Читать книгу Die kroon van Keurboslaan #4 - Theunis Krogh - Страница 4

2

Оглавление

DIE OPERETTE

Die dag van die konsert breek aan oor die blou berge wat die pragtige Keurboslaan omring. Die rooisteengebou lyk indrukwekkend bo-op die koppie. Die hoof se wit huis met sy kleurvolle blomtuin blink soos ’n diamant. Die silwerskoon swembad wink die gaste nader. Die rivier met sy swemkuile onder langs die speelterrein sing ’n vrolike liedjie.

Maar die skool se seuns is vandag allesbehalwe opgeruimd. Hulle sien te veel op teen wat voorlê.

Die hoof begin nie vanoggend al vyfuur werk nie. Daar lê vir hom ’n lang dag voor.

Hy kom teen agtuur uit sy huis om die skoolgebou te gaan inspekteer. Snyman wag hom voor die hek in.

“Goeiemôre, doktor,” sê die prefek.

“Goeiemôre.”

“Doktor … ek sal ongelukkig nie aan die operette kan deelneem nie.”

Die hoof se wenkbrou trek effens op. “Hoekom nie?”

“My familie kan nie na die prysuitdeling kom nie. My pa het laat weet ek en my broer moet met die bus en trein huis toe ry. Die bus ry al halftwee vanmiddag …”

“Toemaar, daar is vir almal busse vir môre bespreek.”

“Maar ek dink my pa wil hê ons moet vandag al ry. Hy het gesê ons moet so gou moontlik huis toe kom, doktor.”

“Môre is so gou moontlik.”

Met ’n knik van die kop gaan die hoof sy gang.

’n Paar tree verder wag Krynauw. “Goeiemôre, doktor,” sê hy.

“Goeiemôre. Hoekom is die pad vandag met prefekte besaai?”

“Doktor, in verband met die operette … Ek het skielik besef party van die deelnemers sal ná vanoggend doodmoeg wees. Ek bedoel, die paar van ons wat moet duik en swem en atletiek doen. Dit sal swaar gaan om daarna te sing.”

“Los julle dan maar die swem en atletiek. Laat net dié wat nie gaan sing nie daaraan deelneem.”

“Nee, doktor, asseblief!”

“Nou kom dan albei verpligtinge na.”

Krynauw is te omgekrap om saam te stap. Die hoof loop alleen verder met ’n vreemde trek om sy lippe.

Nog ’n senior kom te voorskyn.

“Doktor,” stotter Jacobs sonder om te groet, “ek sal nie aan die operette kan deelneem nie. Ek het keelseer.” Hy begin vreeslik hoes.

“Gaan lê dan onmiddellik in die siekekamer. Dis jammer van jou vakansie, want jy kan definitief nie met so ’n swaar verkoue op ’n lang reis gaan nie.”

“O, dis … dis nie só erg nie, doktor!” Jacobs hou dadelik op met hoes.

“Dan kan jy maar deelneem. As dit erger word, draai ’n serp om jou keel. Jy kan dit onder blommekranse wegsteek. Verskoon my nou.”

Hierna verskyn ’n veertienjarige met blonde hare en ’n wakker gesig. “Goeiemôre, doktor!” groet hy.

“Goeiemôre, Spaulding.”

Die seun lyk veels te vrolik vir die mensdom se veiligheid, maar die hoof stap aan.

Die oggend vlieg verby. Ouers en belangstellendes daag vroeg reeds op om die atletiekbyeenkoms by te woon. Daarna is dit middagete.

Doktor Serfontein doen niks op ’n klein skaal nie. Daar is byna vierhonderd besoekers, tweehonderd seuns en die hele personeel. Die beste van alles word voorberei en op lang tafels onder die bome bedien. Elkeen van die leerders sit by sy eie mense. Die skoliere wat nie besoekers het nie, sit by aparte tafels en help ook met die bediening.

Die hoof se twee dokterbroers het van Johannesburg af gekom om die geleentheid by te woon. Hulle pa, professor Serfontein, het die familie jare lank belet om ’n voet op Keurboslaan te sit. Hy was bitter kwaad toe sy begaafde en beroemde oudste seun besluit het om op ’n plattelandse plekkie te gaan skoolhou. Maar namate die skool roem verwerf het, het die professor meer verdraagsaam geword en selfs ’n rukkie gelede hier kom kuier.

Dokter Martin, met sy besonderse blou oë wat hom soos ’n filmster laat lyk, en die heelwat stiller dokter Edward is ook hier om juffrou Conradie, die hoof se sekretaresse, te ondersoek. Hulle wil dit hier waar sy tuis is doen, sodat sy nie met vals hoop stad toe kom nie.

Ná die Serfontein-broers haar met behulp van die huismoeder mevrou Mostert ondersoek het, verklaar hulle versigtig sy kan moontlik gehelp word en dat hulle haar saam sal neem Johannesburg toe wanneer hulle terugry.

“Maar jy sit dan sonder ’n sekretaresse,” sê Martin vir sy oudste broer.

“Ek sal dadelik adverteer. Ek is net bly julle sien kans om haar te help,” sê die hoof.

Hy lyk gemoedeliker as gewoonlik toe hy net hierna sy plek in die saal gaan inneem. Toe hy verskyn, is alle oë op hom gerig. As die aandag hom benoud maak, wys hy dit nie.

Die skoolhoof sit tussen sy skoonsuster en haar pragtige swartkopdogtertjie wat by hom woon omdat haar ma “meisies nie kan verdra nie”. Daar is min vrouens so selfsugtig soos die mooi Coralie. Adolf Serfontein, haar man, is nie ’n swakkeling nie, maar hy gee haar altyd haar sin omdat hy bang is sy raak ontsteld, en moes toe maar teensinnig instem dat die hoof hulle dogtertjie aanneem. Hy is vanmiddag agter in die saal op diens by die seuns wat nie deelneem nie.

Die gordyn van rooi fluweel hang nog voor die verhoog. Daar is ’n orkesput tussen die gehoor en die verhoog en hier stem die orkeslede nou hulle instrumente. Lagrange lyk hoogs professioneel, “asof hy die instrument ’n guns bewys,” soos Krynauw tergend sê.

Smit help meneer Serfontein om die orde agter in die saal te handhaaf.

“Dis laat, nè, oom Roelof?” vra Tessa opgewonde.

“Ja.”

“Flip sê dit gaan groot pret wees!”

“O so?” is die hoof se enigste kommentaar.

“Hoe lyk ek?” vra Krynauw agter die verhoog vir Jacobs, wat met toe oë agteroor leun asof hy dodelik siek is.

“Aaklig,” sê Jacobs sonder om sy oë oop te maak.

Krynauw sug. “Gelukkig is niemand van my familie hier nie,” sê hy. “Hierdie hele ding is simpel verby.”

Meneer Beunk skarrel rond om te sien of almal gereed is. In die juniors se kleedkamer begin die vier aardgeeste gelyk met hom praat. Hulle is nog in gewone skooldrag.

“Stil!” sê hy. “Hoekom het julle nog nie aangetrek nie? Venter?”

“Meneer, daar was ’n ongeluk met die kostuums.”

“Wat het gebeur?”

“Die goed het in ’n hoop gelê en toe val ’n blik swart verf daarop uit. Dit het deur alles getrek en nou’s alles ’n gemors, meneer.”

“Wie het dit gedoen?”

“Ek, meneer,” sê Flip eerlik.

Otto Snyman, die prefek se jonger broer, bring vier erg gevlekte stukke pienk lap te voorskyn.

Meneer Beunk is oud, doof en onprakties, maar hy is nie onnosel nie.

“Ek bespreek die saak later met julle!” sê hy. “Ons moet nou eers ander kostuums kry …”

“Meneer,” sê Fanie Nieuwenhuis, die skool se dertienjarige grapjas in sy Oudgriekse kleed, “ek kan maklik vir hulle ander kostuums maak. Ons gebruik sommer wit handdoeke en spelde.”

“Maar waar kry ’n mens nou sulke goed?” vra meneer Beunk moedeloos.

“Ek sal ’n plan maak, meneer.”

Die onderwyser huiwer. Die hele gehoor wag en die hoof is pynlik oor stiptelikheid. “Dis goed. Roer jou!”

Meneer Beunk draf weg om vir die gehoor te gaan verduidelik.

Nieuwenhuis wat kastig so pas aan sy plan gedink het, haal dadelik tot almal se verligting vier yslike handdoeke en ’n pak haakspelde agter ’n bank uit.

Bertrand Spaulding is nêrens te bespeur nie, ook nie Geer se ander bendelede nie, behalwe Nieuwenhuis en Wentzel Elsenach wat deelneem. Wentzel lyk soos gewoonlik asof hy nie mooi weet wat hy daar maak nie.

Voor hy ’n tyd gelede in doktor Serfontein se sorg geplaas is, het hy alleen saam met sy geestelik versteurde pa in die bosse gelewe. Dit sal nog lank neem voordat hy heeltemal in die beskawing aangepas het. Wentzel het op Geer se bevel ’n besonder dik leerband onder al die blommekranse om sy lyf vasgemaak. Hy weet nie hoekom nie, maar hy het die opdrag uitgevoer.

Uiteindelik gaan die gordyn op.

Die deelnemers se ma’s glimlag trots, maar nie die pa’s en ouer broers nie.

Die seuns het goeie stemme en ’n mooi musikale aanvoeling toe hulle begin sing, maar die gesigte op die verhoog lyk eerder na dié van ’n klomp boksers as van “jongelinge rein, vol deug die siele”, soos die lied se woorde hulle beskryf. Hulle oë word na die dak opgeslaan sodat hulle nie die gehoor se gesigte kan sien nie. Wanneer hulle vlugtig afkyk na waar die hoof sit, is daar iets in die onpeilbare erns van sy blik wat hulle nie vertrou nie.

Die eerste lang koorstuk loop goed af. Meneer Beunk is werklik ’n uitstekende sangonderwyser. Nou is daar ’n oomblik stilte voor die eerste solo begin.

Skielik praat ’n skril kinderstemmetjie uit die gehoor.

“Mamma, ek hou nie van daai een nie … Die een aan die punt van die voorste ry. Sy bene is krom. Hoekom laat hulle hom ’n rok dra?”

Daar is ’n geskokte stilte en dan is dit duidelik ’n paar mense sukkel om hulle lag in te hou.

Jacobs wie se bene so onvleiend beskryf is, verwurg homself byna met ’n blommekrans.

Die hoof wys geen tekens van lewe nie, behalwe dat sy lippe stywer opmekaar gedruk word, soos Tessa sien toe sy na hom kyk.

Krynauw se mooi basstem begin sy solo sing, maar hy sukkel om sy gesig te hou soos dit hoort.

Jacobs het van die verhoog af gevlug. Hy is klaar met hierdie konsert.

Terwyl Krynauw sing, wag Snyman agter die verhoog. Hy speel die hoofrol en moet netnou opgaan saam met die juniors, wat nogal heel klassiek lyk met hulle wit handdoeke.

“Haai, wat makeer jou gesig?” vra klein Otto Snyman vir sy broer.

“Niks, en as jy probeer snaaks wees, foeter ek jou.”

“Nee, man, rêrig! Daar’s ’n vuil streep op jou gesig, net bo jou mond. Wag, ek sal dit afvee.”

Otto het ’n sakdoek by hom, iets ongehoords vir ’n junior, en sy broer is so verras toe hy dit sien dat hy buk en die kleintjie toelaat om sy mond met die sakdoek af te vee. Die stuk gebrande kurk wat daarin weggesteek is, gee vir die skool se sedigste prefek ’n perfekte snor. Dit lyk baie snaaks by die ou Griekse kostuum, en Snyman se waardige houding maak dit natuurlik nog snaakser!

Toe hy so op die verhoog verskyn, kry die mans in die gehoor ’n bietjie hoop. Miskien is dit ’n komedie. Die gehoor lag verlig.

Snyman rammel ’n rits vroom slagspreuke met die grootste afkeer af en begin dan sy solo sing. Dit verloop aanvanklik goed. Die laaste vers eindig op ’n paar indrukwekkende hoë note en lui: “Ek staan op die heuwel van reine deug, en vandaar daal ek nimmer!”

Toe die laaste klank wegsterf, gee Snyman ’n tree vorentoe. Maar sy voet glip onder hom uit en hy slaan so hard neer dat die saal skud.

Die mense skater van die lag, veral die mans. Dit is beslis ’n komedie!

Nou sing die volle koor. Daar is ’n breë glimlag op almal se gesigte terwyl Snyman opstaan en moorddadig rondkyk.

Skielik klink die musiek vreemd. Vervleg deur meneer Beunk se melodie hoor die mense nou ’n moderne wysie. Dit is so lewendig dat die gehoor wil opstaan en dans. Maar waar kom dit vandaan? Die orkeslede speel sedig verder. Hulle hoor nie die ander musiek nie.

Bertrand en die grootste deel van sy nuwe boereorkes wat hy met die hoof se toestemming en hulp gestig het, sit gevaarlik hoog op die balke ver bokant die verhoog. Hulle speel liedjies wat hulle die afgelope paar dae op trekklaviere, kitare en mondfluitjies geoefen het. Die moderne treffers pas perfek by die ernstige musiek in. Slegs ’n begaafde musikant kon dit so verwerk het – en Bertrand is beslis een.

Einste hy en Geer het vroeër ’n koekie seep onder die blomme op die verhoog weggesteek. Hulle het twee gaatjies deur die seep gedruk en twee lang stukke swart gare daaraan vasgemaak. Die seep is net voor die operette deeglik nat gemaak. Toe kon Geer en Breda dit maklik van weerskante van die verhoog af aan die gare nader trek om die arme Snyman te laat neerslaan.

Dis ’n genade dat meneer Beunk doof is. Hy kom agter daar skort iets met die musiek, maar hy moet deurdruk, wat ook al gebeur.

Uiteindelik verskyn die vier aardgeeste, in wit geklee en met blomme bekroon.

“Liewe kinders, waar gaan julle heen?” vra Killian wat tot in sy siel gekrenk is dat hy hieraan moet deelneem.

Flip is veronderstel om te antwoord, maar hy staar net stil terug.

“Van die Koninkryk van die Wysheid kom ons,” fluister Kannemeyer. Hy speel agter die verhoog souffleur.

“Hè?” vra Flip.

“Sjuut, jou bobbejaan! Dis nie wat jy moet sê nie!” Kannemeyer is ontsteld en praat so hard dat die hele gehoor hom hoor.

“Sjuut, jou bobbejaan! Dis nie wat jy moet sê nie!” herhaal Flip op die verhoog.

“Haai, dis verkeerd!” sê Dollie Combrink spontaan.

“Ek weet dis verkeerd,” sê Flip. “Ou Kan-nie-meer-nie kan nie die regte plek in die teks kry nie.”

’n Gelag weergalm deur die saal.

Nou vang Flip die hoof se oog. Tot sy verbasing lyk doktor Serfontein nie kwaad nie; hy kyk net stip na sy horlosie.

Flip praat haastig. “Van die Koninkryk van die Wysheid … Haai, Neels, jou handdoek val af!”

Neels gryp na sy handdoek en die gehoor bulder van die lag.

Dis vir die hoof een te veel. Hy kon hom tot dusver goed inhou, maar nou glimlag hy so breed soos byna nooit nie. Sy broers en Tessa lag lankal reeds hardop en selfs sy skoonsuster skater saam.

Niks wat op die verhoog gesê word, is meer hoorbaar nie. Meneer Beunk maak vertwyfelde gebare vir Neels. Onder hernude gelag sien almal die ander drie aardgeeste het ook probleme met hulle handdoeke.

Toe die gehoor besef die seuns kan hulle handdoeke met een hand vashou en wil skynbaar graag met die stuk aangaan, bedaar hulle ’n bietjie.

Al die Oudgrieke het ingewillig om die vier jong gidse na die Tuin van Skoonheid te volg; almal behalwe een dwase mensekind wat die “wilde, sondige gewoel van die wêreld” nie kan of wil agterlaat nie. Hierdie karakter word deur Wentzel vertolk.

Terwyl die goed afgerigte koor nou bewend van die lag Wentzel se bose gedagtes verwoord, maak Flip ongemerk die punt van ’n lang stuk sterk tou aan sy lyfband vas. Bertrand en Geer het die tou reeds oor ’n balk hoog bo die verhoog gegooi. Nou sit die twee hulle instrumente neer en gryp die tou se ander punt.

Die koor se stemme styg tot ’n sterk crescendo.

Dan weergalm die vreesaanjaende woorde: “Daal neer, daal neer in die ewige nag! Vaarwel! Daal neer! Daal neer!”

Wentzel moes agter ’n ander deelnemer weggesak het sodat die gehoor die neerdaling in hulle geestesoog sou sien, maar met die laaste “Daal neer!” skiet hy hoog in die lug op en bly daar hang met ’n verdwaasde uitdrukking op sy gesig.

Hy kom eers ná ’n paar oomblikke tot verhaal. “Maak my los, man!” roep hy vies. “Dit maak seer!”

Die geskater is nou oorverdowend. Gelukkig is dit die einde van die operette, want almal huil behoorlik van die lag.

Net voor die gordyn en Wentzel saam “neerdaal”, hardloop die vier aardgeeste vorentoe asof hulle hom wil help. Onder wilde krete en fluite uit die gehoor val die handdoeke af, en daar staan hulle, heel ordentlik in sportbroeke en onderhemde.

Maar nou kom die oomblik van wraak. Die prefekte kry Flip en die ander drie aan die ore beet en stoot hulle by ’n kleedkamer in.

“Julle bly hier, met die deur gesluit!” sê Krynauw. “Dink solank wat julle vir doktor gaan sê. As meneer Beunk julle nou sien, is julle dood!”

Flip-hulle is nou regtig bang. Gelukkig is dit hulle eie kleedkamer. Hulle trek maar solank hulle gewone klere aan.

Meneer Beunk word omring deur besoekers. Almal wens hom hartlik geluk met die heerlike komedie. Die onderwyser hoor net elke sesde woord, maar kom vinnig agter die gehoor het sy opvoering terdeë geniet.

Die hoof aanvaar bedees sy deel van die gelukwense.

Daarna word die klaspryse uitgedeel, en ook bekers wat die oggend op die atletiekveld verower is, voor almal weer by die tafels onder die bome gaan tee drink.

Die son is reeds weg agter die berge toe die gaste hulle seuns begin roep om huis toe te ry.

Toe almal weg is, sien die hoof Krynauw staan eenkant om hom te spreek. “Wat is dit?” vra hy.

“Doktor, Venter en sy maats is nog in hulle kleedkamer. Ek het hulle maar solank daar opgesluit.”

“Hoekom?”

“Venter het die gewoonte om weg te loop as hy bang word.”

“Waar is Spaulding en Geer en die ander?”

“Skoonveld. Geer kruip weg vir meneer Beunk. Hy moes mos tjello speel in die orkes. Toe moes Lagrange alleen klaarkom. Wil doktor hulle spreek?”

“Nee. Stuur Jacobs na my toe. Gaan sluit oop vir die ander en sorg dat hulle iets kry om te eet.”

Jacobs is in ’n klaskamer waar hy met sy kop op sy arms lê.

“Jupiter soek jou,” sê Krynauw. “Komaan, moenie so ’n groot baba wees nie!” Dan loop hy na die juniors se kleedkamer.

Vier paar oë kyk hom bang aan toe hy die deur oopsluit.

“As julle gou maak, kry julle dalk nog ’n stukkie koek by die tafels,” sê Krynauw.

Hulle roer nie.

“Toe, skuif! Die hoof het gesê julle moet.”

“W- … wat gaan hy doen?” stotter Flip. “Is hy baie kwaad?”

Skielik glimlag Krynauw, veral vir Flip. “Nee wat, nie te erg nie, maar julle het vieslik drooggemaak. Toe, trap!”

Die vier laat vat na die tuin. Daar loer hulle van agter ’n bos hoe die hoof met Jacobs gesels.

Die prefek is te skaam om op te kyk.

“Toe nou, Jacobs,” sê die diep stem wat moeg klink. “Ruk jou reg. Jy is gespot, maar almal in die gehoor kon sien jou bene is nie krom nie. Jy het dan die senior hoogspringtitel gewen!”

“Doktor sou ook nie daarvan gehou het om … om …” Hy skrik vir sy eie moed.

“As jou bene regtig krom was, sou ek jou belet het om ’n kleed aan te trek … Jy was toe nie daar om jou prys te ontvang nie.”

Jacobs kyk nou met ’n skaam glimlag op. “Jammer, doktor, dit was onnosel van my,” sê hy. “Maar ek dog ek gaan dood van skaamte daar op die verhoog. Sê nou net my ma-hulle was hier.”

“Dit sou vir jou ondraaglik gewees het, en vir hulle ook. Ek is jammer dit het gebeur. Ek voel verantwoordelik.”

“Nee, hoe kon doktor geweet het?”

“Die een in bevel is altyd verantwoordelik. Onthou dit later in jou lewe. Toe, gaan haal jou prys by meneer Burger, en baie geluk daarmee.”

Jacobs gee skielik vir niks meer om nie. Die hoof skud sy hand, en dit gebeur mos nooit nie!

Die volgende oggend is baie van die seuns reeds weg. Al wie oorbly, is dié wat te ver woon en die kort vakansie by die skool gaan bly en dié wat later per bus en trein gaan vertrek. Krynauw en Flip val onder laasgenoemdes.

Die twee Spauldings bly op Keurboslaan. Everard sal studeer en Bertrand sal die buurt op horings neem. Hulle pa is een van die hoof se min intieme vriende en het hulle onlangs by hierdie skool kom inskryf. Everard is ’n stil, pligsgetroue seun van sewentien en hy sukkel nog met Afrikaans, maar die veertienjarige Bertrand is reeds verbasend goed daarin, miskien omdat hy so buitengewoon musikaal is.

Tonie Wilke is genooi om die vakansie by Adolf Serfontein en sy vrou deur te bring. Hy het Coralie toevallig ontmoet toe hy een Saterdag vir meneer Papenfus gevlug het omdat hy sonder toestemming in die dorp was. Die weeskind was dadelik in vervoering oor haar skoonheid en sy openlike bewondering het haar hart sag gemaak. Die hoof se broer is maar net te dankbaar dat Tonie tot sy vrou kon deurdring nadat sy jare lank nie ’n seun naby haar wou toelaat nie.

Voor almal die eetsaal verlaat, maak Krynauw ’n aankondiging.

“Die hoof het my gevra om dankie te sê vir dié van julle wat gister se operette so ’n sukses gemaak het. Hy weet julle was ongelukkig oor die stuk, maar julle het nogtans ’n sukses daarvan gemaak. Hy waardeer die moeite wat julle gedoen het en die talent wat julle aan die dag gelê het. Julle ander pryse is in die koshuiskantoor. Gaan haal dit daar.”

Hierdie onverdiende dank en die afskeepmanier waarop hulle pryse uitgedeel word, is ’n swaar straf.

Flip se pryse vir geskiedenis en wiskunde en sy oorwinning in die 100 m-hekkies beteken nou vir hom niks nie. Maar toe hy boonop ’n ekstra boek tussen die ander kry en voorin lees dis deur die hoof persoonlik vir “algemene verbetering” geskenk, gaan hy met ’n gebroke hart daar weg.

’n Ruk later bel die hoof vir mevrou Mostert. “Is Krynauw daar iewers?” vra hy.

“Hy’s toevallig hier by my in die kantoor.”

“Kan ek asseblief met hom praat?”

“Kan ek help, doktor?” vra die onderhoofseun.

“Ja. Meneer Burger reis per bus saam met die ander seuns. Jy kan saam met my ry en af en toe bestuur. Ek wil jou leer sodat jy binnekort jou rybewys kan kry.”

“Doktor bedoel … Regtig?”

“Sien jou dan drie-uur.”

“Wat nou?” vra mevrou Mostert toe Krynauw die foon neersit.

“Hy sê ek mag saam met hom ry,” antwoord Krynauw kastig ongeërg.

Maar sy reaksie mislei die koshuismoeder nie, want sy ken hom al jare lank. Sy het snags wakker gelê van bekommernis oor die klein Eugene Krynauw wat ná sy ma se dood hierheen gestuur is. Klein Eugene het aan die begin verseg om enige emosies te wys. Hy wou nooit praat of eens huil nie. Dit het so gebly totdat hy uiteindelik ineengestort het, daar bo teen die berg waar die hoof hom gelukkig raakgeloop het.

Dié dag het die jong doktor Serfontein gewys hoe groot sy hart eintlik is. Hy het die kind vasgehou totdat hy die laaste bietjie hartseer uitgesnik het. Daarna het dit swaar gegaan om Eugene te laat verstaan dat sulke openlike vertroosting nie herhaal kan word nie. Mevrou Mostert het dit en veel meer meegemaak.

Nou sê sy net: “Sorg dat jy mooi netjies lyk.”

Die kroon van Keurboslaan #4

Подняться наверх