Читать книгу Maak jou huwelik affair-bestand - Timothy Kieswetter - Страница 3

Skrywersnota

Оглавление

Voordat ek oor enige onderwerp skryf, probeer ek eers genoeg marknavorsing doen en dalk sommer ook ’n bietjie uit persoonlike ondervinding praat. My vrou het egter gesê hierdie boek sal eerder ’n meer teoretiese boek moet wees.

Dit is vir my belangrik om ’n duidelike definisie oor ’n onderwerp te kry. Toe ek begin rondspeel met ’n tema vir die boek, wou ek dit dadelik aan ’n duidelike definisie van ’n affair knoop. Ek het gou besef dit is moeiliker as wat ek aanvanklik gedink het.

Die woordeboek beskryf ’n affair as ’n seksuele verhouding tussen twee mense, van wie een of al twee getroud is, maar net nie met mekaar nie.

Affairs. Daar is nie regtig ’n sterk genoeg Afrikaanse woord daarvoor nie. Wat van buite-egtelike verhouding of egbreuk? Ja, maar dit klink soveel groter en erger as waarmee ons dink dat ons eintlik besig is. “Ek knyp net so ’n bietjie die kat in die donker”; “Dit is nie ’n verhouding nie”; “Ons is net vriende met byvoordele”; “Ons is net Facebook-pelle.”

Juis daarom gaan ek die woord affair aanhou gebruik. (Jammer, al die Afrikaans-taalpuriste! My pa is ’n Engelsman, voer die saak gerus verder met hom.)

Die probleem met die woordeboekdefinisie is dat dit glad nie ooreenstem met my kliënte se standaardantwoorde wat so duidelik hul “buitemuurse aktiwiteite” aan my verduidelik nie:

■“Nee, ek het nie ’n affair nie. Ons het nie penetrasieseks gehad nie.”

■“Nee, ek het nie ’n affair nie. Sy is nie getroud nie, en ek en my vrou gaan in elk geval skei.”

■“Nee, ek het nie ’n affair nie. Ek kuier net by prostitute.”

■“Nee, ek het nie ’n affair nie. Ons gesels net oor Facebook.”

■“Nee, ek het nie ’n affair nie. Ons drink net gereeld koffie saam.”

■“Nee, ek het nie ’n affair nie. Ek is nog lief vir my vrou.”

■“Nee, ek het nie ’n affair nie. Ek voel niks vir daardie persoon nie.”

Ons almal weet dat affairs sleg is en dat ons feitlik enigiets sal doen om onsself te kan verdedig en ons goeie naam en eer te beskerm, al is ons besig met ’n “soort-van-affair”, maar gelukkig is dit nie heeltemal ’n affair nie.

Daarom kyk ons die kern van die saak heeltemal mis deur ’n definisie te probeer vind vir wanneer ’n affair regtig ’n affair is en wanneer dit ophou om een te wees. As huweliksberader werk ek met gevoelens, en nie met wie “reg” (in die groen sone) en wie “verkeerd” (in die rooi sone) is nie. Daarom gee ek nie om wie tegnies dit of dat gedoen het nie. Gaan pluis (of baklei) dit uit in die skeihof uit, want dit is waar hierdie “nie-affair” jou gaan laat eindig.

Ek stel baie meer in die groter prentjie belang – in die emosionele prentjie, die gesinsprentjie, die Tuin van Eden-prentjie, die lewe-as-hel-prentjie. Ja, in die filosofiese definisie van affairs, buite-egtelike dinge en wat ons huwelike en intieme lewe skade doen.

En om daardie breë definisie te kry moet ons bereid wees om ons bestaande sienings en persepsies rondom affairs eenkant toe te skuif en hierdie “Pandoraboks” met nuwe, vars oë te bekyk.

Maak jou huwelik affair-bestand

Подняться наверх