Читать книгу BUYS - Willem Anker - Страница 7
1
ОглавлениеKom en zie! Die koggelman op die rots, rysmier in die bek. Sy kake begin maal. Hy bespied die gewes, al langs die kloof af. Sy byt val stil, sy oogballe rol. Die kleur van sy kop en voorpote wys hy is gereed vir paar. Hy toon sy rooibruin rug en kraag. Hy kyk op, draai sy kop na regs. Sy blou nekvel span.
Kyk, agter die klipsalmander verrys ek uit die rots. Ek stof my hoed af, steek my pyp op. Aanskou my: Ek is die legende Coenraad de Buys. Kom, laat ek jou besmet, my erflik belaste leser. As jy hier lees, sien jy wat ek sien. En ek sien alles. Ek is van alle dae, ek is onsterflik. Moet my nie siel noem nie. Ek het hoeveel name. Noem my eerder Coenraad, of Coen as jy my moeder of suster is. Pen my neer as De Buijs, De Buys, Buys of Buis, nes jy goeddink. Noem my Koning van die Basters, Khula, Kadisha, Moro, Diphafa of Kgowe. Ek is hulle almal. Ek is alomteenwoordig. Ek is Alom-Buys. Jy sal my aantref in vele gestaltes. Jy sal my teëkom as trekboer en antropoloog, rebel en geskiedkundige. Ek is ’n vagebond en ’n boekengek, ’n smokkelaar, minnaar en natuurkundige. Ek verskyn as jagter, veelwywer, redenaar, plunderaar, patriot, klipneuker. Ek is ’n kryger en leuenaar; ek is ’n fielt en verteller van my eie verhaal. Ek gaan jou verblind en verbyster met my gestaltes, met my alvermoënde blik. Ek is ’n trekvogel, ek neem jou op vlerke. Streel oor my kruis en jy sal weet ek is geen engel nie. Ek ken jou goed. Ek weet jy kan nie wegkyk nie.
Mag ek jou verder influister? Jou oorhaartjies tril wanneer my asem naby kom. Trek saam met my deur die menseheugenis, oor die ongemerkte stofvlaktes tot by die prille voetspoor, die eerste staanvuur, die trop aapagtiges wat regop beur in die grasveld. Hoor die voete in die grotte stamp. Kyk hoe krap en verf mensdiere teen rotswande, hoe trek hulle die kogelbane na van halfmense op weg, reise tussen hand en poot, snoet en neus, togte na die ander kant.
Hoe ver is jy bereid om in my spoor te trap? Is jy reeds te bang? Aanskou die letsels van my beweging, die merke van my vel op die moederaarde. Opgelet: My huid is hierdie stof en sand. Hoor my in elke voet en hoef wat val. Sien my weerkaats in iedere oog wat ’n vuur betrag; ek is beide spoor en spiegel. Ek is van hierdie land, getoë soos klip.
Kyk, die bloukopkoggelmander sluk die rysmier in, versit versigtig sy poot, tas skaars die grond. Luister, die geskiedenis begin beef, die stof van vergete veldslae en onopgetekende sterftes kom los, ritselend onder die siedende bodem.
Storm met my voort deur die ylingse vlug van tyd tot waar die jagters en uintjiegrouers verplaas word deur herders en akkerbouers. Vorentoe, deur tydsgewrigte van swerwing en nedersetting. Snel verby seevaarders wat kruise plant so ver hulle dryf. Skeer verby skeepswrakke met die name van heiliges, te pletter geloop op De Goede Hoop se ruwe rots. Kom waad saam met my deur die strome van bloed: polsend uit neuse tydens danse, stortend uit lywe, af langs hewwe en lemme van hout en yster, later uit kogelwonde, van altyd af uit moederskote, uit maagde en naelstringe; al die bloed altyd teruggeslurp die grond in.
Soos deur die spiraal in die loop van ’n roer, met elke draai al hoe blitsiger: Skiet oor die berge en dale en Kompanje-tuine, oor die land, hierdie storthoop vir noordelike rowers en lasteraars. Skeer heen oor die roepe en sugte van diere en mense. Vlieg oor die invoer van slawe en dan die invoer van perde, oor die beendere van die Strandloper en die reste van Van Riebeeck se middagete, oor forte wat hier kastele genoem word, oor die eerste Nederduitse preke, die eerste suiker, die eerste brandewyn, oor die bloed, oor oproer en revolusies, oor gevierendeelde opstandiges en donker gate van gevangenskap. Flits oor oorloë en Kristene en Hottentotte en Kaffers en Hugenote en Hollandse jenewermoed en boereverneukery en pokke en Groot Constantia en die Groot Vis, oor riviere wat uitkalwer en grense wat vasgroei. Wat soek jy hier? Weet jy hoekom jy my soek? Wat gaan jy doen as jy my vind? Toe, gaan kniel by enige karkas en kyk hoe die vlieë saamkoek soos ’n kosmos wat oopblom; sien! Dese grond wis uit en verteer. Dit slurp die geskiedenis op en kook dit weg tot niks.
Luister, die liedere van die land galm oor alles heen. Hoor die mensegesange, die veldgesange, die krysings en krete. Hoor net die maathou op metale en stokke en velle en klippe, op pense en pote, op erde uit die aarde. Oor hierdie stomme wêreld heen die bulderings en gebulk, die getjank en gehyg. Die klappe en knalle. So luid, so stil. Só versigtig sit die salmander sy poot neer, ek sweer hy ruik die bloed in die grond.
Dalk voel jy veiliger in die agterkamers van museums? Ek is die vismot se voeler in elke argief. Ek het toegang tot elke bladsy. Ek vreet soos ek lees. Laat ons dan ritsel deur die name op kaarte van nuwe riviere en nuwe berge en lengtelyne en breedtelyne en sendelinge en ou gode en ’n nuwe vasgespykerde god en kerke en grotte en die wieg van die mensdom. Vluglees deur moord en doodslag en verkenners en trekkers en rebelle en swerwers en botsings en strafkommando’s en slaweopstande en veediewe en koloniseerders en lyke, al die lyke. Voorwaar, selfs op hierdie afstand die weergalmende slae en skote, ja, selfs uit die blaaie van blosende geskiedskrywers. Ek het dit alles gesien, elke woord gelees. Ek vergeet niks en vergeef bitter min.
Kom en zie! roep my stem in hierdie halfwoestyn. Kom kyk hoe die land sy seëls oopbreek vir jou. Hier waar daar geen toevlug sal wees vir die herders en geen ontkoming vir die maghebbers oor die kudde nie. Hier waar die Melkweg span soos die ruggraat van ’n halfgevrekte vaal perd wat duiselend die gewelf oor De Lange Cloof bo hou. Vlaktes met rotsskilfers en sand soms rooibruin soos ou bloed en soms beenwit. In die noorde en die suide lê rye berge soos versteende olifante wat hulself uit die aarde opbeur en dan halfpad opgee en deur eeue heen weer deur bos en klip bedolwe word. Jy sien steeds die voue van hul skouers, die ou nekke en slap slurpe wat uitgeput myle ver oor die landskap uitstrek, maar wanneer jy dink jy hoor hulle sug, is dit net die wind. Die berghange is ruig, die klowe nat en begroei met varings. Die rotsriwwe gaap uit die groen vel van die ruggens. Die mense bou hul huise naby die riviere en vernoem hul plase na die strome. Die plase lê op ’n ry, ’n beeswêreld aan die bokant van die kloof, ’n wêreld van sit en kyk. As jy opstaan en rondom jou kyk, sien jy jou ganske plaas en sien jy jou verdomde buurman van ver af aankom.
As jy mooi kyk, sien jy die huisie van gepakte klip en harde biesies. As jy fyn luister, hoor jy die mense in die huis werskaf om die sterwende lyf van ’n vader. Die koggelman sal jy nie meer sien nie. Die valk het hom voor sononder gevang.
Kyk, ek staan in die deur. Ek is agt jaar oud. Ek lyk soos my moeder. My vader lê op die smal katel. Sy rug span soos ’n Bossiesmansboog, dan sak hy weer neer. Miskien het ’n ding in die veld hom gebyt. Dalk het hy aan die verkeerde blaar gekou. ’n Paar dae gelede kom hy by die huis en kla en niemand luister nie. My moeder skel hom uit vir ’n lammeling en luiaard. Hy gaan lê en praat nie weer reguit sinne nie en staan nie weer op nie. In die klowe roep jakkalse en honger honde. Stukke kerslig dobber in die waskom. My suster kom sit by my, haar vingers maak skaduprente teen die muur. My vader se hande klou aan sy maag. ’n Gebulk, dan die optrek van die bene.
O God! Mijn Here God.
My moeder Christina berispe haar man; hy word stil, prewel iets onhoorbaars. Moeder gee opdrag dat ons hom katel en al uit die kamer dra en voor die herd kom neersit. Sy kyk dat ons dit doen, loop uit. Ek gaan staan by haar; sy weet nie van my nie. My oudste broer kom die huis in met ’n kopaf hoender, sny die pens oop en druk die oopgespalkte vogel op sy stiefvader se bors om die koors uit te trek. Vader roep weer na onse God gebore in woestyne en oorloë en smyt die gevogelte van hom af. Moeder beveel nog ’n oopgesnyde hen. Hierdie keer word die bloeiende warmte langer geduld. Ek sit in die hoek en loer van onder ’n hoop velle hoe hoender ná hoender deur die nag op die kropgetrekte bors gesit word. Met die eerste glim van daglumier help ek vir Moeder om koeimis op die bors te pleister. Ek smeer die stomende mis, voel die trillings onder sy vel.
Moenie aan my vat nie! bulder Vader.
Ek staan terug.
Stop jou twak, sê Moeder.
Vader swyg.
Hulle slag ’n bok en drapeer die derms oor die lyf. My suster bring water. Moeder gaan staan op die werf. Ek en my broers was die bloed van die misvloer af, moor hoenders en stook die vuur in die herd. Vader se stuiptrekkings dryf ons spulletjie voort soos ’n trop slaapwandelaars tot en met ’n skielike regopsit en laaste rukking asof die ledemate hulself wil losskeur van sy binnegoed voordat hy sug en sterf. Ek hurk by die vuur en kyk vir my vader: Jan de Buys, Jean du Buis die Derde, kleinseun van ’n Hugenoot, seun van ’n ryk Bolandse boer. Sy dood, soos sy lewe, klein en gedwee.
Kom, laat ons my ouers se reste opgrou uit die argiewe: Op twee-en-twintig trou Vader met Christina Scheepers, ’n dubbele weduwee agt jaar ouer as hy. Grootvader De Buys, die swernoot, steek Vader in die pad met ’n wa en ’n paar verjaarde osse. Die paartjie – en Moeder se vyf kinders by haar vorige mans – kry hulle ry. Hulle dryf hul spulletjie vee aan tot hulle tent opslaan op ’n verlate stuk grond langs ’n willekeurige stroom. Man en vrou en kinders en Hottentotte bou ’n huis van riete en gras en klei en woon daar onderwyl Christina twee dogters baar wat skaars hul nat koppies tussen haar bene uitsteek voor hulle doodgaan en sonder name begrawe word in gate wat toegegooi word en nie gemerk word nie en geheel en al geen letsel op die aarde laat nie. Vader en Moeder ken nie die land nie en die vee vrek van die giftige gras en bolle en ’n droogte eis die res van die stoet. Hulle dwaal deur De Lange Cloof en Moeder vertel dat ek in die jaar 1761 gebore word op Wagenboomsrivier, ene Scheepers se plaas. Ons dool verder. Doringbome en varings groei in die klowe en tiers hou in die hange en ons plak by familie en kennisse. ’n Jaar later teken Vader vir die leenplaas Ezeljacht in De Bo- Lange Cloof waar die weiding geiler is. Vader en die ouer seuns en die Hottentotte bou ’n huis. ’n Rietafskorting verdeel die binnekant in twee vertrekke. Die biesiedak sleep op die grond. Christina baar nog kinders waarvan twee seuns en twee dogters oorleef.
Wanneer die res van die huis van die skok aan die slaap raak, bly ek sit en kyk na my vader terwyl die vuur in die herd stadig doof. Daardie môre is ek agt en oorstelp; elke nou en dan staan ek op en voel hoe hy kouer word. Vandag, in my alsiendheid, kyk ek terug. Ek sien my lieve vader daar lê in sy huis soos dié van ander trekboere. Wonings waaroor tuitbek- Engelse reisigers later sal skryf dat dit meer lyk soos die gate van diere as die tuistes van mense. Met sy sterfte is hy lank reeds volledig verslaan deur die vrou en haar tien kinders. ’n Arm man, sy boedel skaars sewehonderd riksdaalders. ’n Lewenslange, seer langsame en onstuitbare oorgawe. ’n Noodlottige beleefdheid en inskiklikheid tot waar selfs enige verset teen die gif uit die veld vir hom te selfgeldend was.
Teen laatoggend deel Moeder pligte uit soos elke lieve dag. Die geskarrel neem sy gang rondom die lyf, uitgestal op die katel. Op die vloer lê ’n bossie heide wat iemand op die lyk gesit het en wat afgeval het en wat niemand weer opgetel het nie.
Ek probeer met my broers en susters speel. My broer met die lang arms dra my rond op sy skouers. My susters wil my vashou en huil. Die jonger broers en susters soek troos by my. Ek weet nie hoe om te troos nie. Ek slaan my jongste boetie toe dié begin huil en dan tjank hy harder. Ek loop kruip weg teen die huis, onder die venster. Moeder staan voor die lyk met haar arms gevou. Sy sien my, loop na die venster en kyk reg deur my en druk die houtskerm terug in die venstergat. Ek loop om die huis en kom in by die deur. Moeder staan weer by die lyk. Ek druk my kop in die donker en sagte voue van haar rok. Sy sit ’n hand op my skouer. Die hand beweeg oor my rug en vryf op en af en druk my een keer vas en sak dan na haar sy. Ek kyk op na haar en sy sê iets wat ek dadelik vergeet en ek loop rivier toe en gaan trek stukke bas van bome af en kyk hoe hulle op die water wegdryf en gooi klippe agter hulle aan. Teen die middag kom soek twee van my susters my en druk my vas en begin weer sanik. Die son skuif; ek dwaal op die werf. My broers is almal besig en moerig en niemand het vir my werk nie en niemand wil speel nie. Ek span my dolosse in op die misvloer.
Kom onder my voete uit, sê sy.
Ek sal soet wees, Moeder.
Gaan speel buite. Jy kan nie die veld omkrap nie.
Ek sal stilsit, Moeder.
Buitentoe! Dáár is niks wat jy kan breek nie.
Die son sak. Die maan kom op. Ek lê tussen my broers en susters in die voorste vertrek en luister hoe ons moeder snork in die kamer. Ek hou die suster naaste aan my vas so styf ek kan. Tot sy wakker word en my met ’n knie wegwerk en omdraai.
By die begrafnis kyk ek hoe hulle huil. Iets blaf my wakker in die nag. Ek staan op uit die hoop bekende lywe wat soos ’n werpsel werfkatte opmekaar lê. Ek loop weg. Ek gaan staan. Die huis is ’n dowwe smeersel teen die sterre. Ek draai weg, stap aan, stop, draai om en kyk weer na die huis om te sien of iemand my kom soek. As iemand nou uit die huis storm, sal ek weghardloop, maar nie so vinnig as wat ek kan nie. Een van my ouer broers sal my inhardloop en platduik en huis toe sleep en afransel.
Ek loop na die huis van my halfsuster Geertruy, my peetmoeder Geertruy en haar nuwe man, David Senekal, aan die ander kant van die plaas, en kyk nie weer om nie. Die maan hang te swaar; die boomtoppe kan dit skaars bo hou. Die plaas is groot, meer as drieduisend morg, en op hierdie nag veel groter. Dit is koud.
Ek gaan staan, kyk rondom my. Geertruy is nie ver nie. As ek in die nag daar klop, gaan sy ’n gedoente daarvan maak. Moeder is nie ver nie. As ek teruggaan soontoe, gaan my susters wakker word en my troos.
Ek gaan sit teen ’n rooi klip wat tussen die fynbos uitrys soos ’n dragtige seekoei. Ek grawe langs die klip. Die grond word vinnig los; ek grawe verder. Ek krul op in my gat teen die klip wat hard agter my lê en waarvan ek my nie die onderkant kan verbeel nie. Ek krap myself toe met grond. Ek slaan dit styf teen my vas soos die rug van my suster. Oral roep troppe en swerms mekaar; hulle waarsku en dreig en verlei. Eenkeer sien ek stoom trek uit ’n paar neusgate teen die bleek maan en dan die oë skitterend in die bos en dan niks meer nie behalwe vlerke wat takke breek. Die maan skuif verby en weerkaats teen die klip bo my en val voor my oor die grond. Vir die entjie wat ek kan sien in die yl afskynsel van veraf lig is ek veilig, en daaragter, sê ek vir myself, is alles wat ek hoor net die wind in die kreupelhout.
Ek wag op die rand van die werf tot die mense begin roer. Ek klop aan die deur. Geertruy maak oop en vat my binnetoe en gooi ’n strooimatjie by die vuur in die voorhuis.
’n Paar maande later trou Moeder met Jacob Senekal, die jong galgenaas-boetie van Geertruy se David. Moeder is agt-en-veertig en Jacob agt-en-twintig, maar Moeder is ’n mooi vrou met heelwat tande vir haar ouderdom. By kerslig lyk sy jonger as Geertruy. Twee jaar later begrawe ons treurende moeder ook vir Jacoppie. Die kluite het die kis skaars toegeval of dit is ’n volgende Jacob, ene Helbeck, wat op Ezeljacht haar bed en boerdery kom deel.
Ek is nog nie lank weg van die huis nie. Ek sukkel om te slaap in die vreemde huis. Ek klou aan die karos, dink aan die lywe van my broers en susters wat my warm gehou het op sulke nagte. Ek sluip na die ander kamer waar die gesin lê en kruip in langs Geertruy en David en hul kind. De domme David jaag my uit die huis uit. Ná ons die volgende oggend ons daaglikse eiers en askoek in stilte verorber het, roep Geertruy my eenkant en verduidelik hoe daar geslaap word. Sy druk my vas en hou my so en ek laat los nie en dan trek sy my arms van haar af. Sy loop die huis in en gaan gee die baba bors en toe daardie doorverrotte derm David my vang afloer, slaan hy my en die volgende dag foeter die hondsvot my weer.
Geertruy sit saam met my onder die boom, so oud en knoetserig niemand weet meer wat vir ’n boom dit is nie. So hoog is hy, ek kon hom nog altyd net halfpad klim. Dinsdagoggende leer sy my skryf. Dit is warm, maar ek trek die karos stywer om my. Laas nag het ek gedroom. Ek was weer teen die rooi klip, ek het weer myself toegegooi met die grond. Toe sak ek weg, die grond val my gesig toe, stroom by my neus en mond in. In die droom het ek versmoor. Ek het koud en nat en verwond wakker geskrik. Ek het die deur oopgemaak, een van die werfhonde binnegelok. Die hond het sy lê gekry op my karos; ek het my teen hom opgekrul.
Die hond se naam is Ore. Hy sit langs my onder die boom. Ek kry steeds koud. Geertruy leer my van zijn en hebben.
Ik ben, zij is, hij is, het is, jullie zijn, sê sy. Wij zijn. Zij zijn.
Sy wag dat ek die lys opsê. Ek kyk vir die wit sonlig buite die boom se skadu. Die grond bewe van die hitte.
Ik heb, u heeft, jij hebt, zij heeft, hij heeft, het heeft, jullie hebben, sê sy. Wij hebben, zij hebben.
Ek sê haar na, maak ’n paar foute sodat die les so lank moontlik aanhou. Net ek en sy. Ons het mekaar en is van mekaar. Hebben en zijn. Die huis en die ander mense is daar anderkant. Ek skuif nader aan haar, probeer my onder haar oksel inwurm.
Wanneer zijn ek, wanneer hebben ek? vra ek.
Mens gebruik zijn as jy praat van iets wat op pad is, na elders, maar ’n besondere iewers. Van hier na daar. In ’n rigting. Werkwoorde wat praat van iets wat beweeg, verander.
O, sê ek en begryp geen duit nie.
Komen, beginnen, sterven, krimpen, blijken, voorkomen, blijven, lijken, schijnen, raken. En worden, sê sy.
Worden?
Ja, alles wat word.
Wat word nie? vra ek.
Sy bly stil, kyk op in die lyf van die boom, die takke bo ons so dik soos krokodille.
Zijn vir uitvaren, sê sy. Zijn vir binnenspringen, langslopen, opklimmen.
My tande klap. Ek vroetel met die karos, sit my arm om die hond.
Coen, let op. Ons praat van werkwoorde, want woorde kan hard werk as jy hulle reg inspan soos flukse osse. Woorde is gereedskap. Jy moet hulle leer gebruik soos ’n saag of ’n hamer. Toe, dink aan nog woorde wat ’n zijn kry.
Vallen? vra ek. Zinken?
Ja, sê sy. Altyd zijn.
Sy druk my vas, vryf oor die karos.
Onthou, Coen, wat jy is, moet meer wees as wat jy het. Meeste werkwoorde kry ’n hebben, maar moenie die zijn nalaat nie. Zijn is hoe jy groei van binne. Wanneer jy eendag oud is, sal jy sien hoe jou zijn gegroei het, groot en sterk soos hierdie boom. Mits jy hom genoeg water gegee het. Hebben is wat jy kan tel, alles wat jy bymekaargemaak het.
Wat bedoel jy, Geertruy?
Sy maak of sy iets hoor in die huis se rigting:
Ek hoor die baba skree, sê sy.
Wij hebben elkaar; wij zijn van elkaar.
David Donderstraal slaan my plat een aand toe ek die gesinshoof se uitspraak van die Nederduitse God se Hooghollandse Woord verbeter en hy foeter my half vrek as ek die vee te laat in die kraal jaag en hy bliksem die stront uit my uit wanneer ek te stil in die huis sit en vir hom kyk en glimlag.
Ek wil jou nie verveel nie. ’n Jaar ná ek weggeloop het, stap ek oor na Moeder se opstal. Ore draf agter my aan. Moeder is steeds mooi en die eerste Jacob leef nog agter sy melkerige staar. Moeder is besig om die Hottentotte te verskree. Sy skop ’n speenvark wat by haar voete boer. Sy sien my aankom, gaan die huis in en kom uit met haar hare onder ’n kappie. Sy wag my by die deur in.
En waarvoor verdien ons hierdie eer?
Dag, Moeder.
Dag, ja. Jy is maer. Voer hulle jou nie?
Ons praat by die deur en sy vra my nie hoekom ek geloop het nie en ek vra haar nie of sy my vader mis nie. Terwyl ons praat, bestuur sy die plaas met handgebare en bitsige bevele. Ek begin groet; sy sê ek moet wag. Sy loop binnetoe en kom terug met die klere wat ek daar gelos het en wat nou te klein is. Sy sê as dit nie meer pas nie, kan ek dit vir Geertruy se spruit gee.
Dis ’n meisiekind, Moeder.
Wat maakt mij dat uit.
Ek stap terug na David Droeskop se huis. Op pad smyt ek die klere in die renosterbosse. ’n Wolk distelsade stuif op. Ek kyk hoe die son sak. Kyk hoe gryns die berge met goue tande. Die kloof word ’n oopgerekte bek. As jy hier woon, wag jy vir die toeslaan van hierdie kake wat jy huis noem, wag jy vir die geknars om te begin.
Nie ver van die opstal nie gaan staan Ore. Hy luister na die veraf geblaf van ander honde êrens in die veld agter ons. Die geblaf klink anders as die werfhonde s’n. Sy stert trek in tussen sy bene. Hy kom staan teen my, hy snuif die lug. Tjanke en gromme steek vas in sy keel. Die geblaf sterf weg. Ore draf voor my uit, haastig om by sy werf te kom.
Partykeer gaan ek terug en praat met Moeder. Soms vryf sy aan my skouers en sê ek gaan groot word, groot soos my vader, eendag selfs groter. Soms vat ek aan haar wang en dan voel ek hoe ’n spiertjie skiet wanneer haar kake opmekaarklem. Sy en Helbeck sal wegtrek kort na my veertiende verjaardag en ek sal haar nooit weer sien nie.
Met my vader se erflating koop ek twee koeie en ’n dosyn skape. David Drommelskop laat hulle wei op sy deel van die plaas en hulle teel aan. Op elf is ek langer as my swaer; teen dertien sal ek oor die ses voet wees. Bedags pas ek beeste op saam met Saterdag, ’n Bossiesmankind, miskien ’n jaar of wat ouer as ek, maar jonger in die lyf.
David Donkielul het Saterdag se moeder voor sy geboorte gevang. Versterk deur brandewyn en die sing van ’n paar gesange is David Duivel en die boere van die omtes daardie oggend die veld in om te gaan Bossiesmans jag. Saterdag se moeder het hom vertel van dié dag se jag: Die Hottentotte lok die Bossiesmans in die oopte en die Kristene wag hulle in met snaphane. Die boere se lood raak op en hulle gooi klippers in hul lope en skiet voort. Hulle jaag die oorlewende mans bymekaar en sny hulle keelaf, aangesien die munitie op is. Die skepsels weet dit nie. Die leë gewere wat op hulle gerig is, laat hulle volkome oorgee. Hulle staan en wag vir die dood met oë reeds op ’n ander plek. Die vroue met babas en kinders jonger as ses word verdeel tussen die boere en plaas toe gevat en tussen die Hottentotte laat bly. Die vroue word vir Hottentotmans gegee en die kinders aan Hottentotvroue om groot te maak, sodat hul woestheid getem kan word. Toe ’n ander Bossiesmanstam in die distrik gewaar word, verdwyn Saterdag se moeder een nag en los hom op die plaas, haar kind wat nie meer haar kind was nie, maar van kleins af geaard het na die plaasvolk tussen wie sy gevange was.
Ek speel saam met die Hottentot- en Bossiesmankinders, ons gooi kleilat en klippe, ons vang vis en steel eiers en baklei. Ek speel saam met die kinders maar ek maak nie vriende nie. Dit is net Saterdag wat agter my bly aanloop. Die gekerstende kinders noem ons Dawid en Goliat. Wanneer hulle ons met klippe gooi, skuil Dawid agter Goliat, die grootste en kleinste snuiters op die plaas. Vir geen klip val hierdie Goliat op sy gevreet nie. Ek is nie die godverdomde boer se godvergete seun nie. Ek is meer tuis tussen die hutte as naby die opstal. Die kinders behandel my nie soos ’n Kristenmens nie. Ek word nie gou kwaad nie en verdra die geterg, maar soms bars iets los en dan is dit weke dat net Saterdag dit naby my waag. My klere is alewig te klein of te groot. Toe ek in een jaar uit drie paar skoene groei, laat Geertruy dit vaar om my te skoei. By die opstal is ek alleen. Saterdag kom nie op die werf nie. Hy onthou wat sy moeder hom vertel het van die Kristene en hul geweers en hoe ’n perd met sy ysterpote ’n Bossiesman kan flenters loop.
Op ’n mooi dag in my twaalfde jaar foeter David Doodskist my die laaste maal. Ek slaan terug. Hy tel sy tand van die vloer af op en die volgende oggend slaan hy ’n Hottentot se sleutelbeen af.
Daardie middag loer ek hom af om te sien hoe ’n mens ’n tier se vel aftrek. Geertruy kom aangestap. My varkenpestelike peetvader se arms druip bloed en vet tot by die elmboë.
Ek kan hom nie wegjaag nie, David.
Jy moet doen wat jy moet. Ek sal hom ’n loon betaal, maar daardie woestaard is geen kind van my nie.
Hy is ’n kind.
Het jy gesien hoe hy my geslaan het? Het jy gesien hoe hy vir my kyk? Hoe hy vir my lag?
Hy lag nie vir jou nie.
Hy lag.
Een van die volk klop my wakker waar ek steeds soos alle nagte in die voorhuis onder dieselfde karos lê. Ore brom in sy slaap. Daar was gediertes by die skaapkraal, sê die wagter. Drie ooie is doodgebyt. Ek is die man in die huis. Die blaaskaakbaas van dese pokkeplaas is met ’n wavrag botter en velle Caab toe. Ek hardloop kraal toe, Ore al spelend agterna, happend na my hakskene. Die tandmerke lê oral oor die lywe, die binnegoed is uitgetrek en gekoek, die bloed ’n kors oor die droë gras. Ek is twaalf en pas al jare lank vee op en weet hul lewens is my lewe. My mond stroom vol spuug en ek kots. Ore lek die braaksel op. Ek gaan haal skietgoed by die huis. Ek klim op ’n stoel, gryp die voorlaaier wat bo die deur oor die ingemesselde koedoehorings lê en loop die hele godverdomde dag agter die spore aan. Die werfhond ruik aan elke bossie waarby ons verbystap. Hoe verder ons loop, hoe meer verskrik word hy. Teen laatmiddag vind ek twee verlate Hottentothutte langs ’n derde wat jare terug afgebrand is.
Die grond om die hutte was eens oopgekap, die vuurmaakplek se klippe lê nog in ’n kring, maar vandag is alles oorgroei. Grasse rank tussen gebreekte erdekomme. Die beendere van die vorige inwoners lê verstrooi en gesink in die grond. Ek tel ’n lang dybeen op en kyk na die tandmerke. Ek trap op ’n half bedolwe skedel. Ore tjank, maak ’n plas en skiet die bosse in. Ek roep agter hom aan, maar hy is weg. In die grootste hut vind ek twee kopbeentjies. Ek tel een op. ’n Loodballetjie rinkel in die klinkende leë koppie.
Ek kyk op; hulle is oral.
’n Trop honde omsingel my. Rooibruin hare in riwwe op die rug, soos jakkalse met langer bene, die jongeres gebore ná die skedels reeds leeg was, die ganske spul jare lank verwilderd. Een van die oudstes hygend tussen die gegrom deur. Die antieke hond se hare is meestal afgeskuur, ’n riem met ’n paar krale steeds om die nek. Is dit die mens wat die riem geknoop het se gekoude dybeen wat hier duskant lê? Hulle omsingel my op ligte pote. Ek is twaalf en pis in my broek. Die jong honde is sterk en vinnig en mooi. Net soos ek dink ek kan die kringe volg, skiet een kruis en dwars deur alle patrone heen in ’n gekke koers. Die voorste hond se bek hang laag bo die grond, ’n harige vin oor sy rug. Hy is rooier as die ander, groter. Sy tande wys, sy oë is wakker en sy grom is sag, so sag. Dit is die teef agter hom, die een wat ek nie sien nie, wat spring na my keel. Ek gooi haar van my af. Sy tref die grond. Ek trap tot die ribbes breek. ’n Reun met ’n sny oor sy snoet is reeds by my en die geweerkolf klap net betyds teen sy kop. Ek trek die sneller, die volgende hond se onderkaak verdwyn in ’n sproei van bloed en been. Die donderslag, die honde rasend, byt na mekaar, retireer die bosse in, skuim om die monde, sterk strome zeik. Ek is uitasem, ek het geskree en weet daarvan niks. Ek het tyd om te laai voor hulle weer uit die bosse nader kom. Ná elke skoot gee hulle pad, val hulle weer aan. Ek skiet drie honde, een vir een, voor die rooi hond bly staan en die ander padgee. Die hond spring die geweer uit my hand. Ons is op die grond en aanmekaar. Hy byt my aan die arm, die bloed kom dadelik en maak hom blind. Ek kry hom beet en skop hom eenkant en tel die onmoontlike swaar geweer op. Die rooi derduivel is weer by, die nog rooier kolf tref hom in ’n sagte plek. Ek kom regop, die ander honde is by. Daar is bytplekke oral op my lyf en die bloed vloei vrylik. Ek stamp die loop af in die gorrel van die naaste brak en trek die sneller en die ding ontplof van binne, bo-oor die ander. Die bende verdwyn in die ruigtes. Ek sak terug in die sand, kruip die naaste hut in. Voor my staan die rooi hond; in die skemer grom hy tevrede. Die geweer is nie gelaai nie. Die enigste kogel lê êrens in die kopbeen van ’n kind. Die tande wys, kwyl drup op die grond, stof slaan op van die trappende pote. Ek is hande-viervoet in die ingang. Die hond staan onder die gat in die middel van die dak, asof gevange binne ’n pilaar van son. Ek is op my knieë, kry die takke om die ingang beet en trek hulle grond toe. Die een kant van die hut sak inmekaar. Daar is nie meer uitkomkans nie. Ek kruip na die hond toe. Hy grom en blaf en hap in die lug. Hy is jonk maar uitgegroei. Op my hande en knieë is ons ewe hoog. Ek hou aan kruip. Ek voel sy asem op my wange. Die gedierte begin terugtree. Hy hap. Die kake klap in die lug, dit weerklink in die koepel. Ek kruip vorentoe. Die hond retireer tot hy teen die graswand vasgekeer staan. Ek kyk vir hom, die donker oë waarin ek weerkaats. Vir ’n oomblik is ons doodstil. Dan blaf ek. Ek blaf so hard ek kan, tot my keel rou is. Hoor net die krete en blawwe en alles wat in my is wat ontplof uit my pens en longe, tussen my tande deur. Êrens in die geraas is die hond op my en ek byt en skeur en blaf tot my stem en tande en kake ingee. Ek maak my oë oop. Die hond lê teen my, op sy rug, stert opgevou oor sy peester in ’n poel skuimende pis wat in die grond wegsyg. Aanskou: Coenraad de Buys staan op en spoeg die hond se oor uit.
Die hond is stil, behalwe die branders asem deur sy lyf. Ek is duiselig, my hemp en broek swaar van die bloed. Ek stap agteruit, lig die biesies, en hou aan agteruitloop verder terug die sonlig in. Eers by die bosse draai ek my rug op die hut en die hond daarbinne. Ek stap terug plaas toe, my bene en arms die ene kneus- en bytplekke. Die bloed prik en pomp in elke sny, apart en tegelyk. Die son word klein en koud agter die berge, maar ek is nog ver van die opstal. Ek maak ’n vuur in ’n oopte voor die maanlose donker volbring is. Ek skrop die grond los sodat ek sagter kan lê, gooi sand oor my. Die sand krap my seerplekke, maar dit is warm. Ek hoor ’n geritsel buite die uitspansel van vuurlig. Ek sien die gloeiende oë van ’n hond in die bosse. Ore? prewel ek. Ek wil opstaan maar kan nie. Die rooi hond kom nader, gaan sit net buite die vuurkring. Ek lê terug en dan sien ek niks meer agter die duisende oë van die vlamme nie.
Met melktyd is ek terug op die werf en sak inmekaar en die meid wat by die huis komme uitwas gil en ’n Hottentot hardloop uit die kraal en dra my die huis in en ek hoor Geertruy uitroep en ek word eers die volgende dag wakker. Dae lank agtervolg my peetmoeder my, op soek na tekens van hondsdolheid. Ek sien haar kyk. Ek vertel vir geen siel van my en die hond in die hut nie. Ek is nie dol nie, maar kyk mooi, ek beweeg nou anders. Hoe sterker ek word, hoe ligter loop ek. Sien jy hoe ek die oggendlug ruik, my neus omhoog soos ’n snoet? Hoe ek opkyk voor enigiemand anders iets hoor? Snags maak ek nie meer die deur oop vir daardie werfhond nie. Die wonde sweer nie, maar bloed is bloed en bloed het gemeng. Hoor hoe praat Geertruy met die huismeid:
Die kind is sleg gebyt. Hy het iets aangesteek by die gediertes, maar wát, Mientjie, dit sal ek nie kan sê nie.
Twee weke later is ek weer met die beeste in die veld. Die beeste kyk onrustig rond; dan gewaar ek die rooi hond met die af-oor. Hy kom nie naby nie, maar maak seker hy word gesien. Hierdie keer is die res van die trop by, in die ruigte agter die rooie. Die afoorreun kom alleen tussen die bome uit en staan in die lang gras en kyk na my voor hy weer die skemer inglip.
Ek word groter en sterker. Die huis groei ook. Hoe meer die Senekals besef hulle is nie op pad êrens heen nie, hoe meer beknop voel die huisie met sy viervoetmure en biesiesdak. Die weiding hier is nie sleg nie, sê hulle, die water nie skaars nie. ’n Nuwe, groter bakoond word mettertyd langs die huis aangebring. ’n Kamer word aangebou en later nog een.
Op veertien trek ek uit die Senekals se opstal. Ek bou ’n hut op die rand van die werf. Ek steel ’n paar planke by David Druiloor. Riete en klei uit die rivier. Klippe wat ek gaan loskap wanneer ek lus kry om iemand te donder. Geertruy begin weer wys met ’n tweede kind. Klein Christina, na haar ouma die wegloopteef, is al ses en is die hele huis vol, reeds met ’n Buys se beneuktheid. My hut bult en punt soos die puiste op my gevreet. Die klippe en planke maak reguit lyne; daardeurheen die boë van riet en stulpende klei. ’n Huis is dit nie. Geertruy sê ek het nog nie in my lang vingers ingegroei nie. David Domme sê ek is ’n timmerman se gat. Hy het reg: Ek kan skiet en bergklim, maar hamers en spykers is dom en gevaarlik in my pote. Ek is ontuis in die opstal; ontuis in my lyf. Ek ken my sit op ’n perd, maar selfs in my eie hut is ek onrustig. Sodra ek binne is, wil ek buitentoe en sodra ek buite is, verlang ek na my lêplek. Elke paar weke breek ek ’n stuk van die hut af, bou ek ’n nuwe deel aan en stort ’n ander deel in duie. Ek kan nooit besluit waar die venster moet wees nie. Elke dag of twee bliksem ek ’n ander venstergat in die biesie-en-takwand wat in die rigting van die klipheuwels kyk. Ná drie maande breek ek die hele muur uit en plant ’n dik waboomtak in die middel om die drawerk van die muur oor te neem. Nou kan ek sien wat ek wil sien. In die hut is ’n lae tafel van oorskietplanke waarby ek kruisbeen op die grond sit. Ek grou ’n holte in die een hoek waarin ek my snags onder velle toegooi.
Ek karring alewig met die hut se raamwerk. Die dak sak al laer. ’n Gekraak in die nag, ’n paar dun takke breek. ’n Verdomde slag, die hele spul sidder en ’n stuk dak kry sy rus op die grond. Geertruy vervang die velblindings voor die opstal se vensters met houtluike – glasloos, maar meer volgens die bure se standaarde. Voor die winter kom pleister ek die buitekant van die hut met klei om die hitte binne en die reën buite te hou. By die opstal maak die deuropening plek vir die skoorsteenskag van klip. Die deur trek na die sykant. Binne die hut grawe ek aanhoudend die holtes dieper. David Draadnagelschijter bou sy mure hoër, pleister hulle af, kalk hulle wit. Ek kom minder in die opstal; dit word elke dag ’n meer permanente Woning. Amptenare reis verby en hulle kyk en notuleer en vind dit goed.
Die Senekals se huis styg oor maande op, onopmerkbaar en deurdag dy en gedy die ding soos ’n gekalkte miershoop. Die wande by die dag witter, tot dit een môre lyk of twee sonne weerskante van my opkom; my hut sak weg tot jakkalsgat.
Ek kruip in my hut in, krul my op en lê en kyk na die sterre. Orion hang oor my kop. Ek groei vinnig en raak gou aan die slaap. Wanneer ek nie te moeg is nie, meet ek my stang. Een van die dae ’n el! Glo my, ek spuit al ses voet ver. Die Hottentotte gee vir my dagga. Soms verlang ek na geselskap, maar sodra ek dit vind, wil ek vinnig weer weg. Ek stap ver tot laat in die nag. Op pad terug draal ek gewoonlik verby die doodgegooide mis-en-bossiesvure by die Hottentothutte. Die gras is al geel een voordag toe ek tussen Saterdag en sy mense inkruip waar hulle almal op ’n hoop lê en snork en stoei oor die paar huide op die vloer. Die volgende oggend gaan hulle hul gewone gang, asof ek nog altyd daar geslaap het. Drie weke later is dit makliker om weer tussen hulle te gaan lê toe my vossehol te groot voel.
As ek nie jag nie, is ek saam met die vee in die veld, en dikwels is daar nagte lank nie lig in my hut nie. Geertruy vra my af en toe waar ek slaap, maar kry geen antwoord nie. Soggens voor dagbreek stap ek soms stroom toe en boor ’n gat in die rivierklei en trek my klere uit en druk my pik in die gat en strek my plat uit teen die grond met arms en bene gesprei en wanneer ek klaarkom, druk ek my gesig in die grond. Toe, jy wou mos alles hoor. Ek spoel my af in die rivier. Ná ’n besonder uitgelate oewer-torteling is daar ’n vreemde uitslag wat my koorsig laat en ek bid deur die nag om vergifnis en genesing en die volgende dag is ek meer koorsig en kak ek water en gaan ek terug rivier toe en ram my bruid met mening tot ek gesigte sien en op die rivierbedding se kleilyf aan die slaap raak en toe ek wakker word kan ek die droom onthou en is my koors gebreek.
Ek sit in die son teen die klipmuur van Geertruy se kombuis en olie my geweer. Deesdae moet Geertruy my formeel nooi om te kom eet. Ek weier hierdie uitnodigings selde, maar daag nooit uit my eie op nie. Wanneer ek genooi word, is ek altyd vroeg by die opstal. Dan kry ek buite my sit en vind ek iets vir my hande terwyl ek kyk hoe die Senekal-kinders speel met die oppasster. Maria, met die Maleise oë en Hottentot-hare. Sy is jonger as ek, maar haar lyf is reeds vol en geil. Ek het self die ster van Diana uit die geweerkolf gebeitel en die koperster daarin geset. Sodra ek aan ’n geweer vat, word my hande slim, kleiner, slanker. Ek olie die hout van die baviaanboud. Ek volg die grein van die kolf, my neus by die hout. Ek voer die loop met ’n ander olie en ’n ander lap. Die kuns is om nie die loop rond te pluk nie. Neem jou tyd. Kyk vir ’n wyle hoe stadig moontlik jy dit kan doen. Die lappie moenie rus op die metaal nie, dit moet net-net raak. Dan weer ’n aggressiewe gepoets tot die metaal vuurwarm word. Ek praat nooit met haar nie. Ek maak geweer skoon of brei aan ’n vel of rook. Veral as David Duivelskramp in die rondte is, rook ek verwoed en wag ek op hom om iets te sê. Aan tafel sal hy dan klap na ’n onsigbare vlooi of iets opmerk oor my klere wat ruik soos die Hotnots s’n.
Hier’s overal vlooie, David, sal Geertruy sê.
Maar ons probeer ten minste die goed uitrook. So dan en
wan. Ons probeer … Hý probeer nie.
Ek wil spog by Maria. Ek wil haar vertel ek is een van die bekendste jagters in die omtes. Ek is een van die grootmanne. Weke lank is ek weg saam met die mans van die distrik wat my kom haal vir die jag. Hulle bring altyd vir my ’n perd saam. Hier is net een by die Senekals en ek word nie naby hom toegelaat nie. Soms nooi hulle mijnheer Sakkerdoes Senekal ook saam, maar meestal nie. Ons twee ry nie in dieselfde kommando nie. Sodra Geertruy ons uit die oog verloor agter die naaste rant, is ons aan mekaar se strotte. As dit ’n strafkommando is, moet ons albei saam, maar vir ’n jag kies hulle een van ons op ’n slag. En ek is die een wat raak skiet. Ek rook my pyp en blaas windmakerig ringe deur ringe, maar vind geen woord om aan Maria te sê nie.
Terwyl ons eet, sit Maria kruisbeen in die hoek by die kinders. Sy terg vir Stienie en waai ’n lappop voor haar gesiggie tot die kleintjie begin kraai en omrol op die karos. Maria se rok span om haar boude, o haar boude, en trek op tot waar ’n duim dy bo die knie sigbaar word.
Op vyftien skiet ek my eerste olifant. Omdat ek nie mondig is nie, is ek afhanklik van die hardebaardmanne om die velle en tande van die hand te sit. Ek kry ’n fraks van die betaling vir my eie sak. Die ander jagters kom gou agter ek sukkel nie veel oor geld nie. Ek sal tande en huide by hulle ruil vir ’n beter geweer. Soms hou ek van die velle vir my hut. Die jag self is genoeg. Meestal gaan jag ek alleen. Ná ek vir ’n paar dae alleen die veld in was, sonder ’n perd en skoene, sê algar ek is makliker om mee huis te hou. Geertruy probeer my daarvan laat afsien om so alleen die bosse te in, maar sonder veel oortuiging. Sy weet dit is beter vir almal se sielerus. Hou hulle my te lank op die werf besig met bottervate ronddra of dakke dek, dan ontgeld almal dit. Selfs Saterdag word hard gedonder as hy op sulke dae aan my karring. Terug van ’n jagtog, word ek gewoonlik onmiddellik genooi vir ’n aandete, aangesien ek my dan glo gedra aan tafel. Natuurlik is daar op dese dae ook vir ’n slag genoeg vleis om te deel. My eerste leeu? ’n Brandsiek mannetjie, ’n verjaarde alleenloper, uitgeskop uit sy trop. Was byna of die gedierte geskiet wóú word.
Geertruy skep vir David die Drek nog vleis en vra of ek versadig is en ek sê Nee, Suster, inteendeel.
Alleen op jag word my sirkels van die werf af al wyer. As my pligte op die plaas dit toelaat, bly ek deesdae vir ’n week of meer weg. In die jagveld spits my ore vir iedere tak wat breek. Elke druppel aan ’n grasspriet hang verskriklik. My sweet en die prooi se sweet. Die gekwetter in die bome. Die pis teen die stamme en al die drumpels van streng gebiede waarbinne ’n grootbekmannetjie regeer. Ek deurkruis dit alles met my geweer. Ek ken die reëls van die veld. Hoe beter ek die reëls leer verstaan, hoe vryer word ek. In die veld kan ek my eie lewe tussen die ander gediertes afmerk en uitblaf en -pis en -baklei. In ’n Kristenhuis word jy gekoester wyl jy klein en onnosel is, maar word jy algaande minder vry hoe beter jy begin begryp wat van jou verwag word. In ’n witgekalkte huis moet elke koperkommetjie gepoets word en elke matjie iedere oggend uitgeslaan word, maar reg rondom jou tot in die verskiet en anderkant uit is dit net stof en klip en bos. In die veld is niks vuil nie. ’n Vaal klip hoef nie gepoets te word nie. ’n Doringboom hoef nie afgestof te word nie.
Ek verskoon my van tafel, gaan sit op die karos by die kinders en die oppasster met die vel wat ruik na vet en bossies. Ek pak die houtblokkies op die misvloer uit. Geertruy en haar heerser maak of hulle my nie by hul voete sien nie. Hulle praat harder en kou met meer mening. Die gesprek haak-en-steek, hulle sukkel om my springbok gesluk te kry. Ek tel die kleintjie op en dié begin tjank. Geertruy stuur die kinders en Maria uit na die agterste vertrek. Ek gaan sit weer aan tafel. My peetouers eet in stilte. Die boudbeen in die skottel het nog heelwat vleis aan. Ek begin die vleis afsny; dan vat ek die been en skuif my stoel terug. Ek vou my bene oorkruis op die tafel, my pote onder my peetvader se neus. Ek skeur ’n stuk vlees van die been af, glimlag. Die huisvader spring op, slaan die deur agter hom toe. Geertruy skud haar kop, loop uit na haar man toe. My springbok is heerlik.
Ek en Saterdag sit en rook naby die trop vee in ’n stuk kaalgevrete weiveld. Dit is te warm vir praat. Ons sit onder ’n groot proteabos, ons oë dik geswel van die vorige nag wat oggend geword het en die son wat skerper as ooit opgekom het.
Saans steel ons karrie, die heuningbier van die Hottentotte. Ons maak vuur en niemand mis ons nie. Ons hurk en kyk in die vuur en soms kom die afoorhond by ons sit voordat die horde oë soos sterre in die bosse die hond terugroep trop toe en hulle die ruigtes in verskiet. Daar is aande dat ons vuisgevegte verloor en begin, aande dat die bier ons dapper genoeg maak om na die groepies giggelende meidjies oor te stap.
Ek krap aan my melkbaard. Onbehendig en met groot vertoon maak ek my pyp skoon met ’n lang doring. Die hoofpyn steek agter my oë. Snotkorst Senekal se herdershond, godverdomde nikswerd Ore, lê in die gras. Die enigste teken van lewe die stert wat nou en dan vlieë opjaag.
Tussen die protea se blare bo ons is ’n spinnekop besig om ’n by toe te spin. Die spinnekop met die rooi pens se bene beweeg flink en fyn. Hy span drade om die by se vlerke en vermy die angel. Die by se agterlyf du met sy nuttelose gifpyl agter die spinnekop aan. Elke beweging draai hom vaster. Die agtpotige aanval word tegelyk geloods uit alle rigtings en op alle fronte. Die vlerke tril al vinniger hoe meer beperk hul ruimte word. Die gezoem al hewiger, woedender, tot die prooi se laaste teenaanval op niks uitloop en die by bedaar. Die angel probeer nie meer steek nie. Die vlerke word stil. Hy kan nie meer beweeg nie. Dit is nie dat die by opgee nie. Die by gee nooit op nie. Hy veg en verswak tot daar niks van hom oor is nie. Saterdag leun vorentoe, steek ’n hand uit om die by te verlos uit die lewe. Ek druk ’n hand voor sy bors.
Los.
Saterdag kyk na my, kyk dan weg, voor hom uit. Ek hou die stadige en doelgerigte wreedheid dop tot die spinnekop tevrede is dat die by nooit sal ontsnap nie en, ná ’n laaste tasting oor die stil prooi se kokon, homself ophys teen ’n draad van sy eie skepping. Ek begin die geweer laai, gooi die kruit in en, in plaas van ’n loodbal, ’n klipper. Ek staan op, strek my uit en kyk af na Saterdag.
Hardloop.
Wat?
Hardloop.
Saterdag spring op, hardloop. Ek vuur ’n skoot in die lug. Die skape spat in alle rigtings, die kudde skielik honderde enkelinge. Saterdag kyk nie om nie, hardloop vinniger. Ek sit die geweer versigtig neer en ren agter hom aan. Saterdag koes kruis en dwars tussen die bosse deur. Ek storm reguit deur die slangbosse en katdorings, my velbroek gou vol haakplekke. Sodomieter Senekal se Ore hardloop saam, ’n onnosele raserny oor die skielike opwinding. Net voor die boomlyn loop ek die Bossiesman plat. Ek nael hom in en sonder om my spoed te verminder hol ek van agter in hom vas en kom op hom te lande. Saterdag begin spartel. Ek druk sy hande teen die grond tot ons asems bedaar. Die plaashond kom nuuskierig nader om seker te maak die speletjie is verby. Die stert swaai en die tong hang uit. Die kwylende sot trippel om ons. Ek sit regop en klap die brak deur die bek sodat hy tjankend retireer.
Los die hond, Buys. Wat maak hy jou?
Dis g’n hond nie.
Hy’s die beste skaaphond wat ons het.
Dis oor hy meer skaap is as hond.
Ore is ’n goeie hond.
’n Hond met ’n naam is g’n godverdomde hond meer nie.
Saterdag skud sy kop en loop agter my aan. Ons begin die skape bymekaarjaag.
Wat gaan aan met jou?
Ons kan nie heeldag so op ons gatte sit nie.
Soos iedere jaar gaan die Senekals vendusie toe. Buiten nagmaal is dit die grootste saamkoekery van die jaar: drie dae van klets met almal van die omtes, drie dae se vreet en suip en ruil en verneuk en hier en daar ’n pietsie owerspel. Ek is voorman en moet saam om na die beeste om te sien. Ek en David Dikkop bly uit mekaar se pad uit, praat net as dit nodig is. Sy blaaskaakmaters is daar; ek het my dinge om te doen. Dit is goed om tussen ander mense te kom, mense wat jy nie wil vermoor nie.
Op die vendusiegrond is ’n vent vars uit Frankryk in die saal wat dinge doen met ’n perd soos ek nog nie gesien het nie. Kyk, dit lyk of die perd nie bewus is van die ruiter nie, so vloeiend is sy bewegings en so fyn die ruiter se bevele. Man en perd word een nuwe en vreemde dier. Die hoewe lig hoog, word fors neergesit, asof die perd al sy daadkrag en drif wil spandeer vir die kleinste voetval, asof sy hele wese afhang van elke tree, asof alle beweging vertoon is en alle beweging ten volle onderworpe is aan ’n onsigbare mag wat geen onvolmaaktheid duld nie. Die ruiter is sonder verlede of toekoms. Hy is bloot arms en bene, stiebeuels en saal en leisels, alles ingestem op die kleinste beweging in die perdelyf.
Kyk net hoe kordaat staan hy daar, die jong Buys: die kapokhaantjie met die veer in sy hoed en sy hand in die sy. Kyk hoe staan en praat hulle met mekaar, die ruiter op Frans en geradbraakte Hooghollands en Buys in die ewig muterende Hollands van die Caabse Kristene. Kyk hoe neem handgebare oor wanneer die woorde tekortskiet. Hoe vra jong Buys hom uit tot die man homself, ná ’n paar onsuksesvolle probeerslae, verskoon kry.
Die eerste oggend terug op die plaas saal ek Sweetvlek Senekal se ryperd op. Een van die meide gaan vertel vir die baas en dié kom al skreeuend op my afgestap. Wie de duivel dink ek is ek om sy perd te bestyg? Ek bring die perd tot stilstand, neem hom dan deur ’n paar van die danspasse wat die Fransman my gewys het. David Doerak word stil. Hy staan vir ’n wyle en hou my dop. Voor hy wegstap, mompel hy dat ek sy perd mag leen ná my dag se pligte volbring is.
Iedere laatmiddag is ek in die saal en die maan hang al hoog voor ek die perd koudlei. Ek verneem Siepsop Senekal vertel die hele wêreld behalwe vir my hoe verbaas hy is dat hy en die vreemde bogkind ’n belangstelling in perde deel. Ek kan sien hoe dit hom dwarssit as die perd beter na hierdie wildewragtag luister as na hom. Ek sorg dat hy by is toe ek die perd met groot gebaar herdoop tot Perd. Ek maak seker hy sien ek kyk vir hom as die gedierte nie meer reageer wanneer hy hom op sy ou naam roep nie. Ná ’n paar weke wil hy my weer belet om naby Perd te kom, maar Geertruy sê sy woord is sy eer. Ek het ’n glimlag geoefen en gekerf wat ek byderhand hou vir oomblikke soos hierdie, ’n glimlag spesiaal vir my lieve peetvader.
In daardie jaar en die jaar daarop kan jy my kom soek tussen die volk se hutte. Op so ’n somersaand is ek sestien en dralend tussen die vure. Kinders hang om my en ek tel hulle op my skouers. Hulle kekkel van plesier en hulle ouers roep hulle binnetoe. Ek loop ’n paar keer verby die hut waar ek weet sy woon en ek vra niemand uit oor haar nie en sy verskyn nie. Ek gaan sit by ’n groep jong Hottentotte en ons praat oor die koei en haar uier wat die middag begin sweer het. Een van die Hottentotte het ’n moedervlek oor sy gesig en gooi op oor die vuur en die ander lag en ek sien haar nêrens nie.
Op ’n later, koeler aand kan jy my vind by ’n vuur waar ek bier drink saam met twee ou beeswagters wat praat oor droogte. Af en toe loer hulle na my. Ek sit en drink wat hulle het en belowe om vir hulle die volgende dag terug te besorg wat ek gedrink het en hulle lag want hulle moet en sê ek is welkom en ek vra hulle nie uit oor haar nie en baie later staan ek op en stap aan na ’n ander vuur.
In die winter is die hout nat en die vure rook en die ou mans is ouer en as hulle my sien, glip hulle die naaste hut in met hul kalbasse. Ek baklei wanneer ek dronk is en soms maak ek of ek dronk is sodat ek wilder kan slaan en op geen van hierdie aande verskyn sy nie en op iedere van dese aande kyk ek te vinnig op as haar naam gesê word. Klonkies wat al moes gaan slaap het koggel haar naam as hulle my sien aankom. Die jong Hottentotte lag maar lag nie hard nie. Vroeg een oggend gooi ek op van die karrie en neem ’n bastermeisiekind na my hut. Ek lê vir die eerste keer by ’n vrou. Ek onthou hoe sy geruik het en hoe benerig sy was en dat sy nie wou nie en hoe vinnig dit verby was. In die volgende weke wip ek nog twee en sit ek rond saam met Saterdag wat nooit oor haar praat nie.
Teen die einde van die winter is die vure klein en die mense bly binne. Ek sluip steeds af en toe tot waar ek die afskynsels van haar familie in hul hut kan sien beweeg, maar ek kom nie uit die bosse nie. Een nag is die lug oop en die sterre stort oral om my neer toe ek opstaan van die vuur waar enkele siele die koue verkies. Dit vries hier buite, maar my vossehol is te benoud. Die mans om die vuur het elkeen redes om nie in hul hutte by hul vrouens te wees nie. Hulle sit stil, die enigste dans die skaduwees in die rokerige vlamme. Ek loop die veld in met ’n kalbas. Daar is iemand wat agter my aan loop. Ek stop ’n paar keer, luister. Die voetstappe is lig, maar nie gewoond aan gluip in die donker nie. Die figuur gaan staan sodra ek gaan sit. Die donker buitelyn staan ’n wyle vir my en kyk en loop dan terug in die rigting van die vuur. Ek maak die kalbas leeg. Snotterny Senekal se brandewyn brand my keel. Ek gaan huis toe. In die loop kyk ek oor my skouer of ek nie een van die skaduwees herken nie. By my hut sit sy vir my en wag.
My vader is bang vir jou.
Vir wat?
Hy sien jy loop op en af voor ons hut. Hy sê jy trap ’n sloot uit tussen jou plek en ons plek.
Ek loop op baie plekke.
Ek hoor so, ja. Maar deesdae loop jy net een pad. Vader sê hy gaan my doodslaan as hy my by jou vang. Hy sê jy kan nie sorg vir ’n vrou nie. Hy sê jy kan nie sorg vir jouself nie.
Ek sorg. Ek het hierdie huis gebou.
My vader sê hierdie ding is g’n huis nie, hy sê volstruise bou beter neste.
Nou laat jou vader vir my ’n huis kom bou.
As jy hom sê, sal hy dit moet doen.
Wat soek jy hier?
Hoekom praat jy nie met my by die Seur se huis nie.
Ek praat.
Jy praat g’n.
Waaroor wil jy praat?
Ons sit die nag deur in my volstruisnes en sy vertel vir my van haar lewe en haar ouers en haar sussie wat dood is die vorige jaar en haar vader wat op en af in die hut stap en prewel en hulle slaan as die gemarsjeer nie werk nie en die kinders van Geertruy wat sy oppas en beter ken as wat ek hulle ken en ek vertel vir haar niks maar ek luister na alles wat sy sê en ek vergeet daar niks van nie. Dit is oggend toe sy stadiger begin praat. Die belangrikste wat moes uit, is uit. Sy laat my toe om aan haar te vat. Die rok wat sy begin uittrek, was my moeder s’n en was Geertruy s’n. Ons soen tot sy moet gaan melk afroom vir godverdomde David se godverdomde botter. My pik wil niks weet nie. Ná sy weg is, werk ek my styf met my hand en ploeg ’n stuk grond los waar ek lê en vee myself af aan die karos. Ek loop verby die melkery en sien haar daar, besig om die lepel wat in die vat geval het uit te vis. Haar arms drup room. Ek draai weg, stap aan veld toe, gaan staan en draai weer om en spied weer terug. Kyk, sy loop na my toe.
Sy is skaars vier voet lank. Ek lê bo-op haar, dit is asof sy in die grond in verdwyn onder my. Wanneer sy oor my buk, is ek ’n kind tussen haar borste. Sy is sag soos geen ander lyf nie en sy ruik na diervet en boegoe en die goed waarmee sy Geertruy se kappies styf. Die volgende paar maande soek ons mekaar op in die veld en agter die opstal en is daar tandemerke op ons lywe en is ons mikke seer en rou.
Betrag ons goed, loer ons af as jy kan, want ná twee eeue kan ek steeds nie ons liefkosings onder woorde bring nie. Woorde soos drif en allesverterend maak geen prente van haar tepels nie. Geertruy het my ordentlik leer lees en skryf; ek weet wat dit werd is. Knoop eerder die voorflap van jou broek los of glip ’n hand onder jou rok in en kyk hoe span haar rug.
Kyk, ek lyk veel ouer as twintig toe ek daardie dag ver die veld in loop. Die donderwolke hang laag en vol. Die swart wolke maak die vlakte helderder, die groene en gele skerper. Ek kies willekeurige spore. Ek nael al op ’n oorbietjiespoor, dan versit ek voet ná voet agter ’n bergskilpad aan. Ek volg ’n voetval solank die pas my geval, tot ’n begeerliker spoor die vorige een kruis. Ek volg ’n klipspringer in die rigting van die rivier; ek draf en hol met ribbokspoed langs die oewer af. Die stroom kronkel vlak deur die poort. Dan is die spoor wat my aandag steel bo my in die lug: die fluite van windswawels wat oor en verby mekaar flits, asof hulle onsigbare lusse knoop en ontknoop. Op pad noorde toe. Ek wonder hoe ver is Ezeljacht van Frankryk en my stamvaders. Al dansend en rasend span hulle hul sabelvlerke, die vlerkgeklap soos applous om my heen. Hulle breek die sirkels en vlieg hoog die lug in. Een van die swawels skiet laag oor my kop verby en verdwyn in die rantjie oorkant die rivier. Vir ’n oomblik lyk dit of die vogel in die rotse invlieg sonder om sy spoed te breek. Dan swiep nog een af, ’n wye draai, en ook hy vlieg in die rotsige rant in. Twee kraaie draal in die lug, krysend, ver bo die swawels. Die vogels kolk laer, een vir een vlieg hulle hulself te pletter teen die rotse en skiet dan weer herbore daaruit.
Toe ek nader kom, sien ek die grot aan die oorkant van die stroom. ’n Oorhangrots in die rant waarin die swawels verdwyn. Die plek waarin die swawels vervlieg, is meer as ’n oorhang maar nog nie ’n grot nie. In die son sal jy daar verbyhou sonder om op te kyk; in ’n donderstorm sal dit vir jou wees soos ’n bergvesting, ’n paleis uit die aarde gekap. Dit is nie veel van ’n wegkruipplek nie, maar dit is ’n moederskoot of fort vir dié wat die een of die ander soek en niks anders in die omtes kan vind nie.
In die middel van die stroom trap ek in ’n gat, is skielik halflyf onder die water. Dan is ek by die riete en uit en op met ’n paar treë na die grot. Ek beur deur die haak-en-steek. Ek loop in onder die oorhang waar die vogels die aarde ingevlieg het of verbrysel voor die rots sal lê. Ek vind hulle kwetterend in die krake, versteek in modderneste onder die oorhang. Die rotsdak is swart geroet. Die wande is beskilder.
Groot vae figure in houtskool strek oor die rotswande, na links heelwat prente in oker. Die grond is vasgetrap; geslagte van voete het hier gedans. ’n Lang, nou skeur lê ’n voet of wat dwars bo die grond. Dit is donker daarbinne en ruik na dassiekak en niemand sal ooit weet hoe diep dit loop nie. Tussen die geverfde gediertes is figure wat mens is en nie meer mens nie: dansers met die gevurkte sterte van visse of watermeide of windswawels.
Ek draai om na die gekwetter agter my. Die swawels vlieg heen en weer verby die oorhang. Hulle is skaars ’n paar armlengtes weg, maar hoe naby ook al, hulle bly lyk soos veraf valke. Glo my, die son weerkaats in hul regter-, die maan in hul linkeroë.
Die lug is geledig van hulle geraas, my oë weer by die rotswand. Nog-vis-nog-vogel-mense in ’n kring. Roesbruin figure met swawelsterte vooroor gebuig, leunend op kieries. Hierdie tafereel is klein, al die figure pas maklik onder my hand. Ek ruk my hand weg, vee my klam palm aan my broek af. ’n Paar figure in die middel van die toneel, meer prominent, met fyn vingers geklem om danskieries, ineengekrul van die krag wat in hulle kook, en daaronder, langs ’n lyn wat ’n onderstebo boog span en na links verdwyn in die rots, ’n skool gevleuelde wesens wat, arms na agter, vliegswem saam met die lyn, tot hulle wegsmelt teen die klip.
Dit lyk of die figure die stulpings en krake in die rots binnegaan of verlaat. Soms lyk dit of die figure uit smeersels verf oprys. Ek kan sien die tekeninge lê al van toentertyd teen die wand, maar dit is nie die oudheid daarvan wat my hier hou nie. Oudheid is niks om op trots te wees nie. Ek kry nie die prente klein nie, maar ek hou aan kyk. Al waarvan ek seker is, is dat die vent wat hierdie goed geskilder het, nie verward was nie. Ek loop huis toe. Die ligter wolke het weggebrand voor die son. Die oorhang en sy swawels en prente in die verlede. Die maan soos ’n verbleikte vlek van laas nag se glans, steeds in die lug.
Maande later is Geertruy aan ’t seep kook. Sy vra die kinders op die werf om vir haar gannabos te gaan haal vir die loog. Die kinders vertel stories van ’n tier wat deesdae in die klowe hou. Sy kom vra my om mee te gaan en ’n oog te hou. Ek sleep Saterdag saam vir geselskap. Ons vind ’n tierspoor en loop op in die kloof met die kinderstemme wat opgalm agter ons aan. Bo in die kloof kom ons af op nog prente. Niks so fyn en duidelik soos die swawelmense nie: vervaagde elande en olifante teen ’n rots sonder oorhang waar die son en reën die spore van mense uitwis.
Saterdag word stil en vee met sy hand oor die tekeninge. Ek vertel hom van die swawelmense in die poort. Saterdag onthou wat hy kleintyd gehoor het. Stories van sy ma en die oumense wat eens in die berge gejag het voor hulle die Senekals se vee kom sit en vetmaak het. Hy vertel my van die rots wat die sluier is tussen hierdie wêreld en ’n ander een. Hy vertel hoe wêrelde versmelt in die grotte waar toordenaars die natuur na-aap en waar mense vogels word om na die ander kant te vlieg en hoe die tekeninge hierdie reise in beweging hou. Hy vertel dit alles vir my soos hy onthou die oumense dit aan hom vertel het en so praat hy hulle na sonder dat hy al ooit self so gedans het.
Ek gee nie veel aandag nie. Saterdag dreun voort. Af en toe kom staan en luister die kinders na ’n stuk storie voor hulle weer tussen die gannabosse in klouter.
Daai swawels, Coenraad, hulle weet wanneer om te trek, hulle weet as die kwade weer en sy bliksems kom. Niemand kan daai swawels vang nie. Hulle vlieg so vinnig want hulle is skaars meer as wind. Daardie windgevogeltes.
Ons maak ons klein, Windvogel, sê ek. Soos ’n yl briesie. Dan, eendag, laat ons uit ’n blou lug ’n godverdomde storm op hulle los.
Windvogel, sê Windvogel en dink diep. Ja, sê hy, Windvogel hou my meer aanmekaar as Saterdag.
Ek word mondig en ek dagvaar vir Skimmel Senekal omdat hy my nie my deel van die botterwinste betaal nie. Hy het beloof om my te betaal vir my arbeid op die plaas. Elke lieve maal wat ons verby die vier meide loop wat staan en botter karring, is dit dieselfde storie. Hoog en laag sweer hy dan dat helfte van die opbrengs van die botter myne is sodra ek een-en-twintig word. Maar die natte bloedpoep is die laaste paar jaar te slapgat vir die maand lange tog na die Caabse markte toe. Een aand vra ek hom weer uit oor die botter. Hy mor in sy by die dag gryser baard oor die swak pryse. Hoe die botter al stink teen die tyd dat dit in die Caab aankom. Hy kla oor die Bossiesmans en die klousiekte en die verskeurende gediertes wat langs die pad lê en wag op ’n ossewa. Ek sit terug en luister met my glimlag. Geertruy spring op en gaan aan ’t tjank en snou my iets toe. Sy sê my hart het koud geword. Ek sê dit is omdat ek nie meer by hul herd lê soos hul vervloekte honde nie. Die saak word afgekeur en ek appelleer en die landdrost beveel dat Slak Senekal sy osse moet inspan en sy onderstel in die Caab kry en vir my my geld gee. Ja-nee, Goddank vir die owerheid. Skaars twee jaar later kom die landdrost weer van ons te hore toe ek vir Slangentyfus Senekal half dood bliksem.
Met die geld wat ek uiteindelik van David Dopluis kry, teken ek ’n huurkontrak vir ’n brak stuk grond naby die Kammanassieberge, noord en deur die poort binneland toe. Dit lê nie ver genoeg van my familie nie, maar ek verwag nie veel besoeke nie. My broer Johannes het die grond onlangs verlaat toe hy versit het oosgrens toe. Ek het af en toe daar aangedoen en gehou van die swart grond, die vaal bossies, die skielike ooptes buite die ewig wurgende Cloof. Ek sê vir niemand nie; vir wat? Oor my vaderskap praat ek ook nie veel nie. Wat moet mens sê? Dit maak Maria bly. Die baba se hare is rooi soos my baard.
Ek maak Maria een oggend wakker en sê sy moet begin pak. Ek gaan haal vir Windvogel en ons loop jaag my beeste en skape bymekaar.
Gaan maak jou bondel, sê ek. Bind hom styf vas.
Die reën is op pad. Ek het dit die vorige aand in die yl sekelmaan gesien en teen die oggend giet die mis van die see af oor die suidelike berge, al met die Cloof langs soos melk wat oorkook. Borrelende koue stroom oor die berg tot die vaal hange wegraak. Die skitterende mis gaan lê agter die bome op die bergvoet soos ’n tweede berg, ’n soliede spooksel. Die dikmelkwolke maak die hemel en grond vas en beide tot niet.
Ek gaan haal my saal in die huis en loop met die ding oor my skouer die lande in na David Doodvallen. Ek vertel hom dat Windvogel saamkom. Reetschilfer Senekal is nie beïndruk nie. Die Bossiesman wat tussen sy Hotnots grootgeword het en wat sy kos opgevreet het en wat deesdae homself Vogel Watookal noem, kan nie sommer loop soos hy wil nie, sê hy. Hoe vinniger ek onder sy voete uit trap, hoe beter, is sy beslissing. Maar as ek trek, trek ek alleen. Ek glimlag. Ek het my eie grond. Skeurbuik Senekal is nie meer my baas nie. Hy karring voort oor hoe hy my grootgemaak het en hoe hy my gevoer het en dat hy meer verdien as om landdrost toe gesleep te word oor ’n paar balies botter. Ek kyk af na my peetvader, dan op en na die verte.
Windvogel wil saamkom.
Hy kan wil wat hy wil, hy is my Hotnot of Bossiesman of Godweetwat en ék sê waar hy sy pote sit, ek gee nie om wat die skepsel homself deesdae noem nie.
Ek glimlag.
Wat is nou weer so verdomp snaaks?
Ek dink maar bloot hoe jy straks gaan lyk.
Ek was soos ’n vader vir jou.
Ek was jou hanshotnot, ek was nooit jou kind nie.
David Doemenis verloor sy humeur en dan twee tande toe my vuis sy gevreet tref. Hy steier, buk om sy hoed op te tel, kom dan weer regop. Op sy hoof hier onder my ken sien ek die rooigebrande bles kol.
Ek is klaar met jou. Vat jou goed. Meidnaaier.
Ék is nog nie klaar met jóú nie, sê ek.
Weer die glimlag. Dan weer die vuiste tot hy lê en nie weer opstaan nie. Ek smyt sy saal van Perd af en gord my eie vas. Senekaltjie mompel iets op die grond. Ek ry opstal toe en gaan neem afskeid van Geertruy.
Het jy vir David gegroet?
Op ons manier.
Vaar je wel, Broertjie.
Vaar je wel, Sus.
Sy druk my nie vas nie en huil nie en staan lank en kyk hoe ek op my saamgeflanste wa met my houvrou en my halfnaatjiekind en my Bossiesmanvriend en my beeste en skape wegry op haar man se perd tot sy my nie meer kan sien nie en dan, weet ek, bly sy staan en kyk na die wapad. Ek ry aan en kyk terug.
Wat in my kielwater op daardie werf sou volg, is tog heel voorspelbaar: Die meid wat skree toe Slingerschijt Senekal by die kombuis instap. Geertruy se oë wat nou trek toe sy die kreet hoor. My suster wat omdraai in die gruis, terug na haar man se huis toe, na die toorn wat sy weet daar op haar wag.
’n Rooi hond met een oor en kiertse hare op sy skof kom uit die ruigtes die wapad ingestap, snuif die lug en kyk hoe ons verbytrek. Hy steek sy tong uit om die eerste druppels te proe. Hy draf agter die wa aan. Iets ritsel in die bosse voor in die pad. Maria wys na nog twee honde wat saamdraf in die gras. Die reën sak uit. Verder in die bosse nog ’n stuk of tien van hulle, uitgesprei voor en langs en agter die wa in die veld; ’n ganske trop.
Die plaas het reeds ’n naam en ek peuter nie daarmee nie. De Brakkerivier lê oor die eerste rant agter Ezeljacht, maar hier is die land reeds anders, harder, kaler. Dit is ’n stuk aarde wat handomkeer verander elke halfuur te perd. Die kuswoude is nie ver agter my nie; oor die Kammanassieberge voor my lê ’n uitgestrekte halfwoestyn. Kyk: slangbos, doringbome laag bo die grond, leiklip en ’n paar volstruise wat aan die klippers pik. Ons span uit en word dadelik deel van die agtergrond.
Die hartbeeshuis wat ons prakseer met rame van latte wat met riete gedek word, smelt weg teen die rant. Dit is ’n sterker en groter konstruksie as die nes waarin ek en Maria die vorige paar jaar gebly het. Windvogel en Maria help en skel en neem uiteindelik die bouery oor toe ek weer begin neig na nesskrop pleks van huisbou. Ek staan en hou hulle dop, hoe vlytig hul hande werk, hoe hulle biesies kan knoop en klei kan plak. Ek vryf my hande, krap aan die eelte, maar die vingers bly dik en dom.
’n Maand of wat later daag daar ’n paar verloopte Hottentotte op wat soebat vir werk en hulle bou vir hulle ook hutte en pas my vee op en slag ’n skaap soos dit nodig word. Ek sit en rook en bekyk die einders van my wêreld en doen hoegenaamd niks.
In die somer bly ek dors. Ek loop die veld in en kom terug met ’n velsak vol koekheuning, ’n paar stukke jongby en ’n lyf rooi geswel van bysteke. Ek gooi die spul in ’n bak en gaan praat soet met Maria, smeek haar om karrie te maak. Sy sit water op die vuur, skink lou water by die heuning. Sy kom sit buite by my, teen ons biesiehuis soos ’n omgedopte mandjie. Sy neem die kleipyp uit my hand en rook. Ek probeer glimlag met my dik geswelde bakkies. Sy trek diep in voor sy die pyp teruggee.
Jy moet vir ons mure bou, sê sy.
Vir wat, met winter verkas ons weer.
Moet ons nou self met die skape trek? Kan ons nie net die skawagters stuur nie? Ons hier ordentlik sitmaak nie?
Sit jy hier. Ek kan nie jaar in jaar uit daardie klont koppies aanskou nie.
Ek druk haar vas en ons soen en ek los haar en krap aan die bysteke op my wang. Haar vel is weer styf om haar pens. Ek vryf oor die geoliede maag. Kyk hoe pers daardie voorarms die heuning uit in die kom. Kyk hoe steek die punt van haar tong uit terwyl sy die karriemos deur ’n gaasdoek in ’n fles gooi.
Wil jy gaan stap? My voete moet loop kry, sê sy.
Ek krap aan die blase:
Ek wag vir die karrie.
Die goed moet dae lank gis, Buys.
Ek wag.
Sy stap die veld in en verdwyn oor die rant, boude styf van opgeruktheid. Die kaal kind kom uit die hut gestap. My dogter is twee en het haar moeder se mond en haar moeder se moeder se rare slawenaam: Elizabeth. Sy huil nooit, het nog nie juis begin praat nie. Ek wil haar optel maar sy stoei haar los. Sy gaan sit in die stof en kyk na my. Later skuif sy nader tot in die skaduwee van die huis. Af en toe kyk sy om en glimlag; sodra ek opstaan en nader kom, hardloop sy binnetoe.
Toe die karrie einde van die week reg is, begin ek en Windvogel die oggend drink en teen die middag jaag ons op twee wilde volstruise rond tot Maria ons kom skel:
Maar my Gots, Buys! Klim af daar, jy lyk of jy op ’n hoender sit! Jy gaan die ding se rug breek!
Ek spring af en jaag haar ’n bietjie rond, dan loods ek ’n aanval op die kind. Ek val in die stof. Sy kom staan oor my en lag met ’n handjie voor haar bekkie. Ek tel haar op en sy spartel los. Dan is ek weer agter haar aan met ’n gebrul. Sy mik kekkelend na haar moeder. Ek gooi Maria oor my skouer en laat val haar op ons kooi van huide. Ná ’n wyle kom ons agter Elizabeth staan en beloer die twee stoeiende, kreunende lywe. Dan sien sy ’n geitjie by die deur.
Teen skemer kom ek tot bedaring op die bankie voor die deur. Teen die golwe goue vuur wat oor die kim spoel, verskyn die silhoeët van ’n kakebeenwa sonder seil. Vyf vermaerde brandsiek osse sukkel voort, die voorste een sonder juk, met rieme ingespan soos ’n trekperd. Twee Hottentotte, een voor die osse, die ander op die wakis. ’n Gehawende prediker in wat oor is van ’n kispak en keil staan agter op die wa en betreur luidkeels sy verdorwe siel. Hy ruk die laaste van sy knope af om sy rooigebraaide bors vir my te wys. Die verloopte sendeling klou aan die klappe van die verrinneweerde wa en skree waarskuwings in Duits en Hooghollands oor riviere wat in bloed sal verander en donker mans in donker nagte met lang messe en dit lyk of die spattende spoeg oombliklik verdor tot die rou blase om die Godbedonderde gek se mond. Die Hottentotte beduie verleë met halfmas arms in my rigting terwyl hulle die osse lusteloos slaan en pad-af aandryf. Die man krap aan sy bors en raak heel begeesterd toe Maria by die rietdeur uitkom. Die wa is nog ’n ent af in die pad toe die fielt oordadige buigings begin maak. Hy wens my ’n geseënde oes toe. Hy stel hom bekend met die een of ander Germaanse van. Hy vra na die pad Swellendam toe terwyl die osse aanstap Couga toe, al verder weg van Swellendam. Ek glimlag vir die man en skree dat hulle die smalle weg volg, dat dit lank en swaar en bedisteld is maar dat dit inderdaad die regte pad is. Die man, wat reeds van alle sinne beroof is en nou ook van bestemming, wuif my toe. Hy buig weer voor hy die Hottentotte begin vervloek oor hul laksheid en hulle waarsku dat die luiaard nooit Het Blijde Jerusalem sal beërwe nie. Die wa kom tot stilstand. Die uitgeteerde gesant van God spring af; sy knieë knak onder hom. Die vlieë wei ongestoord aan die babbelende bekeerder se blase, soos hulle ook nie verwilder word van die Hottentotte se wange nie. Hy tel ’n vuis vol sand op, soen dit en betuig sy liefde vir hierdie uitsig en die gehalte van die grond en vra op ’n seer omslagtige wyse of hy my kan help met die oes in ruil vir ’n kombers en ’n patat twee maal ’n dag.
Lyk dit vir jou of ek iets plant?
Hy kyk om hom rond en sien die dor bossies en die aalwyne en die lae koppies en die beeste daar doer en die paar Hottentothutte skaars te onderskei van die veld of my pondok. Ek proes vir sy verwardheid:
Jy kan oes wat jy wil, my lieve vent.
Die predikant begin oreer oor hoe die Here elkeen van sy skepsels voed en hoe hy al weke uit die tuin van God sy etes voorberei. Ek het ’n olifantgeweer in die hand en marsjeer op die man af. Hy gryp die sweep by ’n Hottentot en slaan lomp na die osse.
Ek gaan, Mijnheer! Ek is op weg, die smalle weg, soos u my aangedui het! roep hy my toe.
Ek lê aan en skiet die agterkant van die wa vol van die gruis waarmee ek die geweer gelaai het. Die osse stap aan. Terwyl ek besig is om te herlaai, bedink ek my, sit die geweer neer, hardloop die wa in en spring op. Ek begin met ’n grootse stem vir die verskrikte sendeling en sy Hottentotte preek. Ek haal lang stukke koorsdrome aan uit die Openbaring wat Geertruy my leer opsê het. Ek skree:
En toen Het het vierde zegel geopend had, hoorde ik een stem van het vierde dier! Die zeide: Kom en zie! En ik zag! En ziet! Een vaal paard! En die daarop zat, zijn naam was de dood! En de hel volgde hem na! En hun werd macht gegeven om te doden tot het vierde deel der aarde! Met zwaard! En met honger! En met den dood! En door de wilde beesten der aarde!
Ek hou aan bulder op die klein gemeente wat my verslae toehoor. Ek vermaan hulle oor die bospaadjies wat afdwaal van die smalle weg, die meide wat in hierdie land in poele wag om jou te bespring en die mensvreters en die verdelging van die Kristen deur die Heiden en die monsters en gediertes reguit uit die Hel se klowe. Ek berispe hulle by voorbaat vir die dagga en die drank wat hulle siele sal laat vrot en die boude van die vroue en die borste waaraan hulle sal ondergaan. Die touleier vergeet van die osse en die kasarm gaan staan bot op ’n plek in die wapad waar my stem begin galm tussen die koppies. Ek sprei my arms en stoot my bors uit en wend my weer tot Hooghollands:
En de koningen der aarde! En de groten! En de rijken! En de oversten over duizend! En de machtigen! En alle dienstknechten en alle vrijen! Verborgen zichzelven in de spelonken! En in de steenrotsen der bergen! En zeiden tot de bergen en tot de steenrotsen: Valt op ons! Verbergt ons van het aangezicht Desgenen, Die op den troon zit, en van den toorn des Lams!
Ek swyg. Net die sonbesies en die laaste sin antwoord in die koppies. Dan die laaste basuin:
Want de grote dag Zijns toorns is gekomen! En wie kan bestaan?
Die vier mans kyk vir mekaar. Die wa kom in beweging. Ek gaan sit plat op my gat in die wa en lag. Die Hottentotte kyk na my. Die kispak besef die redevoering is verby en begin binnensmonds pruttel oor laster en die verwording van die siel. Ek bly proestend sit, dronk van voor af, saam met hulle op pad in die verkeerde rigting dieper die wildernis in, tot hulle om die draai by die drif is. Dan spring ek af en gaan tel die geweer op en vuur ’n laaste skoot laag oor hulle koppe en draf huis toe. Geertruy was reg: Die juiste woorde en ’n luide stem is sterker as ’n hele span osse en tref harder as ’n olifantgeweer. Maria kom aangestap. Ek kan skaars hoor wat sy skreeu, maar ek kan raai sy is ontevrede met hoe ek predikante ontvang. Ek storm op haar af, druk my kop tussen haar bene in, lig haar agterstevoor op my skouers en hardloop reguit kooigoed toe.
As jou naam staan op die owerheid se lys vir kommandodiens, moet jy die jaarlikse krygsoefeninge bywoon by die naaste drostdy. Die affêre sloer ’n week lank aan. Vir ’n Lange Clower soos ek beteken dit dat jy meer as twee weke van die huis af weg is; Swellendam toe en terug is meer as ’n week te perd. Mits jy ’n ordentlike perd het. Jy moet jou eie perd moeg ry soontoe en jou eie geweer saamvat en jou eie lood loop wegskiet op ’n spul teikens en gemoedelik saamkuier met die burgers van die distrik en probeer om niemand te slaan nie. Slegs siekte of ongeskiktheid verskoon jou – siele soos Jacob Senekal wie se ou ogies nooit tot by die teikens kon sien nie.
Ek sit lekker op De Brakkerivier. Niemand pla my nie, ek pla niemand nie en alles vergaan en vergroei rondom my. Dae draal soos seisoene. Ek loop nie ver van die huis nie. Iedere doringboom lyk soos die vorige een. By ’n miershoop kan ek wel nie verbyhou sonder om ’n stok daarin te druk en te karring nie.
Ek is nie lus om Swellendam toe te ry om te gaan kyk wie se peester die grootste is of wie die reguitste kan skiet nie. Brandewyn is skaars en ek drink myne verkieslik alleen. Ek is nie lus om ou Perd, sonder hoefysters of humeur, Swellendam toe te karwats nie. Maria het skaars die bloed van die nuwe baba afgewas en ek moet al weer weg. Die geweer los ek by Maria; as hulle wil hê ek moet skiet, kan hulle vir my ’n Kompanje-geweer leen en die kandelare op hulle oorlaaide drostdytafels smelt om vir my kogels te maak. Ek druk ’n dolk in my gordel ingeval iemand my in die nag wil bekruip. Perd is oud en beneuk maar kan vir enige skepsel, Bossiesman of leeu, weghol. Die Buyse daag gereeld op vir hierdie oefeninge, miskien loop ek van my broers daar raak. Maar ek sal hulle nie loop soek nie.
Toe ek inry tussen die bondel geboue wat hulle Swellendam noem, is daar ’n bakleiery voor die taphuis. Die twee boere is beide ewe sat geveg, albei sit op hul knieë in die pad. Hulle slaan met lang en swaar arms na mekaar. Nie een hou mis nie, albei is te moeg om te koes. ’n Paar knewels van die burgermilitie staan rond en wag tot die twee albei lê en sleep hulle dan weg selle toe. Ek gaan meld my aan vir die krygsoefening. Die klerk wat die vorms invul, besef ek het geen wapens by my behalwe die geroeste dolk nie. Ek word beboet met twaalf riksdaalders en tot hiertoe sal hulle my tart en nie verder nie. Ek klim op my bejaarde perd en ry die witgekalkte gehug uit. Ek sal eers ná my stoflike afsterwe en my wedergeboorte as Alom-Buys in die motgevrete notules lees wat ek alles gemis het. Soos dat Petrus Ferreira van De Lange Cloof daardie jaar by die krygsoefening ’n splinternuwe tabakdoos wen as tweede prys vir teikenskiet. Mag hij de rode tyfus krijgen!
Terug tussen die grys bossies op De Brakkerivier sê ek vir Maria om ons huisraad weer toe te bondel en vas te bind. Ek gaan haal vir Windvogel onder ’n hupse meid uit en sê hom aan om die osse in te span. Die Hottentotte sien ek maak aanstaltes. Hulle begin ook hulle dinge bymekaarmaak. Die meeste sal verder dool na buurplase vir werk, maar ’n paar jonges sonder bande van vrou of kind besluit om saam met ons te verkas. Ek gooi ’n fakkel op die dak en kyk hoe die riethuis afbrand. Elizabeth dans om die huis en word ’n dynserigheid in die vlamme. Maria maak die baba stewig lê in die wa. Sy gaan sit op die voorkis en klap die sweep. In die jaar 1785 laat ek alles wat ek ken agter en trek oosgrens toe.