Читать книгу 'n Klein lewe - Wilna Adriaanse - Страница 4

Оглавление

1

The day we die, a soft breeze will wipe out our footprints in the sand. When the wind dies down, who will tell the timelessness that once we walked this way in the dawn of time? (San-lied)

Selfs die vinke en die versamelvoëls knoop tog êrens daardie eerste halm vas. Hoe anders gaan hulle die res van die vlegwerk gedoen kry? Sy was deur die jare dikwels die stil toeskouer in haar tuin wanneer die bouproses begin. Maar dis nie so maklik nie, kom sy agter, terwyl haar gedagtes heen en weer fladder. Daar is soveel gevare om in te reken. Die slinkse boomslang wat graag sy lê in die holte van die nes kom kry en die eiers opvreet as sy nie oppas nie. Of die koekoek wat haar eiers in die nes sal kom lê en daar los om uitgebroei te word. Om nie te praat van die wind en die weer se aanslag nie.

Die slimmes kies stewige takke, het sy al agtergekom.

Volgens oorlewering kies ’n kind sy of haar ouers. Sy hou nogal van daardie gedagte, maar seker ook net omdat sy reg gekies het. Praat van stewige takke. Haar mense was nie tolbosse nie.

Jy is nie objektief nie, hoor sy al die beskuldigings.

Ek is met donkermaan gebore, sal sy antwoord. En donkermaan is simbolies van subjektiwiteit.

Sy beny soms dié wat met die volmaan gekom het, maar dit sal sy nie sê nie.

Daar sal gevra word of sy die nodige insig het. Of ’n skrywer noodwendig haar eie storie beter verstaan. Sy wonder of hulle begrip sal hê as sy sê op haar ouderdom is jy hoogstens ’n karakter in jou eie storie. Een met geen voorafkennis en weinig insig. Soms huppelend agter die storie aan, ander kere sleepvoet agterna. Die storie altyd ’n kortkop voor.

“Dis soos Totius se gedig, Pa. Waar hy vertel van die wag-’n-bietjie langs die pad, daar tussen die skaarsbeblaarde soetdorings. Lowergroen en blink van blad.”

En wil ek in die blare gryp

of aan die takke breek,

dan tas ek in ’n doringnes

wat vreeslik haak en steek.

Haar pa knik. “En tog sal jy die begin maar so saam met die donkermaan aan Vytjie se kopdoek moet vasknoop.”

“Sal julle my vertel?”

Haar ma se blou oë met die kunslense blink in die sonlig.

“Waarom wil jy dit doen?” Haar pa se blik rus op die hoë muur met die lemmetjiesdraad wat al om die aftreeoord strek.

“Die kinders wil landuit, Pa. Sommer so met ’n rugsak en ’n vliegkaartjie sonder terugkeerdatum. En oor die stemme wat dreig om my te vervreem. Wat vra hoe leef ek met my wit vel in hierdie vreemde plek.”

Sy hande met die krom vingers raak-raak aan haar ma s’n en dis asof die oumensvlekke ligter word.

“Net tot daar waar jou onthou ’n eie knoop kan maak.”

Die oomblik toe die kar op die werf stop, maak sy die deur oop en voor hy hom kom kry, is sy reeds halfpad teen die naaste rooiduin op. Hy kyk na die werf. Here, kan daar nie maar vandag ’n stukkie kleur gewees het nie? Daar is nie eers een groen grasspriet waarmee hy haar kan teruglok nie. Vandag van alle dae het die kalkrand geen genade nie. Dis asof die aarde sout sweet. Hy sien hoe van die werksmense haar agterna kyk en hy klim uit en stap teen die duin op. Sy is reeds oor die eerste kam en hy vang haar net voor sy die tweede een vat. Haar gesig is nat en teen haar wang kleef ’n sandstreep. Hy dink nie dis goed om in haar toestand so te hardloop nie.

“Waarheen gaan jy?”

“Ek kan nie hier bly nie.” Sy rem in sy arms.

“Dan kan ons teruggaan, maar kom net eers huis toe sodat ons kan praat.”

Sy is jonk, Koos, het sy pa gewaarsku, en nie gewoond aan so ’n harde wêreld nie.

Sy sal aanpas, Pa.

Maar nou weet hy nie.

“Middag, baas; middag, kleinnôi.” Die werksmense begin stadig nader staan.

“Middag,” groet hy terug. “Hoe gaan dit hier?”

“Nee, baas, dit gaan goed. Maar ons is bly baas-hulle is hier. Het baas-hulle darem mooi gekom?”

Terwyl die bruin man praat, dwaal sy blik kort-kort na haar gesig.

“Ons het voorspoedig gery, dankie. Kan julle ons dalk help om net ’n paar goed af te laai?”

Nog ’n paar staan nader en begin die bagasie aanvat.

“Sit maar sommer net eers in die voorkamer neer,” roep hy agter hulle aan.

“Dis te laat om nou terug te draai.” Hy neem haar hand. “Laat ons nou maar vanaand slaap en dan kyk ons hoe dinge môre lyk.” Hy kan sien hoe sy oor die werf kyk en hy is jammer hy het dit gesê.

Terwyl hy help dat hulle bagasie afgelaai word, bly sy op die stoeptrap sit. So met haar hande op haar knieë. Die huis op die dorp het nog na baksteen en verf geruik toe hulle na die troue daar ingetrek het. Elke vertrek beplan soos sy dit graag wou hê. Die swarthout-Van Riebeeckstel die trots van die sitkamer. En die bypassende sideboard en tafel langsaan in die eetkamer. Sy weet hulle meubels is reeds hier, maar sy is traag om te gaan kyk.

“Ek het aandkos gemaak, kleinnôi.” Die bruin vrou het op die stoep uitgekom en staan met haar hande voor haar en vroetel.

Sy staan stadig op en stap agter Sanna aan eetkamer toe waar ’n spierwit tafeldoek oor die tafel hang en twee plekke gedek is. Eenkant in die hoek staan ’n paar kartonne waarop geskryf staan: Sideboard. Sy kan die kos ruik terwyl hy bid, maar toe sy begin eet, smaak alles dieselfde en sy is bly toe hulle klaar is.

Hy het reeds vir haar ’n lamp in die badkamer aangesteek toe sy daar kom en sy is bly oor die warm water. Sy het gehoor hoe hy vir Sanna aansê om te sorg dat die donkie goed gestook word. Toe hy later in die kamer die lamp doodblaas, is die nag stikdonker. Donkerder as wat sy gedink het ’n nag kan wees. Sy lê lank langs hom wakker en luister na die stilte. Haar hande oor haar plat buik gevou, daar waar die belofte van lewe nog baie nuut lê.

Tyd het ’n vreemde manier om sy eie gang te gaan en onder jou uit te loop, dink sy. Soos die eerste maand aanstap, kom sy agter sy kyk minder pad se kant toe. Daar is te veel om te doen. Sy kan nie glo dat ’n werf met soveel niks op, soveel werk kan hê nie.

“Die baas het gesê ek moet kleinnôi leer kos kook,” sê Sanna een oggend toe sy in die kombuis kom. “Die vleis is volop, kleinnôi, maar die bykossies is skaars. ’n Mens moet maar soms iets uitdink. En ek moet kleinnôi leer om die slagding reg te maak. En die afval. Die baas sê hy is lief vir die afval. Ek sal vir kleinnôi wys hoe om daai pensvel spierwit te krap en die skaapkop tussen die assies in die bakoond te sit sodat die wangvleisies sag kan stowe.”

“Ek sal later die vleis leer, Sanna. Ons begin maar met die brood. Wys my maar eers hoe jy die deeg maak.”

Toe hy die aand by die huis kom, wys sy trots na die groot boerbrood met die donker korsie. Sy is bly toe hy twee snye eet. Daar spat waterdruppeltjies uit die botter toe hy met die mes daaroor skraap en ’n dik laag op elke sny smeer. En toe pak hy dungesnyde skyfies biltong op die een en op die ander kom ’n lepelvol glansende appelkooskonfyt.

Daardie nag slaap sy in die holte van sy lyf.

Hy kom agter hy hou haar elke dag dop en kan later die tekens goed lees. As sy van vroegoggend af deur die vensters kyk en kort-kort op die stoep uitloop, weet hy dis die werf, maar dis ’n werf wat is soos dit is. Toe hy haar een laatmiddag weer op die stoep sien, nooi hy haar om saam met hom te ry.

“Waarheen wil jy ry?”

Hy trek sy skouers op. “Daar is nie rêrig ’n waarheen nie. Ons ry sommer net.”

Hulle ry met die Jeep en hy kies koers die duine in. Sy sit stil langs hom met haar hande oor haar buik gevou. Sy pa sê altyd dis ’n ongenaakbare wêreld hierdie wat God vir homself gemaak het. Daarom het hy vir die paar spesies wat hier aard, ’n sterker konstitusie gegee.

God was moeg vir die ondankbares wat die paradys geërf het en steeds nie tevrede was nie. Hierdie plek . . . sy pa swaai sy arms wyd wanneer hy dit sê . . . het hy vir sy eie plesier gemaak en gesorg dat net die sterkes hier kan oorleef. Dié wat nie skrik vir droogte of hitte nie. Wat weet wanneer die tyd reg is, sal die hemele oopgaan en die genade weer uit die sand opslaan. En dan sal die springbokke uitgelate soos kinders oor die bossies wip. En wanneer die droogte weer kom, sal die gemsbokke bitterboelas vreet en die kinders sal gorras in die rivierlope grawe. En julle moet dit onthou, dit sal altyd weer beter gaan. ’n Mens moet net vertrou.

Hy wil vir haar vertel wat sy pa altyd sê, maar sy kyk so ver dat hy nie die moed het om te praat nie. Hy sal haar eendag vertel.

Die son trek al rooi water toe hulle die gemsbok teen die duin gewaar. Alleen, met sy regop horings wat hemelwaarts wys. Hy hou stil en skakel die enjin af. Die ghagras en die blare van die rosyntjiebos roer liggies in die windjie. Hy sal haar ook eendag vertel van die tsammas, beessuring en wildekomkommertjies wat na die reëns opslaan.

Hulle sit lank daar teen die duin na die gemsbok en kyk en toe hulle later terugdraai, wys hy haar hoe die ligte aandwind hulle spore doodvee.

Daar word tweeweekliks kerk op Askam gehou. Die eerste Sondag kan hulle nie gaan nie, maar die einde van die maand ry hulle vroeg die Sondagoggend reeds van die plaas af. Dis so twaalf myl van die plaas af, maar dis nagmaal en daar word vroegoggend reeds ’n biduur gehou.

Sy weet nie of ’n mens dit werklik ’n dorp kan noem nie, dink sy toe hulle van die grootpad afdraai en tussen die paar geboue deurry. Aan die regterkant is ’n vulstasie en ’n algemene handelaar. ’n Entjie verder staan die kerk met ’n klein saal langsaan. Daar is ’n skool en ’n koshuis en ’n paar huise. Naby die kerk is ’n klompie kleinerige huisies gebou.

“Dis kerkhuisies,” verduidelik hy toe sy vra. “Ek het reeds aansoek vir ’n erf gedoen sodat ons ook een kan laat bou.”

Die doringbome het ’n effense groen skynsel, maar die aarde is droog en sanderig. ’n Paar kinders speel verder af in die sandstraat.

“Waarom sal ons hier wil slaap?”

“Want met so ’n nagmaalsnaweek begin al die verrigtinge reeds Saterdagoggende en dit help as ons nie heen en weer plaas toe en terug hoef te ry nie.”

“As jy sê verrigtinge, waarna verwys jy?” So vroegoggend lyk die dorp te stil vir enige verrigtinge.

“Eerste aan die beurt op ’n Saterdag vergader die skietkommando gewoonlik, daarna is dit die boerevereniging, gevolg deur die koshuiskomitee en Saterdagaande is dit die voorbereidingsdiens in die kerk. Sondagoggend is dit biduur, nagmaal, kinderdiens, en laatmiddag die nabetragtingsdiens.”

Sy lag toe hy uitasem stilbly.

Hulle stop voor die kerk en sy sit eers ’n oomblik stil voordat sy die deur oopmaak.

Dis vreemd hoe besig my dae is, skryf sy vir haar ma. Met dié dat ons redelik na aan die pad sit, stop hier baie mense. Soms bure en mense uit die omgewing, maar dikwels ook vreemdes. Soms sal hier ’n man aangeloop kom, dan moet jy maar weet hulle het êrens karmoeilikheid gekry en dan moet ons gaan help. Ons bak soms twaalf brode in ’n week, so baie mense kom hier aan. En dan is daar dié wat op die panne verdwaal. Ma kan nie glo hoe maklik dit gebeur nie. Veral in die nag. Hulle ry en ry tot hulle petrol opraak en dan sien hulle eers die volgende oggend hoe hulle spore al in die rondte loop. Foeitog, soms is daar kinders by en teen die tyd dat iemand hier uitkom, is almal al bleek van die honger en dors. Ek weet ook nie hoe die mense dink nie. Hierdie is nie ’n wêreld wat jy sonder kos en water aandurf nie.

Die huis is nie so gerieflik soos die huis wat ons op die dorp gehad het nie, maar hy probeer dit vir my so gerieflik moontlik maak. Ek weet Ma is bekommerd, maar hy is ’n goeie man vir my. Ons het al goeie vriende gemaak en verlede maand het ons met nagmaal die eerste keer in ons kerkhuisie oorgebly. Dit was ’n baie besige naweek en ek was skoon moeg toe ons laat Sondagaand by die huis gekom het. En hulle praat dat ons later vanjaar ’n konsert gaan hou. Een van die vroue hier is besig om die teks daarvoor te skryf. Ek maak dalk nog ’n draai op die verhoog.

Vandat hy haar vertel het wat sy pa sê, kyk sy met meer aandag na die werkers. Hulle lywe is skraal en seningrig, hulle velle taai gebrand deur die son. Nie bruin soos die mense waar sy vandaan kom of swart soos die mense oor die grens in die Britse Protektoraat nie, maar eerder gelerig. ’n Paar skakerings donkerder as die waaigras op die duine. Saans kom sit hulle daar in die voorhuis. Die oueres op voetstoeltjies, die jongetjies op die grond terwyl hy vir hulle uit die Bybel lees en bid. Sy wonder soms hoe verstaanbaar die Drie-eenheid daar in die lamplig vir hulle is. Hulle is maar twee, drie geslagte weg van Tsui-//goab en Haitsi-aibib. Is dit lank genoeg om te vergeet? Maar omdraaikans is daar ook nie meer nie. Die wêreld om hulle het reeds te veel verander. Daar was al heinings op en die diere het ’n geldwaarde gehad. Hulle voorvaders se jagveld het verdwyn. En dié wat nog daar tussen die duine was, het mettertyd verbaster en verwater tot hulle binne-, buite- en kindermeide was. Die mans dra klere en onderdruk waarskynlik hulle swerf- en jaglus.

Ons het nie van beter geweet nie, sou sy baie jare later vir haar kleinkinders probeer verduidelik toe hulle vra en woorde soos gedwonge kerstening gebruik. Ons het maar geglo ons moet na hulle omsien. Soos ouers kinders versorg. Na liggaam en siel. Terwyl sy praat, het dit gevoel of die sand los onder haar voete word en haar vastrap verswak. As sy van die troos vertel, moet sy ook van die tug vertel en daar is so min van haar geslag oor wat kan help getuig. Sommige sal nie eers meer die vraag verstaan nie. Die paar oorlewendes trek nou maar almal saam met die son al om ’n aftreehuisie of ’n siekeboegkamer. En al waarmee hulle nog oor die veiligheidsmuur en doringheining kan sien, is hul herinneringe.

Soos die dae aanstap, begin haar lyf se vorm stadigaan verander en sy bestel vir haar ’n paar uitrustings uit John Orr’s se katalogus. Die pakkie kom twee weke later met die pos en toe hulle daardie Sondag kerk toe gaan, trek sy een van haar nuwe rokke aan. Toe dit tyd word dat die baba gebore word, gaan sy vroegtydig Upington toe en bly daar by die familie. Dis vreemd om met soveel geluide om haar wakker te word en sy betrap haar dat sy dikwels deur die dag wonder wat op die plaas aangaan. Die seuntjie maak sy opwagting saam met hulle eerste huweliksherdenking. Sy en die baba bly nog tien dae op die dorp voordat hy haar kom haal en hulle die pad plaas toe vat. Toe hulle later die dag op die werf stilhou, kyk hy na haar. Dit is Februarie en die hitte maak golwe op die kalkrand. Sy bly sit tot hy vir haar die deur oopmaak en toe klim sy met die baba uit. Sy dra hom oor haar skouer asof sy vir hom wil wys: die kalkoentjies wat sy langs die paadjie geplant het en wat bolrond staan. Die honde wat stertswaaiend nader hardloop en al rondom haar snuif. Selfs die kat wat stadig van die stoepstoel afgespring het en nou nader stap. En anderkant die heining, die duine.

Hy wens hy het meer woorde gehad, beter woorde, sodat hy eendag vir sy kind kan vertel hoe dit gevoel het om hom vir die eerste keer hierheen te bring, dink hy toe hy die aand na die slapende baba kyk. Na ’n plek waar hy homself ken en verstaan. En aan sy eiewaarde glo. Maar hy weet nie hoe verduidelik ’n mens die vryheid wat saam met grond kom nie.

Hulle slaap die eerste paar nagte binne, maar die tweede week sê sy Sanna-hulle aan om maar weer die beddens op die stoep op te maak. Wanneer die nagte nie afkoel nie, is dit die enigste plek waar daar soms ’n genadige luggie is. Soms laat dra sy die beddens selfs verby die stoep en dan lê en kyk hulle tot laatnag nog na die sterre.

Die papiere dat hy as vrederegter vir die gebied aangestel is, kom op ’n dag met die pos daar aan. “Dit beteken maar net dat ek moet help toesien dat grense eerbiedig word,” verduidelik hy. Die eerste paar keer wat hy moet help om die grense na te ry, kom hy laatnag huis toe. Maar op ’n dag laat weet hy hulle is te ver, hy sal nie kan terugkom nie.

“Moet ek die stoep se beddens opmaak, kleinnôi?”

“Nee, Sanna, ons sal vanaand binne slaap.”

“In dié hitte, kleinnôi?”

Sy weet nie hoe sy vir Sanna moet sê sy sien nie kans om alleen met die baba buite te slaap nie. Sy het ook vergeet van huisgodsdiens, tot sy hulle na ete in die gang hoor en toe sy in die voorhuis kom, sit hulle reeds op hulle plekke. Sy gaan haal die Bybel in die kamer en lees die eerste keer vir hulle en bid soos sy hom elke aand hoor bid. Vir elkeen daar in die voorhuis, hul families, die plaas, die bure, die regering en die land.

Die aand is doodstil en sy sweet onder haar hare toe sy klaar is.

“Dra maar vir my die beddens buitentoe, Sanna,” roep sy voor hulle by die agterdeur uit is. “Dit gaan nie vannag afkoel nie.”

Toe sy met die baba buite kom, gooi sy eers die wit gifkring om elke bed, soos hy haar geleer het. Dis al donker toe sy ’n ruk later die geskuifel ’n entjie verder hoor. Sy sit die flits aan en sien hoe die werksmense hul beddens tot by die hoek van die huis dra.

“En nou, Andries?” roep sy na die oudste een.

“Ons het maar gedink as ons hier kom lê, kan ons luister as kleinnôi ons in die nag nodig het.”

“Dis goed so, Andries, dankie.”

“Nag, kleinnôi.”

“Nag, Andries.”

’n Sekelmaan is besig om oor die boomtoppe op te kom en die doringtakke gooi lang skaduwees oor die werf.

Sy is gewoond aan die besproeiingserwe langs die rivier, nie hierdie duisende morge grond wat tot by die horison strek nie. Sy wonder soms of die regering geweet het daar sal mense wees wat bereid is om hier ’n heenkome te kom soek toe hulle die plase begin uitgee het. Gratis en verniet, op een voorwaarde: Die ontvanger moet die grond bewoon en bewerk en verbeterings op eie koste aanbring. Indien nie, word die grond deur die staat teruggeneem.

Hy is soms so ver in die veld dat hy eers laatnag by die huis kom. Gewoonlik vat hy sulke tye sommer kortpad oor die duine en dan hoor sy die Jeep se dreuning lank voor hy by die huis is.

“Hoe hou jy rigting in die donker as daar nie ’n pad is nie?”

Hy het gelag toe sy dit die eerste keer vra en na die sterre beduie. “Sommer maar so met die Suiderkruis langs.”

Toe die telefoon die oggend lui, tel sy dit niksvermoedend op. Die nuus laat haar daar in die gang op die vloer neersak. Hulle buurman is die vorige nag langs sy vrou in hulle bed vermoor. Sy leef nog. Die moordenaar is een van hulle eie werkers.

Toe sy weer haar bene kan voel, stap sy buitentoe en stuur ’n werker met die perd om hom te gaan roep waar hy besig is om ’n windpomp in een van die kampe reg te maak. Voordat hy egter by die huis is, stop die eerste bakkie in ’n stofwolk op die werf. Kort in sy spore stop die volgende een en toe nog een en nog een, tot die werf later vol voertuie staan. Hulle praat vanoggend ’n harde taal, dink sy toe sy vir Sanna vra om die baba in te neem. Deur die voertuie se ruite kan sy die geweerlope sien. Toe hy met die Jeep stop, is daar nie tyd om te praat nie en toe hy oomblikke later met sy geweer op die stoep uitstap, kan sy hom net vlugtig soen. Sy bly staan ’n rukkie op die stoep voor sy omdraai. En dan sien sy hoe van die werksmense eenkant op die werf in ’n bondeltjie die stofstreep agterna staan en kyk. Sy bly die nag binne-in die huis, met die deure gesluit. Hulle soek heelnag, tot die polisie die volgende oggend laat weet hulle spoorsnyers het hom gekry en dat hy reeds in die selle op die dorp is. Sy sê dit nie vir hom toe hy later die oggend bleekmoeg by die huis kom nie, maar sy is bly die polisie het die moordenaar eerste gekry.

Met die dogtertjie, vier jaar later, is sy haastig om by die huis te kom en na agt dae op die dorp laat weet sy hy kan haar maar kom haal.

“Die kind se brein gaan losskud,” waarsku haar ma. “En wat van jou? Al jou vrouedele is nog nie eers behoorlik terug op hulle plek nie.”

Maar sy lag net en begin inpak.

Dis donker toe hulle op die werf stop. Hy stap voor haar uit om die lampe aan te steek. Toe sy deur die eetkamer loop, waai iets teen haar gesig vas en sy klap daarna, maar toe dit terugkom, trek sy daaraan en die volgende oomblik skakel ’n lig bo haar kop aan. Hy staan met ’n ondeunde glimlag in die deur. Dis toe dat sy eers bewus word van die sagte dreuning buite.

“Jy het vir my lig gegee.”

Hy lag net en neem die baba by haar.

Sy is ’n vreeslike soet kind, skryf sy na ’n maand vir haar ma. Maar in die vierde maand skryf sy oor die kind wat so inkennig is. Sy wil na niemand anders toe gaan nie. Ons hoop maar sy verleer dit. Ons het besluit om haar na Ma te noem, laat weet sy toe dit tyd raak om haar te laat doop.

Nee, my kind, gee haar tog ’n ander naam, skryf haar ma haastig terug. Op die ou end gaan sy ook maar net Kowa word. En dis vir my so lelik.

Maar op die ou end doop hulle haar Jacoba en noem haar Koba. Die inkennigheid wil egter nie beter word nie, en die vriende spot al. Veral oor die planne wat sy maak wanneer daar vreemdes is en sy by haar mense wil uitkom. Dan kruip sy ver ompaaie.

“Wat gaan van die kind word?” vra sy soms moedeloos vir hom wanneer Koba begin huil sodra iemand anders haar optel.

“Gee haar maar kans. Sommige mense neem langer om aan die wêreld gewoond te raak.”

Koba het ’n nuwe gier, skryf sy na ’n jaar huis toe. Sy is steeds stroopsoet en kan haarself vir ure met haar speelgoed vermaak, maar bewaar ons siele as ons haar daar wegneem. Dan huil sy tot haar asem uit is en sy soms blou om die mond word. Dan moet almal met natlappe hardloop. Ma moet dit sien, ’n mens skrik jou boeglam. Nou die aand het ons kuiermense gehad en toe ons haar optel om te gaan bad, was dit weer sulke tyd. Iemand het voorgestel ek gee haar ’n hou op haar sitvlak, wat ek natuurlik summier geweier het. Maar toe sy weer sonder asem in my arms lê, het ek nie geweet wat anders nie en ek het maar so gemaak. En daar vlieg haar oë oop en sy haal asem en hou dadelik op met huil. Kan Ma dit glo? Nou die dag het ek die ganse en hoenders gaan kosgee. Ek het nie gesien sy loop agter my aan nie tot ek ’n gil agter my gehoor het. Een van die gansmannetjies het haar omgespring en nou het sy ’n blou kol op haar maag waar hy haar gepik het. Ek geniet die kinders, Ma. En dis so lekker om hulle hier groot te maak. Ons het sulke goeie hulp. Sanna het vir my ’n oulike kindermeidjie daar van haar plek af laat kom. Vytjie is haar naam en Koba is baie erg oor haar. Ma sal dit nie glo nie, maar die gouste wat ons haar aan die slaap kry, is as Vytjie haar kopdoek oor Koba se oë gooi. Ek weet wat Ma dink, maar Koba is nog heel gesond, so daar kan nie te veel kieme in die kopdoek wees nie. Sy is ook maar nog self kind en is daarom ’n goeie speelmaat vir die kinders. En wanneer die kinders slaap, was sy die doeke en help vir Sanna-hulle met die vloere en die groente se skil. Of sy gaan haal water by die buitetenk. Ma weet mos die werk hou net nooit op nie.

Nie dat Boeta ’n speelmaat nodig het nie. Hy boer al fluks saam met die werkers en saans wanneer hulle die kalwers na die koeie moet neem, kom haal hulle hom, want hy ken elke koei se kalf. Ek weet nie wat van hom gaan word as hy moet skool toe gaan nie, Ma. Die plaas is in sy bloed.

Die einde van die jaar gaan hulle weer see toe en sy laat kom vir Vytjie twee nuwe rokke van die dorp af en toe hulle vroeg die oggend vertrek, sit Vytjie agter langs die kinders. En soos hulle al verder ry, sien sy hoe Vytjie se oë al groter rek. Op die koppie by Mosselbaai lyk dit of Vytjie se oë uit hulle kaste spring toe die see skielik voor hulle lê.

“Vytjie, dink jy die mense by die huis gaan jou glo as jy vir hulle gaan vertel van al die water?”

Vytjie antwoord nie dadelik nie en toe sy antwoord, is haar stem ’n fluistering. “Nee, kleinnôi.”

Vytjie slaap in die klein buitekamer. Daar is ’n enkelbed en kassie in en die eerste oggend gaan koop hulle ’n waskom en beker by die winkel. Saans na ete kom haal Vytjie vir haar warm water in die kombuis. Bedags gaan sy saam met hulle strand toe. Daar is kennisgewingborde op om te sê dat net blankes op die strand mag kom, maar daar is oral kindermeidjies te sien. Solank hulle met die kinders in die vlak water bly en sandkastele bou, kla niemand nie.

Na twee weke by die see gaan hulle Kaap toe. Hulle het albei afsprake by spesialiste en dis ’n goeie geleentheid om darem ’n opvoering en ’n rolprent te sien. Hoe nader hulle aan die stad kom, hoe stiller raak Vytjie, tot haar asem klein wasempies teen die ruit maak. Die hotel sit teen Tafelberg en in die agterplaas is ’n ry buitekamers waar Vytjie saam met die ander werksmense slaap. Bedags gaan sy saam stad toe en saans neem sy vroeg die kinders na die kinder-eetkamer en dan bly sy by hulle in die kamer sodat hulle kan uitgaan of gaan eet.

“Is hier dan nie sterre nie, kleinnôi?” wil Vytjie na drie dae weet.

“Jy kan hulle net nie sien nie. Hier’s te veel liggies.”

“Wanneer slaap die mense dan, kleinnôi? Die ligte brand dan die hele nag.”

“Dis die straatligte, Vytjie. Hulle brand maar so deur die nag.”

Elke aand wanneer hulle die kamerlig afskakel en die wind die stad se naggeluide op teen die berg dra, dink sy aan Vytjie in die buitekamer. Die kindmens wat gewoond is aan stilte en ’n naghemel wat in al sy grootsheid saam met die aandster oopmaak, en sy wonder oor die stories wat Vytjie by die huis gaan vertel.

Die volgende jaar raak die droogte net erger. Bedags hou hy die horison dop en saans bid hulle saam in die voorkamer vir reën. Sy word al stiller, maar hy weet dis nie net die droogte nie. Boeta moet skool toe en dit beteken koshuis toe. Hy het later gewonder of dit die besluit makliker gemaak het. Wat as dit daardie jaar gereën het? Maar dit het nie en ’n mens kan nog vir reën bid, maar jy kan nie die brakwater onder die kalkrand soet bid nie.

Die oppakkery maak haar moeg, so met die derde een op pad. Maar dis die groetery wat haar die meeste vang. Daar in die laaste dae stap hulle dikwels laatmiddag tot op die eerste duin, daar waar hy haar die eerste dag gaan haal het, en van daar sit en kyk hulle dan na die werf tot dit donker word. En na die werksmense wat gelate met die aandwerkies aangaan.

Die laaste aand stap sy nie saam nie en klim vroeg in die bed. Sy wil nie vir hom sê sy het pyn nie, maar toe dit deur die nag vererger, bel hy vroegoggend die dokter.

“Hy sê jy sal nie met die kar kan ry nie. Ek het reeds vir ’n vliegtuig gebel. Daar is genoeg plek vir jou en die kinders. Hulle behoort net na die middag hier te wees. Die dokter sal vir jou by die vliegveld wag en ek en Vytjie sal so vinnig kom as wat ons kan.”

Die vliegtuig land net na een terwyl die hitte golwe op die pan maak. ’n Verpleegsuster klim saam met die vlieënier uit en wil eers weet hoe sy voel. Hulle maak haar gemaklik agter in die vliegtuig en tel toe die kinders in. Maar voor hulle die deur toemaak, roep sy hom.

“Vat vir Boeta saam met jou. Jy en Vytjie kan nie alleen ry nie. Jy weet hoe moeilik dit gaan wees as julle vanaand by ’n padblokkade gestop word.”

Hy tel die seuntjie uit en hulle drie bly staan langs die kar toe die vliegtuig opstyg, een maal laag oor die werf draai en toe suidwaarts koers kies.

Haar ma se stem raak stil en sy sien hoe haar hand haar pa s’n vind. Sy wil haar ma vra of sy gehuil het, maar sy is oud genoeg om te vermoed sy weet wat die antwoord sal wees.

Ons is soos die olienhoute langs die rivier, ons groei diep wortels, het sy haar ma al dikwels deur die jare hoor sê.

“Was Pa al ooit jammer oor die besluit om daar weg te trek?”

Die oumensoë kyk weer in die rigting van die grensmuur.

“ ’n Mens kan nie so omkyk-omkyk leef nie. Jy kom nêrens nie.”

Toe sy vra dat hulle verder moet vertel, skud hulle gelyk hul koppe. “Dis jou vlegwerk.”

“Waar sal ek begin?”

“Net waar jy wil.”

“En wat moet ek alles gebruik?”

Hulle kyk na mekaar en dis haar ma wat antwoord.

“Woorde. Takkies. Gras. Hier en daar ’n klossie wol en ’n donsveer.”

'n Klein lewe

Подняться наверх