Читать книгу Eindstryd - Willie Esterhuyse - Страница 7

3

Оглавление

Hospitaalbesoeke en geheime ontmoetings: Mandela, Coetsee en Barnard

Dis een van die groot historiese ironieë van Suid-Afrika se oorgangsproses na ’n inklusiewe demokrasie: Die vurige en charismatiese Winnie Mandela, toe nog die vrou van die politieke gevangene Nelson Mandela, gooi ’n tou uit na die NP-minister Kobie Coetsee, ’n gebeurtenis wat uiteindelik sou lei tot Mandela se ontmoeting met Botha in Tuynhuys, Kaapstad, op 5 Julie 1989. Dis onwaarskynlik dat sy self gehoop het so iets sou gebeur. Dit was eerder ’n geval van die altyd selfversekerde Winnie Mandela wat haar deur niks en niemand laat intimideer het nie. Kobie Coetsee móés haar aanhoor. Sy was immers Nelson Mandela se vrou, na die Vrystaat verban en boonop bevriend met (wit) kennisse van Coetsee. ’n Paar dae ná haar man se tweede hospitalisasie weens tuberkulose (op 12 Augustus 1988) loop ek haar op die destydse DF Malan-lughawe, tans die Internasionale Lughawe van Kaapstad, raak. Haar prokureur, Ismail Ayob, was ook in haar groep. Ek was by dié geleentheid op pad na Brittanje vir samesprekings met Thabo Mbeki en sy groep. Sonder om twee keer te dink, stap ek nader. Ons groet. ’n Horde fotograwe en joernaliste storm terselfdertyd op haar af om foto’s te neem en vrae te vra. Ek vlug haastig. Dit was nie ’n foto waarop ek wou verskyn het nie.

Nelson Mandela, toe 67 jaar oud, is in November 1985 in die Volkshospitaal in Kaapstad opgeneem vir ’n prostaatoperasie. Die Volks, soos dit genoem is, is deur die NG Kerk begin en in 1930 geopen. Dr. DF Malan, ’n eertydse dominee, later eerste minister van Suid-Afrika en een van apartheid se vaders, het die openingsrede gehou en onder meer gesê: “Dis geen plaaslike inrigting nie. Dit behoort aan die hele volk. Dis nie alleen maar ’n hospitaal nie. Dit is ’n volkshospitaal.” In 1981 moes die Kaapse Provinsiale Administrasie die hospitaal oorneem en in 1998 het Medi-Clinic die nuwe eienaar geword. ’n Interessante anekdote wat baie van die mens Mandela vertel, is wat tydens ’n besoek van George Bizos, Mandela se senior regsverteenwoordiger, aan hom in die hospitaal gebeur het. Die verpleegsters was Afrikaans en hulle moes gereeld die verbande omruil. In ’n stadium knip Mandela die gesprek met Bizos kort: Die verpleegsters moet hulle werk kan doen sodat hulle huis toe na hulle families kan gaan.

Winnie Mandela, op pad om haar man in die hospitaal te gaan besoek, was op dieselfde vliegtuig as Kobie Coetsee, wat by Jimmy Kruger as minister van justisie, polisie en gevangenisse oorgeneem het (in Oktober 1980). Dit was Jimmy Kruger wat oor die marteldood van Steve Biko, dinamiese leier van die Swartbewussynsbeweging, in 1977 gesê het dat Biko se dood hom “koud laat”. Dié uitspraak was soos ’n kanonskoot in die harte van baie Afrikaners wat die NP gesteun het, maar ’n groeiende gewetensonrus begin ervaar het oor die magswellus van hulle leiers. Kruger verban Winnie Mandela in 1977 na ’n klein dorpie, Brandfort, in die Vrystaat, ongeveer 60 kilometer vanaf Bloemfontein. Hy wou haar wegkry uit Soweto, wat in 1976 ontplof het, maar haar ook nie te ver van die wakende oë van die veiligheidspolisie hê nie. Sy kon op Brandfort beter as in Soweto dopgehou word. Die polisiestasie in Brandfort het toe ook ’n simboliese adres vir Afrikaners gehad: Voortrekkerstraat. Simbolies, maar met ’n goeie dosis galgehumor, was die naam van die swart woonbuurt waar haar nuwe tuiste – sonder lopende water – geleë was: Phathakahle. Dié woord beteken iets soos “hanteer versigtig”, en dit het met Winnie Mandela daar nuwe politieke betekenis gekry. Dis vanaf dié dorpie dat sy, met natuurlik die toestemming van die owerheid, die tog na die Volkshospitaal aanpak.

Coetsee, wat op 19 April 1931 op Ladybrand, ’n klein dorpie in die destydse Oranje-Vrystaat, gebore is, het regte aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat in Bloemfontein gestudeer. In 1968 word hy die NP-parlementslid vir Bloemfontein-Wes, die setel wat vakant geword het toe Jim Fouché as staatspresident aangewys is. PW Botha het Coetsee in 1978 as adjunkminister van verdediging en nasionale intelligensie aangestel. Hy word uiteindelik minister van justisie. Gevangenisse is later bygevoeg. In 1985 word hy tot die leier van die NP in die ovs verkies. Dis betekenisvol om daarop te let dat Coetsee ná die eerste demokratiese verkiesing in 1994 verkies is tot president van wat toe nog die Senaat genoem is, met die steun van die ANC. Hy sterf aan ’n hartaanval in 2000. Mandela het baie hoë waardering vir hom gehad.

In die vliegtuig op pad Kaapstad toe, stap Winnie Mandela na Coetsee en gaan langs hom sit. En sy praat soos net sy kan praat. Jimmy Kruger het nie daarin kon slaag om haar te demoraliseer nie. ’n Belangrike faktor het die gesprek vergemaklik, ’n faktor wat ook op die lang bemiddelings- en onderhandelingspad na die verkiesing in 1994 ’n groot rol gespeel het: die werking van persoonlike verhoudinge en die ervarings van gemeenskaplike Suid-Afrikanerskap. Aziz Pahad het dit baie raak gestel toe hy in Oktober 1987, tydens ons eerste ontmoeting, gepraat het van ons “common destiny and common country”. Coetsee was ook nie ’n Jimmy Kruger nie, maar ’n sensitiewe mens, ondanks sy sterk wil en ego wat soms te opsigtelik was. Kruger se verbanning van Winnie Mandela na Brandfort het “gelukkige onbedoelde gevolge” (felix culpa) gehad. Die enigste prokureur op die dorp, Pieter de Waal, en sy vrou Adéle, (’n nooi Retief), leer Winnie Mandela goed ken en ’n besondere vriendskapsverhouding ontwikkel. De Waal het ook vir Coetsee geken. Adéle de Waal kon ongelukkig nie in die vreugde deel van die eerste werklik demokratiese verkiesing (1994) ná haar en haar man se bydrae om verhoudings heel te maak nie. Sy sterf in 1990 in ’n motorongeluk.

Dis ’n stukkie geskiedenis wat illustreer wat die positiewe en grensoorskrydende rol van persoonlike verhoudings, vertroue en selfversekerdheid, wedersydse respek en nie-amptelike of private interaksie binne ’n groter politieke prentjie kan wees. Op Brandfort is dit bewys deur die verhouding tussen Kobie Coetsee en Pieter de Waal, die prokureur op die dorp, en die verhouding tussen Adéle de Waal en Winnie Mandela. Pieter de Waal en Kobie Coetsee het mekaar sedert hulle universiteitsdae in Bloemfontein persoonlik geken. Hulle het saam tennis gespeel. De Waal het dus toegang tot Coetsee gehad. As daar een ding is wat ek in hierdie periode van ons geskiedenis geleer het, soms op ’n harde wyse, is dit dat jy sonder toegang uit is. Toegang is in alle samelewings informeel én formeel. Die sakewêreld is hiervan ’n skoolvoorbeeld, soos die woord kontakte dit veronderstel. Dikwels neem die formele vorme van toegang tot amptelike kommunikasiekanale, bevoegdheidsfere, gemagtigde persone en afspraakboeke langer. Dit val selfs vas in burokratiese rompslomp wat as vertragings- en uitsluitingstegniek gebruik word. Informele toegang is dikwels meer doeltreffend en veral tydbesparend. Dit word deur rolspelers se netwerke bepaal.

De Waal spring dwarsoor al die formele hekwagters en praat regstreeks met Coetsee – vóór hy Kruger opgevolg het en ook nádat hy minister geword het. De Waal het ook vir Kruger ’n brief geskryf om te sê dat Winnie Mandela meer probleme op Brandfort veroorsaak as dié wat Kruger wou oplos. Die De Waal-familie was ongelukkig oor die omstandighede waarin Winnie Mandela moes woon. Hulle het dit vir haar so maklik as moontlik probeer maak deur byvoorbeeld hulle huis beskikbaar te stel aan gaste uit die buiteland wat sy toegelaat is om te woord te staan. Sy het soms ook hulle huistelefoon gebruik. Adéle de Waal het by geleentheid vir groot konsternasie gesorg toe sy Winnie vinnig in die township moes gaan aflaai sodat dié betyds kon wees vir haar inperkingsvoorwaardes. Adéle de Waal en haar vriendin het hulle vasgeloop teen ’n oorywerige polisieman, Gert Prinsloo, wat met die woord “arresteer” geïndoktrineer was. Pieter de Waal se reaksie hierop, en sy voorneme om die minister te skakel, het dié plofbare situasie ontlont. Die persoon wat die minister geken het, het meer invloed as ’n polisieman gehad.

Dis ná die gesprek in die vliegtuig dat Coetsee besluit om Nelson Mandela in die hospitaal te gaan besoek. Daar is ’n belangrike agtergrond tot dié besoek benewens die gesprek: Die ANC het vir ongeveer ’n halwe eeu nie geweld as ’n middel om politieke doelwitte te bereik onderskryf nie. Dialoog en onderhandeling was eerder die wagwoorde. Selfs toe Nelson Mandela en ’n paar ander nuwegenerasie-leiers die ANC se jeugvleuel gestig het en van ou hout ontslae geraak het, het dié militantheid hulle nie onmiddellik na wapens laat gryp nie. ’n Drastiese verandering tree in 1961 in. Nog voor Suid-Afrika ’n republiek buite die Statebond geword het, en met die bloedige Sharpeville vars in die geheue, skryf Mandela aan Hendrik Verwoerd, die destydse eerste minister, ’n brief. Hy stel ’n Nasionale Konvensie voor met as oogmerk die skryf van ’n nuwe, nie-rassige en demokratiese grondwet. Hy kry geen reaksie nie. Die ANC se dekades lange beleid van niegewelddadige optrede het hierna tot ’n einde gekom. Umkhonto weSizwe (MK) word gestig. Mandela het later erken hy het nooit gedink die ANC se gewapende stryd sou die apartheidstaat omverwerp nie. Dit het natuurlik wel die apartheidstaat onder groot druk geplaas.

Mandela self, soos ook Tambo en Mbeki, was altyd op ’n gekwalifiseerde wyse ten gunste van dialoog. Hulle het sterk in die tradisie gestaan van die Vryheidsmanifes (“Freedom Charter”) wat in 1955 by Kliptown aanvaar is. In die Afrikaner-ANC-gesprekke het die ANC-deelnemers, en veral Thabo Mbeki, gereeld daarvan gewag gemaak dat die manifes in ’n pro-onderhandelingsfilosofie gedoop was en dat dit die kontoere vir ’n gesprek oor die verwagtings en regte van swart mense uitgespel het. Vir Mbeki was die Vryheidsmanifes ongetwyfeld sy politieke en intellektuele verwysingspunt, sy primêre teks en grondliggende toekomsvisie. Dis die rede waarom hy hom ook binne die ANC met sy toenemende militantheid en revolusionêre magsdrome kon handhaaf. Niemand het dit durf waag om die Vryheidsmanifes te bevraagteken of te verontagsaam nie. Mbeki was in die vertolking van die manifes die militantes se meerdere.1

Daar het gedurende die sestigerjare ’n belangrike verskuiwing plaasgevind toe die idee van ’n gewapende stryd en ’n militêre oorname van die Suid-Afrikaanse staat prominent geword het. Dié prominensie, en die verwagtings van die ANC se militêre vleuel, is veral deur die destydse Sowjetunie die hoogte in gejaag. Die buitelandse vleuel van die ANC het finansieel, militêr en polities hoogs afhanklik van Moskou en sy meelopers geword. Dit is ingesuig in die Oos-Wes-konflik én in die ideologiese drome van Moskou. Die Vryheidsmanifes se beklemtoning van die idee van nasionalisering was natuurlik in dié kringe ’n bron van inspirasie. Mandela, wat in 1963 in hegtenis geneem is en in 1964 tydens die Rivonia-verhoor tot lewenslange gevangenisstraf veroordeel is, was vir baie jare op Robbeneiland ingehok. Hy was nie ’n kommunis en ’n aanhanger van Moskou se ideologiese drome nie. Dit was eerder ’n geval van “my vyand se vyand is my bondgenoot”. In sy sel en in die groewe van Robbeneiland het hy nie sy lot gesit en bekla nie. Hy het oor die toekoms gedink en gedroom. In Maart 1982 vind daar ’n groot verbetering in sy omstandighede plaas. Hy, Walter Sisulu, Ahmed Kathrada, Raymond Mhlaba en Andrew Mlangeni word na Pollsmoor verskuif. Op die derde verdieping daar is hulle in meer beskaafde omstandighede as op Robbeneiland aangehou. Daar was selfs beddens met lakens. En ook handdoeke. Hulle kon soms ook buitelandse besoekers ontvang. Kobie Coetsee was toe die minister verantwoordelik vir gevangenisse. Hy was ’n Botha-aanstelling. Dit was ook Botha wat Kruger uit sy kabinet uitgelaat het.

Mandela se herinnering aan hierdie verskuiwing is besonder roerend. “’n Mens kan aan enige iets gewoond raak en ek het aan Robbeneiland gewoond geraak. Ek het byna twee dekades lank daar gewoon. En al was dit nie my tuiste nie – my huis was in Johannesburg – het dit ’n plek geword waar ek gemaklik gevoel het. Ek het verandering altyd moeilik gevind … Ek het nie die vaagste benul gehad waarna om uit te sien nie.” Dié verskuiwing na Pollsmoor was uiteindelik van groot politieke belang – al het die regering daarmee ander oogmerke nagestreef, soos onder meer die verbreking van die wêreldwye verbintenis van die naam Mandela met Robbeneiland met sy kragtige politieke simboliek.

Dis vanaf Pollsmoor dat Mandela na die Volkshospitaal geneem is waar hy geopereer en versorg is. Paul Cluver, destyds ’n bekende Kaapse neurochirurg en vandag ’n gesiene wynboer, het breinoperasies in die Volkshospitaal uitgevoer. Hy vertel dat toe hy op ’n dag by die teatergedeelte van die hospitaal opdaag, alles afgesper was. Daar was ’n ietwat vae verduideliking dat noodsaaklike herstelwerk gedoen moes word. Hy is eers later oor die eintlike rede ingelig. Geheimhouding was in daardie stadium ’n kwessie van nasionale veiligheidsbelang. Daar was ’n belangrike newe-effek toe dit bekend geword het dat Mandela geopereer is. Die vraag is skielik met groot dringendheid gestel: Wat sou gebeur as Mandela in aanhouding sterf? Die antwoord op hierdie vraag kon nie op ’n Jimmy Kruger-wyse verstrek word nie. Coetsee het dit ook goed besef.

Dis in die Volkshospitaal waar Kobie Coetsee Mandela besoek het, die eerste minister van die regerende party wat Suid-Afrika se wêreldbekende prisonier besoek. Persoonlik twyfel ek of Kobie Coetsee met dié besoek enige langer-termyn strategiese of selfs taktiese oogmerke gehad het. Dit was eerder ’n welwillendheidsbesoek met ’n goeie dosis nuuskierigheid. En dit het vir beide Coetsee en Mandela risiko’s ingehou. Coetsee, en veral Mandela, het egter baie gou die belang van die besoek ingesien, al het dit ’n hele tyd geduur alvorens dié besoeke tot ’n verkenning van onderhandelingsmoontlikhede gelei het. Dit was egter die begin van ’n proses waar “vyande” informeel met mekaar begin praat het, ’n tweede spoor binne die stelsel en bowendien vertroulik. Wat onmiddellik hierna volg, was ’n beslissende sleutel in die slot van ons land se polities dig gegrendelde deure: die bou van persoonlike verhoudinge op die basis van vertroue en (self)versekerdheid. ’n Proses op ’n persoonlike vlak, op die basis van wedersydse respek en vertroulikheid, het begin. Die ANC het soos Thabo Mbeki dit vroeg in 1988 aan my gestel het, ’n beginselposisie gehad: Die regime moet die inisiatief neem om ’n gesprek met die ANC te inisieer. Dis nie die ANC wat dit moet doen nie. Dis waarom Mandela ’n groot risiko geneem het en later ook erge kritiek van sy medegevangenes oor sy inisiatiewe uit die tronk moes hanteer.

Dis een van die lesse wat ek baie gou geleer het: Vertroue tussen historiese politieke vyande word ook deur middel van gedeelde risiko’s gebou. Die bou en onderhou van vertroue en (self)versekerdheid is nie bloot ’n morele keuse of ’n soort “bekering” nie. Dit sluit belangrike strategiese en taktiese fasette in. Die sakesektor is hiervan ’n goeie voorbeeld. Goeie en werkende vennootskappe word nie net op die deel van voordele gebou nie, maar óók op die deel van risiko’s. Pertinent gestel: Vertroue word bevorder wanneer die partye gesamentlik voordele en risiko’s deel. Dis wat Kobie Coetsee, wat nie sy kabinetskollegas oor sy gesprekke met Mandela ingelig het nie, gedoen het. Dit was wat Mandela ook gedoen het. Hy en Coetsee het uiteindelik baie meer as ’n bloot welwillendheids- of morele belang by hulle gesprekke gehad. Daar was mettertyd ’n strategiese en taktiese belang.

Mandela, ten spyte van sy jare lange gevangenskap, het presies geweet wat hy wou doen en hoe hy dit wou doen. Hy het geweet dat as die Botha-regime hom van Lusaka, ander ANC-leiersfigure en ook die UDF isoleer, dit sy eie politieke aanneemlikheid sou ondermyn. Hy wou en kon nie “verdeel en heers” aanvaar nie. Tog wou hy nie sy gesprek met Coetsee en die daaropvolgende gesprekke aan die groot klok hang nie. Dit was polities en moreel gesproke sy moeilikste besluit. Sy “kiesafdeling” was mense wat graag kollektiewe besluite geneem het. Hy moes eintlik kies tussen vertroulik praat of in die openbaar protesteer en allerlei protesaksies en publieke konferensies endosseer. Hy kies eersgenoemde. En hy lig nie eens sy eie politieke vriende in Pollsmoor in nie. Dit was ’n keuse met geweldige risiko’s. Hy lig net een persoon volledig in: George Bizos, sy senior regsverteenwoordiger wat toegang tot hom gehad het. Bizos, oor wie ek gelees het, met ander gepraat het en ook ’n toevallige persoonlike gesprek of twee kon voer, was ’n merkwaardige mens. Saam met sy pa het hulle gedurende die Tweede Wêreldoorlog uit Griekeland gevlug en via Egipte in Suid-Afrika beland. Sy pa het ’n kafee regoor die kantore van die destydse Vaderland begin. Toe ek dit lees, kon ek nie anders as om hardop oor Suid-Afrika se ironieë te lag nie.

Mandela lig Bizos vanuit sy hospitaalbed op die derde verdieping van die Volkshospitaal oor sy ontmoeting met Coetsee in. Hy wil hê dat Bizos ’n persoonlike boodskap op ’n vertrouensbasis aan Oliver Tambo in Lusaka oordra. Bizos, nie iemand wat links en regs met ander mense praat oor sy kontakte om hulle te beïndruk nie, stem in. Hy besluit om wel eers met Kobie Coetsee daaroor te praat om so enige onaangenaamheid te vermy. Dié gesprek vind uiteindelik, van alle plekke, op ’n vliegtuig plaas. Hy ontmoet vir Tambo, wat in 1961 in ballingskap gegaan het, in ’n hotel in Lusaka. Dit word ’n lang gesprek. Tambo word volledig ingelig. Ook hy aanvaar dat verkennende gesprekke, later deur die ANC-Afrikaner-gesprekgroep gesprek oor gesprek (“talks-about-talks”) genoem, vertroulik en klein gehou moet word. Daar was toe ’n kommunikasiekanaal tussen Mandela-Coetsee en Tambo. In Lusaka was Thabo Mbeki een van dié klein ingeligte groepie.

Bizos besoek Lusaka ’n tweede keer gedurende Februarie 1986. Hierdie keer word president Kenneth Kaunda ook in breë trekke ingelig. Bizos het in Kaunda se gastehuis, waar ek ook by geleentheid oorgebly het, tuisgegaan. Oliver Tambo het tydens die Bizos-besoek skynbaar ook daar gebly. President Kaunda het natuurlik geweet hoe die wind begin waai het, al was dit toe ’n ligte windjie. Terug in Suid-Afrika, besluit Bizos om Coetsee in te lig oor die positiewe reaksie op sy kontak met Mandela. Bizos, vergesel van regter Johan Kriegler, wat die afspraak gereël het, ontmoet Coetsee aan huis in Pretoria. As daar nog enige verwagting by Coetsee was dat ’n wig tussen Mandela en Tambo, die binnelanders (“inziles”) en bannelinge (“exiles”), ingedryf kon word en “verdeel en heers” sou geld, het Bizos dié verwagting verpletter. Coetsee het ook dié boodskap gekry: Daar is ’n ernstige en eerlike begeerte om gesprek met die regering te voer. Die idee van ’n onderhandelde skikking was toe op die politieke agenda al sou dit nog lank duur om vlees en bloed daarvan te maak. ’n Proses het egter begin.

Toe Mandela op 23 Desember 1985, twee dae voor Kersdag, uit die Volkshospitaal ontslaan word, kry hy ’n sel in die hospitaalgedeelte van Pollsmoor op die grondvlak. Sommige meen dit was ’n poging om hom van sy mede politieke gevangenes te isoleer en hom sag te maak vir kompromieë. PW Botha, wat deur Coetsee oor sy besoek aan Mandela ingelig was, kon dit moontlik in gedagte gehad het. Hy het goed geweet as daar die dag ernstig oor die politieke toekoms van die land gepraat sou word, Nelson Mandela by die gesprekstafel aanwesig sou moes wees. Botha moes daarom ’n manier kry om Mandela en ander politieke gevangenes vry te laat sonder om beheer prys te gee. Hy was selfs onder druk van sy goeie vriend die konserwatiewe Duitse politikus Franz Josef Strauss. Dis ook aan my vertel dat Botha meer bewus van die vrylatingskwessie geword het as gevolg van die tronkstraf wat aan Breyten Breytenbach, toe ’n ANC-koerier, opgelê is. Breytenbach se broer was een van Botha se gewaardeerde militêre leiers. In Coetsee se geval was daar myns insiens ’n meer primêre rede: Hy wou dit makliker vir homself en Mandela maak om privaat en vertroulik te praat, en hy wou erkenning aan Mandela se menswaardigheid as leier gee. Mandela het baie moeite gedoen om met sy mede politieke gevangenes kontak te behou, al het hy sy eie private badkamer en selfs ’n oefenlokaal gehad.

Daar vind verskeie ontmoetings tussen Coetsee en Mandela plaas. Coetsee het Mandela nie soos ’n gevangene behandel nie, maar werklik uit sy pad gegaan om aan hom respek te betoon. Die ontmoetings was altyd in stylvolle omgewings, en Mandela is soos ’n leier behandel. In ’n stadium ontvang hy selfs vir Winnie Mandela in sy Kaapse ampswoning, Savernake. Hy deel haar mee dat hy besluit het sy kan na haar woning in Soweto terugkeer. Vir Winnie Mandela was dit soos manna uit die hemel. Haar openbare aktivisme het wel ná haar terugkeer na Soweto nuwe laagtepunte bereik. Sy het Coetsee se vriendelike, maar paternalistiese versoek dat sy hom nie in die steek moes laat nie en dissipline moes handhaaf, in die wind geslaan.

Mandela het uiteindelik ongeduldig begin raak. Hy wou die president, PW Botha, die Groot Krokodil, van aangesig tot aangesig ontmoet. Die EPG was toe al lankal uit Suid-Afrika. Van die lede het Mandela ontmoet. Dit was trouens in dieselfde tyd dat Bizos op sy missie na Lusaka vertrek het. Botha was in daardie stadium nog adamant dat ANC-georkestreerde geweld die moontlikheid van amptelike gesprek uitgesluit het. ANC-leiers en Mandela moet eers geweld in die openbaar afsweer. Dis onwaarskynlik dat Coetsee besondere moeite gedoen het om Botha tot ’n matiging van sy houding te oortuig. Botha het nie net die land met ’n ystervuis geregeer nie, maar ook sy kabinet. Die kabinet het in elk geval nie van Coetsee se inisiatiewe geweet nie. Botha het hulle daaroor in die duister gehou. Hy het Coetsee aangemoedig om met sy persoonlike kontakte voort te gaan. Dit was onteenseglik daarop gemik om meer van Mandela en sy standpunte te wete te kom. PW Botha was iemand wat baie moeite gedoen het om agter te kom wie die leiersfigure nou eintlik was.

Dis nodig om hier iets oor my kontak en interaksie met Botha te sê. Ek was nooit een van sy raadgewers, soos soms beweer is nie. My interaksie en verhouding met hom was persoonlik eerder as polities. Sy dogter Rozanne was in my filosofieklas (drie jaar lank), soos ook Jimmy Kruger se seun Eitel, wat later ’n prominente rol in Pretoria sou speel. Ek het vir beide van hulle groot waardering as studente én as mense gehad. Chris Heunis, ’n politieke kollega en vriend van Botha, het die Stellenbosse verligtes, onder wie Sampie Terreblanche, Julius Jeppe, Christoph Hanekom en myself, ook gereeld na NP-konferensies, veral vir jongmense, genooi.

Toe professor HB Thom, eertydse rektor en in daardie stadium US-kanselier, op Vrydag, 4 November 1983 sterf, was Heunis die eerste een wat sy kandidatuur die dag ná Thom se dood (Saterdag) op die tafel gesit het. Hy is sterk gesteun deur ’n leidende akademikus, professor Christo Viljoen, en ’n paar ander. Heunis het ietwat van ’n obsessie gehad om die US se kanselier te word. Met John Vorster se uittrede het hy hom ook vir die pos beskikbaar gestel. Professor HB Thom het egter sy kandidatuur vroegtydig laat sneuwel. Sy tweede probeerslag het ook misluk. Die voorsitter van die US-raad, die waardige Jan van der Horst en die US-rektor, professor Mike de Vries, kontak my. Hulle meen dat Heunis, wat nie anders kan as “om hom by alles in te meng” nie, “uitgehou moet word”. Die enigste manier om dit te doen, is om PW Botha te oortuig om hóm vir die kanselierspos beskikbaar te stel. En ek moet met Botha gaan praat. Ek raadpleeg Piet Cillié, voormalige redakteur van Die Burger en uiteindelik professor in joernalistiek aan die US. Piet Cillié sê: “Hou Heunis uit. Dit sal nie vir die US óf vir hom goed wees as hy kanselier word nie.”

Ek en Dawie de Villiers, ’n minister, praat met Botha in sy kantoor in die Uniegebou oor die moontlikheid van sy kandidatuur. Hy sê dat hy dit slegs sal oorweeg as ek aan hom bevredigende antwoorde op die volgende vrae kan gee:

 Hy het nie ’n graad nie. Hoe kan hy kanselier word?

 Hy weet sy “kollega Heunis” aspireer na die amp. Hoe gaan ek dit hanteer?

 Hy sal die pos hoogstens vir een termyn kan vul. Kan hy ’n bydrae lewer? Hy het genoeg ander werk.

Die tweede vraag was die moeilikste. Ek sê hom dat ek Heunis persoonlik sal inlig as hy wat Botha is hom as kandidaat beskikbaar stel. Botha hoef Heunis nie in te lig nie. Botha aanvaar ná ’n paar dae die kandidatuur. Ek besoek Heunis in sy kantoor in die parlementsgebou en lig hom eerlik in. Dit word een van die mees onaangename ervarings van my lewe. Heunis, en te verstane, ontplof. Die breuk tussen ons is nooit heeltemal geheel nie. Botha kontak my en sê: “Dankie. As jy sterk oor iets voel, moet jy nie soos ’n lafaard optree nie.” Sedert dié dag was daar tussen my en Botha ’n verhouding van wedersydse respek.

Teen die einde van 1988 ontmoet ek en Botha mekaar toevallig en wissel ’n klompie woorde. Hy sê teen die einde van ons kort gesprek: “Ek weet van jou kontak met die ANC. As dit uitlek, moet ek jou in die parlement oor die kole haal.” Hy lag toe ek sê: “Meneer, dit sal my geloofwaardigheid bevorder.” Dit sou baie maande duur voordat hy self met ’n gedugte ANC-leier sou praat. Hy het geweet dat dié gesprek onafwendbaar was, maar wou self die tyd en terme van die gesprek bepaal.

Ek het dit aan Niel Barnard oorgelaat om Botha in te lig of nie in te lig nie. Trouens, ek het baie gou besef dat ’n mens in dit waarby ek betrokke geraak het, nie by Barnard verby kon gaan nie. Dit het dissipline vereis om professioneel op te tree, aangesien ek informele, nie-amptelike en onkonvensionele interaksie verkies. Ek hou ook nie van protokolle nie. Barnard self het nie vir Mandela oor die gespreksprojek met die ANC-bannelinge ingelig nie. Mandela, so het ’n senior lid van die NI my meegedeel, wou die informele, nie-openbare gesprekke met niemand anders uit ANC-geledere deel nie. Veral nie met Thabo Mbeki nie. In die laat tagtigs het ek en ’n paar NI-lede een aand in Pretoria selfs in ’n avontuurlike luim gespekuleer of Mbeki nie Suid-Afrika binnegesmokkel moes word om met Mandela gesprek te voer nie. Dié idee is afgeskiet omdat daar gemeen is dat Mandela nie vir so iets te vinde sou wees nie. Mandela is in ’n stadium vanuit die Tambo-Mbeki-binnekring oor die gesprekke in Brittanje ingelig.

Mandela, gefrustreerd met die stadige gespreksvordering en bekommerd oor die golwe van verset en onderdrukking wat oor die land gespoel het, rig uiteindelik ’n versoek om met die kommissaris van gevangenisse, generaal Willemse, te praat. Dié kom binne dae van Pretoria na Pollsmoor in Kaapstad. Mandela sê: “Ek wil met PW Botha praat.” Die generaal, ietwat verbaas, maar iemand wat van protokol geweet en ook respek vir Mandela gehad het, noem dadelik dat Kobie Coetsee in Kaapstad is en dat hy met hom sal praat. Coetsee en Mandela ontmoet weer eens in Coetsee se ampswoning. Nog gesprekke tussen die twee vind plaas. Dis nie algemeen bekend nie, maar in 1987 ontmoet Coetsee, Mandela en George Matanzima, broer van opperhoof Kaiser Matanzima, die politieke leier van die “onafhanklike” Transkei, by Kobie Coetsee aan huis. PW Botha wou graag van die “Mandela-probleem” ontslae geraak het deur Mandela op bepaalde voorwaardes in die Transkei sy vryheid te gee. Dié ontmoeting lewer niks van politieke betekenis behalwe vriendelike woorde op nie. Mandela het ’n groter politieke droom as bloot sy persoonlike vryheid gehad. Hy wou meehelp om álle onderdruktes in Suid-Afrika te bevry. En hy wou dit doen deur middel van gespreksvoering met “die vyand”. Hieroor skryf hy self terugkykend op sy gesprekke met Coetsee in sy Long Walk to Freedom: “It was clear to me that a military victory was a distant if not impossible dream … It was time to talk.” Dié herinnering van Mandela is van groot belang in die beantwoording van die ingewikkelde vraag: Waarom het die leiers van die Suid-Afrikaanse regering en die leiers van die ANC uiteindelik ’n onderhandelde skikking gekies?

Daar is van die kant van beide die NP-regering en die ANC nie een antwoord hierop nie, behalwe dat ons kan sê: Visionêre strategiese leierskap het bygedra om dit moontlik te maak, nie ’n plotselinge morele bekering of wonderwerk nie. Mandela help ons met sy opmerking deur op ’n baie belangrike kwessie te fokus: ’n Militêre oplossing was nie moontlik nie. Die ANC se revolusionêre agenda was wensdenkery. Die politieke, finansiële en militêre borgskap vir dié fantasie, Moskou, was nie meer gewaarborg nie. Onafhanklik van Mandela was dit ook die standpunt van Thabo Mbeki tydens ons gesprekke in Brittanje. Dieselfde het met PW Botha en Magnus Malan, sy minister van verdediging, se militêre opsie gebeur. Die idee van ’n Totale Aanslag en Totale Strategie was besig om in Angola-Namibië, in die strate van Soweto en Bonteheuwel, in die ouerhuise van vegtende wit jongmense en in Londen, Washington, Parys en Amsterdam te sneuwel.

Vroeg in 1988 gebeur iets baie betekenisvols wat daarop dui dat vordering nou doelbewus deur regeringsverteenwoordigers gesoek moes word. ’n Formele en spesiale komitee is gevorm wat Niel Barnard en Mike Louw van die NI, kommissaris Willemse van gevangenisse, die direkteur-generaal van die departement gevangeniswese, Fanie van der Merwe, en natuurlik Kobie Coetsee self ingesluit het. Die NI was ’n sleutelspeler. Ván die vergaderings was ontmoetings onder vier oë tussen Barnard en Mandela. (Een so ’n gesprek was baie delikaat en persoonlik, want dit het op aktiwiteite van Winnie Mandela, toe nog Nelson Mandela se vrou, betrekking gehad.) Die eerste vergadering van die komitee was op 28 Maart 1988. Daar vind altesaam 48 sulke vergaderings plaas.

Die inwerkingstelling van dié komitee as ’n tweedespoor-projek binne die staat was in alle opsigte ’n keerpunt. Dit was ’n hoogs vertroulike komitee. Die samestelling daarvan is deur Kobie Coetsee met president PW Botha uitgeklaar. Botha het, tot die verbasing van sommige lede wat gedink het hy sou weier, sy seën daaroor uitgespreek. Fanie van der Merwe, later ’n sentrale figuur by Kodesa en die grondwetlike onderhandelinge, speel binne dié komitee ’n sleutelrol. Betrokke by gevangeniswese en aanspreeklik aan minister Kobie Coetsee, verskaf hy die “regverdigingsdekking” vir die gestruktureerde gesprekke met Nelson Mandela. As dit sou uitlek, kon hy sê dat dit sy “werk” was om van tyd tot tyd oor die welsyn van politieke gevangenes gesprek te voer. Kommissaris “Willie” Willemse se naam moet ook genoem word. Hy en Mandela het mekaar gerespekteer en ’n besondere welwillendsverhouding gehad. Willemse het politieke gevangenes se menswaardigheid erken. Hy, soos Van der Merwe, het die politieke beeld van Afrikaners as brutaal en deur magswellus geïnspireer, deur hulle optrede gerepudieer.

Ek hoor in Augustus 1988 vir die eerste keer van die gesprekke. Dit was indringende gesprekke wat soms agt uur lank geduur het. Daar het toe al reeds drie byeenkomste van die Afrikaner-ANC-gespreksgroep plaasgevind, die derde een in Augustus 1988. Wat Barnard van die NI gedoen het, was om ’n oordrag van die tronkgesprekke met Mandela na ’n breër groep belanghebbers te bewerkstellig. Koos Kruger, weliswaar in ligte trant, sê ná Mandela se verskuiwing na die Victor Verster-gevangenis in die Paarl dat ek tog nie ook moet vra om Mandela te besoek nie. Ná sy vrylating het Mandela my gevra: “Waarom het jy my nie kom besoek nie?” Ek het geantwoord dat daar baie ander mense was wat hy te woord moes staan. Een van die aangrypende stories wat Barnard later vertel het, was oor die tweede vergadering van die komitee met Mandela. Dié vergadering het in Willemse se huis plaasgevind. Sy vrou het die ete voorberei en Mandela as net nog ’n gas gehanteer, ’n gelyke met die ander.

Dis nodig om op die volgende te wys: Kobie Coetsee, Niel Barnard en Pieter de Waal was al drie “Vrystaters”. Barnard het politieke wetenskap aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, tans die Universiteit van die Vrystaat, in Bloemfontein gedoseer. Hy was iemand wat nie publisiteit gesoek het nie, belese, ’n akademikus wat ook strategies kon dink en met sterk “geloofsbriewe” in die Afrikaanse gemeenskap. Hy was, soos ’n oudstudent dit aan my gestel het: “Iemand met sterk oortuigings en ’n sterk wil. Het van niemand nonsens gevat nie. En al het hy nooit al sy kaarte op die tafel gesit nie, het hy respek en vertroue afgedwing. Hy het wie hy dink ’n ‘swakkeling’ en ‘droogmaker’ is, verpes.” PW Botha, toe nog eerste minister, stel Barnard in 1979 as die leier van die NI aan. Binne maande is die NI getransformeer tot ’n professionele en hoogs effektiewe diens. Die berugte generaal Hendrik van den Bergh se Buro vir Staatsveiligheid was daarmee heen.

Kobie Coetsee se rol in die openingskuiwe van ’n niepublieke dialoog was belangrik. Hy was die persoon wat tussen 1985 en 1986 in ’n beperkte en goed geselekteerde kring voorbrand vir ’n gespreksproses met Nelson Mandela gemaak het. Mandela het na Coetsee as ’n “nuwe soort Afrikaner” verwys, veral ná Coetsee besoeke deur Lord Nicholas Bethal, ’n lid van die Britse Hoërhuis en die Europese Parlement, en Samuel Dash, ’n Amerikaanse professor en voormalige raadgewer van die Amerikaanse Senaat se Watergate-komitee, goedgekeur het. Barnard en Louw van die NI het respek vir Coetsee gehad, al het Louw gedink dat Coetsee ’n “obsessie” met persoonlike geheimhouding gehad het en selfs “paranoïes” was om nie verkeerd bewys te word nie. Dis eintlik ’n baie merkwaardige denkverskuiwing wat vanaf 1988 plaasgevind het. So vroeg as Januarie 1985 het PW Botha nog gedink hy het ’n troefkaart, triomfantelik gesteun deur sy sekurokrate: Mandela sal vrygelaat word as hy onvoorwaardelik geweld as ’n politieke instrument verwerp. Botha het natuurlik geweet dat Mandela dit nie sou doen nie. Hoe kon ’n stigtingsvader van MK so iets doen? Dit was, volgens wat my later deur ’n lid van die NI meegedeel is, niks anders as ’n onbekookte strik van Botha en sy sekurokrate nie: As Mandela die aanbod van die hand sou wys, sou die Westerse wêreld aanvaar dat die Suid-Afrikaanse regering dit nie kon waag om hom vry te laat nie, het hulle gehoop.

Tydens ’n saamtrek in Soweto waar biskop Tutu vir sy Nobelprys vereer is, lees Zindzi Mandela haar pa se verklaring oor die aanbod aan die gehoor voor. Dit was perfekte tydsberekening wat Botha en sy sekurokrate soos politieke pampoene laat lyk het. Mandela verklaar: “I am a member of the African National Congress. I have always been a member of the African National Congress and I will remain a member of the African National Congress until the day I die.” Hy sê daarna iets wat my baie geroer het, selfs vandag nog: “Oliver Tambo is much more than a brother to me. He is my greatest friend and comrade for nearly fifty years.” Mandela het geweet wat vriendskap en lojale persoonlike verhoudings is. Hy sê ook: “I am not a violent man … it was only when all other forms of resistance were no longer open to us, that we turned to armed struggle.” Toe kom daar ’n politieke doodskoot: Botha sou moes bewys hy is anders as Malan, Strijdom en Verwoerd. “Let him renounce violence.”

Coetsee was altyd besorgd oor Mandela se waardigheid en gerief. Hy het hom nooit in die tronk ontmoet nie. Hy het iets gedoen wat nie alleen uiters gewaagd was nie, maar ook uniek in ’n voorbereidingsfase vir ’n ingewikkelde politieke skikkingsproses. Dit was enersyds ’n gewaagde oefening in die skep van vertroue en selfversekerdheid, en andersyds ’n bekendstelling van Mandela aan ’n wêreld waarvan hy dekades lank uitgesluit was. Hy word kort ná sy ontslag uit die Volkshospitaal, op 23 Desember 1985, op uitstappies geneem. En sonder dat veiligheidswagte hom opsigtelik vergesel, oppas of beskerm. Hy word ’n gevangene – die bekendste in die wêreld – met vryheid! En dit was nie net dat hy deur Coetsee en later, vanaf 1988, deur ander lede van die komitee vertrou is nie. Mandela het hulle ook vertrou. Soos iemand uit die geledere van die NI teenoor my opgemerk het: “Daar was nie ’n kat se kans dat iemand hom sou herken nie, want daar was nie foto’s van hom in omloop nie. En hy wou ook nie herken word nie. Hy het klaarblyklik belangriker sake op sy brein gehad.”

Dit was ’n uiters gewaagde onderneming. Mandela kon in ’n motorongeluk betrokke raak, altyd ’n moontlikheid op Suid-Afrikaanse paaie. Dit kon ook uitlek en ’n sluipmoordaanval tot gevolg hê, iets wat later in die beplanning van sy vrylating deeglik in ag geneem is. Regse fanatici en die staat se eie moordbendes was onvoorspelbaar. Die NI, in noue samewerking met sleutelpersoneel van die goed opgeleide en professionele Eenheid vir die Beskerming van Baie Belangrike Persone, het die moontlikhede deeglik in ag geneem. Ek het die persoon in beheer, “IB”, goed geken.

Daar was aanvanklik uitstappies na Kaapstad en omgewing. Later word al verder gereis: Paternoster, Saldanhabaai en Worcester. Mandela kon ook versoeke rig. Een besoek wat my, toe ek later daarvan verneem het, baie opgewonde gelaat het, was aan Laingsburg, my geboortedorp. Mandela het skynbaar oor die erge rampvloed wat Laingsburg getref het, gelees. Hy het toe versoek om dié dorp te besoek. Sy lang verblyf in die tronk en sy arbeid op Robbeneiland het sy hande en sy lyf hard gemaak, maar nie sy hart nie. Hy is iemand met staal in sy wil en in sy tande, maar nie, by wyse van spreke, in sy hart nie. ’n Mens moet versigtig wees om nie persoonlike verhoudings in verkennings-, bemiddelings- en onderhandelingsprosesse te oorbeklemtoon nie. Daar is ook ander faktore wat ’n rol speel: magsverhoudinge, gevestigde belange, aspirasies, geweld, ekonomiese werklikhede, en so meer. Wanneer dit egter by die bou en onderhou van vertroue en selfversekerdheid kom, kan dit nie buite persoonlike verhoudinge om geskied nie. Dis in die geval van Mandela ’n merkwaardige storie waarna al baie verwys is. Die impak daarvan was egter so groot dat dit hier in breë trekke herhaal moet word: Die verhouding tussen Nelson Mandela en James Gregory, wie se seun Brent – ’n leerlingbewaarder – ook betrokke was toe Mandela na ’n woning op die Victor Verster-gevangenisterrein verskuif is.

Gregory het van Natal af gekom. Hy het op ’n plaas in Zoeloeland grootgeword en was 23 jaar oud toe hy op Robbeneiland begin werk het. En hy kon Zoeloe lees en praat. Hy het letterlik saam met Mandela en die ander swart leiersfigure op Robbeneiland ouer geword. Dit was ook hy wat meestal vir Mandela op sy uitstappies geneem het toe hy na Pollsmoor verskuif is. En toe Mandela in ’n gerieflike huis op die Victor Verster-gevangenisterrein gaan woon het, is Gregory saam. Dit was onvermydelik dat daar tussen dié bewaarder en Suid-Afrika se internasionaal bekende gevangene ’n betekenisvolle persoonlike verhouding ontwikkel het. Hulle het gepraat oor die land en sy mense. En Mandela, veral tydens sy uitstappies, kon die omgewing en die bewoners deur die oë van sy bewaarder sien en ervaar. Mandela het myns insiens meer van wit mense, en veral Afrikaners, verstaan as wat hulle van swart mense verstaan het.

Die gesprekke met Coetsee se komitee, tesame met sy uitstappies, het Mandela ongetwyfeld baie hoop gegee. Hy het selfs in 1988 ’n brief aan PW Botha geskryf en teen Augustus ’n goeie aanduiding gekry dat ’n ontmoeting op hande was. Toe gryp die noodlot in: Mandela word op 12 Augustus 1988 weer gehospitaliseer en tuberkulose word gediagnoseer. Hy kon eers teen die einde van September 1988 die hospitaal verlaat en is in ’n private kliniek versorg. Dis interessant om daarop te let dat die derde vergadering van die nie-amptelike Afrikaner-ANC-gespreksgroep vanaf 21 tot 24 Augustus 1988 plaasgevind het. In Desember vind sy verskuiwing na Victor Verster en ’n gerieflike huis op die gevangenisterrein plaas. Die NI het die huis binne twee dae gemeubileer. Hier kon Mandela ’n groot verskeidenheid van vryheidstryders en gemeenskapsleiers ontvang. Die skikkingsproses het vaart gekry, al het vlamme en rook steeds oor die land uitgeslaan.

PW Botha het myns insiens reeds teen 1985 besef dat Nelson Mandela en ander politieke gevangenes se vrylating onafwendbaar was. Buitelandse en binnelandse druk, en veral Margaret Thatcher se standpunt, was in dié verband die drukfaktore. Hy het net nie geweet hoe en wanneer nie. En hy wou dit natuurlik op sy eie voorwaardes doen. Hiervan het twee baie swaar geweeg: Die afswering van geweld, en die posisie en rol van die kommuniste (SAKP). Teen 1988 het hy besef ’n kompromis wat hoop sou gee, is nodig. Die voorstel vanuit die Coetsee-komitee om Mandela na ’n huis op die Victor Verster-gevangenisterrein te verskuif, was vir hom ’n uitkoms en die eerste openbare sein van die Botha-regime dat Mandela se vrylating net ’n kwessie van tydsberekening was. Botha het teen dié tyd besef as swart leierskap in die hantering van die politieke konflik in Suid-Afrika ’n noodsaaklike rol moes speel, Nelson Mandela ’n sentrale figuur binne dié leierskap moes wees. Botha het egter alle leiersfigure wat kommuniste was, of volgens hom selfs daarna “geruik” het, met erge weersin bejeën. Naas die kwessie van geweld was Botha se fanatieke anti-kommunisme ’n sielkundige en politieke blokkade vir Mandela se vrylating. Barnard het egter onmiddellik Mandela se leierskapseienskappe herken. Mandela se internasionale politieke en morele status het in ieder geval sy leierskapsrol onafwendbaar gemaak. Dit was aanvanklik vir die Lusaka-ANC ’n probleem. Oliver Tambo was immers die amptelike leier.

Hoe om Botha te oortuig dat ’n persoonlike ontmoeting met Mandela polities noodsaaklik was, was ’n baie delikate kwessie. Die voorbereidingsfase vir ’n amptelike skikkingsproses het ook voorbereiding van PW Botha vereis. Niel Barnard het, terugkykend hierop, in 2004 in ’n onderhoud (Heald, p102) die delikaatheid van die probleem skerp opgesom. “Vir PW Botha om met Mandela te praat, was van dieselfde moeilikheidsgraad as om George Bush te probeer oortuig het om Osama Bin Laden na die Withuis te nooi.” Die voorbereidingsfase was ingewikkelder as wat baie kommentators vandag dink. En dit het al vroeg begin met Mandela se eerste hospitalisasie. En toe gryp die noodlot in: PW Botha kry in Januarie 1989 ’n beroerte-aanval, iets wat Oliver Tambo in Augustus 1989 ook oorgekom het. Intussen gaan die proteste in Suid-Afrika en die gesprekke tussen die komitee en Mandela voort. Botha herstel sodanig dat hy met sy pligte as staatspresident kon voortgaan. Hy was toe nie meer leier van die NP nie. FW de Klerk, wat op 47-jarige leeftyd leier van die Transvaalse NP geword het, het op 2 Februarie 1989 ook die nasionale leierskap oorgeneem.

Dis nodig om iets aan te roer waaroor al die partye tot die gesprek sensitief was: Die reaksie van ondersteuners as die gesprekke sou uitlek. Die kontrole wat Botha, Coetsee en veral Barnard hieroor kon uitoefen, was in baie opsigte waterdig. Hulle was binne ’n “stelsel” met burokrate wat nie links en regs uitgepraat het nie. Mandela het nie oor so ’n “stelsel” beskik nie. Hy moes op ’n paar mense vertrou en ook aanvaar dat die burokrate hom nie deur lekkasies aan die pers in ’n politieke verleentheid sou bring nie. Dit was een van die grootste risiko’s wat hy geloop het. Toegegee, sy regeringsgespreksgenote was van sy welwillendheid en samewerking afhanklik. Vertroue het ook baie te make met die aanvaarding van ’n verhouding van interafhanklikheid, tesame met die soort aspirasies wat deur die betrokke partye gekoester word. In die geval van Mandela en sy gespreksgenote was die verwagtings sterk én hoog: ’n einde aan politieke geweld en ’n proses wat vrede sou bring.

Afgesien van die rapporteringsroete wat deur Mandela en Bizos na Lusaka oopgemaak is, en waarvan Kobie Coetsee bewus was, is daar ook ’n ander roete uitgebou: Operasie Vulindlela (Vula). Dit was die breinkind van die revolusionêre militantes wat van ’n militêre oorname van politieke mag in Suid-Afrika gedroom het. Die sukses van die UDF en ander organisasies het die uitgeweke revolusionêre gesigte laat sien van massa-mobilisasie wat tot regeringsverandering kon lei. Hulle was ook bang dat die leierskap van die massa-aksie hulle sou marginaliseer. Daar word toe besluit om Suid-Afrika te infiltreer, ondergrondse militêre strukture te vestig, wapenopslagplekke in te rig en met die massabeweging saam te werk. Oliver Tambo gee, vreemd genoeg, hiervoor die groen lig, skynbaar sonder om sy pro-onderhandelingsbinnekring in te lig. Mac Maharaj, ná vele intriges en planne wat verkeerd geloop het, en Siphiwe Nyanda rig hulle basis in die laattagtigs in Durban in om van daar af die ANC se revolusionêre projek te orkestreer. Ronnie Kasrils sluit hom later by hulle aan. Intussen voer Mandela gesprek met die Coetsee-komitee, salig onbewus van Maharaj en sy revolusionêre strydgenote se militêre planne.

Mandela was in hierdie voorfase van die onderhandelingsproses ongetwyfeld die persoon wat die grootste risiko geloop het om sy geloofwaardigheid te verloor. Dié besef het tot my deurgedring op my verjaardag op 19 Augustus 1988. ’n NI-amptenaar het met my oor die kwessie van vertroulikheid en geloofwaardigheid gepraat. En dat geloofwaardigheid ook verband hou met ’n mens se dissipline om nie vertroue te skend nie. Soos hy gesê het: “Dis eintlik baie maklik om iemand se geloofwaardigheid in die openbaar te vernietig as jy en die persoon vertroulike en private sake met mekaar gedeel het.” Ek het hierna besef dat Coetsee, sy NI-span en die ander amptenare baie ernstig oor die binnekringgesprekke was. Die vertroulike aard van die gesprekke het die erns waarmee die gesprekke benader is, bevestig. Wat in so ’n geval gebeur, is dat die deelnemende partye (“vyande” van mekaar) doelbewus en baie gedissiplineerd hulleself losmaak van die heersende beskouinge en posisies van hulle ondersteunersgroepe en dié se elites. In skerp verdeelde en gepolariseerde samelewings, waarin geweld ’n kultuur geword het, is vertroulikheid en eerbaarheid noodsaaklik. Dis waarom middelgrondgroeipunte selde indien ooit ’n openbare begin het. Trouens, die amptelike voorbereiding van die onderhandelingsproses ná FW de Klerk se epogmakende en moedige toespraak op 2 Februarie 1990 was aanvanklik nie ’n openbare proses nie, soos byvoorbeeld geïllustreer deur die geheime besoeke van ANC-ers uit Lusaka aan Pretoria.

Mandela het in ’n stadium die wind van voor gekry. Daar was, soos in die NP, ook mags- en persoonstryde binne die ANC, nie net in Lusaka nie, maar ook in Suid-Afrika, waar die aksies van die United Democratic Front baie suksesvol was. Die Robbeneilanders het ook hulle eie agendas gehad. Govan Mbeki, pa van Thabo Mbeki, was byvoorbeeld ’n Marxis in murg en been. Hy was ideologies ver verwyderd van Nelson Mandela. Die gemeenskaplike vyand – apartheid – het hulle verbind, nie ideologie nie. Daar was maar altyd spanning tussen Mandela en Govan Mbeki, soos later, ironies genoeg, tussen Thabo Mbeki en die “linkses”. Die meningsverskille tussen Nelson Mandela en Govan Mbeki het van ver af gekom. In die jare sestig was daar ’n intense debat binne die ANC oor die sogenaamde Bantoestans. Mense soos Mandela, Sisulu en Tambo, wat ná Albert Luthuli se dood in 1967 eers as waarnemende president en later as verkose president oorgeneem het, het ’n gekwalifiseerde pragmatiese posisie ingeneem: Die Bantoestans kon gebruik word as basisse vir massa-mobilisasie. Hulle wou nie eens die term “sell-outs” gebruik nie. Dit was selfs in 1976 Mandela se standpunt. Landelike gebiede was immers ’n sleutel tot suksesvolle guerrilla-oorlogvoering. Govan Mbeki was fel gekant teen dié posisie. Hy was ’n Marxistiese ideoloog en kón nie die pragmatisme van Mandela ten aansien van die Bantoestans steun nie. Binne die buitelandse vleuel van die ANC, veral ná ’n besoek van lede van die leierskorps aan Viëtnam in 1978, is daar uiteindelik baie sterk klem op massa-mobilisasie gelê. En dis wat die UDF reggekry het.

Govan Mbeki, toe reeds 78 jaar oud, se vrylating was een van die sake waaroor Mandela om onder meer humanitêre redes sterk gevoel het. Coetsee en sy span het hierin ’n unieke geleentheid gesien: ’n proefneming om die openbare reaksie op die vrylating van politieke gevangenes te beheer. Walter Sisulu, wat later vrygelaat sou word, was toe 76 jaar oud. Die proses wat tot Govan Mbeki se vrylating gelei het, is ’n storie op sy eie werd. Mbeki het nie die vaagste benul gehad waaroor alles gegaan het nie. Hy het op Robbeneiland agtergebly toe Mandela en die ander vier politieke gevangenes na Pollsmoor verskuif is. Hy word toe met ’n omweg vanaf Robbeneiland na Mandela gebring. En dié is maar vaag oor alles wat aan die gang is. In November 1987 word Govan Mbeki vrygelaat. Hy is nie eerstehands ingelig oor die Coetsee-Mandela-gesprekke nie. Selfs later, toe die twee in Victor Verster ontmoet het, het Mandela vaag gebly. Dis bes moontlik dat hy Mbeki, die Marxis, nie vertrou het nie. Dit was ook Govan Mbeki wat gedurende 1989, toe hy in Port Elizabeth gewoon het, verkeerdelik ’n gerug onder die UDF laat posvat het dat Mandela té welwillend in sy gesprekke met regeringsverteenwoordigers was. Dit het groot rumoer in UDF-kringe veroorsaak. Allan Boesak, ’n begaafde en charismatiese leier van die UDF, was veral verontwaardig. Die NP-regering, so moet onthou word, het géén aanneemlikheid in UDF-kringe gehad nie en is met wantroue en agterdog bejeën. Mandela het nie ’n “mandaat van die mense” (lees UDF) gehad nie. Die krisis is uiteindelik ontlont. Dit was ’n verkorte weergawe van Mandela se memorandum aan Botha wat die UDF-krisis oor “konsultasie met die mense” veroorsaak het.

Daar was ook ander pogings vanuit amptelike regeringskringe om kontak met die ANC te maak en gesprek te voer. Dié pogings vertel enersyds ’n verhaal van desperaatheid oor die amptelike openbare posisie en andersyds van die kontrole wat die NI uitgeoefen het. Die NI was beslis dat dié organisasie die aangewese en bes toegeruste staatsinstelling was om die proses te bestuur en te beheer. Te veel akteurs, soos byvoorbeeld buitelandse sake en selfs minister Chris Heunis se departement belas met grondwetlike beplanning, kon politieke kortsluitings veroorsaak. Dié departemente was natuurlik nie deeglik ingelig oor die informele en vertroulike gesprekke wat reeds plaasgevind het nie. Toe Fanie Cloete, ’n politikoloog en later professor, en Kobus Jordaan, ’n intelligente en toegewyde mens, voelers as amptenare van die departement van grondwetlike sake na ’n informele gesprek met die ANC uitgesteek het, is hulle veiligheidsklarings summier opgehef. Die NI was ook gekant teen die departement van buitelandse sake en veral die altyd té entoesiastiese minister Pik Botha se pogings. Dié is op subtiele maniere gekelder. Pik Botha was ook nie ’n sleutelspeler in De Klerk se onderhandelingspan nie.

* * *

’n Meer sensitiewe en problematiese poging was dié van Richard Rosenthal, iemand wat ek by die Stedelike Stigting leer ken het. Hy was ’n hoogs intelligente regsgeleerde, maar ook baie emosioneel wanneer dit by politieke kwessies gekom het. In ’n stadium was hy só pessimisties oor die Botha-regime se hantering van die politieke konflik in Suid-Afrika dat hy, soos baie ander mense, dit oorweeg het om te emigreer. In 1987 doen hy iets wat baie mense wou gedoen het, maar nie die moed gehad het om te doen nie. Hy skryf aan PW Botha ’n brief en sê dat hy bereid is om ’n proses te fasiliteer wat tot formele onderhandelinge met die ANC kan lei. Of Botha self dié brief gelees het, is onseker. Adjunkminister Stoffel van der Merwe van grondwetlike beplanning, ’n ondersteuner van Chris Heunis, sy minister, beantwoord Rosenthal se brief. Van der Merwe skep die indruk dat Botha met Rosenthal se idees saamstem. Oor die volgende agttien maande speel Rosenthal ’n tussengangerrol by veral Thabo Mbeki. Rosenthal is deur die Switserse regering gesteun. Thabo Mbeki lig my gedurende 1988 oor die kontak met Rosenthal in en vra wat ek daarvan dink. Dit word ’n baie lastige affêre. Ek en Rosenthal ontmoet ’n paar keer. Die NI het my versoek om hom sover te kry om sy inisiatief te staak voordat dit in ’n openbare dilemma ontaard. Ek, toe reeds betrokke by die NI se inisiatief en later bewus van die gesprekke met Mandela, bevind my in ’n onmoontlike situasie. Ek kan Rosenthal nie volledig inlig oor alles wat reeds aan die gang was nie.

Stoffel van der Merwe, so is my meegedeel, het geen mandaat vir die inisiatief wat hy geneem het nie. Dis nie iets wat by hom en sy departement tuis hoort nie. Dit gaan “in sy gesig ontplof”. En dit het, so is my meegedeel, tydens ’n private besoek van Botha aan Switserland in 1988. Tydens ’n onthaal vir Botha sê ’n Switserse regeringslid dat hulle die Rosenthal-Van der Merwe-inisiatief steun en baie dankbaar daarvoor is. Later die aand knor Botha teenoor mense in sy afvaardiging. Hy is behoorlik moerig vir Van der Merwe. Wil hom selfs afdank, sê hy teenoor een van sy min vertrouelinge. Botha was myns insiens nie volledig, of dalk glad nie, oor dié inisiatief ingelig nie. Van der Merwe was toe bloot ’n adjunk. Hy kón nie die sleutelrol speel waarop hy gehoop het nie. Die NI was in elk geval sterk gekant teen iemand van Grondwetlike Beplanning wat met behulp van ’n persoon wat hulle nie geken het nie, ’n “baie delikate operasie” aanpak. Daar was, so is beweer, nie goeie beheer nie en ook nie voldoende aanspreeklikheid nie. Rosenthal was uiteindelik baie mismoedig, soos sy boek Mission Improbable: A Piece of the South African Story getuig.

President PW Botha was tydens die Switserse ontmoeting op besoek aan Europa om die konserwatiewe Beierse politikus Franz Josef Strauss se begrafnis by te woon. Hy het by dié geleentheid ook met die Duitse kanselier, Helmut Kohl, samesprekings gevoer. Margaret Thatcher en Kohl het gereeld met mekaar oor Suid-Afrika gesprek gevoer, veral oor die Namibië-kwessie, waar daar ook Duitse belange was. Albei het algaande frustrasies opgebou oor die stadige hervormingspas in Suid-Afrika en die “militarisering van Suid-Afrika onder PW Botha”. In gesprekke met mense uit die Thatcher- en Kohl-omgewing het ek die woord “militarisering” al hoe meer gedurende die tagtigerjare gehoor. In Wes-Duitsland was dié woord, gegee die geskiedenis, ’n bloedrooi vlag, gesien saam met die heersende noodtoestand in Suid-Afrika. PW Botha het natuurlik ’n groot behoefte aan geloofwaardige buitelandse ontmoetings gehad. Daar was min. Sy hervormingsinisiatiewe was te karig en te laat. Dit het nie diplomatieke deure oopgesluit nie. Die internasionale konsensus oor wat moes gebeur, was die hervormingsinisiatiewe vooruit.

* * *

Die Coetsee-Mandela-Barnard-gesprekke het gedurende 1989 uitstekende vordering getoon en op die ontmoeting tussen PW Botha en Nelson Mandela op 5 Julie daardie jaar uitgeloop, drie weke ná die viering van die (jeug)opstand in Soweto en op ander plekke. Hierna was dit net ’n kwessie van tyd voor die onderhandelingsproses meer amptelik in alle erns kon begin. Wat die meeste van diegene wat in daardie stadium die foto gesien het wat van Botha en Mandela tydens die ontmoeting geneem is, egter nie geweet het nie, was dat daar ook ’n ander proses aan die gang was: gesprek deur Afrikaners met die buitelandse vleuel van die ANC, met die medewete van Niel Barnard. Van dié gesprekskanaal het selfs Mandela lank nie geweet nie. Tambo en Mbeki was oor albei kanale ingelig. Dit het aan hulle ’n mededingende voordeel bo die “geweerdraers” in hulle eie geledere gegee. Dieselfde het natuurlik vir die onderhandelingsgesindes binne die regime gegeld. Terwyl die sekurokrate ’n noodtoestand gesteun het, het die onderhandelingsgesindes agter die skerms gewerk aan die ontginning van politieke geleenthede wat in ’n moontlike onderhandelingsproses opgesluit gelê het. Intense dialoog was hiervoor die voertuig.

Die ANC het in die vroeë tagtigs dialoog en kontak met (wit) Suid-Afrikaners as ’n onderdeel beskou van ’n strategie om die heersende politieke stelsel te ondergrawe en druk uit te oefen. Die regerende elite, wat die ANC baie suksesvol geïnfiltreer het, wou weer verdeeldheid, verwarring en selfs konflik binne die bevrydingsbeweging aanstig. Die model was: revolusionêr versus kontra-revolusionêr. Dié strategiese denkraamwerk, aanvanklik vasgelê in ideologiese beton, moes deurbreek word. Die nou beroemde tronkgesprekke was ’n belangrike beitel. Die Afrikaner-ANC-gesprekke was ’n ander beitel. En die NI-ANC-gesprekke in Switserland en later in Pretoria was nóg ’n beitel wat ’n nuwe pad help oopkap het. Idasa en ander organisasies, lande en leiersfigure ook.

Eindstryd

Подняться наверх