Читать книгу Eindstryd - Willie Esterhuyse - Страница 5
1
ОглавлениеTwee telefoonoproepe
My betrokkenheid begin in 1987 met twee telefoonoproepe. Die een uit Londen en die ander een uit Pretoria. ’n Paar weke uitmekaar. Met die eerste oproep was dit reeds winter op Stellenbosch – nat en koud soos dit op dié Bolandse dorp in wintertye kan wees. Dit was kort voor die opspraakwekkende Dakar-konferensie in Senegal tussen 9 en 12 Julie 1987 en ek was by my huis in Mostertsdrift, toe die telefoon lui. Ná die oor-en-weer-groetery vra Fleur de Villiers: “Wil jy met die ANC in die buiteland praat?”
Kort daarna was daar ’n ander oproep. Die manstem was saaklik: “Professor, my naam is Koos. Ek en my kollega werk vir die staat. Ek skakel hier vanuit Pretoria en ons wil graag ’n belangrike saak met u kom bespreek. Ons wil ’n afspraak by u aan huis reël. Hoe lyk u dagboek oor die volgende week of twee?” Sonder om te vra wie “Koos” en sy “kollega” nou eintlik is, reël ek met hulle ’n datum en tyd.
Ek het aanvaar dat die gesprek privaat moet wees. “Koos” het spesifiek gesê: “Ons wil u nie by u kantoor ontmoet nie.” Stellenbosch, so het ek geweet, was ’n sif. Almal het van almal en van alles geweet. Daar was nie net mededinging tussen akademici om openbare aandag nie, maar ook toenemende politieke verskille tussen wat Willem de Klerk, die broer van FW de Klerk, die stryd tussen die verligtes en die verkramptes binne die Nasionale Party genoem het. Stellenbosch was destyds ’n intellektuele en kulturele Mekka van die Afrikanerdom. ’n Organisasie soos die Afrikaner Broederbond was op dié dorp ’n toonaangewer. Die Rembrandt-ryk van dr. Anton Rupert, Suid-Afrika se voorste Afrikaner-entrepreneur, was ook daar gesetel. Ek het Koos Kruger se aandrang op privaatheid verstaan, later selfs beter ná sy verduideliking van sy betrokkenheid by die staat.
Ek en my gesin was bevriend met Fleur de Villiers en haar ma, Edna, sedert 1974. Voor haar vertrek na Londen was sy assistentredakteur van die Suid-Afrikaanse Sunday Times. Sy was een van Suid-Afrika se beste politieke joernaliste, en was die eerste vroulike lid van die parlementêre persgalery. Haar waardestelsel was konsekwent liberaal-demokraties.
De Villiers was in dié tyd nie baie beïndruk met die polities progressiewe Afrikaners of verligtes nie. Dis nou dié wat vas oortuig was dat hervorming op ’n stuksgewyse manier van binne af moes geskied en dat die NP die enigste werktuig in dié verband was. Die verligtes, ten einde hulle idees te propageer en aanvaarbaar te kry, het hulleself baie skerp van Afrikaners wat toe reeds buite die Afrikanernasionalistiese kraal as liberales geposisioneer was, afgegrens.1
Die liberales of moraliste – en ek gebruik dié woord in ’n positiewe sin – was op ’n dogmatiese wyse liberaal-demokrate. Sommige van hulle het selfs openbare morele woede bepleit as ’n vorm van verset teen apartheid. Dit het enige vorm van samewerking met apartheidstrukture asook strategiese kompromieë uitgesluit. Hierteenoor het die verligtes vir strategieë gekies wat ingespeel het op die reformistiese moontlikhede wat die stelsel gebied het. Hulle is soms verlei deur die opwinding wat “brinkmanship” hulle gegee het, was bevoorreg om goeie toegang tot die Afrikaanse en Engelstalige media te hê, en om talle meningsvormende praatjies by sake-, kulturele, politieke en kerklike byeenkomste te lewer. Dit het oor tyd heen ’n rol in die stimulering van veranderingsprosesse en denkskuiwe gespeel.2
De Villiers het in haar invloedryke rubrieke die verligtes behoorlik gekasty. By een geleentheid het sy hulle selfs spottend “sjokoladesoldate” genoem. As die politiek te warm word, smelt hulle. Ek was vanaf 1968 tot 1974 senior lektor in filosofie by die destydse Randse Afrikaanse Universiteit, tans die Universiteit van Johannesburg. RAU, so het professor Gerrit Viljoen, die stigtingsrektor, graag gesê, is in 1967 gestig “deur die Afrikaner vir die Afrikaner in die stad”. Viljoen was later administrateur-generaal in die destydse Suidwes-Afrika (Namibië) en uiteindelik die minister van grondwetlike sake in president FW de Klerk se kabinet wat die politieke oorgang na ’n eenheidstaat moes bestuur. Hy was tydens sy rektorskap ook die voorsitter van die invloedryke Afrikaner Broederbond (AB). In ’n stadium was hy ook die voorsitter van die konserwatiewe, maar invloedryke Suid-Afrikaanse Buro vir Rasse-Aangeleenthede (Sabra), van wie se Jeugaksie ek onder Viljoen die voorsitter was, maar uitgeskop en deur prof. Carel Boshoff vervang is.
Viljoen het op ons, die jong en entoesiastiese garde van RAU-dosente, ’n groot invloed gehad. Ons was almal Afrikaner-idealiste en begeester deur die idee van ’n waardige plek vir die Afrikaner en vir Afrikaans in die Goudstad. Die meeste van ons was ook gemotiveer deur die idee van hervorming van binne af. Ons het in en rondom Johannesburg talle byeenkomste van Afrikaners, veral uit die werkersklas, toegespreek. En ook rubrieke in Afrikaanse koerante, soos byvoorbeeld die intussen heengegane Transvaler en Vaderland, geskryf.
Fleur de Villiers se kastyding van die verligtes het my as destydse Afrikaner-idealis mateloos geïrriteer. Sonder ’n afspraak meld ek my op ’n dag in 1974 by haar in haar kantoor aan. Ek sê: “Is jy die joernalis wat ons progressiewe Afrikaners wat iets positiefs vir die land wil doen, so kasty? En jy is ’n De Villiers!” Dit was die begin van ’n lewenslange en verrykende vriendskap wat nie net ’n invloed op die vorming van baie van my politieke idees en oortuigings gehad het nie, maar op die politieke ontwikkeling van Suid-Afrika self ’n voetspoor gelaat het. Dis veral sy wat my die belang en werking van nie-amptelike en persoonlike netwerke beter laat verstaan het. Haar eie netwerke was uitstekend en het later oor kontinente en tussen ’n verskeidenheid van rolspelers gestrek. Sy het tot die middel-tagtigerjare ook baie goeie toegang tot NP-kabinetsministers en senior politici gehad omdat hulle respek vir haar integriteit as joernalis gehad het.
Fleur de Villiers het my uit Londen geskakel. Dit is waar sy haar in 1986 gevestig het, onder meer omdat sy bekommerd was oor ons land se toekoms ná Botha se Rubicon-toespraak in Augustus 1985, ’n toespraak waarin hy op ’n kragdadige wyse alle hoop op ’n onderhandelde skikking in Suid-Afrika van die tafel afgevee het. In Londen het De Villiers vir haarself naam gemaak as rubriekskrywer vir meningsvormende koerante en joernale, asook as konsultant vir verskeie internasionale maatskappye, onder meer De Beers en Consolidated Goldfields.
Sy het oor die foon verduidelik: “Ek is betrokke by gesprekke met die bestuur van die maatskappy Consolidated Goldfields hier in Londen. Ons is baie bekommerd oor die politieke doodloopstraat waarin PW Botha en sy regering die land laat beland het. Die konflik gaan erger word. Daar moet dringend oor die moontlikheid van onderhandeling gepraat word. Ek het met Humphrey Woods van Consgold gepraat. Hy en die voorsitter, Rudolph Agnew, stem saam dat ’n informele en vertroulike gesprek tussen Afrikaner-meningsvormers na aan die regering en ANC-leiers in die buiteland dalk kan help. Kan jy help met ’n lysie van mense wat moontlik kan deelneem? Wat van Pieter de Lange en Johan Heyns? Wat sê jy? Wil jy met ANC-leiers op ’n vertroulike basis in die buiteland praat?”
Daar was toe alreeds skakeling tussen Britse sakeleiers en ANC-leiers. Die joernalis Anthony Sampson, wat noue bande met die ANC gehad het en later ’n biografie oor Nelson Mandela geskryf het, was hierin instrumenteel. Op 24 Oktober 1986 ontvang hy byvoorbeeld vir Oliver Tambo by hom aan huis in Londen. Tambo is deur David Astor, voormalige eienaar en redakteur van The Observer, na Londen genooi. Astor, fel teen apartheid gekant, bring tydens Tambo se besoek bekende Britse sakelui met die ANC-leier in kontak. Tambo ontmoet ook die redakteur van The Economist, Andrew Knight, en die voorsitter, die invloedryke bankier Evelyn de Rothschild. Dit word die begin van ’n diplomatieke coup vir die ANC in Brittanje.
De Villiers het my later vertel dat die Consgold-projek, soos ons dit mettertyd genoem het, as ’n laaste poging, en uit ’n stygende gevoel van moedeloosheid, voorgestel is. Consgold, die Britse mynhuis met ’n dekades lange geskiedenis en winsgewende goudbelange in Suid-Afrika, was betrokke by verskeie byeenkomste tussen ANC-leiers en Britse sakelui, waaronder ’n redelik beslissende byeenkoms in Londen op 24 Junie 1987, waar 23 bekende Britse en ander sakelui met senior ANC-leiers soos Oliver Tambo, Thabo Mbeki, Mac Maharaj, Aziz Pahad en Jacob Zuma gesprek gevoer het. Die sakeleiers het mense soos Lord Barber, voorsitter van Standard Bank, Sir Alistair Frame van Rio Tinto, George Soros van die Soros-fonds en Evelyn de Rothschild ingesluit. Michael Young, die kommunikasiehoof van Consgold en iemand wat later ’n sleutelrol in die nie-amptelike ANC-Afrikaner-kontakgroep (die Consgold-projek) gespeel het, was ook teenwoordig. Die vergadering in die hoër-middelklas Connaught Rooms, met David Astor die gasheer, het die teenwoordiges nie baie hoop gegee nie, maar tog ’n sterk gevoel vir dringende optrede geskep.
Die idee van georganiseerde informele en nie-amptelike gespreksvoering tussen ANC-leiers en Afrikaner-meningsvormers is hieruit gebore. De Villiers sou die aanvanklike skakeling met die Afrikaners aan die gang sit en Young die skakeling met ANC-leiers. Dit vind plaas in dieselfde tydgleuf as die Dakar-konferensie, maar op ’n totaal andersoortige manier. Dié projek is vanuit die sakesektor geïnisieer.
Die rol wat sakelui in hervormingsinisiatiewe en oorgangsprosesse in Suid-Afrika gespeel het, kan nie onderskat word nie. Hulle het natuurlik ’n regstreekse belang daarby gehad. Toe Afrikaner-sakelui uiteindelik besef dat apartheid nie ekonomies sin maak nie, het hulle hul politieke deuntjie begin verander. Hulle het die Botha-regime onder groot druk geplaas, al was dit hoofsaaklik om strategiese en nie morele redes nie. Die oorgangsproses na ’n inklusiewe demokratiese bedeling is ook deur ekonomiese kragte en werklikhede geïnspireer, selfs in ANC-geledere.
Johan Heyns, ’n bekende teoloog wat ook vir die projek genader is, het die uitnodiging van die hand gewys. Hy het later teenoor my erken: “Die kerk sou my gekruisig het.” Pieter de Lange, ’n eertydse kollega van my by RAU en ’n geesgenoot, het ook die uitnodiging van die hand gewys. So ook Tjaart van der Walt, rektor van die Universiteit van Potchefstroom. De Lange was toe die voorsitter van die Broederbond. Hulle posisies binne die geïnstitusionaliseerde Afrikanerdom, wat nie net sterk hiërargies was nie, maar ook rof met afwykendes kon werk, het bywoning onmoontlik gemaak. ’n Keuse vir van binne af werk plaas ernstige beperkings op diegene met institusionele posisies wat dan tog buite die kraal iets wil doen om oorgangsprosesse te stimuleer.
Uiteindelik was dit net ek, Willie Breytenbach en Sampie Terreblanche. Ons drie het die eerste gespreksessie in November 1987 met vier ANC-leiers bygewoon. Ons was al drie van die Universiteit van Stellenbosch, het mekaar goed geken en was as verligtes bekend. Bowendien was ons as akademici relatief onafhanklik en in beroepsposisies waar ons nie deur politici voorgeskryf kon word nie. Dis iets wat nog nie die nodige erkenning gekry het nie, naamlik dat akademici aan tradisionele Afrikaanse universiteite ’n hoë vlak van akademiese onafhanklikheid en vryheid geniet het. In die woestyn van apartheid was Engelstalige universiteite natuurlik oases van vryheid. Afrikaanse universiteite was dit in bepaalde opsigte ook, al was dit dalk meer in die gestalte van borrelende fonteine wat probeer uitbreek het uit die harde kors van apartheid. Hulle was tuistes vir baie mense wat lojale verset en oop gesprek beoefen het ten spyte van die werksaamhede van die staat se veiligheidsdienste op selfs Afrikaanse kampusse.3 Dit was vir my byvoorbeeld ’n groot skok toe ek deur iemand van die NI teen ’n bekende studenteleier, Mark Behr, gewaarsku is. Hy het as politieke aktivis geparadeer en was selfs die Stellenbosse takvoorsitter van die National Union of South African Students (NUSAS). Volgens my segspersoon was Behr in werklikheid ’n informant van ’n ander, baie militante veiligheidsdiens van die staat. Hy het my soms aan huis besoek om sogenaamd advies oor sensitiewe politieke kwessies te vra. Dis ook hy wat in die tagtigerjare ’n groep studenteleiers na Lusaka vir gesprek met die ANC geneem het.
Ek het baie moeite gedoen om te probeer verstaan hoe dié “dienste” werk en wie die sleutelspelers is. Dié poging was, wat detail betref, nie juis suksesvol nie, maar het nietemin ’n goeie gevolg gehad: Ek het my nie laat insuig in ’n atmosfeer van wantroue waarin samesweringsteorieë die toon aangee nie. Dié doelbewuste dissipline is by my versterk toe ek in 1988 Ronald W Clark se boek Benjamin Franklin: A Biography in His Own Words gelees het. Toe Franklin gewaarsku is oor spioene wat hom dophou, was sy antwoord dat hy één reël in sy lewe onderskryf, en dit was om nie betrokke te raak by politieke sake waarvoor hy hom sou hoef te skaam as dit openbaar gemaak word nie. Eerbare optrede, te alle tye en onder alle omstandighede, moeilik soos dit ook al mag wees, het hy gesê, gee hierin die deurslag. Eerbaarheid in ’n omgewing waarin vertroulikheid en geheimhouding geld, stel natuurlik hoë morele eise. Jy moet bereid wees om mislukkings in dié verband baie gou en eerlik te erken. My vrou, Annemarie, was hierin my aktiewe gewete. Haar steun en samewerking was nooit vanselfsprekend en kritiekloos nie.
Behalwe die drie Stellenbossers het vanuit ANC-geledere Aziz Pahad, Tony Trew, Wally Serote en Harold Wolpe die eerste byeenkoms van die kontakgroep bygewoon. Dit was ’n bedekte seën dat die getal beperk was, want nuwe terrein moes verken en lekkasies vermy word. Ek sou aan die binnelandse kant as kontakpersoon optree en in konsultasie met Thabo Mbeki en Young uitnodigings aan ander Afrikaner-meningsvormers rig namate die gespreksprojek vordering getoon en dit wat bespreek moes word, nuwe toetreders vereis het. Young sou vanuit Consgold die hele projek koördineer, met die ANC-leierskorps skakel en alle logistieke reëlings tref. Consgold sou die koste dra. Young sou ook as onafhanklike voorsitter van die gespreksessies optree. Tog sou daar genoeg geleentheid wees vir die Suid-Afrikaners om sonder Young se teenwoordigheid met mekaar te konfereer.
Young het die geskeduleerde sessies baie goed gehanteer. Sy politieke verbintenisse in Brittanje, soos byvoorbeeld met Lynda Chalker, wat die Konserwatiewe Party van Brittanje se deskundige oor Afrika was, was ook goed. Dis trouens Young wat, strydig met die riglyne van die Britse premier Margaret Thatcher, ’n vergadering tussen Lynda Chalker en Oliver Tambo in Junie 1987 gereël het. Die waarde van ’n voorsitter wat onpartydig is maar die politieke sensitiwiteite en kwessies goed verstaan, kan in dié soort verkenningsgesprekke nie onderskat word nie.
Die Dakar-konferensie, wat tot heelwat negatiewe reaksie in die Afrikaanse media aanleiding gegee het, het ’n belangrike les tuisgebring waarvan ons deeglik in die beplanning van ons gespreksprojek kennis geneem het. Dié konferensie was onteenseglik ’n belangrike openbare demonstrasie van die noodsaaklikheid van ’n onderhandelde skikking. Die negatiewe reaksie daarop uit die geledere van Afrikaners en die maghebbende elite het egter beklemtoon dat verkennende gesprekke oor ’n onderhandelde skikking vir die Suid-Afrikaanse konflik te delikaat was om in die openbaar en op konferensievlak gevoer te kon word. Openbare konferensies bevorder publieke bewuswording en debat, selfs steun en mobilisasie dat iets gedoen moet word. Dis egter nie voldoende nie en iets anders is ook nodig: uitklaring en verstaan van die posisies van sleutelspelers; die skep van vertroue en ’n goeie dosis selfversekerdheid tussen strydende partye en mense wat mekaar as vyande beskou; ’n ongeformaliseerde kompakt tussen leiers van tradisionele vyande om ’n roete na vrede te karteer.
Hiervoor is dialoog en kleingroepbyeenkomste meer geskik. Dit help om voetpaaie uit doodloopstrate uit te trap. Ek het trouens al vroeg in 1987 besef dat ’n duidelike onderskeid gemaak sou moes word tussen volhoubare skikkingsprosesse en opspraakwekkende openbare gebeurtenisse. Die een kan natuurlik die ander bevorder, maar dis nie noodwendig altyd die geval nie. Prosespolitiek, soos Wynand Malan, eers van die NP en later ’n voorbok van die Onafhanklikes, dit graag genoem het, is nooit bloot gebeurtenisgeoriënteerd nie. Dit fokus strategies en takties eerder op die skep van dryfkragte en energieë wat ontwikkelinge in ’n bepaalde rigting druk. So iets kan natuurlik onbedoelde gevolge hê.
* * *
Daar is iets anders wat oor 1987 gesê moet word. Op 26 Januarie 1987 kry ek ’n brief van die Afrikaner Broederbond na aanleiding van ’n vorige brief dat daar ’n “dinkskrum in verband met staatkundige ontwikkeling” op 7 Februarie sal plaasvind. Die program, met die name van die sprekers en die meeste van die referate ingesluit, laat my besef: hier kom ’n ding! Temas sluit onder meer in: die proses van staatkundige ontwikkeling; konfederasie, federasie en ander staatkundige stelsels/modelle; Suid-Afrika as een land met verskillende vaderlande; die positiewe en negatiewe kenmerke van die 1983-grondwet; die staatkundige implikasies van ander groepskenmerke as etnisiteit; groepvorming en dwang; vryheid van assosiasie in die konteks van die dinamiek van residensiële vestigingspatrone; meriete en goeie regering; die wenslikheid al dan nie van ’n handves van menseregte; politieke alliansies; binne- en buite-parlementêre politiek; die ANC, PAC en ander radikale groepe; die rol van ’n regering ten opsigte van ’n onderhandelde skikking. Ek moes praat oor: “Die identifisering van leiers”. En ek sê vir myself: Die “ding” het reeds gekom. Hóé geskik gaan word, wát geskik gaan word en wié gaan skik, is die eintlike “ding”. Die groot vraag is wel hoe en deur wie die voorbereiding vir die skikkingsproses moet geskied. En wanneer.
Dit was my laaste optrede as spreker by ’n groot Afrikaner Broederbondvergadering. Daar het algaande erge konflik tussen my en die Broers van die Stellenbosse afdeling, waaraan ek behoort het, ontstaan. Dit het ’n lang aanloop gehad, beginnende in 1979 ná die publikasie van my boek Afskeid van Apartheid. Baie Broers was beswaard en ’n afvaardiging het my aan huis kom besoek. Carel Boshoff, toe ’n swaargewig in die Broederbond, het darem my reg op vrye meningsuiting verdedig. Die spanning gaan oor in openlike konflik in Maart 1987, met die NP-volksraadslid van Stellenbosch, Piet Marais, die leidende figuur. Ons goeie verhouding verbrokkel een aand tydens ’n afdelingsvergadering waarop ek my ten gunste van ’n een-mens-een-stem-verkiesing in ’n eenheidstaat uitspreek.4
Dit was woelige dae in die wit politiek. Talle verligtes was behoorlik moeg vir die politieke gesukkel van die NP van president PW Botha. Baie van hulle het aanvaar dat ’n gebeitel en getimmer van binne af nie meer genoeg was nie. Hulle wou egter nie by die “Progge” (Progressiewe Federale Party), wie se leier, dr. Frederik van Zyl Slabbert, die vorige jaar, 1986, bedank en uit die parlement getree het, aansluit nie. Die politieke onbehae van die verligtes was die begin van die Onafhanklike Beweging wat in Mei 1987 aan die algemene verkiesing deelgeneem het. Advokaat “Lang” David de Villiers, wat naam gemaak het in die Wêreldhof in Den Haag namens Suid-Afrika oor die status van Suidwes-Afrika (Namibië), en wat uiteindelik besturende direkteur van die invloedryke Nasionale Pers geword het, het selfs uit die direksie van Naspers bedank om met die Onafhanklike Beweging te help.
By die AB se nasionale kongres by die Hartebeespoortdam het Piet Cillié, doyen van Afrikaanse joernalistiek, redakteur van Die Burger en later voorsitter van Naspers en professor in joernalistiek aan die US, met sy vinger teen my bors gedruk en aan my gesê: “Ek sal ’n kersie laat brand sodat julle sal weet waarheen om terug te keer uit julle politieke duisternis.” Cillié was ’n verligte en was ook later in sy kantoor in Crozierstraat, Stellenbosch, die leidende lig in die Protea-gespreksgroep van ’n klompie Stellenbosse akademici wat oor die politieke pad vorentoe gepraat het. Hy was egter ’n toegewyde van-binne-af-mens en baie lojaal teenoor Afrikanerinstellings. Esther Lategan, Wynand Malan en Denis Worrall was die Onafhanklikes se kandidate in onderskeidelik Stellenbosch, Randburg en Helderberg. Malan het gewen. Worrall het naelskraap in Helderberg teen Chris Heunis, ’n belangrike minister, verloor. Heunis het polities nooit daarvan herstel nie. Lategan het teen Piet Marais verloor, maar in die proses die Afrikanernasionalistiese gesetenheid behoorlik geskud. Afrikanermag en Afrikanerhegemonie het nóg ’n lang spyker in sy lyf gekry.
’n Paar weke ná die verkiesing skakel president PW Botha se kantoor. Ek moet hom kom spreek. Ons maak ’n afspraak en ek praat met hom onder vier oë. Dis ’n baie vriendelike en openhartige gesprek. Botha wil weet waarom ek vir Lategan, Worrall en Malan gesteun het. Hy dink daar is ’n persoonlike rede omdat minister Pik Botha, so word vir hom gesê, op aandrang van hom en Heunis my aanstelling as ’n spesiale regeringsgesant in Washington op kort kennisgewing teruggetrek het. Hy, so verseker hy my, het niks daarmee te make gehad nie. Ek verseker hom dat dit nie die rede is nie en dat die kansellasie van die aanstelling ’n bedekte seën was. Ek verduidelik my beweegredes om die Onafhanklikes te steun aan hom en sê dat die tyd vir ’n van-binne-af-strategie verby is. Ons praat baie openhartig. Toe ek opstaan om te loop, sê Botha: “Agter dié lessenaar waar ek sit, kan dit soms baie eensaam wees. Mense kom vir my sê wat hulle dink ek wil hoor.”
* * *
Die oproep uit Pretoria het my, teen dié agtergrond, bekommerd gehad. Pretoria was die simbool van regeringsmag. Ek het byna outomaties gewonder of ek in die oë van Pretoria iets verkeerd gedoen het. Koos Kruger en sy kollega Möller Dippenaar het voor my by die huis opgedaag. Annemarie het hulle ontvang en hulle het in die sitkamer vir my gewag. By die voordeur het Annemarie vir my gesê: “Hulle lyk soos veiligheidspolisie. Wees versigtig wat jy sê,” gedagtig daaraan dat ek nie altyd ’n wag voor my mond plaas nie. Koos Kruger en sy “kollega Möller” het my ingelig dat hulle van Nasionale Intelligensie – die NI – is. Die land staan voor allerlei ernstige veiligheidsrisiko’s wat die grondwet kan ondermyn en die voortbestaan van die staat in die gedrang kan bring. Die NI het ’n spesiale afdeling wat hieraan aandag moet gee. Hulle het van dit wat ek skryf en sê kennis geneem en reken dat ek hulle met die projek sal kan help. Die kontakte en netwerke waaroor ek beskik, en die dokumentasie wat ek vermoedelik versamel en bestudeer, sou dalk ook van hulp kon wees.
Ons het by dié geleentheid nie oor die moontlikheid van gesprek en onderhandelinge met die ANC of die ontbanning van organisasies gepraat nie. Ek het ook nie gevra of hulle bewus was van die telefoonoproep van Fleur de Villiers uit Londen nie. Ek het hulle niks daarvan vertel nie. Ek het vroeg in my lewe geleer om nie onnodige vrae te stel nie, te luister en die gespreksgenoot ruimte en vryheid te gee. Tussen my en “oom Koos”, soos ek hom later met respek genoem het, en Möller Dippenaar het gou ’n uitstekende verstandhouding ontwikkel. Ons het mekaar verstaan en vertrou.
Dit was nie vir my en Annemarie moeilik om ’n besluit te neem oor saamwerk met NI nie. Ek het toe al geweet van Consgold se projek en het gedink dis ’n geleentheid soos min. Ons het wel die voor- en nadele, die moontlike impak op ons gesinslewe en die gevolge van ’n assosiasie met die NI deeglik bespreek. Daar is by dié tipe besluit altyd ’n spanning tussen morele en strategiese oorwegings. NI was immers een van die mees ondeursigtige en selfs lotsbepalende arms van die staat. Die kern van die vraag was: “Kan samewerking met dié invloedryke arm van die apartheidstaat bydra om ’n proses van vrede en demokratisering te help bevorder?” Ons het ook vir onsself gesê dat dit onbekende terrein is en dat daar baie onbedoelde gevolge mag wag. ’n Mens weet nie vooraf wat die grense van die kompromieë is wat jy noodwendig in so ’n proses sal moet aangaan nie. Die gesin is hieroor in baie breë trekke ingelig.
My aanvaarding van die versoek het tot ’n intensiewe sessie met Koos Kruger en Möller Dippenaar gelei. Ander lede van die NI-span het later bygekom. Die sessies het gewoonlik in veilige huise plaasgevind. Van dié huise – sommige was woonstelle – het aan privaat eienaars behoort. Een so ’n veilige huis waar ek dikwels gekom het, was in ’n woonstelkompleks in die Strand. Dit het, soos ek verneem het, aan ’n vername kerkman behoort. Koos Kruger, wat uit generaal Hendrik van den Bergh en sy vriend eerste minister John Vorster se Buro vir Staatsveiligheid gekom het, was baie veiligheidsbewus. Hy het oor en oor beklemtoon dat ek met niemand oor die projek moes praat nie. Nie eens met my beste vriende nie. “Dis ’n eensame pad. Kan selfs gevaarlik wees. Ons sal jou in veiligheidsmaatreëls oplei en goed na jou kyk.” Ek het ook ’n kodenaam gekry: Gert. En dinge soos ’n anonieme posbus, ’n aktetas wat soos Kruger s’n gelyk het, ’n bandopnamemasjien en ’n kamera wat ek nooit aan die werk kon kry nie. Dit was nie vir my nodig om enige van dié bykomstighede te gebruik nie.
Daar was ’n paar mense wat ek ingelig het om, sou enige iets verkeerd loop, ’n soort “rekord” met “getuies” te hê. Afgesien van Fleur de Villiers, wat ek eers later ingelig het, was daar Dawie de Villiers, ’n minister in Botha se kabinet. Hy was iemand van hoogstaande integriteit en het jare later die Consgold-gespreksgroep by twee geleenthede bygewoon. Dawie de Villiers het ’n belangrike rol in die uiteindelike onderhandelingsproses gespeel. Botha het De Villiers gerespekteer omdat hy (De Villiers) nie ’n vrees vir Botha gehad het nie, maar sy menings oor netelige politieke kwessies eerlik gegee het. Ek het ook vir professor Mike de Vries, destyds die rektor van die Universiteit van Stellenbosch, ingelig. Ons was goeie vriende en ek het hom vertrou. Ek moes dikwels oor veral naweke reis, ook na die buiteland, en moes verlof vir afwesigheid daarvoor kry. Dit was om vertroulikheids- en veiligheidsredes nie moontlik om die normale kanale daarvoor te gebruik nie. De Vries het die toestemming gegee en ook die vertroulike aard van die projek gerespekteer. Hy was baie ondersteunend en het graag daarop gewys dat die Universiteit van Stellenbosch hopelik eendag krediet sou kry vir wat ter wille van ’n onderhandelde skikking gedoen is. Ek het ook ’n paar goeie vriende in breë trekke ingelig, soos Anton van Niekerk van die US se departement filosofie. ’n Mens kan nie so ’n projek sonder ondersteunende familie en vriende met onkreukbare integriteit aanpak nie.
Die opleidingsessies in veiligheid was insiggewend. Dit het my gehelp verstaan hoe daar toe op ’n hoë vlak oor veiligheids- en politieke kwessies gedink is. Die Staatsveiligheidsraad (SVR) en die kabinet is destyds gereeld deur die NI en ander veiligheidsdienste van die staat ingelig. Later het ek verneem van president PW Botha se situasiekamer. Daar kon hy op ’n skerm sien wat alles gebeur het en wie wat gesê het. Die “alles” is natuurlik deur iemand anders geselekteer en gesif. Ek het mettertyd die omvang en die plofbaarheid van Suid-Afrika se krisis beter verstaan. So ook die aard van die gekkeparadys waarin veral Afrikaners gelewe het. Een so ’n sessie in veiligheid het my met spreekwoordelike bomskok gelaat. Dit het gefokus op hoe ’n mens na jou veiligheid in die buiteland, byvoorbeeld in hotelle, moet omsien. Ek het half wanhopig, omdat ek nie alles kon onthou nie, uitgeroep: “Maar die ANC sal my nie vermoor nie. Hulle het belang by my oorlewing.” Iemand het droogweg opgemerk: “Ons probeer jou nie teen die ANC beskerm nie. Dis teen die ‘bruin hemde’ dat jy beskerm moet word,” met ander woorde, die militêre.
Möller Dippenaar, wat in ’n stadium vir predikant geleer het, was ’n besondere mens. Ons het baie en soms moeilike in-diepte-gesprekke gehad. Die NI het mense in sy geledere gehad wat goed opgelei en hoogs intelligent was. Die vroulike lid van die span, Hanna Langenhoven, met wie ek later saam gewerk het en vir wie se intellektuele vermoëns en humorsin ek groot waardering ontwikkel het, het onlangs aan my gesê dat hulle byna die projek opgeskort het. Ek het geen begrip vir veiligheidsmaatreëls gehad nie. Koos Kruger weer, was in sy hart en niere ’n polisieman, toegewy en lojaal aan die staat wat hy gedien het. By verskeie geleenthede het hy vir my gesê: “Ek volg Paulus in Romeine 13 na. Ek is ’n onderdeel van die swaardmag van die staat.” Jare later sou Eugene de Kock, toe ek hom in die tronk gaan besoek het, min of meer dieselfde sê. Kruger het by meer as een geleentheid gesê: “Hoe weet ons dat ons die swaardmag reg gebruik?” En, het hy ook gesê: “Goeie intelligensie help ons om die swaardmag reg te gebruik.” Ek het vir myself gesê: “Intelligensie gaan oor inligting wat strategiese doelwitte en beplanning kan bevorder. Waaroor dit primêr gaan, is die aard van die doelwitte.” Hoe en deur wie die inligting geverifieer kan word, en veral die kwessie van aanspreeklikheid en toesig, is natuurlik binne ’n demokratiese staat baie wesenlike vrae.
Ek het destyds ook aanvaar dat as ek nie met mense soos Kruger en Dippenaar ’n bepaalde verhouding van vertroue kon ontwikkel nie, die projek waarvoor ek my ingelaat het, plat sou val. Dis Kruger en Dippenaar wat my gehelp het om te verstaan dat morele oorwegings “blind” is sonder strategiese oorwegings, en dat strategiese oorwegings “leeg” is sonder morele oorwegings, as ek die beroemde Duitse filosoof Immanuel Kant kan aanpas. Dat ’n mens egter oor ’n werkbare balans hiertussen nie te idealisties en romanties-naïef moet wees nie, is ’n feit soos die spreekwoordelike koei. Wat my baie gehelp het om nie my moontlike bydrae te hoog aan te slaan nie, was iets wat Eddie Orsmond, ’n nagraadse student wat my in die projek bygestaan het en gesorg het dat notules bygehou en afsprake nagekom word, op ’n keer op ’n vriendelike dog ferme wyse gesê het: “Prof, jy moet onthou oom Koos en Dippenaar ken ’n groter plan. Ons twee het nie daartoe toegang nie. Ons het slegs ons prentjie wat kleiner is en hopelik inskakel by ’n sinvolle groter prentjie.”
Die inligtingsessies oor hoe, vanuit owerheidsweë, die bedreiging van die Suid-Afrikaanse staat geïnterpreteer is, was in een opsig ’n leerervaring. Die model van die Totale Aanslag het in die meeste van dié sessies sterk gefigureer. Ek het ironies-krities daarvan as die “spinnerakteorie” gepraat, met die ANC as die groot swart en gevaarlike spinnekop wat saam met die kommuniste uit die sentrum van die web ongeveer alles wat Suid-Afrika bedreig, manipuleer. Ek was verstom oor hoe sterk die “geloof” aan dié teorie was. Wanneer ’n mens met die mite van die “vyand” werk om optredes en beleid te regverdig, is dit skynbaar nodig dat jy jou vyand magtiger voorstel as wat hy werklik is. President PW Botha en sy ministers het hulle eie propaganda geglo. Die idee van ’n Totale Aanslag was besonder effektief. Diegene wat skepties oor dié propaganda was, was sélf deel van die Totale Aanslag. ’n Totale Strategie het daarom voorsiening vir min of meer énige middel gemaak om die doel van staatsveiligheid te bevorder. Generaal Joep Joubert van die Spesiale Magte was myns insiens doodeerlik toe hy op 8 Oktober 1997 voor die Waarheids-en-Versoeningskommissie (WVK) gesê het dat hy slegs sy “plig” gedoen het om die oorlewing van die regering van die dag te bevorder. Mense wat ’n ernstige bedreiging vir die staat was, is daarom geëlimineer. Hy het aanvaar dat die land in ’n “volskaalse oorlog” was. Hy was die produk van die propaganda van die Totale Aanslag.
Met verloop van tyd het ek verskeie personeellede van die NI leer ken. Niel Barnard, die grootbaas van die NI, was een van hulle. Hy het op jeugdige ouderdom vanaf die destydse Universiteit van die Oranje-Vrystaat die leiding by die NI oorgeneem. Hy is ’n uitstekende pokerspeler. Nie iemand wat deur liggaamstaal of woorde sy strategie en taktiek verraai nie. En brutaal reguit met sy menings wanneer iemand met hom swaarde kruis. Die twee van ons het verskillende persoonlikhede. Ek werk, so het hy op ’n keer ironies-bestraffend gesê, met ’n “Karoo-ordentlikheid”. Van meet af aan het ek egter vir hom ’n respek ontwikkel wat tot vandag toe bestaan. Hy het bygedra om Suid-Afrika van ’n bloedige en verwoestende burgeroorlog te red. Ek het later verneem dat daar in die NI reeds so vroeg as 1984 na onderhandeling as ’n strategiese opsie gekyk is. Ene Swanepoel, wat toe skynbaar die hoofdirekteur van strategiese en operasionele evaluasies van die NI was, het in ’n verslag gereken dat die regering met Nelson Mandela gesprek moet begin voer. Hy het ’n scenario ontwikkel waarin Nelson Mandela met sy vrylating miljoene mense in Johannesburg byeen sou bring. Die idee van ’n goed gekontroleerde en inkrementele proses wat tot Mandela se vrylating sou kon lei, is in die NI gebore. Daar moes beheer behou word oor ’n proses wat as onafwendbaar beskou is, maar waaroor niemand toe té hardop wou praat nie.
Barnard se ander senior kollega, Mike Louw, moet ook genoem word. Louw, wat ek nie so goed leer ken het as vir Barnard nie, het ’n besondere persoonlikheid en vernuf gehad. Hy was, by wyse van spreke, nie ’n kaartspeler nie. Eerder ’n losskakel in ’n rugbyspan. Hy kon ’n spelpatroon lees én dirigeer. Dis hy en Maritz Spaarwater, nog iemand wat krediet moet kry, wat op 12 September 1989 in samesprekings met die ANC in Luzern, Switserland, en daarná die onderhandelingsbal saam met Barnard “losgemaak” het sodat daar met Kodesa (die Konvensie vir ’n Demokratiese Suid-Afrika) begin kon word. Spaarwater was geseënd met ’n besondere sin vir humor. Persoonlik dink ek nie ’n mens kan aan intense “oefensessies” en “voorwedstryde” deelneem met die oog daarop om ’n bloedbad te vermy en ’n sinvolle “finale wedstryd” te speel, as jy nie oor emmers vol humorsin beskik nie. Humor, so het ek in die hele proses geleer, is ’n ontlontingsmeganisme. Dis soos om ’n handgranaat skadeloos te maak. Spaarwater het dié gawe gehad.
* * *
Dis blote toeval, maar tog betekenisvol: Die oproep uit Londen en die oproep uit Pretoria en dit wat daaruit voortvloei, vind plaas teen die agtergrond van ’n dramatiese gebeurtenis. Op 3 en 4 Julie 1987, ongeveer ’n jaar ná die PW Botha-regering ’n noodtoestand in Suid-Afrika afgekondig het, basuin die voorblaaie van koerante dit uit: Idasa, met Frederik van Zyl Slabbert en Alex Boraine die leiers, sal met ongeveer 60 mense uit Suid-Afrika, meestal Afrikaners, in Dakar, Senegal, met die verbode ANC konferensie hou. Dié konferensie vind tussen 9 en 12 Julie 1987 plaas. Ongeveer 20 lede van die ANC, met Thabo Mbeki die leidende lig, neem deel. Die begaafde skrywer en digter Breyten Breytenbach is ook ’n vername dryfkrag. Temas soos watter strategieë gevolg moet word om verandering in Suid-Afrika te bewerkstellig, hoe nasionale eenheid gebou kan word, hoe die strukture van ’n vrye Suid-Afrika daar moet uitsien en hoe die ekonomie moet lyk, word onder meer bespreek. Dit word ’n mediagebeurtenis; ’n “event”. Die Botha-regering is briesend. Baie Afrikaner-joernaliste en hulle lesers ook. Koos Kruger vertel my later: “Die president wou die Dakar-gangers by hulle terugkoms laat arresteer. Dr. Barnard het gedink dis nie wenslik nie. Wat dink jy as jy daarna terugkyk?”
Ek weet nie eintlik wat om te sê nie, maar antwoord tog: “Wel, ek was nie genooi nie. Weet ook nie wat ek sou gedoen het as ek genooi was nie. En ek weet ook nie eintlik wat daar gebeur het nie. Daar was baie mense uit Suid-Afrika. Maar nie juis baie uitgeweke ANC’s nie. Van die mense uit Suid-Afrika sou seker graag wou gehad het dat hulle gearresteer moes word. Dit sou groot nuuswaarde gehad het. Baie van hulle het openbare aandag gesoek. Ek dink Barnard was reg.” Persoonlik dink ek die Dakar-konferensie was belangrik. Dit het tot openbare bewusmaking vir ’n onderhandelde skikking gelei, en Thabo Mbeki as dié dryfkrag onder die uitgewekenes vir ’n onderhandelde skikking na vore gebring.
Ná Dakar was Idasa wêreldwyd bekend, maar Dakar het ook Idasa as ’n moontlike bemiddelaar en onderhandelingsvennoot gekelder. Dit was té in die openbare oog en té op publisiteit ingestel. Beide die NP-regering en die ANC, by monde van hulle verteenwoordigers, het aan my gesê: Idasa is ’n buitestander tot die proses self. Dis ’n ope vraag of die dinkskrum van die Afrikaner Broederbond op 7 Februarie 1987, die stigting van die Onafhanklike Beweging in Mei 1987, en veral die konfrontasie tussen PW Botha en Besprekingsgroep ’85 op 20 Februarie 1987 en die openbare verklaring daarna, nie ’n gróter invloed as Dakar op skikkingprosesse gehad het nie.
Ek het uit iets wat Thabo Mbeki op ’n keer oor Idasa gesê het, afgelei dat dié inisiatief en Slabbert en Boraine se bedanking uit die parlement, verband gehou het met Slabbert se besoek aan die ANC in Lusaka in 1985, toe hy nog die leier van die Progressiewe Federale Party was. Idasa is as ’n alternatiewe en béter roete as die destydse Suid-Afrikaanse parlement en die PFP gesien na invloed op die ANC en veral betrokkenheid by ’n regstreekse onderhandelingsproses. Indien my interpretasie korrek is, was dit ’n strategiese misrekening. Regstreekse bilaterale onderhandeling met die NP-regering en die ANC was immers onvermydelik. Dié moontlike misrekening het na alle waarskynlikheid ook later ’n rol gespeel in die verbrokkeling van die verhouding tussen Mbeki en Slabbert, en die verwyt dat Mbeki nie aan Slabbert die nodige erkenning gegee het nie.
Die NI self was nooit afwysend teenoor Slabbert nie. Hy is nie as ’n “uitverkoper” beskou nie, altans nie in my teenwoordigheid nie. Hy is, na wat my meegedeel is, selfs ’n paar keer vir sy menings genader. Daar was eerder ’n gereserveerdheid omdat hy, volgens my NI-segspersoon, té ingestel op politieke mag en invloed was. Dis waarom hy die openbare forum gekies het, is gesê. Dis ongelukkig ook so dat sleutelfigure in die ANC dié mening gedeel het. Hulle wou hom nie as lid van die nie-amptelike Afrikaner-kontakgroep hê nie. Dat Slabbert toe nie deel van die Afrikaner-binnekring was nie, en ’n toegewyde liberaal-demokraat en nie ’n sosiale demokraat was nie, het in daardie stadium by sommige ANC’ers ’n rol gespeel. Die ANC-leierskap wat ten gunste van ’n onderhandelde skikking was, het nie net na Afrikaners as die heersende magselite gekyk nie. Hulle het gemeen dat Afrikaners binne die heersende stelsel nader aan die sosiale demokrasie as byvoorbeeld Engelssprekende liberales gestaan het. Daarom was hulle bereid om eerder met “rassistiese nasionaliste” as met die “liberaliste” te onderhandel. Hulle het eintlik ook nie ’n keuse gehad nie, want die onderhandelinge het tussen maghebbende partye en nie tussen individue met persoonlike aansien en invloed plaasgevind nie.
Teen die NI se aanbevelings in het ek op ’n keer in Johannesburg, met die Dakar-konferensie nog vars in die geheue, vir Van Zyl Slabbert kortliks ingelig oor waarby ek betrokke was. Dit was tydens ’n seminaar-byeenkoms toe ons vir middagete verdaag het. Ek was waarskynlik te vaag, want hy het nie reageer nie en net gesê hy wil iets gaan eet. Ek het daarna nooit weer by hom die kwessie aangeroer nie. Hy het later daaroor met Richard Rosenthal, na wie nog verwys sal word, en ook met Thabo Mbeki gepraat. Dit was waarskynlik ’n wins dat daar nie formele kontak tussen Idasa en die Afrikaner-ANC-gespreksgroep was nie. Dit het ruimte gelaat vir meer dimensies en verskeie gelyktydige gesprekke.
Ander kontakte met die uitgeweke ANC het ook plaasgevind. As die ANC onder die leiding van Tambo en Mbeki die diplomatieke stryd in die internasionale wêreld loshande teen die Suid-Afrikaanse regering gewen het, is daar ook reuse-vordering gemaak ten opsigte van kontakte met sleutelpersone uit wit Suid-Afrikaanse geledere. Dit het al in 1984 begin met mense soos HW van der Merwe, ’n professor van die Universiteit van Kaapstad, Piet Muller van Beeld en Hugh Murray van Leadership. In 1985 besoek Van Zyl Slabbert en Colin Eglin, albei van die PFP, ook Lusaka. Die ys is gebreek toe ’n klompie bekende sakelui, waaronder Gavin Relly van Anglo American, in September 1985 gesprek in Lusaka gaan voer het. Tambo, Mbeki, Hani, Pallo Jordan en Aziz Pahad is van die ANC-ers wat hulle te woord staan. President Kenneth Kaunda van Zambië het dié ontmoeting met die “kapitaliste” baie sterk gesteun. Dit het in sekere kringe in die Suid-Afrikaanse politieke en sakewêreld beroering veroorsaak, maar was ’n belangrike bydrae tot die ontdemonisering van die ANC, veral toe die woord versprei is dat Tambo die byeenkoms met gebed geopen het.
Daar vind ook in 1986 ’n paar “toevallige” ontmoetings plaas. Dié tussen Thabo Mbeki en professor Pieter de Lange, leier van die Afrikaner Broederbond, in Junie van daardie jaar, moet veral uitgesonder word. Dit het op Mbeki “groot indruk” gemaak, vertel hy my later. Die AB was toe self binne ’n fase van ernstige besinning waarin mense soos De Lange en Willem de Klerk ’n groot rol gespeel het. En dan was daar natuurlik in 1988 Louis Luyt, president van die Suid-Afrikaanse Rugbyraad, se kontak met die ANC. Die politieke keerwalle teen kontak het gekraak.5
In die volgende hoofstukke vertel ek meer van die mense en prosesse wat ’n bydrae gelewer het om ’n klimaat van onderhandeling en ook die agenda van die onderhandelingsproses te bepaal. Hier gee ek besondere krediet aan die NI en Niel Barnard. Dit moet genoem word dat die NI nie vir president PW Botha volledig oor die gespreksproses ingelig gehou het nie, soos Mike Louw in ’n onderhoud met Geoffrey Heald (2006: 89) toegegee het. Louw, wat die mening toegedaan was dat menslike denkraamwerke “elasties” moet wees om groot veranderings te verstaan en te aanvaar, het gemeen dat PW Botha, gegee sy geskiedenis en ouderdom, nie dié kapasiteit gehad het nie.
Die goue draad wat deur my vertelling loop, is die verband tussen nie-amptelike, private en vertroulike gesprekke (in die literatuur “tweede spoor” gesprekke genoem) en amptelike, formele gesprekke (“eerste spoor”). Heelwat meer oor die teorie hier agter word in die Epiloog bespreek.6