Читать книгу Nuwelinge op Keurboslaan #3 - Theunis Krogh - Страница 4
2
ОглавлениеDIE WILDE SEUN
Die volgende middag kry die hoof ’n oproep van die skool af.
“Dis Burger,” hoor hy. “My broer-hulle het aangekom.”
“Kom gerus dadelik hiernatoe.”
Dominee Burger lyk na sy broer, met dieselfde ronde, simpatieke gesig – en dieselfde skewe bril!
“Waar is die seun?” vra die hoof nadat sy vriendelike vrae oor die reis beantwoord is.
“In die motor. Hy wil nie uitklim nie. Nugter weet hoe ek dit reggekry het om hom te bring. Ek wil nooit weer so ’n nag deurmaak nie! Hy’s vreeslik vuil, doktor. Hy laat nie water naby hom kom nie.”
Danster verskyn met die skinkbord.
“Burger, skink jy asseblief die tee,” vra die hoof. “Ek sal die kind gaan haal.”
“Nee, laat ek saamgaan. Jy is vir hom heeltemal vreemd,” sê die dominee.
“Toemaar. Hy sal kom.”
Doktor Serfontein gaan uit en die broers kyk betekenisvol na mekaar.
Die seun met die breë skouers lyk eerder sestien as dertien. Sy broek en ou hemp is flenters, en sy vel is skurf en vuil. Sy stowwerige hare is ’n wildernis. Die sole van sy voete lyk so hard soos leer.
Toe die motor se deur oopgemaak word, trek hy sy lippe op en wys dreigend tande van vrees.
“Kom,” sê die hoof rustig. “Jy moet uitklim. Ek sal nie aan jou raak nie.”
Die seun krimp ineen en skuif sover moontlik van die deur af weg, maar die hoof se oë hou syne gerusstellend vas. Hy begin geleidelik ontspan, maak die deur groter oop en klim dan versigtig uit. Toe hy staan, lyk hy nog groter en langer as in die motor, maar sy skouers is krom en sy ken rus byna op sy bors.
“Jy is baie sterk,” sê die hoof.
“Ja, ek is sterk,” kom die antwoord. Sy stem is mooi en gemoduleer en die paar woorde is suiwer uitgespreek. Sy pa was dus ’n opgevoede man.
“Hoekom is jy bang? Jy is dan so sterk.”
Die seun antwoord hierdie keer nie, maar hy kom nader.
“Niemand kan jou seermaak tensy jy dit self toelaat nie,” sê die hoof gerusstellend. “Kyk, jy is byna so groot soos ek.”
Meneer Burger en die dominee wat deur die venster loer, is verbaas toe doktor Serfontein na die huis begin stap sonder om terug te kyk en die seun hom volg.
In die studeerkamer gaan die hoof op sy stoel sit, terwyl die seun net-net binne die deur staan en wantrouig rondkyk.
Hy het nog nooit ’n vertrek met sulke mooi meubels en so ’n weelderige mat gesien nie.
“Wat is jou naam?” vra die hoof.
“Wentzel,” kom die antwoord dadelik.
“Wentzel Elsenach,” sê die dominee.
“Aha. So dis sy plase daar naby Mooirivier?”
“Dis reg, ja.”
“Hier sal jy Elsenach genoem word,” sê die hoof. “Ons gebruik nie voorname nie … Is jy honger?”
“Ja.”
“Hier is eetgoed.”
Die seun kyk na die fyn toebroodjies en koek asof hy dit nie as kos herken nie.
“Ek wil vleis hê.”
“Jy sal later vleis kry. Jy moet eers leer om ander kos ook te eet,” sê die hoof.
Hy neem sy koppie tee by meneer Burger en gesels daarna met sy gaste oor algemene sake.
Wentzel staan eers doodstil. Dan kom hy geleidelik nader, tot by die hoof se stoel. Skielik gaan sit hy daar op die vloer.
Die hoof se hand sak baie stadig totdat dit op die bos hare rus. Dis asof ’n jong, wilde perd mak gemaak word. Die kind se liggaam ontspan geleidelik.
Hulle sit later nog steeds so toe die hoof meneer Burger vra om sy broer na sy kamer te neem en Krynauw na hom te stuur.
Buite praat dominee Burger vies met sy broer. “So dis die man wat kastig so koud en styf is. Wat makeer julle mense hier? Hy het ’n groot hart!”
“Ek het jou net teen die hoof se uiterlike voorkoms gewaarsku. Sy hart ken ek baie goed, al maak hy dit soms moeilik om dit raak te sien. Maar wag, ek moet gou die knapie voorkeer.” Meneer Burger gryp ’n junior wat verby wil hardloop. “Gaan soek vir Krynauw,” beveel hy. “Hy moet dadelik na die hoof toe gaan.”
Krynauw verskyn ’n rukkie daarna in die studeerkamer.
“Ja, meneer?” vra hy opgewek. Dan skrik hy groot.
Wentzel skrik ook. Krynauw lyk vir hom soos ’n volwasse man.
“Ons het ’n nuwe leerling,” sê die hoof.
“Regtig, meneer?” vra Krynauw verbaas.
Die hoof knik en vertel hom kortliks van Wentzel se geskiedenis. Wentzel is nie gewoond aan ’n gesprek tussen mense nie en verstaan min daarvan.
Krynauw word dadelik deur die verhaal geroer. “Sal ons hom regtig hier kan hou, doktor?” vra hy.
“Ek wil probeer, maar ek kan dit nie alleen doen nie. Iemand moet in die begin altyd by hom wees.”
“Doktor bedoel … doktor sal my daarmee vertrou?”
“Dis nie ’n maklike taak nie.”
“Ek weet, en ek is ’n onnosel bobbejaan, veral wanneer ek graag wil help. Maar dis nie té moeilik nie – en as ons in die moeilikheid raak, is doktor mos daar.”
“Hoe sal jy hierdie geval hanteer?”
“Met ’n warm bad en skoon klere, doktor. Sy hare moet ook gesny word.”
“Jy gaan sukkel. Hy is bang en laat niemand aan hom raak nie. Maar ek sal kyk of ek hom sover kan kry.”
“Doktor … mag ek asseblief eers probeer?”
“Nou toe dan.”
“Dankie! Ek gaan mos ’n dokter word. Hy’s my eerste pasiënt.”
Die onderhoofseun stap nader, maar Wentzel deins dadelik terug.
“Dis Krynauw,” sê die hoof paaiend. “Hy is ’n leerder hier by ons skool, al is hy so groot.”
“Sal jy saam met my kom?” vra Krynauw vriendelik.
“Nee. Ek bly by hom.”
Krynauw is verlig om te hoor hoe mooi die nuweling praat.
“Jy mag nie voor jy nie skoon en netjies is nie. Hierdie plek is ’n skool waar baie seuns kom bly om te leer en slim te word. Doktor Serfontein is die hoof van ons skool. Jy moet so skoon soos al die ander wees … So skoon soos hy.”
Wentzel frons agterdogtig. “Skoon” en “vuil” waaroor dominee Burger so aangegaan het, is woorde wat volgens sy oorlede pa se opvoeding net op die menslike siel van toepassing is. Dit het niks met water te doen nie.
In die bosse het hulle op die grond geslaap. Sy pa het af en toe vir ’n paar dae verdwyn en met ammunisie, ’n bietjie sout en partykeer ’n kledingstuk teruggekom. ’n Mens dra jou klere totdat hulle van jou lyf afval.
“Kyk,” sê Krynauw nou vir die wilde seun. “Jy lyk nie soos die hoof nie.”
Die oë kyk hartseer na die groot man wat so stil op sy stoel sit. Moet hierdie beskerming wat hy vandag gekry het so gou al van hom weggeneem word?
“Ek kan jou ’n klein bietjie soos hy laat lyk as jy saam met my kom. Dan kan jy daarna weer terugkom.”
“Hy sal weggaan!”
“Nee, hy sal vir ons wag.”
“Ek sal hier wees,” verseker die hoof hom.
Wentzel staan baie stadig op.
“Dalk moet doktor vir mevrou Mostert bel, anders gaan sy te groot skrik,” sê Krynauw.
“Nee. Jy sal alles hier moet doen. Die leerders mag hom nie so sien nie.”
Wentzel volg so stadig en kyk so baie terug dat dit ’n rukkie neem voor hulle in die kombuis kom.
“Hallo, Danster,” sê Krynauw. “Ons moet hierdie ou bad!”
“Nie in doktor se badkamer nie,” sê Danster beslis. “Die gaste-badkamer.”
“Later, maar nou eers iets anders. Het jy ’n groot sinkbad?”
“Hier agter, ja.”
“En ’n skropborsel en seep en omtrent ’n dam kookwater?”
Dit het Danster ook.
Krynauw dra die sinkbad by die kombuis in, en Danster kry warm water, seep en handdoeke.
“Sal jy asseblief gou by die skool van my klere uit my kas gaan haal? My ou kleurbaadjie is heeltemal te klein vir my; dit behoort hom te pas. Bring sommer ook die bruin broek wat onder in my kas opgevou is, en my ou skoene. O, en gaan vra ’n nuwe kam en tandeborsel by die stoorkamer. Ek sal later daarvoor betaal.”
Toe Danster met alles terugkom, het sake nog nie juis gevorder nie, maar met sy hulp en Krynauw se versekering dat die hoof homself minstens drie keer ’n dag skoonmaak, kry hulle Wentzel uiteindelik in die bad.
Om die onderhoofseun se woorde te gebruik, moet hulle minstens “vier lae vel van die ou afkook” voor hulle tevrede is. Gelukkig begin Wentzel gou die warm water en geskrop geniet.
“Nou die klere!” sê Krynauw nadat Danster die onversorgde boskasie netjies geknip het en die los hare onder ’n koue stort afgespoel is.
Die flenniebroek en kleurbaadjie lyk nie te onaardig aan die groot seun nie. Sy skouers is nog geboë, maar behalwe dat hy duidelik nog skaam en onseker is, lyk hy eintlik heel goed in die skooldrag.
“Kom! Nou gaan ons terug na die hoof,” sê Krynauw. Hy klop aan die studeerkamerdeur en loop eerste in.
“My pasiënt, doktor!” sê hy.
Doktor Serfontein staan aangenaam verras uit sy stoel op. “Dis beter as wat ek verwag het,” sê hy. “Hoe het jy dit reggekry?”
“O, hy’s ’n slim ou. As hy agterkom mens doen dinge vir sy eie beswil, speel hy lekker saam.”
“Mooi so. Maar jou skooldrag is effens koel vir hierdie tyd van die jaar.”
“O, gaats! Ek het vergeet om my hemp weer aan te trek.” Krynauw vlug terug na die kombuis.
Die hoof betrag sy nuwe leerling. “Nou moet jy saam met Krynauw gaan en vir hom luister,” sê hy.
“Nee. Ek bly by jou.”
“Jy kan nie. As jy hier wil skoolgaan, moet jy na my luister. Wanneer ek tyd het, sal ek jou laat roep.”
“Ek gaan nie van jou af weg nie!”
“Jy moet gehoorsaam wees, anders moet ek jou heeltemal wegstuur.” Die hoof het dieselfde metode op Flip Venter en vroeër jare ook op Krynauw toegepas. Dit werk nou weer.
“Ek sal saam met hom gaan,” sê Wentzel met ’n diep sug. Hy voel sommer al klaar eensaam.
Maar die hoof toon geen uiterlike teken van simpatie nie. “Goed,” sê hy net.
“Wanneer sal ek jou weer sien?”
“Miskien voor jy vanaand gaan slaap. Dis nie meer so lank nie. Ek sal jou laat roep as jy tot dan mooi na Krynauw luister.”
Die onderhoofseun kom nou terug. Hy het weer sy hemp aan, maar is baie nat om die bene.
“Gaan trek iets droogs aan voor jy enigiets anders doen,” sê die hoof. “Ek het met mevrou Mostert gepraat. Sy gee vir Elsenach die bed langs joune.”
“Waar sit sy Venter dan? Dis mos sy bed.”
“Hy is nog in jou kamer, maar in ’n ander bed.”
“Hy gaan nie daarvan hou nie, doktor. Sê nou hy ontwikkel ’n wrok teen Elsenach?”
“Stuur hom hierheen. En laat dadelik weet as jou pligte as peetpa vir jou te veel word.”
“Reg, maar dit sal nie, doktor.”
Wentzel weet nog glad nie wat ’n skool is nie. Alles is natuurlik mooi en goed versorg, maar niemand sal ooit weet watter indruk hierdie plek op hom maak nie. Al is die prefektekamer en ook die ander se kamers luuks gemeubileer, is dit alles vir Wentzel nog te vreemd om te waardeer.
“Wie’s dit?” vra ’n paar seniors toe hulle sien Krynauw neem die vreemdeling deur die skool om hom alles te wys.
“’n Nuwe kêrel. Elsenach,” antwoord hy. “Jonger as wat hy lyk. Hy sal in graad agt wees, of miskien nege.”
“O,” is al antwoord wat hy kry.
Niemand stel in die nuweling belang nie. Seuns sluit soms op ongewone tye by die skool aan as die hoof besluit om dit toe te laat. Hierdie een is niks besonders nie. Hy lyk baie skaam, maar dis wat van ’n nuwe skolier verwag word!
Flip word geroep en na die hoof gestuur. Hy gaan maak hom eers netjies en jy kan hom deur ’n ring trek toe hy kort daarna so regop soos ’n soldaat voor die hoof se lessenaar staan.
“Meneer het my laat roep?”
“Ja. Ek wil jou vra om my te help.”
Die groot bruin oë sê meer as wat in woorde uitgedruk kan word.
“Het jy ’n nuwe seun saam met die onderhoofseun gesien stap?”
“Ja, meneer, toe Krynauw my kom roep het.”
“Goed. Sy naam is Elsenach en hy’s net effens ouer as jy, al is hy so groot. Ek kan jou nie nou alles vertel nie, maar hy het ’n moeilike tyd agter die rug en was nog nooit op skool nie. Krynauw pas hom op, maar iemand moet Krynauw soms aflos. Elsenach gaan in jou klas geplaas word. Hy sal natuurlik nie die werk kan doen nie.
“Jou taak, as jy dit sal aanvaar, is om hom sover moontlik teen nuuskieriges te beskerm. Hy is baie bang en senuweeagtig. Ek dink dis ’n goeie plan om sy bed vir eers langs Krynauw s’n te sit. Jy sal mos nie omgee om in dieselfde kamer op ’n ander plek te slaap nie?”
Met sy oë vasgevang deur die hoof s’n stry Flip teen die jaloesie wat sy lewe byna verwoes het toe sy ma ’n tweede keer getroud is. Gelukkig het doktor Serfontein hom intussen reggehelp.
Krynauw help Flip deesdae ook baie en hy sien uit na die paar woorde wat die prefek altyd saans met hom praat. Maar ná ’n langerige stilte sê hy: “Dis goed, doktor.”
“Dus jy sal help om hom op te pas?”
“Ja, doktor. Graag.”
“Gee dan hierdie briefie vir Krynauw.”
Toe hy die brief oopmaak, lees Krynauw in die handskrif wat hy gewoonlik net op skoolrapporte of in sy boeke sien:
Hiermee vir jou ’n assistent. Maak goeie gebruik van sy vaardigheid. – R.S.
“So jy gaan help?” vra hy.
“Ja. Die hoof sê ek moet.”
“Elsenach, hierdie grootmeneer is Venter. Wanneer ek nie self by jou kan wees nie, sal hy jou help. Die hoof het hom na jou toe gestuur.”
Die nuweling knik bedees.
“Gebruik maar altyd die hoof se naam,” sê Krynauw onderlangs vir Flip. “Dan sal jy g’n moeite met dié ou hê nie.”
“Wat makeer hom? Is dit sy kop?” vra Flip met die gebrek aan sensitiwiteit wat so kenmerkend van sy ouderdom is.
“Nee, man. Hy’s net nie gewoond aan mense nie. Hy is in die bosse grootgemaak. Hy kan jou seker baie ander dinge leer, soos spoorsny en skiet. Probeer om hom daaroor te laat praat.”
“Maggies, ’n ou wat van sulke dinge weet, kan nie te sleg wees nie!” sê Flip skielik opgewonde. “Kan hy nou saam met my gaan?”
“Nee, hy moet eers gaan eet. Hy sal aan die begin nie eetsaal toe kom nie. Hy eet by mevrou Mostert sodat sy hom kan leer hoe om reg aan tafel te sit en al sulke dinge. As iemand jou daaroor vra, sê maar net Ma Mossie hou sy dieet eers dop, want dit is tog waar. Ná ete kan hy ’n rukkie by jou wees. En onthou om hom met slaaptyd te help. Hy weet nog niks van nagklere en tande borsel en sulke goed nie.”
Flip het nog nooit so ’n interessante mens teëgekom nie. Hy neem gretig ná ete by die onderhoofseun oor. Dit gee Krynauw tyd vir sy eie werk, en om later weer ’n paar woorde met die hoof te gaan wissel.
Krynauw loop die gloeiende sigaretkooltjie vrolik in die donker tegemoet.
“Alles gaan voor die wind, doktor,” sê hy. “Elsenach en Venter kom goed klaar, so ek het hulle bietjie alleen gelos.”
“Ek sal vir dominee Burger sê hy moet ophou om my so te bedank. Dis eintlik jy wat alles doen. Ek waardeer dit regtig.”
Krynauw het nie woorde om te antwoord nie en hulle stap in stilte verder.
Wentzel tref dit gelukkig met die seuns in die slaapkamer. Afgesien van Krynauw en Flip is Smit ook baie vriendelik en geduldig met hom. Die jongeres in die kamer is Geer en sy maat, Vic Bezuidenhout, albei omtrent veertien, en Neels en Dollie Combrink is nog jonger. Wentzel hou van Geer met sy sproetgesig en innige blou oë wat eintlik net innig is as ’n mens hom nie ken nie.
Die res van die ondeunde Geer se bende is ook almal stouterds wat eintlik goeie harte het, al luister hulle nie altyd daarna nie.
Nieuwenhuis voer sy grappe dikwels te ver, sonder dat hy bedoel om iemand seer te maak. Wentzel is natuurlik nog glad nie in staat om dit te verstaan nie. Hy vertolk alles wat vir hom gesê word letterlik, soos dit een middag die geval is.
Die nuweling is wonder bo wonder vir ’n oomblik alleen. Hy wag by die agterdeur vir Flip, wat ’n paar bladsye strafwerk by meneer Holst moet aflewer. Nieuwenhuis is op pad sportveld toe en sien hom daar staan.
Die grapmaker weet Flip kry enigiets met Wentzel reg deur net te sê: “Die hoof wil dit hê,” en roep sonder om twee maal te dink: “Haai, Elsenach! Die hoof soek jou!”
Wentzel draf reguit na doktor Serfontein se huis.
Krynauw het hom geleer om die voordeur se klokkie te lui, en hy doen dit nou. Toe Danster oopmaak, wil hy sommer verbyloop.
“Doktor is nie hier nie. Hy speel tennis,” keer Danster.
Wentzel kies dadelik koers na die hoofbaan en onderbreek ’n spannende pot tennis tussen meneer Papenfus en die hoof.
“Wat makeer, Elsenach?” vra doktor Serfontein.
Wentzel weet nou al hoe om hom reg aan te spreek. “Doktor het my laat roep.”
“Nee, ek het nie.”
“Maar … hy het dan gesê ek moet kom!”
“Nee, daar is fout iewers. Ek sal jou later sien.”
Krynauw, een van die toeskouers wat wag vir ’n beurt om te speel, kom haastig nader.
“Jammer, doktor!” sê hy. “Kom, Elsenach.”
Wentzel volg hom terug skool toe, maar sê oor en oor op ’n manier wat Krynauw onrustig maak: “Hy het gesê die hoof soek my!”
“Jy’t hom seker ’n verkeerd verstaan.”
Maar op daardie oomblik loop hulle Nieuwenhuis raak.
Wentzel maak ’n vreemde geluid diep in sy keel. “Dis hy! … Dis hy wat dit gesê het!”
“O … Haai, Nieuwenhuis! Kom hier … Het jy Elsenach na die hoof gestuur?”
“Ja, Krynauw, sommer vir die grap! Het die aap rêrig gegaan?” Nieuwenhuis lag lekker.
Die nuweling storm. Alles gebeur blitsig in ’n warrelwind van skreeue en uitroepe. Wentzel wil nie baklei nie; hy wil Nieuwenhuis verskeur. Die grapjas is nie ’n lafaard nie, maar hierdie seun wat skielik in ’n dier verander het, is vir hom een te veel. Elsenach se hande is om sy keel en hulle druk met mening.
Daar bly vir Krynauw net een ding oor om te doen. Hy slaan Wentzel met al sy krag.
Elsenach val – en Nieuwenhuis lê langs hom.
Die hoof het nie van die vreemde uitdrukking op die nuwe seun se gesig gehou nie en hulle van die tennisbaan af gevolg.
Krynauw sien hom eers nadat hy geslaan het. “Ek kon niks anders doen nie, doktor,” sê hy.
“Ek verstaan.”
Die sportonderwyser kom nader gedraf en meneer Papenfus volg met die hoof se raket en sweetpakbaadjie.
“Meneer Gerritson, sorg vir die nodige behandeling en stuur Elsenach dan na my toe. Kom, Krynauw.”
Hulle praat nie terwyl hulle loop nie.
Selfs in die studeerkamer sê die hoof niks nie. Hy trek sy wit sweetpakbaadjie in stilte aan, steek ’n sigaret aan en gaan sit by sy lessenaar.
Krynauw voel aaklig. “Doktor … ek het al weer aangejaag,” sê hy.
“Nee, hierdie keer het ek verbrou. Ek moes die moontlikheid dat hy abnormaal kan reageer, in ag geneem het. Ek glo nie ons kan hom hier hou nie.”
“Maar hy het so goed reggekom!”
Hy kry nie ’n antwoord nie.
“Doktor het gesê die prokureur skryf sy pa het niks makeer voor sy kopbesering nie. Dis daardie klein hel … Ekskuus, dis Nieuwenhuis wat hom ’n streep wou trek. Maar hy het ook nie geweet wat sal gebeur nie. Gee Elsenach net nog een kans, asseblief. Venter doen sulke goeie werk. Hy is ’n wonderlike assistent!”
Die hoof kyk sy onderhoofseun streng aan.
“Ek probeer nie vir doktor raad gee nie, maar …”
“Maar jy sê nogtans vir my wat om te doen.”
Voor Krynauw kan antwoord, kom meneer Papenfus in met Wentzel wat geweier het om te loop voor Flip opdaag.
Flip is dus ook hier. Hy lyk ontsteld en diep teleurgestel.
“Het doktor my nog nodig?” vra die onderwyser.
“Nee dankie.”
“Ek is baie jammer, doktor,” sê Flip bewend. “Ek moes by meneer Holst ingaan en hy’t belowe om doodstil buite te staan tot ek terugkom. Maar die meneer het my so lank besig gehou!”
Die hoof het reeds heelwat vir Flip gedoen, maar iemand met sy probleme kom nie sommer binne ’n paar maande heeltemal reg nie. Hy het nog baie aanmoediging nodig, en hy kry dit nie altyd nie.
“Kom hier,” sê die hoof.
Flip stap onseker nader. Dan sien hy die hoof lyk nie regtig kwaad nie. ’n Glimlag breek deur die trane en Flip se neus bewe op sy kenmerkende manier, nes ’n hasie s’n.
Die hoof gee vir hom ’n skoon sakdoek uit ’n laai waar hy meer as ’n dosyn van hierdie nuttige artikels aanhou.
“Wanneer gaan jy leer om altyd ’n sakdoek by jou te hê?”
“Meneer, ek verloor hulle aanhoudend.”
“Dan moet jy nie huil nie. Of hoe, Krynauw?”
“Dis waar, doktor.”
“Jy het gehoor, Venter. Draf nou terug na waar jy behoort te wees. Alles is in die haak. Jy het al baie vir Elsenach gedoen en jy sal kans kry om nog meer te help. Dis voorlopig genoeg. Krynauw, wag asseblief buite.”
Die hoof kyk in stilte na Wentzel wat skaam voor hom staan, met sy ken weer op sy bors.
“Hoekom het jy Nieuwenhuis te lyf gegaan?”
“Hy het gesê doktor wil my sien, en toe het hy gelag.”
“Dink jy hy verdien om doodgemaak te word oor ’n dom grap? Jy het hom so laat skrik dat ek hom nie eens gaan straf nie. Sy oortreding was in elk geval nie te ernstig nie. Seuns doen sulke dinge.”
Dit lyk of Wentzel wil praat, maar nie die regte woorde kan kry nie.
“As jy net een keer weer so iets doen, sal ons ’n ander plan met jou moet maak. Sulke gedrag word nie hier toegelaat nie. Verstaan jy?”
“Ja, doktor,” sê Wentzel asemloos van skrik. Die hoof het nog nooit so met hom gepraat nie.
“Dis dan genoeg, Krynauw wag vir jou. Gaan saam met hom, en gedra jou.”
Toe Krynauw die aand ná Aandgodsdiens saam met die hoof terugstap, sê hy versigtig: “Ek het ’n plan, maar ek wil eers hoor wat doktor daarvan dink.”
Die hoof se sigaret gloei aanmoedigend.
“Ek het nou die dag vir my pa geskryf om te hoor of Elsenach die vakansie by ons mag kom kuier, natuurlik met doktor se toestemming. Ek het vanmiddag sy antwoord gekry. My pa sê dis goed so.”
“Dis baie vriendelik van hom, en dis ’n uitstekende plan as hy nie vir julle ’n las sal wees nie. Ek gaan hierdie vakansie oral op sakebesoek en het nog nie besluit waarheen om hom te stuur nie. Ek dink darem nie hy sal iemand weer net so goedsmoeds aanval nie.”
“Sal die prokureur nie omgee nie?”
“Nee, ek twyfel. Maar is jy doodseker jy wil jou vakansie so opoffer?”
“Ja, doktor. My suster sal ’n nuwe mens van hom maak. Ek het vir haar geskryf en sy is vol planne. Sy is veertien; net bietjie ouer as hy.”
“Bobbie?”
“Ja. Sy’s nooit vir ’n oomblik stil nie. Dis ’n gelag en gehuil en geterg, soms alles tegelyk. Sy’s glad nie sleg nie, al is sy ’n meisiekind.”
“Het jy iets teen meisies?”
“Nee, e … Maar hulle lyk vir my half onnodig. Vroumense gee ’n man net moeilikheid. Jy moet hulle bederf met blomme en hulle uitneem vir ete as jy eintlik wil werk, en … Ag nee! Hulle maak my moeg.”
“Maar die wêreld kan kwalik sonder hulle voortgaan.”
“Doktor dink tog seker nie dis ’n goeie ding om te trou nie?”
“Dis ’n baie persoonlike vraag.”
“Ekskuus, maar … ek het gedink doktor dink ’n man wat belangrike werk wil doen, mors nie sy tyd met so iets nie.”
“Verkeerd. Party van ons onderwysers is getroud, en ons doen ons bes om vir hulle huise in die dorp te kry. Waar kom jy daaraan dat ek dink ’n bedrywige man moenie trou nie?”
“Seker omdat … omdat doktor self nie getroud is nie.”
“Wag maar, ek verras jou dalk nog eendag.”
Nou is Krynauw baie bekommerd. Hy droom altyd van die dag wanneer hy ’n volwasse man gaan wees en saam met die hoof sal kan uitgaan of gesels of stap sonder om die horlosie dop te hou. As sy held ’n vrou het, sal sy dit mos nooit toelaat nie!
Doktor Serfontein verstaan egter beter as wat ’n mens sou dink. “Miskien is jy reg,” sê hy. “Ons vermy die huwelik dan maar voorlopig.”