Читать книгу Rykdom in eenvoud - Willem Nicol - Страница 5

Оглавление

Hoofstuk 3

3

Daar kom ’n sagter tyd op

In die Westerse kultuur is daar ’n geleidelike klimaatverskuiwing aan die gang. Mense noem dit die oorskuif van die moderne na die laat-moderne of postmoderne lewensgevoel. Die “moderne” lewensgevoel wat van die 17de tot die 20ste eeu geheers het, begin sedert die middel van hierdie eeu geleidelik verswak. Waar die moderne klimaat in die rigting van die rotteresies geneig het, probeer die postmoderne lewensgevoel juis daarvan wegbeweeg.

Dis ’n harde tyd waaruit ons kom

Kom ons probeer eers die moderne lewensgevoel tipeer. Ek wil dit as hard beskryf.

Dink aan die beeld van ’n groot, swart, rokende fabriek. As ons na die verskillende areas van hierdie sinnebeeldige fabriek kyk, help dit ons om die modernisme te verstaan.

Die bron waaruit dié “fabriek” ontwikkel het, is die menslike rede, wat sedert die 17de eeu geweldige suksesse behaal het. Deur rasionele inspanning het die natuurwetenskap gegroei, en deur die praktiese toepassing daarvan het die magtige moderne tegnologie ontwikkel. Groot masjiene kon gebou en reusefabrieke opgerig word, waardeur baie geld gemaak kon word.

Die gevolg is dat die Weste ’n oormatige vertroue op die rede ontwikkel het. Die bestuurders van die “fabriek” is rasioneel en georganiseerd en hardwerkend. Daar is nie tyd vir emosie en sagte menslikheid teenoor sukkelende werkers nie, want die produksie moet opgestoot word. Bestuurders werk met harde doelwitbestuur.

Dit skep ’n omgewing waarin werkers doelgerig kompeteer om bevordering, want jou waarde in die lewe word bepaal deur jou status en verdienste en die statussimbole wat jy daarmee kan aanskaf. Topbestuur kom met baie duur motors werk toe.

In die strewe na prestasie verwaarloos personeel hul gesondheid.

Van die suksesvolste werkers se huwelike is arm, want die rasionele kant van hul menswees word oorbeklemtoon ten koste van die intuïtiewe sy.

Dié wat goed vaar, is oor die algemeen eensame mense, want hulle het nie tyd vir vriende nie. Die vroue wat goed vaar in dié “fabriek”, is nog harder en doeltreffender as die mans.

Die fabriek het ook ’n omgewingsafdeling om te kyk na die klagtes dat hulle die rivier en die lug besoedel en te veel kweekhuisgasse vrystel, maar hulle kry min ondersteuning want die produksiedoelwitte oorheers. Die belangrikste verwagting van die bestuur is nie dat dié afdeling die fabriek se omgewingsimpak moet verminder nie, maar dat hulle moet keer dat die staat die fabriek dwing om dit drasties te verminder.

Dis ’n harde tyd waaruit ons kom, nie waar nie?

Die heersende waardes was dié van besit, prestasie, mag, “manlikheid” en die dergelike. Dit het mense weerloos gelaat teenoor die suigkrag van die rotteresies.

’n Oorgang na ’n sagter tyd

Die afgelope paar dekades is daar in die Weste ’n sagter tyd aan die opkom. Onder die meeste Afrikaners het dié sagter waardestelsel egter nie vinnig ontwikkel nie. Die harde politieke stryd in die land en die blankes se poging om die mag te behou, het die ouer, harder waardes bevoordeel. Sedert 1994 bly dié waardes sterk weens die meedoënlose ekonomiese kompetisie. Die meeste Afrikaners klim in om ten spyte van regstellende aksie en dergelike teenkragte genoeg of oorgenoeg geld te maak.

Hoe lyk dié ná-moderne lewensgevoel? Die postmodernisme kan weer met ’n voorbeeld geïllustreer word. Daar was altyd mense wat uit hulle werk bedank het, maar in die afgelope tyd voel dit asof hulle optrede ’n uitdrukking is van wat onder die oppervlak met die tydgees aan die gang is.

Kom ons kyk na ’n tipiese geval. Nico het by ’n groot onderneming gewerk, en die haastige stadslewe het hom na die platteland laat verlang. Na ’n lang soektog het hy ’n koffiehuisie op ’n pragtige Bolandse dorp gekoop. Hy het net een tafelbediende, sodat hy ook self moet bedien. Dit gee hom tyd om met sy besoekers te kan staan en gesels. Dit is duidelik dat hy dit geniet. Sy vrou bak self. Hy verkoop ook ’n bietjie kuns en interessante handwerk. Hy sê sy inkomste is minder, maar hy is bereid om baie geld op te offer vir dié rustigheid.

Mense en hul verhoudings word heelgemaak

Om die postmoderne lewensgevoel te verstaan, kan ons eerste kyk na die vermindering van mense se vertroue op die rede. Die oormoedige vertroue op die mens se rasionele vermoëns en die skynbaar onbeperkte moontlikhede wat dit open, het van die begin van hierdie eeu af geleidelik begin knak.

Die groot fisici het van toe af begin agterkom dat ons nie álles met rasionele metodes kan verklaar nie. Die ander wetenskappe moes tot dieselfde gevolgtrekking kom.

Dit het ook duidelik geword dat die gevolge van die wetenskaplike en tegniese ontwikkeling nie in alle opsigte positief is nie. Die wêreld het nie regtig ’n beter plek geword nie. Moderne wapentuig het oorloë aangehelp en daar is ook ’n enorme ekologiese krisis geskep. As ’n resultaat hiervan neig die postmoderne lewensgevoel tot minder vertroue op die rede en tot die groter aanvaarding van die feit dat ons nie antwoorde op alle vrae kan kry nie, en nie al ons insigte logies kan kombineer nie.

So het daar groter waardering gekom vir die ander moontlikhede van die mens, soos intuïsie en emosies. Hoof en hart hoef nie meer geskei te word nie, sodat hulle mekaar oor en weer versterk. Die meer rasionele linkerbrein wil nie meer die aktiwiteit van die meer intuïtiewe regterbrein verdring nie; albei hemisfere word gestimuleer om saam te funksioneer.

Meer innerlike integrasie

Hierdie veranderde klem skep moontlikhede waarmee ons weer in hierdie boek te doen gaan kry. Die postmoderne mens verlang daarna om innerlik meer geïntegreerd te raak. Jy wil jouself bymekaarmaak. Jy wil nie net met jou gedagtes leef nie, maar ook naby aan jou hart. So word jy een en heel.

Dit is een van die deure na eenvoud.

’n Neiging wat hiermee saamhang, is dat die verhouding tussen mans en vrouens op ’n dieper vlak herstel word. In die modernisme is die vrou en die vroulike beginsel verdring. Tans sien ons oral dat meer vroue leiding begin neem. Ek het dit duidelik onder studente gesien. ’n Man en vrou het byvoorbeeld teenoor mekaar gestaan as kandidate vir voorsitterskap. Die vrou is verkies en die man moes onder haar dien. Ek wou nog met hom simpatiseer, toe ek agterkom dat hy nie eintlik omgee nie. Ek besef hy is van die volgende geslag.

Vroue en die “vroulike beginsel” oefen toenemend invloed uit op die samelewing. Die hardheid verdwyn; die funksionele, instrumentele dimensie van menswees begin plek maak vir die interpersoonlike dimensie. Ons raak oper vir samewerking met mense wat ingrypend van ons verskil; gevoeliger vir swakker mense; meer geïnteresseerd in interpersoonlike gemeenskap met mense; oper teenoor ons eie en ander se binnewêreld; en gevoeliger vir moederaarde.

Wat laasgenoemde saak betref, word die verhouding tussen mens en aarde ook langsamerhand herstel. Tipies van die modernistiese tydsgees was dat dit die aarde vertrap het. Vir ’n samelewing wat soos ’n fabriek funksioneer, is die aarde net roustof wat lê en wag sodat daar geld uit gemaak kan word. Die mensdom wat die bewaker van die aarde kon wees, het sy vyand geword. In die sagter tyd wat nou aanbreek, besef ons weer ons afhanklikheid van die aarde. Ons weet intuïtief dat die aarde vol misterie is, die handewerk van die Ewige wat Hy nog steeds met sy teenwoordigheid deurdring. Ons ervaar instinktief die aarde as ons moeder na wie ons kan vlug wanneer die stad ons wil vasdruk, as die wegwyser na ’n natuurliker vorm van menswees. Vir party hedendaagse mense word dit byna ’n godsdiens: die liefde vir en verering van ons Groot Moeder Aarde. (Dit kan oordryf word en lei tot onrealistiese sienings hieroor.)

Hier is nog een van die sleutels tot eenvoud. As ’n mens jou weer vir die aarde kan oopstel, word jy gesuiwer.

Die godsdiens neig na eenvoud

In die godsdiens voel ons die afname van die rasionele ook duidelik. Ten opsigte van melodieë wat byvoorbeeld in die NG Kerk gewild is, is daar ’n verskuiwing wat moeilik te beskryf is, maar ’n mens kan aanvoel dat dit hiermee saamhang.

Vergelyk byvoorbeeld die melodie van Psalm 100 uit 1926 (“Juig al wat leef”) met dié van die 13 Taizé-liedere wat in die Liedboek van die Kerk van 2001 opgeneem is (181, 211, 221, 222, 224–227, 303, 333, 369, 384 en 526). In baie gemeentes het dié liedere met hul eenvoudige melodieë en woorde gewild geword en word daar dikwels dienste gehou met ’n meer meditatiewe atmosfeer.

Is ons na aanleiding hiervan besig om in ons sang al verder weg te beweeg van die tradisionele forsheid, sekerheid en gedagterykheid, en al nader aan eenvoud en sagter emosie? Die orrel pas meer by eersgenoemde, en daarom word orrelbegeleiding in baie kerke nie meer alleen aangetref nie. Eenvoudiger melodieë en woorde word gewild. Uit ’n rasionele oogpunt lyk dit na vervlakking, maar in terme van egte belewenis kan dit ook as allesbehalwe vervlakkend gesien word.

Predikante vind dat daar ’n dalende behoefte is aan lerende preke, en ’n groter aanvraag vir prediking wat ook die ervaring en belewenis aanraak. Mense wil nie net nuwe gedagtes leer verstaan nie, maar ook bekende gedagtes dieper beleef. Daarom is meditasie gewild – mense wil hulle gevoeliger oopstel vir die ervaring van hul geloof.

In dit alles het ons ook te make met die ontginning van eenvoud.

Blom volgens jou eie aard

Die postmoderne klimaat bied meer ruimte vir die uniekheid van elke groep en individu. In die modernisme het dit gegaan om vooruitgang volgens die moderne natuurwetenskap en tegniek, wat tot eenvormigheid neig. Die verwagting was dat vooruitgang die mensdom al hoe eenvormiger sou maak. Volkseie tradisie is beskou as sleg, omdat dit die vorming van uniformiteit sou teenwerk. Almal wat nog nie soos die rykste lande van die Weste was nie, is as agterlik beskou, en moes volg.

Vandaar die Nazi-gedagte dat die Duitse volk die leidende ras behoort te wees en die wêreld moet oorheers. Vandaar ook die Kommunisme se destydse doelwit om die hele wêreld in te palm.

Albei hierdie magte het enige teenstand met geweld onderdruk, en gedwonge uniformiteit probeer oplê.

Noudat ons agtergekom het dat vooruitgang volgens hierdie model nie alle probleme oplos nie, beweeg ons in ’n ander wêreld in. Ons besef dat elke groep opgehoopte rykdomme in hul tradisie het wat nooit oorbodig word nie.

Die koue rede verstaan nie die waarde van moedertaal, volksmusiek, eie godsdienstige styl en dergelike dinge nie, maar intuïtief weet ons dat ons dit nodig het.

Verskillende tradisies en agtergronde is nie agterlikheid nie, maar rykdom. Veelheid is nie ’n bedreiging nie, maar ’n verryking. Elke groep kan gerus op hul eie aard en kultuur trots wees, en dit vrolik voortsit, want so verryk ons mekaar en ons wêreld. In ons reënboognasie is ons bevoorreg om hierdie moontlikhede duideliker te beleef as baie in ander lande.

Hierdie kragte kan ons help in ons stryd om ons lewe te vereenvoudig. As ’n mens ander toelaat om vir jou te sê hoe jy moet lyk en leef, word jy van jou wortels losgemaak, en kan jy verslaaf raak aan die moderne wêreld. Yuppies met hul netjiese pakke en haarstyle lyk almal dieselfde al kom hulle uit ’n Afrikaanse, Engelse of ander agtergrond.

Maar as ’n mens jou eie aard waardeer en uitleef, staan jy sterker teen dié verslawende kragte. Dit hang daarmee saam dat eenvoud in ’n mens se persoonlikheid onder meer beteken dat jy jou vrylik kan uitleef.

Daarby kom ons weer in hoofstuk 7, want dit is een van die stamme van eenvoud.

Finale gevolgtrekking: in die huidige “sagter” klimaat is eenvoud nie outyds nie, maar modern verby!

Kristalle

• Moenie in die harde gees van moderniteit bly vashaak nie.

• Beweeg saam met jou tyd in soverre dit goed is. Laat toe dat die postmoderne lewensgevoel jou aptyt wek vir eenvoud.

• Moenie toelaat dat jou rasionele linkerbrein jou kreatiewe regterbrein inhok nie.

• Stel belang in jou kulturele en geestelike wortels, en laat hulle jou help om jouself vryer uit te leef.

Rykdom in eenvoud

Подняться наверх