Читать книгу BUYS - Willem Anker - Страница 9
3
ОглавлениеEn in hierdie dae is daar onrus in die koningshuise van die Kaffers soos daar onrus heers in die koningshuise van Europa. Terwyl die Franse begin valbyle slyp vir koninklike strotte, moor ook die Kaffers mekaar uit vir nuwe ordes en konings en is die horison in Afrika soos in Europa vol rook en verder leeg.
As ek die verhaal van die oosgrens geken het voor ek daarheen getrek het, sou ek nie my voete daar gesit het nie. As jy oosgrens toe wil trek, bring meer munitie as boeke. Jy kan oorleef in die hier en nou as jy reguit kan skiet, maar die geskiedenis gaan jou rug breek en jou skop waar jy lê.
Ek begryp jy wil by die storie uitkom; die geskiedenis rondom my maak dinge dynserig. Maar ek was deel van daardie baaierd, die bossies en die bloed en die meidjies, maar ook die datums. So kom ons hou dit kort en kragtig: Opperhoof Phalo is in 1775 na sy voorvaders. Vir sy seuns Rharhabe en Gcaleka is die lewe ook iets wat sigselwers moet uitwoed sodat hulle kan gaan lê. Gcaleka volg sy vader drie jaar later. Rharhabe moet, soos soveel vaders in daardie tyd en steeds, sien hoe sy seun en erfgenaam, Mlawu, verstik aan sy bloed en roggelend sterf van die spies in sy bors. Hy staan op van sy seun se lyk en baklei verder teen die Tamboekies tot hy ook op dieselfde stuk grond sterf en die jaar is 1782.
Mlawu se seun is Ngqika en hy ry nog soms op sy moeder se rug en speel in die stof en hardloop met nerfaf knieë rond en kan nog nie regeer nie. Mlawu se jonger broer, die groot generaal Ndlambe, gaan sit op die versierde osskedel voor die Groot Hut en hou dit warm vir die klein prins. Ndlambe is ’n kryger en sy mense het hom daarvoor lief. Hy is groot en sterk en nie vier jaar oud nie. Hy verstaan oorlog en hou aan oorlog voer. Hy sit onmiddellik sy vader se veldtog teen die Mbalu en die Gqunukhwebe voort, want seuns maak oorlog vir hul vaders. Sy redevoering is gespierd en soepel soos sy ledemate en deurdrenk van idees oor die nimmereindigende stryd om selfhandhawing en dergelike drek wat van alle tye af die lippe vlek van mans wat moet regeer, maar net weet hoe om te veg.
Die Kaffers het geen sentrale owerheid waarmee die Kompanje kan onderhandel nie. Toe die Kompanje effe verward ’n rivier ’n grens en ’n plaashuis ’n drostdy maak en ’n afgetrede Stellenbosser en ’n handvol ordonnantieruiters stuur om hierdie grens te bewaak, sien die Kaffers net ’n rivier waar daar ’n grens is en stroom hulle daaroor. Aan die oostekant van die Visrivier heers daar droogte wat die vee en wild vermoor en ’n regent wat die Mbalu en Gqunukhwebe vermoor. Die Mbalu en Gqunukhwebe en hul vee trek in tussen die Kristene en hul vee aan die duskant van die rivier. Hulle dool oor leenplase heen op soek na weiding en wild en oorlewing, vasgepen tussen die bedonderde boere en die wagtende Rharhabe-krygers. Die Kristene en die Kaffers boer al twee met beeste en vir al twee is jou vee jou rykdom. Beide bly in riet-en-kleihutte, heers oor hul vroue en bid vir hul gode wat dieselfde offers vra van vleis en vuur. Die Kaffers het die getalle en die Kristene die sierlike skrif van leenkontrakte en Bybelverse. Uit die getalle vloei geen algebra en uit die geskrifte geen fraaie verse nie, alleen maar bloed. Die Boere van Europa word kwaad en die Mbalu van Langa word kwaad en die Gqunukhwebe van Tshaka smelt weg in die ondeurdringbare gehemeltes van die klowe.
Hoofman Langa is die broer van Gcaleka en Rharhabe en soos hulle ook ’n man met ’n humeur. Soos tradisie dikteer, verlaat hy as jong man die onstuimige omstreke van die huis van sy vader, die Huis van Phalo, en vestig sy eie kapteinsgebied. Langa is ’n jagter van olifante en renosters. Die Huis van Mbalu, bekend vir hul aggressie en dapperheid, hierdie mees krygsugtige stam aan die grens, is vernoem na Langa se gunsteling-os en in hierdie jaar van 1788 het Langa op drie-en-tagtig nog al sy tande.
Boere waag dit nie meer om hul plase te verlaat nie. Toe Cornelis van Rooijen sy volk stuur om doringtakke aan te sleep vir sy beeskraal, nie ’n halfmyl van die huis nie, vlieg daar ’n horde Kaffers op uit die bosse met skilde en assegaaie en jaag die stomme Hottentotte terug opstal toe. Hy sê sy plaas is nie meer syne nie. Hy sê hulle stig brand, hulle kom vra kos met wapens in die hand, hulle steel, hulle wei die veld af, hulle moor die mak Hottentotte en hulle verniel die koring.
Toe Ndlambe en Langa saam optrek teen die Gqunukhwebe, ly Tshaka se volgelinge groot verliese van mens en dier. Hulle trek wes tot in die Kolonie en stryk neer. Langa neem byna al Tshaka se beeste; sy Kaffers is arm, daarom verhuur hulle hulself aan die boere vir kos en beeste. In die laat tagtigs van die agttiende eeu is daar duisende verslane honger mense wat die Kolonie binnestroom en boere se vee begin steel. God nog aan toe! Tot sover die geskiedenisles.
Op ses-en-twintig is ek in die fleur van my lewe en algar ken my naam. My Hottentot skiet een van Langa se krygers en die ou ram dikteer vir my die brief waarvan oom Petrus skryf. Later in 1788 word ek gedagvaar vir drie schellings se agterstallige belasting.
Die amptenaar, met sy klere wat nie stof goed dra nie, bring vir my die dagvaarding en verkyk hom aan die astrante meid en die kaal bastertjie wat om my knieë boer.
Mijnheer, daar is ook die aangeleentheid van hoofman Langa wat u verkla dat u een van sy Kaffers aangerand het? sê hy.
Ek het my beeste gaan terugneem. Die Kaffer by die beeste het hom teëgesit, ja. Toe tug ek hom. Mijnheer.
Mijnheer Buys, dit is uitsluitlik die owerheid se voorreg om straf uit te deel.
Ek glimlag:
Julle regeer nie die Kaffers nie.
Ek ignoreer die dagvaarding. Dit loop uit op niks. Kort hierna vervals ek die handtekeninge op ’n petisie teen die Kompanje.
Die boere van die geweste verneem van my skietvernuf en my blitsige perd. Hulle verneem ek kan beter lees en skryf as enige van hulle. Hulle hoor my praat en sommige mor dat ek darem vreeslik vloek, maar hulle sien hoe algar na my luister. Hulle kom drink Maria se koffie en smeer korwe vol heuning om my bek totdat ek instem om hul vergaderings by te woon. By so ’n byeenkoms van vergramde boere sê ek net genoeg sodat hulle dink dit is hulle wat besluit dat ek ’n klagskrif moet skryf aan die owerheid. Ek skryf die boere se klagtes oor die Kaffers op en vra dat die owerheid die saak sal ondersoek. Vyf mense teken hulle name hierby: die uwe, Lowies Steyn, Johannes Hendrikus Oosthuyse, Pieter Viljee en Hendrikus Vredrikus Wilkus.
Dan skryf ek ’n tweede brief. Ek maak die een en ander spelfout reg en glip ’n sin in wat voorheen nie daar was nie. Die boere is beu, sat, gatvol, sê die sin. As die owerheid niks gaan doen nie, sal ons self ons beeste gaan terugvat en die Kaffers self terugdryf oor die Visrivier. Ek bieg, onderaan hierdie tweede klagskrif (gedateer 11 Augustus 1788) teken ek self die name van nege persone: die oorspronklike ondertekenaars, uitsluitende my naam, en dan ook die name van Pieter de Buys, Gerhert Scholtz, Cornelis van Rooijen, Vredrik Jacobus Stresoo en Andries van Tondere. Vir elkeen maak ek ’n eie handtekening en al ontbreek myne, is elke handtekening besmet met die krulle en lyne van my eie naam.
Gaan soek maar, die spore is doodgevee. Hierdie klagskrifte, oorspronklik of andersins, het daardie tyd reeds vermis geraak binne die dupliserende en uitdyende labirint van koloniale papierwerk. Die briewe mag verlore wees, maar die alsiende VOC vind uit dit is vervals en braak aanklagte en veroordelings oor my en my goeie naam. Enige orator sal vir jou sê dat die waarheid die beste teenstander is om mee te oefen. By die volgende vergadering staan ek op en glimlag my glimlag en spreek die Kristenstryders toe.
Ek staan voor die manne, alleen tussen die veroordelende oë in die voorhuis van ’n verslane boer. Hulle kyk op na my, selfs dié wat staan. Ek is die langste, die grootste man hier. Ek maak my smoel oop en glo my, nie my vrou of my vriend of my kind of my werkers of my perd het my al so hoor praat nie. My stem is ’n strelende bas, nie die normale gegrom nie. Ek is woordryk en vlot. My stem val in pas met die geheime ritmes wat mense opwerk en beswym, wat hulle oorreed dat wat hulle hoor helder en logiese argumente is, veral waar die kop en stert so ver moontlik uitmekaargetrek word in my ellelange sinne, sodat hulle hulself oortuig dat hier tog êrens sin versteek moet wees en dat ek in my welluidende stortvloed dinge bymekaarbring wat hulle nog nie voorheen saamgedink het nie, miskien omdat ek elke sin eindig met ’n gemeenplaats, maar een vanuit ’n heel ander geweste as die res van die sin, ’n stert vir die sin soos dié van ’n skerpioen met ’n skielike dodelike steek aan die punt, die regte woorde op die regte plekke wanneer hulle dit die graagste wil hoor en dan ’n skielike ommeswaai wat hulle monde laat oopval en wat my dan juis begeester tot nuwe hoogtes en geykthede en met ’n al sterker stem laat voortstorm terwyl my oë nooit hulle s’n verlaat nie, oë wat goedgelowig en wasig vra vir nog, oë wat my nie kan laat los nie maar my hoegenaamd nie sien nie, ’n gehoor aan my voete wat hulle eie stront – wat ek bloot vir hulle aptytlik opdis – opvreet vir die soetste koek en vir geen oomblik wonder oor die glimlag wat soms, tydens pouses in die steeds al langer wordende sinne, vlugtig en onwillekeurig in my mondhoeke flikker en verdwyn nie, en ek kan sien dat nie een onder hulle daaraan dink dat ’n mens kan glimlag en glimlag, en ’n godverdomde skurk kan wees nie.
Ek oortuig die burgers dat ek, voor die enigste en grootse God, verseker was dat wat ek geskryf het die waarheid is wat inderdaad reeds leef in die hart van elkeen daar teenwoordig. Ek het hul name geteken met die sekerheid dat sou die tyd dit toegelaat het, en hul teenwoordigheid my beskore gewees het, hulle die veer sou gedoop het en self hul name sou geïnk het onderaan my woorde, wat in der waarheid ook hul woorde was.
Die burgers verkyk hulle aan my. Ek voel groter as my sewe voet, ek verlustig my in my eie stem. My woorde loop soos boomgom oor hulle en maak die wêreld dik en glasig tot hulle oortuig is die vervalsing was ’n vervalsing in vorm maar nie in gees nie. Later hoor ek dat my aanhoorders vir die amptenare gesê het dat, al is hul handtekeninge vervals, hulle van ganser harte saamstem met die inhoud en dat hulle op versoek enige tyd wel hul name onderaan sodanige dokument sou aanbring. Ek verskoon my so gou ek kan en gaan trek my draad op die werf.
Die VOC is ’n maatskappy op die rand van bankrotskap met ’n oopgeskopte miernes vir ’n hoofkantoor, en die aanklag van vervalsing, sowel as die klagtes in die gewraakte dokument vervat, loop, soos in die geval van my agterstallige huur en belasting, uit op hoegenaamd niks.
Sonder om Brandwacht se huur op te sê, registreer ek in September 1789 ook die leenplaas De Driefonteinen aan die Bosjesmansrivier op my naam, en ses maande later ook Boschfontein, naby die Zondagsriviermond.
Brandwacht word al ’n tyd lank vertrap deur Kaffers wat hier kom jag en hul vet beeste laat wei. In 1790 kry ek ’n lisensie om olifante te gaan jag en pak my goed om te trek. Ek sal my gesin neem na Boschfontein, waar daar nog weiding is en die Kaffers nie soveel van ’n probleem nie. Dan sal ek die boendoes in agter die olifante aan. Ons is besig om die laaste van die huisraad op die wa te gooi toe daar ’n kordate mannetjie met ’n buitensporige hoed en valletjieshemp aangery kom. By hom is ’n paar Hottentotte met snaphane en teuels in die hand. Die kaartmannetjie stel homself voor as Kaptein Ruiter.
Ek het al gehoor van hierdie mijnheer. Die halfhottentot-halfbossiesman-wegloopkneg wat aan die Visrivier loop lê het met ’n bende booswigte uit al twee die rasse wat in sy bloed stu. Ruiter se bende vrybuiters het die Kaffers geplunder, tot die banggatbende gedros het en hom daar gelaat het om vrede te maak. Nie lank nie of hy is Tshaka se skoothond. Nou het Ruiter en sy Gonna-Hottentotte ook soos die Kaffers hulleself kom inwurm tussen die Kristene.
Kaptein Ruiter vra ewe formeel toestemming om op my grond aan te bly. Ek is sat van hierdie geneuk.
Bly julle hier, wat maakt mij dat uit, sê ek. Ek is ieder geval op pad, hierdie grond is suf getrap.
Later sal ek hoor watter erge stoornis die Gonnas was, hoe die Kaffers én die kommando’s glo vir Ruiter op my grond kom soek het, en dan sal ek lag.
Ek stap die leë huis binne; buite klap die swanger Maria die sweep en die wa skrik wakker. Ek staan in die middel van die voorvertrek, kyk op na die daksparre, die swawelnes verlate en verbrokkel, tik my voet op die miershoopvloer. Ek het hierdie huis gebou en byna vyf jaar lank hier gewoon en dit was huis en nou is dit ’n leë skulp van biesies en klip en bros en gebarste klei. Ek skop ’n stuk leiklip tot dit padgee en ’n deel van die muur inkalwer. Ek tik weer liggies aan die vloer, loop dan vinnig uit. Ek dink aan die aarde onder die huis, die oneindige swaar gewig net onder die dun lagie los miershoopgrond. Ek voel iets voormensliks en ontsettend. Ek ry agter die wa aan.
Op Boschfontein staan reeds ’n opstal, ’n groterige huis wat nie veel werk nodig het nie. Die vorige boer is nie lank terug weg nie. Seker soos die ander terug Lange Cloof toe omdat die Heidene te naby begin wei. Ek en Windvogel maak die dak reg en stamp die vloer hard en snags droom ek van donker waters onder die huis, staande swart water sonder rimpelings, die gladde oppervlak wat nie deurbreek word nie, die onbepaalde diepte sonder einde.
Huise op die grensvlakte is nie gewortel met kelders of fondasies nie, hierdie hutte van Kristen en Heiden raak skaars aan die stof, dring nie die aarde binne nie. Die hut word neergesit op die grond soos ’n nes in die veld.
Ek bly nie lank op Boschfontein nie. Ek sorg dat my mense hulle sit kry en dan gaan kyk ek hoe lyk die see. Ek het nog nooit die see gesien nie. In De Lange Cloof het die mense soms oor die verraderlike kranse van Duivelskop getrek om te gaan visvang, maar die Buyse en slapnek-Senekals het nooit ’n smaak vir skulpslakke of visskubbe gehad nie. Vir my mense was dit altyd die bosse wat gewink het. Ek staan op die duin en kyk oor die water. Gedog die see sou groter wees. Die water is souter as wat ek gedink het. Die Hottentotte sorg vir die beeste, Maria sorg vir die huis, ek kyk in die vertes.
Maria sê sy is moeg daarvan om alewig agter almal skoon te maak. Sy skel my ordentlik toe ek die oggend al die kos in die huis in ’n doek toedraai en op die wa gooi en haar probeer soen en oor die werf wegstap na waar my mensetrop wag. Sy kyk hulle deur: my skaduwee Windvogel, Coenraad Bezuidenhout, sy blaaskaakbroer Hannes en Van Rooijen wat alewig kla.
Ons trek die klowe in om olifante te gaan terg. As ’n olifant kwaad genoeg word en storm, voel jy die speldeprik regoor jou lyf en staan die hare op in jou nek en word jou ganske vel wakker. Dan skiet jy. In die huis staar jy in die hoeke, krul jy jou op soos ’n dier in sy gat.
Nuus uit Europa bereik die Caab eers laat. Die modes in die Kasteel is glo byna ’n dekade te laat, maar die oproerige idees uit Frankryk land vinniger hier as enige nuwe rokpatroon. Die woorde liberté, égalité en fraternité is lig en vaag genoeg om vaart te kry. In Parys bestorm burgers die Bastille in die naam van vryheid en aan die oosgrens is daar niks oor behalwe vryheid nie. Inderdaad, soos altyd die geval is met boodskappe wat te ver moet trek, lyk die Franse spreuke heel anders as dit vol skeurbuik en stof by Graaffe Rijnet aankom.
Ná 1789 gee die boere nie meer voor om hulle te steur aan die Kompanje se laaste stuiptrekkings of die dronk mymerings uit die drostdy nie. Die Kaffers, die Bossiesmans, die Kristene – ieder en elk by die dag meer wanhopig en gewelddadig. Boergesinne vlug Graaffe Rijnet toe om die laaste voorrade te verslind. Landdrost Woeke vat en los en suip. Sekretaris Wagenaar bedank en die Kompanje stel Honoratus Christiaan Maynier aan in sy plek. Hulle almal moet opdonder!
Alliansies word gesmee en gebreek; dán wil Ndlambe saam met die Kristene teen die Mbalu en die Gqunukhwebe optrek, dán maak hy saam met Langa jag op Tshaka en Chungwa. Die Gqunukhwebe verdwyn selfs dieper in die bosse van die riviervalleie, al langs die kus af tot by die Gamtoos. Kyk, die Gqunukhwebe en Mbalu word verbrysel soos mielies in ’n stampblok, soos soveel ander mense in soveel ander plekke waar oorryp en opgeblase moondhede teen mekaar druk.
Die Kaffers besef gou ’n perd en ’n geweer maak ’n Kristen nie onsterflik nie. Kort voor lank kom hulle ook agter die flenters koper en yster en stringe krale wat die Kristene aanbied vir hul beeste is ’n verneukspul. Die versukkeldes verlaat hul krale en kom werk op die plase. As ’n boer so ’n Kaffer nie betaal nie, of te gereeld foeter of aan ’n wawiel vasbind en met hom ’n paar draaie ry en hom dan kats, gaan kla die Kaffer by sy hoofman en word die boer geplunder en sy huis afgebrand. In hierdie tyd dros baie Hottentotte op hul beurt weg van die plase en gaan bly by die Kaffers omdat die boere hulle mishandel. As die boere hul wegloophotnots kom soek by die Kafferkrale, soms op hul eie plase, jaag die Kaffers hulle weg. In 1789 word meer as sestienduisend Kafferbeeste en ’n paar duisend Kaffers op een leenplaas opgeteken. Die Kristene raak lus vir baklei, maar die Kaffers bly in hordes saam, nie een-een soos die Kristene wat nie bure kan verdra nie. Hulle bedel nie meer vir kos nie; nou vat hulle dit.
Ek olie my geweer. Ek sit die houtolie dik aan. Dan begin ek dit stadig blink vrywe. Net twee vingers, klein sirkeltjies tot albei vingers slaap. Elizabeth speel om my in die voorkamer. Maria is buite, besig om met Windvogel te klets. Die venster is smal, ’n strook son breek in skerwe oor die ruwe tafel.
’n Owerheid verstaan kaarte, nie grond nie. ’n Kompanje verstaan nie oorlog nie, dit gedy in vergaderings. As jy die geduld het, kom dolwe saam met my in die argiewe van die burokratiese Kolonie: Woeke, al hoe maerder en dronker, word aangesê om met die Kaffers te onderhandel. Die plan is om alle Heidense aansprake op grond wes van die Visrivier uit te koop. Onderhandeling volg op vergadering volg op beraad volg op samespreking. Tshaka en Chungwa gaan nêrens heen nie. Hulle het die grond tussen die Vis- en die Kowierivier glo by ene Kaptein Ruiter gekoop vir vyftig beeste. Niemand weet by wie Ruiter die grond gekoop het nie. Ag, rot op! Die ander Kafferkapteins sê hulle sal padgee uit die Zuurveld – as almal padgee, Heiden én Kristen. Woeke ry huis toe en skryf nog briewe aan die Politieke Raad en die Raad sê Los eers die Kaffers, hou net die Kristene binne ons regsgebied. Die Raad fluister: Ons het geen papierwerk vir anderkant die Vis nie. Die Kompanje doen wat dit die beste doen en vaardig ’n kommissie af, bestaande uit Woeke, die afgetrede sekretaris Wagenaar en nuwe sekretaris Maynier, om met die Heidene te gaan praat. Die kommissie slaag nie daarin om die Kaffers te oortuig van die idee van private grondbesit nie. Ons vind julle kultuur bekoorlik, sê die kommissie. Ons wil graag vriende wees, maar bly asseblief tog aan julle kant van die rivier. Weer word presente uitgeruil en die notarisse sit met kwylende bekke en tonge wat tussen nat lippe uitpunt en maak aantekeninge oor die Heidene se liggaamsbou en die toestand van hul tande en die grootte van die stulpings onder hul lendevelle. Die afgetrede en heraangestelde Wagenaar word alleen, sonder een enkele soldaat, op die grens agtergelaat om die owerheid se orde te handhaaf en die ganske Kafferryk te intimideer met sy pruik en kouse.
Kaffers loop deur die rivier en kom haal my beeste; hulle is skaars terug by hul krale of ek gaan haal weer my vee en nog wat. Min plekke in hierdie wêreld is so besig soos die oewers van die Vis. Elke jagtog word langer, elke olifant skaarser en ouer en meer woedend, elke strafkommando wreder. Om ons trek gesinne saam in lagers. Die owerheid stuur nie die munitie wat hulle beloof nie. Ek bly heel lekker waar ek bly. Maria mis my nie meer as ek nie by die huis is nie.
Ek lê by my vrou en sy vryf oor my kop. Ek kyk op tussen die dakbalke deur. Ek mis die swawelnes in Brandwacht se sparre. My seuns Philip en Coenraad Wilhelm is vir my gebore. Net spoeg en klei, dink ek. Ek draai op my sy en kyk vir Maria. Sy dra weer laag, die volgende een gaan weer ’n seun wees. Daar is ’n nuwe haar wat uit die moesie langs haar oor groei.
Graaffe Rijnet kry uiteindelik sy eerste predikant, Jan-Hendrik Manger. Sondae preek hy twee keer in Hooghollands in die skool wat ’n stal was. Toe Woeke nie opdaag vir ’n vergadering in die Caab nie, stuur die Kompanje kaptein Bernard Cornelius van Baalen as waarnemende landdrost. Hy skryf ’n woordryke verslag oor die wanorde en korrupsie wat niemand, buiten natuurlik de uwe, Alom-Buys, lees nie. Die meeste mense wat nie op Graaffe Rijnet hoef te bly nie, skryf hy, het lankal padgegee.
Ek en Christoffel Botha met die vrot tande, die Bezuidenhout-gebroedsel en ’n paar Prinsloos ruik bloed en rykdom.
Ruik! sê ek vir hulle.
Wat ruik ons, o grote Buys? vra hulle.
Hulle noem my hul vriend; ek noem hulle wat ook al ek moet sodat hulle agter my sal bly aanry. Ons praat al wat veldwagtmeester is om om ’n strafkommando te loods. Ek vertel vir krygsoffisier Barend Lindeque en veldwagtmeester Thomas Dreyer dat dit al die mooiweer is wat die woestyne maak en dat die droogte net deur storms gebreek kan word. Ek vertel vir hulle hoe ek ’n dief op heterdaad betrap het. Die Kaffer was besig om een van Botha se beeste te slag, maar toe ek hom hand om die nek na sy hoofman sleep, verjaag die Kaffers my en staan die pestilensie en lag my uit. Ons beeste verdwyn nou met die dag, maar as jy saam met my op ’n kommando gaan, kom jy altyd terug met meer beeste as wat gesteel is. Hulle sê op strafkommando’s skiet ek en my bende effe ruimskoots onder die Heidene. En ons skiet glo die Kaffers wat op ons plase jag. Maar ons is groot manne en sterk en skiet nie mis nie. Ons is onmisbaar op elke kommando.
As jy ons skade maak, maak ons vir jou skade: Langa, wie se kraal nou op burger Scheepers se plaas lê, gaan jag saam met van sy krygers. Toe hulle by Campher se opstal aankom, sluit hy Langa in sy huis toe. Hulle sê die ou kryger slaap al jare nie weens die seer in sy rug. Campher neem Langa se skild en assegaaie en mes en kierie by hom af en hou hom gyselaar tot die ou hoenderdief sy vryheid met vee moet koop. Hannes Bezuidenhout hou twee Kafferkapteins se seuns aan op sy plaas tot die kapteins hom ’n losprys van vier osse betaal. Dan is daar Hannes se broer, die swernoot Coenraad. Sy broers noem ek op die naam, maar hy is bloot Bezuidenhout – hy is die een verantwoordelik vir die stories oor die wildewragtag-familie Bezuidenhout. As jy hom ken soos ek hom ken, dan weet jy, hy is dié Bezuidenhout; hy is die legende. En boonop, daar is net een Coenraad in hierdie geweste. Einste Bezuidenhout wat elke maand op ’n ander plaas boer. Hy wat, so gou die buie oor hom kom, dreig dat hy nog elke godverdomde skepsel langs die Swartkopsrivier sal doodfoeter; hy wat daardie jaar vir Chungwa in sy meul opsluit en hom inspan soos ’n muil en hom met ’n karwats leer hoe mens die ding laat draai.
Die lug hang swaar toe ek ná ’n veeruilery in 1792 terugry huis toe met die vee en die vrou wat ek by Langa gevat het. Ek is een-en-dertig en het drie plase, ’n vrou en vier kinders, ’n hele spul Hottentotte wat vir my werk, ’n magdom vee en nou ook ’n Kafferprinses, skaars sestien met ’n vel styf gespan en blink soos stinkhout. Sy sê haar naam is Nombini. Sy sit fier op die wa asof sy ingeryg is. Haar twee spruite kan nie die groot tepels uitlos nie. Die trop gerifde honde hardloop op en af langs die wa. Hulle jaag mekaar rond, hap speels na mekaar en maak die osse gek. In die wolke knetter die eerste donderweer. Toe ons oor die rant trek en my plaas op die vlakte sien lê, blink die Zondagsrivier soos ’n Melkweg en lê my huis met die kerslig in die venster en die vure van die Hottentotte wat werk op my plaas en die vure van die Kaffers wat laat wei op my plaas soos smeulende sterre in die donker gras. Toe ons nader kom en tussen die vure deurry, is dit geen gesternte meer nie, bloot punte van onverbonde lig.
Die reën kry geen end nie. Die rietdak hou eers die water uit en dan nie meer nie. Wie ook al voorheen in die huis gebly het, het geweet hoe om ’n ordentlike skoorsteen te bou. Maria sit met die pasgebore Johannes aan die bors, Elizabeth met klein Philip en Coenraad Wilhelm op haar skoot by haar gewone plek langs die vuur. Coenraad Wilhelm suig aan haar duim. Dan ook Nombini en haar kinders.
Ek jaag die hoenders balke toe en skrop vir my ’n plek oop tussen die kat en die ander kat en die vark wat niemand meer uit die huis kan kry nie. Maria en Elizabeth is bang vir die donderweer. Elizabeth snik. Maria hou haarself besig om die paar komme onder die lekplekke te sit, sodat haar hande nie bewe nie. Nombini en haar kroos is doodstil, kyk om hulle rond na die mielies en biltong en tabak en huisraad wat aan die hanebalke hang. Die diere maak net die nodigste beweging om nie warmte te verloor nie. Nombini kom orent en kyk na my en Maria en tel ’n porseleinbakkie van die tafel af op en gaan sit weer en hou die bakkie in beide hande vas en draai dit stadig in die rondte tussen haar vingerpunte. Maria los die kom en pluk die bakkie uit Nombini se hande en sit dit terug op die tafel. Nombini kom sit by my waar ek ’n vergroeide toonnael met ’n houtrasper probeer afvyl. Die kinders kyk na mekaar en kyk na die grootmense en is stil en dan begin almal gelyk tjank. Maria struikel oor die kat. Die kat skree en die kinders skrik en onderbreek die reëlmaat van hul gehuil en huil dan verder.
Godverdomme, Buys, hier’s nie plek vir almal nie.
Ek druk Nombini vas en sê iets in haar oor en sy gaan sit by haar kinders. Maria maak vleis gaar, gooi patats in die pot. Die paar tinborde wat ek nog nie gesmelt het om my kogels harder te maak nie, word op die tafel uitgepak. Ek en my vrou en my kinders kry ons sit. My nuwe vrou en haar kinders gaan sit in die hoek. Ek sê hulle moet kom aansit. Ons eet. Nombini lek haar vingers skoon en die vet skyn om haar mond. Maria kyk hoe ek kyk vir hierdie vreemdeling toegewikkel in haar karos, die lang bene. Ek praat met haar in Xhosa en sy sê nie veel nie. As ek ophou praat, kyk sy dadelik af en maak haarself onsigbaar. Ek praat met my kinders in Hollands en af en toe loer ek vir Maria.
Ek haal die Bybel van die rak af.
Laat ons boekevat.
Ek maak die kopergespe los en slaan die groot boek oop, stof vlieg die lug in. Die blaaie is nie meer almal daar nie. Dinge bly agter as jy aanhou trek. Ek lees gewigtig voor. Ek hou vir Maria dop, weet hoe ek met elke heilige woord haar probeer streel en paai en sien hoe die verdomde goed dan niks uitgerig kry nie.
En Abraham voer voort, en nam een vrouw, wier naam was Ketura, lees ek voor.
Nombini se vingers soek weer die koue porselein op. Sy haal ’n rooi kraal uit die voue van haar karos, laat dit val in die bakkie en kyk hoe die kraal al om die bodem tol. Wonder sy wie vanaand die seer uit Langa se rug vryf? Sy draai die bakkie om en om, kyk na die fyn blou patrone in die porselein sonder begin of einde. Ek begryp goed, met die aand se koms kry mense hulself jammer, maar sy moet haar stront los. Ek sien daardie onderlippie bewe. Moet ek haar jammer kry? Die meid het in haar lewe nog nie ’n bord kos gesien soos die een wat sy so pas verorber het nie. Siestog, sien sy in haar Heidense geestesoog hoe die Kristene haar kraal binnery op hul groot perde, die hoewe wat stof skop in die kalbasse water wat sy en die ander jong meide van die rivier af gehaal het?
En zij baarde hem Zimran en Joksan, en Medan en Midian, en Jisbak en Suah.
Die meidjie is sterk, haar lip bewe nie meer nie. Dog, terwyl ek lees, wonder ek oor my nuwe vrou se veraf oë. Wie se kraletjie skommel sy so in die bakkie? Ek weet wat jy dink: Sy is bang, sy is ’n kind en sy is ver van die huis. Twak! Jy was nog nie dae lank saam met haar op ’n wa nie. Jy weet nie wat in daardie fraai koppie maal nie. Ek lees, maar al wat ek sien is hoe sy ou Langa se skouers vryf, hoe sy rug ontspan onder haar hande, hoe sy lê en luister hoe hy snork. Al die nagte wat sy lê teen daardie vel wat die dood reeds begin loswerk het van die bene. Sien sy sterre as hy in haar spuit? Was sy trots op haar man toe hy uit sy hut kom en regop gaan staan en sy karos afhaal en sy ou bors uitstoot en ons, die Kristene, tegemoet stap?
En Joksan gewon Seba en Dedan; en de zonen van Dedan waren de Assurieten, en Letusieten, en Leummieten.
Die rooi kraletjie hou aan tol in die leë kommetjie, oorverdowend; ek kan myself nie hoor lees nie.
En de zonen van Midian waren Efa en Efer, en Henoch en Abida, en Eldaa. Deze allen waren zonen van Ketura.
Maria skuif rond op haar stoel en sug oordadig.
Was Nombini bekommerd toe die Kristene en Langa en sy kapteins in ’n nou kring gaan staan, die pratery sagter, dringender? Het sy gesien hoe ek uittroon tussen hulle, my baard, my maanhare? Ek onthou sy het gegil toe die een Kaffer terugsteier. Hy was groot, daardie Kaffer, een van Langa se sterkste kapteins. Het hy met haar gepraat en ver met haar gaan wandel voor Langa haar as vrou geneem het? Dink jy sy het met hom ook dinge gedoen? Hoe ver mag ’n Kaffermeidjie aangaan met ’n man as sy nog ongeskonde wil trou? Was sy stang in haar mond? Het sy hom toegelaat in haar agterent? Sy oogbank het gebloei. Het sy gesien wat gebeur het, die hou gehoor? Ek weet sy het gesien toe ek op hom afstap, wydsbeen oor hom gaan staan, hom optrek en hom teen die grond slaan. Die ander Kaffers het stilgestaan. Ek het die Kaffer laat los, gespoeg op hom en weer die kring binnegeloop. Ek is nie trots daarop nie, maar wat weet sy van beeste ruil en gesteelde beeste terugvat? Jy moet jouself laat geld in die eerste minute. Wat weet sy? Ek het iets vir Langa gesê en hom gestamp. Waar was sy toe? Het sy gesien en wat sien sy in die rooi kraletjie wat al woedender sirkels maak onder in die kommetjie?
Doch Abraham gaf aan Izak al wat hij had.
Kon die klimmeid sien hoe haar Kaffers terugbaklei, hoe die vuishoue val en die swepe klap en ’n assegaailem flits? Hoe ons Kristene ook verdomp houe vat en bloedlaat, tot iemand ’n geweer lig? Weet die skepseltjie hier aan tafel dit was óns beeste, Kristenbeeste, wat ons daar uit die kraal uitgejaag het? Wel, meeste van hulle. ’n Heel paar het bekend gelyk. Ieder geval, ek het weer met haar man gaan praat en toe lag die ou donder nie meer nie. Het hy, daar by my, vir haar ouer gelyk as daardie oggend in die kooi?
Maar aan de zonen der bijwijven, die Abraham had, gaf Abraham geschenken; en zond hen weg van zijn zoon Izak, terwijl hij nog leefde, oostwaarts naar het land van het Oosten.
Ek het gewys na haar. Sy het afgekyk. Ek sien weer hoe ek en twee Hottentotte na haar toe loop. Sy word al mooier soos ek nader kom. ’n Paar van haar man se jong manne loop agter ons aan, hande geklem om assegaaie. Een van die Kaffers hardloop vooruit en gaan staan tussen haar en my, ek die bose blonde reus. Die Hottentot links van my skiet die Kaffer in die bors en hy bly lê en sy bloed pomp uit hom weg. Vir ’n oomblik lyk dit of dit ’n slagting gaan wees. Een kryger gooi ’n assegaai, maar dit land tussen twee boere. ’n Hottentot vuur mis. ’n Kristen slaan ’n kryger met ’n sambok. Langa skree vir sy krygers om terug te staan.
Dit was nie net hulle wat bang was nie. Ons het nie doodslag loop soek nie, verdomp. Kon die meid sien, daar waar sy gestaan het, hoe hierdie groot Kristen se hande langs sy sye bewe?
Dit nu zijn de dagen der jaren des levens van Abraham, welke hij geleefd heeft, honderd vijf en zeventig jaren.
Die boere en hulle hanshottentotte het verward rondgekyk. Ek het weggespring, my hande nou vuiste, afgepyl op die naaste Kaffer tussen my en haar. Die skepsel was skaars man, seker so oud soos sy. Ek begin hom foeter. Hy is plat en hou sy kroeskop vas. Ek hou nie op nie. Iewers skree iemand iets en dan is daar hande wat my van hom probeer aftrek. Ek los die Kaffer en slaan na die Hottentotte wat my wil bedwing. Al drie van die goed. Het sy saamgelag? Ek het hulle hoor lag, die Kaffers wat skater vir die mal wit man wat sy eie Hottentotte te lyf gaan. Het sy toe weggekyk? Jy gaan ook wil wegkyk. Probeer gerus. Probeer jou kop draai wanneer ek orent kom met bloed om my mond. Probeer wegkyk wanneer die Hottentot regop struikel, sy hande voor sy gevreet wegtrek asof hulle vasgeplak is. Sy hét gesien. Kyk net hoe betrag sy my. Die stomme meid het alles gadegeslaan en niks verstaan nie. Ek is nie skaam nie. Vir wat? Sy weet niks. Die Hottentot wat opkyk met die wit been waar sy wang was.
En Abraham gaf den geest en stierf, in goeden ouderdom, oud en des levens zat, en hij werd tot zijn volken verzameld.
Ek het my hande aan my broek afgevee. Aangestap na haar toe. Sy het my aangekyk en nie geroer nie. Sy moenie hier kom slagoffer speel nie. Het sy nie, toe ek oor haar buk, daardie hand, die een wat nou so danig is met die donderse kraletjie, natgelek nie? En het sy nie my bebloede baard en lippe skoongevee met daardie einste handjie nie? Ja, meid, wat kyk jy? Jy weet jy het net daar in die stof, tussen jou Kaffers, met daardie sagte, stadige veeg oor my mond, jouself vir my gegee. Jy wou die vrou wees van die wildste onder die wildes. Jy was bang, maar jy kon daardie koedoeooi-ogies nie van my afhou nie. Nou kyk jy steeds. Maar jy kyk anders.
En Izak en Ismaël, zijn zonen, begroeven hem, in de spelonk van Machpela, in den akker van Efron, den zoon van Zohar, den Hethiet, welke tegenover Mamre is.
Maria stoot haar stoel terug en ek hou op met lees. Sy staan nie op nie. Nombini se kraletjie lê stil in die kom. Sy sit die bakkie neer op die tafel. Die Here alleen weet wat ’n vrou dink as sy so kyk. Onthou sy hoe ek haar op my perd getel het? Hoe haar ou man gespoeg het op die grond en niks verder gedoen het nie? Hoe haar mense haar aangegluur het? Hoe ons nog twee ander meide op die Hottentotte se perde gelaai het. Hoe die ander twee meer terugbaklei het en Van Tondere se gesig gekrap het? Hoe ons die beeste bymekaargejaag het? Hoe een van die jong Kaffers in ons pad gestaan het en met ons geweerkolwe en sambokke verniel is? Hoe ons weggery het en niemand ons agtervolg het nie? Ek is seker die meid onthou dit alles. Nou is ek spyt ek het haar oë toegehou toe ek terugkyk en sien hoe Langa se Kaffers toesak op die wanglose Hottentot wat van sy perd afgeval het en hom met klippe en assegaaie doodgooi.
In den akker, dien Abraham van de zonen Heths gekocht had …
Ek sien hoe Maria kyk vir my; ek verloor my plek.
Daardie nag het ek by haar gaan lê en haar myne gemaak. Ek het vir haar gesê my naam is Coenraad. Maar vir wat sal die meid nou daaraan dink? Daar is mos soveel waaroor sy hierdie Kristenman kan verwyt. Onthou sy hoe sag ek met haar was? O nee, as sy enigsins dink aan ons eerste saamlê, sal sy dink ek was soos ’n godverdomde snuiter toe ek aan haar vat, onseker en huiwerig sonder haar bevestiging. Dat sy my moes gerusstel en aanmoedig voor ek haar ordentlik kon beklim. Dat ek vreeslik trots gelyk het op elke hyg wat ek uit haar kon kry. Vir wat sal die meid dink dat dit vir my ook ’n lang dag was? Vir wat sal sy onthou hoe ek heelnag deur agter haar gelê het? Wil jy glo, die volgende oggend sê die meid vir my dat ek prewel en snik in my slaap. Net wat ’n man wil hoor op sy wittebrood. Moes haar net daar in die veld gelos het vir die wolwe. Mos juis daardie môre die ander twee meide die veld ingejaag met die sambokke. Maar my prinsessie het bly sit by my. Sy kon saam met hulle vort as sy wou. Vir wat sou ek haar stop, ek het mos ’n vrou. Maar sy het bly sit en nou sit sy hier en gluur my aan en wil nie die kraletjie uitlos nie. Ek gryp haar hand en sper dit oop en ruk die ding van haar palm af en druk dit in my mond en kou dit fyn en sluk. Sy bly sit. Ek soek my plek in die vers:
Daar is Abraham begraven, en Sara, zijn huisvrouw. Tot sover die Skriflesing vanaand.
Maria staan op, neem weer die porseleinbakkie uit Nombini se hand, hierdie keer meer beleefd, en sit dit op die stapel borde.
Gaan die hoer my help opwas of is ek nou julle albei se Hotnot?
Maria, moenie jaloers wees nie. Jy is my huisvrouw.
Ek wens ek was, Buys.
Jy is, dit beloof ek, lieve Sara. Het jy nie geluister wat ek lees nie?
Sy stap weg, sug, draai dan om:
Jaloers, Buys. Ek wens ek was jaloers.
Die weerlig slaan en buite skyn die wêreld. In die helder blik van die bliksem bly niks versteek nie en sien ons spul aan tafel mekaar soos ons is en die oppervlak van elkeen se aangesig word vir ’n oomblik verlig en verraai geen diepte nie en is volkome onkenbaar en dan is dit weer donker en die skaduwees trek sagte gemaklike maskers oor ons gesigte.
Op hierdie nag stoom die huis vol asems van mens en dier. Dit is asof die lug self gladde en klam wande word. Die reën is verby maar die gedrup hou aan. Die huis is vol, selfs die vark moet buite slaap en die vark slaap nooit buite nie. Die huis voel leeg. Die huis voel groot en eindeloos bekend, eindeloos herhalend. Asof daar gange en sale is tot in ewigheid, asof elke druppel wat in die kom drup moet weergalm. Maar niks galm in hierdie huis nie.
Ek lê langs Nombini in die voorhuis en luister na die veraf donderweer en Maria se gesnork nog verder weg.
Die volgende oggend is die wolke weg en die lug deurskynend. Ek skel op die Hottentotte. Die jakkalse was onder die skape in. Ek neem vir Nombini na die volk se hutte en sê vir hulle hulle moet vir haar ’n hut bou soos die Kaffers hul hutte bou en sy sal tussen hulle bly en hulle sal na haar luister want sy is my vrou. Die Hottentotte praat onder mekaar en kyk na die jong vrou wat bly staan toe ek wegstap na my huis. Die jong meid wat nie omkyk – soos ek omkyk – om te sien waar haar man heen gaan nie. Sy bly staan, alleen en met twee kinders op haar arms, en kyk hulle aan.
Teen skemer twee dae later ry ek na haar toe. Ek draai Glipper se teuels om ’n tak en gooi die rol velle oor my regterskouer en die twee geweers oor my linker en buk nie laag genoeg om by die hut in te gaan nie. Ek vloek en sy lag uit haar pragtige maag. Die aand sit ek en sy by ’n vuur voor die hut en die volk wat van die land af kom groet vriendelik en hou verby. Teen die einde van die week saal ek op en gaan jag olifante en vind nie een nie en kom terug huis toe.
Dit is nog herfs, maar kyk, ek oorwinter. Ek slaap tot smiddae, loop dan toegedraai in ’n vel op en af in die huis, gaan lê weer. As ek ver genoeg gaan, tot daar aan die einde van slaap se doolhof, vind ek stilte. Die huis is groter as enige waarin ek al vantevore gebly het, maar hoe langer hierdie winterslaap duur, hoe meer krimp die huis om my. Asof die fluitriet op die dak en die klei aan die mure om my toegepak word soos ’n nes en dan, weke later, asof die mure taai en sag word en soos die vlies van ’n papie om my toevou.
My mense leer gou om my alleen te los. Meestal hoor ek hulle nie en as hulle tot my deurdring, brul ek op hulle voor ek my weer toespin. Ek krul my op in die karosse en dekens wat ek in die hoek van die kamer gegooi het. Maria slaap op die bed. Sy sê my gesteun hou haar wakker. Sy sê ek is welkom om by my Kaffermeid te gaan lê. Ek bly lê in die hoek.
Ek konsentreer daarop om so stil moontlik te bly, elke beweging word oorweeg voor dit uitgevoer word. Ek ken die siel van elke spier. Teen laatmiddag op ’n dag waarvan ek die naam nie weet nie lê en staar ek na ’n slak wat oor die vloer sleep. Ek kyk na die woede waarmee die slak uit sy dop kruip. Kyk net die horings wat stadig uitvou.
Die kinders gons om Maria soos brommers en vra na hul vader.
Hy lê en wag, hoor ek haar sê.
Waarvoor? vra hulle.
Sy stuur hulle uit. Sy is ’n moeder, sy weet van terugtrek in skulpe, die voorbereiding van ’n uitweg. Haar mond trek as die kind in haar skop. Dink jy dat wanneer sy so staan en kyk na haar Coenraad op die grond onder sy huide, dink jy sy sien my en dink aan slange in hul gate? Of dink jy sy onthou hoe haar vader in hul hut by die Senekals elke nag op en af marsjeer het?
Laatmiddae verdwyn ek. Dan gaan ek see toe. Op die vlakte waai die wind sonder ophou. Jy kan nie die see hoor van die huis af nie, maar dit is nie ver nie. Ek hou die skulp vas en draai dit om en vat daaraan, versigtig om dit nie te breek nie. Ek lek daaraan. Terwyl ek daarna kyk en dit vashou, maak die skulp se vorm vir my volkome sin, en sodra ek terug onder die hoop huide weer daaraan dink, word dit heeltemal onverstaanbaar.
Hoe kon ek daardie skemermiddag geweet het dat die skulpdier sy eie huis uitskei? Wie sou my tog vertel het dat die boumateriaal deur die dier syfer, hoe hy sy wonderlike bedekking distilleer soos nodig? Ek druk die skulp teen my oog en sien donkerte; ek druk die skulp teen my oor en hoor die see. Ek kon dit toe nie verwoord nie, kan steeds nie, maar wat ek gesien het, was iets van ’n eindelose vorming en vervorming sonder ophou.
Terug op die plaas verwoord ek wel twee dinge aan twee mense. Die eerste is Windvogel, aan wie ek sê: Tel jou seëninge, vriend. Jy bly alleen. Die tweede is Nombini, aan wie ek, toe ek seker is sy slaap, fluister: In ’n skulp het jy nie ’n deur of ’n hek nodig nie, almal is te bang om binne te kom.
Ek skuld ses jaar en vyf maande se rekognisiegeld op Brandwacht, een jaar en elf maande op De Driefonteinen en een jaar en vyf maande op Boschfontein: ’n totaal van tweehonderd-vier-en-twintig riksdaalders. Die Kaffers stroom oor die grens en moor Kristene. Die Kristene blameer my oor ek moeilikheid soek met die Kaffers en sukkel met hul meide en dan boonop ook wapens na hulle smokkel. Hoekom gewere smokkel na die Heidene wat my besteel en vir wie ek besteel? Om bondgenote te maak aan weerskante van die grens? Om nie al my eiers in een Kristenmandjie te smyt nie? Om bloot die spel interessanter te maak? Inderdaad. Onder meer.
Boere begin hul grensplase verlaat en trek wes, terug na die beskawing. Niemand glo my toe ek klagtes lê teen die Kaffers wat my beeste steel nie, want wie kan so ’n volslae verdorwe wese vertrou? Geen Kristen se vrou maak vir my die deur oop nie, geen Kristen doen aan op my plaas nie. My eie familie ken my nie meer nie. Die landdrost en sy amptenare pla my nie oor my skuld nie, solank ek uit hulle pad bly en my bek hou en krepeer op my godverlate stuk sandgrond wat deur die Zondagsrivier oor eeue der eeue heen die see in gespoel word.
Die droogte keer terug, en die sprinkane en die trekbokke vreet en vertrap alles wat oorbly, en die Kristene wat nog nie wes getrek het nie, trek nou wes.
Op 21 Januarie 1793 kap die Franse hulle koning se kop af en op 13 Julie word Marat in sy bad vermoor deur ’n vrou met ’n kombuismes en later in hierdie jaar kom vat Langa, wie se vrou nou by my bly, al my vee en brand my plase af en my huis en alles daarin en los my dwalend in armoede.