Читать книгу Die kroon van Keurboslaan #4 - Theunis Krogh - Страница 5
3
ОглавлениеDIE APLIKANT
Drie-uur is Krynauw met sy tas voor die hoof se hek waar die groot motor gereed staan.
Toe doktor Serfontein uitkom, sien hy ’n opgewonde en tog half onseker gesig. “Bang ek gaan te vinnig ry?” vra hy speels.
“O nee, doktor!”
“Maar wanneer jy bestuur, gaan ons mooi stadig ry.”
“Mag ek nou al?”
“Nee, eers buite die dorp.”
Toe hulle op pad is, sê Krynauw: “Ek het nog nie ordentlik dankie gesê nie … Vir die saamry … en alles.”
Hy sien net ’n wang en ’n wenkbrou wat lig. “Bly om huis toe te gaan?”
“Dit gaan lekker wees om Albert en Bobbie en Dawie te sien. My pa ook, natuurlik. Noudat ek ouer word, gesels ek makliker met hom. Nooit oor diep dinge nie, maar ons kom tog beter oor die weg.”
“Dis mooi.”
“Dinge gaan dié keer anders wees by die huis. Albert is mos verloof.”
“Ja, hy het vir my geskryf … Hy is nog baie jonk.”
Die hoof ken Albert; hy was ook op Keurboslaan.
“Nog nie een en twintig nie. My pa sê hulle is albei mal, maar hy gaan hulle nie keer nie. Hulle kan in elk geval nog lank nie trou nie. Ek dink ook Albert is van sy kop af.”
“Daar is ’n paar dinge wat jy nog nie verstaan nie.”
“Wel, ek dink trou is tydmors!”
“Ons stem nie heeltemal saam oor daardie onderwerp nie. Ons het mos onlangs ook daaroor vasgesit.”
Die feit dat hulle soos twee mans saamry en gesels, gee Krynauw moed. “Doktor probeer my net terg,” sê hy. “Doktor dink tog ook nie trou is ’n goeie idee nie.”
“Nee, nie op die oomblik nie!”
Ná ’n uur laat die hoof Krynauw bestuur.
Halfnege kom hulle ná ’n gesellige rit in Johannesburg aan.
“Ek het jou pa van die skool af gebel. Hy verwag jou eers later,” sê die hoof. “Kom eet eers iets saam met my.”
“O, dankie!”
By die hotel word die motor in ’n deurwag se sorg gelaat en hulle stap by die voorportaal in. Hier wag ’n portier die hoof in.
Van die mense herken hom en verkyk hulle aan die lang, statige man wat so bekend is, maar wat niemand ooit werklik leer ken nie.
“Welkom by ons, doktor Serfontein,” sê die portier. “Iemand wag al meer as ’n uur bo in u sitkamer, maar voor u opgaan, het die bestuurder gevra u moet asseblief na sy kantoor toe kom.”
“Wie is dit wat wag?”
“Ek het die persoon nie gesien nie. Ek kom nou eers aan diens. Maar Ontvangs het seker gedink dis in orde om die besoeker in u eie suite te laat wag.”
Die hoof frons ontevrede. “Waarmee kan ek die bestuurder help?”
“Daar was ’n oorsese oproep. Hy het ’n boodskap wat hy persoonlik vir u moet gee.”
Die hoof maak sy bekende ongeduldige handbeweging. “Gaan solank boontoe,” sê hy vir Krynauw. “Jy ken mos die nommer.”
Vir die portier sê hy: “Stuur asseblief vir my iemand met ’n spyskaart na die bestuurder se kantoor toe.”
Krynauw stap tot by die hyser. Gelukkig is daar niemand anders in nie, so hy kan eers tot op die boonste verdieping ry, en dan af na die hoof se vloer.
Omdat hy gehoor het iemand wag in die suite, klop Krynauw eers voor hy ingaan.
’n Vrou staan voor ’n venster en kyk af na die straat.
Krynauw maak die deur toe en sy draai om.
Dis nie een van die hoof se twee susters nie. Hy ken hulle albei van sien.
Sy maak dadelik ’n buitengewone indruk op hom. Dis nie die onmiddellike bewondering wat ’n seun soms voel vir ’n vrou wat effens ouer as hy is nie. Dis eerder asof hy haar reeds ken.
Krynauw sien nou sy is nog jonk. Sy is lank en skraal. Haar gesig is lewendig en intelligent, en sy het groen oë en ’n bos goue hare.
Hy kyk met belangstelling na die vrou se klere. Hy sien haar bruinerige broekpak, ’n kleurvolle serp waarvan groen die oorwegende kleur is en ’n ring met ’n groen steen teen die trouring aan haar linkerhand. Bruin handskoene en ’n groen sak lê op ’n stoel.
Net daar besluit Krynauw dis hoe sy sussie ook eendag moet lyk: met mooi hare en ’n sagte vel, elegant maar eenvoudig aangetrek.
Hy staar die vrou so ingedagte aan dat sy ook tyd het om hom goed te bekyk.
Sy sien ’n lang, maer seun van omtrent sewentien met ’n aantreklike gesig en vriendelike bruin oë agter ’n bril wat hom soos ’n professor laat lyk.
“Dis nou genoeg!” sê sy uiteindelik met ’n stem wat perfek pas by hoe sy lyk. Dis effens diep vir ’n vrou, maar nogtans lig. “Ons kan mekaar nie vir ewig so staan en aankyk nie!”
Hy glimlag skaam. “Ek is jammer. Dit was ongemanierd van my.”
Sy stem klink vir haar manlik en vol humor.
“Dit maak nie saak nie. Toe jy inkom, het ek eers gedink dis doktor Serfontein, maar jy is natuurlik gans te jonk.”
“O … Ken mevrou hom dan nie?”
“Nee. Is jy sy seun?”
“Nee! Net een van sy leerlinge. Hy is nie getroud nie.”
“Ek het so gedink, maar toe ek jou sien, het ek gewonder. Ek was verras dat hy in ’n hotel tuisgaan. Sy ouers woon tog hier.”
“Hulle is ’n baie groot familie. Miskien is daar nie plek nie, en hy bly buitendien graag alleen. Hy gaan kuier elke dag by sy ouers terwyl hy hier is.”
“So jy is by hom op skool op Keurboslaan?”
“Ja.”
“Ek verstaan dit is ’n pragtige omgewing.”
“O ja, daar is die wonderlikste berge en strome oral, en twee riviere. Ons kry baie reën. Doktor sê die klimaat laat hom aan Engeland dink en die natuurskoon aan Switserland.”
Sy word bleek, asof die woorde haar fisiek seergemaak het.
Die verandering is so ooglopend dat Krynauw dit dadelik opmerk. “Iets wat ek gesê het, het mevrou ontstel. Ek is jammer,” maak hy verskoning.
Sy probeer glimlag. “Dis nie jou skuld nie. Dis net …”
“Toemaar, ek verstaan. Dis erg as ’n plek of naam, of partykeer ’n reuk – soos pronkertjies vir my – ’n mens aan iets hartseers herinner.”
Nie een van hulle praat weer voor die hoof inkom nie.
Krynauw het al baie gesien hoe ongemaklik mense lyk wanneer hulle doktor Serfontein die eerste keer ontmoet, maar hierdie vreemdeling deins nie vir hom terug nie.
Die hoof se wenkbroue trek saam, want gister was ’n lang en besige dag; hy sou verkies het om nie vanaand besoekers te ontvang nie. Hy is nogtans beleefd, al is daar ’n kilheid in sy stem.
“Goeienaand,” sê hy effens vraend.
“Doktor Serfontein?”
Die stem streel ’n plooi op sy voorkop weg sonder dat hy dit weet. “Ja.”
“Ek is Helen Bielefeld.”
Hy bied vir haar ’n stoel aan.
“Doktor,” sê Krynauw, “ek sal liewer gaan, sodat …”
“Nee, nee. Ek het vir jou ’n afgryslike maaltyd vol stysel en ’n taai nagereg bestel. Dit gaan hier bedien word. Daarna neem ek jou huis toe.”
“Ek kan ’n taxi kry.”
“Nee. Die badkamer en tweede slaapkamer is hier langsaan. Gaan was jou hande en kam jou hare. Wanneer jy klaar is, sal die kos hier wees.”
Die hoof en Krynauw glimlag albei omdat hy hom soos ’n kind wegstuur om hom te gaan netjies maak.
Helen bekyk hulle goedkeurend. Hier is iets waarvan sy hou.
“Nou, juffrou …” Doktor Serfontein kyk na die trouring. “Mevrou Bielefeld?”
Hy kom sit ook op ’n stoel en leun effens vorentoe asof hy hoop dit gaan ’n kort gesprek wees.
“Ek is jammer as ek jou verontrief. Ek is hier oor die advertensie.”
Sy haal ’n koerantuitknipsel uit haar sak en gee dit vir hom. Hy lees dit vlugtig. “Dit het gou verskyn,” sê hy. “Ek het dit gisteraand eers deurgebel, toe ek gehoor het my sekretaresse gaan omtrent ’n jaar lank in die hospitaal wees.”
“Dis vanaand se koerant.”
“Jy het nie gras onder jou voete laat groei nie.”
“Nee. Dit sê immers die onderhoude is van Vrydag tot Maandag. Dis vandag Vrydag en dié hotel word genoem. Ek het dadelik gekom en toe die bestuurder sê hulle verwag jou vanaand, het ek besluit ek wag sommer en kry dit verby.”
Hy ondersoek haar gesig met die oë van ’n skrywer wat meer sien as die gewone mens. “Stel jy ernstig in die pos belang?”
“Ja. Ek is ervare in snelskrif en tik, en het oorsee as joernalis gewerk. Ek was ’n paar jaar in …” Sy huiwer en haar lippe word styf. “In Europa was ek ’n korrespondent vir drie Afrikaanse koerante, soos jy ook destyds. Ek sal natuurlik al die nodige besonderhede en getuigskrifte bring as jy in my dienste belangstel.”
“Hoekom wil jy jou loopbaan laat vaar en ’n sekretaresse by ’n kosskool vir seuns word?”
Sy wag ’n oomblik voordat sy rustig antwoord. “Ek was getroud … in Switserland … Maar my man is dood aan longontsteking en …”
Hy maak haar met ’n handbeweging stil. “Asseblief, jy hoef nie te verduidelik nie.”
Sy praat nogtans emosieloos verder. “My seuntjie is ’n paar dae later ook daaraan oorlede. Hy was net ’n paar maande oud.”
Die hoof haal haastig ’n koker uit sy sak en bied vir haar ’n sigaret aan.
“Nee dankie,” sê sy, “maar rook gerus self.”
Hy steek ’n sigaret aan en hou sy oë stip daarop.
“Dis meer as ’n jaar gelede,” sê sy byna droog. “Ek het na my mense hier teruggekom; net familie, want my ouers is lankal dood. Maar nou is my geld op en ek moet weer werk. Toe ek die advertensie sien, het ek gevoel dis dalk net wat ek nodig het. Maar as jy my nie aanstel nie is dit ook goed. Want dis die eerste keer … ná die tragedie … wat ek die moed het om aansoek te doen vir werk. Hierna sal dit net makliker gaan.”
Hy rook ’n rukkie sonder om te praat. Sy beskik ook oor die vermoë om lank stil te bly sonder dat die atmosfeer ongemaklik word.
“Kan jy oor tien dae begin werk?” verbreek hy uiteindelik die stilte.
“Maar … jy het nog geen ander applikante gesien nie.”
“Dis nie nodig nie.”
“Maar jy het my nie eers getoets of niks nie. Jy het net my woord dat ek die werk kan doen.”
“Dis genoeg vir my. Ek kan jou altyd later afdank as ek wil. Of jy kan wegloop. Die mense sê dis moeilik om saam met my te werk.”
Skielik lag haar groen oë. “Wel, jy hét jou sekretaresse in die hospitaal laat beland, nie waar nie?”
“Presies. Wil jy nogtans probeer?”
“Ja.”
“Het jy ’n motor?”
“Nee.”
“Dan kan jy per trein na ons skool toe reis wanneer die seuns teruggaan. Ons vertrek oormôre oor ’n week, kwart voor elf in die nag. Ek ry altyd saam met die kinders. Miskien sal jy dan so vriendelik wees om my broerskind geselskap te hou. Haar naam is Tessa. Sy is nege.”
Doktor Serfontein staan op. Sy glimlag oor sy manier om ’n einde aan die gesprek te maak.
“Maar jy weet niks van my nie,” sê sy nadat sy vir hom haar adres en foonnommer gegee het. “Dalk het die skool my nie eens nodig nie.”
“Ons sal maar sien. Dit lyk in elk geval vir my of jy die skool op die oomblik nodig het.”
“Wel, ek … Of wag, ek moet liewer nou gaan. Daardie gawe seun het seker lankal sy hande gewas en sy hare gekam. Hy bly uit ordentlikheid weg; hy’t sulke goeie maniere.”
“Ja … Ek het hom self grootgemaak.”
“Ek kan dit sien. Tot siens.”
Die hoof ry saam met haar in die hyser af ondertoe, maar afgesien van nog ’n “Tot siens” in die portaal praat hulle nie weer nie.
Haar salaris is nooit bespreek nie.