Читать книгу Eindstryd - Willie Esterhuyse - Страница 6

2

Оглавление

Tussen die ystervuis en dialoog: Die politieke konteks

Op 15 Augustus 1985 lewer president PW Botha sy berugte Rubicon-toespraak. Min politieke toesprake in die geskiedenis van ons land het so ’n inploffing van hoop op ’n onderhandelde skikking by die meerderheid Suid-Afrikaners veroorsaak as dié toespraak. Dit het twee gevolge gehad: Enersyds die denkskuif in internasionale kringe en by baie verligte Afrikaners in Suid-Afrika dat die van-binne-af-strategie nie meer voldoende of selfs aanvaarbaar was nie; andersyds die mening onder diegene wat met die United Democratic Front (UDF), gestig in 1983, geassosieer het, dat druk op die Botha-regering verhewig moes word, en ook verhewig kón word in die lig van die internasionale reaksie op die Rubicon-debakel. Golwe van opstand en protes het toe al sedert veral September 1984 oor ons land gespoel. In Desember 1985, soos later sou blyk, vind die Vlakplaas-eenheid onder bevel van kolonel Eugene de Kock dit selfs nodig om ses MK-kaders in Lesotho dood te skiet. Kort na dié voorval is De Kock en die lede van sy eenheid met medaljes deur Louis le Grange, minister van wet en orde, vereer.

Verligte Afrikaners het vir baie jare geglo dat ’n van-binne-af-strategie politieke vrugte in die rigting van meer ingrypende hervormingsinisiatiewe sou dra. In 1985 het die Botha-regime immers die moreel-drakoniese Wet op Gemengde Huwelike en die berugte Artikel 16 van die Ontugwet wat seksuele omgang tussen rasse verbied het, herroep. Dit het by verligte Afrikaners die hoop laat opvlam dat verdere “hervormings” sou volg. PW Botha is as ’n hervormer wat stuksgewyse te werk gaan, beskou. Tydens ’n konferensie by die Suid-Afrikaanse ambassade in Londen in die 1980’s het ’n swart leier, John Mavuso, selfs verklaar dat PW Botha die Abraham Lincoln van Suid-Afrika is. Mettertyd het teleurstelling en ontgogeling ingetree. Botha is veral deur die intellektuele van die nuwe generasie Afrikaners beskou as déél van die apartheidsprobleem en nie as deelgenoot in die aftakeling daarvan nie. ’n Denkskuif het gewag om gebore te word. Toe dit plaasvind, het dit algaande ’n uitbreidende kettingreaksie veroorsaak wat later ’n impak op PW Botha self gehad het. Belangrike rolspelers binne en naby die Botha-regering het begin besef dat ’n militêre oplossing vir die Suid-Afrikaanse burgeroorlog en die ander konflikte waarby Suid-Afrika in die streek betrokke was, nóg finansieel nóg strategies ’n opsie was. ’n Politieke oplossing moes gevind word.

Die UDF het ook dinge vir die Botha-regering moeilik gemaak. Die verbode en uitgeweke organisasies, soos die ANC en PAC, kon maklik as “terroristies” afgemaak word. Maar hoe doen jy dit met die UDF? Met gerespekteerde kerkleiers soos biskop Desmond Tutu en dr. Allan Boesak? Die Botha-regering kon hierop uiteindelik net op een manier reageer: ’n noodtoestand, inperkings en arrestasies! Dit het ’n mate van orde in sekere gebiede herstel, maar nie vrede, reg en geregtigheid nie. In Maart 1985, voor die Rubicon-toespraak, kom dinge al tot ’n punt. Die polisie skiet op ’n skare van ongeveer 4 000 mense in Port Elizabeth in die Oos-Kaap. Twintig protesteerders sterf. Tutu word selfs in hegtenis geneem. Die Oos-Kaap was in dié tyd ’n gebied waar politieke aktivisme hoogty gevier het. ANCleiers soos Nelson Mandela, Govan Mbeki, Thabo Mbeki en Chris Hani het uit die Oos-Kaap gekom, soos ook die bekende swartbewussynsleier Steve Biko, wat deur die veiligheidspolisie doodgemartel is. En dan was daar ook Matthew Goniwe en sy drie strydmakkers wat in 1985 deur die veiligheidspolisie vermoor is. Die staat se berugte moordbende, die Burgerlike Samewerkingsburo (BSB) wat met belastingbetalers se geld gefinansier is, word in dié tyd as “teen-revolusionêre strategie” gebore, ’n glybaan na ’n moreel-politieke moeras.

Ook in die buiteland het die Botha-regering die wind erger as ooit van voor gekry. Die toespraak is internasionaal deur sowat 200 miljoen kykers dopgehou. Vooraf is hemelhoë verwagtings geskep deur veral minister Pik Botha en sy Departement van Buitelandse Sake. As daar nog êrens in die wêreld ’n mate van geloofwaardigheid aan die sogenaamde Totale Aanslag deur die kommuniste teen Suid-Afrika was, het Botha dit in sy Rubicon-toespraak verdrink. Ook Margaret Thatcher, eerste minister van Brittanje, leier van die Britse Konserwatiewe Party en persoonlik op ’n redelik goeie voet met Botha, het onder toenemende druk gekom, al het sy die ANC as “terroristies” afgemaak. Die Statebond was teen haar “sagte” benadering gekant en wou sterk sanksies instel. Dit is in Augustus 1986 gedoen. Haar woordvoerder, Bernard Ingham, het volgens Thabo Mbeki in 1987 nog na die ANC as ’n tipiese terroristeorganisasie verwys. Volgens Mbeki het hy gesê enige iemand wat dink dat die ANC Suid-Afrika eendag sou regeer, woon in “cloud-cuckoo-land”. Daar is onsekerheid oor die verband waarin dié opmerking gemaak is, maar Mbeki se weergawe vertolk wel sy persepsie van Thatcher en haar regering.

Thatcher se sterk standpunt teen omvattende sanksies was vir apartheid-Suid-Afrika ’n groot politieke troos, al het dit ons land nie teen ekonomiese en finansiële erosie beskerm nie. Sy was nie net leier van die Britse Konserwatiewe Party nie, maar as mens ook konserwatief en sterk gekant teen kontak met die ANC as ’n organisasie wat volgens haar bandeloos en gewelddadig was. By geleentheid was sy selfs hoogs ontsteld oor die vooruitsig dat die destydse Suidwes-Afrika en Suid-Afrika deur Swapo, die ANC en die kommuniste gewelddadig oorgeneem kon word. Sy het onder meer vir Patrick Fairweather, Assistant Under Secretary of State, Foreign and Commonwealth Office, ingeroep om haar ontsteltenis onder sy aandag te bring. Dit blyk toe dat haar bron ’n verslag van ’n bekende Amerikaanse konserwatiewe instelling was. Dié het haar persoonlike konserwatiewe waardestelsel vertolk.

Thatcher se vriend Ronald Reagan, president van die VSA, het haar meegedeel dat hy haar nie meer subtiel kon steun in haar teenkanting teen verskerpte ekonomiese sanksies en haar versigtige houding teenoor Suid-Afrika nie. Dit moet onthou word dat die Botha-regering, kort voor die Rubicon-toespraak en ná bloedige konfrontasies in swart en bruin woonbuurte tussen die polisie en betogers (byvoorbeeld in Port Elizabeth, in Maart 1985), in Julie 1985 ’n noodtoestand afgekondig het – die eerste keer in 25 jaar ná Sharpeville. Dis vir ’n rukkie opgehef, maar weer in Junie 1986 afgekondig, waarna dit jare lank van krag gebly en kort-kort afgekondig is. Die politieke doodloopstraat waarin Suid-Afrika reeds was, het steeds meer versmorend geword.

Dié doodloopstraat kan met die tegniese term “stasis” of “ekwilibrium” beskryf word – bewerkstellig deur twee destruktiewe dryfkragte (revolusionêr en téénrevolusionêr) waarvan die eindresultaat onafwendbaar was: ’n sosio-politieke inploffing en ’n mislukte staat. Soms word van ’n “hurting stalemate” gepraat. Ek het nooit die storie van ’n staat wat in beheer was en wat met méér en sterker magsmiddele nog lank beheer sou kon uitoefen, aanvaar nie. Die Suid-Afrikaanse staat was teen 1986 vinnig op pad na ’n mislukte staat waarvan die elite op ’n totalitêre wyse beskerm sou moes word. Die ANC se meer gematigde leierskorps was nie hieroor opgewonde nie. ’n Mislukte staat, deur magsmiddele in stand gehou, vernietig oor die middel tot langer termyn ongeveer álle ontwikkelingsmoontlikhede. Per woord het PW Botha se Rubicon-toespraak Suid-Afrika miljoene rande gekos. Die gematigde ANC-leierskorps, waaronder Tambo en Mandela, wou nie ’n verwoeste vaderland erf nie. Die nuwe generasie Afrikaners wat in Angola moes veg, ook nie.

Hóé uitsigloos die doodloopstraat geword het, was veral in die VSA duidelik. Op 21 Januarie 1986 is die Comprehensive Anti-Apartheid Act van 1986 in ’n gesamentlike sitting van die Huis van Verteenwoordigers en die Senaat (die Kongres se 99ste vergadering) aanvaar. Dit was in alle opsigte “omvattend”. Die argument dat sanksies veral die onderdruktes en benadeeldes erger as die bevoordeelde wit mense sou tref, is daarmee vir goed van die tafel afgevee. Sanksies is aanvaar as die énigste oorblywende niegewelddadige middel om apartheid tot ’n val te bring. Die wetgewing het ook die VSA se beleid ten opsigte van ’n “negotiated settlement” uitgespel. Daarin is onder meer die volgende voorwaardes gestel: Beëindiging van die noodtoestand; vrylating van politieke gevangenes soos Nelson Mandela; ontbanning van die ANC en ander politieke bewegings; herroeping van apartheidswetgewing soos die Groepsgebiedewet en die Bevolkingsregistrasiewet; en die toekenning van universele burgerskap aan alle Suid-Afrikaners, ook dié van die “tuislande”, oftewel sogenaamde onafhanklike en selfregerende swart state soos die Transkei en KwaZulu.

’n Internasionale konsensus, soos in die betrokke wetgewing vertolk, het begin wortel skiet. Dit is dié konsensus waaraan die De Klerk-regering in Februarie 1990 gehoor moes gee. Dis interessant om daarop te let dat die VSA in die wetgewing van 1986 hom daartoe verbind het om ’n ooreenkoms te help bewerkstellig “to suspend violence and begin negotiations through co-ordinated actions with the major Western allies and with the governments of the countries in the region”. Op ’n ander plek in die wetgewing word selfs gesê dat “unbanning” moet geld vir alle groepe “willing to suspend terrorism and to participate in negotiations and a democratic process”. Die kwessie van geweld, of dit opgeskort (“suspend”) of afgesweer (“renounce”) moes word alvorens ’n onderhandelingsproses kon begin, was vir baie lank ’n turksvy. So ook die vraag of ander regerings by die skikkingsproses betrokke moes wees.

Die VSA was in die Westerse wêreld ’n baie belangrike speler in die sanksieveldtog en meer as honderd maatskappye onttrek uit Suid-Afrika. Toe kom die skerpste en langste spyker: Finansiële sanksies, met die Amerikaanse Chase Manhattan-bank wat in Augustus 1985, ná die Rubicon-toespraak, die eerste hamerhou slaan. Sanksies het begin werk. ’n Lewenslange persoonlike vriend, Howard Wolpe, ’n vooraanstaande lid van die Amerikaanse Kongres en aktivis binne die Demokratiese Party, was die voorvegter in dié verband. Ons skerp verskille het nie ons vriendskap in die gedrang gebring nie, maar my wel gehelp om Suid-Afrika se krisis beter te verstaan. Self het ek nooit gedink dat die ANC en Thabo Mbeki se invloed op die anti-apartheidsbeweging volledig krediet vir die sanksiesukses moes kry nie. Die onbeholpe manier waarop die Suid-Afrikaanse regering sedert die tagtigerjare die politieke krisis in die land hanteer het, en veral die katastrofale Rubicon-toespraak, was ook ’n vername rede. Dit het apartheid van al sy moreel-politieke bekleedsels gestroop en die keiser poedelnaak in die Westerse openbare arena laat staan.

Op Dinsdag, 29 Oktober 1985 kry die ANC die geleentheid om voor die Foreign Affairs Committee van die Britse parlement vrae te beantwoord en getuienis te lewer. Oliver Tambo, Thabo Mbeki en Aziz Pahad verteenwoordig die ANC. Die fokus van die gesprek is veral op geweld en die aanwending daarvan teen “sagte teikens”, asook die kwessie van sanksies. Robert Harvey wat die boek The Fall of Apartheid: The Inside Story from Smuts to Mbeki geskryf het, is as parlementslid ook teenwoordig. Die gesprek word, soos Mbeki dit teenoor my gestel het, “a grilling”. Maar ook ’n “breakthrough” vir die ANC se diplomatieke inisiatief. Tambo slaag die toets as ’n gematigde voorstander van onderhandelinge. Die Suid-Afrikaanse regering se mite van ’n bloeddorstige vyand word in die buiteland as ongeloofwaardig uitgewys.

Die Westerse wêreld het in die middel-tagtigerjare sy hoop dat Afrikanerleiers tog ’n onderhandelingsproses op dreef sou bring, verloor. Selfs Margaret Thatcher was nie meer bereid om ’n goeie woord vir Suid-Afrika te doen nie. Botha was oor haar houding baie goed ingelig. Verskeie sakeleiers met invloed, soos dr. Anton Rupert van die Rembrandtgroep, veral vanweë sy Switserse kontakte, is mettertyd ingeroep om te help red wat daar te redde was. Rupert skryf uiteindelik vir Botha ’n lang brief (24 Januarie 1986) waarin hy sonder doekies omdraai sê dat die eintlike probleem van Suid-Afrika apartheid is. Dit het nie gehelp nie.1 Thabo Mbeki, wat nie juis ’n goeie woord vir Margaret Thatcher gehad het nie, het my in 1988 iets baie interessants meegedeel. Margaret Thatcher het haar vir PW Botha vererg. En die rede? Hy het Geoffrey Howe, haar minister van buitelandse sake, beledig. En al het Thatcher nie juis baie van Howe gehou nie, was hy darem die “Britse” minister van buitelandse sake en lid van haar span. Thatcher, wat Botha vantevore, in Junie 1984, by Chequers ontvang het, het tydens die ontmoeting dit redelik onomwonde gestel dat hy Mandela moes vrylaat. Sy was gekant teen volskaalse sanksies en het ook, tot Botha se groot vreugde, gesê dat ’n beëindiging van geweld ’n voorwaarde vir onderhandelinge met die ANC was. Dié kwessie sou baie lank ’n struikelblok wees.

Howe besoek Suid-Afrika in Julie 1986. Nóg lede van die ANC, waaronder Nelson Mandela, nóg biskop Tutu wil hom te woord staan. Botha ontmoet Howe op 23 Julie en ook op 29 Julie. Botha was in een van sy slegte buie. Hy reken Tutu se menings is niks werd nie en dat buitelanders moet ophou om in Suid-Afrika se sake in te meng. Belangrike en doeltreffende politieke druk het ongetwyfeld hierna veral vanuit Brittanje gekom, ’n vername handelsvennoot en ook ’n land met ’n kulturele en demografiese erfenis in Suid-Afrika. Iemand in die binnekring van die Thatcher-regering, Patrick Fairweather – op ’n keer ambassadeur in Luanda, Angola, en daarna ’n senior Britse amptenaar in Londen – het dit teen die einde van 1988 kragtig aan my in Londen gestel: “Die krake in die Botha-regering kan nie meer toegesmeer word nie. Hulle sal al groter word.” Dit was inderdaad die geval. Die krake hét al groter geword en kon nie meer met skuifelende stuksgewyse hervorming bestuur word nie. Daar was net te veel skerp beitels wat hulle punte in die barste en krake ingekry het. Of slegs één prominente beitel as van die mees deurslaggewende belang uitgewys kan word, is twyfelagtig. Dit was eerder ’n geval van meerdere beitels, oftewel dryfkragte en prosesse wat gesamentlik ’n energie ontwikkel en veranderingsinisiatiewe moontlik gemaak het. Dié dryfkragte het ’n politieke kantelpunt (“tipping point”) onafwendbaar gemaak.

’n Mens kan van primêre en sekondêre dryfkragte praat. Om daarom die krediet vir die historiese omwentelingsproses of politieke kanteling wat plaasgevind het, op ’n oordadige wyse aan ’n paar mense te gee wat nou as “heldefigure” geloof word, is om die werking van historiese politieke en maatskaplike omwentelingsprosesse té oppervlakkig te verstaan. Ek noem dit retrospektiewe mitologisering. Onderdrukkende stelsels soos apartheid is van ’n sistemiese aard. Stelselomwentelings vereis daarom prosesgedrewe sistemiese transformasie en nie bloot openbare leierskapsinisiatiewe of selfs leierskapsverandering nie. Ook nie bloot openbare konferensies, seminare en werksessies nie. Die jaar 1986 was van sleutelbelang vir die politieke prosesse wat oor die daaropvolgende vier tot vyf jaar vorm sou aanneem, al het Suid-Afrika toe al ses atoombomme gehad. Die berugte instromingsbeheermaatreëls wat swart mense se trek na stedelike gebiede en eiendomsbesit probeer blokkeer het, word vullishoop toe gekarwei. En deur PW Botha! Dis voorafgegaan deur intense “lobbying”, veral deur Jan Steyn en sy Stedelike Stigting.2 Die betrokke wet was ’n hoeksteen van die rasgedrewe apartheidstelsel.

Botha lig sy koukus oor hierdie sensitiewe kwessie as volg in: By sy strandhuis in die Knysna-omgewing is daar swart miere wat hom teister. Hy bestee baie ure en spuitkannetjies om hulle uit te roei. Maar hulle kom keer op keer terug. En hy besef ook: “Ek is besig om die grond te vergiftig.” Hy sê aan sy koukus: Swart mense is hier om te bly. Al word hulle met busse weggery. Hulle kom terug. En ons vergiftig ons omgewing met wetgewing en pogings om hulle uit te hou. Die wet moet van die wetboek af.

Die aanvaarding van die permanensie van swart mense in die stad was ’n doodskoot vir apartheid, al het die sterwe lank geduur en die lyk ook baie lank sleg geruik. Daar was hierna egter geen omdraai op die pad na ’n politieke skikking wat swart mense se deelname én goedkeuring vereis het nie. Die politieke manipulasies wat gevolg het, en die klippe wat doelbewus in die pad gerol is, was ’n futiele poging om die uitkoms van die proses te beheer. Maar dit kon nie die proses omdraai of stop nie. Botha het dit geweet. Hy kon of wou egter nie die volle politieke gevolge hiervan insien nie. Wat hy as hervormings toegelaat het, was nóg strategies nóg moreel binne ’n grotere visie deurdink. Dit was eerder lukraak met onbedoelde gevolge, ’n kritiek wat FW de Klerk ook teen hom gehad het.

Botha se voorneme om die proses eensydig te beheer, is weerspieël deur die kombinasie van stuksgewyse hervormings én drakoniese veiligheidsmaatreëls. Dié kombinasie het die anti-apartheidstryders nog meer verbete laat veg, talle martelare geskep en alle inkrementele hervormingspogings ongeloofwaardig gemaak. Al kan geredeneer word dat Botha se hervormingsinisiatiewe die apartheidstelsel (onbedoeld) van binne af ondermyn het, het sy wil en vermoë om leiding te gee in ’n meer omvattende vredesproses onder verdenking gekom. Afgesien van die Westerse wêreld wat politieke druk op die Botha-regime verhewig het, was daar ook iets anders: Die wêreld self het verander. Die Koue Oorlog was besig om sy aggressiewe hitte en motiverende ideologiese emosies te verloor. Die einde van die mededinging tussen die supermoondhede was in sig. Michail Gorbatsjof het met sy glasnost en perestroika prosesse aan die gang gesit wat sy land radikaal sou verander. Die vergadering van sy party se Sentrale Komitee in April 1985 was ’n onomwonde sein dat ’n nuwe orde in die Sowjetunie op hande was.

Oliver Tambo en Thabo Mbeki het dié seine gou en deeglik opgevang, onder meer dat Gorbatsjof nie meer lus was vir duur kampanjes in ander lande terwyl die Sowjetunie se mense self nie ’n “beter lewe vir almal” kon ervaar nie. Tambo was in dié tyd ’n gereelde besoeker aan Moskou en was baie goed deur Gorbatsjof oor die nuwe verwikkelinge ingelig. Tambo was ook nooit opgewonde oor die Britse Kommunistiese Party met sy sentralisme nie. Gorbatsjof se simpatie met ’n vryemark-ekonomie was vir Tambo en Mbeki nie slegte nuus nie. Tot almal se groot verbasing en die kommuniste en sosialiste in die ANC se teleurstelling, gooi Gorbatsjof die Marxisties-geïnspireerde idee van ’n wêreldrevolusie op die ashoop. En, soos Thabo Mbeki dit in 1989 min of meer aan my gestel het: Toe Gorbatsjof die Brezjnjef-doktrine van ’n Oos-Europa wat permanent onder die kommunistiese sentrale beheer van Moskou sou wees, ook ashoop toe karwei, was die ANC diep in die moeilikheid met sy idee van ’n revolusionêr-militêre oorname van Suid-Afrika. ’n Onderhandelingsroete, so het Mbeki gesê, was onafwendbaar. Hoe en op watter voorwaardes, was die eintlike probleem. En, het hy gesê, ’n ander probleem was om die meerderheid van die ANC-leierskap hiervan te oortuig. Tambo en Mbeki was onder die uitgewekenes die eerste leiersfigure wat die tekens van ’n veranderende wêreld sonder Oos-Wes-kompetisie reg gelees het. Met Tambo se medewete en samewerking het Mbeki hom daarom in die jare tagtig vir ’n onderhandelde skikking begin beywer.

Die impak van die ontvriesing van die Koue Oorlog was ontgogelend vir ANC-leiers wat vas geglo het dat hulle besig was om die gewapende stryd te wen. In ’n openhartige en private gesprek het ’n senior ANC-leier my gedurende 1989 van ’n ANC-besoek aan president Gorbatsjof tydens ’n vroeëre geleentheid vertel. Joe Slovo van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party, hart en siel betrokke by die gewapende stryd, was ook teenwoordig. Gorbatsjof het die afvaardiging ingelig dat weë ondersoek moes word om met die “Afrikanerregering” in Pretoria te onderhandel met die oog op ’n skikking. Hy het glo gesê/beveel: “The killings must stop. Start talking.” Die president van die Sowjetunie het ook aan Joe Slovo gesê dat hy (Slovo) daarmee kon begin deur hom van sy Stalinistiese oortuigings te bekeer. Slovo, wat geld en wapens vir die gewapende stryd kom soek het, het volgens my segspersoon net ’n getekende foto van die Sowjet-president gekry.

Dis belangrik om die volgende in gedagte te hou: As daar in regeringskringe in die VSA en Brittanje ’n groeiende verset teen en selfs weersin in die Botha-regime was, was dit beslis nie die geval wanneer oor Suid-Afrika as sodanig, haar potensiaal en haar mense – wit, bruin, swart en Asiër – gepraat is nie. In lande soos die VSA, Brittanje, Nederland en Duitsland was daar altyd ’n merkwaardige en soms onbegryplike affiniteit met ons land en sy mense. Dit was die politieke leierskap en stelsel wat weersin ontlok het. Dié ervaring het ek ook gehad tydens my uitgebreide kontak met ANC-uitgewekenes. Rassisme is nie gesien as “wit natuur” nie, iets waarmee wit mense identifiseer bloot omdat hulle wit is nie. Op 3 Junie 1986, amper ’n jaar na die berugte Rubicon-toespraak en met noodtoestande van krag, maak ek byvoorbeeld ’n voorlegging in Washington aan The Secretary of State’s Advisory Committee on South Africa. Van die komiteelede was Vernon Jordan, Leon Sullivan, Frank Thomas, Lawrence Eagleburger en John Dellenback, ’n goeie vriend wat ek deur die Amerikaanse Fellowship Movement, ’n niekerklike organisasie wat op persoonlike netwerke fokus, leer ken het. Herbert Beukes, Suid-Afrika se ambassadeur in Washington, het aan sommige van die komiteelede die Engelse uitgawe (1979) van my boek Afskeid van Apartheid gegee. Hy het my ook dié advies gegee: “Wees eerlik. Jy verteenwoordig nie die Suid-Afrikaanse regering nie. Die komiteelede wil hoor wat jy as ’n Afrikaner dink.” Ek het sy advies gevolg.

In daardie stadium was ek reeds oortuig dat die ANC ’n vetoreg gevestig het oor alles wat die Suid-Afrikaanse regering, die sakesektor, meningsvormers en akademici voorgestel het om stuksgewyse hervorming op dreef te bring. Dié vetoreg, so het ek geredeneer, sou net opgehef kon word as die ANC as volwaardige en gelyke gespreksgenoot aan die besinning oor Suid-Afrika se toekoms kon deelneem. Die gesprek binne die komitee was een van die mees positiewe en verrykende ervarings waaraan ek gedurende 1985 en 1986 deelgeneem het. Omdat ek my sterk met simboliek identifiseer, was die datum waarop C William Kontos, die uitvoerende direkteur van die komitee, ’n besonder vriendelike bedankingsbriefie aan my geskryf het, éérs waardevol: 16 Junie 1986. Ek was hierna nog meer bewus van die politieke doodloopstraat waarin Suid-Afrika beland het.

Dinge het in die buiteland en in die binneland al moeiliker vir die PW Botha-regering geword. En ook vir daardie Afrikaners wat nie net op versoening en vrede gehoop het nie, maar ook daadwerklik iets daaraan wou doen. Dié dilemma is verhewig soos die binnelandse burgeroorlog vererger het en die poele van welwillendheid in die buiteland begin opdroog het. ’n Voorbeeld hiervan is wat in die VSA gebeur het. Pauline Baker van die Carnegie Endowment, maar met haar oog op ’n toekomstige belangrike politieke pos, skryf in 1987 ’n artikel in Foreign Policy getiteld “South Africa: Afrikaner Angst”. Baker, vir wie ek verskeie kere ontmoet het en wie se politieke invloed gegroei het, gee ’n skerp ontleding van wat in Suid-Afrika aan die gebeur was. Sy doen dit ná die verkiesing van 6 Mei 1987 waaraan die Onafhanklike Beweging ook deelgeneem het. Sy reken dat klasseverskille onder Afrikaners ’n proses van “fragmentasie” ingelui het en dat die “disintegrasie van wit solidariteit” belangrike implikasies vir die “rasse-stryd” in Suid-Afrika het. Sy meen dat die NP se dalende aansien geleenthede skep vir die anti-apartheidsbeweging om pro-onderhandelingsinisiatiewe vir ’n oorgang na ’n “ware nie-rassige demokrasie” te skep. En dat die Weste dié geleenthede moet gebruik. Dis presies wat gebeur het. Botha se Rubicon-toespraak het hiermee gehelp!

Vier ander gebeurtenisse, twee in 1986, een in 1987 en een in 1988, het ook bygedra om die proses van skikking te bevorder. Die een was die plotselinge bedanking van dr. Frederik van Zyl Slabbert as leier van die Progressiewe Federale Party (PFP) op 7 Februarie 1986. Hy bedank ook uit die parlement, ’n maand voor die Statebond se Eminent Persons Group (EPG) se besoek aan Suid-Afrika. Sy bedanking en dié van sy kollega dr. Alex Boraine, ’n gesiene PFP-parlementariër, het skokgolwe deur regerings- en opposisiekringe gestuur. Niks het myns insiens in daardie stadium die relevansie van die (wit) parlement as instelling so dramaties tot vraag gestel as dié gebeure nie. Dit het egter die moontlikheid dat Boraine en Slabbert aan die latere en onafwendbare geïnstitusionaliseerde onderhandelingsproses kon deelneem, gekelder.

In politieke en intelligensiekringe is daar mettertyd gefluister dat hulle bedanking daarop gemik was om vir hulle sleutelrolle binne die onvermydelike skikkingsproses voor te berei, verkieslik op versoek van die ANC. Nóg die parlementêre partye nóg die ANC het egter aan dié moontlikheid ernstige aandag gegee. Thabo Mbeki het op ’n keer vir my gesê dat hulle dalk op ’n konsultasiebasis gebruik kon word. Hy het daaraan toegevoeg: “Dis tog duidelik dat die eintlike bedinging en onderhandeling tussen die NP en die ANC sal moet plaasvind.” Slabbert se boek The Last White Parliament (1985) het in ’n bepaalde opsig sy besluit voorberei. Of die parlementariërs van destyds, waaronder sy eie partygenote, sy boek goed verstaan het, is te betwyfel. Die “wit parlement” het uiteindelik ’n deurslaggewende rol in die skikkingsproses gespeel. Dit is so dat dit moeilik is om politieke leierskap sónder sterk ondersteunende instellings en stewige netwerke uit te oefen. Idasa kon nie eintlik so ’n instelling of netwerk wees nie.

Die jaar 1986 was egter om ’n ander rede van groot deurslaggewende belang: Die mislukte besoek van die Eminent Persons Group van die Statebond aan Suid-Afrika tussen 2 Maart en 19 Mei. Die besoek is gesteun deur die 49 lidlande. Malcolm Fraser, ’n voormalige Australiese eerste minister, en generaal Olusegun Obasanjo, ’n gewese militêre staatshoof van Nigerië wat sy mag vrywillig aan ’n burgerlike regering oorgegee het, was die medevoorsitters. Ek was bevoorreg om sommige van die lede te ontmoet en onder andere met generaal Obasanjo gesprek te kon voer. Hy het ook met Nelson Mandela in die Pollsmoor-gevangenis gepraat. Van die ander lede is ook later toegelaat om dit te doen. Verwagtings het weer eens met die EPG se besoek opgevlam vir die moontlikheid van ’n onderhandelde skikking. Die groep het hieroor ’n werksdokument opgestel wat die elemente bevat het van ’n internasionale konsensus, deeglik en met toegewyde ywer deur veral Thabo Mbeki georkestreer. Margaret Thatcher, wat vir baie lank die swaard van erge sanksies probeer keer het, moes uiteindelik ook voor dié konsensus swig. Die onvoorwaardelike vrylating van Mandela en ander politieke gevangenes, en die prysgawe van die voorwaarde dat Mandela en die ANC eers die gebruik van geweld om politieke doelwitte te bereik moes afsweer, is onder meer in dié konsensus as kriteria gevestig om ’n skikkingsproses aan die gang te kry. Thatcher was veral ten gunste van die voorwaarde dat die ANC eers geweld moes afsweer omdat sy die ANC met die Ierse Republikeinse Leër en die Palestynse Bevrydingsorganisasie gelyk gestel het.

Die Botha-kabinet het die EPG-delegasie aanvanklik hoop gegee. ’n Dokument, met die sanksie van die Botha-kabinet, is op ’n vergadering van die kabinet met die EPG beskikbaar gestel. Daarin is gesê: “It is the conviction of the Government that any future constitutional dispensation providing for participation by all South African citizens should be the result of negotiations with the leaders of all communities … The only condition is that those who participate in the discussions and negotiations should foreswear violence as a means of achieving political objectives” (Mission to South Africa 1986:80). PW Botha het waarskynlik aanvaar dat die ANC dit nooit sou doen nie.

Op 19 Mei 1986 gebeur daar iets wat met koeëls en bomme sê wie steeds die politieke kitaar in Suid-Afrika slaan: Die Suid-Afrikaanse Weermag, met Magnus Malan as minister, “teiken” op bruuske wyse “die vyand” (die ANC) in Botswana, Zimbabwe en Zambië. En die EPG was in die land, besig met die opstel van sy verslag! Dié drie soewereine lande was natuurlik lede van die Statebond. Om growwe sout in dit alles in te vryf, blyk dit dat president PW Botha die aanval goedgekeur het. Sy minister van buitelandse sake, Pik Botha, wat die EPG bygestaan het en ook gehelp het om die vlam van hoop aan te blaas, is nie vooraf oor die inval ingelig nie. Dit was politieke sinisme op sy brutale grofste, al wou Botha en Malan dalk daarmee die soewereiniteit van Suid-Afrika in ’n moontlike skikkingsproses onderstreep het. Dalk ook nie vreemd nie. Die noue samewerking tussen Suid-Afrika en Israel, ook militêr, het waarskynlik dié sinisme bevorder. Daar was ook iets anders: die binnegevegte tussen faksies binne die regering. Pik Botha en sy senior amptenare het gehoop op ’n politieke deurbraak in die rigting van ’n onderhandelde skikking. Die sekurokrate, en veral Militêre Inligting wat PW Botha se oor in daardie stadium gehad het, was nie entoesiasties nie. Daar was ook ’n magstryd tussen Pik Botha en van die ander kabinetslede, soos Chris Heunis (Grondwetlike Sake) en Magnus Malan (Verdediging). Veral Heunis het sy eie leierskapsdrome gehad en het naby PW Botha probeer bly.

Die EPG, stert tussen die bene, pak sy koffers en verkas onverrigtersake. Die “ystervuis”, en nie dialoog en gesprek nie, het nogmaals geregeer. ’n Goeie kennis na aan die kabinet het my verseker: “Ons moet eers die vyand sag maak voordat ons kan praat. Die SAW is ons belangrikste troefkaart. En ons kan nie buitelandse inmenging toelaat nie.” Die EPG se inisiatief was egter nie ’n totaal verlore saak nie. Waar Margaret Thatcher in Oktober 1985 by die Statebondskonferensie in Nassau redelik onverbiddelik in haar standpunt teen verpligte sanksies was, het Brittanje in Augustus 1986, saam met die ander Statebondslande, sanksievoorstelle aanvaar. Om dit ietwat sinies te stel: PW Botha en Magnus Malan het haar geen keuse gelaat nie. Trouens, Thabo Mbeki het aan my gesê dat “Magnus se inval” tragies was, maar ook politieke manna uit die hemel. Thatcher het by die Statebondskonferensie (in Augustus 1986) selfs na PW Botha se “obstinacy” verwys, die feit dat Nelson Mandela nog steeds in die tronk was en dat, in die lig van die “fiasko” met die EPG, daar géén vooruitsig op ’n vreedsame politieke dialoog tussen die Suid-Afrikaanse regering en verteenwoordigers van die swart bevolking was nie. Sy was moedeloos. Soos Robin Renwick, die Britse ambassadeur in Suid-Afrika en iemand wat invloed by Thatcher gehad het, dit op ’n keer aan my gestel het: “Thatcher hou nie van onaangename verrassings nie. Die Botha-regering spesialiseer daarin.”

In Augustus 1986, toe Thatcher haar persoonlike frustrasie en moedeloosheid oor die situasie in Suid-Afrika die eerste keer in die openbaar duidelik gestel het, was PW Botha ook in een van sy tipies veglustige buie. Tydens ’n vergadering van sy partygenote en ondersteuners was hy, soos iemand wat by die byeenkoms was dit kort en kragtig gestel het, “moerig”. Hy spreek immers ’n byeenkoms van sy party toe. Fel gekant teen buitelandse inmenging in Suid-Afrika se binnelandse beleid, en hy was hieroor altyd adamant, waarsku hy die wêreld: “Moenie ons onderskat nie.” Getrou aan die militêre faset van sy persoonlikheid, roep hy dramaties en met groot steun van sy partygenote uit: “Ons is nie ’n volk van jellievisse nie!” Hy kon nie ’n beter beeld teenoor sy ondersteuners gebruik het nie. Dis trouens die een karaktertrek van Botha wat ek baie gou leer ken het: Hy het wat volgens hom tekens van swakheid was, gehaat. Hy kón daarom nie meer begrypend op buitelandse druk reageer nie. Dit sou ’n teken van swakheid wees. Dié karaktertrek verduidelik ook sy Rubicon-toespraak. Dis wel so dat die EPG se voorgestelde roetekaart (1986) die groeiende internasionale konsensus oor ’n skikking beïnvloed het. Trouens, tydens die nie-amptelike gesprekke later tussen die Afrikaner-kontakgroep en uitgeweke ANC-leiers in Brittanje het die EPG se inisiatief telkens opgeduik.

Die derde gebeurtenis waarna verwys moet word, het in 1987 plaasgevind: die begin van die Onafhanklike Beweging. Die aanloop hiertoe het vir die regerende magselite en sy stutorganisasies, soos die Afrikaner Broederbond en die Afrikaanse kerke, gevolge gehad wat nog nie na waarde geskat is nie. Dit was polities net so betekenisvol, indien nie meer nie, as die Dakar-konferensie (Julie 1987), want dit was ’n rebellie vanuit die hart van die Afrikanerdom én sy instellings. ’n Opstand téén die leierskap. Dié rebellie word ook gereflekteer in die artikel van Pauline Baker waarna reeds verwys is. Dis nou maar eenmaal so dat rebelle van binne méér politieke gewig as kritici van buite dra. Die interne rebellie het ’n lang aanloop gehad. Dit was aanvanklik hoofsaaklik ’n Stellenbosse rebellie, wat ’n politieke voordeel gehad het. Die beeld van die Universiteit van Stellenbosch was binne Suid-Afrika, en ook in sekere Westerse lande, iets waaroor baie gepraat is, al was dit soms in afwysende en ook ambivalente terme. Wat op Stellenbosch gebeur het, was dalk nie altyd opspraakwekkende akademies-wetenskaplike nuus nie. Dit was egter áltyd opspraakwekkende politieke nuus. Internasionale joernaliste het ’n stofpaadjie na Stellenbosch uitgetrap.

Ek en Sampie Terreblanche het reeds in Februarie 1985 op Botha se versoek ’n ontmoeting met hom gehad. HW van der Merwe, ’n professor aan die Universiteit van Kaapstad wat noue bande met Winnie Mandela en die ANC gehad het, het ons genooi om Thabo Mbeki in Lusaka te ontmoet. Dit was na aanleiding van ’n artikel van Terreblanche in die Sunday Times. Botha het nie gesê hoe hy van die uitnodiging gehoor het nie. Hy het ons vriendelik dog dringend versoek om nie die uitnodiging te aanvaar nie: “Ons praat nie met moordenaars nie,” het hy gesê. Ons het aan sy versoek voldoen. Toe ons uit die gebou stap, sê Terreblanche: “As ons dit nie gedoen het nie, sou PW ons sweerlik by die venster op die agtiende verdieping uitgegooi het.” Ek het toe besef hoe belangrik Botha, iemand wat as Kaapse leier sy opmars na die hoogste politieke pos begin het, sy “Stellenbosse konneksie” geag het, en dat dit die een of ander tyd ’n bemiddelingskaart kon word. Daarom was hy selfs teenoor die uitgesproke Terreblanche baie meer versigtig as teenoor ander kritici.

Dinge kom hierna vinnig tot ’n punt. In Oktober 1985, ná Botha se Rubicon-toespraak en kort voor Mandela in die Volkshospitaal opgeneem is, stig Terreblanche en ’n paar kollegas van die US, waaronder ek self, Besprekingsgroep ’85. Dit word ’n beitel wat die hart van die Botha-regime verwond. Dis in dié tyd, ná Mandela se hospitalisasie, dat Kobie Coetsee, minister van justisie, polisie en gevangenisse, met hom begin praat. Daar is by my min twyfel dat die moontlikheid dat Mandela in gevangenskap kon sterf, vir Kobie Coetsee en ander skielik ’n kommerwekkende probleem geword het. ’n Memorandum deur die gespreksgroep, voorberei deur die Stellenbosse filosoof Anton van Niekerk, oor die verslegtende toestande in die land, word op 28 Januarie 1986 aan Terreblanche se goeie vriend minister Chris Heunis oorhandig. Dit handel oor vier “konseptuele blokkades” vir ’n betekenisvolle hervormings- en onderhandelingsproses. “Magsdeling” was wel in daardie stadium nog die sleutelwoord. Die eerste blokkade was dat die buiteland ons in die steek gelaat het. Sónder die buiteland was dit nag vir Suid-Afrika. Tweedens, ’n onderhandelde skikking met swart mense in Suid-Afrika kon nie die ANC uitsluit nie. Nie alle swart mense was ten gunste van geweld nie. Derdens, die Suid-Afrikaanse regering se probleme was regstreeks herleibaar tot sy storie oor die “totale aanslag”, georkestreer deur Moskou. En vierdens, die Groepsgebiedewet en ander maatreëls moes waai. Die memorandum stel dit onomwonde: “Daar moet binne die volgende ses maande duidelikheid kom oor die regering se voorneme om van apartheid in al sy gestaltes ontslae te raak … of geweld, onluste en ekonomiese druk gaan afmetings begin aanneem wat ons bestaan veel meer sal bedreig as wat hoegenaamd voorsien kan word.” Die politieke teerling was gewerp.

Heunis broei baie maande oor die memorandum. Hy lig Terreblanche uiteindelik in dat hy die memorandum met Botha bespreek het. Botha, saam met Heunis, ontmoet 28 van die rebelle op 20 Februarie 1987 in Tuynhuys. Ses van die rebelle tree as segspersone op. Botha spreek die groep hierna langer as ’n uur toe. Daarna probeer hy die vergadering met sy “laaste woorde” beëindig. Chaos breek toe uit, met Terreblanche en Botha wat op mekaar begin skreeu. Ek gryp in en sê ek is nou die voorsitter. Botha, verbaas, sê: “Dis my kantoor hierdie. Ek is hier die baas.” Die groot breuk wat lank gedreig het om plaas te vind, gebeur op dié dag. Terreblanche bedank uit die NP. Ander volg hom. Op 8 Maart reik die besprekingsgroep ’n verklaring uit wat die inhoud van die memorandum openbaar maak. Dit maak internasionale opslae. NP-magshegemonie begin verbrokkel. In Lusaka is hiervan meer kennis geneem as van enige iets anders. Hoop op ’n onderhandelde skikking het opgevlam. Ook in Pollsmoor, waar Mandela toe reeds met Kobie Coetsee in gesprek was.

Daar was ten tyde van die haastige vertrek van die EPG reeds ’n skrif in bloed aan die muur: Angola en Suidwes-Afrika (Namibië). Daar was Swapo en die Kubane “die vyand”. Daar was ook ANC-kampe in Angola gevestig. Suid-Afrika het Unita, die opposisie van die mpla, die versetbeweging in Angola, en Swapo, die versetbeweging in Suidwes-Afrika (Namibië), gesteun. Jonas Savimbi was die leier en ’n persoonlike vriend van PW Botha. Trouens, by Botha se inhuldiging as president van Suid-Afrika in die Groote Kerk in Kaapstad (op 14 September 1984) was Savimbi ’n eregas. Die Totale Aanslag, en die SAW se Totale Strategie, was in Angola en Namibië sigbaar op die voordeur van ons land. En ook in kombuise, voorhuise en slaapkamers van diegene wie se jong seuns opgeroep is om die Totale Strategie uit te voer. Of, soos ’n NP-parlementariër en goeie vriend dit driftig aan my gestel het: “Om die kommuniste van ons grense weg te hou.” Die meeste Afrikaners het dit ook geglo. Min kwessies het op Suid-Afrika se interne politiek, veral vanaf 1988, so ’n impak as die Angola-Namibië-kwessie gehad.

Op uitnodiging van die SAW kon ek self, saam met ’n klompie vriende uit die Stellenbosch-omgewing, die “operasionele gebied” besoek. Ons was hoofsaaklik in die noorde van Namibië. Daar het ons onder meer die dinamiese generaal Jannie Geldenhuys ontmoet. Ons was ook by die basis Omega – om te sien “wat die Weermag vir die Boesmans doen” – en ’n paar ander plekke. Ons het almal na Stellenbosch teruggekeer met dié oortuiging: “Die SAW veg vir ’n goeie saak.” Self dink ek nou dat die stryd om die behoud van die apartheidstaat onder meer weens die oorlog in Angola verloor is. Tesame, natuurlik, weens Suid-Afrika se steun aan die Demokratiese Turnhalle Alliansie (dta) tydens die verkiesing in 1989, aan Renamo in Mosambiek en aan biskop Abel Muzorewa in Zimbabwe. Dié en ander aksies om “die vyand” (die ANC) buite die grense van ons land te hou en “die vyande” wat reeds binne die landsgrense was aan bande te lê en selfs te vermoor, het die “ou” Suid-Afrika finansieel en moreel geknou. Oor dié kwessie sal daar wel in Afrikanergeledere nog lank ernstige meningsverskille wees. Daar is baie Afrikaners wat nog vas glo dat die oorlog in Angola tyd gekoop het vir ’n onderhandelde skikking in Suid-Afrika, myns insiens ’n regverdiging agterna en ’n vorm van retrospektiewe mitologisering.

* * *

Ek het Chester Crocker, later die VSA se assistentminister van Afrikasake, die eerste keer ontmoet by die Georgetown-universiteit in Washington, waar hy navorsing gedoen en lesings gegee het. Hy was ’n vriend van Tertius Myburgh, destyds redakteur van die Sunday Times. Ek en Myburgh het oor talle sake saamgewerk, onder meer vanweë ons betrokkenheid by die United States South Africa Leadership Programme (Ussalep), wat ’n kantoor in Washington gehad het. Voor sy aanstelling as assistentminister van Afrikasake in die Reagan-administrasie het Crocker Suid-Afrika besoek. Saam met Myburgh het ons ’n lang, indringende vertroulike gesprek gevoer oor sy (Crocker) se beleidsposisie ten opsigte van Suid-Afrika en ook die res van Afrika: Constructive Engagement. Ek en Myburgh was baie opgewonde daaroor. Crocker het mettertyd intensief by die konflik tussen Suid-Afrika en Namibië-Angola betrokke geraak, namate veral die Kubane op die voorgrond getree het. Hier en daar is daar selfs in veral burgermagkringe gefluister dat Angola Suid-Afrika se Viëtnam kon word, sou daar te ver en te diep binnegedring word. Daar was ook nie altyd harmonie en eensgesindheid tussen lede van die Burgermag en die Staande Mag, soos wat graag beweer word nie.

Crocker was ten gunste van ’n onderhandelde skikking in Namibië-Angola. Hy was ook oortuig dat so ’n skikking die weg sou voorberei vir ’n onderhandelde skikking in Suid-Afrika. Botha se Rubicon-toespraak en die suksesvolle sanksieveldtog in die VSA teen Suid-Afrika het in elk geval ’n groot politieke kopseer vir die Reagan-administrasie veroorsaak. In die VSA, met sy swart bevolkingskomponent en Demokratiese Party, was ANC-leiers welkome gassprekers by talle byeenkomste. Die ANC, met Tambo en Mbeki op die voorpunt, het ná Botha se Rubicon-toespraak die diplomatieke oorlog teen Suid-Afrika in die VSA loshande gewen. Vroeg in 1987 was Tambo byvoorbeeld in die VSA, waar hy talle gesprekke gevoer het, onder andere met Henry Kissinger, voorheen die VSA se minister van buitelandse sake. Regses in die VSA was oor Crocker se standpunt in opstand en het Suid-Afrika se “vriende” geword. Op Vrydag, 7 Desember 1984 trek die National Coalition of Americans Committed to Rescuing Africa from the Grip of Soviet Tyranny teen Crocker los deur ’n soort ope brief: “Why is Chester Crocker trying to sell 20 million black Africans into communist slavery?” Dit het die mite van die Totale Aanslag soos ’n handskoen gepas. En ook die verwyt aan Ronald Reagan dat hy, toe hy sy nominasie vir ’n tweede termyn as president aanvaar het (in Augustus 1984), gesê het: “Since January 20, 1981, not one inch of soil has fallen to the communists.”

PW Botha, wat van my kontak met Crocker geweet het, vra my in 1988 om hom oor ’n paar sake te kom spreek. Hy was tydens my besoek vriendelik en teen die einde van ons gesprek op die punt af: “Jy en Crocker ken mekaar. Ek hou niks van die man nie en vertrou hom nie. Sê vir hom ons sal oor die konflik in Namibië en Angola verder moet praat; daar is ’n paar voorwaardes waaroor ons eers moet ooreenkom. Suid-Afrika en die SAW moet met waardigheid kan onttrek. Daar is ook kostes waarna gekyk moet word.” En toe, as ’n nagedagte: “Ek hou nie van die idee van lewensverlies en verminking van my jong manne nie. Die oorlog word te duur.” Die voorbereidingsprosesse vir ’n skikking was toe al goed op dreef en Botha was bewus van wat aan die kom was. Die gesprek met hom was een van die geleenthede waar Botha sy menslike gesig gewys het. Crocker het ook nie van Botha gehou nie. Hy was van mening dat “xenofobiese woede” meermale by Botha voorgekom het. Veral in kritieke situasies. Dan het Botha redelikheid en doodgewone praktiese werklikhede van die tafel af gevee. Persoonlik het ek altyd gedink dat Botha, omdat hy aan mag verslaaf was, maar tog aan moraliteit ’n plek wou gee, ’n ambivalente persoonlikheid was. Sy politieke en morele sensitiwiteite was voortdurend in konflik met mekaar en, soos sy voorganger, BJ Vorster, kon hy dit nie hanteer nie. Sy opvolger, FW de Klerk, het dit beter hanteer. Dis vermoedelik die rede waarom Botha hom ná sy uittrede aan ’n fundamentalistiese verstaan van die Bybel oorgegee het.

Ek het vanaf die begin van 1988 baie oor die konflik in Angola-Namibië vanuit die gesigspunt van die ANC gehoor. Dit het my baie gou tot die besef gebring dat die skikking van dié konflik ’n voorwoord vir die beslegting van die burgeroorlog in Suid-Afrika sou wees. En, terwyl eersgenoemde konflik géén militêre oplossing gehad het nie, het die tweede dit selfs nog mínder gehad. Ek en Thabo Mbeki was dit hieroor van meet af aan eens. Min datums in ons geskiedenis was myns insiens so belangrik soos 22 Desember 1988, enkele dae voor Kersfees. Toe word die trilaterale ooreenkoms tussen Suid-Afrika, Kuba en Angola onderteken. ’n Uitmergelende en duur oorlog was verby. Generaal Jannie Geldenhuys, Niel Barnard en Neil van Heerden (buitelandse sake) was deurslaggewende vredesmakelaars. In 1989 lei die Namibiese onderhandelingsproses tot ’n inklusiewe verkiesing en in Maart 1990 is Swapo in Windhoek aan bewind.

Ná Botha se Rubicon-toespraak het die Botha-regering ál dieper in die moeilikheid gesink. Sleutelmeningsvormers het hulle ondersteuning van die idee van hervorming van binne af prysgegee. Ander het hulle entoesiasme vir dié strategie verloor en liewer stilgebly. Soos iemand uit NP-geledere dit in 1988 gestel het: “Intellektuele bankrotskap het by die NP ingetree. Al wat oorgebly het, was die gebruik van magsmiddele.” Later sou blyk dat morele bankrotskap ook ingetree het. Elemente van die staat is in moordmasjiene omskep. Die Botha-regime en sy veiligheidsmagte het hulle hande vol gehad met erge binnelandse burgerlike verset onder die meerderheid van die bevolking in ons land. ’n Interne erosieproses het ná PW Botha se Rubicon-toespraak ingetree. Dit het versnel namate buitelandse druk en binnelandse buiteparlementêre verset verhewig het. Die veiligheidsmagte was nie werklik in beheer nie, ondanks bombastiese versekerings. Die afgekondigde noodtoestande was hiervan die bewys. Soos Franklin Sonn dit in 1988 aan my gestel het: “’n Regering wat deur middel van noodtoestande regeer, is ’n regering in ernstige nood. Dis ’n kwessie van tyd. Apartheid staan reeds op die rand van sy graf.” Self het ek dié erosie sedert 1985 van baie naby ervaar vanweë my betrokkenheid by die Stedelike Stigting.

Eindstryd

Подняться наверх