Читать книгу Die kroon van Keurboslaan #4 - Theunis Krogh - Страница 6

4

Оглавление

TERUG SKOOL TOE

Toe Krynauw ’n week later stasie toe ry vir die reis terug na Keurboslaan, het hy ’n nuweling by hom. Dis ’n seun van agt, met Krynauw se gladde, geel hare, maar blou oë. Sy ronde gesiggie het nog nie werklik vorm aangeneem nie. Dis net blosend en op die oomblik half verskrik en nuuskierig. Hy dra die kosskool se grys flenniebroek en roos-en-grys kleurbaadjie.

Dawie pluk aan sy broer se hand toe hulle by die perron kom. “Gene … is hulle almal … van ons skool?” vra hy.

“Ja … Luister, jy moenie my hand hou nie. Ek gee nie om nie, maar op kosskool moet jy ’n groot seun wees. Doktor het dit vir my ook gesê toe ek klein was.”

“O,” sê Dawie hartseer.

Krynauw voel skielik ellendig en wonder vir die eerste keer of doktor Serfontein ook sleg gevoel het toe hy destyds gesê het hy moet hom soos ’n man gedra.

“Kom, ek gaan jou by Erik los. Bly by hom, maar moenie te veel kattekwaad by hom leer nie, want dan kry jy pak – en dis iets wat jy nog nie ken nie.”

“Ken jy dit?”

“O ja! Haai, Erik!”

’n Blonde tienjarige hardloop van sy groepie maats af nader.

Erik Oosthuizen, Krynauw se nefie, is reeds meer as ’n jaar op kosskool.

“Pas Dawie op, en bewaar jou siel as jy vir hom stout goed leer!”

“Ja, Gene. Komaan, Daaw!”

Dawie se oë knip vinnig, maar hy het belowe om hom soos ’n man te gedra.

Smit kom met woeste hare oor die platform aangestap en groet Krynauw vrolik. “Gene!”

“Haai, André. Hoe was die vakansie?”

“Man, ek en die oubaas het vir die eerste keer in ons lewens nie baklei nie. Dit was net tien dae, maar nogtans!”

“Dalk kry jy nou verstand,” spot Krynauw, wat bly is Smit word nou ’n bietjie rustiger.

Rothman daag op en sy gesig straal toe hy sy twee beste vriende daar sien staan.

“Hallo! Doktor nog nie aangekom nie?”

“Nog nie.”

Rothman kyk na waar die kleintjies lag en lawaai. “Is dit Dawie wat ek daar sien? Ek dog hy kom eers volgende jaar.”

“Doktor het gesê hy kan maar nou kom, want ek is nog op skool om hom te help.”

“Ek gaan kyk gou wat daar aangaan. Dit lyk my hulle maak die arme spoorwegpersoneel mal. En Lagrange beveel almal weer rond asof hy die hoofseun is!”

Krynauw stap terug na die roltrap.

Iemand is op pad ondertoe, maar dis nie die hoof nie. Toe hy die persoon herken, rek sy oë.

Al het Krynauw Helen Bielefeld in doktor Serfontein se hotel-suite ontmoet, is sy die laaste mens wat hy verwag het om op hierdie oomblik te sien.

Hy en die hoof het die aand saam in die hotel geëet, en die hoof het hom daarna huis toe geneem, maar niks van die besoek gesê nie. Krynauw het natuurlik van beter geweet as om hom daaroor uit te vra.

Helen lyk bly toe sy hom sien. “Goeienaand!” sê sy.

“Mevrou onthou my nog? Ry mevrou ook met hierdie trein?”

“Ja, maar kom ons stel ons eers aan mekaar voor.”

“Eugene Krynauw.”

“Helen Bielefeld … mevrou,” voeg sy met ’n glimlag by toe sy sien hy kyk na haar trouring.

“Die trein kom oor tien minute,” sê hy.

“Is dit almal leerlinge wat ek hier sien?”

“Ja. Maar dis natuurlik nie al die ouens nie. Party het by die koshuis gebly omdat dit ’n kort vakansie was, en party kom uit ander rigtings … Ry mevrou tot op Breyten?”

“Tot op Keurboslaan.”

“Regtig? Dis snaaks!”

“Hoekom snaaks? Ek gaan vir ’n jaar daar werk.”

“Wat? Ek bedoel, ekskuus?”

“Ek is doktor Serfontein se nuwe sekretaresse.”

“Maggies!” Krynauw straal van geluk. “Dis die beste nuus wat ek in ’n lang tyd gehoor het!”

“Ek ook.”

“Gene!” roep Rothman verwytend. “Kom help ’n bietjie. Die kleintjies is ’n hand vol!”

“Kan ek mevrou gou aan Rothman voorstel?” vra Krynauw. “Hy’s ons hoofseun. Chris, mevrou Bielefeld is die hoof se nuwe sekretaresse.”

“Ekskuus tog, ek het nie geweet nie,” sê Rothman. “Aangename kennis. O, kyk, hier is doktor uiteindelik.”

Die hoof en Tessa kom by die roltrap af. Sy het die tien dae vakansie terdeë geniet. Dit was wonderlik om by haar oupa en ouma te kuier en haar Thiessen-nefies beter te leer ken.

Tessa gil van blydskap toe sy Krynauw sien. “Gene! My held!” sê sy melodramaties soos altyd.

“Hallo, Tess.”

“Held ofte nie, ek is kwaad vir jou. Jy is weg sonder om my te groet!”

“Jy moes mý kom groet het, want jy’s eerste weg. Maar jy’t saam met jou ooms daar weggery sonder om eers een keer na my kant toe te kyk.”

“Kom hier, Tessa,” sê die hoof streng.

Hy het sy sekretaresse net met ’n kopknik gegroet. “Mevrou Bielefeld, dit is Tessa, my broerskind.”

“Hoe gaan dit?” vra Helen asof sy regtig in die meisie belangstel.

“Goed, dankie, maar ek is bietjie moeg ná die kuier in die stad.”

“Ja, ek ook.”

“Ek is bly mevrou kom na ons skool toe,” sê Tessa. “Dit gaan lekker wees om nog ’n vrou daar te hê. My ma hou nie van my nie en mevrou Mostert is gaaf, maar sy’s baie ouer as ek.”

“Is daar nie meisies van jou ouderdom nie?” vra Helen.

“Ja, maar ek hou nie van hulle nie. Hulle wil net pop speel en as ek vloek, sê hulle vir hulle ma’s en …”

“Dis genoeg!” maak die hoof haar stil.

Aan sy frons kan Krynauw sien hy het een van sy kwaai hoofpyne. Dit beteken altyd hy raak gouer as gewoonlik kwaai.

Maar Tessa is ook ’n Serfontein met senuwees van staal. “Ek wil by Gene op die trein slaap,” neul sy.

“Glad nie!”

“Hoekom nie? Ek wil!”

“Dis genoeg!” sê die hoof weer. Sy stem kry daardie klank van ’n sweepslag wat gewoonlik alle weerstand laat verbrokkel.

Sy bars in trane uit.

“Ag nee,” paai Krynauw. “Kom nou, Tess! Jy moenie …”

“Het jy nie pligte nie?” vra die hoof bitsig.

“As ek haar net eers kan troos, sal sy …”

“Daar is genoeg ander dinge vir jou om te doen. Meneer Burger reis nie saam nie.”

“Reg, doktor.”

Krynauw knipoog bemoedigend vir die sekretaresse en loop vinnig weg.

Dit lyk asof Helen Bielefeld almal aanvaar presies nes hulle is. In die hotel het sy ’n fynbeskaafde man ontmoet. Vanaand is hy byna onbeleefd, maar sy kyk hom nogtans vriendelik aan.

Toe hy langs die perron afstap na waar sy teenwoordigheid onmiddellik tot stilte lei, sê die vrou rustig vir Tessa: “Dit sal lekker wees as ons sommer vroeg al bed toe kan gaan.”

“Ja,” snik Tessa, en kom dan vinnig vir haar dierbare oom se gedrag op. “Oom Roelof het hierdie vakansie hard gewerk. Ouma is kwaad daaroor. Hy was moeg en moes gerus het, maar hy’t hom in sy hotelkamer opgesluit en heeltyd aan sy boek gewerk en omtrent nooit geëet of geslaap nie! Dis hoekom hy nou so snaaks is.”

“Dit gaan soms maar so met kunstenaars.”

Tessa leun gemaklik teen Helen, sug en gee dan ’n groot gaap.

’n Ruk ná die trein vertrek het, kom kyk Krynauw of Helen iets nodig het.

Sy het al die bagasie netjies weggepak en twee beddens opgemaak. Tessa slaap reeds vas op die boonste bank.

“Ek wou nog kom help,” sê Krynauw, “maar mevrou het goed alleen reggekom.”

“Ek is gewoond aan reis.”

“Mevrou het Tessa ook in die bed gekry! Sy gaan soms soos ’n klein tierwyfie te kere.”

“Sy was ontsteld omdat haar oom kwaad was. Ek is jammer as ek jou ook in die moeilikheid laat beland het met my geklets.”

“O, dit was niks nie. Ek is gewoond daaraan.”

“Gebeur dit dan dikwels?”

“Ja, so teen die einde van die jaar. Maar ná die lang vakansie gaan dit vir ’n ruk makliker.”

Krynauw sug. “Ek gaan volgende jaar nie meer op skool wees nie.”

“Jy kan naweke kom kuier.”

“Ek kan nie as hy my nie nooi nie, en hy doen nie sulke dinge nie.”

“Ek sal daarvoor sorg! Gaan slaap nou. Jy lyk moeg.”

“Ek moet eers gaan kyk of die hoof iets nodig het.”

“Pas jy die hele skool op?”

“Nee, net vir doktor. En nou vir mevrou ook.” Krynauw frons. “Dis snaaks … Toe ek dit sê, was dit … asof dit iets spesiaals beteken … Ek weet nie wat nie.”

“Ek verstaan. Dis soos wanneer ’n mens soms by ’n vertrek inkom, of iets heeltemal onbelangriks hoor, en jy kry die gevoel dit het vantevore al gebeur. Die Franse noem dit déjà vu.”

“So iets. Maar dis nou weg … Wag asseblief môre-oggend met die bagasie tot ek kom help. Daar’s min kruiers op Breyten.”

“Dis goed. Baie dankie.”

Dawie se oë blink en sy wange gloei van opwinding. Hoekom het niemand hom vertel die koshuislewe gaan só wees nie? Gene het baie van studie en sport gepraat – en vaagweg van pret – maar nie van hoe lekker dit is om by kompartemente in en uit te hardloop, vir die prefekte poetse te bak en dan pad te gee voor hulle jou kan vang nie! Sy ondeunde neef moedig hom aan, en daar is geen keer aan Dawie nie.

Olivier betrap hom uiteindelik. “Kom hier! Is dit jy wat ons skoene met ’n ander kompartement s’n omgeruil het?”

Almal het reeds nagklere aan, en Olivier wou sy skoene aantrek om te gaan kyk wie so in die gang raas. Hy vang die kleintjie wat laaste is om te vlug, sleep hom by die kompartement in en skakel die lig aan.

“Wat makeer?” vra Killian wat graag tot rus wil kom.

Olivier vertel wat met hulle skoene gebeur het.

“Dis nie een van ons kleintjies nie,” sê Beukes. “Ek ken hom nie.”

“Ek weet nie wie hy is nie,” sê Olivier vies. “Op hierdie ouderdom lyk hulle vir my almal dieselfde.”

“Wat’s jou naam?” vra Killian.

“D- … Dawid Krynauw …”

“Onmoontlik,” sê Killian.

“Nee,” sê Beukes. “Dit val my nou by. Chris het vir my gesê Gene het sy boetie saamgebring.”

“O so!” sê Olivier. “Nou ja, jy! Waar is ons skoene?”

“E- … ek weet nie …”

“Nie? Nou luister mooi … As almal se skoene nie binne vyf minute terug is waar hulle hoort nie, gee ek jou op hierdie trein ’n pak!”

Prefekte mag onder geen omstandighede aan ander seuns slaan nie en buitendien sal die groot, saggeaarde Olivier nooit in sy lewe ’n junior kan seermaak nie, maar Dawie is desperaat van vrees.

Hy ruk hom los en vlug by die gang af met Olivier laggend agterna.

Dawie sien ’n oop koepeedeur, vlug daar in, kruip in ’n hoek weg en loer uit soos ’n hasie wat deur honde gejaag word.

Olivier sien ook die hoof se oop deur, maar hy was om die draai en het Dawie nie daar sien ingaan nie. Die hoof sal hom in sy nagklere en sonder pantoffels sien as hy nou daar probeer verbyloop. Dawie het seker by sy broer gaan wegkruip, dink hy.

Olivier draai om en gaan geamuseerd oor die nuweling se stoutstreke terug bed toe. Daar sal môre genoeg tyd wees om die skoene te soek.

Dawie sug verlig. Dis heeltemal donker in die kompartement en sy oë is nog effens verblind van die lig in die gang.

“Sjoe!” sê hy.

“Maak jou asseblief tuis,” sê ’n man se stem uit die donker.

Die hoof het die ligte afgeskakel om in die donker en met die deur en venster oop te sit. Dalk raak hy dan van sy kopseer ontslae.

Dawie het gedink die koepee is leeg. “Ekskuus!” sê hy verskrik.

Doktor Serfontein praat hard om bo die trein se geraas gehoor te word. “Wie is jy?”

Dawie het die hoof nog maar selde gesien en nooit gehoor praat nie. Hy herken nie die stem nie.

“My naam is Dawid … Dawid Krynauw,” sê hy. “Ek sal loop. Ek het nie geweet hier’s iemand nie.”

“Noudat jy hier is, kan jy gerus ’n oomblik bly. Wie het jou agtervolg dat jy so gehardloop het?”

“Een van ons skool se groot ouens. Ons het baie pret gehad! Ons het al die pre- … prefekte se skoene omgeruil en toe in die gang geraas sodat een syne moet kom aantrek. Hy het my gevang, maar ek het weggehol. Sjoe, dis koud met die venster so oop.”

Die hoof staan op, haal ’n jas van ’n haak af en vou dit om Dawie sodat net sy kop bo uitsteek. Hy gaan weer sit en Dawie skuif nader sodat hulle nie hard hoef te praat nie.

“Ek gaan vir die eerste keer kosskool toe,” vertel hy, toegedraai soos ’n papie. “Die ander ouens was gaaf. Hulle het my laat saam speel!”

“En was dit lekker?”

“Ja! Ek voel half snaaks en kry my groot broer nêrens nie. Ek weet hy’s besig; ek moet hom nie pla nie. So ek is bly ek kan nou met meneer gesels. Die ander sal wil slaap, en …”

“Voel jy ’n bietjie onseker?”

Die warmte van die groot jas is heerlik. “Ja! So half … snaaks …”

Skielik kantel Dawie om sodat sy kop teen die hoof se arm rus – en hy slaap so vas soos in sy eie bed.

Dit beteken doktor Serfontein kan nie sy sigarette bykom nie, maar hy bly so sit totdat iemand in ’n bruin kamerjas in die oop deur verskyn.

“Kom binne en skakel die lig aan … Nee, die een bokant die bank. Dis nie so skerp nie.”

Krynauw doen dit en bly dan verbaas staan. “Maggies!” sê hy.

“Joune?”

“Myne, ja. Wat maak hy hier?”

“Dis ’n lang storie en dis laat. Vat hom bed toe sonder om hom wakker te maak. Moet asseblief nie vir hom sê in wie se koepee hy beland het nie. Ek wil môreaand behoorlik kennis maak.”

Krynauw se hart word sag. Hy vergeet dadelik die hoof se skerp woorde van vroeër en sy ongeduldige optrede.

“Ek weet dis laat, maar ek dag ek kom sê darem net nag.”

“Dis in orde. Het jy gekyk of mevrou Bielefeld gerieflik is?”

“Ja, alles is piekfyn. Sy sê sy is gewoond aan reis. Tessa was al vas aan die slaap.”

“Mooi. Danster sal môreoggend op Breyten wees om haar en Tessa skool toe te neem. Dis beter as die ongerieflike busrit. Sorg jy asseblief vir hulle bagasie en dinge.”

“Dis reg so. Nag dan, doktor.”

“Goeienag. Hou die jas so om hom. Jy kan dit môre in die motor sit.”

’n Baie mooi stel kamers is langs die huismoeder s’n in die hoofgebou ingerig vir Helen Bielefeld. Sy bring ’n groot deel van die dag daar deur, want sy wil al haar goedjies uitpak en regsit.

Haar middagete word saam met mevrou Mostert en Tessa s’n in ’n mooi klein eetkamer bedien. Wienand, die hoof se algemene bestuurder, sê dikwels Keurboslaan lyk meer na ’n spoghotel as ’n skool en hy is heeltemal reg. Dit wat Helen uit die motor gesien het, en nou weer deur die vensters, is regtig baie besonders.

Halftwee stop die bus met die seuns buite. Daar is uitroepe en ’n vrolike gebabbel. Die seuns wat nie die vakansie weg was nie is bly hulle maats is terug op skool. Die opwinding bring ’n lig na Helen se oë.

Ná ete ontmoet sy die paar helpers in die skoolkantoor en gaan dan na haar eie kantoor.

Sy is skaars daar toe die telefoon op haar lessenaar lui. “Goeie-middag,” sê sy. “Keurboslaan Seunskool.”

“Mevrou Bielefeld, ek wou jou nie vra om so gou al te begin werk nie, maar ek moet ongelukkig nou,” sê die hoof.

“Dis in die haak.”

“Een van die busse het verdwyn. Maar dié wat onmiddellik voor en agter hom gery het, is wel hier.”

“Ek sal die stasiemeester op Breyten bel en vra of hy iets gehoor het. Of het doktor dit al gedoen?”

“Nee. Ek het pas hier aangekom met die laaste bus. Ek gaan dadelik per motor terug om hulle langs die pad te soek. Dankie.”

Dis glad nie eenvoudig om hiervandaan te bel nie. Helen moet eers al die nommers opsoek.

’n Gehoes kondig aan Nieuwenhuis het kom kuier. “Middag, mevrou,” sê hy onseker.

“Middag. Kan ek help?”

“Ek het gewonder of daar miskien nuus is oor die bus wat verdwaal het. Dis ’n snaakse storie.”

“Jy bedoel seker vreemd, nie snaaks nie.”

“Wel, dis die eerste keer dat ek van so iets hoor.” Nieuwenhuis lyk of hy die saak in detail wil bespreek.

Helen kyk af na die boek voor haar. “Is dit so?” vra sy ingedagte.

“Ja. Het mevrou al ooit van so iets gehoor?”

“Ja. In Rusland het ’n bus wat van een dorp na die ander gery het, glo net spoorloos verdwyn. Dis nooit weer gesien nie.”

“Nou ja, dit ís mos snaaks!” Dit lyk of Nieuwenhuis graag wil lag.

“Nie vir die passasiers se families nie. Dink net aan die ouers as hulle die seuns en die bus nooit weer kry nie.”

“O, maar dít sal nie gebeur nie!”

Helen haal ’n ander boek van die rak af.

“Ek is onrustig,” sê sy. “Ek het self met die grootpad langs gekom en behalwe by Vlakfontein was daar nie ’n enkele kruispad nie.”

“Nee, maar daar’s paaie wat min gebruik word,” probeer Nieuwenhuis troos sonder om te veel uit te lap. “Party gaan af na die vallei. Miskien het die bestuurder by een afgedraai.”

“Hoekom sou hy? Hy kon die bus voor hom mos sien.”

“Nie om ’n draai nie. Sê nou hy … Sê nou hy’t gedink hy sien ’n bordjie wat sê daar’s padwerke voor, hy moet afdraai?”

“Ek hoop hy kan sy baas daarvan oortuig, want anders verloor hy sy werk.”

Skielik verdwyn al Nieuwenhuis se selfvertroue. “O, maggies!” sê hy en haal diep asem.

Helen kyk hom stip aan.

“Jy het die kennisgewing daar geplant en dit weggevat ná die bus vallei toe afgedraai het,” sê sy.

Nieuwenhuis kan nie jok nie. Hy knik dodelik skaam met sy kop.

“Toemaar, ek sal vir niemand vertel dit was jy nie.”

“Maar ek sal moet!”

Sy antwoord hom nie. “Ek’s verbaas die bestuurder het in jou strik getrap. Ry hy dan nie dikwels met daardie pad nie?”

“Nee. Hierdie busse word van Johannesburg af gestuur om ons van Breyten af aan te ry. Baie van die bestuurders was nog nooit hier nie.”

“Hoekom vang jy sulke dinge aan?”

“Ek weet nie,” sê Nieuwenhuis afgehaal. “Ek kry ’n gier, en dan doen ek dit sommer net. Krynauw het gesê ek moet met die hoof daaroor praat. Ek het, en hy het gesê as ek aan so iets dink, moet ek dit neerskryf … soos ’n storie. Dan sal dit oorskuif van die- … Wat was dit nou weer? … O ja, dit sal oorskuif van die subjektiewe na die objektiewe.”

“Ek dink ek weet wat die hoof bedoel. Hoekom het jy dit nie hierdie keer gedoen nie?”

“Ek het vergeet,” mompel Nieuwenhuis verleë.

“Gaan speel maar. Vergeet voorlopig hiervan tot dit tyd is om rekenskap te gee. Ek sal doktor laat weet, maar nie dat jy skuldig is nie.”

Helen bel dadelik die polisiepos die naaste aan Jessievale, die busse se stilhouplek. Dit neem hierdie keer nie lank nie.

Die polisieman aan diens hoor ’n effens selfbewuste stem oor die foon.

“Dis Keurboslaan Seunskool hier. Ons hoof, doktor Serfontein, sal moontlik binnekort daar by julle aankom om inligting te kry oor ’n bus wat verdwyn het. Sê vir hom hy moet by al die skerp draaie langs die pad ’n grondpad soek wat na die vallei toe afdraai.”

“Hoesê?” vra die jongman verward.

Helen herhaal alles en sit die foon dan neer.

Die kroon van Keurboslaan #4

Подняться наверх