Читать книгу Maak jou huwelik affair-bestand - Timothy Kieswetter - Страница 4
Inleiding
ОглавлениеAffairs is verwikkeld en kompleks. Dit klink soos ’n goeie plek om by te begin.
In elke liewe gesprek oor affairs, in al wat anonieme vraag op my Gesonde Seks-Facebookblad is, en selfs by paartjies wat berading oor affairs soek, reageer almal op dieselfde manier: “Nee, sies … Dit is verkeerd … Die sleg ding … Sy verdien beter … Die gras is altyd groener aan die ander kant … – Ja, want sy is vol daarvan.”
Duidelik is ons gevoelens oor affairs en egbrekers reeds in sement gegiet en ongekompliseerd. “Kruisig hom! Stenig haar!”
Die probleem ontstaan egter wanneer ons gevoelens en emosies só sterk oor ’n saak raak dat ons die vermoë om die kompleksiteit van die saak raak te sien volkome verloor. Om dan nie eens te praat daarvan om dit te probeer herstel óf voorkom nie.
Juis daarom skryf ek nou hierdie boek oor affairs, cheaters, egbrekers, geheime, skelmpies, wegsteekkansies, dubbele lewens, one-night stands, pornografie, chat-sites, ekse, fantasieë, onskuldige en skuldige vriendskappe.
Verskeie studies en gewone lewenservarings leer ons dat affairs die grootste pyn en seer is wat ’n persoon kan beleef, afgesien van die dood van ’n geliefde. Maar is dit nie presies wat ’n affair is nie? Dit is die dood van jou huwelik. Die dood van liefde. Die dood van vertroue. Die dood van gevoelens. Die dood van alle dood, want jy leef nog, die sleg ding leef nog en die skelmpie leef nog. (Maar nie vir lank nie.)
Dit is juis al hierdie dinamika wat dit geweldig moeilik maak om ’n boek oor affairs te skryf wat meer inligting en woorde bevat as: “Staak dit!”; “Moenie dit doen nie!”; “Wat dink jy doen jy?”; “Skei hom en krap haar oë uit!”
Weens die kompleksiteit van affairs en die sterk emosies wat dit ontlok, gaan ek nie eens probeer om die hele “Pandoraboks” oop te maak nie. Vir eers wil ek net saam met jou daarin loer. Ons gaan op ’n vars, nuwe en ander manier na affairs, huwelike en liefde kyk sodat ons die slaggate kan raaksien voordat ons daarin trap.
Met hierdie affair-boek gaan ek slegs fokus op die hoofredes wat ek oor die jare in my beradingskantoor teëgekom het. Die woord “hoofredes” is dalk nie ’n akkurate beskrywing daarvan nie, want elke affair se redes is uniek en veelsydig. Kom ons kies eerder die woord “slaggate”. Sommige mense swik ’n enkel om die eerste draai, waar ander mense vir jare daarmee wegkom om landloop in die wildernis te doen sonder om ’n voet verkeerd te sit.
Soos ek dit sien, het ons twee opsies: Ons kan voortgaan om vas te hou aan ons “perfekte” huweliksprentjie, dat so iets nooit met ons sal gebeur nie, of ons kan opgewasse raak vir al die slaggate in die huwelik en dit doelgerig probeer vermy.
Die eerste deel van die boek gaan oor die tipiese verval tot kniediep in ’n affair – van “Dit sal nooit met my gebeur nie” tot “Hoe het ek myself in hierdie gemors laat beland?”. In elke hoofstuk word gefokus op een van hierdie slaggate, wat soveel mans en vroue reeds in die affair-lokval laat beland het. Die tweede deel van die boek gaan oor die herstel ná ’n affair. Hoe om weer ’n suksesvolle toekoms daarna te bou, hoe om te vergewe en weer onvoorwaardelik lief te hê, al sal jy nooit die pyn kan vergeet nie.
Hierdie boek skryf ek vir almal: die gelukkige paartjie wat nog in die wittebroodfase is; die paartjie wat ná jare lange getroude lewe verveeld raak met mekaar; die paartjie wat mekaar nie meer kan verdra nie; die persoon wat ’n affair begin het; die persoon wat verneuk is. Hierdie boek skryf ek vir my en my vrou.
Affairs verwoes lewens. Dit plaas jou in ’n hel op aarde. Dit ontneem jou kinders van gelukkige kinderjare.
So, kom ons sit regop en luister met ons hart sodat ons ons huwelik affair-bestand kan maak.