Читать книгу Tryna du Toit-omnibus 10 - Tryna du Toit - Страница 5

Hoofstuk 2

Оглавление

Aletta is so verdiep in haar gedagtes dat sy nie opmerk dat hulle by Tiervlei se hek verbyry nie. Eers toe hulle oor die nekkie ’n kilometer verder gaan, van waar hulle bure se huis sigbaar is, skrik sy wakker. Sy maak haar mond oop om vir die man te sê hulle het verbygery, maar besluit dan om niks te sê nie. Waarom sal sy hom reghelp? As hy die motor wil bestuur, kan hy self sy pad vind. Maar onmiddellik daarna besin sy haar. ’n Grap is ’n grap en al is Jim Muller ’n onaangename, vermetele vent, is hy ’n vreemdeling in hulle kontrei. Sulke gedrag is allesbehalwe dié van ’n volwasse en verantwoordelike persoon.

“Is dít Tiervlei,” vra Jim Muller op daardie oomblik. Sy stem klink onseker.

“Tiervlei?” Sy glimlag geamuseerd, maar haar hart klop in haar keel. “Jy is lankal by Tiervlei se hek verby. Tiervlei lê ’n goeie drie kilometer terug in die pad waarlangs ons gekom het.”

Jim Muller bring die motor tot stilstand. Dan kyk hy ’n lang oomblik na haar. Die uitdrukking in die grysblou oë laat haar vreemd ongemaklik voel en dis sy wat eerste verleë wegkyk.

“Was dit nie ’n bietjie kinderagtig nie, juffrou?” vra hy en iets in sy stem laat haar weer vinnig opkyk. Daar is ’n sweem van ’n glimlaggie om sy mond, ’n glinstering diep agter in sy oë.

Die nuwe bestuurder het, dankie tog, ’n sin vir humor.

“Dit lyk kinderagtig, maar dit was darem nie opsetlik nie,” sê sy. “Ek … ek het nie na die pad opgelet nie. Ek vra om verskoning.”

Sonder om te antwoord, draai hy die motor om en ry terug in die rigting van waar hulle gekom het. Toe sy ’n rukkie later waag om versigtig na hom te loer, is die glimlaggie nog om sy mondhoeke.

Tuis het Betsie en Susan al onrustig vir haar gewag.

“Waar het jy so lank gebly?” vra Betsie wat hulle tegemoetkom. “Ons het al begin dink jy het verongeluk.”

“Die trein was byna twee uur laat en ons het oponthoud op die pad gehad. ’n Donkie het in die motor vasgehardloop.” Sy is bewus van die man wat langs haar staan en die herinnering aan alles wat gebeur het, aan die tyd wat hulle verkwis het deur tot by Welgenoeg te ry, laat ’n ligte kleur op haar wange uitslaan. Sy besef nou eers regtig hoe kinderagtig haar gedrag was. Saaklik vervolg sy: “Dis meneer Jim Muller, Betsie, en dit is my suster, meneer Muller.”

Susan, haar hare suiwer goud in die helder oggendson, aangetrek vir tennis in ’n kort wit broekie en moulose hempie wat haar mooi kurwes beklemtoon, kom na hulle toe aangestap. “En dit is Susan, my ander suster.”

Jim Muller groet die twee meisies beleef. Aletta sien die belangstelling in sy gesig en oë, en voel skielik oud en verlep langs haar twee jonger susters.

“Sal jy meneer Muller rondawel toe neem, Betsie?” sê sy. “Ons eet seker so oor ’n halfuur, meneer Muller.”

Die nuwe plaasbestuurder en Betsie stap saam na die rondawel langs die huis, net anderkant die blomtuin.

“Die man lyk nie onaardig nie,” sê Susan. “Op sosiale gebied seker nie ’n groot aanwins vir die dorp nie, maar ek glo nie jy sal moeilikheid met hom hê nie.”

“Ek sal dit liewer nie nou al waag om ’n mening uit te spreek nie,” sê Aletta lakoniek. “Ekskuus, ek wil gou vir oom Floors Buitendach gaan bel en vra of dit sy donkie is wat ek doodgery het.”

Dit wás oom Floors se donkie en hy was – soos sy verwag het – erg omgekrap.

“Jy het natuurlik soos gewoonlik te vinnig gery. Jy is vir almal ’n gevaar op die pad, Aletta,” raas hy ergerlik.

Sy vra om verskoning, maar wys hom daarop dat die donkie die gevaar op die pad was: dit is ’n bestiering dat net hulle motor beskadig is, dat sy en die nuwe plaasbestuurder nie verongeluk het nie.

Brom-brom aanvaar hy haar verskoning en met ’n gevoel van verligting sit Aletta die telefoon neer.

As dit nie vir die nuwe plaasbestuurder was nie, kón dit ’n lelike ongeluk gewees het!

Die middag is hulle na Welgenoeg. Hulle het Jim Muller beleefdheidshalwe genooi om saam te gaan en met die bure kennis te maak, maar hy het die uitnodiging bedank. Hy speel nie tennis nie en sal homself op die plaas besig hou. Aangesien hulle vir aandete ook genooi is, het Aletta vir die huishulp gesê om vir hom kos te maak, en toe hulle terugkom, was die rondawel reeds donker.

“’n Regte ou plaasjapie,” merk Susan op. “Saam met die hoenders in die bed.”

“Laat die man slaap,” sê Betsie vaak. “As ’n mens hard werk, soos ek ook, het jy jou rus nodig. Ek hou van Jim Muller. Ek is seker hy kom uit ’n goeie huis. Het jy opgelet watter mooi tafelmaniere hy het?”

“Dit kon ’n mens definitief nie van ons vorige bestuurder sê nie,” sê Susan. “Wel, dis nou nie meer lank nie, dan is ons ontslae van Tiervlei en die hele ou spul hier. Ek tel die dae!”

“Ek ook,” sê Aletta. Sy wonder soms of haar susters ’n benul het van wat sy alles opgeoffer het om hier by hulle op Tiervlei te kom bly. Nie net haar lekker pos en twaalf kosbare maande nie, maar ook haar vriende, haar belangstellings, die reg om haar eie lewe te lei. Onder haar mansvriende was daar ’n paar van wie sy baie gehou het, maar sy het alle kontak met hulle verloor en teen die tyd dat sy weer teruggaan stad toe, sal die meeste van hulle seker al verloof of getroud wees. Nie dat sy ’n martelaar is nie – inteendeel. Sy is bly sy kon die gesin help, en haar teenwoordigheid op die plaas het Susan ’n paar maande langer hier by hulle gehou, haar tyd gegee om te herstel van haar siekte en egskeiding.

Die volgende oggend, terwyl Susan en Betsie nog in die bed is, gesels sy met Jim Muller oor die boerdery en sy pligte.

Sy het net vir elkeen van die laatslapers ’n skinkbord met ontbyt kamer toe gestuur, toe hy in die eetkamer verskyn. Hy het ’n skoon kakiehemp en ’n kort kakiebroek aan en sy sien dat hy netjies geskeer is. Hy groet beleef en vra hoe laat hulle gewoonlik ontbyt eet.

“Net wanneer dit jou pas.”

“En die res van die gesin?”

“Wel, Sondae kry Susan en Betsie hul ontbyt in die bed. Betsie is in die koshuis op die dorp en kom net naweke huis toe. Susan werk ook op die dorp, maar sy kom gewoonlik saans huis toe.”

“Dan is jy bedags alleen hier op Tiervlei?”

“Die werksmense is hier, en ek het darem bure ook.”

“En as juffrou Susan saans op die dorp bly?”

Aletta haal haar skouers op. “Partymaal bly ek ook op die dorp – as dit my pas. Gewoonlik bly ek maar hier op die plaas. Maar ek het ’n rewolwer en ek is nie bang nie.” Sy sien die frons op sy gesig en vervolg: “’n Ouer vrou het ’n ruk lank by ons ingewoon. Sy het my die laaste twee maande gehelp om my stiefpa te verpleeg en ná sy dood het sy nog ’n rukkie by ons gebly. Maar haar dogter het siek geword en sy is toe weg om haar te gaan help.”

Mietjie bring die ontbyt en hulle begin eet. Jim Muller verneem na die werk wat gedoen moet word.

“Ons moet ploeg, maar ons kan nie ploeg voor dit gereën het nie,” sê Aletta. “En ek begin twyfel of ons in hierdie wêreld ooit weer reën sal kry.” Sy kyk na buite, na die bruin, verskroeide veld en kaal groenbruin rantjies en sê skouerophalend: “Oktobermaand – volgens ons digters die mooiste, mooiste maand, maar kyk hoe lyk dit daar buite.” Sy dink aan die jaar wat verby is, met al sy hartseer en teleurstellings, en dis of sy skielik tot ’n besluit kom: “Ek dink in elk geval ons moet vanjaar die ploeg en plantery maar los – al reën dit ook binnekort.”

’n Oomblik is dit stil in die kamer.

“Waarom dink jy so?” vra Jim Muller beleef.

“As ons Tiervlei gaan verkoop – soos ek van harte hoop – sien ek geen sin daarin om nou al die moeite en onkoste aan te gaan nie.”

Hy aarsel, dan sê hy stil: “Ek is maar net die bestuurder – dis nie my werk om vir jou voor te skryf wat om te doen nie. Maar ek het ook ’n verpligting teenoor doktor Naudé. Ek het hierheen gekom om toesig oor die boerdery te hou – te doen wat daar gedoen moet word. En ek is seker dat as die reën betyds kom, hy sal verwag dat daar soos gewoonlik geploeg en geplant word.”

Aletta voel haar wange word warm. Skerper as wat sy bedoel het sê sy: “Doktor Naudé is in Amerika. Dis nie vir hom om te besluit wat hier op Tiervlei gedoen moet word nie.”

Hy antwoord nie en na ’n rukkie vervolg sy kalmer: “Jy sal in elk geval uitvind dat hier meer as genoeg werk is om te doen. Die plaas is die afgelope jare baie verwaarloos en die laaste twee maande, vandat die vorige bestuurder weg is, het ons net die allernoodsaaklikste werk gedoen.”

“Jy is reg,” sê hy saaklik. “Hier is genoeg werk. Dit sal tyd en geld kos om weer die plaas op te bou.”

“Ek het nóg die tyd nóg die geld nóg die belangstelling daarvoor,” sê Aletta. “Ek het genoeg sonde en ergernis hier gehad, genoeg gesien van mislukte oeste. En ek is nie van plan om ’n dag langer as wat nodig is hier op Tiervlei te bly nie.”

Jim Muller skink vir homself nog ’n koppie koffie in.

“Jy sê doktor Naudé wil nie verkoop nie?”

“Hy sê ons moet wag tot hy terugkom. Maar teen daardie tyd stel die koper dalk nie meer belang nie. Hy het vir ons ’n goeie aanbod gemaak, maar hy wil dadelik koop.”

“As ek mag vra – wat beskou jy as ’n goeie aanbod?”

Aletta noem die bedrag. Jim Muller antwoord nie en sy vervolg koel: “Dit klink miskien nie vir jou baie nie, maar Tiervlei is nie groot nie – net ’n paar honderd morg – en daar is omtrent net tien morg wat besproei kan word. Die res is droë landerye. Vroeër het my stiefpa heelwat beeste aangehou, maar met die droogtes wat jaar ná jaar erger geword het, was hy verplig om baie van sy vee te verkoop.”

“Die beeste wat weggeraak het – het jy al iets van hulle gehoor?” Sy kyk verbaas na hom en hy vervolg: “Meneer Brand het my vertel van die moeilikheid wat jy met die vorige bestuurder gehad het, ook van die aanbod wat jy vir Tiervlei gekry het.”

“Ek sien,” sê sy stil.

“Dit is natuurlik alles vertroulike inligting, juffrou,” sê Jim Muller beleef. “Jy hoef nie bang te wees ek sal jou sake met enigiemand anders bespreek nie.”

Aletta kyk belangstellend na hom.

“Ken jy doktor Naudé?” vra sy onverwags.

’n Oomblik aarsel hy, dan antwoord hy: “Ek ken sy swaer, meneer Brand, goed. Meneer Brand boer in die Nelspruitse distrik en ek het ’n tyd lank op die plaas langsaan gebly. Met vakansies het Frans Naudé soms daar gekuier. Soos jy weet, is hy die afgelope drie jaar in Europa en Amerika.”

Aletta haal weer haar skouers op.

“As jy die omstandighede ken, hoef ek niks verder te sê nie. En as jy voel dis jou plig om, ten spyte van wat ek gesê het, met die ploeëry aan te gaan … wel …”

“’n Goeie oes op die land is altyd ekstra geld in die sak, juffrou,” sê hy toe sy stilbly. “Al besluit julle ook om die grond te verkoop. Ons het die werksmense en die gereedskap. Al waarop ons wag is die reën.”

“Dis jou verantwoordelikheid,” sê sy kortaf. “Ek het genoeg ander bekommernisse …”

“Ek sal jou nie lastig val nie,” belowe hy. Jim Muller is ’n rukkie stil, dan sê hy: “Daar is iets wat my hinder.” Aletta kyk ondersoekend na hom en hy vervolg: “As die grond, of die grootste gedeelte daarvan, feitlik waardeloos is vir boerderydoeleindes – soos jy te kenne gee – waarom stel die vreemdeling dan skielik soveel in Tiervlei belang?”

“Ek weet nie. Tensy hy ook, soos die vorige bestuurder, visioene van rykdom en welvarendheid sien wat nie vir ons duidelik is nie.” Sy aarsel ’n oomblik, bewus van sy belangstellende blik, en sê toe onwillig: “Die vorige bestuurder, Jan Gouws, het my een aand ’n voorstel gemaak en toe gesê hy het planne met Tiervlei wat ons binne ’n paar jaar ryk sal maak. Maar of dit goud, olie, diamante of ander rykdom is wat hy in gedagte gehad het, het ek nooit gevra nie.”

Haar stem is spottend en Jim Muller se wenkbroue lig effens. Toe sê hy: “Die voorstel wat Jan Gouws jou gemaak het …”

“Ek het dit nie aanvaar nie,” sê sy kortaf. “Dis ’n persoonlike saak wat niks met die boerdery te doen het nie.”

Daar is ’n frons op Jim Muller se gesig.

“Is jy heeltemal seker dat hier nie goud of diamante of iets dergeliks is nie? Hierdie skurwe groen rantjies lyk vir my asof hulle groot geheime kan bewaar.”

Sy weet nie of hy spot of ernstig is nie, maar antwoord koel en beslis: “Daar is geen sprake van so iets nie. My stiefpa het my vertel dat hulle baie jare gelede hier in die omtrek geprospekteer het, maar daar het niks van gekom nie. ’n Rukkie voor sy dood was hier iemand wat grondmonsters kom neem het, maar ons het nooit iets gehoor nie. Dis goeie beeswêreld dié – as dit reën! Maar die afgelope jare het my stiefpa meer as die helfte van sy beesstapel deur droogte en siektes verloor.”

Jim Muller knik nadenkend.

“En die man wat so gretig is om Tiervlei te koop, weet jy wie hy is?”

“Nee. Hy het die aanbod vir Tiervlei deur ons prokureur, Gawie Pretorius, gemaak.”

“Een van die bure miskien?”

“Ek glo nie. Meneer Pretorius het nie so gesê nie.”

“Waarom die geheimhouding?”

Ongeduldig sê sy: “As ons die aanbod aanvaar, sal ons seker gou genoeg weet wie die koper is. En aangesien die man bereid is om kontant te betaal, maak dit aan my nie die minste saak wie die koper is nie. Ongelukkig kan ons niks sonder doktor Naudé se toestemming doen nie.”

“Jy hoef gelukkig nie meer lank te wag nie. Intussen is daar genoeg werk om te doen.” Hy aarsel ’n oomblik, dan sê hy onseker: “Juffrou …?”

“Wat is dit, meneer Muller?” vra sy nuuskierig.

“My naam is Jim. Ek sal dit waardeer as jy nie vir my ‘meneer’ sê nie.”

Aletta bloos soos ’n verleë skooldogter.

“Ek sal onthou, meneer Muller,” sê sy, opsetlik kil.

In stilte eet hulle klaar.

Toe hulle van die ontbyttafel af opstaan, sê hy: “Daardie vrou wat ’n ruk lank hier op Tiervlei saam met jou gebly het, waar is sy nou?”

“Tant Lettie? Ek dink sy is terug op die dorp,” sê sy styf. “Waarom vra jy?”

“Dink jy sy sal gewillig wees om weer ’n rukkie hier te kom bly?”

Aletta se blik is koel en skerp. “Ek weet nie. Maar waarom moet sy kom? Ons het haar nie nou nodig nie.”

“Ek dink tog dis nodig.” Hy aarsel ’n oomblik, dan sê hy: “Jy weet hoe gou die mense praat, en as ek en jy die meeste van die tyd alleen hier op die plaas is …”

Die man se gesig is doodernstig, en dis ’n paar tellings voor die volle betekenis van sy woorde tot haar deurdring. Sy lig haar ken en sê trots: “Ek steur my nie aan wat die mense sê nie.”

“Maar ek gee om,” sê hy sag. “’n Man in my posisie moet versigtig wees dat hy niks doen wat sy kans op ’n volgende betrekking kan benadeel nie.”

“Ek verstaan,” sê sy verleë. “En wie moet tant Lettie se salaris betaal? Nóg ek nóg my susters kan dit bekostig.”

“Dan moet die boedel haar betaal. Dit sal seker nie veel wees nie, en ek glo nie doktor Naudé sal beswaar daarteen hê nie.”

Sy haal haar skouers op. “Ek sal môre dorp toe ry en met Ta’ Lettie gesels. Maar wat gebeur as sy nie kan kom nie?”

“In daardie geval sal dit miskien verstandiger wees as jy op die dorp bly en net naweke met jou susters plaas toe kom.”

Daarop het Aletta geen antwoord nie.

Gawie Pretorius kom die middag kuier en later daag Dawie Bruwer, ’n jong boer van ’n buurplaas en vriend van Susan, ook op. Van Jim Muller is daar geen teken nie. Toe Betsie hom gaan roep om te kom koffie drink, is die rondawel leeg. Hulle sit buite op die stoep en koffie drink en Susan, uitgerus en baie mooi in ’n ligte blou somerrokkie, is in ’n moedswillige luim. Sy terg die twee mans om die beurt. In dié luim is Susan onweerstaanbaar en Aletta sien die glimlaggende bewondering, ook in Gawie se oë.

Susan bedoel niks daarmee nie, dink Aletta. Dis ’n teken dat die wonde genees, dat sy weer in die lewe begin belangstel. Maande lank wou sy niks met enige man te doen hê nie, het sy haar in haar kamer teruggetrek wanneer daar besoekers op Tiervlei kom. Maar dis of daar die afgelope tyd nuwe lewe in haar gekom het.

Aletta is nie jaloers nie – inteendeel, sy is trots op haar twee mooi sussies – maar sy het nie verwag dat iemand wat sy as haar spesiale vriend beskou, soos Gawie, hom so maklik deur Susan se glimlag en blonde skoonheid van stryk sal laat bring nie.

Later stel Gawie voor dat hulle almal ’n ent gaan stap, maar die ander is te lui en Aletta en Gawie gaan alleen.

“’n Oulike meisie, dié Susan,” sê Gawie toe hulle wegstap en daar is ’n glimlag om sy mond. “Dit lyk of sy heeltemal oor haar teleurstelling is.”

“Dit gaan baie beter.”

“Praat sy nog nie van terug stad toe gaan nie?”

“Sy word nou haastig, maar ek het haar gevra om hier te bly tot die einde van die jaar – totdat ons saam kan gaan.”

“Sy sal gou weer trou,” voorspel Gawie.

“Ek weet nie. Susan het ander planne,” sê Aletta stil.

“Dawie is oulik. En hy is baie verlief. Dalk laat hy haar nog van plan verander.”

“Was dit om Dawie te tempteer dat sy vir jou ogies gemaak het?” vra sy met ’n spotlaggie.

“Ag, dit was sommer net speletjies,” sê Gawie skouerophalend. “Jy is tog nie jaloers nie, of hoe?”

“Glad nie,” sê sy kalm.

“Ek is bly. Maar dis nou genoeg van Susan. Wat dink jy van die nuwe plaasbestuurder?”

Aletta aarsel. Wat moet sy sê?

“Ek weet nie,” antwoord sy versigtig. “Hy lyk bekwaam en betroubaar, maar hy erken prontuit dat hy geen kennis of ervaring van boerdery in dié deel van die wêreld het nie. Hy het op ’n sitrusplaas naby Nelspruit gewerk, waar hulle ook met beeste geboer het. Hy was blykbaar nie baie gretig om hierheen te kom nie, maar hy ken Frans Naudé se swaer goed en het toe ingewillig om tot die einde van die jaar hier op Tiervlei te help.”

“Dis vir my nuus! As hy dan net tot die einde van die jaar hier bly, beteken dit dat Frans Naudé dalk tog bereid sal wees om te verkoop.”

Later klim hulle teen een van die skurwe kliprante uit, en terwyl hulle kyk hoe die son ondergaan, vra Gawie haar onverwags om met hom te trou.

Aletta is stil. ’n Ruk lank al is sy bewus van sy groeiende belangstelling, en sy het al gewonder wat sy sal doen as hy haar sou vra. Gawie is ’n aangename mens, hardwerkend en ambisieus, en hy sal dit nog ver in die lewe bring. Hy wil hom in die politiek begewe en hom vir die provinsiale raad verkiesbaar stel. Gawie se vrou sal ’n vol en interessante lewe hê, het sy dan gedink.

En noudat die huweliksaanbod kom, laat dit haar heeltemal koud. Wat het dan gebeur om haar gevoelens te verander? Het Susan se flirtasies vanmiddag haar meer omgekrap as wat sy wil erken, of is dit maar net die onsekerheid oor die toekoms wat haar laat aarsel?

“Wat makeer, Aletta?” vra hy toe sy nie antwoord nie. “Ek het dan altyd gedink jy hou van my ook?”

“Ek hou van jou, ek hou baie van jou,” antwoord sy dadelik. “Maar op die oomblik het ek soveel probleme en is alles so onseker dat ek my liewer nie nou wil bind nie.”

“Jy bedoel Susan en Betsie? Is hulle nie oud genoeg om na hulself te kyk nie? Jy het al meer as genoeg vir hulle opgeoffer.”

“Dis nie ’n kwessie van opoffering nie. Ek wil hulle graag gevestig en gelukkig in hulle nuwe lewe sien. Eers dan sal ek vry voel om aan myself te dink. En voor ek weet wat van Tiervlei word, kan ek geen planne maak nie.”

“Ek wens jy wil nie so koppig wees nie. Watter saak maak dit nou of Tiervlei verkoop word of nie? Ek het jou lief; ek wil met jou trou en dis al wat tel.”

“Dankie, Gawie. Dis lief van jou om dit so te stel, maar ek kan nie nou besluit nie. Gee my net kans om my sake agtermekaar te kry, dan gesels ons weer.”

Gawie sit sy arms om haar en trek haar teen hom aan.

“Ek gaan jou nie dwing om ja te sê as jy nie wil nie. Onthou maar net altyd: ek het jou lief en ek wil jou graag help om jou probleme op te los.” Hy sit sy hand onder haar ken en soen haar. Hy het haar al dikwels gesoen, ligte goeienagsoentjies waaraan sy nie waarde geheg het nie, maar vandag se soen is dringend, gelaai met ’n skielike hartstog, en vinnig stoot sy hom van haar af weg.

“Kom,” sê sy terwyl sy opspring. “Ons moet huis toe gaan. Julle bly tog seker vir aandete en Mietjie kom nie vanaand in nie.”

In stilte stap Gawie Pretorius saam met haar terug huis toe, terwyl hy veg teen sy teleurstelling. Hy het nooit daaraan getwyfel dat Aletta ja sal sê as hy eendag sover kom om die groot vraag te vra nie.

In die vroeë skemering, gebaai in die rosige lig van die ondergaande son, het die donker klipkoppies ’n vreemde, aangrypende skoonheid vir Aletta. Sy is bewus van Gawie se teleurstelling en om sy gedagtes af te lei, vertel sy hom van die nuwe bestuurder se versoek om ’n chaperone.

“Ek het nooit daaraan gedink nie,” erken Gawie. “Maar hy is heeltemal reg. Dit kan beslis lei tot skinderpraatjies – ek kan tant Breggie Krige al hoor – en ek dink jy moet dadelik ’n plan maak om Ta’ Lettie te gaan sien.” Liggies voeg hy by: “Die vrou van ’n man wat hom in die politiek wil begewe, moet bo alle verdenking staan.”

“Dan is dit nie oor my goeie naam wat jy besorg is nie,” terg sy hom. “Julle mans is almal net eenders. Ons nuwe bestuurder is ook baie meer bekommerd oor sy reputasie as myne.”

“Dalk het hy die een of ander probleem met vroumense gehad en is nou versigtig,” glimlag Gawie. “Is hy getroud?”

“Om die waarheid te sê – ek weet nie. Hy het niks gesê nie. As hy getroud is, het hy miskien besluit om nie sy gesin saam te bring nie aangesien hy net ’n paar maande hier gaan bly.”

In stilte stap hulle verder, elkeen besig met sy eie gedagtes.

Maar Aletta dink nie aan die jong man wat langs haar stap nie. Sy dink aan Frans Naudé wat nog steeds daar in die vreemde is. Sy wens hy wil terugkom. Eers as sy weet wat sy planne met Tiervlei is, kan sy haar reëlings begin tref en self planne vir die toekoms maak.

Sy dink aan die nuwe bestuurder en wonder wat sy agtergrond is. Sou hy getroud wees? Sy het nooit aan die moontlikheid gedink nie. Stel hy werklik belang in boerdery, of het hy miskien nie die kans gehad om hom vir ’n ander beroep te bekwaam nie?

Dan dink sy aan die gesprek aan die ontbyttafel die oggend en glimlag suur. Die onderhoud het heel anders verloop as wat sy beplan het. Sy kan Jim Muller nog glad nie peil nie, maar hy het haar belangstelling geprikkel, en sy is bewus van ’n onwillige bewondering vir sy stille selfversekerdheid. Hy lyk vaal en sonder persoonlikheid, maar daar skuil kennelik baie meer in Jim Muller as wat ’n mens met die eerste kennismaking besef.

Sy sal hom voorlopig sy gang laat gaan. Sy is maar te dankbaar dat hier ’n man soos hy is wat kan help om die verantwoordelikheid vir die plaas en die boerdery te dra.

Tryna du Toit-omnibus 10

Подняться наверх