Читать книгу BUYS - Willem Anker - Страница 8
2
ОглавлениеOns trek deur die binneland, volg die uitgetrapte roetes van vroeëre beweging na die limiete van die Kolonie. Soms is die groewe van waspore duidelik sigbaar, soms verdwyn dit vir dae en beweeg ons bloot van die een fontein, spruit of watergat na die volgende. Ons hou so min moontlik stil, net as die wa breek, of ek ’n eland gewaar en die newels in jaag op Perd en nie terugkom sonder ’n karkas nie. Meeste dae volg ’n eentonige sleur, ander begin met ’n oor-en-weer-geskree en eindig in ’n baaierd. Die baba, steeds sonder naam, dobber deur die reis, toegedraai in ’n karos, gesus deur die wa se gekraak en gekerm sonder om later enigiets hiervan te onthou, en lag en slaap en huil en lê verder en kyk vir die watent daar bo waar haar wêreld eindig.
Maria sit op die wakis, klap die sweep oor die sat diere en vloek hulle op die naam sodra hulle laks raak. Die Hottentotte jaag die troppie vee aan, Windvogel meeste van die tyd bo-op die bees wat hy die vorige jaar by my as betaling gekry het. Ek sit met Elizabeth voor my op die perd. Sy sit nie in die saal nie, dit is vir haar te naby aan ’n ander menselyf. Haar kaal lyfie krul om Perd se nek. As ek aan haar vat om seker te maak sy sit stewig, dat die son haar nie seer brand nie, skree of grom sy. Dit is net sy en die perd, maar as ek in die ry vir haar vertel van die name van diere en plante en klippe, sê sy die name fluisterend na vanuit die ruigtes van die maanhare. Dit is net wanneer sy seer slaperig is dat sy by my sit en aan my baard trek, die rooi boskaas ’n woud vir haar vingers om in te verdwaal. Haar gelaat is nie so lig soos haar vader s’n nie, maar ligter as Maria s’n. Die blas vel en rooi hare maak van haar iets waarna die paar verbygangers staar. Sodra hulle haar grys oë gadeslaan, staak hulle hul gegroet en geklets en kyk hulle weg en lig dan die hoed vir my en mý grys kykers. Snags slaap ons in die wa. Op koue aande lê die baba opgekrul teen die moederbuik asof sy daarna terugverlang. As die jakkalse roep in die rante en die wolwe langs die wa lag, sit die rooikopkind regop, arms om haar knieë, en waak sy oor ons.
Uit die saal bekyk ek die bossies en grasse en doringbome en die miershope soos torings van Babel. Soms halt ek by ’n rotsformasie of ’n plant wat my aandag trek, maar terwyl daar son is, stop die wa vir niks en niemand. Ek ry agter die wa aan, my gedagtes reeds weer by ander klippe of blare of dwalend oor die verte. Ek is nie hier om te verken nie. Ek is op pad grens toe. Die paar mense wat hierdie streek hul eie maak, soek my nie hier nie: die Kristene jag diesulkes en hulle besteel en vermoor die Kristene in daardie ou siklus van vernietiging sonder begin of einde. Hier hou jy jou klein en sit jy nie te lank stil nie. Die Bossiesmans moenie dink jy wil jou tuismaak nie.
Soms kom ons ander waens teë, soms voetgangers of ruiters, maar niemand laat ’n blywende indruk op die ander nie. Ons span nie uit by ander boerewonings soos die gewoonte is nie. Die gesprekke en gebruike daarbinne is waarvan ek wegtrek. Wanneer die voorrade min word, bly ons soms oor by ’n kraal. Die Hottentotte ruil graag skaap en uintjies en heuning en behandel Maria goed, hierdie klein koningin met haar reuse- wit man en Hottentotknegte.
By een kraal is die Hottentotte die aand aan die dans. Toe Elizabeth by my kom sit naby die vuur, is ’n paar verwonderde figure dadelik hurkend om haar. Hulle sien sy is sku vir al wat mens is. Hulle kom stadig nader, versigtig om haar nie te verskrik nie. Die een druk sagkens ’n vinger teen haar skouer. Sy kyk vir die vinger. Hy druk ’n vingerpunt oker op haar neus. Sy giggel, druk haar eie vingertjie teen die Hottentot se neus. Ná ’n wyle laat sy die bekoorde Hottentot toe om haar hare te streel. Sy klim op my skoot, maar laat hulle toe om haar lyfie vol oker hande te stempel soos die hande wat hulle teen grotwande druk. Uiteindelik wen die spul haar vertroue; sy klouter van my skoot af. Hulle tel haar op hul skouers en dans om die vuur. Sy lyk soos die nagedagtenis van ’n vlam, rooi en blink maar minder so, asof die vuur ’n skaduwee het wat saam met mense kan dans sonder om hulle te verteer.
Soms doen ek aan by opstalle om nuus te aas. Soos die trek ooswaarts voortstu, moet jy al fyner kyk om ’n hut te eien as Kristenwerf. Heidene bly in ronde hutte; Kristene se hartbeeshutte is haaks. Die nuus is nooit goed nie. Die Kristene waarmee ek praat, is meestal vlugtelinge wat hul plase op die oosgrens laat staan het en teruggekruip het diep in die arms van die Kolonie, net om ook hier beroof en vermoor te word. Die mededelinge van hierdie bevreesde godvresendes is net so niksseggend soos die klipstapels op grafte.
So ’n verloopte Kristen kruip een middag uit sy modderhut om my te groet. ’n Breërandhoed op sy kop en die flenters van wat eens soldateskoene was, is die som van sy klerasie. Sy ganske lyf dop af van die sonbrand. Hy babbel oor Kaffers en sprinkane en sy misoes en dit is wat hy weet en dit is sy lewe. Hoe sou hy kon weet wat Alom-Buys weet en wat sou dit hom skeel dat Lodewyk die Sestiende in hierdie jaar van onse Heer 1785 ’n wet onderteken wat bepaal dat sakdoeke voortaan vierkantig moet wees?
As die wind deur die gras waai of die skaduwees van wolke oor die hange en koppies storm, lyk dit of die hele dooie landskap lewe kry en onder jou voete verbysnel. Die oog speel speletjies in hierdie eindelose plek waar dáe se trek soos stilstaan voel, en ’n uur of wat se skuiling soek teen ’n donderstorm voel soos oud word. Deur die dag is die veld gevrek. Ons trek verby leeus wat onder doringbome lê, wat nie opstaan vir ’n ganske trop beeste nie. Met die oorgangstye van nag na dag en dag na nag is die veld ’n oorverdowende onwelluidendheid van lewe wat skree en krys en ritsel en jaag asof daar bestemmings is buiten die talle kringlope wat hier in die soetlig-oopheid op mekaar insny.
Deur die dag is ek nooit alleen saam met Maria nie. Ons gesprekke is wedersydse opdragte, planne om die wa aan die beweeg en die kinders gesond te hou. Snags wanneer die spruite slaap, kan ons mekaar versigtig bemin. As een van die kinders wakker word van die wa se geskud, gaan lê ons giggelend tussen die wiele of sluip ons die veld in.
Bedags is dit ek en die platheid. Gewoonlik ry ek weg van die stoet en die wa, waar ek die oopte kan voel en kan bang word. Op die vlakte is daar nêrens om weg te kruip nie. My bors trek toe en die grond bind my voete vas en tap my are vol lood. Ek jaag uit oor die vlakte met die donderweer rollend en krakend en toornagtig in die swart wolke. Die bliksemstrale laat die einder vlam vat. Daar is geen wegkruipplek wanneer die swaar druppels en hael begin neerstort nie: Dit is dáár waar ek wil wees. Dit is wat my bang maak. Dan is ek onderdeur en my bors stroom vol lug en my voete word lig; dan is alles oop, voor en om en in my.
Ná so ’n storm werk die ooptes my op. Ek gryp Maria van die wakis af, gooi vir Windvogel die sweep, skree ’n paar bevele en jaag met vroulief wat probeer sitplek kry op die saal die veld in tot die wa klein word. Asof die wêreld na my kyk, maak ek groot vertoon van elke beweging. Sy is toevallig die vrou by my; ek pronk vir die veld. Ná dese lê ek teen haar en drink aan haar terwyl sy oor my kop streel.
Hou toe jou oë, sê ek vir haar. Maak toe, niemand mag sien nie.
Ek knyp my oë toe en ons lê in die donker en haar melk loop in my baard. Die stoet karring langsaam voort, ons hoef nie te jaag om dit in te haal nie. Terug by die wa huil die kinders en Windvogel spot ons tot ek hom klap.
Die son is ’n lidlose oog op die dag dat die groot boek met die tekeninge in die wapad lê. Ek lees daarin: inksketse van kameelperde, die lang nekke onmoontlik lank, esels, tiere, dan perde met renosterhorings, watermeide. Hoe verder ek blaai, hoe meer gedrogtelik die tekeninge. Die lyne word vlekke. Op elke paar bladsye is kaarte in allerfynste besonderheid en skakering wat oor en oor deur die boek geteken word en soms uitgekrap word. Iedere kaart vreemder as die vorige een. Ek druk die boek in my saalsak. Ek stop my pyp en rook in die saal. Voor die pyp klaar is, lê ’n wit pruik in die pad. Minute verder ’n swart driekanthoed op ’n stapstok met ’n ivoorkop wat in die grond geplant is. Verder aan twee verslete swart skoene met blink gespes, netjies langs mekaar. Om die volgende draai ’n baadjie opgehang aan ’n doringboom, en dan die wit hempsmoue wuiwend aan ’n tak ’n ent verder. Die swart ferweelbroek vind ons oopgesprei oor ’n verdorde bos en dan ’n kaal man wat onder ’n waboom teen die pad sit, wydsbeen met sy kop op sy bors. Die sonverbrande vent kyk nie op toe hy gegroet word nie en roer nie toe ek ’n velsak met water by hom neersit nie. Hy maak of hy slaap. Ek skud aan hom. Hy snork harder, rol om en krul op met sy hande onder sy kop. Ek skud weer; hy trek sy kop in tussen sy skouers. Ek por hom met ’n stewel. Hy skud sy lyf asof ek ’n vlieg is wat pla en snork verwoed. Na de duivel met hom. Ek tel die watersak op en ons ry aan.
En altyd, op ’n afstand, die honde. Snags hul klaagliedere en bedags is hulle spoorloos, behalwe die afoorreun wat langs Perd inval as ek die wapad byster raak en die veld inry. Die lewe en haar gevare, die wondere en die dood word nie op die wapad gevind nie. Ek ry nie ver nie, ek hou my mense in sig. Ou Af-oor hyg langs my, sy bene strammer as ’n paar jaar gelede. Ek staan in die stiebeuels, betrag die omtes. Jy maak jouself ’n teiken as jy nie oor die naaste bosse langs die pad gaan kyk nie. Weg van die waspore vind jy tekens van lewe. Ander spore, warm as in gate waar die vorige nag klein vure gemaak is. ’n Stukkende geweer, die baviaanboud vol swart bloed. ’n Man wat koorsig loop met leë oë, gebuk onder die skuld waarvan hy weggevlug het, sterwend van die water wat hy te gou opgedrink het.
Ons kom af op trekkende Hottentotfamilies wat werk soek, wat nie meer weet hoe om van die veld te leef nie, jongmense wat nie meer die liedere van die oumense ken nie. Een van die families stop en praat en pleit en die volgende dag merk ek hulle op ’n myl of wat agter ons. ’n Week later nog ’n familie wat agter ons aanloop met klein bondeltjies. Alles wat hulle kon vergader op hierdie aarde in velle toegedraai, styf teen hulle maer lywe gekoester. Mense wat nie afgeskrik word deur skote en vloeke en dreigemente nie en uiteindelik saamloop met die ossewa wat uitmekaarval. Spore van leeus en koedoes en droë rivierlope. Verlate werwe met karkasse in die stof en geraamtes swaaiend aan stroppe in bome, die klere en vleis lankal herverdeel. Afgebrande hartbeeshuise, bewoonde hartbeeshuise en hutte en skerms waar ons verbyhou, veral by dié waar die uitnodigings te vriendelik is en die oë te ver kyk en die woorde in koorsige stotterings teen ons vasspoel. Die alleenheid van die veld word heel verdraaglik sodra jy dink aan die gevare wat enige ontmoeting mag inhou. Hierdie land is ’n vergesig waar die mense hulself in skeure en holtes weggrawe wanneer hulle iemand sien aankom.
Ons sien nooit ’n skadu of spoor van ’n Bossiesman nie, maar heeltyd is ons bewus van die klein geel oë op ons en die vuurtjies in die niet wat snags klein brand en die volgende aand nader tot daar een nag ’n paar van die skepsels tussen die beeste moeilikheid kom maak en ons op hulle skiet. Windvogel kwes een en vlieg op van waar hy lê en begin jubel oor sy eerste Bossiesman en ’n pyl steek vlak by sy skouer in ’n tak vas en hy bepis hom en huil.
Ons trek verby nog bome met mense behang soos versierings, die verrottende vleis, stukkies koper aan die geraamtes wat swaaiend die son weerkaats. Ons trek verby pragtige lugspiegelings. Soos ons trek, vrek die beeste op ’n streep, waarom weet nugter en wie gaan halt om uit te vind, en ons trek verby bome langs die pad waarvan die huid afgeslag is vir medisyne en lyke langs die pad waarvan die huid afgeslag is vir kos of in wraak of in bloeddorstige beswyming en dan is ons oor die paar poele wat die mense hier die Bosjesmansrivier noem.
So land ons in die Zuurveld, hierdie uitgebreide slagveld. Skiet saam met Alom-Buys die hemele in en bespied die Groot Vis van bo af. Kyk hoe die stroom op pad see toe plotseling oos swenk sodat dit vir ’n wyle saam met die kus stroom, voor dit weer draai en in die see uitmond. Hierdie haakse draai en saamloop met die kus skep ’n reghoekige arena waarop verskillende groepe mense tegelykertyd hulle vee wil laat wei en waar hulle tussen die oseaan en die Vis- en Bosjesmansriviere soos in ’n bankskroef van tagtig by vyftig myl vasgeklem en verbrysel sal word. Welkom in die Zuurveld.
Die oewers van die riviere wat die Zuurveld oorkruis is oortrek met bome en doringbosse, dig en ondeurdringbaar vir vreemdelinge. Sodra jy uit die rivierklowe klim, vind jy van die mooiste weivelde op Gods aarde. Hierdie lowergroene gras is dodelik. In die somer is dit uitstekende weiding, maar in die winter begin die vee vrek. Die Zuurveldkaffers en die grensboere weet jy moet jou vee in die winter skuif na die soetveld in die rivierklowe wat heeljaar geil is maar nie swaar weiding kan verduur nie. In die somer skuif die vee weer suurveld toe. Kyk, die vleesgeworde dekzwabbers in die Caab trek grense op kaarte in kantore. Enige beesboer sal vir hulle sê dit is besete, hierdie godverdomde grense wat die weidingsbewegings versteur en vernietig. Die boere en die Kaffers word ontstig. En teen die tyd dat ek hier aanland, is algar reeds hoogs de moer in. Sodra my gebarste pote land op my leenplaas Brandwacht, prik my vingers soos die ganske lug kraak voor ’n donderstorm.
Ons bou ’n skerm en ek gaan groet my ouboet Johannes. ’n Paar weke later staan Maria en wuif my agterna met die baba aan haar bors. Elizabeth staan langs haar moeder en waai nie vir my nie. Saam met die paar Hottentotte wat kan skiet trek ek die bosse in. Ek is soos ’n kind op Perd; ek kan nie stilsit nie en babbel onophoudelik en beveel die groepie om agter elke koppie en in elke ruigte te gaan loer. Saans hou ek my smoel by die vuur of ek raak die dronkste en die luidste. ’n Week later kom ek terug met ’n trop Kafferbeeste wat veel vetter lyk as die paar halfvrek dierasies wat ek uit De Lange Cloof aangedryf het. Ek vergeet onmiddellik van die jong Kaffer en hoe hy vir my gekyk het toe ek hom skiet waar hy op die oop veld sy beeste oppas, daardie eerste mens wat ek vermoor het. Later bou ons ’n hut en later ’n hartbeeshuis. En altyd, daar ver, die honde. Wanneer ons die veld fynkam vir Kafferbeeste, flits rooibruin vlekke in die hoeke van ons oë. Snags flits hul oë in die bosse om die opstal. My Hottentotte probeer hard om die honde mis te kyk. Niemand praat oor hulle nie, niemand verjaag hulle nie, niemand lê aan op hulle nie; God behoede die rotzak wat dit waag.
’n Jaar later stap ek die hartbeeshuis binne. Die swawel skiet voor my by die deur in en op na sy kleines onder die dakspar. Ons het skaars ingetrek of die swawelpaar het gevolg en hul eie klei-en-riethuis teen die dak prakseer. Ek wou hulle verjaag, maar Maria het volgehou hulle is gelukbringers vir enige huwelik. Die skepsels paar lewenslank af. Ek het gesê ons is g’n getroud nie en Maria het gesê hulle kom en gaan saam met die seisoene en die reën. Enige boer sal sy gode dank vir ’n paar swawels wat die weer voorspel. Die goed kwetter heeldag lank in hul nes, maar ek laat hulle begaan. Hulle is nie veel erger as die hoenders en speenvark en katte en kinders nie. Dit is Maria se huis, ek is nie veel hier nie. As sy wil ark bou, is dit haar storie. Die veld is myne.
Die veld is myne, soos dit ook behoort aan my beeste en die Hottentotte wat my beeste oppas en die Kaffers wat hul beeste laat kom wei en nie weer padgee nie. Wat vir ’n Kolonie is dit waar mens nie jou draai kan kry op die limiete nie, asof dié wat binne is, wil uit en dié wat buite is, wil in? En daar op die grenslyn, op die rivieroewer waar die spul mekaar ontmoet, wil nie een padgee vir die ander nie; dáár is ’n alewige kopstampery en pronkery soos jong hane.
Ek loop gereeld rond oorkant die grens. Geen Caabse vent met sy sykouse en gegeurde poeier in sy pruik gaan vir my vertel watter rivier ek nie mag oorsteek nie. As die rivier my wil stop, kan die rivier my stop, maar dit is iets tussen my en die waters. En die Groot Vis is ’n bliksem as hy afkom. Dan is daardie grens ’n verdomde gréns en kan jy maar praat soos jy wil, hom kom jy nie deur nie. Maar soms is die Groot Vis bloot ’n watergat in ’n dorre loop waar seekoeie gaap met wrede tande. Soms is hy smal en diep, soms breed en vaag en vlak. Soms kan jy deur hom loop. Maar hy is altyd bruin van die grond, asof die sand ook wil padgee uit die Zuurveld en afmars see toe, die groot en ewige grens waar alles vervloei en versuip en waaruit alle Kristene en amptenare kom. Die oosgrens lyk geen dag en op geen plek dieselfde nie. Niemand stap twee maal deur dieselfde Visrivier nie.
Skaars ’n uur se trek van waar ons vanoggend kamp afgeslaan het, voel die geel gras van die vlakte ’n dagreis ver, asof ook tyd hier verstrengel raak in die lang dorings wat nie wil laat los nie. Die water, dik en sterk soos Maria se koffie, kronkel deur die klowe waar die dorings dig groei en koedoes verskyn en verdwyn in paadjies wat net hulle kan sien. In hierdie ruigtes kan jy vinnig verdwyn, vir altyd as jy wil. Om die beeste hier deur te kry is ’n geneuk, selfs waar die rivier vlak is. Wegkruipplek is daar baie; hier gebeur alles geheimsinnig. Ek hoor nie die skilpaddop kraak onder die wawiele in die drif nie, sien net hoe die rivier die stukkies dop en ledemate afdryf. Hierdie oerdier wat reeds derduisende jare lank onveranderd onder die veraf son skuifel. Hoe weet ek dit? vra jy. As ek wonder oor die siel, lees ek oor rugstringe en magma.
Die stroom is sterk. Hy vat wat hy wil. Hy vra nie voor hy vat nie. Jy moet luister na hom, al luister jy nie na wette nie. Ek is gereeld by die rivier. Ek ken die rivier byna soos die Kaffers dit ken. Kyk, die twee groepe staan weerskante van die Vis. Hulle kyk nie na mekaar nie. Hulle staan weerskante van die grens en kyk hoe die grens tussen hulle in vloed afkom en ’n soetdoring insluk en saamvat en ’n stuk kleigrond die water in kalwer. Die ruil van vee en tabak en koper geskied geweldloos. Die Kristene en die Kaffers is versigtig vir mekaar en maak growwe grappe onder mekaar om die gespannenheid te verberg, maar die Hottentotte wat saam met die Kristene ry is stil en hou beide groepe met nougetrekte oë dop.
Ek tel spoedig woorde op soos hulle om my val. ’n Jaar of wat ná my aankoms op die grens is ek reeds genoeg gebek om in Xhosa met die Kaffers te lag oor die Kristene wat voorvel is en niks meer nie. As jy hier wil oorleef, dan maak jy maters. Boere van die omtes wat weet met wie en hoe daar vee geruil kan word. As hulle kom aandoen op jou werf en hoor of jy wil gaan beeste ruil by die Kaffers, dan saal jy op en ry saam. Jy moet eers die reëls van die spel leer voor jy op jou eie kan speel. Voor jy die reëls kan herskryf. Agt of tien berede skuts is beter as een enkele Kristen en sy boel Hottentotte. Dit beteken nie jy hoef danig vriende te raak nie. Dit beteken nie jy mag nie saam met die Kaffers lag vir die spul aan jou kant van die rivier nie. Die Kristene lag ook, want hulle sien my lag. Ek knipoog vir my wit trawante en ek knik vir die Kaffers.
Wanneer albei groepe by mekaar gevat het wat hulle kon en elke groep tevrede is dat hy die ander oorgeneuk het, gaan hulle terug in teenoorgestelde rigtings na hul onderskeie vroue en kinders en byna eenderse wonings van riet en klei.
By die huis slaap ons langs mekaar op ’n hoop velle. Die baba word apart toegedraai in ’n vel teen die muur. Maria lê in die middel, ek en Elizabeth aan weerskante van haar, elkeen met die kop op een van haar borste. Êrens in die nag kruip Elizabeth oor Maria en kom lê tussen haar ouers. Die huide maak nie ordentlik toe nie. Ek lê wakker, ongemaklik met die kind half oor my. Die lyfie is maer, ek voel die geraamte onder haar vel. Ek dink hoe maklik die beentjies kan breek. Ek kry nie my lê nie. As ek skuif, sal Elizabeth wakker word. Dan sal Maria wakker word. Dan is alle rus verlore. Ek lê doodstil en staar na die biesiesdak bo my. Ek luister hoe die wind ruk aan die huis, hoe die sparre knars en die rietdeur hamer aan die riem wat dit toehou. Die wind stoot by elke skreef in en asem weer sugtend uit, asof ons lê binne ’n orgaan van ’n groter dier van hout en riet en klip. Ek neem ’n armpie in my hand, lig dit op, voel daaraan, die klein bros beentjies, die sagte vlees, die handjie wat my hand opsoek en om ’n vinger vasklamp. Die kind krul op teen my, die koppie in my maag gedruk, ’n sagte sug, dan ’n roggel. Elizabeth het koue gevat. Môre gaan sy siek wees. Die kind lê my arm dood, maar ek skuif nie. As ek nou beweeg, gaan sy wakker word en huil en wegdraai, weg van my. Sy het nog nooit so teen my gelê nie. Al is ek net iets warms waarteen sy haarself aanlê en al weet sy nie wat sy doen nie, is dit iets wat so lank moontlik moet hou. Ek beweeg nie. Ek luister na die kind en kyk hoe die lyfie stadig in- en uitasem en af en toe ruk in ’n droom. So lê ons tot die son opkom. Ek staan styf op en die dag begin.
Hulle betaal my byna ’n jaar se plaashuur om hout te voorsien vir die nuwe aanbouings op Graaffe Rijnet. In 1787 leen ek ’n paar waens en pak hulle vol met geelhoutplanke – meer as ’n duisend-vyfhonderd voet se hout – en vyf Hottentotte en twee Kaffers en trek na die nedersetting wat die Caabse pruikneukers ’n paar maande gelede van plaas na dorp verander het. Glo vir ene Dirk Coetzee ’n sak vol geld aangebied vir sy verlepte plaas op ’n hoefysterdraai in die Zondagsrivier en die plek herdoop tot Graaffe Rijnet, na die fuiwende goewerneur en sy vrou wat die Kompanje se geld onder hulle uit suip en vreet.
Soos ons reis, teel die berge stadig aan, een vul op ’n slag, soos olifante. Die honde verskyn die dag ná ek Brandwacht verlaat. Die rooi hond val langs my in en draf langs my perd. Die res van die trop sprei uit om die waens, ’n ent weg van die wapad, net hier en daar sigbaar en dan en wan. Die honde maak die Hottentotte ongemaklik. Hulle is gewoond aan my hondskimme wat altyd saam met my in die veld is, maar gewoonlik hou dié hulle skaars. Hierdie reis is anders. Ons is ver van die huis en enige huis. Met uitspantyd is die honde by die kamp, meestal agt of tien van hulle, soms tot vyftien. Hulle lê rondom die kamp in groepies van twee of drie. Enkeles waag dit tot by die vuur waar die af-oor by my voete lê. Ek vat nie aan die hond nie. Hy smeek nie om aandag soos mak brakke nie. Die honde vreet die bene wat hul kant toe gegooi word, maar hou hulle verder apart. Dit is asof die honde oor dieselfde streek trek as ons, maar in ’n ander ryk. Asof hulle in dieselfde veld maar in ’n ander tyd beweeg, en soos spoke deur jou sal draf as jy nie betyds padgee nie. ’n Dag voor ons Graaffe Rijnet bereik, verdwyn die honde: Ek word wakker met die lumier, styf toegedraai in my karos. Die rooi hond lê en kyk vir my. Hy draf langs Perd tot laat in die oggend en dan swenk hy skielik oos en weg tussen die lae bossies.
Ons steek die vlak rivier oor, die waens krakend en skreeuend oor die klipbanke. Die uitgetrapte strook grond is blykbaar die straat; die hutte en kleihuisies sporadies aan weerskante dan moontlik die dorp. Perde staan vasgemaak voor die huise, hier en daar trek rook uit skoorstene, meer gereeld by vensters en deure uit. Die ganse in die pad hyg en sis vir die osse. Brakke kom val in langs die waens en probeer pis teen die draaiende wiele. Een van die grasdakke is besig om te brand. ’n Paar mense staan in die straat en kyk hoe die inwoners hul goed uitdra en die dak met emmers water bestook. Ek ry verby ’n wasmid, ’n skrynwerker, besig om hul ambagte en vernuf op straat te adverteer. Ná die reis oor vlaktes wat uitstrek tot waar die aarde begin skeeftrek soos hout wat vrot, lyk dit of die dorp sig opkrul teen die gebergte wat soos ’n muur opstaan uit die grond. Asof jy veiliger sal slaap met ’n berg agter jou rug. Oorryp kwepers lê op die grond voor ’n yl heining. Bokke vreet aan alles wat hulle sien. Ek ry verby wat ek verneem Coetzee se stal en skuur was, glo nou die tronk en kerk en skool. My waens moet stilhou as ’n Hottentot ’n trop beeste straatlangs aanjaag, die dorp uit. ’n Valk sit op ’n dak en verskeur ’n ding met ’n stert wat nog ruk.
Ek trek my waens by die drostdy, die verboude huis van die Coetzee-gesin. ’n Deel van die grasdak het met die aanbouings ingegee. Twee Hottentotte is besig om die dak met biesies te dek. Van wat ek verstaan, is die stomme sot Woeke gestuur om oor die wildernis te kom regeer en die vrede van hier tot in Swellendam te bewaar. Ek begin die rieme om die hout losmaak. ’n Man loop verby in die straat. Hy kyk my reguit in die oë. Hy pla my. Sy gesig is lank, sy baard geskeer en sy hare kort geknip. Hy is groot, byna so lank soos ek, maar leniger. Hy dra homself of hy ’n ryk man is, al is sy klere oud. Waar die materiaal deurgeskif is, is dit netjies gelap. Skeure is met ’n fyn hand toegewerk. Sy skoene is gehawend maar skoon. Hy gaan staan, kyk na die wolke wat om die berg saampak. Sy neusvleuels gaan oop en toe soos hy die lug snuif. Hy knik vir my, lig sy hoed. Ek knik nie terug nie. Ek kyk hom agterna. Hy stap aan. Sy voetval is lig. Nog net by wildsbokke het ek sulke gemaklikheid in ’n lyf gesien. Hy kyk nie weer om nie. Wie dink die galgenaas is hy?
Iemand kom uit die drostdy gehardloop, ’n maer mannetjie in ’n te groot uniform, gestryk en skoon tot by die knieë, verder af toe onder modder tot by die byna onsigbare skoene. Ek bekyk die vent. Ons is albei omtrent vyf-en-twintig, maar die man lyk vir my soos ’n kind. Vir die bogkind lyk ek dan seker soos al die grensboere vir die Caabse gepoeierdes lyk: reusagtig, verwilderd en bedonderd, geklee in huid en leer met die nodige lang baard en nog langer hare. Dink jy hy wonder waar die hare ophou en die pels begin? Ek trek my skouers terug en troon oor hom. Ek stel myself voor.
Ek vra vir die soldaat wie die man is wat so pas verbygeloop het. Hy sê dit is Markus Goossens, die nuwe skoolmeester.
Daardie laatdunkende blaaskaak en sy houdinkie sal dit nie lank op die grens uithou nie, sê ek.
Die soldaat kyk die skoolmeester agterna. Ek vra waar ek die hout moet besorg. Die soldaat beduie my agter die geboue in waar die bouery reeds aan die gang is. My volk begin die hout aflaai. Ek buk by ’n vuur, neem ’n kooltjie en steek my pyp op. ’n Langerige man, vroeg bles, met ’n lyf sag soos ’n vrou s’n, kom staan langs my. Hy sit sy pyp in sy mond en gluur na die vuur by sy voete. Hy buk na die kole en steier. Ek haal vir hom ’n kool uit die vlamme. Die man is netjies aangetrek, sy onderbaadjie geborduur met meer kleure as wat ek nog ooit op ’n enkele stuk lap gesien het.
Jy is nie van hier nie, sê ek.
Die man probeer praat terwyl hy sy pyp vasbyt. ’n Drupsel kwyl loop by die kant van sy mond uit.
Stellenbosch. Ek was my lewe lank in die Caab en Stellenbosch.
Hoe lyk dit daar?
Groener. Berge. Mense eet nie met hul hande nie.
Die man lag. Hy haal ’n metaalfles uit sy binnesak en bied vir my aan. Ek sluk die jenewer. Dit is te soet, maar ek weier nie toe dit weer aangebied word nie. Die soldaat van vroeër is weer by. Hy fluister iets in die man se oor. Die man sê hy is besig, hy kan nie nou gesteur word nie. Die man tik aan my arm, begin iets sê. Toe die soldaat hom weer onderbreek, draai hy te vinnig om. Hy moet die jong man se skouer vir ’n oomblik vashou voor hy sy balans herwin. In my oor fluister sy sleeptong iets oor die eiesoortigheid van ’n Kafferkut. Die snuiter kug ongemaklik namens sy baas. Ek vergesel beide here die drostdy in. Aanskou: landdrost Moritz Hermann Otto Woeke met sy arm om Coenraad de Buys se nek, kekkelend. Ek sit die landdrost op sy stoel agter sy eikehoutlessenaar neer en die soldaatjie kry my so hoflik en vinnig moontlik daar weg, met ’n ekstra riksdaalder in my sak vir my trou aan die Kompanje en hul verdomde sewentien here en my swygende smoel.
Ons slaan kamp op buite die dorp. Daar is heelwat droë doringbome in die omtes om vinnig ’n kraal vir die osse bymekaar te sleep. Teen die aand word vure aangesteek en my Heidene sit gehurk, elkeen in sy eie droom. Ek saal Perd op en ry dorp toe. Ek ry in die wapad af en kyk by die vensters in waar lig is en soms wuif ’n hand na my. Perd dra my verby donker groentetuine met rankende skaduwees. Toe ek stilstaan, hoor ek water uit die lekkende kanaal in die uitgedroogde grond drup. Ek het al baie stories gehoor van die gefuif in die Caab, maar in hierdie Koloniale gehug dans net die boomtoppe in die bries. Ek stop ’n man wat verbyloop en vra hom of daar vroue te vind is in hierdie dorp en die man sê Niks te huur nie, hier moet jy trou of koop, Mijnheer, en hy lag en ek ry aan tot by die laaste gebou en draai om en ry weer in die pad af tot aan die ander kant van waar ek gekom het. Die maan hang swaar en uitgewoed.
Ek het pas by die laaste huis verby gegalop, of ek sien ’n groepie mans die veld in loop. In die verte sien ek vure. Ek volg die mans, val by hulle in. Hulle praat nie veel met mekaar nie. Hulle stap vinnig. Hulle sê hulle gaan die geveg kyk. Êrens in die donkerte hoor ek iets wat ’n gesing kan wees. Wie in godsnaam sal hierdie tyd van die nag die veld staan en toesing? Ons loop in stilte tot die gesing bedaar. Dan begin die onderlinge gesprekke weer. ’n Wyle later ry ’n ruiter verby ons, terug dorp toe. Aan sy hoed herken ek die verdomde skoolmeester. Ek vra die manne of onse meester van die geveg af kom. Hulle lag en sê Nee, Meester Markus sal hom nie daar laat betrap nie. Ek vra hulle vir wat die stuk misgeboorte so verwaand is. Hulle kyk my skuins. Hulle sê hy is heel gaaf; hy hou hom bloot eenkant. Ek vra hulle of dit hy is wat so gekweel het in die duisternis. Hulle sê hulle weet nie en wat traak dit my.
By die kraal aangekom, wag daar ’n paar mans by ’n wa met dierhokke onder goiingsakke. Vure brand in die hoeke van die kraal. Twintig of dertig mans drentel rond, lag en vertel grappe, meeste is dronk. Drie mans staan eenkant waar die vuur nie bykom nie. Elkeen het ’n hond aan ’n ketting. Twee bulhonde, gesoute en gehawende vegters, en ’n yslike Deense hond. Hulle staan wyd uitmekaar. Sodra die honde binne reikafstand kom, spring en hap hulle na mekaar. ’n Man met bakbene en lang arms roep twee Kaffers nader. Hulle haal een van die hokke van die wa af, tel dit oor die kraalmuur en sit die hok in die middel van die kraal neer langs ’n ysterpaal wat in die grond gehamer is. Die bakbeenman trek ’n ketting vanuit die hok se donkerte en sluit die ketting vas aan die paal. Een Kaffer bly agter in die lae put van losgetrapte klei en strooi en saagsels. Iets word geskree en skielik is algar digby die kraalmuur. Die mans druk teen mekaar om beter te sien. Die Kaffer karring aan die tralies en iets brom en stamp daarbinne. Die gesigte om die kraal trek vreemd en onmenslik in die skaduwees van die vlamme. Ek sien die smid en die eienaar van die herberg in sy absurde ferweelpak en boere en bouers en almal lag en drink en spoeg. Iemand gooi vir die Kaffer ’n graaf. Hy tel die graaf op en klim op die hok en kap die pen wat die hok sluit uit en spring van die hok af en vloek in sy taal en hardloop na die muur. Die mans jil hom toe en niks gebeur nie. Dan stap ’n groot baviaan by die hok uit met ’n ketting om sy nek. Hy hardloop so ver die ketting hom toelaat, die ketting span styf, ruk hom aan sy nek van sy voete af. Hy land op sy gat en die mans lag en spoeg. ’n Man met nuwe skoene klim op die muur en loop in die rondte en swaai sy arms en sy hoed en vra vir weddenskappe. Sodra sy hoed vol is, klim hy af. Asof dit ’n teken is, klim die mans met die honde oor die muur. Hulle maak die drie honde los. Die honde bestorm die baviaan. Mens en dier word besete en bloed stroom. Vanuit die wa se rigting ander krete uit kele van wat baviaan en wolf en tier en jakkals kan wees en ander diere wat geen mens nog lank genoeg aanskou het om te benoem nie.
Die baviaan blaf hees, veg rasend tot hy sien die honde teer op sy woede. Hy gaan staan op sy agterpote, steek sy lang arms uit na die jonger bulhond en skree. Die hond vlieg op die baviaan af, spring na die kant en veins en spring weer. Die hond se pels is gemerk met die letsels van vorige gevegte. Hy het iedere geveg gewen, want kyk, hy lewe. Die honde beef en kerm, maar hou die lengte van die ketting versigtig dop, bly buite die baviaan se bereik. Kyk hoe dans die honde om die baviaan. Een pyl af op die aap, spring dan terug voor die slagtande. As hulle hom nie beetkry nie, byt hulle na mekaar.
Die baviaan baklei al van kindsbeen af in die veld, want kyk, ook hy lewe nog. As ’n hond naby kom, spring hy in die lug, maar die brakke is slim genoeg om nie onder hom te beland nie. Soms ’n skielike oorveeg met die arms, of ’n meer verrassende gryp met die agterpote. Die baviaan trek sy sirkel nouer, die ketting slap genoeg vir ’n sprong. Die honde ken hierdie aapstreke. Kyk, hulle maak hom moeg.
In die kraal is daar geen linies nie; die dodelike kring word ’n heelal waar grond en vel en strooi en tande en hare en bloed versmelt tot nuwe verskriklike wesens wat alles om hulle insuig tot ’n sinkgat. Onverhoedse aanvalle, dan oomblikke wat uitspan tot ontsettende stiltes voor die tande mekaar weer vind. Die baviaan skeur die Deense hond se keel oop, smyt hom met ’n mensagtige hand eenkant, die sierlike dier opeens ’n pap hoop vel en vleis.
Die bulhonde storm toe die baviaan probeer opklim teen die paal. Die grootste hond kry die aap se agterent beet en skeur hom oop van onder. Die baviaan se hande los en die ander hond is by en grawe die binnegoed los en ruk aan die derms. Die aap hang tussen die wurgende ketting en die honde wat elkeen ’n stuk derm beethet. Soos dié van iemand op ’n pynbank, spartelend tussen kragte wat hom vanuit drie rigtings uitmekaartrek, is die blik en krete van die baviaan onuithoudbaar menslik.
’n Man braak en sy vriende lag en spoeg. Iemand stamp aan my en ek kyk om in die drommel se oë en hy kyk weg.
Die baviaan gryp die naaste hond en bring die dier se gesig tot teenaan syne. Weet hulle hoe eenders hulle lyk? Met die beeldskone kake wat vele boerwonings versier, skeur hy die veghond, wat straks nog gelyk het na die oerwolf van wie alle honde afstam, se gesig morsaf.
Ek vryf my duime en wysvingers blitsig teen mekaar totdat ek prikkels voel kraak. Die oorblywende hond bly trek aan die derms. Die baviaan krul op teen die karkas by hom en daar is ’n beweging in die een hand en daar is iets soos ’n gaap en ek sien iets in sy oë en dan is hy dood.
Geld word verwissel; die hygende jong bulhond se tong hang uit. Hy probeer die bloed van hom afskud. Hy stamp sy pote. Sy ore trek agtertoe. Sy oë skiet na dié van sy baas en dan na die baviaan. Sy baas sit die ketting aan en neem hom huis toe. Die twee Kaffers gooi die dooie diere oor die kraalmuur en begrawe hulle. Ek staan en kyk tot die kraal verlate is. Jong mans van my ouderdom probeer vir my sterkwater aanbied, probeer my vertel van die gewilligste meisie op Graaffe Rijnet, probeer praat oor enigiets anders.
Ek ry na my staanplek en vind vir Windvogel en Gert Coetzee die basterhotnot by die laaste kole van die kampvuur. Hulle praat nie, elkeen dink sy eie dinge.
’n Ster verskiet al met die Melkweg langs. Ek sien die twee se verwonderdheid.
God het weer sy ou melk uitgegooi, sê ek. God is mos te goed vir dikmelk drink. Hy vreet net offerlammers.
Seur moenie so laster nie, sê Gert.
Een of ander predikant het dinge in die Hottentot se kop ingepraat. Gert kon nog nooit vir my sê wie die man was nie, een van die swerwende profete wat De Lange Cloof op en af ry op donkiekarre in die hoop om verdwaalde siele raak te loop. Volgens Gert is die man se naam Seur en as ek vra Seur wie, dan is die antwoord Seur Séúr, Seur.
Daai is die ruggraat van die nag, sê Windvogel. Dit hou die lug regop in die lug.
Dis g’n graat nie, dis die Here wat die lig bring na ons donker land.
Ag, donder op, Gert!
Jy ken nie die Here nie, Vogel. Ik ga je godverdomp koken! Ik ga je verdomp opeten!
Hoe ken jý die Here, Gert? vra ek.
Seur het my van hom vertel. Ons was mos almal in die tuin en toe moes ons uit en toe raak alles opgeneuk.
En wanneer was jy in daardie tuin, Gert?
Nee, Seur, dit was mos voor Jan Rietbok hier gekom groente plant het.
En toe moet jy uit Eden uit?
Ja, Seur. En toe kom die vloed mos. En almal versuip en ons ry daai ark.
Gert bly ’n oomblik stil, dink diep:
Ek onthou nog daai duif.
Ek begin proes. Windvogel bars uit in ’n gelag wat onmoontlik lyk vir sy skraal lyf.
Wat lag Seur en jy, jou sleg Bosman?
Dis ’n aardige storie, Gert. Seur Seur het jou goed geleer, paai ek.
Seur dink ek vertel net stories. Wat glo Seur?
Die Kaffers sê daai veegsel sterre is die hare wat regop staan op die rug van ’n kwaai hond, sê ek.
Glo Seur dit?
Dit ook, ja. Kom, julle moet slaap kry, môre trek ons.
Die twee mans stap weg, al stampend aan mekaar, na waar hulle kooi gemaak het onder die wa. Ek bly sit. Later gooi ek nog takke op die kole en sit en kyk hoe die droë hout oorgee aan die wedergebore vlamme.
Die volgende oggend begin die volk die waens pak. Ek stap die veld in. In die verte sien ek ’n hondagtige ding wegskiet uit ’n bos. Dit kan ’n wildehond wees, of ’n jakkals wat deur die son betrap is. Die dier is ver, al wat ek sien is die rooibruin vlek wat oor die gelykgrond skeer. Die ding is op pad êrens heen, of net weg. Ek kyk hoe die dier ’n stuk rennende vlakte word, hoe hy verdwyn in die gras en dan weer bo die grasse uitspring. Asof hy speel. Asof daar genoeg snelheid is om ook spel toe te laat. Asof snelheid self ’n spel is en niks anders daarbuite verlang nie. Ek stap aan, die waens word klein en verdwyn.
Ek klouter bo-op ’n groot miershoop. Ek kyk om my. Dit is vlakte waar ook al ek kyk, voor my tot by die Graaffe Rijnet-berge; agter en langs my strek die platheid tot waar die oog ’n punt soek om mee te fokus en niks vind nie. Die horison is nie ’n punt nie, dit is waar alles vergaan. Ek kyk om my:
Rooihond!
Dan so hard ek kan:
Rooihond!
Ek kyk al in die rondte.
Later klim ek af en stap terug kamp toe. Windvogel gewaar my en hardloop my tegemoet.
Buys, waar bly jy? skree hy.
Hy kom staan uitasem by my, hande op die knieë.
Ons is klaar gepak. Die manne wag net vir jou.
Jy moet ophou om my te jy en te jou as die ander kan
hoor. Hulle dink jy hou jou wit.
Ja, Seur, sê hy gemaak gedwee.
Rot op, man. Sê vir die spul hulle moet klaarmaak en begin trek. Ek sal julle môre inhaal.
Net so, Seur.
Ek donder vir jou, jou hans Bosman, skree ek en spring weg en jaag my enigste vriend in hierdie wêreld tussen die bossies deur terug waens toe.
By die kamp dink ek my dinke en die spul los my uit. Ek saal Perd op, rol ’n velkombers op agter my saal, maak my kruithoring vol, gooi ’n paar loodballetjies in my baadjiesak en neem my geweer. Ek vat ook een van die Hottentotte se gewere en ’n Kaffer se kort assegaai. Ek druk die ekstra geweer en die assegaai in die opgerolde karos. Windvogel is weer by.
Het jy ’n hand nodig?
Bly jy by hulle, kyk dat die spul in die pad hou.
Wat gaan jy maak?
Moeilikheid.
Ek ry terug Graaffe Rijnet toe. Die mense op straat praat oor die Bossiesmans wat families aanval by Bruyntjeshoogte en die kommando’s wat niks werd is nie en nie genoeg van die skepsels skiet nie. Mense praat oor die reën wat nie meer luister na gebede nie. Mense vertel hoe ’n kraai die vorige week ’n baba se oë uitgepik het. Die veld is leeg en droog en sagte vlees is skaars.
Toe die maan soos ’n ingeduikte tinbord weggesmyt in die hemel lê, wag ek by die kraal vir die mans en hul honde en die veroordeelde dieretuin op die wa. Dit is naweek, hier is meer mense vanaand. Die wa met die hokke kom aangerammel. Vanaand se honde staan reeds en wag. Die jong bulhond is terug, sy wonde nog nie genees nie. Sy kamerade vir die aand ’n windhond en ’n basterhond, ’n soliede breë dier sonder stert met die oë van ’n diepgelowige. Daar is vier hokke op die wa. Hulle tel een van die hokke af en maak oop vir ’n groot wolf met ’n oordadige muilband oor sy snoet. Die wolf is kalm, gewoond aan mense. Hy was ook al hier.
Die mans huil na die maan soos jagse werfbrakke. Die wind is skerp en skraal; die enigste wolk in die lug bedek die maan se skaamte. Die twee Kaffers trek die wolf aan sy ketting oor die lae klipmuur, die agterpote skop vas hierdie kant tot die nek nie meer kan hou nie en die dier oorstruikel tot in die put. Die Kaffer wat die muilband afhaal word skrams gebyt en die manne skater.
Buite die kraal blaf die honde harder. Die wolf maak hom klein en ruk aan die ketting. ’n Dronk man strompel oor die muur en steier en skop na die wolf en draai om na die mense met sy hande in die lug en lag. Agter hom spring die dier vorentoe tot hy terugruk aan sy ketting, reg by die lul se gevreet. Die man skrik en val en sy vriende lag vir hom en spoeg. Ek loop na die wa toe. Met die assegaai steek ek blitsige hale na die sagte pelse in die drie oorblywende hokke tot dit stil word. Ek laat val die nat assegaai en loop die skare in met die twee geweers oor my skouers en niemand kyk om nie en vir almal is ek net nog ’n gesig met iets in die oë en ’n geklemde mond wat dinge moet binnehou.
Die wolf draf in die kring wat die ketting toelaat, dan gaan hurk hy by die ysterpyp. Hy kyk na die mense, dan na die honde en dan na die vure. Hy gaan lê. Hy staan op toe die honde oor die muur skarrel agter hul hanteerders aan. Die kettings glip van hulle af; hulle skiet op die wolf af. Die wolf blaf en skree diep uit sy keel. Hulle hap en blaf en omhels mekaar op hul agterpote met die voorpote om mekaar se nekke. Die oop bekke soek mekaar op soos dié van honger minnaars. Die windhond kry die wolf aan die bek beet. Die wolf skud homself los en byt die hond oor die rug met die basterbrak ook reeds op hom van agter. Hy skud die baster af en byt. Die bulhond hou op die grens, nog sat van laas nag se bloed. Die wolf druk die windhond teen die grond vas en byt na die keel en mis en byt weer en versit sy greep en byt dieper.
Iemand vra vir my oor die wolf in die middel.
Dis nie my wolf nie.
Die man lyk verward, vra hoeveel ek op die wolf het. Ek sê ek het niks verwed nie.
Aan wie se kant is jy? vra die man.
’n Blaaskaak met ’n sak vir ’n hemp skel en sis en boots die geveg na in ’n klugtige gebarespel. Wanneer die wolf spring, gryp hy en ’n makker mekaar vas in dieselfde greep as waarmee die wolf en honde mekaar te lyf gaan. Sy mond gaap oop as die wolf blaf, sy tande kners as die honde knor, asof hy die pop is en die honde die buiksprekers.
Die wolf retireer, sy bek oopgesper, ’n skerp gekef. Die honde sirkel. Die wolf spring eers na die een en dan na die ander hond. Die windhond lê en bloei. Die bulhond het ’n oop wond oor die rug, die baster se snoet is aan flarde. Die wolf is overal rooi buiten die wit sening wat uit sy poot hang. Die diere baklei sonder oorgawe, asof hulle al ’n duisend maal geveg en gesterf het in ander lywe in ander arenas.
Die mans om die kraal praat al meer met mekaar, verveeld met die bloedbad. Hulle bly vir die weddenskappe, maar die drif het verslaan.
Die vuurlig vind die wolf se oë. Ek sien weer dieselfde ding wat ek by die baviaan gesien het. ’n Suiwer ding, iets wat ek nog net by diere in slagysters so digby gesien het.
Ek loop deur die muur van skouers, druk dié wat nie skuif nie ferm uit my pad. Die baster is flenters en het nie meer ’n kans nie maar hou nie op met storm nie. Sy eienaar klim oor die muur, probeer die ketting weer om sy hond kry. Die brak byt hom en die man vloek en sy vriende weergalm sy vloek uitgelate. Ek kyk na die mans aan die oorkant van die kraal, sommige met spatsels van die geveg op hul gesigte. Hulle skree en blaf en spoeg en vee die bloed uit hul oë en hoe kan hulle dit nie raaksien nie? Ek tree terug, skielik bang die wolf se ketting gaan breek, en dan hoop ek die ketting breek en ek glimlag en dan het ek die een snaphaan reeds van my skouer geswaai en gerig op die wolf en die sneller getrek. Die kruit ontvlam en terwyl ek die geweer vir ’n ewige oomblik moet hou op die teiken terwyl die kruit brand en die kogel uit die loop loods, staan die mans rondom my skielik nugter en stompsinnig. Die wolf stort neer. Ek het reeds die tweede geweer in die dronk drek langs my se gevreet en maak daar vir my ’n pad oop deur die gehoor en ek moet een melkbaard met die geweerkolf wiks en dan is ek op my perd en weg.
’n Ent weg hoor ek agter my iemand roep. ’n Ruiter kom agter my aan en skree oor die waarde van die huide en hoeveel ek hom skuld en dat jy nie net ’n ander man se diere kan skiet nie. Ek galop voort en die man hou aan met skree agter my, maar probeer my nooit inhaal nie. ’n Paar honderd tree agter my val hy in by my pas. Hy skree tot sy stem rou word en die woorde bloot klanke is en die geskree net ’n geskree en hy opgee en terugdraai na sy maters.
Met dagbreek wag ek vir die volk om wakker te word terwyl ek water kook. Ons reis terug Brandwacht toe. Ek swyg in die saal en wonder hoekom wapaaie altyd kronkel al is alles plat en reguit voor jou en niemand vra my uit nie maar hulle praat onder mekaar.
Op die tweede dag uit Graaffe Rijnet gewaar ons weer die honde in die bosse. ’n Rooie draf voor Perd uit. Dit is nie die afoorhond waarmee ek gestoei het nie. Hierdie een het ’n vars merk oor sy snoet; al twee ore staan orent. Hy is breër en donkerder en jonger as ou Af-oor, sy oë wilder. Die tropleier is dood, lank lewe die trop. Wat het van Af-oor geword? Bosluis? Ouderdom? Moes hy sy leierskap met sy tande verdedig en was hy te oud? Is hy doodgebyt of het hy as verslane alleenloper die woesterny ingeloop? Die lewe stu voort, die trop leef vir ewig. Die honde het ’n nuwe kaptein en ek ’n nuwe skaduwee.
By die huis is ek heen en weer op die werf en snags lê ek wakker. Maria kry die storie ná ’n paar dae uit my uit.
En hulle laat loop jou toe sommerso?
Hulle sal nie ’n man skiet oor ’n wolf en ’n paar ape nie.
Jy weet hulle skiet oor baie minder.
Hoe moet ek weet hoekom hulle my nie geskiet het nie.
Jy het geloop soek daarvoor.
Ek het teruggegaan vir die diere op daardie wa. Ek het geweet ek gaan wat ook al in daardie kraal losgelaat word, vrek skiet.
Kom nou, Buys, ek ken jou. Jy wou ook sien wat hulle aan jou gaan doen. Graaffe Rijnet se manne.
Ek swyg.
Jy het nie die honde geskiet nie?
Vir wat? Hulle was alreeds mak.
In die winter as die rivier skaars jou zeik kan wegdryf, trek ek en my kamerade en ons Hottentotte deur die bosse en klowe en rivier na Kafferland en kom terug met beeste uit die Mbalu-krale. ’n Paar nagte daarna trek Langa se manne deur die bosse en klowe en rivier en kom weg met beeste uit my kraal. ’n Paar dae later trek ek deur die beboste klowe en die droë rivier en keer terug met Langa se beeste, en Langa trek dae later deur die ruie klowe en die Groot Visrivier en kom terug met my beeste. Langa is tagtig en hy het nog altyd geveg en hy sal altyd aanhou veg.
Toe ek tuiskom op ’n vreemde perd met ’n trop vreemde beeste en ’n wa vol ivoor, wildsbokke wat hang aan die kappe, en gewere – kiste vol smokkelgewere – hardloop Maria uit die huis en ek klim van die perd af en sy gaan staan ’n paar treë voor my en ek stap nader en sy tree terug en stop toe ek stop en kyk af en pers haar duime toe in haar hande en druk haar hande styf teen haar sye en kyk vinnig op:
Jou kind is dood, sê sy.
Die baba is agter die huis teen ’n rant begrawe, ’n hopie klippe bo-op haar karkassie gestapel. Maria neem my na die klipstapel. Ek het nog geen woord gesê nie.
Jy kon nie gewag het nie? sê ek.
Hoe moet ek weet wanneer jy huis toe kom? Jy loop gedurig rond.
Ek swyg. Ek gaan sit en tel een van die klippe op. Ek streel daaroor, kap daarmee teen ’n ander klip.
Ek moes gewag het met die begrawery, sê sy. Maar ek het nie gedink jy sou omgee nie. Jy was weg. Dit het begin stink.
Dit is reg so, sê ek. Dit sou nie help nie.
Ek wag tot die middag goed warm word. Ek gaan kap hout en gaan ry ’n ent met my nuwe perd wat nog nie my lyf se seine ken nie. Die volgende oggend is ek voor die son op. Ek loop na die rant met ’n pik. Ek kap klippe los uit die hoogte wat eendag as ons almal vrek is ’n berg sal word. Ek haal die klippe uit en kap hulle verder op tot ek hulle kan optel. Toe my mense kom hoor of hulle kan help, jaag ek hulle weg. Ek dra die klippe na die stapel en pak hulle op my dogter se lyf.
Ná ’n week is die stapel hoër as die huis en wyer. Maria kom staan met haar hande op haar heupe.
Jy het haar nooit eens ’n naam gegee nie. Jy het nooit aan haar gevat nie. Sy was niks vir jou nie.
Nóú word sy iets.
Sy was nie ’n hoop klippe nie.
Ek kan vat aan die klippe.
Oor die volgende paar dae bestee ek al minder tyd by die klippe. Die nuwe perd is slim. Die een van wie die Kaffers hom gevat het, wie hy ook al was, het die dier dinge geleer wat ander perde nie ken nie. Die perd is groot en skimmel en as hy hardloop, meng die spikkels tot ’n kapoknagmerrie wat op jou afstorm. My vlamkopdogter Elizabeth kan haar oë nie afhou van die massiewe dier wat so vinnig hardloop nie. Dit lyk of sy hoewe nie grondvat nie, of hy die lug gaan inglip en oopskeur. Sy teken ’n prent van die perd in die sand en wys dit vir my. Die perd het agt bene. Sy doop hom Glipper en ek noem hom, haar ter wille en my afsku van diername ten spyt, Glipper. Ek leer my dogter ry op die perd. Ek leer die perd fyn seine wat ander nie sal oplet nie. Ek leer die perd sy hoewe optel tot onder sy ken en donderend neersit soos die Fransman se perd gedoen het, maar met meer woede.
In hierdie tyd verdwyn daar elke nou en dan ’n paar stuks vee. Toe die veewagters kom kla, sê ek vir hulle om te skiet as hulle Kaffers sien rondloop waar hulle nie moet nie. Ek deel geweers uit. Toe die telling vermiste beeste op my plaas rondom twintig styg, verskyn Coenraad Bezuidenhout op my werf. Ek het al stories gehoor van hierdie boer, een van die distrik se berugstes. Ek gee vir hom ’n kommetjie koffie. Hy sê Bly te kenne, ons moet saam optrek teen die Kaffers. Hy het gehoor ek kan skiet soos geen Kristen hier rond nie en hy hoor my perd nael onder ’n assegaai uit. Hy sê sulke talente hoort nie onder ’n maatemmer nie. Ek en Bezuidenhout en ’n paar gewapende Hottentotte trek op na die Kafferkrale en kom ’n week of wat later terug met meer beeste as wat weg was.
Elizabeth gesels met my oor die perd. Ek mag haar op die perd tel. Saans gaan pak ek nog klippe op die stapel tot ek dit een aand begin afgooi. Ek klim op die stapel en kyk om my en dan begin ek die stapel afbreek. Toe die klippe om my rondlê, roep ek twee Hottentotte en beveel hulle om die klippe weg te dra sodat niemand ooit sal sien dat hier ’n stapel was nie. Ek los net die paar klippe van Maria se hopie. Ek loop die aand by die huis in. Maria is al ’n heel paar weke swanger en besig om biltong te sout.
Mag ek vra? vra sy.
Vir wat?
Daardie nag hou die klein vroutjie my vas en vryf oor my kop en vryf my stadig hard. Ek beklim haar en sy vat sag aan my en teer en dit maak my woedend. Sy kom agter ek probeer haar seermaak; sy word stil. Later lê ons bymekaar, versigtig om nie aan mekaar te raak nie, soos twee gewonde diere.
Dit is in daardie jaar of die volgende dat Gert-wat-die-Duif-onthou dros. Kyk maar in die Kolonie se dokumentasie hoe die gedoopte basterhotnot Gerrit Coetzee begin stories aandra. Lees daar hoe verklaar die swernoot in 1793 onder eed dat ek, onder die voorwendsel van olifante jag, oor die Visrivier gaan na die Kaffers en hulle van hul vee beroof, soveel as wat ek goeddink. Volgens die verklaring jaag ek die vee aan na my plaas en as die Kaffers teëstribbel, maak ek hulle lê op die grond en dan foeter ek hulle met al wat ’n sweep of ’n stok is. Die basterbekeerling verklaar verder dat tydens een so ’n geval ek sou opdrag gegee het vir die Hottentotte Platje en Piqeur om te vuur op die Kaffers. Eersgenoemde dood vyf en laasgenoemde vier. Hierby sou die wedergebore Hotnot dan ook ’n declaratie van Platje insluit wat spreek van my kwansuise mishandeling van my verdomde plaasvolk.
Kyk my in die oë en vra my reguit en ek sal niks hiervan ontken nie. Vir wat? Ek hoor hierdie beskuldigings aan en knik my kop. Ek weet nie en ek gee geen duit om waar hy aan die stories kom nie, maar moenie vir my vertel dat daardie godvervloekte klont schijttyfus genaamd Gert saamgegaan het op hierdie strooptogte nie: Daardie Hotnot kon nie sy eie misgebore voet raak skiet nie. Ek sou hom nooit saamgevat het nie. Hy was net so min daar as wat hy met Noag se vogel gespeel het.
Op 21 Maart 1788 ontvang ek ’n brief van my oom:
Geëerbiedigde neef Coenraad de Buys,
Ek moet u meedeel dat Langa u laat weet het hy vereis betaling van u vir die slaan van sy Kaffer, anders sal hy onmiddellik opnuut aanval. Hy sien dit as ’n uitdaging aan hom en die Kristene moet nie dink dat hy bang is om oorlog te maak nie.
Met groete van ons almal.
Ik ben uw oom,
Petrus de Buys
Ek kry nie veel briewe nie en ek bewaar die brief en lees dit oor en oor. Terwyl ek dit lees, prik die punte van my vingers.