Читать книгу Tryna du Toit-omnibus 10 - Tryna du Toit - Страница 7

Hoofstuk 4

Оглавление

Aletta tel die brief wat sy aan Frans Naudé geskryf het op en lees dit deur. Die brief het langer geword as wat sy bedoel het, iets wat nogal dikwels gebeur wanneer sy aan hom skryf. Dis vreemd, dink sy, dat sy so maklik en sonder terughouding kan gesels met ’n man wat in werklikheid ’n vreemdeling is. Met hom bespreek sy sake wat sy nie eens met Gawie Pretorius kan of wil bespreek nie.

Is dit omdat hy mede-erfgenaam van Tiervlei is en sy voel dat hy ook deel moet hê aan die verantwoordelikhede en probleme waarmee sy heeldag sit? Of is dit maar net omdat sy briewe so gaaf en vol belangstelling is dat sy begin oorborrel die oomblik dat sy die pen optel om aan hom te skryf? Sy hoop maar net dat sy hom nie verveel nie, dat hy nie moeg raak vir haar en haar stories nog voor hulle kans kry om te ontmoet nie. Sy lees die brief:

Beste Frans,

Ons sit vanaand almal soos een groot gesin ewe gesellig om die eetkamertafel. Snoes, die gemmerkat, lê op my skoot en spin; Stompie, Tiervlei se dapper waghond, dut heerlik en droom van die haas wat hy vanmiddag opgejaag het maar nie kon vang nie. Ons chaperone, Ta’ Lettie (jy het nie geweet ons het ’n chaperone nie, het jy, neef Frans?), hekel ’n doilie van die outydse soort vir die kerkbasaar.

Susan, haar hare soos ’n goue stralekrans in die lig van die lamp, is besig om ’n rok korter te maak, maar haar blou oë is diep – ’n bietjie somber. Ek weet sy dink aan die dag dat sy weer teruggaan stad toe. Het ek jou geskryf dat sy ’n model wil word? Sy stel in niks anders belang nie. Maar ek is dankbaar dat dit soveel beter met haar gaan, dankbaar vir die ekstra maande wat ek haar hier op Tiervlei kan hou.

En tog, wat wag vir haar in die stad? Die lewe sal so anders wees! Sy sal nie meer inpas in haar ou vriendekring nie. En daar is altyd die moontlikheid dat sy haar eksman en sy nuwe vrou êrens raakloop.

Ja, die twee mooi sussies het my al heelwat slapelose nagte besorg.

Die nuwe bestuurder is besig om vir Betsie met ’n ingewikkelde wiskundeprobleem te help, en dis meer as wat ek kan doen. Wiskunde was nooit my sterk vak op skool nie en die bietjie wat ek geken het om deur matriek te kom, het ek lankal weer vergeet. Jim Muller se kop is blykbaar beter as myne.

Maar genoeg van die familie. Ek het ander, belangriker nuus. Sake hier op Tiervlei is geensins so rustig nie.

Jim Muller het toe Saterdag gekom en ek het hom op die stasie gaan haal. Hy ken jou swaer, meneer Brand, goed. Hy het ’n ruk lank by die mense op die plaas langsaan gebly. Miskien onthou jy hom: ’n lang, skraal, valerige man – sonder veel persoonlikheid en inisiatief, het ek met die eerste oogopslag gedink, maar ek is vinnig besig om van opinie te verander. Reeds op pad na Tiervlei het ons amper ’n potjie geloop. Ek het ’n bietjie teëspoed met ’n donkie gekry: die arme donkie is dood en ons ou Chev – die boedel s’n, natuurlik – het ’n bietjie skade. Terloops, die motor word reggemaak en die versekering dek gelukkig die skade. Dit was natuurlik ’n ongeluk wat enigeen kan oorkom, maar dis toe net daar dat die man sy voet dwarssit en weier om verder te ry tensy hy self bestuur. Boonop kry ek toe nog ’n lesing oor hoe om ’n motor veilig te bestuur.

Ek was so vererg dat ek hom sonder om te dink ’n hele ent by Tiervlei se uitdraaipad verby laat ry het voor ek hom reggehelp het. Ek het verwag hy sal baie kwaad wees – veral nadat ek hom amper verongeluk het – maar tot my verbasing het hy die humor van die situasie ingesien en ons het darem nie kwaaivriende op die plaas aangekom nie.

Maar net die volgende dag was dit weer so. Ek het begin dink, aangesien die reën wegbly en ek nog altyd hoop jy sal op die ou end instem dat ons Tiervlei verkoop, dat ons vanjaar maar die ploeëry en die plantery moet laat staan. Die hele mielieoes het tog verlede jaar verdroog. Maar ons bestuurder het ander planne. Hy sê as daar ’n oes op die lande is, is dit net tot ons voordeel, al verkoop ons ook die grond. Hy is reeds besig om die gereedskap na te sien en ek laat hom begaan. Neef Frans, jy weet nie hoe lekker dit is om agteroor te sit en die verantwoordelikheid vir iemand anders te los nie.

Maar nog is het einde niet! Toe Jim Muller besef dat ek en hy dikwels alleen op die plaas sal wees, dring hy aan op ’n chaperone. En nie om my goeie naam te beskerm, soos ek ewe naïef gedink het nie, maar ter wille van sy eie reputasie!

Gelukkig was tant Lettie, wat ’n ruk lank by ons gebly het terwyl Pa siek was, dadelik beskikbaar, en ons vriend se reputasie is nou heeltemal veilig. Maar ek spot sommer. Hy is ’n gawe man, pligsgetrou en op sy plek, en al is ons twee nog ’n bietjie versigtig om nie op mekaar se tone te trap nie, pas hy goed in by die familie. Ta’ Lettie en my susters hou baie van hom.

Gawie Pretorius was Sondag hier en hy was nie juis geïmponeer deur die nuwe bestuurder nie. Maar Jim het die hele aand niks te sê gehad nie en is net ná ete terug na sy rondawel, dus het Gawie nie juis kans gehad om hom te leer ken nie. In elk geval, dit is goed om weer ’n man op die plaas te hê.

Verder gaan dit maar op die ou trant. Dit bly bitter droog en warm. Dit het ’n bietjie gereën, maar skaars stofnat – sekerlik nie genoeg om te begin ploeg nie. Van lente is daar nie veel sprake nie. Alles skroei dood, die wêreld is swart soos in die winter. Die paar rose wat nog blom hang koponderstebo, soos ’n man wat geen moed vir die lewe het nie. As jy jou daar in die heerlike Amerikaanse herfsweer verlustig, dink aan ons arme boere wat verskroei hier onder die Suid-Afrikaanse son.

Daar is nog ’n ander saak wat ek eintlik huiwer om te noem. Maar jy moet tog weet wat aangaan, al is dit ook slegte nuus. Drie van ons goeie beeste het gevrek en ’n stuk of tien was ernstig siek, maar die veearts het hulle gelukkig deurgehaal. Hy vermoed die beeste is vergiftig – ja, opsetlik vergiftig – maar ons wag nog op bevestiging van Onderstepoort. Persoonlik dink ek hulle het maar net iets gevreet wat hulle siek gemaak het. Ek weier om te glo dat ons bure, of wie ook al, ons beeste sal probeer vergiftig.

Voorlopig sê ons niks van hierdie dinge vir die familie of enigiemand nie – tyd genoeg as ons van Onderstepoort gehoor het.

Maar die beeste moet ekstra voer kry, of hulle vrek die laaste een. Hulle kondisie is treurig. As jy nie gou terugkom nie, is daar van die boedel niks meer oor nie.

Jim en ek het toe amper oor die voer ook ’n potjie geloop. Gelukkig het hy kalm gebly en my histerie geïgnoreer. (Ek moet darem byvoeg ek het ’n kwaai hoofpyn gehad, anders sou ek nie die kluts so kwytgeraak het nie.) Maar ek vrees ek is geen stoere boeredogter nie. Al die ellendes begin my nou vang. Ek het vir hom gesê: maak soos jy goeddink; van nou af aanvaar jý alle verantwoordelikheid vir Tiervlei! Ek is seker dit sal jou goedkeuring wegdra, neef Frans. Jy het hom immers hierheen gestuur.

Ek kan nog lank gesels – oor die droogte, oor die melkkoeie wat almal opdroog, oor die stukkende windpomp, maar ek dink ek moet ophou. Dis my beurt om tee te maak en die klomp begin al mor.

Ta’ Lettie en ek het vandag korentekoekies en karringmelkbeskuit gebak en ek wens ek kan vir jou daarvan stuur. Miskien laat verlang dit jou so na jou eie land en mense dat jy besluit om sommer dadelik terug te kom. Maar ek terg sommer. Ek weet jy is besig en dat jy sal kom sodra jy kan.

Groete en beste wense van jou

nig Aletta (aangetroud)

Sy vou die brief op en steek dit in die koevert. “So ja, dis klaar.”

“Wat op aarde skryf jy alles vir die man?” vra Susan nuuskierig.

“Boerderysake. En hiervan en daarvan. Ek moet ons mede-erfgenaam darem op hoogte van sake hou. Wil jy miskien ’n boodskap vir hom stuur, meneer Muller?”

Jim Muller kyk vlugtig op van Betsie se wiskundehandboek waardeur hy blaai.

“Nee, dankie. Jy het seker alles gesê wat daar te sê is, juffrou.”

“Ek wens die man wil huis toe kom. Alet, wat gaan ons maak as hy Tiervlei nie wil verkoop nie?” vra Susan.

“Jy bedoel, waar sal ons die geld kry om Bets universiteit toe te stuur? En vir jou modelklasse te betaal? Ons sal wel ’n plan maak. Ek gaan weer skoolhou. Moontlik kan ons geld leen teen ons erfenis.”

“Of jy kan met Gawie trou,” terg Bets. “Maak dit net ’n voorwaarde dat hy jou twee jonger sussies moet onderhou.”

“Ek het al genoeg vir die familie opgeoffer, dankie,” sê Aletta liggies.

Ta’ Lettie kyk op van haar hekelwerk. “Sal dit so ’n groot opoffering wees, hartjie?” vra sy skalks. “Gawie is ’n eersteklas jong man. Jy moet sien hoe die meisies op die dorp agter hom aanloop. En jy kan slegter vaar, Aletta. Die mense sê Gawie Pretorius sal binne tien jaar in die parlement sit.”

Jim Muller kyk vol belangstelling op van die boek waarin hy ’n oomblik vantevore so verdiep was, maar voor hy iets kan sê, vra Betsie plaerig: “Waarom trou jy dan nie liewer met Frans Naudé nie? Dan hou ons ten minste die erfenis in die familie!”

“Wat ’n blink gedagte, Bets,” sê Aletta bewonderend, maar die donker oë glinster waarskuwend en ’n ligte blos verkleur haar wange. “Miskien is daar nog ’n paar kandidate aan wie julle kan dink. Bespreek gerus die saak verder terwyl ek gaan tee maak.”

“Miaau,” glimlag Betsie. “Ons is maar net bekommerd oor jou, sus. Netnou sit jy op die rak en dan sê jy dis ons skuld.”

“Bekommer jou nie oor my nie. Ek belowe jou julle sal nie met my opgeskeep sit nie,” antwoord Aletta en stap neus in die lug by die kamer uit. Betsie volg haar na die kombuis om vrede te maak.

“Moenie kwaad wees nie, sus. Ons het jou maar net geterg,” sê sy verskonend en Aletta glimlag onwillig.

“Ek weet. Maar ’n mens bespreek darem nie jou persoonlike sake so voor vreemdes nie.”

“Vreemdes? Ta’ Lettie en Jim is mos nie vreemdes nie. Hulle is deel van die familie.”

Vir Betsie en Susan en ook Ta’ Lettie is hy lankal “Jim”. Net sy hou nog vol met die stywe “meneer Muller”. Dit klink meer saaklik.

“Ek het nie die familie se hulp nodig om my persoonlike sake te reël nie,” sê sy nou. Maar sy glimlag en Betsie is tevrede.

Die volgende oggend ry Jim Muller saam met Susan dorp toe. Die pomp het weer gebreek en hy moet die onderdeel kry, asook die nuwe entstof wat hulle vir die beeste bestel het. Aletta sou ook saamry – sy gaan gewoonlik Saterdagoggende saam met Susan dorp toe om inkopies te doen – maar dit is so warm dat sy op die ou end tuis bly en Ta’ Lettie is saam met Susan-hulle weg.

“Moenie vergeet om my brief te pos nie, Susan,” waarsku Aletta toe hulle groet.

“Jim het dit geneem,” sê Susan. “Hy moet poskantoor toe gaan en sal sommer die pos kry.”

“Ek sal nie vergeet nie, juffrou,” sê Jim Muller en glimlag effens. Tot haar eie ergernis voel Aletta dat sy bloos – sy weet self nie waarom nie.

Gawie bel later die oggend om te vra of sy die aand bioskoop toe wil gaan, en of hy liewer vir haar op die plaas moet kom kuier.

“Kom kuier liewer,” antwoord sy dadelik. “Ek sien nie kans om in hierdie weer in die bioskoop te gaan sit nie.”

Hy het die middag gaan tennis speel en kom eers teen sononder op die plaas aan. Dawie Bruwer en van die ander bure se seuns het ook kom kuier en hulle eet almal buite op die gras. Later nooi Gawie Aletta om ’n entjie te gaan stap.

“Ek het weer ’n brief gekry van daardie man wat in Tiervlei belangstel,” sê hy. “Hy wil graag ’n opsie op die plaas neem en wil weet of jy en jou susters bereid is om julle deel van Tiervlei aan hom te verkoop. Hy sal julle kontant daarvoor betaal.”

“Kontant?” sê sy verras. “Maar sal ons ons aandeel mag verkoop sonder Frans Naudé se toestemming?”

“Daar is niks in die testament wat dit verbied nie. En dit is myns insiens ’n baie goeie aanbod.”

“Dit klink baie aanloklik. Ek wonder waarom die man so gretig is om Tiervlei in die hande te kry?” voeg sy peinsend by.

“Ek sou nie kon sê nie. Ek moet eerlik erken dat dit vir my maar na ’n bra onaansienlike stukkie grond lyk. En as jy my raad wil hê: neem die aanbod sonder versuim aan.”

“Ek sal ’n bietjie oor die saak dink, en ook met Susan en Betsie gesels. Maar ek is seker hulle sal nie beswaar maak nie.”

“Moet net nie te lank dink nie; hy verander dalk van plan.”

“Ek wens ek weet wat om te doen,” sê Aletta onseker.

Gawie neem haar hand en trek dit deur sy arm.

“Arme Aletta,” sê hy sag, simpatiek. “Jy het ’n moeilike tyd agter die rug en ek is seker jy is haastig om ’n einde te maak aan al die spanning en onsekerheid. As jy my net wil toelaat om jou te help – nie net as jou prokureur nie, maar ook as jou verloofde, jou toekomstige man.” Sy antwoord nie, en saggies vervolg hy: “Waarom is jy so koppig, Alet? Op die ou end sal jy tog ja sê. Waarom nie nou nie?”

Waarom nie? wonder sy. Sy hou van Gawie en Ta’ Lettie is reg: sy kan veel, veel slegter vaar as om met hom te trou. Maar iets hou haar teë, en hoe Gawie ook al pleit, kan hy haar nie van besluit laat verander nie.

Die volgende oggend bespreek sy die aanbod met Susan en Betsie. Hulle is albei opgewonde en gretig om dit dadelik te aanvaar. Nie een van hulle is juis geheg aan Tiervlei of lus om weer eendag terug te kom plaas toe nie, en hoe gouer hulle ontslae kan raak van die grond, hoe beter. Op haar beurt is Aletta ook heeltemal bereid om te verkoop, maar sy wil dit darem nie doen sonder om Frans Naudé te raadpleeg nie. Hulle besluit dat sy dadelik vir hom sal skryf.

Hulle is die oggend almal saam kerk toe. Jim het die vorige dag sy hare laat knip en in sy grys pak lyk hy netjies en op sy gemak. Hy wou eers nie in dieselfde bank as hulle sit nie, maar toe Betsie dreig om dan by hóm te gaan sit, neem hy ewe kalm sy plek tussen Ta’ Lettie en die drie dogters van Tiervlei in. ’n Verbasende man, dink Aletta. Stil, beskeie en op sy plek. Hy dring hom nooit aan hulle op nie en verkies blykbaar om alleen te wees. Tog kry sy nooit die gevoel dat hy in enige geselskap verleë of ongemaklik is nie. Betsie, wat Jan Gouws nie voor haar oë kon verdra nie, het Jim van die eerste dag af behandel soos die broer wat sy nooit gehad het nie. Selfs Susan, wat meer snobisties is as Betsie, het hom as een van die gesin aanvaar.

Teenoor haar is hy altyd hoflik en hulle verhouding word geleidelik beter. Sy teenwoordigheid op die plaas het haar lewe baie vergemaklik en sy weet sy kan op hom staatmaak as daar probleme is. Vir alles het hy ’n plan en sy raad is altyd prakties en weldeurdag.

’n Interessante man, dink sy weer, en tog haper daar iets. Sy voel oortuig dat hy dit in enige rigting ver kon gebring het, en die feit dat hy heeltemal tevrede is om ’n plaasbestuurder te bly dui tog op iets vreemds in sy geaardheid.

Terwyl hulle die aand buite op die gras sit en eet, verwys Susan terloops na die aanbod wat hulle gekry het. Aletta probeer haar stil maak – sy het hulle spesifiek gevra om niks daarvan te sê nie – maar die koeël is deur die kerk.

“Het julle nog ’n aanbod vir Tiervlei gekry?” vra Ta’ Lettie nuuskierig. Jim Muller sê niks nie, maar Aletta is bewus van sy verskerpte belangstelling en sy voel verplig om te verduidelik.

“Ons wil graag die aanbod aanvaar,” sê Susan toe Aletta klaar is. “Aletta gaan môre vir neef Frans skryf om hom van ons besluit te sê.”

“Ek het met meneer Pretorius daaroor gepraat,” sê Aletta effens uitdagend toe Jim steeds stilbly. “Hy sê daar is niks in die testament wat ons verbied om ons aandeel van die plaas te verkoop nie.”

“Hy behoort te weet,” sê Jim kalm. “Maar waarom die haas? Waarom kan die mense nie wag tot doktor Naudé oor ’n paar weke terugkom nie?”

“Hulle wag reeds langer as drie maande,” sê Aletta. “Ek gaan môre vir hom skryf. As hy Tiervlei dan so graag wil hê, kan hy mos ons aandeel koop.”

“Miskien doen hy dit nog,” merk Betsie opgewonde op. “Hy kan vir ons ’n aanbod maak, dan weet ons darem waar ons staan.”

Jim sê niks en Aletta stuur die gesprek in ’n ander rigting deur van die helderheid van die sterre te praat. Hulle gesels oor die verskillende sterrebeelde en die verhale daaragter, en tot Aletta se verbasing is sy kennis wyer en grondiger as een van hulle s’n. Vol belangstelling luister hulle na sy vertellings.

“Waar kom jy aan al hierdie dinge?” vra Betsie bewonderend.

“Ek het as kind in die sterrekunde belanggestel en heelwat daaroor gelees,” antwoord hy glimlaggend.

“Waarom het jy nie aangehou daarmee nie?”

“’n Mens kry weer ander belangstellings. Ek dink ná die sterre was dit posseëls – of miskien was dit posduiwe. Ek kan nie meer onthou nie.”

Is dit hoe dit met sy werk ook gaan? wonder Aletta. Altyd nuwe belangstellings, nuwe horisonne wat roep. ’n Man sonder ankers, wat gaan waar die gees hom lei. ’n Verstandige vrou is versigtig vir so ’n man.

Aletta is die volgende dag besig om aan Frans Naudé te skryf toe Jim Muller by die studeerkamer inkom. Een van die werkers is siek en hy vra Aletta om die distriksgeneesheer te bel.

“Bel jy sommer asseblief, meneer Muller. Ek wil graag hier klaarmaak.”

Hy maak die oproep, dan gee sy hom die vel papier waarmee sy besig was. “Lees dit, asseblief, en sê my of dit duidelik is.”

Hy neem die papier en lees die boodskap. “Dis heeltemal duidelik. Maar dit gaan ’n hele boel geld kos.”

“Ek weet. Maar ek wil nie hê daar moet ’n misverstand wees nie.” Hy vra haar of dit die brief aan Frans Naudé is.

“Ja,” sê sy. “Ek hoop net hy reageer gou.”

“Die lugpos is deesdae so vinnig, dit sal nie lank vat nie. Wel, ek hoop dit bring die verlangde resultate, juffrou. Ek hoop net nie jy het later rede om dit te berou nie.”

“Waarom sal ek dit berou?” vra sy koud.

“Omdat jy te laat mag ontdek dat die grond baie meer werd is as die prys waarvoor jy dit verkoop het.”

“Glo jy dat dit meer werd is? Glo jy dit eerlik?”

“Ek weet nie, juffrou Vosloo,” sê hy en die blougrys oë kyk reguit in hare. “Ek weet net dat jy niks kan verloor deur nog ’n rukkie te wag nie.”

’n Oomblik kyk sy terug na hom, half geneig om na hom te luister, maar dan staan sy beslis op. Sy sal haar nie weer so maklik van stryk laat bring nie.

Die brief is gestuur en gespanne het Aletta op ’n antwoord gewag. Tien dae het verbygegaan sonder dat sy iets van Frans Naudé gehoor het. Die volgende Vrydagoggend is sy vroeg saam met Susan dorp toe om by die poskantoor navraag te doen, maar die posmeester verseker haar dat daar geen brief vir haar gekom het nie.

Is hy miskien weg, wonder sy, dat hy nooit die brief gekry het nie, of is dit sommer net van pure moedswilligheid dat hy nie antwoord nie? Sy het baie lus en stap reguit na Gawie toe en sê dat hulle die aanbod sal aanvaar.

Net buite die poskantoor loop sy ’n ou vriendin van haar ma raak wat haar nooi om ’n koppie tee saam met haar te gaan drink. Aletta is bly om haar te sien en aanvaar dadelik die uitnodiging. Sy is warm van al die rondjaag en dit gee haar ’n kans om bietjie af te koel voordat sy vir Gawie sien.

Terwyl hulle tee drink, kom twee mans die kafee binne. Sy herken Jan Gouws dadelik, maar hy sien haar nie raak nie en stap na ’n tafeltjie aan die ander kant van die vertrek. Die man by hom lyk vaagweg bekend – sy is seker sy het hom al vantevore gesien, maar sy kan nie onthou waar of wanneer nie. Toe sy en haar ma se vriendin uitstap, kyk die man op. Hy aarsel ’n oomblik toe hy Aletta sien, toe knik hy effens. En skielik weet Aletta wie hy is en waar sy hom laas gesien het. Dit is die jong geoloog wat kort voor haar stiefpa se dood grondmonsters op Tiervlei en party van die ander plase in die omgewing kom neem het. Hy was ’n paar dae op Tiervlei en het ’n hele paar keer saam met hulle geëet.

Wat sou hy en Jan Gouws so druk bespreek? Sy dink weer aan hulle gewese bestuurder se woorde dat hy planne het met Tiervlei wat hulle ryk sal maak, en in die helder sonskyn ril sy skielik soos iemand wat koud kry.

Toe Aletta buite kom, noem iemand haar naam. Sy kyk om. Dis Jan Gouws wat vinnig na haar toe aangestap kom. Haar eerste impuls is om dadelik verder te stap, maar sy dwing haarself om te bly staan.

“Hallo, Aletta,” groet hy hartlik, asof daar nog nooit enige probleme tussen hulle was nie. “Ek hoop dit gaan goed met Tiervlei se boere.”

Sy ignoreer sy uitgestrekte hand. “Baie goed vandat jy weg is, dankie. Wat wil jy van my hê?”

Sy sien hoe die hartlikheid uit sy gesig verdwyn en kortaf sê hy: “Ek het ’n belangrike boodskap vir Frans Naudé. Waar kan ek hom kry?”

“Waarom vra jy nie sy prokureur nie? Hy sal jou sy adres in Amerika gee.”

“Jy weet net so goed soos ek dat Frans Naudé nie meer in Amerika is nie,” sê hy bars.

Sy staar hom ’n oomblik aan, dan sê sy kil: “Jy weet blykbaar meer as ek. En terloops, die polisie soek nog altyd na daardie beeste van ons wat weggeraak het.”

“Laat hulle maar soek,” sê hy. “Toe maar, ek sal gou genoeg uitvind waar Frans Naudé is. Maar pas op. Jy sal nog jammer wees oor jou koppigheid.”

Bewend van ontsteltenis stap sy weg. Dreig Jan Gouws haar? Sy is nie bang vir hom nie. Maar sy is tog bewus van ’n vreemde, onverklaarbare gevoel van onheil.

Moenie verspot wees nie, sê sy vir haarself. Moenie toelaat dat jou verbeelding met jou op loop sit nie. Jy hoef jou nie aan Jan Gouws te steur nie.

Sy sal nou dadelik met Gawie gaan praat, besluit sy. Sy sal hom van Jan Gouws se dreigemente vertel, ook van die jong man wat saam met hom tee gedrink het. Hy sal haar gerusstel. Hy sal weet of Frans nog in Amerika is, of reeds op pad huis toe. Op pad huis toe? Net die gedagte laat haar hart vinniger klop. Maar van watter belangrike boodskap praat Jan Gouws?

Gawie is nie in sy kantoor nie. Hy is in die hof en sy tikster weet nie wanneer hy terug sal wees nie. Aletta is teleurgesteld, maar sy wil nie wag nie. Sy sal gou haar inkopies klaarmaak en dadelik plaas toe gaan. Gawie sal seker die naweek kom kuier, dan kan sy met hom gesels.

Toe sy ’n halfuur later weer by die motor voor die poskantoor kom, sien Aletta tot haar ontsteltenis dat die Chev nie één nie, maar twee pap bande het. Is dit Jan Gouws se werk? dink sy dadelik. Dan ruk sy haarself reg. Die bande is nie meer nuut nie, sy het seker êrens ’n stuk draad of ’n paar geroeste spykers opgetel. Gelukkig is daar ’n garage naby waar sy die bande kan laat regmaak.

In elkeen kry hulle ’n lang, splinternuwe spyker.

Peinsend ry Aletta terug plaas toe. Sy ry vinnig, maar nog nooit was die pad so lank, of was sy so bly om Tiervlei se huis te sien nie. Jim kom haar tegemoet en help haar om haar pakkies in te dra.

“Ek het al onrustig begin word,” sê hy. “Was daar weer ’n donkie op die pad?”

Sy wil haar eers vir hom vererg, maar sien die fyn glinstering in sy oë, die effense glimlaggie om sy mondhoeke, en sy grinnik onwillig.

“Nee, maar ek het ander moleste gehad.” Sy vertel hom van die twee pap bande en in die studeerkamer haal sy die twee lang, blink spykers uit haar handsak en wys dit vir hom. “Daar was een in elke band.”

Hy neem die spykers by haar en bekyk hulle fronsend. “Wat beteken dit?” vra hy, en sy gesig is skielik streng.

Sy haal haar skouers op. Sal sy hom alles vertel, of moet sy liewer eers met Gawie praat? Sy weet nie tot wie sy haar op hierdie oomblik moet wend nie. En Frans Naudé, die man wat haar moet help en bystaan, is baie ver weg en blykbaar totaal onverskillig oor wat met hulle gebeur. Sy voel skielik die trane agter haar ooglede brand en draai vinnig weg, skaam en ontsteld dat Jim haar só moet sien. Dan voel sy sy hande op haar skouers, sterk en tog sag, en hy draai haar so dat hy weer haar gesig kan sien.

“Wat makeer?” vra hy sag. “Wat het nog gebeur?”

Sy kyk op na hom, en haar hart klop onstuimig. Sy is bewus van sy nabyheid en daar is iets in die blougrys oë wat so besorg in hare kyk wat haar met ’n skielike opwinding vervul. Haastig staan sy terug en hy laat haar dadelik gaan.

“Ek is sommer verspot,” sê sy. Meer beslis vervolg sy: “Ek is ook vies omdat ek nog niks van Frans Naudé gehoor het nie. Hy verwerdig hom sowaar nie eers om my brief dadelik te beantwoord nie.”

“Die brief is seker net vertraag. Maar jy het my nog nie vertel wat gebeur het nie.”

Aletta tel haar handsak en van die kleiner pakkies op.

“Ek sal jou later vertel. Ek gaan net vir Ta’ Lettie groet en van my dorpsklere ontslae raak.”

Tryna du Toit-omnibus 10

Подняться наверх