Читать книгу Rykdom in eenvoud - Willem Nicol - Страница 6
ОглавлениеHoofstuk 4
4
God wys die ander pad: Jesus
Dit is duidelik dat ons ’n ander pad moet kry as dié van die rotteresies. God wys dit vir ons, veral deur sy groot “aanskouingsles”: Jesus Christus.
God het dinge geweldig vereenvoudig. Terwyl mense nimmereindigend kan praat oor lewenstyl, het Hy net een Man gestuur, en gesê: Kyk hier, hier is die lewe! Daar kan oneindig geredeneer word oor die pad na God, maar God Self het sy vinger op een Man gedruk, en gesê: Hier is die pad.
Ons maak dinge ingewikkeld. God maak hulle maklik. Hy kies eenvoud.
Jesus was ’n mens. As daar oor sy lewe gepraat word, word daar oor menslike lewe gepraat. Wat Hy geleer het, is die enigste lewenstyl wat regtig vir mense werk.
Ons bely ook dat Jesus God is. Dit beteken onder meer: in Hom sien ons ’n ware mens. Ek verduidelik. Ons mense is na God se beeld geskep, dit wil sê ons is geskep om so te leef dat daar ’n weerkaat-sing van God in ons lewe gesien kan word. Vanweë die sonde is dié weerkaatsing gewoonlik dof. Jesus het gekom om te wys hoe God weerkaats kan word, en om dit vir ons moontlik te maak. Hy is die ware beeld van God. As ons Hom sien, sien ons God. In sy lewe sien ons hoe ons bedoel is om te leef.1 Kom ons vorm dus vir ons ’n beeld van die leefwyse van Jesus.
Vreugde!
In die vier Evangelies kry ons ’n beeld van die lewe van die vromes van Jesus se tyd. Wat ons telkens sien, is dat hul godsdiens met ’n diep vreugdeloosheid gepaardgegaan het. Die vrome skrifgeleerdes brom dat Jesus saam met tollenaars en sondaars eet, en skel Hom uit vir ’n “vraat en ’n wynsuiper” (Matt 11:19; Mark 2:16). Hulle maak beswaar as Hy vir die verlamde man sondevergifnis aanbied (Mark 2:5–7). Die Fariseër dank God, maar waarvoor? Dat hy soveel beter is as ander mense! (Luk 18:9–12).
As beeld vir al dié vreugdelose vromes gebruik Jesus die gelykenis van die ouboet van die verlore seun. Hy kla by sy pa: “Nog nooit het ek ’n opdrag van Pa verontagsaam nie, en vir my het Pa nog nooit eers ’n bokkie gegee sodat ek saam met my vriende kan feesvier nie. Maar nou dat hierdie seun van Pa, wat Pa se goed met prostitute deurgebring het, terugkom, het Pa vir hom die vetgemaakte kalf geslag” (Luk 15:29–30). Hy vier nooit fees nie en van blydskap oor sy verlore broer se terugkeer is daar by hom nie sprake nie. Jesus beeld die vreugdeloses ook uit met die beeld van die arbeiders wat jaloers was omdat ander werkers dieselfde loon as húlle gekry het vir minder werksure (Matt 20:11–12).
In skerp kontras met dié suur lewensuitkyk kom Jesus met die boodskap dat die genade alleen in vreugde ontvang kan word. Daarom het Jesus God geloof en geprys dat Hy God se genade kon bekend maak (Matt 11:25–26). Daarom vertel Jesus ook in die verhaal van die verlore seun dat net een ding van hom verwag is: hy moes hom by sy terugkeer werklik verheug oor sy pa se goedheid.
Jesus het ook nog baie ander beelde gebruik om die vreugde van die Christelike lewe te beklemtoon.
Hy vertel van mense wat sommer sonder rede na ’n bruilofsfees genooi word (Matt 22:9, 25:10).
Hy vergelyk die koninkryk van God met ’n feesmaaltyd (Luk 14:15–16).
Hy sê dit is soos ’n vrou wat haar vriendinne bymekaarroep en sê: “Wees saam met my bly ...” (Luk 15:9).
Hy sê om die koninkryk te vind is soos iemand wat onverwags ’n skat ontdek en so vol vreugde daaroor is dat hy al sy besittings verkoop om dit syne te maak (Matt 13:44).
Hy vergelyk dit met ’n veroordeelde wie se skuld van miljoene rande onverwags en onverdiend vrygeskeld word sodat hy vrykom (Matt 18:27).
Die boodskap is duidelik: die heil word nie met swaar inspanning nagejaag nie, maar is soos saad wat vanself ontkiem terwyl ’n mens slaap (Mark 4:26–29). In dié verhaal noem Jesus nie dat ons verbete moet skoffel of natlei nie; Hy beklemtoon net die goedheid van God.
Die vreugde van Jesus en sy volgelinge word begrond in die vreugde van God. God verbly Hom wanneer ’n mens by Hom tuiskom (Luk 15:5, 9, 23). God se kinders kan saam met Hom bly wees. Die hart van Jesus se boodskap is die rede vir ons vreugde. Om dit goed te verstaan, kan ’n mens dit kontrasteer met die boodskap van sy voorganger, Johannes die Doper.
Absolute eenvoud
Waar Johannes verkondig het dat God mense sal vergewe as hulle hul bekeer (Mark 1:4) – dus éérs bekering, dan vergifnis – het Jesus die orde omgekeer. Hy het kom verkondig dat God klaar besluit het om die mense te vergewe. Die groot besluit is klaar geneem, en die mense kan dit net glo. Jy verbly jou in dié geloof, bely jou sonde en draai weg daarvan. Eers die vreugde van die geloof, en dan volg die res.
God ís dus soos daardie koning van wie Jesus vertel het – hy het ’n ope uitnodiging na sy feesmaal uitgestuur (Matt 22:9). Hy het klaar besluit dis vir almal. En dié wat dit glo, word so bly dat hulle alles verkoop (Matt 13:44, 46); dat hulle selfs die visnette los waarmee hulle hul brood verdien (Mark 1:18) en kom.
Een rede waarom almal nie kom nie, is dat Jesus se boodskap vir hulle te eenvoudig is. Daar is geen voorwaardes nie. Niemand word gevra om eers hul kant te bring nie. Die verlossing is verniet. Vir baie is dit net te eenvoudig. Hulle kan nie aanvaar dat die grootste van alles verniet kan wees nie.
Maar dit is juis waar ware vreugde begin. By die absolute eenvoud van God se aanbod. Jy kan dit net soos ’n kind aanvaar. Daarom is die blye boodskap die moeder van alle eenvoud. Teen hierdie agtergrond kan ons ook Jesus se verhouding met kinders verstaan. In die Joodse samelewing moes kinders uit grootmense se pad bly. Dus was die dissipels se irritasie met die mense wat kindertjies na Jesus wou bring, heel normaal. Maar toe hulle met die moeders en kinders raas, raas Jesus met húlle. Hy het die kleintjies teen Hom vasgedruk en hulle geseën. Sy woorde by dié geleentheid het die Joodse waardes omgekeer: Kinders hoef nie eers grootmense te word nie, maar grootmense moet soos kinders word. Die rede? Mense kan die vriendskap van God net kry as hulle dit ontvang soos kindertjies wat nog niks van hul kant af kan bydra nie (Mark 10:13–16).
Om maklik te kan bid
Ook gebed word in Jesus se teenwoordigheid radikaal vereenvoudig. Soos water baie makliker bekombaar is wanneer dit tot in jou huis aangelê is, so word gebed maklik wanneer Jesus die goedheid van God tot in jou lewenshuis aangelê het.
Die eerste opvallende feit oor die eenvoud van gebed is die bondigheid van die Ons Vader-gebed wat Jesus sy dissipels geleer het.
In Jesus se tyd was lang gebede aan die orde van die dag. Jesus het self lang tye in gebed deurgebring – soms selfs deurnag. Maar toe hulle Hom vra: “Here, leer ons bid”, het Hy hulle ’n baie kort en baie eenvoudige gebed geleer. Net ses versoeke in kort sinnetjies (Matt 6:9–13). Dit is so kort dat ’n mens dit rustig in ’n halfminuut kan voltooi.
As ’n mens die Ons Vader met ander gebede van daardie tyd vergelyk, is die bondigheid daarvan uniek. In die nie-Joodse wêreld was daar byvoorbeeld die idee dat ’n mens God moes sag maak met baie woorde; Jesus noem dit ’n “stortvloed van woorde” (Matt 6:7).
’n Voorbeeld hiervan is die Baälpriesters in Elia se tyd, wat hulle god probeer oorreed het om vuur op die altaar af te stuur. Heeldag deur het hulle hom aangeroep, al harder, al meer fanaties, tot die punt waarop hulle hulself stukkend gekerf het om hom te beïndruk (1 Kon 18:26–29). Dikwels is by so ’n biddery ’n hele klomp godsname aaneengeryg, omdat bidders nie seker was op watter naam hul god sou reageer nie.
Ook die Jode het dikwels eretitels vir God opeengehoop. Hulle gebede was later so lank dat dit in hul geskrifte as ’n probleem genoem word. Van dié tradisie sê Jesus: “Hulle (die skrifgeleerdes) sê vir die skyn lang gebede op” (Mark 12:40).2
Waarom sou Jesus dan afwyk van dié gebruik en sy volgelinge so ’n besondere kort gebed leer? Ons kry die antwoord in Matteus 6:7–8. Jesus sê ons moenie soos die heidene met ’n stortvloed woorde bid nie – omdat dit nie nodig is nie! “Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik. Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra.”
Eenkeer het ek ’n loodgieter en sy handlanger dopgehou in hul werk. Hulle verstaan mekaar so goed dat die een net ’n klein sein hoef te gee en dan weet die ander een wat hy nodig het. So is dit met gebed. God ken ons behoeftes net so goed as wat ons hulle self ken. As die sein uit ons hart kom, verstaan Hy dit onmiddellik. Eintlik nog gouer as dadelik: nog vóór ons Hom vra, sê Jesus hier.
God weet nie net wat ons nodig het nie; Hy hoef ook nie oorreed te word om vir ons goed te wees nie. Jesus sê dis die heidene wat dink “baie woorde” is daarvoor nodig. Ons mag weet dat ons gebede verhoor word omdat God dit in elk geval graag wil doen.
Die innigheid van ons verhouding met God word nie bewys deur lang gebede nie, maar volgens Jesus deur die eenvoud van ons gebede. Jesus bring ons só onder die indruk van God se goedheid dat ons maklik ons harte vir Hom oopmaak en reguit kan praat oor ons behoeftes. Dan is ’n lang gekarring mos nie nodig nie. As twee mense mekaar nie genoeg vertrou nie, is daar dikwels ’n lang gepratery, maar twee wat mekaar vertrou, spreek sommer gou af.
Hiermee gaan dit saam dat die woordelose vorm van gebed (kontemplatiewe gebed of gebed van die hart) bestaan uit rus by God in totale eenvoud. As ek hier kom, praat ek nie meer nie, maar rus net soos ’n kind wat op die skoot van sy ma sit.
Besittings wat jóú nie besit nie
As Jesus ’n mens eenmaal oortuig het van die goedheid van God, kom daar ’n eenvoud in jou verhouding met Hom en in jou gebede. Hierdie eenvoud dring op die lange duur deur tot elke ander lewensterrein.
In Jesus se aardse lewe sien ons dat vertroue op God ’n mens vry maak van die materiële.
Jesus het arm grootgeword. Hoewel sy pa as skrynwerker tot die middelklas behoort het, het hy dit klaarblyklik nie breed gehad nie, aangesien hy vir die offer van die armes gekwalifiseer het: vir Jesus se reinigingseremonie kon hy nie die voorgeskrewe lam bekostig nie, en offer net twee duiwe (Luk 2:24; Lev 12:8).
Jesus het in Galilea grootgeword, ’n agterlike gebied. Aan die begin van sy openbare loopbaan het Hy vir Hom ’n groep volge-linge versamel van wie ’n hele paar vissers was – ook uit die laer middelklas. Hierna gaan Jesus nie voort met sy skrynwerk nie, en leef soos baie skrifgeleerdes van die gawes van ander. Ons weet dat die skrifgeleerdes wat só geleef het, gewoonlik heel arm was. Geen wonder dat die dissipels maar één gemeenskaplike beursie tussen hulle gehad het nie!3
Kom ons stel ons Jesus se lewenstyl ’n oomblik voor. As ’n mens soggens opstaan, trek jy aan wat jy gister gedra het en wat jy altyd dra, want dis al wat jy, wat so baie op pad is, by jou het. As jy êrens heen wil gaan, loop jy, want jy besit geen vervoermiddel nie. As jy by winkels kom, koop jy niks, want jy het nie geld by jou nie. En as jy die keer ’n geldjie het, koop jy en jou vriende net die noodsaaklikste kos. As dit aand word, of as die weer onaangenaam word, gaan jy nie na jou huis nie, want jy het nie een nie (Luk 9:58).
Was Jesus dus ’n askeet wat daarteen gekant was dat mense dinge besit en dit geniet? Nee. Hy het daarvan gehou om lekker te eet. Sy opponente het smalend na Hom verwys as ’n “vraat en ’n wynsuiper” (Matt 11:19). Ook met besittings as sodanig het Hy nie ’n probleem gehad nie. Saggeus was ’n ryk man, en Jesus het nie beswaar gemaak toe hy die helfte van sy besittings vir homself gehou het nie (Luk 19:8).
Daar ís tekste in veral Lukas wat dit laat lyk of ’n mens slegs ’n dissipel van Jesus kan word as jy jou besittings afsweer (bv. Luk 14:33), maar ons sal in hoofstuk 11 sien dat dit nie Jesus of Lukas se bedoeling vir die kerk was nie.
Toe dit vastyd was vir die volgelinge van die Fariseërs en Johannes die Doper, het die mense Jesus gevra waarom sy dissipels nie vas nie (Mark 2:18). Hoewel Jesus by Johannes die Doper aansluit, was daar op hierdie punt ’n belangrike verskil tussen hulle. Johannes het definitief asketiese trekke vertoon. Hy het van veldkos gelewe en in die woestyn opgetree; dus moes mense alles verlaat om na hom toe te kom. Voor sy openbare bediening begin het, was Jesus ook in die woestyn, maar daarna het Hy na die mense toe uitgegaan waar hulle woon, en hul gawes aangeneem.
Jesus se boodskap oor besittings is nie dat sy volgelinge gekenmerk moet word deur hoe min hulle besit nie, maar deur hul vryheid van besittings. Die perikoop in Matteus 6 wat oor besittings handel, moet van vers 19 af gelees word. Alles hou verband. Die rede waarom ons ons nie bekommer oor wat ons sal eet en aantrek nie (v. 25), is die feit dat God vir ons sorg.
Dit is ook die rede waarom ons nie baie besittings opgaar nie. As ’n mens God nié vertrou nie, en jou bekommer oor kos en klere, veral môre se kos en klere (v. 34), móét jy natuurlik besittings opgaar om te verseker dat jy elke môre genoeg kos en klere sal hê. Maar as jy regtig vertrou dat Gód vir jou sorg, verander alles. Dan lê jou hart nie by jou besittings nie (v. 21). Dan vertrou jy nie meer daarop nie, raak jy nie meer daaraan verknog en verslaaf nie en pynig jy jouself nie langer met bekommernis daaroor nie. Jy maak nie meer van besittings ’n probleem nie; hulle word vir jou “die kleinste ding” (Luk 16:10). Daarom maak jy dit nie meer vir jouself tot ’n moet om óf gebrek te ly óf oorvloed te hê nie.
Daarom sien ons in Matteus 10 dat die dissipels uitgaan om die groot boodskap te verkondig sonder om geld saam te neem. Hulle was vol vertroue dat die mense wat die vreugdeboodskap verniet van hulle ontvang het, hulle verder sou help (Matt 10:9). Jesus se boodskap oor besittings was dus dat ons lig moet reis. Ons hoef nie op ons pad deur die lewe ’n swaar pak materiële besorgdheid saam te sleep asof God nie ons Vader is nie.
Op dié manier word ons aktiwiteit vereenvoudig. ’n Storie wat in Lukas 10 vertel word, illustreer dié punt: “Op hulle reis het Jesus in ’n dorp gekom waar ’n vrou, Marta, Hom as gas ontvang het. Sy het ’n suster gehad, Maria, wat aan die voete van die Here gaan sit en na sy woorde geluister het. Maar Marta was baie bedrywig om alles klaar te maak. Sy kom toe daar staan en sê: ‘Here, hinder dit U nie dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê sy moet my kom help!’ Maar die Here antwoord haar: ‘Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, maar net een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie’” (Luk 10:38–42 – my kursivering).
Daar ís “baie dinge” in die lewe, en ons kan nie daarvan wegkom dat ons aan baie van hulle aandag moet gee nie. Maar daar is óók “een ding” wat werklik nodig is. En ’n mens kan jou so deur die baie laat beheer dat dit die een verdring; óf jy kan die een so sentraal stel dat dit die baie beheer.
Wat is dié “een ding” waarvan Jesus praat? Dit is om aan God se voete te sit; om jou op Hom te rig en deur Hom te laat rig. Dan ontvang jy dinge wat nie van jou weggeneem kan word soos met wêreldse dinge kan gebeur nie. Hiervan is Jesus Self vir ons die voorbeeld. Die woestyn waar Hy sy loopbaan begin het, was ’n plek van stroping waar Hy Hom net op God gerig het. Later, toe Hy bekend was en groot menigtes om Hom saamgedrom het, “het Hy Hom altyd weer in eensame plekke afgesonder om daar te bid” (Luk 5:16). Dit was sy gewoonte. Wanneer dinge te dol raak, het Hy gefokus op wat God se wil is. Hy het die luike na Bo oopgestoot. So kon Hy onder die beheer van die groot vrede bly leef en werk.
Bevrydende besorgdheid
Hierbo het ons geraak aan wat Jesus oor besorgdheid te sê het, maar in die tweede helfte van Matteus 6 word meer oor die saak gesê. God bevry ons nie net van materiële besorgdheid nie; Hy gee ons ook ’n nuwe, bevrydende besorgdheid.
Jesus sê eintlik: Julle is so besorg oor jul eie kos en klere, maar julle het die saak verkeerd om, want dit is God wat oor júlle besorg is. Daarom hoef julle julle nie meer oor jul eie kos en klere te bekommer nie, en kan julle begin om julle oor ander se kos en klere te bekommer. Matteus 6:33 sê dat ons kan begin om ons vir die wil van God te beywer. En wat is volgens Jesus se bergrede (waarvan Matteus 6 deel vorm) die wil van God? God se wil is dat ons op ander se sorge gerig sal wees.
Matteus 7:12 som die hele bergrede só op: “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen.” As ’n mens ander se sorge joune maak, beweeg jy in God se sorg in, en word jy van jou eie sorge bevry. Die pad uit bekommernis is die pad via vertroue op God na omgee vir ander. Jy draai weg van jouself na die ander toe.
Die selfgerigte lewe is ingewikkeld. ’n Mens se behoeftes is so baie, so ambivalent, so deurmekaar, dat hulle jou lewe kompliseer as jy hulle te veel mag oor jou lewe toelaat. Daarenteen is die op-die-ander-gerigte lewe eenvoudig.
1 Korintiërs 13 het dit nog altyd gesê:
“Die liefde is geduldig,
die liefde is vriendelik;
dit is nie afgunstig nie,
is nie grootpraterig nie,
is nie verwaand nie.
Dit handel nie onwelvoeglik nie,
soek nie sy eie belang nie,
is nie liggeraak nie,
hou nie boek van die kwaad nie.”
– 1 Kor 13:4–5
Liefde lei tot nederigheid, en so kom ’n mens weg van al die onnodige gestoei om jou posisie te handhaaf. Die dissipels het byvoorbeeld begin koppe stamp omdat twee van hulle die hoogste pos in Christus se koninkryk wou hê (Matt 20:20–28). Maar Jesus verduidelik dat sy dissipels se lewe heeltemal anders gerig moet wees.
By die nasies werk dit so dat die sterk manne oor die ander baasspeel, maar onder Jesus se volgelinge word die orde omgekeer: “Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees” (Matt 20:26).
Die algemeen menslike neiging is om gedien te wil word, maar Jesus-mense strewe daarna om self te dien, en al meer daartoe bereid te wees. In hierdie sin kan ons sê dat Jesus-mense nie boontoe strewe nie, maar ondertoe. In hul verhouding met ander wil hulle nie hulle voete op die ander se koppe kry nie, maar hul hande op ander se voete. Om dit te was. Soos Jesus gedoen het (Joh 13:14).
Die Jode het hulle baie besig gehou met die vraag wat God se wil alles behels. Oor die algemeen het hulle dit egter nie reggekry om te fokus op wat vir God belangrik is nie. Hulle het dinge ingewikkeld gemaak. Daar was net tien gebooie, maar hulle het ’n verdere “heining” van 613 gebooie rondom die bestaande tien gespan om seker te maak dat jy nie naby aan die oortreding van enigeen van “die groot tien” kom nie.
Jesus het Hom nie aan al hierdie ekstra gebooie gehou nie (bv. Mark 2:24). Vir die Jode het Hy gewaarsku dat hulle so in detail verstrik geraak het dat hulle die belangrikste oor die hoof gesien het. Daarom noem Hy die Fariseërs “huigelaars” en sê: “Julle gee tiendes van kruisement, anys en koljander, maar wat volgens die wet van God die swaarste weeg, laat julle na: geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid” (Matt 23:23). Hiermee verwys Hy na die Ou-Testamentiese wet wat net vereis het dat ’n mens van jou graan en vrugte ’n tiende vir God moes gee (Lev 27:30), maar die Jode het verder gegaan en selfs ’n tiende van hul kruie gegee! Die oorywerigheid het hulle so besig gehou dat hulle nie by die eintlike saak kon uitkom nie: om reg te doen teenoor ander (geregtigheid); om ’n gevoel vir hulle te hê (barmhartigheid), en getrou te wees in hul optrede (betroubaarheid). Saam beteken hierdie drie dinge dat ’n mens nie vir jouself moet leef nie, maar vir ander.
Matteus 15 illustreer die saak pragtig.
Die Fariseërs het Jesus verwyt dat sy dissipels die gebooie oortree deur nie hul hande voor en na ete af te spoel nie. Hierdie afspoeling was nodig om rein te bly voor God, en daar was fyn voorskrifte oor hoe om dit te doen. Hande moes twee maal begiet word, elke keer met minstens 130 ml skoon water. Die hande moes boontoe wys tydens die begieting, anders kon die water wat onrein geword het deur aanraking met die voorarm, terugvloei en die hande weer onrein maak.4
Jesus verwerp die Fariseërs se beswaar, en verduidelik vir sy dissipels dat ’n mens nie onrein word deur wat by jou mond ingaan nie (Matt 15:11–20), maar deur wat by jou mond uitgaan. Hoe so? Jou hart bepaal wat by jou mond uitkom – wat jy sê – en die hart is ook die bron van die onreinheid van die mens.
Hiermee keer Jesus die hele Joodse idee van reinheid met sy talle voorskrifte om. Dit gaan nie om rituele reinheid nie, maar om reinheid van die hart.
En hoe lyk ’n rein hart volgens Jesus?
Dis nie ’n hart wat deur 613 gebooie skoon gehou word nie. Dit is ’n hart wat sy suiwerheid vind in die konsentrasie op een gebod: die gebod van die liefde. Dis ’n hart wat deur die hoogspanning van God se liefde geraak is, sodat dit geëlektrifiseer word tot liefde vir Hom en die naaste. Dis ’n hart wat deur God van selfsug bevry is. Teenoor die 613 voorskrifte stel Jesus die dubbelgebod van die liefde teenoor God en die naaste (Matt 22:40). Die “een ding” waaraan Jesus vir Marta herinner het, suiwer die hart.
Søren Kierkegaard, die Deense filosoof-teoloog, het in 1846 die saak raak saamgevat in die titel van een van sy boeke wat soos volg vertaal kan word: Reinheid van hart is om een ding te wil.
Só kom God
Mense is wesens wat bewustelik en onbewustelik soek na weerkaatsings van God. Ons verlang om te sien wat mooi en goed is, en wat sin sal maak van die lewe. Op baie plekke het ons dowwe weerkaatsings gesien, maar op een plek was dit so helder dat ons kon sê: Hier het God gekom.
In Jesus het God Homself vir ons kom wys, sodat ons kan weet hoe die lewe regtig lyk. Kom ons staan stil en vra onsself af: In watter soort mens het God toe gekom? Hy het in die tyd van die groot Romeinse Ryk gekom. In dié ryk was daar baie belangrike stede en kultuursentra, magtige sosiale stande en vooraanstaande families. Jesus sou as ’n Romeinse senator of militêre veldheer kon kom.
Maar God het besluit om die ander pad te vat. Hy kies Galilea, een van die agterlikste provinsies van die Ryk, en Nasaret, een van die mindere dorpe, en dáár word Hy mens as seun van ’n arm skrynwerker. Jesus sou Hom in dié ambag kon opwerk, maar Hy het nie. Ons tref Hom aan op die pad saam met ’n klompie vaste volgelinge, ’n swerwer te voet, sonder huis of gesin, prakties sonder enige besittings.
Jesus kom in ’n ander gestalte as wat ons van God sou verwag: as mens met min besittings, status of mag. Maar juis daarom vry vir menslikheid. Soos Van Wyk Louw gesê het:
Nie uit die wit paleise nie
wou Hy (uit soewereine Wil)
tot ons soort staat gebore word;
maar, waar die Kuise en die Arme stil
en buite die hotel se poort
verniet loseer het in die stal,
het Hy, Visarendjie van God,
in ons benoude vlees geval.
Die eerste oë wat Hom sien,
was skawagters vol strooi en stof:
kras manne wat in skerms woon
en ruik na bok en rook en mof;
ná baie dwaal en baie soek
– en selfs digby Herodes vra!
kom eindelik die Wyses tóg
met goud en wierook agterna.
Hy het sy eerste kern gekies
nie uit geleerdes in die Skrif
of dié wat hande en borde was
met koue voorgeskrewe drif;
maar vissers en ’n tollenaar
die’t Hy geroep met sagte groet:
manne met harde hande en sweet
en eelte, en ’n oop gemoed.
En toe Hy sy groot net uit laat gooi
regs van die boot en links en regs,
het Hy ingesleep: ’n vreemde prooi –
’n visvangs soos die óú Wet slegs
in skaam vermoede kon vermoed –
melaats, besete, ryk of klein;
sondaars van elke kleur en geur,
maar in Sy glimlag, skielik: rein.5
God wys sy gesig in ’n mens wat niks bereik wat ons aandag kan aflei van dit waarvoor Hy gekom het nie.
Dit is so eenvoudig dat ons dit in een frase kan saamvat: Jesus draai van Homself weg en wend Hom volledig na God en die mense.
Kristalle
• Laat die beeld van Jesus soos ons dit in die Bybel leer ken die magneet wees wat jou na ’n leefwyse van eenvoud aantrek.
• Sorg dat jou reis na eenvoud begin by die begin, dit wil sê by die vreugde oor God wat Jesus vir ons gebring het. Laat dié vreugde jou in beweging bring weg van ’n oorwaardering van alle vlakker vreugdes af.
• Wanneer jy met God praat, laat jou woorde eenvoudig en openhartig wees soos dié van ’n kind.
• Probeer één ding in jou een lewe: nie om goed te doen vir jouself nie, maar om goed te doen aan ander. Laat jou lewe gekenmerk wees deur een ding: ’n volledige terugkering na God en die mense.
1 Die streng historiese wetenskap onderskei dikwels tussen die historiese Jesus en die verkondigde Christus. Hulle bedoel dat nie al die stof in die Evangelies streng gesproke historiese vertellings is nie, maar dat van die stof verkondiging is. As hulle dus ’n beeld wil vorm van hoe die konkrete, historiese mens Jesus destyds in Palestina geleef het, gebruik hulle nie al die stof in die Evangelies nie. In hierdie boek werk ek nie met so ’n skeiding nie. God het sy gesig vir ons gewys. Daarvoor het Hy nie net die lewe van Jesus gebruik nie, maar ook die wyse waarop Jesus se lewe die vroeë Christene aangegryp het en die wyse waarop hulle dit verkondig het. Die beeld van die ware mens en die ware God sien ons dus oral in die Evangelies. Dit verander niks aan die saak dat ons elke Evangelis se eie tipiese denkwyse ook in elke Evangelie kan sien nie. Maar dit sit in die Evangelie as geheel, en word, net soos die beeld van Jesus, nie hier van die res van die inhoud geskei nie.
2 Jeremias 1971:187.
3 Pilgrim 1981:46–47.
4 Strack & Billerbeck 1969: 698–699.
5 “Feesgedig” deur N.P. van Wyk Louw, aangehaal in Nienaber & Nienaber-Luitingh 1987:26–27.