Читать книгу Rykdom in eenvoud - Willem Nicol - Страница 4

Оглавление

Hoofstuk 2

2

Die rotteresies

Wees wakker vir wat met jou aan die gebeur is

In ons moderne industriële samelewing heers daar ’n atmosfeer waarvan die invloed op ons so subtiel is dat ons dit meestal nie agterkom nie. Die doel van hierdie hoofstuk is om ons bewus te maak van wat met ons aan die gebeur is. Dalk bring dit ons weer onder die indruk van die waarde van eenvoud.

Kom ons luister na ’n klompie los uitsprake wat die heersende geestesklimaat in ons samelewing tipeer.

Die predikant van ’n taamlik gegoede woonbuurt sê: “In my gemeente is daar net drie vrae waardeur ’n mens se waarde bepaal word: Wat kry jy? Waar bly jy? Wat ry jy?”

’n Plakker op ’n motor lui: “Happiness is a cash flow”.

Iemand het opgemerk: “Die moderne stad het mos nie meer tempels en katedrale nie. Maar hy het sy winkelsentrums waar die mense offer, en sy sportstadions waar hulle juigend hulde bring.”

In Afrikaans praat ons van “lewenstandaard” as ons materiële standaard bedoel!

Iemand sê die moderne Amerikaanse feeverhaal gaan só: “More possessions means more happiness; anyone who does or produces more, is more important.”1

Tradisioneel het die Rooms-Katolieke Kerk geleer dat daar sewe doodsondes is: hoogmoed, jaloesie, hebsug, vraatsug, seksuele begeerte, woede en traagheid. Die industriële samelewing sê: ses van die sewe sondes word heilig verklaar, behalwe die laaste een, waarvoor al die straf uitgemeet word.

Geld sit agter alles

Dié van ons wat nie baie met die ekonomie te make het nie, besef nie altyd in watter mate ons almal afhanklik is van die vryemarkstelsel nie. In Zimbabwe het ons dit gesien: As ’n land se ekonomie in duie stort, gaan jonk en oud groot swaarkry binne. Die mark het mag, baie mag en het ’n groot invloed op ons lewenstyl.

Vir die suksesvolle funksionering van die vryemarkstelsel moet daar steeds ekonomiese groei wees. ’n Land se ekonomie moet groei, anders neem werkloosheid en armoede toe. Sakeondernemings moet ook groei, anders word hulle deur hul opponente verdring. Daarom kompeteer hulle so straf. Daar kan net groei wees as daar steeds meer geproduseer en gekoop en dienste gebruik word. Om dit te bereik, moet mense beweeg word om geld uit te gee. Daarom gebruik ondernemings ’n aansienlike deel van hul winste vir reklame. En moenie dink die moderne advertensiewese wil mense net inlig oor wat hulle gaan kry as hulle ’n spesifieke produk koop nie. Dit is ook nie net ’n poging om mense op redelike gronde te oorreed nie. Moderne bemarking berus op noukeurige navorsing oor die diep, onbewuste kragte wat mense beweeg, en gebruik ’n duisend metodes om dié kragte in te span. Mense word berekend gemanipuleer om al hoe meer te bestee. In hoofstuk 11 sal ons meer indringend hierna kyk om ons weerbaar te maak teen dié verkoopstegnieke.

As ’n mens graag meer wil bestee, moet jy meer verdien, en om meer te verdien, moet jy gewoonlik meer doen. So kry die ekonomie ’n greep op jou: jy moet soveel moontlik werk, om soveel moontlik te produseer, om ander soveel moontlik geld te laat uitgee, om self soveel moontlik te verdien, om alles te kan koop waarvoor reklame ’n behoefte by jou geskep het ... So word jy gedruk om eintlik aan jou werk te “behoort” en die grootste deel van jou lewensenergie daaraan te wy.

Maar mense het ook ander behoeftes, want die lewe bestaan nie net uit werk nie. Gevolglik moet hulle gemanipuleer word om soveel moontlik van hulself vir hul werk te gee. Mense vir wie ander waardes – soos ryk vriendskappe, sinvolle gesinsverhoudings, egte kultuurbelewing, natuurgenot, egte godsdiens – belangrik is, is “bad news for business”. Daarom moet mense afgeleer word om waarde aan dié dinge te heg. Een bestuurder se uitgangspunt is prontuit: “Die energie wat ons werknemers aan stokperdjies en gemeenskapsdiens bestee, wil ons liewer vir ons onderneming hê.” In baie lande dwing die ekonomie al hoe meer mense om onmenslike lang ure te werk. Hier in Gauteng is dit nie vreemd om te hoor van mense wat half ses soggens ry en eers om sewe saans tuis kom nie.

As die geestesklimaat wat hierbo beskryf is, sterk genoeg is, laat baie mense hulle omkoop. Omdat hulle so graag meer geld wil hê om te bestee, is hulle weerloos teen die suigkrag van hul werk wat hulle meer geld, status en mag aanbied in ruil vir al hoe meer van hul tyd en krag. Hulle offer hulle op in dié proses.

Maar wat help dit om bevorder te word as die wêreld dit nie weet nie? Wat doen jy dus? Jy gebruik jou ekstra geld om duurder besittings te koop. So wys jy jou waarde. ’n Reeks selfone word geadverteer met die vraag: “Wie is jy werklik?” So kry besittings ’n nuwe betekenis. Jy koop nie meer ’n artikel bloot ter wille van die nuttigheid daarvan nie, maar oor wat dit kommunikeer oor die waarde van die eienaar. Besittings word statussimbole; maniere waardeur mense hul waarde wys – en so kry hulle meer mag.

Oorspandering en die ophoping van skuld kom aan die orde van die dag. In die een land na die ander ontstaan daar ’n skuldkrisis omdat mense hul skuld nie meer kan betaal nie, met die gevolg dat daar ekonomiese krisisse ontstaan. Ook regerings kom in die moeilikheid omdat hulle stemme koop deur meer vir hul burgers te belowe as wat hulle op die lange duur kan betaal. Dit verdiep die ekonomiese moeilikhede.

’n Bose kringloop

Hoe meer werknemers ’n onderneming het wat volgens materialistiese waardes leef, hoe meer produseer hulle natuurlik, en hoe meer moet hulle dit adverteer. So is ons terug waar ons begin het. ’n Bose kringloop. Die ekonomie moet groei, en daarom beweeg dit mense om meer te koop; hoe meer hulle koop, hoe meer moet hulle verdien; hoe meer hulle verdien, hoe meer moet hulle koop ... So rol dit aan soos ’n groot wiel wat die sagte, menslike vlees vertrap.

Daar lê twee skadelike uitgangspunte agter die hele kringloop. Die eerste is dat mense nie waarde hét omdat hulle mense is nie. Die tweede: hulle verwerf hul waarde hoofsaaklik deur prestasie en besit en nie deur al die ander ryk moontlikhede wat die lewe bied nie, nie deur menslikheid, kulturele ontwikkeling en sulke sagter dinge nie.

Baie ouers en skole kondisioneer kinders van kleins af om te aanvaar dat hulle dit nie in hulself werd is om geag en bemin te word nie, maar eers moet presteer om agting en liefde te verdien. So skep ons ’n prestasie- en verbruikersamelewing waarin menslikheid al hoe meer verdring word.

Die rotteresies

Een van die kenmerke van so ’n samelewing is dat baie mense se lewe ’n dolle gejaag is. Dit is verstaanbaar. Die geld, mag en status waarna die mense moet streef om te kan voel hulle is iets werd, is beperk. Nie almal kan baie daarvan kry nie. Daarom moet jy kompeteer. Om so gou moontlik soveel moontlik daarvan te bekom. So word die hele lewe een groot kompetisie.

Jy moet meer produseer as die ander, meer verdien, meer koop, mooier besittings hê en hulle beter in stand hou, jou tuin mooier maak, jou kinders beter laat presteer, van meer vakansieavonture op meer eksotiese plekke kan vertel ... meer, meer, meer. Selfs dié wat aanvanklik nie wil nie, word meegesleur om aan dié groot kompetisie deel te neem.

Die gevolg is dat jou lewe heeltemal vol loop. Altyd is daar ’n klomp dinge wat lê en wag om gedoen te word. Jy kan hulle laat lê, maar hulle knaag aan jou, sodat jy skuldig voel om te ontspan. Jy bly aan die jaag van die een ding na die ander. Wanneer jy met iets besig is, kan jy jouself nie ten volle daaraan gee nie, want dit pla jou dat jy ander dinge laat lê. Daarom handel jy dinge te gou af, sonder dat dit jou veel plesier of bevrediging gee.

So ontwikkel die lewe in ’n “rat race”. Die “rotteresies” het inderdaad ’n gepaste simbool vir ons tyd geword: ’n mal gejaag ... waarheen? Waar het die rotte (en die kinders) beland wat betower is deur die musiek van die fluitspeler van Hameln? Waarheen skarrel die rotte oor die dek van ’n sinkende skip? Ook die moderne mens weet nie aldag waar ons ewige gejaag ons gaan bring nie.

Veral die moderne metropool het ’n haastige gees ontwikkel. Haas het kom nes maak in die hart van ons stede en van daar versprei na die harte van die inwoners. Mense jaag nie net wanneer dit nodig is nie; haas het ’n gewoonte geword, ’n chroniese siekte. Dié wat daaraan ly, voel altyd gedrewe. Ek het iemand geken wat gewoonlik laat gekom het, omdat hy telkens nog net gou dit wou doen. As sulke mense nie vinnig genoeg kan beweeg nie, bou die spanning op ... So jaag ons uiteindelik by onsself verby. Ons is meer gerig op doen as op wees. Ons verloor voeling met onsself. Geen wonder nie dat die psigiater Carl Jung gesê het: “Haas is nie van die duiwel nie; dit is die duiwel.”2

Ons verloor onsself

Die plakker sê: “A rat race can only be won by rats”. Dit laat ’n mens dink, nè? Die skrywer Walker Percy sluit sy boek Lost in the Cosmos af met die volgende fantasie. Die stem van ’n buite-aardse wese maak die volgende oproep: “Repeat. Do you read? Do you read? Are you in trouble? If you are in trouble, have you sought help? If you did, did help come? If it did, did you accept it? Are you out of trouble? What is the character of your consciousness? Are you conscious? Do you have a self? Do you know who you are? Do you know what you are doing? Do you love? Do you know how to love? Are you loved? Do you hate? Do you read me? Come back. Repeat. Come back. Come back. Come back.”3

“Do you love?” Inderdaad: die rotteresies maak dat ons mekaar verloor. Tyd en rustigheid is nodig om naby aan ander mense te leer leef, en dit is wat ons nie het nie. Prestasies en dinge word vir ons belangriker as mense.

My vrou is ’n huweliksterapeut en sê soms vir my oor ’n paartjie waarmee sy gewerk het: “Daar is amper niks in hul verhouding nie.” Dikwels het hulle nimmereindigende aktiwiteite veroorsaak dat hulle elkeen in ’n eie wêreldjie leef.

’n Student met wie ek onlangs gesels het, het my nóg ’n helder illustrasie gegee van hoe siek dié lewenswyse is. Hy het genoem dat hy min geld het omdat sy pa bankrot verklaar is. Toe ek sê ek is jam-mer om dit te hoor, sê hy ek hoef nie te simpatiseer nie, want dit het meer voor- as nadele gehad. Hoe so? vra ek. Sy pa en ma het ’n paar sakeondernemings gehad, vertel hy toe. Hulle was byna nooit by die huis nie en die kinders het afgeskeep en ongelukkig gevoel. Toe sy pa bankrot verklaar is, moes die gesin saamstaan, het hulle meer van mekaar gesien, en het die kinders beter begin vaar. Die voordeel daarvan om tydelik ’n bankrot rot te wees! Bankrotskap is ’n nare ding, maar as dit meer voordele bring as die normale lewe van ’n egpaar in die sakewêreld – hoe sleg moet ons normale lewe dan nie wees nie!

Ons verloor nie net kontak met ander nie, maar ook met onsself. “Do you know who you are?” het die stem in die fantasie gevra. Baie mense weet nie. Hulle voel nie dat hulle waarde het deur wat hulle self is nie, maar dat hulle eers waarde het wanneer hulle dit in die oë van ander verdien. So laat ’n mens jou lewenskwaliteit bepaal deur ander. Jy ontwikkel ’n “other directed personality”. Ter wille van sukses in die rotteresies word ons almal “tidy packaged men”, soos W.A. de Klerk dit stel in sy boek The Puritans in Africa. A story of Afrikanerdom.4 Mense wat altyd die goedkeuring van ander soek, is in alles wat hulle doen, gerig op ander mense se menings en gevoelens, en in die proses verloor hulle kontak met hul eie opinies en emosies. Hulle leef nie meer volgens hul eie denke en aanvoelings nie, maar hou altyd hul antennas gespits vir wat ander (van hul) dink. Antennas wat brein en hart vervang! Hulle leef nie, maar word geleef.

Leë mense

Die geweldige kompetisie in die samelewing plaas die klem op kwantiteit in plaas van kwaliteit. Vir sigbare, uiterlike rykdom is daar groot waardering, maar nie vir innerlike rykdom van gees nie. Gevolglik veruiterlik en vervlak die lewe. Ons word leë mense. Al weet ons dat blywende dinge die belangrikste is, kom ons nouliks daarby uit, want in die jaagtog kry die dringendste telkens voorrang bo die belangrikste. Gordon MacDonald gebruik in sy baie praktiese boek oor hierdie onderwerp, ’n Tyd vir orde, die volgende slagspreuk: “Pasop vir die leegheid van ’n besige lewe.”5

Goeie kultuur kry al minder aftrek. Die sensasieversadigde moderne mens vind dit vervelig. As ons nie werk nie, wil ons net “pret” hê; “we amuse ourselves to death”.6 Ons verkies om “onsself te geniet” met TV, internet, kos, drank, films, sportopwinding, “sights” en aankope. ’n Suidelike Amerikaner het van sy noordelike landgenote gesê: “They are in the gobble gobble school.” “Verbruikersdruk” is ’ngepaste term vir die heersende lewenshouding waarin verbruik skynbaar die hoogste goed is. Ons verbruik nie net koopware nie; die populêre kultuur verbruik óns, sodat daar niks in en van ons oorbly nie. Dit verryk ons nie; dit hou ons net besig. Met die hoop tydskrifte, koerante en televisieprogramme tot ons beskikking, kom ’n mens byna nie meer by boeke uit nie. (Die feit dat die leser hier aan die lees is, getuig ten minste van ’n mate van weerbaarheid!)

Die waardes wat ons najaag, is in so mate op onsself gerig dat ons afgestomp raak vir die beter waardes, dié wat ’n mens laat wegdraai van jouself.

Havel, eertydse president van Tsjeggo-Slowakye, het hom soos volg oor die welgestelde Weste uitgelaat: “There is a deep moral crisis in society. A person who has been seduced by the consumer value system, whose identity is dissolved in an amalgam of the accoutrements of mass civilization, and who has no roots in the order of being, no sense of responsibility for anything higher than his or her own personal survival, is a demoralized person. The system depends on this demoralization, deepens it, is in fact a projection of it into society ... People are manipulated in ways that are infinitely more subtle and refined than the brutal methods used in the totalitarian societies.”7

Ons dink ons vind meer geluk, maar in werklikheid vervlak ons ons geluk. Ons is nie meer tevrede met wat ons het nie. Ons is beter verbruikers wanneer ons telkens weer aan ons onvergenoegdheid probeer ontsnap deur nog meer te bestee aan nog meer besittings en vermaak. Die ekonomie hou van ontevrede mense, want dit skep ’n aanvraag vir produkte wat veronderstel is om ons behoeftes te bevredig. Die ekonomie wil graag hê ons moet ontuis voel in ons omstandighede; dat ons gedurig na verandering moet soek. Weens dié druk wat markkragte op ons uitoefen, vind ons dit moeilik om lojaal te bly aan ons werk, ons eggenoot en ander waardevolle verbintenisse. Hulle word soos ou motors vir iets (of iemand) anders of beters verruil. So kompliseer ons voortdurend die lewe.

Die rotgod

Hoe maak ons ’n einde aan dié kringloop?

Ons soek die rigting na ’n alternatiewe waardesisteem. Alle verantwoordelike instellings in ons samelewing, gesinne, skole, kerke en so meer behoort ons te help om ons kompasse hierop in te stel. Veral van gemeentes verwag ’n mens dit. As hulle in alternatiewe gemeenskappe ontwikkel, kan daar in die hele dolle wedloop minstens enkele groepe wees wat in ’n ander rigting beweeg en vir die ander hoop gee dat vryheid moontlik is.

Maar ten spyte van goeie bedoelings slaag die kerke nie altyd hierin nie. Dikwels is die rykste manne ook die invloedrykstes in die gemeente. Die motors rondom die kerk spreek van wêreldse sukses. Die kerkgebou is duur, en ook die predikante probeer hard om soos een van die rykes te lyk. Dikwels trek hulle baie mense en geld deur te verkondig dat God getroue kerkbywoning en dankoffers met uiterlike sukses beloon.

Op sigself is voorspoed nie noodwendig sleg nie, maar: watter boodskap kry die kinders en die ander wat na die gemeente kyk? Kan ons hulle werklik kwalik neem as baie van hulle die indruk kry dat godsdiens ’n mens help om “wenners te wees” in die wedloop van die wêreld?

Die feit dat selfs die kerk, wat gestuur is om die boodskapper van bevryding te wees, hom moeilik aan die greep van die groot wedloop kan ontworstel, moet ons al laat vermoed dat ons hier met ’n enorme mag te kampe het. Jesus se woord volgens Matteus 6:24 stel dit aan die kaak: “Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie.”

Die mag van die materiële en sy bondgenote kon in Jesus se tyd nog nie so erg gewees het as vandag nie. Tog beskryf Jesus reeds dié mag in skrikwekkende terme. Onthou, hierdie woorde is aan Christene gerig. Hulle wou God dien, maar saam met Hom ook nog hul materiële ambisies. Hierop antwoord Jesus: Die materiële is ’n groter en gevaarliker mag as wat julle gedink het; wie dié mag dien, keer daarmee die rug op God. Jesus gee dié mag ’n naam: Mammon. Hy is soos ’n ander god. Hy hínder jou nie net in jou toewyding aan God nie, maar laat jou van God wégdraai. Daarom moet jy kies. Net een van die twee.

Mammon het gedurende die afgelope twintig eeue nie stilgesit nie. Hy het die vryemarkstelsel geïnfiltreer en die mensdom in ’n knelgreep gekry. Ons het met ’n afgod te doen, die god van die rotteresies, die rotgod.

Kristalle

• Ontwikkel insig in die rotteresies wat jou meesleur.

• Moenie die krag van die moderne ekonomie onderskat nie. Dit kan miljoene mense uit armoede ophef. Maar dit kan tegelykertyd miljoene mense in geestelike armoede indryf deur hulle te kondisioneer om die tydelike te oorwaardeer.

• Sien daarna uit om in jou besinning oor eenvoud ’n ander, beter weg te ontdek en in te slaan.

1 Kavanaugh 1991:61.

2 Foster 1978:13.

3 Kavanaugh 1991:3.

4 De Klerk 1975:303.

5 MacDonald 1988:20.

6 Taylor 1974:39.

7 Aangehaal in Kavanaugh 1991:xxvi.

Rykdom in eenvoud

Подняться наверх