Читать книгу Op vlerke van die wind - Tryna du Toit - Страница 4

Hoofstuk 2

Оглавление

Dis nog vroeg, voor sonop, toe Emma die volgende oggend wak­ker word. Sy lê stil, gewieg deur die ligte beweging van die skip. Wonderlik, dink sy. Die skip rol nie meer nie!

Sy het die vorige aand nadat sy terug in haar kajuit was en tot verhaal gekom het, nog een van Pieter se pille gedrink en so vas geslaap dat sy verder van niks geweet het nie.

Gisteraand! Sy druk haar gesig in die kussing, onwillig om aan die vorige aand te dink. Maar dit help nie. Sy is helder wakker, sy kan haar gedagtes nie keer nie.

Wat ’n vernederende ervaring. Die feit dat sy die mooi blougroen kamerjas met die wit madeliefies aangehad het wat Jeanne-hulle vir haar gegee het, is geen troos nie. Sy is vies dat sy haarself in so ’n verleentheid laat beland het, nogal ná wat vroeër die middag gebeur het. Sy moes nooit na die man se kajuit toe gegaan het nie. Wat het hy gedink toe hy haar in haar nagklere daar aantref? Sy hoop maar net Aletta sal verduidelik wat gebeur het. En toe, om alles te kroon, moes sy nog seesiek ook wees!

Hoe kan sy die man ooit weer in die oë kyk? Sy sal hom maar net probeer vermy, sover dit moontlik is om iemand op ’n skip te vermy. Hy lyk gelukkig nie na die soort man wat hom veel aan sy medepassasiers sal steur nie. En hý het geen rede om ontsteld te wees nie, dink sy suur. Hy kom met alle eer van die ontmoeting af. Meester van die situasie tot op die laaste!

Wie sou hulle wees? wonder sy. Hulle prikkel onwillekeurig haar belangstelling. Die kind is, ondanks haar grootmenshou­ding, ’n patetiese figuurtjie, en dis nie net weens haar kleredrag nie. Dit gaan veel dieper. Emma dink aan die meisie se angs die vorige aand, hoe krampagtig sy haar vasgehou het, hoe sy gepleit het dat sy nie moet weggaan nie. Sy kry haar skielik baie jammer, maar sy het nie die minste plan om haar by hulle sake te laat betrek nie. Hoe minder sy van hulle sien, hoe beter.

Sy staan op en stap na die patryspoort toe. Die seebriesie wat daardeur waai, is koel en die see en lug is ’n sagte pêrelgrys.

“Goeiemôre,” sê ’n klein stemmetjie agter haar. “Ek hoop dit gaan ’n mooi dag wees.”

Emma draai om. Sandra sit regop in haar bed. Sy is ’n bietjie bleek, maar van die trane en hartseer van gister is daar vanoggend geen teken nie. Haar oë blink, die goudrooi hare val soos ’n glimmende gordyn oor haar skouers en haar vel is soos satyn. Wat ’n prentjie, dink Emma.

“Goeiemôre,” groet sy glimlaggend. “Die son is nog nie op nie, maar dit lyk soos ’n pragtige dag. En hoe voel Mejuffrou Suid-Afrika vanoggend?”

Sandra glimlag verras. Sy rek haar behaaglik uit.

“Baie beter, dankie,” sê sy. “Ek was baie moeg en … sommer ’n bietjie hartseer en ontsteld. Sjoe, maar die skip het gerol, nè? Dankie vir die pil – dit het my lewe gered. Was jy glad nie siek nie?”

“Ek wás nie siek nie, maar toe moes ek ’n kind gaan help wat siek was – sy was alleen in die kajuit – en dit het my ook naar gemaak. Gelukkig was ek gou weer beter.”

Wat wel gebeur het, sal sy geen siel ooit sê nie. Dat die vreemde man haar tot by die kajuit moes bring, sy arm om haar skouers, vir haar sy sakdoek moes gee toe die naarheid haar oorval, vir haar die deur moes oopmaak toe sy in haar verleent­heid en ontsteltenis nie die deurknop kon kry nie – dis dinge wat jy vir jouself hou!

“Sal jy asseblief my spieël aangee, e … ek is jammer, ek het jou naam vergeet,” sê Sandra skamerig.

“Emma Conradie.” Emma gee vir haar die groot spieël aan. Lank en ernstig beskou Sandra haar gesig. Dan sê Emma met ’n glimlaggie: “Wel? ’n Paar nuwe plooie gekry?”

Die meisie glimlag onwillig.

“Ek was gisteraand doodmoeg. Ek het sommer net so in die bed gekruip – sonder om eers my gesig en hare te versorg. En met al die laat nagte …”

“Jou vel is soos ’n baba s’n, één aand sal nie saak maak nie. Dis seker baie opwindend, nè, om as Mejuffrou Suid-Afrika tussen al die ander mooi meisies uitgekies te word? Ek wil nog graag hoor hoe dit gebeur het.”

Dis asof daar ’n skaduwee oor Sandra se gesig val.

“Ek is doodbang,” sê sy sober. “Om met al die mooiste meisies van oor die hele wêreld mee te ding – ek kry kouekoors as ek net daaraan dink.”

“Jy is pragtig, Sandra. Jy hoef vir niemand terug te staan nie.”

Sandra skud haar kop.

“Vir myself maak dit nie saak nie. Maar om as Mejuffrou Suid-Afrika te gaan, is iets heel anders.” Sy ril skielik en trek die kombers oor haar skouers. “Sjoe, die luggie is koel. Ek wonder hoe laat ons ontbyt kry? Ek is dood van die honger.”

“Ek wil glo jy is honger,” sê Emma simpatiek. “Maar dis nog lank voor jy ontbyt sal kry – ek weet nie of jy dit besef nie, maar die horlosie is vannag ’n uur teruggeskuif. Ek stort net gou, dan gaan ek kyk of ek nie vir ons ’n bietjie tee kan kry nie.”

Sy is pas terug toe Jessie vir hulle tee en beskuitjies bring. Emma groet en verneem na haar pasiënt.

“Hulle was die hele nag aan die gang. Daar het ’n kwaai suidoos gewaai, daarom dat die skip so gerol het. Gelukkig het die see stil geword, so dit sal nou gou beter gaan. Die meeste mense het maar ’n dag of twee nodig om hulle voete te vind.

“Ek is bly dit gaan hier beter,” sê sy toe sy vir Sandra haar tee gee. “Uit soos ’n kers was sy, arme ou lammetjie. Ons eie Mejuffrou Suid-Afrika, nè! So jonk en vars soos ’n blommetjie. Ek is seker sy gaan daardie klomp vreemde meisiekinders almal uitstof.”

Emma drink haar tee en trek ’n bruin langbroek en ’n warm roesbruin trui aan. Om haar nek bind sy ’n mooi groen syserp.

“Geniet jou wandeling,” sê Sandra terwyl sy dieper onder die komberse inkruip. “As ek verslaap, roep my asseblief betyds vir ontbyt, sal jy?”

Op die dek waai ’n koel briesie en met diep teue asem Em­ma die vars seelug in. Dis net voor sonop en die dek is byna verlate. ’n Paar seevoëls vlieg agter die skip aan, ’n teken dat hulle nog nie te ver van die land is nie. ’n Matroos is besig met skropwerk ’n entjie van haar af, ’n ou man en ’n vrou wandel rustig rond, en ongestoord kan sy haar eerste sonsopkoms ter see geniet.

Die son is al op, die see ’n glimmende blou, toe sy Aletta en haar pa oor die dek sien aankom.

Hulle is nog ’n hele entjie weg en sy draai haastig na die reling en hoop maar dat hulle sal verbystap. In spanning wag sy, maar dan val ’n skaduwee oor haar en ’n nou reeds bekende stem sê: “Goeiemôre. Ek hoop jy voel vanoggend beter.”

Toe sy opkyk, staan Aletta se pa langs haar. Hy het ’n grys broek en ’n blou woltrui aan. Die blougrys oë is koel en ondersoekend en laat haar verleë en ongemaklik voel.

“Ja, dankie,” sê sy styf. Sy wens hulle wil loop.

Maar hy gaan nie weg nie. ’n Oomblik nog kyk hy af na haar, dan sê hy: “Ons het nou al ’n paar keer ontmoet, maar nog nie formeel kennis gemaak nie. Kan ek myself voorstel? Ek is Jacques van Zyl en dit is my dogter, Aletta. Ons wil albei net graag dankie sê vir jou hulp gisteraand.”

Aletta staan styf en ongemaklik eenkant teen die reling. Die blou geruite romp hang op haar knieë, die witblonde hare is in twee stywe vlegseltjies. Die man se stem is beleef, maar sy kry tog die gevoel dat hy heimlik met haar die spot dryf.

Koud sê sy: “Aletta was siek en daar was niemand anders om haar te help nie.”

“Dit was nogtans vriendelik van jou,” hou hy vol, en nou is sy seker hy spot.

“As ek geweet het in watter verleentheid ek myself sou laat beland, sou ek seker twee maal gedink het voor ek na julle kajuit toe gegaan het. Ek dink dit was baie onbe­dagsaam van jou om ’n siek kind so alleen in die kajuit te los.”

’n Oomblik kyk hy haar aan.

“’n Skooljuffrou, sou ek raai, wat ’n welverdiende vakansie van lastige leerlinge en hulle ewe lastige ouers geniet. Ek is jammer as ons jou ongerief veroorsaak het.”

Emma bloos vererg. Haar groen oë glinster ergerlik, maar sy beheer haarself en sê koel: “Ek is seker ons sien almal uit na die vakansie, meneer Van Zyl. Laat ons dit nou nie met ’n kinderagtige vete bederf nie. Die skip is groot, daar is genoeg plek vir ons almal.”

Daarmee draai sy om en stap weg, maar haar vreugde in die mooi, sonnige dag is gedemp. Wat het haar makeer om so met die man te praat? Sy het niks daardeur bereik nie, haarself net in groter verleentheid gedompel.

Sy stap vinnig en ná ’n rukkie bedaar haar onstuimigheid. Waarom het sy haar so ontstel? wonder sy half geamuseerd. Die kool is die sous nie werd nie.

’n Rukkie later verskyn Agnes Greeff op die dek. Sy wag toe sy Emma sien aankom en groet haar glimlaggend.

“Jy lyk so energiek! Hoe vroeg het jy opgestaan?” vra Agnes.

“Voor sonop. Ek kon net nie langer in die kajuit bly nie.”

“Ek wou ook opstaan, maar Moira het nog geslaap en ek wou haar nie hinder nie.”

Emma vra hoe dit met haar skoonsuster gaan en Agnes skud haar kop. Daar is ’n frons tussen haar wenkbroue. “Sy voel nie baie lekker nie.” Sy aarsel ’n oomblik, dan sê sy: “My broer is ’n bietjie meer as ’n jaar gelede skielik oorlede en dis ’n moeilike aanpassing vir Moira. Jy sien, dis nie net dat Henk dood is en sy nou alleen die mas moet opkom nie. Saam met Henk het sy ook so baie ander dinge verloor wat vir haar belangrik was. Sosiale status, vriende, ’n groot huis en tuin, ’n besige sosiale lewe …”

“Ek wil glo dis ’n moeilike aanpassing vir enige vrou,” sê Em­ma simpatiek.

“Sy was baie mooi toe sy jonk was,” sê Agnes en die frons is nog daar. “Almal het haar bederf – eers haar ouers, toe Henk. Henk het alles vir haar gedoen. Hy was altyd die buffer tussen haar en alles wat onaangenaam was. Dis vir haar moeilik om te aanvaar dat sy nou alleen is, dat ’n deel van haar lewe – so ’n belangrike deel – vir goed verby is.”

“Het sy kinders?” vra Emma.

“Een getroude seun, Dirk. Moira het ’n ruk by Dirk en sy gesin gewoon, maar sy hou nie baie van Dirk se vrou nie en dit het nie goed gegaan nie. Sy is toe eers na ’n hotel, later na ’n woonstel, maar sy kan – of wil – nêrens aanpas nie. Ons hoop maar die reis sal haar ’n nuwe uitkyk op die lewe gee.”

“Waarheen gaan julle oral?”

“Ons beplan eintlik ’n reis om die wêreld. Word ons moeg – of gebeur daar iets – kan ons altyd vroeër terug huis toe gaan. En jy? Wat is jou plan?”

Emma glimlag effens.

“Ek het geen vaste plan nie. Ek volg maar net my ster!”

Agnes glimlag begrypend.

Hulle gaan saam na binne. ’n Man kom die trap op. Die blou­grys oë betrag haar koel, effens spottend, en verleë kyk sy weg.

Langs haar sê Agnes Greeff verras: “Hallo, dokter Van Zyl. Dis ’n verrassing! Ek het nie gedink besige dokters kry nog tyd om skip te ry nie. Ek het gedink as hulle êrens wil gaan, vlieg hulle altyd.”

“Hallo, Agnes. Reis jy saam met ons?”

“Ek het besluit om jou raad te volg. My skoonsuster en ek is op die eerste skof van wat ons hoop ’n wêreldreis sal wees.”

Emma wag verleë dat die dokter opsy moet staan dat sy kan verbykom, maar Agnes sit haar hand op haar arm en sê: “Laat ek julle voorstel: dokter Jacques van Zyl van Kaapstad, Emma. En dit is Emma Conradie.”

Hy steek sy hand na Emma uit. ’n Oomblik aarsel sy, dan lê sy haar hand onwillig in syne.

“Emma Conradie,” sê hy liggies terwyl hy haar hand nog in syne hou. “Die skip is nie heeltemal so groot as wat jy gedink het nie, is dit?”

“Nee,” sê sy koel en maak haar hand uit syne los. Hy glimlag en lyk meteens jonger, meer genaakbaar. “En is juffrou Conradie ook op ’n wêreldreis?” vra hy beleef.

“Ek weet nie. Ek het nog geen vaste planne gemaak nie,” sê sy, net so beleef.

“Sy volg maar net haar ster, sê sy,” vertel Agnes.

“Avontuurlike gees,” merk die dokter op.

“Dit kan ook ’n gebrek aan verbeelding wees,” sê Emma lie­fies. “Verskoon my, asseblief, ek moet my kajuitmaat gaan wakker maak.”

Sonder ’n woord staan hy opsy sodat sy kan verbykom.

Sandra is reeds op. Sy het ’n langbroek met wit en blou strepe en ’n wit trui aan. Sy het haar rooigoue hare agter haar kop vasgebind en is besig om haar gesig te grimeer.

“Hoe oud is jy, Sandra?” vra Emma met ’n glimlaggie.

“Twintig,” sê Sandra, besig om haar handewerk van naby te beskou.

“Perfek,” sê Emma. Sy haal haar kopdoek af, maak haar lippe rooi en sê: “Kom ons gaan eet.”

“Waar sit ’n mens?” vra Sandra. “Ek ken niemand op die skip nie.”

“’n Ander vrou het my gevra om by haar aan tafel te sit,” sê Emma. “As daar nog plek is, kan jy by ons sit. Maar hier sal seker ander jong mense wees en jy sal tog seker verkies om by hulle te sit.”

Saam stap hulle eetkamer toe. By die deur staan Hilda met ’n jong offisier en gesels. Sy het ’n blou broekpak aan met ’n blou serp om die nek en lyk uitgerus en opgewek. Sy knik vir die offisier tot siens en kom na Emma toe. Verras staar sy na Sandra, en met ’n glimlag stel Emma hulle voor.

“Mejuffrou Suid-Afrika!” Hilda Bekker kyk na die beeldskone meisie: die vleklose vel, die byna volmaakte gelaatstrekke, die glorie van haar rooigoue hare, en ’n vreemde uitdrukking flits oor haar gesig. Hartseer? Jaloesie? Dis weg voordat Emma kan sê. Dan glimlag Hilda en sê vrolik: “Geniet dit, liefie! Ons gesels later.”

Die kelner neem hulle na hul tafels toe: Emma en Hilda na die tafel waar Emma die vorige aand gesit het; Sandra na ’n tafel daar naby met twee jong mans en ’n jong meisie.

“Ons het tafelmaats,” sê Hilda nadat die kelner hulle bestelling gevra het. “Markus van Aswegen, die nyweraar, en sy nuwe jong vrou. Markus en my man het saam in verskillende direksies gedien en hy het dikwels by ons aan huis gekom. Hy is ’n paar maande gelede van sy vrou geskei – hulle was by die dertig jaar getroud – en ek het onlangs gehoor dat hy met Tania, ’n jong model, getroud is. Hy het gesê ons – jy en ek – moet by hulle aan tafel sit.”

Emma kyk onseker na haar.

“As jy ander vriende het …” begin sy. Maar Hilda glimlag. “Ek wil graag hê jy moet hier sit. Jy sal hou van Markus – ’n ruwe diamant, maar eg. Jack, my man, het altyd gesê hy is een van die slimste sakemanne wat hy nog teëgekom het. Hy het belange oor die hele land en is seker vandag ’n miljoenêr. Hy besit pragtige renperde.”

“En die model – Tania?”

“Nog nooit gesien nie, maar baie van haar gehoor. Een van Kaapstad se bekendste modelle.”

“Ek dink nog ek moet liewer ander tafelmaats soek,” sê Emma half huiwerig. Wat sal ’n plaasjapie soos sy tog in sulke uitgelese geselskap maak? “Wie is daar nog?”

“’n Kapenaar, Phil de Klerk – radioman, joernalis en skrywer. Jy het seker al van hom gehoor. Markus ken hom – hy het hom genooi.” Sy kyk op, dan sê sy nugter. “Hier kom hulle nou.”

Emma kyk ook op. Begelei deur die hoofkelner kom ’n ouerige man en ’n jong meisie aangestap. Die man is omtrent sestig en is fors gebou met ’n groterige bles. Hy lyk soos ’n boer wat meer op sy gemak sal wees op sy landerye en tussen sy skape as in dié geselskap. Maar uit sy hele persoon straal ’n dinamiese krag waarvan ’n mens dadelik bewus is. Die meisie is omtrent vyf-en-twintig, slank en soepel soos ’n wilgerlat. Haar roesbruin hare is hoog op haar kop gekam en sy het besondere geelbruin oë en ’n pragtige roomwit vel. Aan haar vinger skitter ’n yslike blouwit diamant. Sy lyk soos ’n eksotiese blom, mooi, wêreldwys, en jonk genoeg om Markus van Aswegen se dogter te wees.

Trots stel Markus haar aan Hilda en Emma voor. Is dit die trots van die besitter, wonder Emma – dieselfde trots wat hy in sy mooi plase, sy duur perde of ’n kosbare juweel sou hê? ’n Interessante paar, maar dit is die man, meer as die meisie, wat haar belangstelling prikkel. En dan is daar ook die Kapenaar, Phil de Klerk. Inderdaad ’n uitgelese geselskap. Wie sou die ander leë plek aan die tafel vul?

Dokter Jacques van Zyl het pas by die eetkamer ingekom. Sy dink hoe sy hom “meneer” het, aan die ontmoeting daar op die trap, en half ergerlik, half verleë kyk sy af na haar bord. Dan staan hy langs hulle tafel. Markus van Aswegen staan op en sê hartlik: “A, Jacques, hier is jy. Kom, dat ek jou voorstel … dokter Jacques van Zyl, dames. Jy ken vir Tania, Jacques. En dit is Hilda Bekker en langs haar Emma Conradie.”

Emma knik koel. “Dokter Van Zyl en ek het reeds kennis gemaak.” Langs haar is ’n leë stoel, maar hy gaan gelukkig langs Tania sit.

“Ek hoor jy kom nou net uit die hospitaal, dokter,” sê Tania. “’n Ongewone rol vir die dokter om ’n pasiënt in sy eie hospitaal te wees.”

“Heel ongewoon en baie leersaam,” sê hy met ’n glimlag. “En beste van alles, dit het gemaak dat ek skielik met vakansie kan gaan.”

“Sou jy nie binnekort Duitsland toe gegaan het om ’n konferensie by te woon nie?” vra Markus van Aswegen.

“Ek is op pad na die konferensie toe. Ek sou later per vliegtuig gegaan het; nou het ek besluit om vakansie te hou en met die skip te gaan. Dis nog iets wat ek daar in die hospitaal geleer het: dat niemand onmisbaar is nie. As jy die dag nie meer daar is nie, gaan die wêreld doodgewoon sonder jou aan.”

“Dié stelling geld vir baie mense, maar beslis nie vir almal nie,” sê Markus. “In elk geval, dis hoog tyd dat jy ’n bietjie vakansie hou. En toe het jy besluit om Aletta saam te bring?”

“Sy sou in elk geval saamgekom het. Ek wil hê sy moet met haar Skotse familie kennis maak.”

“Is jy van Skotse afkoms, dokter?” vra Hilda verbaas.

“Nee, my vrou was. Ons het saam in die hospitaal in Edenburg gewerk en sy het later saam met my Suid-Afrika toe gekom.”

Sy stem is koel en bruusk, asof hy nie graag sy eie sake bespreek nie. Niemand waag dit om hom verder uit te vra nie.

Hulle is klaar met ontbyt en besig om tee te drink toe Phil de Klerk opdaag. Markus van Aswegen stel hom voor en nuuskierig kyk Emma na hom. Nie meer so danig jonk nie, besluit sy. Hy is seker al in die veertig. Sy dik bos hare, te vroeg grys, vorm ’n interessante kontras met sy gladde, nog jong gesig en donker oë. Maar hy lyk moeg. Daar is sakkies onder sy oë. Te min slaap, ’n te harde, te vinnige lewe? wonder Emma.

Phil glimlag innemend toe hy aan die punt van die tafel regoor Markus van Aswegen gaan sit en vra verskoning dat hy so laat is. Hy gee sy bestelling aan die kelner en draai dan na Emma.

“Emma Conradie, het Markus gesê? Is dit van die Kaap se Conradies – Mon Désir, Eikenhoutfontein – of van daar doer agter die berg?”

“Van daar doer agter die berg. ’n Mooi ou dorp in Wes-Transvaal: Potchefstroom. Miskien het jy al daarvan gehoor?”

Hy grinnik.

“Ek ken my geskiedenis,” sê hy bestraffend. “En ek het self jare gelede eenkeer in die nag deur die dorp gery. Ons het verdwaal en was honger en dors, maar kon in die hele dorp geen kafee of hotel kry wat vir ons iets te ete of te drinke wou gee nie.”

Emma glimlag en sê verskonend: “Dis ’n ou boeredorp, met boeretradisies. Ons werk bedags en slaap snags. Maar jy kon by enige huis aangeklop het – ons Transvalers is nog bekend vir ons gasvryheid.”

“Verskoon my,” sê hy met ’n tergende glimlag. “Ek praat nie graag op ’n leë maag politiek nie. Later, as ek sterker voel, sal ek graag die argument wil hervat.”

Net voor hulle opstaan, sê Hilda: “Ek het luitenant Horn be­lowe ek sal help om die kompetisies te organiseer. Ek maak staat op julle almal se samewerking. Nee, ek luister na geen versko­nings nie. Die oefening sal ons almal goed doen, en daar is brug en skaak vir dié wat nie van oefening hou nie. Ek sien julle later.”

In die kajuit is Sandra besig om uit te pak. Emma bewonder al die mooi klere – gesofistikeerde langbroeke en bloese met blinkers en pêrels; elegante pakkies, lang, wasige aand­rokke – die een mooier as die ander.

“Dis alles geskenke van verskillende firmas vir Mejuffrou Suid-Afrika,” sê Sandra. “Mamma het gehelp om die klere uit te soek. Sy het baie goeie smaak, en maak gewoonlik al my klere self. Sy weet presies wat my pas.”

“Jy is ’n gelukkige kind,” sê Emma. “Dis ’n uitrusting waarop enige bruid trots sou wees.”

Sy sien die skaduwee wat oor Sandra se gesig val en onthou hoe krampagtig sy gistermiddag die telegram in haar hand vasgehou het. Is dit net die vrees van ’n kind wat die eerste keer van die huis af weggaan en alleen die onbekende moet aandurf? Die skaduwee wat so dikwels onverwags oor die mooi gesig val – wat sou die rede daarvoor wees?

Sy sien nou die geraamde portret van ’n jong man op die spieëltafel. Sy tel dit op. ’n Mooi, sensitiewe gesig, maar nog jonk, ongevorm. Onderaan die portret staan geskryf: “Van Jerry, met al my liefde.”

“Is Jerry jou kêrel?” vra Emma glimlaggend.

Die skaduwee is nog daar.

“Ons … ek hou baie van Jerry. Ons wou graag nou verloof geraak het, maar Mammie dink ek is te jonk, ek moet my nie nou al bind nie.”

“Miskien is sy reg,” sê Emma sag. “Ek weet vandag se jong mense is meer volwasse as wat ons was, maar twintig is nog baie jonk. Julle kan maklik nog ’n jaar of twee wag. Geniet die lewe – ’n mens is net een maal jonk. As Jerry jou liefhet, sal hy nie omgee om nog ’n rukkie vir jou te wag nie.”

“As ’n mens mekaar liefhet – en jy het mekaar nodig – waarvoor moet jy dan wag? Die wêreld is anders as toe jy my ouderdom was. Alles is vandag so onseker … Daar gebeur so baie dinge so vinnig. ’n Mens kry die gevoel daar is nie meer so baie tyd nie.”

Emma sit die portret op die spieëltafel neer.

“Ja, ek weet die wêreld is vandag anders. Maar om hals­oorkop te trou – miskien met die verkeerde man – omdat jy nie weet wat die toekoms vir jou inhou nie, is tog ook nie baie verstandig nie, is dit?”

“Hoe weet ’n mens ooit of dit die regte man is?” vra Sandra. “Ek ken Jerry nou al twee jaar en het van die begin af meer van hom gehou as wat ek nog ooit van enigiemand anders gehou het. Maar dis nie net omdat ons jonk is dat Mammie nie wil hê ons moet verloof raak nie. Sy hou nie baie van hom nie. Hy werk in ’n garage. Maar hy is nie net ’n gewone werktuigkundige nie; hy is mal oor motors – hy weet alles van hulle af. Sy ouers is gawe mense, ek hou van hulle. Maar Mammie dink ek kan beter doen as om met Jerry te trou. Sy sê ’n mens moet nie net vir liefde trou nie – dan raak ’n mens dikwels teleurgestel. Daar is ander dinge wat belangriker is as liefde – dinge soos geld, posisie en sekuriteit. En noudat ek Mejuffrou Suid-Afrika is en belangrike mense sal ontmoet, moet ek die kans gebruik om goed te trou, miskien ’n filmkontrak te kry of vir een van die beroemde modelagentskappe te gaan werk.”

Emma dink aan Tania en Markus van Aswegen. Is dit wat Sandra se ma vir haar dogter wil hê?

Gewapen met ’n boek en ’n tydskrif is Emma op na die dek waar sy vir haarself ’n dekstoel bespreek het.

Watter weelde, dink sy toe sy lui uitgestrek in die dekstoel lê met ’n reisdeken langs haar vir ingeval die briesie te koel word. Wanneer laas het sy die kans gehad om so te ontspan? Met die boek op haar skoot tuur sy lomerig oor die blou water, te lui om ’n hand te lig.

Hilda kry haar ’n rukkie later daar.

“Ek het jou vir al die wedstryde ingeskryf,” sê sy. “Jy kan nie die hele dag so lê nie – dink net hoe skandelik vet jy sal word.”

“Ek het nie die minste plan om so bedrywig te wees nie,” sê Emma verontwaardig. “Ek gee ook nie om as ek vet word nie. Dis my vakansie en ek gaan my van niemand laat voorskryf wat ek moet doen nie.”

“Jy sal gou genoeg voel jy het die oefening nodig. Speel jy brug?”

“Wat is brug?” vra Emma lui. “Nog nooit daarvan gehoor nie.”

“Ag, toe nou! Maar terloops, ek hoor Sylvia Lessing is ook aan boord. Sy was op haar dag ’n kampioenbrugspeler. Sy is nou tagtig, maar ek waarsku jou: bly uit haar pad by die brugtafel.”­

“Ek sal dit verkies om uit almal se pad te bly,” sê Emma, en maak haar oë toe.

“Lafaard! Wat dink jy van ons tafelgenote?” vra Hilda nuus­kierig.

Sonder om haar oë oop te maak, sê Emma tergend: “Ek kom van daar doer in die Wes-Transvaal. Daar leer ons om ons ore oop en ons mond toe te hou. Dit wil nie sê dat ek nie geïmponeer is nie, hoor! Nou toe, gaan weg. Ek het baie om oor na te dink.”

Hilda lag.

“Ek dink sy praat met my, nie met jou nie, dokter Van Zyl. Nou ja, verskoon my. Ek het nog werk om te doen.

Emma kyk verbaas op. Jacques van Zyl en Aletta staan langs haar stoel. Die kind het ’n pakkie in haar hand. Hoe lank staan hulle al hier?

Alette gee die pakkie vir haar en sê verleë: “Dis vir jou, om dankie te sê vir gisteraand.”

Deur die dun papier waarmee die pakkie toegedraai is, kan Emma sien dat dit ’n doos sjokolade is. Wat nou? wonder sy ongemaklik. Sy aarsel ’n oomblik, dan sê sy: “Dankie, Aletta, dis vriendelik van jou, maar ek het regtig niks gedoen nie. Ek het so baie vrugte en lekkers present gekry – ek sal dit nooit alles opgeëet kry nie. Wil jy dit nie liewer vir Jessie gee nie? Dis tog sy wat al die werk gedoen het.”

Sy sien hoe die kind se gesig verander en weet sy het gefouteer. Voor sy kan regmaak wat sy verbrou het, sê Jacques van Zyl: “Ek dink dis ’n goeie plan, Aletta, ons gee dit vir Jessie. Sy werk hard en niemand dink seker ooit daaraan om vir haar sjokolade te gee nie. Gaan sit dit in die kajuit, dan gee ons dit later vir haar.”

Aletta aarsel ’n oomblik, dan draai sy om en stap beteuterd weg. Ná ’n rukkie waag Emma dit om na Aletta se pa te kyk, maar hy lyk so koud en ongenaakbaar dat haar hart in haar skoene sak.

“Ek is jammer, dokter,” sê sy. “Ek weet nie waarom ek – wat jou en Aletta betref – blykbaar altyd die verkeerde ding doen nie.”

Sy gesig versag nie. Hy trek ’n dekstoel nader en gaan dwars daarop sit sodat hy reguit na haar kyk. Kortaf sê hy: “Die geskenkie was Aletta se idee, nie myne nie. Sy het dit met haar eie geld gekoop, maar het nie die moed gehad om dit vir jou te bring nie – daarom het ek saamgekom. Of sy ’n beter ontvangs sou gekry het as sy alleen was, weet ek nie. Ek twyfel eintlik. Maar ek wil jou graag vra – as jy dan vasbeslote is om die kinderagtige vete met my vol te hou, moet asseblief nie vir Aletta daarby betrek nie.”

Emma is nou self omgekrap en, tot haar ontsteltenis, baie na aan trane. Geraak sê sy: “Ek het gister met Aletta probeer praat. Sy was alleen en het so verlate gelyk. Toe sê sy reguit vir my haar pa laat nie toe dat sy met vreemde mense praat nie en draai haar rug op my.”

“Ek is jammer. Ek het nie geweet nie. Dit is heeltemal waar. Ek hét haar belet om met vreemdelinge te praat – en ek het vergeet om haar te sê dat sy hier op die skip maar kan gesels met wie sy wil. Dit was dan eintlik ’n soenoffer wat sy jou gebring het. Jammer dat jy dit nie kon aanvaar nie.”

Hy aarsel ’n oomblik, dan sê hy: “Aletta is van nature skaam en terughoudend en omstandighede het haar die afgelope jare nog meer so gemaak. Die reis en die kuier by haar Skotse familie is ons eerste vakansie saam en ek hoop dit sal haar help om ’n bietjie te ontdooi en nie so menssku te wees nie.”

Aletta kom by die deur uitgestap. Sy kyk na haar pa waar hy langs Emma sit. ’n Oomblik aarsel sy, dan stap sy na die reling toe om daar op hom te wag.

Emma kyk na die kind in haar lelike lang romp en swaar skoene. Sy dink dat Jacques van Zyl miskien ’n goeie chirurg kan wees, maar dat hy van ’n vrou se sielkunde baie min weet. En eendag, as hy nie oppas nie, gaan sy dit vir hom sê!

“Sal jy asseblief vir Aletta roep, dokter Van Zyl?” vra Emma koel.

Hy staan op, stap na sy dogter toe en sê iets aan haar. ’n Oomblik huiwer sy, dan, onwillig, kom sy na Emma toe. Die gesiggie is geslote, die blou oë waaksaam. Emma wag tot sy langs haar stoel staan, dan neem sy haar hand. ’n Skraal, gevoelige handjie, die naels stomp afgebyt.

“Ek het aan ’n beter plan gedink,” sê sy met ’n glimlaggie. “Ons gee vir Jessie een van my dose lekkers, dan bring jy vir my die sjokolade wat jy vir my gekoop het. Ek wil dit baie graag hê.”

Die kind kyk haar ’n oomblik aan, dan sê sy stroef: “Jessie was in die kajuit. Ek het dit reeds vir haar gegee.”

“Ek is jammer,” sê Emma sag. “Maar dis net my verdiende loon, nè?”

“Gelukkig het jy ander presente ook gekry. Verskoon my,” sê Aletta en stap terug na waar haar pa vir haar wag.

Emma se gemoedsrus is daarmee heen, sy is wawyd wakker. Sy hoop hulle sal voortaan uit haar pad bly! Sy hou vakansie, sy wil haar nie met ander mense se sake bemoei nie. Sy sal nie toelaat dat hulle haar verder ontstig nie. Met ’n suggie tel sy die boek op haar skoot op en begin daarin blaai.

Daar kry Phil de Klerk haar ’n halfuur later.

“Is dit wat jy die hele oggend gedoen het? ’n Sterk, gesonde meisiekind soos jy?”

“En wat het jy gedoen dat jy so vol van jouself is?”

“Ek het twee uur gewerk, daarna het ek gaan swem en toe het ek ’n halfuur in die gimnasium geoefen. Ek wou jou nooi om saam te gaan swem, maar dis nog ’n bietjie koud. Julle Wes-Transvalers is seker nie heeltemal so taai as wat julle voorgee nie. Kom, ’n bietjie oefening sal jou goed doen. ’n Paar rondtes om die dek, dan gaan drink ons ’n drankie.”

Hy steek sy hand na haar uit en trek haar gemaklik langs hom op.

“Waaraan het jy so hard gewerk?” vra sy. “Of is dit ’n staats­geheim?”

“Ek is besig met ’n reeks artikels wat ek wil klaarmaak voor ons in Southampton kom.” Hy kyk glimlaggend af na haar. “Maar hier is afleidings waarop ek nie gereken het nie.”

Lig loop, Emma Conradie, sê sy vir haarself. Jy het gehoor wat jou tannie Bettie gesê het.

“Dis tog seker die eerste ding wat ’n ambisieuse man leer – om hom nie sommer deur afleidings van stryk te laat bring nie,” sê sy liggies.

“Ons Kapenaars het al sag geword,” terg hy. “Vir ons is die stryd verby. Ons het nie die weerstand teen versoekings van ons landgenote anderkant die Grootrivier nie.”

“Ons is weer terug by die politiek, nè? Wel, ek gaan nie byt nie.”

’n Aankondiging word oor die luidsprekers gemaak en hulle staan stil om te luister. ’n Finse tenkskip is op die horison aan bakboord sigbaar. Saam met ’n paar nuuskieriges haas hulle hulle na die kant van die skip, waar ’n donker vlek soos ’n skaduwee teen die blou oggendlug lê. ’n Paar oomblikke is die buitelyne van die skip self sigbaar en dan verdwyn dit weer agter die horison.

“Is jy ’n vryskutjoernalis?” vra sy toe hulle verder stap. “Of werk jy vir ’n koerant?”

“Vryskutjoernalis, deeltydse radioman, en tussenin werk ek aan die groot Afrikaanse roman.” Hy is ’n rukkie stil, dan sê hy: “Voor ons in Southampton aankom, moet ek ’n belangrike besluit neem. Ek is ’n redakteurskap aangebied en ek moet voor dan besluit of ek dit gaan aanvaar.”

Emma kyk hom met nuwe respek aan.

“Dis ’n groot eer, is dit nie? En seker nie ’n aanbod wat ’n ernstige joernalis maklik van die hand kan wys nie?”

“Dis ’n wonderlike aanbod. Miskien die droom van elke koerantman. Maar dit hang af wat ’n mens uit die lewe wil hê. As ek ja sê, kan dit tot groot dinge lei, maar terselfdertyd lewer ek myself uit aan die dwingelandy van die pers en die politiek. Nou ja, Southampton lê nog ver. Praat asseblief net nie hiervan nie. Dis nie juis ’n geheim nie; Markus weet – hy is in die direksie van die koerant en voel baie sterk dat ek die pos moet aanvaar. Maar ek wil nie hê dit moet nou al hier op die skip rugbaar word nie.”

Sy knik. “Ek sal niks sê nie.” Sy wens sy het die moed gehad om te vra: Hoe voel jou vrou oor die saak? Maar sy sê niks nie. Miskien wil sy liewer nie die antwoord op haar vraag hoor nie?

Op vlerke van die wind

Подняться наверх