêreld.
Meneer Papenfus stap weg om ’n paar woelige juniors vas te vat en neem sy vriend saam om vir hom te wys hoe dissipline toegepas word.
“Rothman, gaan kyk asseblief of mevrou Lambrecht en haar kinders by die ingang is. Meneer Lambrecht het eergister vooruit gegaan. Sy reis saam met ons,” sê die hoof.
Rothman gehoorsaam dadelik.
“Is doktor alleen?” vra Smit, te nuuskierig om hom langer te bedwing.
“Ja. Die dame se besoek is ongelukkig uitgestel.”
“O … e … dis jammer, doktor.”
“My suster is ’n pos as kunsonderwyser in die Kaap aangebied. Dis ’n bietjie gou ná haar terugkoms van oorsee, maar dis ’n goeie pos en sy het dit aanvaar.”
“Doktor se … se … suster?” stotter Krynauw.
“Ek het julle mos vertel sy wou die skool kom besoek.”
“Maar nie dat sy doktor se suster is nie!” sê Krynauw met ’n tevrede glimlag wat hy nie kan wegsteek nie.
“Dit was tog nie belangrik nie … Daar kom mevrou Lambrecht nou. Gaan help haar sodat Rothman die naamlyste kan lees. Smit, jy kan met die juniors help.”
“Deksels,” sê Smit vir Krynauw, “ons het ape van ons laat maak!”
Krynauw lag uitgelate. “Dit was tog nie belangrik nie!” boots hy die hoof na, en gaan groet mevrou Lambrecht en haar kinders.
Heelwat later, toe almal tot rus gekom het, daag Krynauw by die hoof se koepee op.
Die deur en venster is wyd oop en doktor Serfontein sit en lees. Vir mense wat soms vra hoekom hy so graag trein ry dat hy dikwels selfs op hierdie manier Kaap of Natal toe gaan, antwoord hy gewoonlik dis die enigste tyd wanneer hy niks anders kan doen nie, en dus vry is om te lees.
“Pla ek?” vra Krynauw.
“Nee.”
“Ek wou maar net hoor of doktor iets nodig het.”
“Nee dankie. Sit vir ’n oomblik in plaas van om so daar te staan en wieg saam met die trein. Maar net vir ’n kort rukkie; dis al laat.”
Krynauw laat hom nie twee keer nooi nie.
Die hoof druk sy sigaretstompie dood.
Krynauw maak keel skoon en sê: “Ek is jammer ek was gister so ’n idioot. My pa het hom vir my geskaam.”
“Ek het dit al vergeet … Haal asseblief daardie mandjie van die rak af, dan skink jy vir ons koffie uit die termosfles. My ma pak altyd vir my ’n kosmandjie, al weet sy ek wil niks eet of drink nie.”
“Doktor bedoel … ek …”
“Is jy nie lus vir koffie nie?”
“O ja!”
Krynauw is in sy noppies. Die hoof sit ongesteurd en lees terwyl hulle saam koffie drink. Dit is asof hulle twee vriende is wat in mekaar se teenwoordigheid kan ontspan.
’n Rukkie later gaan Krynauw met ’n gelukkige gevoel terug na sy kompartement.