Читать книгу Tryna du Toit-omnibus 10 - Tryna du Toit - Страница 6

Hoofstuk 3

Оглавление

Betsie gaan saam met Aletta kombuis toe om met die aandete te help. Hulle bak wors en eiers en Betsie dek die tafel, dan stuur Aletta haar om Jim Muller by die rondawel te gaan roep.

“Sê vir hom ons prokureur is hier. Gawie wil hom graag ontmoet.”

Jim Muller sit rustig, pyp in die hand, op die bankie voor die rondawel. Die na-gloed van die sonsondergang lê nog teen die westerhemel en die aandskemering val sag oor die bruin, verskroeide wêreld. Hy staan op toe Betsie nader kom.

“Aletta sê die kos is klaar, meneer Muller,” sê Betsie vriendelik. “Jy moet kom eet.”

“Ek sien julle het besoekers,” sê hy.

“Dis Gawie Pretorius, ons prokureur, en Dawie Bruwer, ’n vriend van Susan. Aletta wil hê jy moet vir Gawie ontmoet.”

“Ek kom dadelik,” sê hy. “Ek trek net my baadjie aan.”

“Ek wag vir jou,” bied Betsie aan, en hy glimlag.

“Jy het toe nooit vanmiddag kom koffie drink nie,” sê sy toe hy terugkom.

“Ek het gaan stap.”

“Jy moes ver gestap het. Ek het gesien toe jy netnou terugkom.”

“Ek wou sommer kyk hoe lyk die plaas. Weet jy waar die baken is?”

Betsie lag. “Was jy tot daar? Toe ek klein was, het ek dikwels saam met Pa tot by die baken gestap of gery – dis waar ons draad loop.” Haar gesiggie versomber. “Maar die laaste jare, vandat Pa siek geword het, was alles anders. Aletta en Susan was albei weg, en Pa wou nooit dat ek alleen so ver gaan stap nie.”

“Heeltemal reg ook. Hoe lank woon julle al hier?”

Hulle stap aan deur die skemering na die groot huis.

“Amper ses jaar. Ek was twaalf toe Mamma met Pa getroud is. Aletta was toe al op universiteit.”

“En Susan?”

“Susan was ’n jaar saam met my in die koshuis op die dorp. Toe is sy universiteit toe. Maar sy was net ’n jaar op universiteit, toe is sy getroud.”

In die eetkamer wag die ander op hulle. Aletta stel Jim Muller voor aan hulle besoekers.

“Ek is bly jy is hier,” sê Gawie. “Aletta – juffrou Vosloo – kan net nie alles alleen behartig nie.”

“Ek sal doen wat ek kan,” sê Jim Muller kalm. “Maar ek sal ook maar algaande moet leer. Ek ken hierdie wêreld glad nie.”

“Jy sal gou leer. Die groot ding is dat hier iemand is om toesig te hou en seker te maak die werk word gedoen. Maar juffrou Vosloo sê vir my dat jy net tot die einde van die jaar hier bly.”

“Ek het voorlopig net tot die einde van die jaar gekom. Maar as doktor Naudé besluit om nie die grond te verkoop nie, bly ek dalk langer aan. Ek weet nie. Die tyd sal ons leer.”

“Juffrou Vosloo en haar susters het net soveel seggenskap oor Tiervlei en wat met die grond gebeur as doktor Naudé,” sê Gawie kil.

“Kom eet, asseblief,” val Aletta tussenbeide. “Die kos is op die tafel.”

Jim Muller is stil aan tafel. Hy antwoord beleef as iemand met hom praat en het verder niks te sê nie. Die oomblik toe hulle klaar geëet het, maak hy verskoning en gaan terug na sy rondawel toe.

“Is dit nodig dat hy saam met julle aan tafel eet?” vra Gawie later toe hy en Aletta alleen is. Susan en Dawie is buite op die stoep, Betsie is kamer toe.

“Waar anders moet hy eet?” vra Aletta.

“Jan Gouws het nie saam met julle geëet nie.”

“Jan Gouws het in die kliphuis gewoon. Hy het ’n bediende gehad om vir hom te sorg. En hy het ook dikwels saam met ons geëet.”

“Hoekom is Jim Muller dan hier in die rondawel? Julle gebruik dit tog vir gaste.”

“Die kliphuis is baie vervalle en daar is omtrent nie meubels nie. En aangesien dit net vir ’n paar maande is …” Sy kyk nuuskierig na Gawie. “Wat makeer? Hou jy nie van Jim Muller nie? Hy is tog ’n beskaafde mens, enigiemand kan dit sien.”

“Ek het niks teen die man nie – en ek is bly hier is iemand wat toesig oor die werksmense kan hou. Ek het niks daarvan gehou dat jy so alleen hier op die plaas bly nie.”

“Dit kon nie anders nie. Maar ek sal self bly wees as dit alles verby is. Dit was ’n swaar jaar.”

“Ek weet, my liefste Alet! Ek het net die grootste bewondering vir jou, die manier waarop jy alles hier behartig het vandat jou ma oorlede is. Daarom wil ek jou graag help om jou sake in orde te kry.”

“Sonder Frans Naudé kan ons niks doen nie,” herinner sy hom weer.

Gawie skuif wrewelig rond in sy stoel.

“Ek wens ek weet wat hy in die mou voer. Maar ek is bly jy is ten minste nog ’n paar maande hier. Ons sal weer gesels, ek en jy. Ek hoop jy sal later wanneer jy rustiger is en tyd gehad het om na te dink, anders oor die saak voel.”

Buite is daar die gedreun van ’n motor wat wegry, en ’n paar minute later loer Susan om die deur om nag te sê.

“Ek moet ook ry,” sê Gawie. “Wanneer sien ek jou weer?”

“Ek ry môreoggend saam met Susan-hulle dorp toe om Ta’ Lettie te gaan sien. Ek hoop sy kan plaas toe kom, anders weet ek nie.”

“Dan bly jy op die dorp. Ek gaan nie toelaat dat jy alleen saam met die man op die plaas bly nie.”

Aletta lag.

“Dit was Jim Muller wat voorgestel het dat ons ’n chaperone kry – het jy vergeet?”

“Nee, ek het nie vergeet nie. Maar ek ken jou. Ek weet jy steur jou nie aan wat die mense sê nie. Maar ék gee om. Ek gaan nie toelaat dat hulle van jou praat nie.”

“Ek sal hulle nie kans gee nie,” belowe sy geamuseerd. “Môreaand is Ta’ Lettie weer sak en pak terug op Tiervlei.”

Aletta stap saam met Gawie na sy motor toe. Dis warm, nie ’n windjie roer nie. Bokant die hoë denneboom hang die blink skyf van ’n jong maantjie, met twee helder sterre daar naby. Toe Gawie haar groet, trek hy haar onverwags nader en soen haar.

“Nag, Aletta. Maak môre ’n draai daar by my kantoor, dan kan ons ’n koppie tee gaan drink.”

Sy belowe en Gawie is weg. Toe sy terugstap, sien sy Jim Muller wat voor sy rondawel sit en rook. Het hy gesien toe Gawie haar soen? wonder sy ’n bietjie verleë. Netnou kry hy ’n verkeerde indruk. En dan dink sy: maak dit saak wat die nuwe plaasbestuurder dink?

Susan se kamerlig brand nog. Aletta klop aan die deur en gaan in. Susan sit voor die spieël, besig om room aan haar gesig te smeer. Sy kyk half skuldig op toe Aletta binnekom.

“Kom jy met my rusie maak?” vra sy.

“Rusie maak? Waarom sou ek met jou rusie maak?” vra Aletta nuuskierig.

“Oor vanmiddag. Ek is jammer, Alet. Ek was sommer moedswillig. Ek weet Gawie is jou kêrel …”

“Gawie is nie my kêrel nie.”

“Gaan jy nie met hom trou nie? Almal dink so.”

“Wie dink so?”

“Die mense op die dorp – almal wat jou ken. En ek het self so begin dink …”

“Wel, jy dink verkeerd. Gawie en ek is goeie vriende – niks meer nie.”

“Ek is bly om dit te hoor.”

Aletta kyk nuuskierig na haar.

“Waarom is jy bly? Daar is niks fout met Gawie nie. Hy werk hard en het groot planne vir die toekoms. Hy sal sy vrou alles kan gee wat sy begeer.”

“Waarom trou jy dan nie met hom nie?” spot Susan.

“Miskien sal ek nog,” sê Aletta koel. “Op die oomblik is alles te deurmekaar om sulke belangrike besluite te neem.”

Susan aarsel, dan sê sy: “Gawie is nie die regte man vir jou nie, sus.”

Aletta kyk na haar: na die blinkgoue hare, die suiwer profiel, die vleklose vel.

“Hoe weet mens ooit of die man wat jy kies die regte een is?” vra sy sag, en sy sien die skaduwee wat oor Susan se gesig val.

“Ek weet. En wie is ek om te praat, nè?”

“Dis verby. Die Susan wat teruggaan stad toe, is ouer en verstandiger – ja, ek weet, ontnugter ook – en beter toegerus vir die lewe as die Susan wat vier jaar gelede hier weg is. Hartseer en teleurstelling is deel van die lewe en ons moet dit so aanvaar.”

Susan antwoord nie en Aletta sê sag: “Jy is jonk en mooi. Jy sal weer gelukkig wees …”

Susan se gesig is stroef. “Ek is tog nie lus vir ’n preek vanaand nie, Alet.”

“Ek is jammer. Ek het nie bedoel om te preek nie. Die gesprek het nou maar in dié rigting beweeg. Ek het eintlik net kom sê ek ry môreoggend saam met julle dorp toe.”

“Wat wil jy so vroeg in die dorp maak?”

“Ek wil Ta’ Lettie gaan vra of sy weer by ons op die plaas sal kom bly.”

“Ta’ Lettie? Waarom moet sy hier kom bly?”

“Wel … jy weet Jim Muller en ek is heeldag alleen hier op die plaas en dikwels saans ook as jy op die dorp bly. Hy dink ons moet ’n chaperone kry.”

Susan staar haar ’n oomblik aan, dan bars sy uit van die lag. “’n Chaperone! Jy is tog nie ernstig nie?”

Betsie loer om die deur: “Wat gaan hier aan?”

Susan bedwing haarself met moeite. “Kom luister, Bets! O, ek dink dis baie snaaks. Jim Muller dink ons moet ’n chaperone op Tiervlei kry. Alet gaan môre vir Ta’ Lettie haal.”

“’n Chaperone?” Betsie kyk met groot oë na Aletta. Dan knik sy. “Ek dink nie dis so snaaks nie. Jim Muller is heeltemal reg. Die mense sal baie gou praat as jy en die bestuurder alleen hier op Tiervlei bly!”

“Ek dink julle is almal verspot,” sê Aletta gesteurd. “Maar vredesonthalwe sal ek Ta’ Lettie môre gaan haal.”

“Ag, dit sal wonderlik wees,” sê Betsie bly. “Ek mis Ta’ Lettie – om nie van haar lekker beskuit en sjokoladekoek te praat nie!”

“Hou dan maar duim vas dat sy kan kom,” sê Aletta droog, “anders sit ons dalk weer binnekort sonder ’n bestuurder. Nou toe, kom ons gaan slaap.”

Net na agtuur die volgende oggend klop Aletta aan tant Lettie se deur. Die ouer vrou groet haar vriendelik.

“Kom in, kom in, hartjie. Ek het al gewonder hoe dit met julle daar op Tiervlei gaan. Julle kom mos nie by my kuier nie.”

“Ta’ Lettie was tog weg gewees? En daar by ons is ook soveel dinge …”

“Ek weet, hartjie, ek weet. Sit, ek gaan haal net vir ons tee, dan kan ons lekker gesels.”

Aletta kyk haar glimlaggend agterna: klein, stewig gebou, vol energie en opregte menseliefde … daar is net één Ta’ Lettie. Betsie is reg: dit sal lekker wees om haar weer op Tiervlei te hê.

Ta’ Lettie kom ’n kort rukkie later haastig met die tee by die sitkamer in. Daar is ’n bak met haar goudbruin beskuit op die skinkbord.

“Nou toe, laat ek hoor hoe dit gaan. Het julle al ’n bestuurder gekry? Waarlik, as ek aan daardie Jan Gouws dink – hoe hy julle arme weeskinders besteel het …”

“Die nuwe bestuurder het Saterdag gekom; dis daarom dat ek vandag hier is.”

“Mens! Moenie vir my sê jy het al klaar weer moeilikheid met die man nie?”

Aletta lag. “Nee, nie daardie soort moeilikheid nie. Die nuwe bestuurder is ’n beskaafde mens – heeltemal ’n ander tipe as Jan Gouws.”

“Nou wat is dan die moeilikheid?”

“Ek soek ’n chaperone, Ta’ Lettie.”

“’n Chaperone?” Ta’ Lettie gaap haar aan.

“Jim Muller – die nuwe bestuurder – en ek is heeldag alleen op die plaas en dikwels ook snags, as Susan op die dorp bly,” sê Aletta sedig, maar die groenbruin oë glinster ondeund. “Ta’ Lettie weet hoe gou die mense praat …”

Ta’ Lettie knik, nog effens uit die veld geslaan.

“Ja, natuurlik. ’n Mens kan nie te versigtig wees nie. Ek het net gedink, jy is altyd so selfstandig, jy steur jou nie aan wat die mense sê nie …”

“Dis eintlik die nuwe bestuurder wat voel dat ek ’n chaperone moet kry,” sê Aletta. “Ek hoop Ta’ Lettie kan ’n maand of twee by ons kom bly – tot die einde van die jaar as dit nodig is …”

“Ek sal graag kom, Aletta. Dit klink tog vir my of alles nie pluis is met die nuwe bestuurder nie. En waar julle nie meer ’n moeder het nie …”

“Ons sal Ta’ Lettie dieselfde salaris betaal …”

“Dit klink nie reg nie, kind. Om julle geld te neem en op die plaas te kom sit en niksdoen …”

Aletta glimlag.

“Daar sal oorgenoeg te doen wees. Sal Ta’ Lettie nou kom?”

“Ja, kind. As julle my nodig het, sal ek graag kom. Wanneer wil jy my daar hê?”

“Sommer vandag as dit moontlik is. As Ta’ Lettie dringende dinge het om te doen, kan ek Ta’ Lettie later in die week weer dorp toe bring.”

Ta’ Lettie belowe dat sy teen twaalfuur klaar gepak sal wees, en verlig ry Aletta weg. Sy het geen plan of begeerte om op die dorp te kom bly nie en met Ta’ Lettie op Tiervlei kan die nuwe bestuurder gerus wees: sy reputasie is veilig!

Kort ná twaalfuur kom hulle moeg en warm op die plaas aan. Die son brand neer op die vaal, verskroeide aarde en in die blou lug draai ’n paar aasvoëls rond. Aletta ril skielik soos iemand wat koud kry.

Hulle dra Ta’ Lettie se koffers en pakkies huis toe en Aletta neem haar na haar eie kamer toe. Sy sal Betsie se kamer gebruik totdat sy die hoofslaapkamer vir haar eie gebruik skoon- en reggemaak het. Sy het ’n gevoel Ta’ Lettie sal nie graag in die kamer wil slaap waar haar ma en stiefpa albei oorlede is nie.

Hulle is in die eetkamer toe Jim Muller inkom.

“Ek is bly jy is veilig terug, juffrou,” sê hy beleef.

Aletta kyk agterdogtig na hom. Skimp hy al weer? Sy sê koel: “Ek moes vir Ta’ Lettie wag. Ta’ Lettie, dit is Jim Muller, ons nuwe bestuurder. Ta’ Lettie Bruwer, meneer Muller – ons chaperone,” voeg sy spottend by.

In stilte meet Ta’ Lettie en Jim Muller mekaar, soos twee stoeiers voor ’n wedstryd. Dan glimlag hy onverwags, en hy lyk meteens jonger en aantrekliker.

“Aangename kennis, mevrou Bruwer,” sê hy hoflik.

Ta’ Lettie ontdooi sigbaar. “Sê vir my Ta’ Lettie, kind! Watse mevrou is dit?” Sy betrag hom belangstellend, dan sê sy: “Jou gesig lyk bekend, Jim. Van watter Mullers is jy?”

“Nie van dié kontrei nie, Ta’ Lettie. Die Mullers kom eintlik van die Boland.”

Hulle wissel nog ’n paar woorde, dan sê Jim Muller vir Aletta: “Ek het slegte nuus vir jou, juffrou.”

“Wat is dit?” vra sy met ’n skielike gevoel van beklemming.

“Daar het twee beeste in die boonste kamp gevrek en nog ’n paar is siek.”

“Wat makeer hulle?”

“Ek weet nie. Is hier ’n veearts op die dorp?”

Sy knik. “Ek sal hom dadelik bel.”

“Asseblief. Die beeste is in ’n baie swak kondisie. Brandmaer. Ons sal hulle moet voer gee – of hulle vrek nog almal.”

Sy kyk hom verslae aan. “Waar moet ek voer kry?”

“Hier is tog ’n koöperasie. Hulle sal vir jou kan sê.”

“Voer kos geld. Ek sal eers met meneer Pretorius moet praat.”

“Die diere moet kos kry – so gou moontlik. Die veearts sal ook so sê.”

“Dan moet jy daarvoor sorg,” sê Aletta kortaf. “Ek is moeg vir droogte en diere wat vrek en ander ellendes. Doktor Naudé het jou hierheen gestuur. Van nou af aanvaar jy asseblief alle verantwoordelikheid.”

Jim Muller kyk ’n lang oomblik na haar. “Wat is die veearts se naam?” vra hy.

“Dokter Van der Vyver,” sê sy koel. Sy kyk na Ta’ Lettie, na die kos wat Mietjie tafel toe gebring het, en draai weg. “Verskoon my asseblief, Ta’ Lettie. Ek het hoofpyn. Ek gaan kamer toe.”

Ta’ Lettie en die nuwe bestuurder kyk na mekaar. Dan knik Ta’ Lettie.

“Senuwees. Net senuwees. Arme kind. Dit was vir haar ’n moeilike jaar gewees. Al die verantwoordelikhede – en omdat sy altyd so kalm en sterk was, het almal maar hulle moeilikhede op haar gepak.”

“Ek is jammer dat ek ook nog tot haar moeilikhede bydra.”

“Dis nie jou skuld nie. Dis daardie Frans Naudé wat so koppig is. As hy net wil toestem dat hulle Tiervlei verkoop.” Sy sug gelate. “Maar kom sit, Jim. Die kos word koud.”

“En juffrou Vosloo?”

“Laat haar begaan. Sy kry af en toe dié skeelhoofpyne. As sy ’n bietjie gerus het, sal sy beter voel.” Sy kyk na hom en glimlag vertroulik. “Van nou af sal dit beter gaan. Met ’n nuwe bestuurder én ’n chaperone op Tiervlei, kan sy vir ’n verandering terugsit en ontspan.”

Tryna du Toit-omnibus 10

Подняться наверх