Читать книгу Op vlerke van die wind - Tryna du Toit - Страница 3
Hoofstuk 1
ОглавлениеDit het gedurende die nag gereën en toe dit lig word, was die berge toe onder die mis. Maar later het die newels begin wegskuif en die wolke verdwyn, en die son het soos ’n môregroet oor die wingerde en velde van die Boland gespoel.
Dis ’n sprankelende oggend en Emma Conradie kyk met waardering na die skilderagtige landskap wat voor die oop venster van haar kompartement verbyskuif.
Die treinreis is amper verby. Daar voor hulle, nog wasig in die verte, is Tafelberg reeds sigbaar. In die hawe wag ’n skip waarmee sy vanmiddag na Engeland en Europa vertrek.
Die Kaap het van jongs af vir haar ’n spesiale bekoring ingehou. Nou, terwyl die trein deur die buitewyke van die stad snel, voel sy weer iets van die ou opwinding wat sy as kind geken het. Sy was die laaste weke so besig om reëlings te tref, so dikwels nog oorweldig deur die gemis en verlange ná haar pa se skielike dood, dat sy nie veel tyd gehad het om aan haarself of die vakansie te dink nie.
Skielik is dit hier. Dis of haar keel toetrek. Sy wens amper sy kan nou net hier omdraai en terug huis toe gaan. Wat wil sy alleen daar in die vreemde gaan doen? Maar daar is op die oomblik geen huis of werk waarheen sy kan teruggaan nie. Sy het haar brûe baie deeglik verbrand. Die dokter wat haar pa se praktyk oorgeneem het, het hulle huis ook gekoop. Hy en sy gesin het reeds hulle intrek geneem in die ruim ou huis met die groen grasperke, die groot bome en die vrugteboord waar hulle as kinders so gebaljaar het. Haar pos as geskiedenisonderwyseres aan die hoërskool – dieselfde skool waar sy en haar susters was – is reeds gevul.
Sy kan natuurlik na een van haar susters toe gaan – Jeanne of Martie of Maryna. Hulle sal haar hartlik en – ondanks tant Millie – met liefde ontvang. Maar dit was juis omdat sy haar wou losmaak, ook van haar susters, dat sy besluit het om ’n ruk weg te gaan.
In die oop deur van die kompartement verskyn ’n elegante blonde vrou. Emma het haar die vorige aand ontmoet. Hulle het toevallig aan dieselfde tafel in die eetsalon gesit en ontdek dat hulle albei die volgende dag met die S.A. Disa na Engeland vertrek. Hilda Bekker was al verskeie kere oorsee en Emma het belangstellend geluister na alles wat sy vertel.
Hilda kyk nou glimlaggend na haar. “Wel, ons is amper daar. Opgewonde?”
“Ek weet nie. Ek is bly om weer die Kaap te sien, maar die res glo ek nog nie eintlik nie.”
“Sal daar iemand vir jou op die stasie wees?”
“Nee.”
“Ken jy niemand in die Kaap nie?”
“Ek het familie hier – ’n neef wat ’n dokter is. Hulle sal my vanmiddag op die skip kom groet. Ek het niemand anders laat weet nie. Gaan jy reguit skip toe?”
“My vriende sal my hawe toe neem om my bagasie af te laai. Dan gaan ons eers by die Mount Nelson eet. Hulle het ’n afskeidspartytjie vir my daar gereël.”
Emma glimlag. “Dit klink lekker. Sorg net dat jy betyds terug by die skip is!”
“Sê maar vir die kaptein hy moet ’n bietjie wag as ek nie vieruur daar is nie,” sê Hilda liggies. “Luister, Emma, sal ek met die hoofkelner reël dat ons aan dieselfde tafel sit? Slegte tafelmaats kan die hele reis vir ’n mens bederf.”
“Dis baie vriendelik van jou,” sê Emma verras. Die mooie Hilda Bekker sal nooit ’n gebrek aan vriende en bewonderaars hê nie. Dis gaaf van haar om haar oor ’n plaasjapie soos sy te ontferm.
“Miskien, as ek mooi vra, sit hy nog ’n paar alleenlopende mans by ons aan tafel.”
“Jy is tog nie ernstig nie?”
Hilda lag. “Waarom nie? Of verkies jy ’n paar katterige, bemoeisieke vroumense?”
“Ek het nog nie daaraan gedink nie,” sê Emma geamuseerd. “In elk geval, dink jy nie die alleenlopende mans sal verkies om self hulle tafelmaats uit te soek nie?”
“Miskien. Maar ’n mens weet nooit nie. En ’n goeie fooitjie kan nogal baie uitrig. Of dink jy ons moet maar kyk wat gebeur?”
“Ek dink so! Hou maar liewer duim vas dat ek ’n lekker kajuitmaat kry,” sê Emma.
Hilda haal haar skouers op.
“Dis één ding wat ek nie aan die toeval oorlaat nie. Ek sou dit haat om my slaapkamer met ’n vreemde persoon te deel. Ek reis altyd alleen in ’n kajuit.”
“Ek behoort tot die werkersklas,” sê Emma liggies. “Aan so ’n weelde het ek nooit eens gedink nie. Ek hoop maar vir die beste. ’n Lekker kajuitmaat kan nogal gesellig wees.”
Hilda Bekker trek haar fyn neusie op.
“Kry net ’n goeie voorraad pille by jou neef,” sê sy. “Dan kan jy haar darem dokter as sy seesiek is. Wel, ek sê dan maar eers tot siens!” groet sy dan opgewek.
Hilda Bekker is seker al amper veertig, maar met haar blonde hare, mooi vel en foutlose grimering lyk sy veel jonger. Langs haar voel Emma vaal en verlep. Die spanning van die afgelope maande – haar pa se dood, die verkoop van die huis en alles wat daarmee gepaard gegaan het – het haar geestelik en fisiek uitgeput. Nou eers, noudat sy tot stilstand kom, besef sy hoe moeg en verward sy is.
Haar pa se dood het haar onverwags voor belangrike besluite te staan gebring. Hy het meer as dertig jaar lank ’n praktyk op Potchefstroom gehad. Daar is sy en haar drie susters gebore, daar het hulle grootgeword, is hulle skool toe en later universiteit toe. Daar is haar ma dood, is haar susters, almal jonger as sy, die een ná die ander getroud. Sy en haar pa het alleen agtergebly.
Sy het nooit beplan om op Potchefstroom te bly nadat sy haar graad en onderwysdiploma behaal het nie. Sy wou in die stad gaan werk, net om eers haar voete te vind, en later oorsee gaan. Haar planne was alles agtermekaar toe haar ma ernstig siek word en Jeanne, wat net jonger as sy self is, skielik trouplanne kry. Sy moes voorlopig tuis bly, en toe die skoolhoof haar ’n pos aanbied, het sy dit aanvaar.
Jeanne is met ’n predikant getroud en is saam met hom op ’n kort studiereis oorsee. ’n Paar maande later is hulle ma oorlede en sy kon toe nie daaraan dink om weg te gaan nie. Haar pa se praktyk het al sy tyd en aandag geëis, Martie is pas universiteit toe en Maryna was nog op hoërskool. Iemand moes ’n ogie oor hulle hou en die huishouding waarneem. Maar sy was nog jonk, het sy gedink, ’n jaar of twee sou geen verskil maak nie.
So het sy op Potchefstroom gebly, en so, met die jare, is sy vasgevang in die huis en die gemeenskap waarin sy grootgeword het. Sy het nie van haar drome en planne vergeet nie, maar daar was vir eers belangriker dinge om te doen.
Die lewe was vol en interessant. Die huis was gedurig vol jong mense en die maande en jare het soos ’n gedagte verbygegaan. Die mans wat daar gekom het, het gewoonlik vir haar mooi susters kom kuier, en saam met hulle het sy die lief en leed van daardie jare deurgemaak. In die mans wat wel in haar belang gestel het, het sy geen sin gehad nie. Sy is te uitsoekerig, het haar susters gesê, en miskien was hulle reg. Onbewus het sy seker almal aan haar pa gemeet, en dan het die meeste mans swak vergelyk.
Martie is later getroud met hulle pa se jong vennoot. Hulle het vir hulle ’n mooi huisie in die nuwe deel van die dorp gebou en binne ’n jaar is hulle eerste seuntjie gebore. Maryna, van jongs af die rebel, het geweier om soos haar susters na Potchefstroom se universiteit toe te gaan. Sy is stad toe, waar sy ’n kursus in drama en kuns geloop het. Toe sy daardie eerste Juliemaand vir die vakansie huis toe kom, het sy oranjerooi hare, pers lippe en ’n lang sigarethouer gehad.
Hulle pa was diep ontsteld en wou Maryna nie terug stad toe laat gaan nie. Maar sy het gedreig om weg te loop en op die ou end moes hy haar maar haar sin gee. Sy het haar kursus voltooi en haar later met radio- en toneelwerk besig gehou. Sy het die vrye, boheemse lewe geniet en vakansietye het sy gereeld van haar langhaarkunstenaarsvriende – altyd die een of ander wordende genie – huis toe gebring. Hulle was ’n vreemde klomp, ondervoed, verwaarloos en egoïsties. Emma en haar pa was doodbang dat Maryna met een van hulle sou trou, maar tot almal se verligting het sy op ’n ernstige jong lektor aan die Pretoriase universiteit verlief geraak en kort daarna met hom getrou.
Emma en haar pa het nou alleen gewoon, maar haar susters het dikwels met hulle krose kom kuier, en dan het die huis weer weerklink van haastige voetstappe en helder jong stemme. Later het Jeanne se man ’n beroep na ’n gemeente op Potchefstroom aanvaar en die familiebande was hegter as ooit vantevore.
Emma het haar skoolwerk gehad, die huishouding en die tuin om na om te sien, en sy was deel van die dorp met al sy bedrywighede. As daar ’n krisis in die pastorie of in die jong dokter se huis was, was Emma die steunpilaar na wie hulle om raad en hulp gekom het. Toe Maryna en haar man vir ses weke oorsee moes gaan, was dit Emma wat die twee babas moes oppas.
Toe is haar pa een nag stil in sy slaap oorlede. Martie se man het Emma gewaarsku dat haar pa se hart nie baie sterk is nie en sy het self gesien dat hy oud word, maar sy skielike dood was tog vir haar ’n groot skok.
Dit was eers ná die begrafnis, nadat alles verby was en sy in die groot, leë huis besig was om op te ruim, dat die volle betekenis van haar pa se dood tot haar deurgedring het en sy aan haarself begin dink het. Wat sou sy nou doen?
Sy was drie-en-dertig en in haar susters se oë reeds ’n oujongnooi. Vir die eerste keer sedert haar ma se dood was sy vry van alle verpligtinge, vry om te gaan waar sy wil en te doen wat sy wil. Die ou drome het weer in haar begin roer, maar sy was bang en onseker. Sy was vasgegroei op Potchefstroom, in die ou, bekende omgewing het sy veilig en beskermd gevoel. Het sy die moed om weg te gaan, die wêreld daar buite alleen aan te durf?
Daar was natuurlik nog haar vriend Andries Visagie. As sy met hom trou, sou dit baie van haar probleme oplos. Maar sou sy saam met Andries weer die tinteling wat die lewe eenmaal gehad het, terugvind?
Dit was haar predikantswaer wat die dag toe hulle besluit het om die huis te verkoop, vir haar gesê het: “Jy wou altyd gaan reis het, Emma. Waarom gaan jy nie nou nie?”
“Jy bedoel alles hier net so los en op ’n skip klim en wegry?” het sy liggies geskerts.
“Waarom nie? Ek dink jy is dit na al die jare aan jouself verskuldig.”
Sy het na hom gekyk, soos dikwels vantevore getref deur sy simpatieke begrip.
“Ek sal daaroor dink, Herman,” het sy belowe.
Tien dae later het hy vir haar ’n pak brosjures gebring.
“Kyk gerus hierna. Miskien sal dit jou help om te besluit.”
Dit was brosjures van ’n reisagentskap, met inligting oor skepe, reisgeld, tye van vertrek, foto’s van kastele in Frankryk, Londen, Rome, Parys …
“Die S.A. Disa vertrek middel Augustus. Dit gee jou kans om al jou sake agtermekaar te kry.”
“Dit lyk of julle van my ontslae wil raak,” het sy hom liggies beskuldig. “Is dit oor tant Millie?”
Herman het gelag.
“Nee, dit het niks met tant Millie te doen nie. Ons het jou lief en ek weet eintlik nie hoe ons sonder jou sal klaarkom nie, maar ek dink dis noodsaaklik dat jy ’n bietjie wegkom. En nou is die ideale kans.”
Ná hy weg is, het sy weer aan tant Millie gedink. Tant Millie was ’n groottante wat vroeër op Potchefstroom gewoon het. Haar man was ’n predikant en sy het haar met almal se sake bemoei en die gemeenskap met ’n ysterhand geregeer. Sy was ’n baie bekwame mens; daar was nie nog iemand wat soos sy kon organiseer nie. Kerkbasaars, huweliksonthale, sportbyeenkomste, konserte, pieknieks, liefdadigheidsorganisasies – met geesdrif en ’n fenomenale dryfkrag het sy alles aangepak en deurgevoer. Vir alles het sy raad gehad. Almal het haar bewonder en ’n heilige respek vir haar gehad, maar niemand het van haar gehou nie. Selfs ná haar man se dood het sy nog ’n leidende rol in Potchefstroom se gemeenskap gespeel – tot ergernis van die jonger geslag, wat anders oor sake gedink het. Eers ná ’n beroerte wat haar gedeeltelik verlam het, het sy haar finaal – en onwillig – onttrek.
Vandag is tant Millie haas vergete, maar die familie het Emma dikwels met haar geterg as sy so doenig was met al haar bedrywighede, so graag hulle sake vir hulle probeer reël.
Herman het gesê nee, dis nie oor die tant Millie-streep in haar dat hulle wil hê sy moet weggaan nie, maar in die stilligheid wonder sy tog. Het sy in haar ywer om haar susters by te staan, haar miskien te veel in hulle sake ingemeng? Sy dink aan die verenigings waaraan sy behoort – waarvan sy gewoonlik voorsitter of sekretaresse of tesourier is – aan haar skoolkinders, hoe dikwels sy in hulle huislike lewens moes inmeng as dit op skool nie na wense gegaan het nie.
’n Baasspelerige, gefrustreerde oujongnooi, wat alles en almal wil regeer! Is dit hoe haar familie en die mense van Potchefstroom haar sien?
Daardie selfde middag het sy vakansieklere gaan koop. Toe sy in die winkel ’n sonbril opsit en haarself in die toonbankspieël sien, het haar hart in haar keel geklop. Met hierdie uiloogbril was dit meteens moontlik om die ou Emma af te lê … om haar klaar te verbeel dat sy aan boord van die S.A. Disa is.
Dieselfde aand nog het sy aan die reisagent geskryf.
Die trein maak ’n wye draai voor dit die Kaapstadse stasie binnery en ’n oomblik sien Emma die skip, spierwit en statig in die oggendson, waar dit vasgemeer lê langs die kaai. Uit die skoorsteen trek ’n dun rokie.
Die S.A. Disa maak gereed om te vertrek!
Sy is verbaas om haar neef Pieter Jacobs op die stasie te sien. Hy glimlag breed toe hy haar groet.
“Ek het jou kom haal. Edna is in die bed. Sy het geval en ’n arm gebreek. Ma is ook daar – hulle albei wil jou graag sien. Ek sal jou self later skip toe neem.”
Op pad na Pieter se huis in Milnerton ry hulle vlak by die hawe verby.
“Daar is jou skip,” sê Pieter. “Mooi, nè?”
Van naby lyk die skip nog mooier en groter. ’n Regte droomskip wat haar na verre, vreemde lande sal neem.
Tannie Bettie wag hulle op die stoep in. Sy is ’n paar jaar ouer as Emma se pa, maar lyk nog sterk en vol lewenskrag. Edna het intussen opgestaan. Die ongeluk het die vorige aand gebeur en sy is nog ’n bietjie bleek, maar sy groet opgewek.
Terwyl hulle tee drink en botterbroodjies eet, gesels hulle oor Emma se pa en die familie. Dan sê tannie Bettie: “Wat gaan jy nou eintlik daar anderkant die water soek?”
“Ek weet self nie,” sê Emma. “Ek dink ek gaan maar net kyk hoe dit daar lyk – of die mense anders as ons is …”
“’n Mors van tyd en goeie geld,” sê tannie Bettie. “Waarom bly jy nie liewer hier en soek vir jou ’n goeie man en trou met hom nie? Netnou bly sit jy op die rak.”
“My susters dink klaar ek is ’n oujongnooi,” glimlag Emma. “En die goeie mans wat ek ken, is reeds almal getroud of ervare genoeg om hulle nie in die strikke van ’n oujongnooi soos ek vas te loop nie.”
“Ek hoop daar is darem interessante geselskap op die skip,” sê Edna. “Hou maar jou oë oop vir ’n diamantmagnaat of ’n ryk Karooboer.”
“Wees maar liewer op jou hoede vir die mans op die skip,” sê tannie Bettie streng. “Die offisiertjies met hulle uniforms en elegante maniertjies het gewoonlik ’n vrou in elke hawe, en die ander wolwe in skaapsklere is net daarop uit om onskuldige jong meisies te verlei.”
“Ek sal oppas,” belowe Emma. “Ek sal my hart die hele tyd streng agter slot en grendel bewaak.”
“Dit sal baie verstandig wees,” sê tannie Bettie ernstig.
Martie is soos tannie Bettie, dink Emma. ’n Liewe, goeie, deugsame mens, sonder ’n vonkie humor of verbeelding. En Andries is ook so.
Goeie, getroue Andries! As hy vandag hier was en haar weer gevra het om met hom te trou, sou sy seker ja gesê het.
Die kanon het pas die twaalfuur-tydsein oor die stad gebulder toe Pieter vir Emma by die skip aflaai. Die familie was teleurgesteld omdat sy nie vir middagete wou bly nie, maar sy was skielik haastig om op die skip te kom en te sien hoe dit lyk.
Pieter het ’n afspraak by die hospitaal en nadat hy Emma binne by een van die beamptes besorg het, groet hy en vertrek. Emma waai vir hom tot siens. Sy voel die ligte beweging van die skip onder haar voete soos die deining dit lig.
’n Kamerbediende neem haar na haar kajuit toe. Dit is netjies en kompak, met twee slaapbanke, ’n laai- en klerekas en wasbak. Daar is ook ’n stort en ander geriewe, en deur die oop patryspoort wat oor die stad en berg kyk, waai ’n fris seebries. Daar is nog geen teken van haar kamermaat nie. Die kajuit is vol blomme, mandjies met vrugte, geskenke, briewe en telegramme. Emma kyk verras rond: van waar sou dit alles kom? Haar deel – goed die helfte – is aan die een kant gepak, en dié van haar kajuitmaat, Sandra Louw, aan die ander kant. Sandra Louw? Die naam klink bekend. Waar het sy dit onlangs gehoor?
Daar is ’n knop in Emma se keel toe sy die pakkies en telegramme oopmaak. Hoe lief van almal om aan haar te dink, op so ’n wonderlike wyse van haar afskeid te neem. Die groot ruiker met pragtige proteas is van die familie, daar is nog ruikers, boeke, lekkers en vrugte van vriende en ander familielede, selfs ’n geskenk van haar een geskiedenisklas. Van Andries – goeie, liewe Andries – is daar ’n mandjie vol vrugte en ’n telegram om haar ’n veilige en voorspoedige reis toe te wens.
Sy sit die briewe en telegramme liefderik eenkant neer. Sy sal hulle later weer tydsaam bestudeer. Sy gaan ook nie nou uitpak nie, besluit sy. Sy gaan eers die skip ’n bietjie verken, kyk of sy haar pad kan vind.
Met groeiende bewondering stap sy deur die groot hotelskip. Sy kyk na die mooi ontspanningskamers, loer by die biblioteek en skryfkamers in, klim op en af na die verskillende dekke en kyk na die blou swembad wat glinster in die middagson. Wat ’n weelde! Hier sal ’n mens na hartelus kan rus en ontspan.
’n Ligte middagete word in die eetkamer bedien. Almal sit waar hulle wil en help hulleself. Emma eet ’n stukkie koue vleis en slaai en wonder hoe dit met haar vriendin Hilda gaan.
Terug in die kajuit pak sy haar klere uit, versigtig om nie meer ruimte te gebruik as wat haar toekom nie. Van haar kajuitmaat is daar nog geen teken nie. Sy skryf haastig ’n paar briefies wat sy by die kantoor los om gepos te word en gaan op na die dek, van waar sy die kom en gaan van mense beter kan betrag. Dit is nou baie besiger as toe sy gekom het. ’n Onafgebroke stroom mense beweeg met die treeplank op en af – passasiers, besoekers, afleweringsmense belaai met mandjies vrugte en blomme.
Belangstellend kyk sy hoe ’n bejaarde vrou met haar gevolg van familie en vriende die skip nader. Sy dra ’n pelsjas en het ’n hoedjie op wat met blomme versier is. Haar hare is spierwit, haar houding trots en fier. ’n Jong man – seker ’n kleinseun, raai Emma – neem haar arm toe sy die loopplank opklim, maar dit is uit hoflikheid, nie omdat sy hulp nodig het nie.
’n Huurmotor het pas ’n man en ’n jong dogter voor langs die skip afgelaai. Die feit dat daar geen vrou by hulle is nie, prikkel Emma se belangstelling. Hulle is in elk geval ’n opvallende paartjie. Die man is lank en skraal, met ’n bleek, benerige gesig. Hy lyk soos iemand wat onlangs siek was. ’n Koue, ongenaakbare soort mens, dink Emma, terwyl sy die streng, byna asketiese gesig bestudeer. Die dogter lyk na haar pa. Skraal gebou, haar gesig strak en kleurloos. Die vaal jas wat sy dra, is heeltemal te lank vir haar; die oudmodiese vaalbruin hoedjie wat daarby pas, laat haar nog valer lyk. Wie ook al haar klere koop, het min verbeelding of kennis van wat vandag se modebewuste skoolmeisie dra. Of sou sy dit self uitgesoek het? Terwyl haar pa met die tasse besig is, staan sy stil eenkant, styf, met ’n vreemde selfbeheersing wat nie by ’n kind van haar jare pas nie. Emma kyk hoe hulle sonder haas die loopplank opstap. Daar is ’n frons op die man se gesig. Toe hy amper bo is, kyk hy skielik op, reguit na Emma. Die blougrys oë is onverwags skerp en helder. ’n Oomblik kyk hulle na mekaar, dan draai Emma verleë haar kop weg.
Miskien moet sy liewer nie so na die mense staan en kyk nie! Maar dis tog interessant. Nog ’n groepie trek reeds haar aandag. ’n Skraal, beeldskone jong meisie met goudrooi hare wat blink in die son, kom die loopplank opgestap. Sy het ’n swart baadjiepak met ’n miniromp aan en haar lang bene is besonder mooi. Oor haar arm dra sy ’n kort nertsjassie. Daar is ’n hele paar mans by haar, byna almal fotograwe.
“Dit is Sandra Louw, mejuffrou Suid-Afrika,” hoor sy ’n man naby haar op Engels sê. “Sy gaan Engeland toe om mee te ding vir Mejuffrou Wêreld.”
Mejuffrou Suid-Afrika! Is dit haar kajuitmaat? dink Emma verras. Nou onthou sy natuurlik die naam. Wat ’n pragtige meisie. Maar hoe sal hulle saam bly in dieselfde kajuit – die gesofistikeerde, wêreldwyse jong skoonheid en die oujongnooi van die Wes-Transvaal, wat van die wêreld daar buite maar baie min weet?
Sy besef skielik sy is dors en besluit om te gaan kyk of daar nie êrens tee bedien word nie. ’n Kelner beduie haar na die eetkamer, waar ’n paar teepotte en koppies op een van die tafels gereed staan. Sy skink vir haarself ’n koppie tee in en neem ’n toebroodjie. Dan stap sy na ’n tafel waar twee ouerige vroue sit en tee drink.
“Mag ek maar hier kom sit?” vra sy met ’n glimlaggie.
“Kom sit gerus,” nooi die jonger een van hulle. “Ek is Agnes Greeff en dit is my skoonsuster, Moira Greeff.”
Emma stel haarself voor en terwyl hulle tee drink, maak hulle nader kennis. Moira Greeff is ’n weduwee. Sy is ’n mooi vrou met donker oë en haar gesig is kunstig gegrimeer, haar blougrys hare blink en goed versorg. Haar vlootblou baadjiepak, juwele, handsak en handskoene is onberispelik. Emma sien egter dadelik die onvergenoegde uitdrukking om haar mond en oë. Agnes is ’n oujongnooi, ’n onderwyseres wat ses maande met verlof is. Sy is kort en geset, sonbruin soos iemand wat baie in die buitelug is. Sy het wakker bruin oë en is vol lewenslus. Sy het ook ’n lewendige belangstelling in die wêreld en die mense om haar en vra Emma uit oor haarself en haar familie.
“Ons is darem twee,” sê sy toe sy hoor dat Emma alleen is en voeg vriendelik by: “Soek ons gerus op as jy eensaam is.”
Moira sit stil, eenkant. Sy stel heel duidelik nie veel belang in hulle nuwe kennis nie.
“Is jou hoofpyn beter?” vra Agnes simpatiek. Die ouer vrou skud haar kop.
“Ek dink ek sal ’n rukkie gaan lê,” sê sy. “Maar ek is nie seker of ek weer ons kajuit sal kry nie.”
“Ek sal saam met jou gaan,” sê Agnes dadelik. Toe hulle saam die trap opstap, sê sy vir Emma: “Ek hoor hier is ’n paar bekende mense op die skip. Engela de Leeuw, die operasangeres, onder andere. En mevrou Sylvia Lessing. Jy het seker al van haar gehoor? Op haar dag was sy ’n politikus, ’n skryfster en ’n bekende versamelaar van ou Kaapse silwer en meubels. Sy is nou al oud – seker by die tagtig – maar sy is vandag nog ’n bekende figuur in die Kaap. En Carl de Jongh, die jong modeontwerper van Johannesburg, wat al daardie pryse vir sy ontwerpe in Rome gekry het. Hy gaan van sy klere by die een of ander internasionale modeskou in Europa vertoon.”
“Dit klink interessant,” sê Emma. “My kajuitmaat is Sandra Louw, Mejuffrou Suid-Afrika.”
“Sowaar? Dis ’n reis om na uit te sien!” sê Agnes Greeff toe sy en haar suster wegdraai na hulle kajuit.
Emma gaan weer terug dek toe om die kom en gaan van mense te aanskou. Daar is nou heelwat meer mense en almal lag en gesels deurmekaar. Onder op die kaai is die drukte ook groter. Sy is net betyds om te sien hoe Hilda Bekker en ’n klompie vriende aan boord kom. Hulle is uitgelate; die ete was klaarblyklik ’n groot sukses.
Sy wonder of Hilda toe gereël het dat hulle met maaltye aan dieselfde tafel sit. Of sou sy miskien reeds haar impulsiewe voorstel berou het?
Die drukte onder op die kaai neem steeds toe. ’n Huurmotor hou weer stil en ’n jong man spring haastig uit. Hy is skraal gebou met lang bruin hare en sy donker pak is besonder netjies. Verbaas kyk Emma na die vier lywige tasse wat hy en die huurmotorbestuurder uit die motor tel. Dit lyk soos ’n filmster wat op reis gaan! Dan skiet dit haar binne: dis seker die modeontwerper wat met sy kosbare vrag klere aan boord kom.
Dis ’n lieflike middag, sonnig en stil. Bonkig en blou troon die berg bokant die stad en die hawe. Haar hart is vol heimwee. Sy verlang huis toe, na haar pa, na haar susters, na die groot ou huis met die koeltebome waar hulle so gelukkig saam was.
Wat gaan jy nou eintlik daar anderkant die water soek? het tannie Bettie gevra. En terwyl die oomblik van vertrek nou vinnig nader, probeer Emma die vraag vir haarself beantwoord.
Wat gaan sy eintlik soek? Avontuur? Liefde en romanse? ’n Droom wat met die jare verlore geraak het? Of is die reis eintlik net ’n soektog na haarself, haar eie hart, die werklike sin en betekenis van haar lewe?
Oor die luidsprekers word aangekondig dat besoekers nou die skip moet verlaat. Daar word oor en weer gegroet; dit praat en huil en lag deurmekaar, en dan beweeg die stroom die loopplank af.
Daar is ’n naar, hol gevoel op Emma se maag – seker maar van pure opwinding – en sy dink sy sal een van die pille drink wat Pieter haar gegee het. Sy is vasbeslote om nie seesiek te word nie.
In die deur van haar kajuit staan sy ’n oomblik verras stil. Tussen twee splinternuwe blou tasse kniel die meisie met die goudrooi hare. Haar gesig is tussen haar arms versteek en sy huil asof haar hart wil breek.
Emma raak saggies aan haar skouer.
“Wat makeer? Kan ek nie help nie?”
Sandra Louw kyk verskrik op. Haar gesig is rooi gehuil. In haar hand hou sy ’n telegram. Van die mooi, oënskynlik selfversekerde Mejuffrou Suid-Afrika wat ’n rukkie gelede aan boord gekom het, omring deur fotograwe en bewonderaars, is daar nou weinig teken. Sy is maar net ’n kind, jonk en onervare, wat verlang na haar eie huis en mense.
’n Bietjie verleë staan sy op en probeer haar trane afvee.
“Ek is Emma Conradie – ons deel die kajuit,” sê Emma saggies, gerusstellend. Sy kyk na die telegram in Sandra se hand en sê simpatiek: “Ek hoop nie jy het slegte nuus gekry nie.” Die jong meisie skud net haar kop en Emma glimlag effens. “Nou kom dan, was jou gesig. Dan gaan jy saam met my op na die dek toe. Die skip vertrek nou-nou, dan kan ons saam vir Tafelberg tot siens sê.”
Sandra Louw skud haar kop en die trane vloei opnuut.
“My kop is seer – ek voel nie lekker nie. Ek het vannag vieruur eers in die bed gekom. Ek … ek dink ek moet liewer ’n bietjie gaan lê.”
“Nou kom, dan help ek jou. Jy kan later jou klere en goed uitpak.”
Sandra maak een van die tasse oop en haal slaapklere en ’n mooi blou kamerjas daaruit. Die trane loop nog en kort-kort moet sy dit afvee.
Emma help haar, hang die mooi swart baadjiepak op en stoot die tasse uit die pad. Asof van ver hoor sy musiek en sy word bewus van die sagte geklop van die skip se enjins. Sy drink ’n pil en gee vir Sandra ook een.
“Jy kan onder slaap as jy wil,” sê Emma. Maar die meisie skud haar kop. Sy wil graag op die boonste bed slaap.
Toe Emma weer op die dek kom, sien sy die meisie wat saam met haar pa aan boord gekom het, alleen eenkant staan. Daar is iets pateties aan die eensame figuurtjie en impulsief gaan Emma na haar toe.
“Wag jy vir iemand?” vra sy met ’n glimlaggie.
Die meisie kyk haar ’n oomblik aan, die groot blou oë koel en onvriendelik.
“Ek wag vir my pa,” sê sy koud.
Emma kyk haar verbaas aan. Waarom sou die kind so onvriendelik wees? Is dit om haar angs en onsekerheid te verberg?
Emma probeer weer.
“Jy is gelukkig om nou saam met jou pa te kan rondry wanneer ander kinders moet skoolgaan en werk.”
Daar verroer geen spier in die strak gesiggie nie.
“Verskoon my,” sê sy. “My pa hou nie daarvan dat ek met vreemde mense gesels nie.”
Onthuts en vererg draai Emma om en stap weg. Sy is behoorlik op haar plek gesit! En dit deur ’n klein snip wat haar eie dogter kon gewees het.
Die reling van die skip staan nou toe van die mense. Die orkes speel en veelkleurige linte fladder in die ligte briesie wat begin waai. Sy besluit om op die bootdek te gaan staan. Van daar kan sy alles sien en daar is minder kans dat sy die onaangename klein skepseltjie en haar seker ewe onaangename pa kan raakloop.
Dis ’n bont spul op die kaai. ’n Reënboog van linte span van die skip na die mense op die kaai. Die sleepbote wat die skip uit die hawe moet help, is reeds op hulle plek.
Dis ’n tydrowende proses om die skip in posisie vir die uitvaart te maneuvreer en Emma kyk hoe behendig die klein sleepbote die groot, logge skip hanteer. Stadig word die stuk water tussen die skip en die kaai groter; een vir een breek die reënbooglinte, die laaste skakels tussen die skip en die land. Die trilling van die dek onder haar voetsole en die nou skielik sterk merkbare geluid van die skip se enjins verhoog Emma se opwinding.
Toe die groot skip eindelik die sleepbote afskud en met ’n laaste groet die oop see invaar, lê die stad agter hulle reeds in skaduwee. Die wind waai nou heelwat sterker en Emma haal ’n serp uit haar jassak en bind dit om haar kop. Sy voel hoe die dek stadig styg en daal en hoe die groot Kaapse golwe die skip effens laat rol. Sy besluit om te gaan kyk hoe dit met haar kajuitmaat gaan.
Die skip se gerol word erger en sy voel ’n bietjie lighoofdig. Versigtig klim sy die nou, steil trap van die bootdek af. Sy is ’n paar treë van onder toe sy die twee – pa en dogter – onderaan die trap sien staan. Die helder blik van die man se blougrys oë tref haar weer, en moontlik van pure verbouereerdheid haak haar voet vas. Sy gryp na die reling, maar met die rol van die skip verloor sy haar ewewig en struikel. Sy sou seker hard geval het as die man nie sy hand na haar uitgesteek het nie.
“Ek hoop nie jy het seergekry nie,” sê hy hoflik terwyl hy haar nog vashou. Verbeel sy haar dit of is daar ’n ligte spotklank in sy stem? Dadelik vererg sy haar. Dink hy sy het met opset in sy arms geval?
“Nee, dankie,” sê sy uitasem. Sonder om na hom te kyk, haar gesig rooi van verleentheid, stap sy haastig weg. Die rol van die skip laat haar amper weer haar ewewig verloor, maar sy is gelukkig by ’n ingang en glip haastig na binne.
In die gang kry sy vir Hilda Bekker.
“Waar was jy?” vra Hilda. “Ek het al oral na jou gesoek. Ek het gereël dat ons aan dieselfde tafel sit, maar ek twyfel of ek vanaand sal gaan eet. Te veel kreef en sjampanje vanmiddag!”
Emma sien dat sy opvallend bleek is en knik simpatiek.
“Dit was gaaf van jou,” sê sy. “Gaan lê nou ’n bietjie, miskien voel jy later beter.”
“Ek sal sien. Moet in elk geval nie vir my wag nie.”
Sy wil nog iets sê, maar draai skielik om en loop haastig weg.
In die kajuit is alles rustig. Sandra lê in die boonste bed, toegemaak met ’n ligte wolkombers, haar gesig weg van die lig gedraai. Die goudrooi hare val oor die kussing. Sy is blykbaar vas aan die slaap.
Daar waai ’n koel briesie deur die patryspoort, maar die kajuit voel benoud vir Emma, en sy besluit om weer buitentoe te gaan.
Lank staan sy alleen daar buite teen die reling van die skip. Die wind het koud geword. Kaapstad is nou net ’n gloed teen die aandhemel en die eerste sterre het reeds verskyn. Daar is min ander mense op dek; die meeste is binne, in hulle kajuite of in die sitkamers besig met ’n drankie.
Sy is bly sy het reeds met Hilda en met Agnes en haar skoonsuster, Moira, kennis gemaak. Sy sal graag van die ander mense ook wil leer ken, maar vanaand gee sy nie om om alleen te wees nie. Die eerste aand op ’n skip is ’n besondere ervaring, met besondere gewaarwordinge wat jy nie sommer met enigeen kan deel nie. En sy het baie om oor na te dink.
Uiteindelik moet sy tog ingaan. Sy voel gelukkig nie siek nie, net effens lighoofdig. Sy besef sy is honger en dink sy sal dit tog waag om iets te gaan eet.
In die kajuit slaap Sandra nog vas, uitgeput na die opwinding van die afgelope dae. Emma trek ’n ander rok aan, kam haar hare en vind sonder moeite haar pad na die eetkamer.
Die groot eetkamer is leeg, byna verlate. Net hier en daar sit mense. Dis nog vroeg, baie mense sal eers later kom en baie sal dit ook liewer nie vanaand in die eetkamer waag nie.
Die hoofkelner kom haar tegemoet en groet vriendelik. Sy sê hom wie sy is, dat Hilda gereël het dat hulle saam aan tafel sit, en hy buig beleef. Hy neem haar na ’n tafel wat vir ses mense gedek is. Sy kyk onseker na hom, maar hy knik bevestigend.
“Dit is die regte tafel, juffrou Conradie.”
Die tafel is uit die gedrang, by ’n patryspoort. Van waar sy sit, het sy ’n blik oor ’n groot deel van die eetkamer.
Emma eet ’n stukkie vis en drink ’n halwe koppie swart koffie. Vir meer sien sy nie vanaand kans nie. Sy gaan weer op na die dek om vir oulaas na die see en die sterre te kyk. Maar die wind waai koud, die dek is verlate en sy vertoef nie lank buite nie. Dit was ’n lang, opwindende dag en sy sal ook maar nou gaan inkruip.
Sy lees ’n rukkie en wil net die lig afskakel toe sy ’n kind half histeries hoor huil. Besorg wonder sy waar die ouers is; teen dié tyd het hulle tog lankal klaar geëet. In elk geval behoort hulle nie ’n kind die eerste aand, wanneer alles nog vreemd is, alleen te los nie. Sy wag ’n rukkie in die hoop dat die ouers sal opdaag of dat die kind self sal bedaar, maar die gehuil word harder. Onwillig staan sy op, trek haar kamerjas en pantoffels aan en gaan uit om ondersoek in te stel.
Sy hoef nie ver te gaan nie. Net toe sy in die gang kom, gaan die deur van die kajuit skuins oor hare oop en daar staan, van alle mense, die vaal, onvriendelike kind wat haar die middag so afgejak het. Haar eerste impuls is om om te draai – sy wil pa sowel as dogter liewer sover moontlik vermy – maar die kind is so ontsteld en blykbaar was sy siek ook, dat sy besorg na haar toe gaan.
Emma neem haar na die wasbak toe en was haar gesig met koue water. Sy druk die knoppie vir die kamerbediende, wat ná ’n rukkie daar aankom. In ’n oogwenk som sy die situasie op en gou is sy terug met ’n emmer en lap en begin skoonmaak.
“Voel jy nou beter?” vra Emma na ’n rukkie. Die kind druk haar gesig teen Emma vas.
“Moenie weggaan nie,” pleit sy terwyl sy Emma beangs vashou.
“Jessie sal by jou bly totdat jou pa kom,” probeer Emma troos en wys na die kamerbediende. “Ek is sommer hier naby. Jessie kan my kom roep as julle my nodig het.”
“Ek is jammer, juffrou, ek kan nie hier bly nie,” sê Jessie verskonend. “Mevrou Young, die dame hier langsaan – die een met die baba – is ook siek en ek moet haar help.”
Wat nou? wonder Emma vies en ontsteld.
“Kom lê,” sê sy ’n bietjie kortaf. “Ek is seker jy sal nou gou beter voel.”
Sonder teëpraat klim die kind in die onderste bed – heel duidelik vir die pa bedoel – maar sy laat los nie Emma se hand nie. Emma is verplig om by haar te sit.
“Moenie weggaan nie,” soebat die kind weer en die blou oë is groot en beangs.
Emma kyk onseker na haar.
“Wat is jou naam?” vra sy sagter.
“Aletta,” fluister sy terwyl sy Emma se hand stywer vasklem.
Sy is ook maar net ’n kind, dink Emma. Vreemd en siek en bang en alleen. Waar sou haar ongevoelige pa wees?
Haar gesig versag en versigtig stoot sy die witblonde hare van die mooi, hoë voorkop af.
“Ek sal nie weggaan nie,” belowe sy sag.
Aletta raak byna dadelik aan die slaap. Versigtig maak Emma haar hand los en stap na die patryspoort toe. Die kajuit ruik muf en benoud, die rol van die skip is erger en sy begin self ook naar voel. Sy het Aletta belowe sy sal nie weggaan nie, maar die kind slaap rustig. Sy sal nie eens weet sy is weg nie en haar pa sal seker nou enige oomblik terugkom. Wat sal hy dink as hy ’n vreemde vrou in haar nagklere in sy kajuit aantref?
Haastig draai sy om, maar dis reeds te laat. In die deur staan Aletta se pa. Hy kyk haar verbaas aan, dan verhard sy gesig.
“Wat ’n aangename verrassing,” sê hy koud.
Sy wil praat, maar sy kan nie. Sy voel hoe die vloer onder haar oprys en naarheid in haar opwel. Blindelings storm sy deur toe. Die rol van die skip gooi haar teen die man en vir die tweede keer dié dag moet hy keer dat sy nie val nie. ’n Oomblik hou hy haar teen hom, tot die vloer weer gelyk is. Hy kyk na haar gesig, dan sê hy saaklik: “Kom, ek sal jou help. Waar is jou kajuit?”