Читать книгу Maak jou huwelik affair-bestand - Timothy Kieswetter - Страница 7

Hoofstuk 1

Оглавление

Die paradysprentjie

Die paradysprentjie is belangrik om te verstaan, want dit is waar alle verhoudings begin en ongelukkig waar die meeste van hulle ook sterf. Die Hebreeuse betekenis vir die woord “paradys” is tuin, park, enclosure. Dit is soos ’n natuurreservaat wat deur bewaringswette beskerm is, wat vir rus afgebaken is, wat beperkte toegang bied en wat van die wêreld rondom dit afgesny is.

Die Eden-paradys kan vergelyk word met die verliefdheidstydperk. Daardie wittebroodfase waar julle net vir mekaar leef. Julle is afgesonder van die probleme en swaarkry van die werklike lewe rondom julle. Julle glo om saam te wees gaan vir ewig ’n plesier wees, want vir nou … is jy in die liefdesparadys.

In ons affair-bestand-lees van Adam en Eva se storie, is dit belangrik om te besef dat God nie die hele aarde ’n paradys gemaak het nie. Dit was slegs die beginplek waar die mens se verhouding begin. Die een of ander tyd sou hulle die paradys moes verlaat en die “regte” wêreld daar buite bewerk en bewoon. Die “paradys”-deel van ons verhouding is nie die somtotaal van ons verhouding nie. Baie paartjies vergelyk hul nou-huwelik met hoe dit in die begin was, en in plaas daarvan om die verhouding nou te versterk, bring dit net verwyte, woede, hartseer en beskuldiging. Want, hoekom voel ons nie meer dieselfde oor mekaar nie? Waarheen het ons paradysprentjie verdwyn?

Nee, ons was nooit gemaak om vir ewig in die paradys te leef nie. Die paradys is net veronderstel om die oorsprong van ’n wonderlike lewe te wees. ’n Deel van ons verhouding wat ons beskerm deur wette en reëls, ’n tydgleuf wat ons afgebaken hou vir rus. Dit is ’n gebied in ons huwelik wat ons beperkte toegang bied en wat ons selfsugtig vir onsself hou, afgesny van die wêreld rondom ons.

Dink aan die bekende Central Park in New York, Amerika. Die park is pragtig groen, mooi versorg en opgepas, beskerm, ’n plek van rus en veiligheid. Die park is ook omring deur die res van New York, wat nie so skoon, veilig en goed opgepas is nie. Maar dit is in daardie deel van die stad waar ons woon, werk en leef, nie in die park nie. Die park is die middelpunt, dit wat alles bymekaarhou, die plek waar ons hoop en vrede vandaan kry vir ons huwelik, maar dit is nie waar ons 24/7 kan woon nie. As ons dit kan insien, sal ons besef dat die paradysprentjie ’n nodige een is, maar darem nie die hele prentjie nie.

Elke verhouding begin met ’n spark. ’n Skakel in ’n ketting. ’n Snak na asem. ’n Maag wat onderstebo bollemakiesie slaan. ’n Hart wat vinniger klop en ’n siel wat rus vind by ’n potensiële sielsgenoot. Dit is wat in Engels as ’n connection bekend staan. Dis die aha!-oomblik.

In hierdie paradysbegin is jy nooit honger nie. Jy kan nie fokus op enigiets anders behalwe om deur die venster te staar en te verlang na daardie laaste soen, laaste kyk, laaste hand vashou, laaste “tot siens, sien jou môre weer” nie.

Maar niemand bly tog daar nie. En om goeie redes. Ons moet aangaan met ons lewe. Ons moet darem weer in ’n stadium eet en weer aan iets anders ook kan dink. As ons verstaan dat hierdie paradysbegin, beter bekend as die verliefdheidsgevoel, veroorsaak word deur sekere “goedvoel”-hormone, sal ons verstaan dat hierdie hormoonpiek (high) wat ons in die paradys voel, een is wat nie volhoubaar is nie. Dit moet niks wegneem van ons liefdespiek (high) nie. Dit moet ons net nie blind los nie.

Die liefde is blind

In die paradys is dit presies wat gebeur: Ons liefde, ons uitkyk, ons besluitneming raak blind. Ons sien net die mooi. Ons sien net dit wat ons wil sien. Ons sien nie die slang in die gras nie. Ons sien nie die nagevolge van ons besluite nie. Ons sien nie ons naaktheid nie.

Neurologiese navorsing leer ons dat wanneer die plesiergedeelte van die brein geaktiveer is, skakel die prefrontale korteks af wat vir die morele en rasionele besluitneming verantwoordelik is. Dit is nie ’n deel van die menswees waarteen ons moet veg of dit ontken nie, maar ons moet dit verstaan sodat ons dit doeltreffend kan bestuur.

Hierdie “liefde-is-blind”-gedeelte is ’n belangrike deel van die begin van enige verhouding. Laat ons eerlik wees. Wie van ons sal steeds ons maats kies en so halsoorkop verlief raak op ’n persoon as ons van dag een af alles van daardie persoon moet weet?

Dit sal ons mos sekerlik afskrik. En as dit ons nie gaan afskrik nie, sal dit ons maats vir seker afskrik as hulle ons hele verlede, toekoms, ware karakter en slegte gewoontes moes raaksien. Dit is hier waar ons die gesegde vind, sit jou beste voetjie voor. En dit is veronderstel om so te wees. ’n Paradys is ’n illusie, ’n sprokiesverhaal, ’n fantasie, ’n inkleurprentjie in die begin van ’n storie. Dit wys jou net genoeg om meer tyd en aandag aan die persoon te bestee. En soos jy nader aan die persoon beweeg, hoe meer begin die geraamtes uit die kas klim, en het jy reeds emosionele bindings en diep gevoelens vir die persoon gevorm, wat veroorsaak dat jy nie sommer net sal wegstap nie. Verliefdheid is blind aan die begin, want toegewyde liefde weet dat hy eers tyd nodig het om sy ankers neer te lê.

Kom ons wees nugter oor hoe liefde werk.

Eers gebeur die ontmoeting en dan die ontnugtering. Maar teen die tyd dat jy ontnugter word van jou maat se geraamtes in die kas, het jy darem al besef dat liefde, ware liefde, nie net uit die paradysprentjie bestaan nie, maar ook uit bloed, sweet en trane.

As ons nie die paradysprentjie sien vir wat dit is, as net die verliefdheidsbegin nie, en ons hou vas aan die idee dat ons veronderstel is om in ’n paradysverhouding te bly leef, trap ons in die affair-slagyster.

Want ongelukkig begin alle affairs ook in ’n paradys. Dus besef ek dat hoe my verhouding met my vrou, Janet, begin het, ’n paradysprentjie was. Letterlik. Ons het mekaar in Magnoliadal-park ontmoet en van daardie heel eerste “hallo” vir mekaar was ons albei smoorverlief. Ek dalk ’n bietjie meer as Janet in die begin. Dit was ’n verjaardagpartytjie van een ons gemeenskaplike vriende. Janet het egter al die ander vriende daar by die partytjie geken, en ek nie. Nadat ek en Janet aan mekaar voorgestel is, en ek so ’n bietjie met haar gepraat het, het sy die rondes gedoen en met haar ander vriende gaan gesels.

Omdat ek niemand anders daar geken het nie, en reeds ’n oog op Janet gehad het, wou my voete nêrens anders gaan nie. Terwyl Janet heen en weer van groepie tot groepie geloop het, het ek, so twee tot drie meter agter haar, gevolg. Sy het my soos ’n magneet na haar getrek. So elke nou en dan het sy oor haar regterskouer geloer om te sien of hierdie vreemde Timothy nog daar staan, en elke keer was die antwoord ja. Daar staan ek, stoksielalleen met ’n leë glas in my hand, twee tot drie meter agter haar, besig om na haar te staar, met ’n skoolseunagtige glimlag op my bakkies.

Ek moes soos ’n verlore puppy gelyk het, bewend in die koue, met groot oë wat smeek “vat my saam huis toe”. Gelukkig het my plan gewerk. Janet het my jammer genoeg gekry en haar ander skoolvriende eenkant gelos en die res van die aand met my kom gesels.

Daardie aand toe ek by die huis kom, vra my ma en suster my gelyk terwyl ek by die deur instap: “Wat is haar naam?” Ek reageer toe dadelik met: “Waarvan praat julle?” “Ons kan sien jy het iemand ontmoet, jy het nie gewoonlik ’n glimlag op jou gesig nie.” Sonder om te antwoord, val ek oor die bank, onderstebo, en slaak ’n diep sug van verliefdheid. Ek was dronk van verliefdheid.

Janet het ook daardie aand huis toe gegaan en haar ouers gaan wakker maak, net om te sê sy dink sy het haar trouman ontmoet.

Ons ontmoeting was niks anders as magic nie. Dit was ’n ware paradys-ontmoeting.

Beskerm jou paradys-ontmoeting

By elke geleentheid wat ons kry, vertel ons hierdie storie hoe ons ontmoet het. Dit is een van ons maniere om ons paradys-ontmoeting te beskerm. Dit is ook een van die eerste vrae aan die paartjies wat vir huweliksberading voor my sit: “Vertel my hoe julle ontmoet het!” En net deur te hoor hoe hul weergawe van hul paradys-ontmoeting klink, kan ek ’n goeie afleiding maak hoe ver hulle van daardie verliefdheidsgevoel vir mekaar verwyder is.

Paartjies wat wil skei, onthou glad nie hoe gelukkig hulle in die begin was nie. Hulle moes tog in ’n stadium verlief gewees het, want hulle het uitgegaan, mekaar in ’n groep van ander mense uitgekies, besluit om te trou, kinders gekry, saam ’n huis gekoop. Ek bedoel, dit is alles dinge wat ’n mens nie net sommer met enigiemand doen nie. Nee, ons doen sulke dinge slegs met iemand van wie ons in daardie stadium glo ons kan saam in die paradys woon.

Die gevaar is natuurlik wanneer die paartjie nooit hul paradysprentjie verander het nie. Hulle klou steeds vas aan hul happily-ever-after-fantasie, maar doen nie regtig moeite om hul paradys-ontmoeting te beskerm nie.

As ek nie die goeie ou dae kan onthou nie, voel dit altyd soos ’n ongeluk wat wag om te gebeur.

Dit is soos ’n tweesnydende swaard. As ons gaan vasklou aan die idee dat ons vanselfsprekend altyd so verlief gaan voel, want ons is mos sielsgenote, wag daar ’n bitter groot ontnugtering op ons. Sonder hierdie “spontane” verliefdheid aan die begin, sou ons natuurlik baie langer enkellopend gebly het. Kom ons raak sommer nou ontslae van die idee dat hierdie paradys-ontmoeting, hierdie “spontane” verliefdheid wat vanself uit die niet gebeur, vir ewig gaan hou. Want nou, ’n paar jaar later in die loop van die ontnugtering, kom ons agter dat daar niks vanself en spontaan meer aan ons gevoelens vir mekaar is nie. Die dinge wat so maklik, vry en spontaan in die begin gekom het, is nou so ’n groot uitdaging; dit is nie eens die moeite werd om daarvoor te wens nie. Soveel paartjies het al vir my gesê in die begin van hul huwelik was die fisieke liefde en seks fantasties, volop en van albei kante, maar nou is hul maats kouer as die Suidpool.

In die begin het ons ure na mekaar geluister, mekaar diep in die oë gekyk en ongevraagde spesiale dingetjies vir mekaar gedoen, maar nou is dit elke persoon vir hom- of haarself.

Wat het gebeur? Waarheen het die paradysprentjie verdwyn, waar alles net maklik en volop en sonder moeite was? Waar het ons verliefdheid heen gegaan?

Nou sit ons met liefde vir mekaar, maar daar is niks spontaan, vanself of instinktief daaraan nie. Dit is ’n werkwoord, nie meer ’n gevoel nie. Dit is werk. Dit is ’n moet-doen en nie meer ’n plesier of wil-doen nie.

Enigeen wat al tuinwerk gedoen het, sal verstaan dat dit moeite, tyd, energie, geld en vuil hande en knieë kos om ’n mooi tuin te kweek. Kom ons kyk weer hoe het Adam en Eva begin. Hulle is in die tuin geplaas. Die tuin was reeds daar. Hulle het die vrugte gepluk van iets wat hulle nie self geplant het nie.

Wanneer jy nuut in iemand se lewe instap, of dit nou jou sielsgenoot was of skelmpie is, word jy ook in daardie persoon se paradys geplaas. Jy pluk ook die vrugte van iets wat jy nie geplant het nie. Jy stap in ’n vreemde persoon se lewe wat vooraf voorberei is deur lewensomstandighede en vriende, familie en vorige kêrels en meisies. Jy stap in en pluk die ryp vrugte van verliefdheid. Jy word binne daardie persoon se paradys geplaas, sonder dat jy enige werk daarin gesit het en die gevoel is dadelik daar. Die liefdesvlam brand hoog, die chemistry is reg. Die appels vlieg van die boom af en die vyeblare word afgeskud.

Dit is waar verliefdheid sy spontane geluk wat sommer net vanself kom, vandaan kry. Moenie onder die waan verkeer dat jy vir ewig “verniet” in die paradys mag leef nie. Jou taak is om dit te bewaar, te bewerk en te beskerm.

Dit is natuurlik ’n baie selfsugtige vorm van liefde, want dit is net een waar jy vat en vat, maar nooit bou, plant en bewerk nie. Onthou dit as jy daaraan dink om by ’n affair betrokke te raak. Dit is maklik om ’n beter persoon te wees as die aap wat haar seergemaak het of ’n beter lover te wees as die vrou wat seks vir hom geweier het. Jy verdien niks daarvan nie. Jy is soos ’n toeris in ’n ou stad. Jy neem foto’s, jy gebruik die openbare vervoer, maar jy het geen rol gespeel in die bou van daardie stad nie. Aan die einde van die vakansie verlaat die toeris weer die stad en los die stad leër en meer verwaarloos as wat hy hom gevind het. Staak dit.

Die liefde wat die moeite werd is om boeke oor te skryf is die liefde wat jy pluk danksy harde werk, aandag, vertroue en liefde wat jy in jou maat se lewe belê het. Moenie dat die vrugte van iemand anders se werk jou flous nie. Jy is nie ’n liefdesdief nie. Jy is meer werd as dit.

Daar is twee verskillende maniere hoe julle in mekaar se paradys geplaas kan word: ’n gesonde, ryp manier en ’n ongesonde, vrot manier. Daar is baie enkellopendes wat my boeke koop en aanlyn kursusse doen om hulle voor te berei en “ryp” te maak vir hul toekomsverhoudings. Dan is daar mense wat beskadig uit vorige verhoudings stap, wat kwesbaar is vir die rebound-verhouding.

Ons hoor baie hoe ons ons moet “uitspaar” vir die huwelik, maar nooit dat ons ons moet voorberei daarvoor nie. Hoekom moet ons? As ons ons sielsgenoot ontmoet, sal alles mos maklik, vanself en salig gelukkig wees. Dalk moet ons begin om mense voor te berei op die liefde en hulle nie net uit te daag om daarvoor te wag nie.

Die meeste affairs broei uit ’n vrot paradys uit. (Maar meer hieroor in die volgende hoofstuk.) En wanneer twee mense wat albei vrot paradyse het, mekaar ontmoet, is die potensiaal daar vir ’n witwarm affair wat verwoesting saai oral waar dit soos ’n veldbrand versprei.

Of jy nou met ’n ryp of vrot paradys in mekaar se lewe stap, die sparks, die connection, die aha!-oomblik, die hoop, die avontuur, die paradys is altyd oombliklik. Dit is wonderlik en goed wanneer twee enkellopendes mekaar so vind, maar dit word ’n heeltemal ander storie wanneer ’n getroude persoon ’n ander getroude persoon so ontmoet. Die love at first sight-ontmoeting is so belangrik om te verstaan, want dit is op presies dieselfde grondslag dat affairs begin. Die fokus was nog altyd op die prins op die perd, die sletterige sekretaresse, die breë “vriend”-skouer om op te huil, maar nooit op my en jou nie. Wat dan nou van die individu? Die ander persoon is maar net ’n karakter in jou lewensverhaal wat hom of haar en die nuwe storielyn vanself “uitspeel”.

Die kuns van ware geluk in die lewe en in jou huwelik en sekslewe, en die hoofdoel van hierdie boek is om ontslae te raak van hierdie “vanself-liefde” en illusie van verliefdheid, en beheer te begin neem oor jou lewe sodat jy dit met gesonde keuses meer doelgerig kan bestuur.

Dit begin altyd met die EK

Ek het julle vertel van my en Janet se paradys-ontmoeting en ek twyfel of daar meer sprake van liefde met die eerste oogopslag kan wees as in ons geval. Hoewel dit vir ons gevoel en vir almal rondom ons gelyk het asof alles spontaan en vanself tussen ons gebeur het, is dit nie heeltemal waar nie.

Ons is in mekaar se “reeds bestaande paradyse” geplaas. Die vrug, die gevoel, die verliefdheid was dadelik beskikbaar, maar slegs omdat sekere dinge vooraf gebeur het. Dit is belangrik om te verstaan, so ook wat affairs betref. Geen affair gebeur net vanself nie. Dit voel dalk vir jou asof hierdie gevoelens en emosies vir hierdie skelmpie van nêrens en vanself in jou lewe opgeduik het, maar dit is nie waar nie. Julle het in mekaar se reeds bestaande paradyse ingeloop.

Janet het van jongs af geweet wat sy in ’n man soek. Sy het nie haar tyd gemors met enigiemand wat nie aan haar hoë standaarde voldoen het nie. En dit was nie asof daar nie ander mans (in daardie stadium seker nog seuns, want ons het baie jonk getrou) was wat in haar belanggestel het nie. Maar vir hulle almal het sy haar neus opgetrek en gedink “ek gaan nie my paradys oopmaak vir hierdie slang nie”.

Ek, aan die ander kant, het my voelers oral probeer uitsteek waar ek kon (hoewel my probeerslae maar baie amateuragtig was). Dankie tog vir die feit dat ek maar ’n skamerige introvertseuntjie was, anders sou ék die slang in die verhaal gewees het. Net voordat ek Janet ontmoet het, het ek uit ’n verhouding gekom wat baie van my happily-ever-after-fantasie-illusies verbreek het. Ek het die idee van “die een” laat vaar. Ek was so moeg om verlief te raak op elke nuwe meisie wat ek ontmoet het dat ek besluit het, ek gaan nou maar net in die bondel vry en basta met die hele konsep van “wag vir jou sielsgenoot”.

Op pad na hierdie einste partytjie het ek dit my missie gemaak om daardie aand lekker te vry, sommer met die eerste gewillige meisie. Ek het net gehoop sy sou mooi wees, maar ek was desperaat om ’n leemte te vul. Toe ek by die partytjie aankom, het ek sommer dadelik begin om my pick-up lines rond te gooi. Hulle moes almal duidelik gestink het, want die eerste drie meisies het my vinnig verwerp. Ek besluit toe om eers ’n blaaskans van my vry-met-enigiemand-missie te neem, aangesien verwerping nogal sy tol kan eis op ’n selfverklaarde casanova. En net toe ontmoet ek vir Janet en begin met haar praat. Sy het my voete onder my uitgeslaan. Ek het dalk gesoek vir ’n goedkoop, vinnige fling, maar toe kry ek ’n juweel van ’n vrou wat my lank laat wag het voordat ek haar mag gesoen het. (Ouers, leer dit tog vir jou kinders. Moenie dadelik met ’n oulike persoon vry nie. Laat hy daarvoor werk, want sodoende skakel jy al die skimmel uit.)

Janet, aan die ander kant, het voor ons ontmoeting besluit om haar enkelstatus te aanvaar en net op haar verhouding met die Here te fokus. En ek glo dit was die hoofrede hoekom sy nooit vir my sulke maklike toegang tot haar tuin gebied het nie. Want sy was nie desperaat vir liefde nie. Sy het haarself liefgehad en daarom kon sy langer gesonde grense rondom die fisieke plaas as ek. In daardie stadium het Janet meer ryp karaktervrugte as ek gehad.

Jy dink dalk, maar Timothy, wat het hierdie storie nou eintlik te doen met ons wat ons huwelik graag affair-bestand wil maak? Wel, baie.

Ek wil vir jou uitwys dat so baie van ons paradys nie afhang van ons maats of skelmpies nie, maar eerder van ons eie innerlike persoonlike groei, karakter en vorige ondervinding. Dit is noodsaaklik om te verstaan, want so baie van ons glo: My huwelik se verval en my affair is omdat my maat nie genoeg aandag aan my paradys gegee het nie. Maar in werklikheid is jou maat slegs ’n gas in jou paradys en nie die tuinier nie.

Ek weet hierdie beginsel klink vreemd, want ons is so lank geleer dat ons vir ons maats moet leef. Dis ons verantwoordelikheid om vir ons maats te sorg en hulle gelukkig te maak, te ondersteun, en te verdra en seks te gee, en hul emosies en behoeftes bo ons s’n te plaas. En dit is ook alles waar.

Maar dit is nog lank nie die volle waarheid nie. Om jouself lief te hê soos jou naaste, is ook ’n waarheid wat ons nodig het om te begryp as ons ooit ons huwelik suksesvol affair-bestand wil maak. En om die klein maar tog ook groot verskil tussen hierdie twee waarhede te beklemtoon wil ek vir jou twee prentjies skets van ’n dieretuinopsigter en ’n tuinier.

Dieretuinopsigter

’n Dieretuinopsigter se fokus is op die diere se gerief en geluk. Hy probeer om die lewensomgewing so na aan die diere se behoeftes te kry as moontlik. Sommige dieretuinopsigters is beter as ander. As die dier gelukkig is, sal hy goed opgepas word en vir die res van sy lewe gelukkig in ’n sintetiese paradys leef, waar hy nie hoef te jag of paar of enigiets nie. Daar is geen behoefte wat ’n dier in die sorg van ’n goeie dieretuinopsigter kortkom nie.

Maar as die dier hom in die sorg van ’n swak oppasser bevind, is daar letterlik geen einde aan die mishandeling wat die dier moet verduur nie.

In albei gevalle is die bewaarder of die dier nie sonder werk nie. Die dieretuinopsigter is heeltyd onder druk om alles vir die dier te doen, aangesien die dier se welsyn volkome op sy skouers rus. Die dier verloor sy eie identiteit en karakter in hierdie heeltydse versorging. Die dieretuinopsigter, asook die dier, is ’n gevangene in hierdie verhouding. Die opsigter kan nie een dag afneem in sy sorg vir die dier nie (tensy hy ’n plaasvervanger kry), en die dier is van sy vryheid en onafhanklikheid ontneem.

Dit is dalk waar die vergelyking van die huwelik as tronk vandaan kom. Want vir baie voel hul huwelik soos ’n tronk. Die tronkgevoel is nie daar omdat jy nou ’n monogame leefstyl moet handhaaf nie, maar eerder omdat dit ’n emosionele tronk van verantwoordelikheid en plig is waarvan jy nie kan ontsnap nie.

As ons nou hierdie prentjie op ons huwelik van toepassing maak, sal ons dadelik die waarheid en ooreenkoms hierin kan raaksien. As ons ’n goeie huweliksmaat het wat vir ons sorg, kan ons lewe letterlik nie beter wees nie. Ons emosionele en seksuele liefdestenk is vol. Ons hart is vol liefde. Ons oë sien niemand anders raak behalwe ons sielsgenoot nie. Ons hart bokspring wanneer ons maat die vetrek instap ná ’n ruk waarin ons hom of haar nie gesien het nie. Wanneer ons weg van mekaar is, verlang ons en treur ons amper dood.

Wat beskryf ek hier?

Verliefdheid. Die paradys.

En hoe wonderlik is dit nie?

Net weer eens jammer dat dit is hoe alle affairs ook moet begin. Daarom is dit amper onmoontlik om iemand in hierdie verliefdheidsfase van die affair te oorreed van wat die regte ding is om te doen. Hoekom? Want verliefdheid is blind.

Die twee grootste stereotipes wat ek in berading teëkom, is waar die man finansieel verantwoordelik voel vir sy vrou en gesin en die vrou seksueel verantwoordelik voel vir haar man.

Hierdie verantwoordelikheid druk en druk totdat die dieretuinopsigter nie meer kan nie. Dit is onder hierdie druk dat al die “verliefdheid” in die huwelik uitgepers word om ’n leë, droë dop van ’n eens wittebrood-huwelik agter te laat.

Dit is allermins ’n affair-bestande situasie. Kom ons kyk hoe lyk die “tuinier”-prentjie.

Tuinier

In hierdie weergawe van die paradys-prentjie bly jou maat ongelukkig steeds ’n dier. (Geen gebrek aan respek bedoel nie.) ’n Tuinier se fokus is nie op die habitat en die welsyn van die diere nie, maar eerder op sy eie tuin. ’n Mooi tuin lok altyd die regte diertjies en voëltjies.

In ons vorige huis het ons ’n pragtige groot boom net buite ons slaapkamervenster gehad en ek het dit goedgedink om een van daai houtkapperneste by die kwekery te koop. Die verkoopsman het my belowe die houtkapper sal kom. Ek moet bieg en noem dat ek maar lekker skepties was, want ek het in al die jare dat ons daar gewoon het nog nooit ’n houtkapper gesien nie. Maar glo my vry, nie eens twee dae nadat ek die nes in die boom vasgemaak het nie, skrik ek een oggend vroeg wakker met tik-tik-tak-tok-tok. Sowaar as vet, daar buite ons slaapkamervenster is ’n kuifkophoutkapper besig om vir hom ’n nes te maak in ons tuin.

Die punt wat ek hier probeer beklemtoon, is ’n baie klein paradigmaverskuiwing, maar een wat radikaal verskillende uitwerkings op die huwelik en die individu het. Ek noem net weer dat daar niks mee skort om jou maat op die hande te dra nie, hou so aan. Plaas jou maat se behoeftes voor joune. Wees die minste. Wees eerste om jammer en dankie te sê. Luister meer as wat jy praat. Maar, en hier is die sleutel, doen al hierdie dinge nie omdat jy op jou maat fokus nie, maar omdat jy op jouself fokus en so ’n persoon wil wees wat al hierdie dinge doen. Slegs wanneer jy jou as so ’n persoon sien, kan jy op lang termyn goed wees vir jou huweliksmaat. Anders voel dit heeltyd soos werk … ’n dieretuinopsigter se werk. ’n Tuinier sien nie sy tuinwerk as werk nie. Dit is ’n stokperdjie. Dit is iets wat daardie persoon doen vir liefde, vir hom- of haarself.

Ek besef dit is ’n vreemde konsep, die liefde en fokus op die self, een wat dalk bietjie selfsugtig en selfs new age klink, maar dit is glad nie die geval nie. Die Bybel praat tog van “wees lief vir jou naaste soos jouself”. Niks hiervan is selfsugtig nie. ’n Tuinier maak tog nie ’n tuin en steek dit weg vir niemand om te sien nie. Nee, hy is trots op sy werk en spog graag daarmee. Wie van ons kan waarlik sê: “Ek is trots op die persoon wat ek is”; “Ek is trots op die manier hoe ek daardie saak hanteer het”; “Ek is trots op die groei wat ek in die laaste ruk getoon het”?

As jy nog nie die kloutjie by die oor gebring het nie – jou tuin is jou lewe, jou karakter, jou eie ek. Pas dit mooi op, hou dit gesond, laat dit gedy – en jou liefde vir jou maat en jou “nee dankie” vir jou skelmpie sal so maklik wees soos een-twee-drie.

Ek kan hierdie twee paradysprentjies vergelyk met twee foto’s van presies dieselfde prentjie, vanuit presies dieselfde hoek geneem. Met ’n vinnige kyk lyk hulle identies, maar hoe langer en dieper jy kyk, hoe meer kom jy agter die fokuspunt van die twee prentjies is verskillend. Waar die een in fokus is, is die ander een dof en waar die een helder is, is die ander een uit fokus.

Die fokuspunt is die gesindheid waarmee ons dinge doen. Doen ek dit vir jou of doen ek dit vir my? Doen ek dit omdat jy my gevra het of doen ek dit omdat ek wil luister? Doen ek dit omdat jy nie kan nie of doen ek dit omdat ek graag ’n helper wil wees? Gee ek seks omdat ek weet ek moet of doen ek dit omdat ek regtig wil en dit self geniet?

Soms moet ons dalk by die dieretuinopsigter se “werk”-prentjie begin, maar as ons nie ons fokus op ons eie tuinier-“stokperdjie”-prentjie gaan begin plaas nie, sal ons liefde vir mekaar altyd soos werk voel, die huwelik soos ’n tronk en verliefdheid bloot ’n vae herinnering aan die goeie ou dae.

Kyk hoe verskil die gesindhede van die twee …

Die tuinier is bevoorreg om in die teenwoordigheid van so ’n pragtige dier te wees. Hy besef dat hierdie dier uit vrye keuse hier is en te eniger tyd weer weg kan gaan. Maar solank die tuinier daarop fokus om die tuin te bewaar, sal dit altyd vol diere wees, wat wesenlik nog hul eie self is. Daar is geen onnodige druk op die tuinier of op die dier nie. Al twee is vry. Die gevoel wat by die tuinier agterbly, is een van dankbaarheid en bewondering, waar die gevoel en rol van ’n dieretuinopsigter vinnig kan ontwikkel tot dié van heerser en baas. (Wat ’n lelike woord is dit nie, of hoe?)

Dit bring ons by die klassieke slagspreuk: Moenie die beste maat soek nie, wees jy die beste maat. Steek jou hand op as jy al alles probeer het om jou maat te verander. En? Was dit suksesvol? Dalk vir ’n dag, ’n week, ’n maand – op die meeste. Dan is dit maar weer dieselfde ou storie, met dieselfde ou gewoontes. Hoekom?

Ek glo, solank die dieretuinopsigter alles gaan doen vir die dier in sy sorg, gaan die dier nooit op sy eie bene kan staan nie. Die teenoorgestelde is ook weer waar: As die dieretuinopsigter niks vir die dier doen nie en hom heeltemal verwaarloos, sal daar niks wees wat daardie dier nie bereid sal wees om vir aandag te doen nie. Dan raak dit ’n bietjie meer van ’n sirkus, en dit is ’n groot oop deur vir ’n affair om te gebeur. Sodra iemand sy of haar regte, egte menswees ontneem word en nie ’n selfstandige individu kan wees nie, verander daardie persoon in ’n besitting of prys van die hoogste aanbieder en laat hom of haar met geen vrye keuse nie.

Daar is baie vroue en mans wat na my toe kom, as’t ware met die desperate pleidooi om vir hulle te sê wat hulle tog kan doen om hul maats by hulle te laat bly, lief vir hulle te hou en gelukkiger te maak. En my antwoord is altyd dieselfde. Hoe desperater jy raak, hoe meer gaan jy die persoon wegstoot. Die meeste mense daarbuite raak aangetrokke tot ’n persoon wat ’n mens uit eie reg is, en nie iets of iemand anders nodig het om te wees nie. Iemand met wie jy jou lewe kan deel en nie wie se lewe jy is nie. (Dit kan nogal uitputtend raak.)

Affair-slaggat #1

Jy glo jy kan op niemand anders as jou sielsgenoot verlief raak nie, so nimmer as te nooit, en hierdie verliefdheidsfase moet vir altyd hou. Wel, wanneer dit nie so gebeur nie en jy ontmoet iemand anders op wie jy verlief raak, wat is die logiese gevolgtrekking waartoe jy kom?

Ek het met die verkeerde sielsgenoot getrou of ons paaie het uiteen geloop, maar ek het darem nou my ware (nuwe) sielsgenoot gevind.

Maak jou huwelik só affair-bestand teen dié affair-slaggat:

1. Bou ’n monument by jul ontmoeting

Die ontmoetingsfase van ’n verhouding speel ’n sleutelrol in die dinamika van daardie verhouding. Onthou, jou siel sien iets raak in daardie persoon wat jy ontmoet, wat jou laat voel asof jy in die paradys sweef. Dit is met opset so sodat jy in daardie tuin moet bly en dit bewerk.

Ons moet ons oorspronklike verliefdheid beskerm en behou. Daarsonder loop ons gevaar om in die affair-slaggat te trap wanneer ons verlief begin raak op iemand anders.

Vertel gereeld vir mekaar, vir jouself, vir jou kinders en nuwe kennisse of vriende hoe wonderlik en sprokiesagtig jul ontmoeting was. En ek val nie vir daardie storie dat julle maar net platoniese vriende was en toe besluit het “om nou maar te trou nie”. Bog met jou. Daar was iets wat julle na mekaar getrek het. Gaan vind dit weer. Versterk daardie gevoel in jul gedagtes.

As jy enigsins iets van geskiedenis weet, doen die mensdom hierdie soort ding al van die begin van menseheugenis af. Ons rig monumente op. Monumente wat ons herinner aan nie net ’n geskiedkundige gebeurtenis nie, maar aan die gevoel wat ons gevoel het tydens daardie gebeurtenis. Al was jy nie self daar nie (jy is die derde of vierde generasie verder in die ry), wanneer jy na daardie monument kyk, deel jy in die gevoel wat in daardie gebeurtenis vasgevang is.

Die verliefdheidsgevoel is ’n wonder. God het ons aspris so gemaak, om potensiaal tussen die gewone raak te sien. Toe Adam die eerste keer Eva raakgesien het, het hy dadelik geweet, sy is die een. Toe jy jou man of vrou ontmoet, het jy geweet hierdie een is anders. Dit is die een hierdie.

Sit nou die boek neer en skryf jul paradysontmoeting neer. Lees dit dan deur, en as jou tone nie omkrul van opgewondenheid nie, skryf dit oor totdat jy weer daardie verliefdheidsgevoel kan voel.

Beskerm dit, bewaar dit, onthou dit.

2. Beplan ’n afgebakende tyd vir rus

Dit is belangrik om die tydsverloop en volgorde van liefde te verstaan.

Eerstens word die mens in ’n paradys geplaas. Dit bestaan reeds, sonder enige moeite van ons kant af. Die chemistry, die spark, die aha!-gevoel tussen julle is getuie daarvan. Die tydperk van verliefdheid is een wat maklik en sonder moeite gebeur.

Tweedens word die mens opdrag gegee om die paradys te onderhou. Dit was nie om die tuin te herstel of van niks af oor te bou nie. Dit is geweldig baie moeite. Daar is sekere beginsels en roetines wat ons van die begin af in ons verhouding moet inbring sodat ons hierdie pragtige paradys-ontmoeting en gevoel van verliefdheid kan bewaar en daarop bou. As ons gaan wag totdat daardie gevoel eers verdwyn voordat ons aan ons huwelik begin aandag gee, skep ons onnodig ekstra moeite en werk vir onsself.

Derdens, nadat God alles in ses dae gemaak het en gewerk het om die paradys net reg te kry, het Hy gerus. So sê Hy ook vir die mens: Rus en geniet die vrug van jou werk. Mans en vroue wat in ’n huwelik vasgevang is waar hulle heeltyd op eiers moet loop, alewig hul maat se kort humeur of skerp tong moet omseil, waar is hul rus? Waar is hul af tyd? Waar is hul genieting van die vrug op hul werk?

Ons moet tyd maak vir rus. Rus beteken nie jy doen niks nie. Rus beteken jy werk nie. Daar is so baie mans en vroue wat in hul huwelik heeltyd moet werk om die ander een gelukkig te hou dat hulle op die ou einde uitbrand. Rus in jou huwelik beteken om jouself te wees in daardie huwelik. Om nie heeltyd jou beste voetjie voor te sit nie. Om nie verantwoordelik te voel vir jou maat se emosies nie. Om net te wees. Om kaal te staan voor mekaar en geen skaamte te ken nie. (In my vorige boek, Gesonde seks, beskryf ek volledig wat dit beteken om kaal voor mekaar te staan en geen skaamte te ken nie. Dit sal jou baie help om dit wat ek in hierdie boek verduidelik, beter te verstaan.)

Dit begin om in jouself te rus. Sit jou foon neer, skakel die televisie af, staan op van jou stoel by die rekenaar. Gaan stap. Gaan slaap. Gaan bad. Gaan lees ’n boek. Gaan speel in die sand saam met jou kinders. Gaan beoefen jou stokperdjie. Gaan koop vir jou ’n volwasse inkleurboek en kleur in.

En eers wanneer jy ’n rustigheid in jouself bereik, sal jy werklik rustigheid saam met jou maat kan geniet. Anders bring jy al daai vloedwater van die dag se dolle gejaag in jou paradys in. Die tradisionele manier van dink is: Maar ek is mos veronderstel om by my maat te kan rus, aflaai en ontlaai, en toelaat dat my maat die las van my skouers afneem.

Teoreties klink dit wonderlik, maar ek sien die teenoorgestelde in die praktyk. Ons vergeet ons maats het ook bedrywige stresbelaaide dae agter die rug. Wees versigtig met watter bagasie van die dag jy jou plek van rus inneem.

Sien dit so. ’n Rowwe, stresvolle dag is soos om met ’n swartsak rond te loop en ’n klomp vullis daarin te gooi. Angs. Sperdatums. Siek kinders. (Hopelik sit jy nie regtig jou siek kinders in ’n vullissak nie.) Afdankings by die werk. Finansiële druk.

Nou kom ons by die huis en ons gee hierdie swartsak vol vullis vir ons maat.

Wat nou?

Gee jou maat sy of haar swartsak vir jou?

Wat gebeur met swartsakke as julle dit heeltyd ronddra? Dit skeur en die vullis val uit.

Nou is jy nie meer kwaad vir die baas, of bekommerd oor die kinders of iemand anders wat in die eerste plek die oorsaak van hierdie gevoelens was nie, want jy is nou vas oortuig daarvan die bron van jou ongeluk, jou las, jou lot in die lewe is jou maat wat tot by sy of haar enkels in jou emosionele vullis staan. Broek op die knieë, hand in die koekieblik, ek het jou uitgevang.

As ek ’n baie rowwe dag by die werk gehad het, dan wag ek ’n bietjie langer in my kar voordat ek uitklim. Ek neem daardie ekstra paar minute net om te fokus op my asemhaling – diep in deur die neus en uit by die mond. Ek vind ’n plek van rus in myself.

Wanneer ek dan in my vrou en kinders se wêreld inloop, trap ek dit nie vol modder nie.

Dan moet julle natuurlik tyd vir mekaar ook maak. Is dit ooit nodig om dit te sê? Ons weet dit tog.

Date nights. Gereeld. Maandeliks. Vakansies. Jaarliks. (Al is dit net om in jou agterplaas te kampeer.)

3. Stel ’n terrein vas met beperkte toegang in jou huwelik

Ooeeii, ons kan mekaar darem seermaak! Jou huweliksmaat is die persoon wat jou die ergste verkeerd kan opvryf. Hy of sy weet presies hoe om daardie fyn stekies toe te dien, diep onder jou vel. En wanneer die geveg kwaai lelik draai, is daar gewoonlik een ding of een sin wat die ander net weet hoe om te sê of te doen sodat dit soos ’n mes in jou hart kan steek.

Dit is ongelukkig die tweesnydende uitwerking van liefde. Jy is lief genoeg vir ’n persoon om hom of haar naby jou toe te laat, om kwesbaar en naak voor daardie persoon te staan, om jou diepste, donkerste geheim en seer met daardie persoon te deel. Dit maak ons gesond. Hoe meer ons van onsself met iemand anders deel, hoe gesonder word ons. Jakobus 5:16 vertel vir ons wanneer ons ons oortredings aan mekaar bely en vir mekaar bid, sal ons gesond word. Hierdie waarheid pas so mooi in by die waarheid van Genesis 2:25, om naak voor mekaar te staan en geen skaamte te ken nie.

Liefde bied ons die geleentheid, die voertuig om gesond te word, om aanvaar te word, om geliefd te voel, om heel te wees. Maar soos ons dit nou al oor en oor bespreek het: Ons moenie onder die illusie verkeer dat ons maats perfek gaan wees in hul liefde teenoor ons nie. Want daardie selfde intimiteit wat jou so warm en veilig laat voel, kan jou maat misbruik om jou ten diepste seer te maak.

Ek het net nou die dag berading met ’n paartjie gedoen wat vir my gesê het: Wanneer hulle kwaad raak vir mekaar, doen hulle aspris die ding wat die ander een die seerste maak. Die man weet dat sy vrou se pa ’n alkoholis was en dat sy dit haat. So, as hy kwaad is vir haar, dan maak hy seker hy drink voor haar. Sommer baie. Hardehout.

En sy weet dat haar man se seerplek in die slaapkamer is. Sy het hom seksueel verwerp en sleggesê. So, al wat sy moet doen, is om seks te weier, met die verskoning dat hy nie goed genoeg in die bed is nie. Dis nie liefde nie. Dis wreed. Dit breek meer as net mekaar af, dit neem ook iets van jouself weg.

So, wat ek daarmee bedoel om ’n terrein in jul huwelik te eien wat wedersyds beperkte toegang bied, bedoel ek is dat julle bewus moet wees van mekaar se diepste seer en ’n DO NOT ENTER-teken daar plaas. Almal is spyt oor wat hulle sê wanneer hulle kwaad is. Daardie woorde kan ons nie terugtrek nie. So, moet dit dan nie sê nie, moenie daar ingaan nie, moenie die ou koeie uit die sloot gaan grawe nie. Gun jouself beperkte toegang tot jou maat se seer. Beskerm dit.

4. Ontsnap saam, weg van die wêreld

Die meeste affairs is niks anders as ’n ontvlugting van die werklikheid nie – ontvlugting van ons verantwoordelikhede, ons stres en angs, ons ongeluk, die druk by die werk en ons skuldgevoelens. ’n Affair, soos enige ander verdowingsmiddel, bied ons daardie oomblik van rus. Daar kort hoogtes wat ons bereik. En vir sommige voel daardie ontvlugting so sterk soos die begeerte om asem te skep wanneer jy voel asof jy verdrink. Jy weet dit is verkeerd, nie reg nie, en ongesond, maar die begeerte om te vlug, ontsnap en weg te hardloop na ’n affair is oorheersend.

Wat baie duidelik in hierdie boek moet deurkom, is ons onvermoë om ’n affair stop te sit in die brandpunt van die oomblik. As jy die stopteken sien en jy beweeg al teen 120 km/h, is dit te laat. ’n Ongeluk gaan gebeur. Daarom is dit so belangrik om jou huwelik affair-bestand te maak deur voorsorgmaatreëls te tref.

Daarom is hierdie affair-bestandmakingstegniek om saam met jou maat te ontvlug so belangrik. Ons vergeet so maklik dat ons maatjies is, ’n span, aan mekaar se kant, en nie toutrek en teen mekaar veg nie. Maar wanneer ons nie meer saam ontsnap nie, raak ons begeerte al sterker om van mekaar te ontsnap.

Daarom beplan ek en Janet gereeld sulke ontvlugtings. Ons vlug soms van ons kinders. Prys die Here hulle is so oulik, maar sjoe, die verantwoordelikheid van ouerskap is erg. Hierdie ontsnapping is nie dieselfde as punt 2 waar jy tyd inruim vir saamweestyd nie. Nee, ek praat hier van gesteelde oomblikke. Kinders speel in die kamer, kyk TV, eet kossies, en vir daardie oomblik gryp jy jou maat se hand en lei hom of haar in die ander kamer in. Wat jy dan doen, hang af van tyd en mood. Of dit ’n paar liefdeswoorde is wat julle met mekaar deel, dalk ’n diep emosie of begeerte bekend maak, ’n quickie as julle braaf is. (En hoe wens ek julle word brawer.) ’n Gesteelde oomblik. ’n Ontvlugting.

As julle in die gewoonte kan kom om mekaar te behandel soos wat jy ’n skelmpie sou behandel, waag jy ’n reusetree vorentoe om jou huwelik affair-bestand te maak.

Ter opsomming

Dit verg moeite om verlief te bly op jou maat. Hoe liewer jy vir iemand raak, hoe intiemer jy met iemand raak, hoe meer verloor jy die adrenalien en opwinding wat verantwoordelik is vir die gevoel van verliefdheid. So, dit is nie goed genoeg om lief vir mekaar te bly nie, want dit laat jou kwesbaar om op ’n nuwe persoon verlief te raak waar daar weer opnuut adrenalien en opwinding is. Maak seker jy beskerm hierdie paradys as deel van jou huwelik deur gereeld nuwe dinge saam te doen en die avontuur in jul huwelik vars te hou.

Maak jou huwelik affair-bestand

Подняться наверх