Читать книгу 'n Klein lewe - Wilna Adriaanse - Страница 5
Оглавление2
In the name of the Father, and of the Son, and of the Holy Ghost.
’n Mens het twee geboorteplekke, besluit sy toe sy aan die begin dink. Daar waar die wêreld jou die eerste keer gesien het, maar dan is daar ook ’n plek waar jy die wêreld die eerste keer sien.
Sy kan nie die lewe langs die rivier met iets anders vergelyk nie, maar vir haar voel die lewe hier maklik. Soos ’n klip wat in die water gegooi word ál wyer kringe maak, so word sy hier bewus van die wyer kringe wat om haar vorm. In die een naaste aan haar is haar pa, ma, haar ouer broer en die jonger een wat hier gebore is. Maar daar is ook ’n wyer familiekring met ’n oupa en ’n ouma, ooms, tannies, neefs en niggies. En nog wyer strek ’n vriendekring en heel buite ’n dorp vol kennisse.
“Kennisse is mense wat ’n mens groet, maar jy nooi hulle nie noodwendig na jou huis toe nie,” sê haar ma.
En selfs al woon hulle nou in die dorp, is daar weer grond. Nie net die groot erf waarop hulle huis staan nie, maar ook ’n plaas buite die dorp. Haar pa sê die klippe roep hard in hulle familie. Sy dink dit is omdat hulle daarvan hou om hulle arms wyd te swaai as hulle praat.
“Gee ons ’n paar kluite, ’n bees, ’n skaap en dalk ’n hoender of twee en natuurlik ’n paar gewillige hande om die ploeg te help trek en die water aan te dra en ons vra nie veel meer nie,” sê haar oupa. Haar oupa woon langs hulle en teen sononder baklei hulle altyd wie oupa se melkkannetjie gaan wegbring, want daardie een kry gewoonlik ’n lekker. Dan hardloop hulle sommer met die hardgetrapte voetpaadjie deur die wingerd, onder die sementdam verby.
Sy hou van die sigbare seisoene en die seker ritme waarmee dit altyd weer kom. En die rivier.
“As jy lank genoeg langs die rivier sit, sien jy alles,” sê haar ma. “Die oorvloed en die skaarste. Maar jy besef ook die verganklikheid van alles, want met die water onder deur die brug sal die meule nooit weer maal nie.”
Sy weet wat haar ma met oorvloed bedoel, want elke paar jaar kom die rivier af en dan stoot die water ver oor die walle tot net die wit klossies van die katoen uitsteek. Soms is dit selfs hoër en wanneer die rivier dan weer terugtrek, bly daar ’n laag gladde, donker modder in die landerye agter.
“Die rivier kom af. Wie ry saam?”
Haar pa kom hulle altyd haal wanneer die rivier afkom. Dan bondel hy almal in die kar en ry brug toe. Die brug waar sy broer verdrink het toe hy agtien was. Sy wonder soms of haar pa elke keer daaraan dink as hy oor die brug ry, maar sy wil hom nie vra nie. Sy wil ook nie vir hom sê sy dink elke keer daaraan nie of dat sy bang is om op die brug te staan wanneer daardie eerste wal water om die draai kom nie. Wanneer dit die pilare tref, bewe die brug onder hulle voete. Soms maak sy haar oë toe sodat sy nie die bome en die karkasse kan sien wat bo-op die water verbydryf nie. Dikwels kyk sy eerder na die kliprantjie se kant toe. Daar waar die Engelse soldate se grafte sit. Haar ma dra ’n goue muntstuk om haar nek wat ’n ou houtopteller daar tussen die grafte opgetel het en by haar pa kom verruil het vir lampgoed, ’n bietjie twak, ’n paar geldstukke en ’n bord kos. Soms sal haar ma daaraan raak en hardop wonder of ’n ma dit met die groetslag vir haar seun gegee het – of was dit dalk ’n jong meisie se liefdesgeskenk? Daar is nie name op die grafte nie, so hulle sal seker nooit weet nie. Haar pa sê sy sal dit eendag kry wanneer sy groot is.
Sy is altyd bly wanneer die eerste water verby is en hulle huis toe kan gaan.
Oujaarsaande word daar vuurwerke geskiet en haar pa is elke jaar in beheer daarvan. Hy koop altyd ’n groot boks, want hulle is baie mense. Daardie Oujaarsaand laat beland een van die jonger neefs ’n klapper in die boks en binne oomblikke sien jy net mense hardloop. Hulle het na die tyd haar ouma anderkant die draad gekry, sonder dat sy weet hoe sy daar gekom het. Dis lekker as almal lag en die kinders tot na middernag in die strate kan speel, maar soms raak sy moeg van al die gelag en dan wens sy sy kan huis toe gaan.
Nuwejaarsdag word daar piekniek op hulle plaas langs die rivier gehou. Almal wat die vorige aand daar was en selfs nog ’n paar wat van verder af kom. Van vroeg af kom hulle aan. Van die familie bring sommer hulle honde ook saam. Die meeste honde is afstammelinge van haar oupa se hond en aan die manier waarop hulle sterte swaai en hulle dadelik aan mekaar begin ruik, lyk dit of hulle ook bly is oor die weersiens. Kosmandjies is oorvol gelaai en terwyl die sonbesies begin opwarm vir die dag, word daar afgepak, stoele en tafels word onder die reuse-olienhoute en wilgers opgeslaan, komberse word op die lou sand oopgegooi en die kinders plas in die vlak modderwater. Almal weet ’n mens kan nie te diep gaan nie, want daar is maalkolke en strome. Eers wanneer ’n mens groot is, en goed kan swem, waag jy dit tot anderkant die rotsbanke.
Dit was die stroom, het sommige na die tyd beweer. En sy kon nie goed swem nie.
Nee, ’n maalkolk, het ander gesê.
Sonder waarskuwing of laaste kreet het die rivier haar net gevat.
Die groot neefs en jong ooms begin dadelik duik, maar dit is moeilik in die modderwater en die rivier het sy eie tyd. Daar waar sy teen die boomstam staan, knyp sy haar oë toe, soos op die brug wanneer die rivier afkom, maar toe die gille begin, kan sy nie help om te kyk nie. Die lang swart hare dryf eers op die water voordat die liggaam liggies die oppervlak breek en stadig begin stroomaf dryf. Sy luister hoe sommige na die liggaam roep, ander na God, maar dit lyk nie vir haar of iemand meer kan help nie.
Die kerk is stampvol met die begrafnis. Dit was die Here se wil, sê die dominee en sy kyk na die familie in die voorste bank. Die pa en die ma lyk baie ouer as Oujaarsaand toe hulle saam met die ander vir die vuurpyle weggehardloop het. Haar man lyk of hy nie daar wil wees nie en weerskante van hom, amper onder hom ingekruip, sit die kinders, hulle oë groot, en sy wonder of die dominee reg is en of dit rêrig die wil van die Here was. Van die kerk af ry hulle almal stadig in ’n stoet kerkhof toe. Vooraan ry die lykswa met die blomme op die kis. Langs die pad trek motors af en wag tot die laaste kar in die stoet verby is. Mense wat langs die straat stap, gaan staan stil. Die mans lig hul hoede en kyk stil die karre agterna. By die kerkhof val die draers weerskante van die kis in. Die begrafnisondernemer in sy swart pak stap voor. Sy weet nie hoekom nie, want ’n mens kan van ver af die hoop vars grond sien. Terwyl die dominee praat en die kinders teen hul pa se bene huil, kyk sy oor die grafte, verby haar oupa en ouma s’n. Tot by die draadomheining waar flenters papier uit die lokasie vasgewaai sit. En sy sien hoe ’n paar bruin kinders deur die flenters loer.
Na die tyd gaan almal na die pa-hulle se huis vir middagete. Die kinders speel maar buite, amper soos Oujaarsaand. Aan die begin lag hulle nie so hard nie, maar hoe langer hulle speel, hoe verder kan ’n mens hulle weer hoor, behalwe die drie kinders wat op die stoep bly sit. Sy het al mense gesien wat nooit lag nie en sy wonder of die kinders ook so gaan wees. Toe haar pa-hulle haar kom roep, is sy bly om huis toe te gaan en bly dis nie sy wat vandag op die stoep gesit het nie.
En toe op ’n dag moet Vytjie terug huis toe gaan. Na haar mense toe, verduidelik haar ma toe sy vra. Duinewêreld toe. Sy wonder of haar ma bedoel Vytjie gaan na haar familie toe, want sy het al agtergekom soms word daar van iemand se mense gepraat, maar dan beteken dit nie familie nie. Meisie het van toe af by hulle kom werk. Haar vel is baie wit en sy het groen oë en reguit hare. Die grootmense sê Meisie se pa was ’n Italianer. Toe sy haar ma vra wat is ’n Italianer het haar ma gesê dis iemand wat van Italië af kom. Sy weet waar Italië is, want sy kyk graag na die kaarte in die atlasboek. Wat sy nie verstaan nie is hoe ’n Italianer al die pad van oor die see dáár gekom het. Maar sy wonder of Meisie se oupa aan moederskant nie dalk ook ’n Italianer was nie, want haar ma is net so wit soos sy, ook met groen oë. En hulle woon ook nie in die lokasie nie, maar so tussen die lokasie en die wit dorp. Die mense sê Meisie en haar ma is basters.
Sy weet nie of dit is omdat sy van kleins af vir Vytjie en Sanna en Andries en die res gesien het nie, maar al die ver-skillende kleure is nie vir haar snaaks nie. Maar op ’n dag kom haar pa by die huis aan en by hom is ’n man wie se vel die kleur van houtskool het.
“Dis Josef,” sê haar pa. “Hy is ’n Ovambo en hy kom vir ons werk.”
Sy weet sy moet nie kyk nie, maar sy kan nie help nie. Sy het nog nooit iemand gesien wat soos hy lyk nie. En sy ken baie verskillende velkleure. Die witste mense wat sy ken, is hulle Engelse vriende uit die stad. Sy dink haar eie velkleur is baie soos Meisie s’n, maar Meisie kan nie oral saam met hulle ingaan nie. Na ’n ruk kom sy egter agter sy kyk nie meer so baie na Josef nie en sy wonder of haar oë gewoond geraak het aan die kleur van sy vel.
Soos die rivier en die seisoene ’n patroon het, so het hulle dae ook. Maandae maak Meisie die wasgoedmandjie in die badkamer leeg, trek al die beddegoed af en neem alles na die waskamer in die agterplaas onder die opgaartenks. Dinsdae kom iemand anders uit die lokasie help met die strykwerk. Woensdae word die huis groot skoongemaak. Donderdae word alles wat gepoets moet word, op die agterstoep gepak en daar blinkgevryf, of daar word vensters gewas. Vrydae is dit huisskoonmaak vir die naweek en dan ruik die huis na politoer. Dis ook die dag dat daar vir die naweek gebak word. Haar gunsteling is die melktert wat haar ma van haar ouma se resep bak. Die kors wat teen die rande opkrul, bak goudbruin en die melkvla aan die binnekant is dik en swaar. En terwyl dit nog warm is, strooi haar ma kaneelsuiker oor.
Daar word nie in die huis oor geld gepraat nie, daarom weet sy nie of hulle ryk of arm is nie. Maar sy dink nie hulle is arm nie. Hulle het elke dag genoeg kos; daar is selfs twee keer ’n week poeding. Hulle het ’n kar, ’n bakkie, ’n lorrie en ’n trekker op die plaas. Elke Desember gaan hulle see toe en dis baie ver see toe. Hulle ry gewoonlik deur die nag sodat hulle drie kan slaap, want dan is die pad nie so lank nie. En haar ma dra mooi klere. En baie mense ken haar pa-hulle. En haar oupa wat langsaan woon. Daar is mense op die dorp wat baie stil leef, kom sy agter. ’n Mens sien hulle eintlik nooit nie. Haar pa-hulle is nie so nie. Hulle gaan vergaderings toe en help wanneer daar basaar of verkiesing op die dorp gehou word. Soms gaan haar pa vir ’n hele dag weg, dan gaan hou hulle vergaderings op ander dorpe. Een keer ’n maand kom laai sy vriend, Morrie, hom met sy vliegtuig op en dan gaan help haar pa hom om beeste vir sy slaghuis te koop. Morrie is ’n Jood, maar haar ma sê hy en haar pa kon broers gewees het.
Haar ma sê sy moet Sondagskool toe gaan sodat sy volgende jaar gereed sal wees wanneer sy skool toe moet gaan. Dis omdat sy so skaam is en haar ma-hulle is bang sy gaan nie in die skool regkom nie. Sy weet nie presies wat skaam beteken nie, maar sy weet sy hou nie baie daarvan om met vreemdes te gesels nie. Maar dis ook nie net vreemdes nie. Daar is mense in die familie met wie sy ook nie graag praat nie. Hulle maak haar ongemaklik. Die lekkerste is eintlik as sy tussen mense kan wees, maar hulle haar nie sien nie. Of hulle kan haar nog sien, maar hulle moet nie te veel met haar praat nie.
Die kinders in die Sondagskoolklas is ouer as sy en gaan reeds skool. Haar ma het belowe sy sal saam met haar daar bly tot sy tevrede is om alleen te gaan. Sy kan nie besluit of sy daarvan hou of nie. Hulle leer lesse uit die Bybel en moet versies by die huis gaan leer en hardop voor die klas gaan opsê. Daarvan hou sy niks. Wat sy vir niemand sê nie, is dat sy baie bang vir God is. Sy weet hulle gaan haar nie glo as sy vir hulle vertel waar dit vandaan kom nie, want blykbaar kan kinders nie van so vroeg af onthou nie, maar sy onthou baie meer as wat hulle dink. Net soos sy kan onthou dat haar pa met haar op ’n kameel gery het toe hulle nog op die plaas gewoon het én dat hy eendag met haar, voor hom op die perd, oor ’n motorhek gespring het.
Maar die ding met God kom van een Paasnaweek op haar oupa se plaas. Soos Oujaar se vuurwerke en Nuwejaar se braai ’n gewoonte is, so is Paasnaweke op oupa se plaas. Haar pa-hulle is tien kinders, eintlik veertien, maar van hulle is as babas dood, ander toe hulle ouer was. Sulke naweke kom dié wat nog leef van oral af en almal slaan tente op die plaas op en dan word daar gekuier. Die kinders speel stofwolke los, maar die groot lekkerte is Paasmaandag wanneer hulle almal in ’n ry moet staan, tot een van die tannies die teken gee en dan mag hulle begin soek vir die paaseiers wat die paashaas die vorige nag tussen die bossies en klippe weggesteek het. Sy kan nie onthou hoe oud sy was nie, maar een jaar het dit begin reën. Saam met die reën was daar vreeslike kwaai donderweer. Sy kan onthou hoe sy op haar ma se skoot in die tent gesit het. Die gedreun was by tye so erg dat sy begin huil het.
Jy hoef nie bang te wees nie, het haar ma gesê. Dis maar net God wat in die wolke praat.
Dit was die eerste keer dat sy God se stem gehoor het en Hy het vir haar vreeslik kwaai geklink. Sy is nou jammer sy het nie vir haar ma gevra vir wie Hy so kwaad was nie.
In die Sondagskool leer hulle dat God sterker as enige mens is. Dis moeilik om te glo iemand is sterker as haar pa en haar oupa.
Sy het al lankal geweet daar kom ’n baie belangrike man na hulle dorp toe, want almal praat daaroor. En haar pa en ma is die laaste tyd baie besig om te help reëlings tref. Doktor Verwoerd is die eerste minister van Suid-Afrika en haar pa is een van die mense wat hom op die dorp en in die distrik moet rondwys.
Haar ma sê haar pa en oupa is groot Nasionaliste.
Haar pa sê haar ma is ook een, maar haar ma het later vir hulle vertel dat sy eintlik ’n verloopte Sap is. Háár mense was Smuts-mense, maar haar ouma het met hulle troue vir haar ma gesê dis nie die moeite werd om oor godsdiens of politiek van jou man te verskil nie, en daarom het sy toe maar ook ’n Nasionalis geword. En nou sit sy verkiesingstye saam voor die radio en wag vir die uitslae. Soms sit hulle deur die nag en wag, en sluimer net met tye ’n bietjie in, maar sodra die sein kom, is almal se ore gespits. En teen die voordag maak haar ma gewoonlik ’n groot fles vars koffie, want sy weet sodra die dorp se polisiemanne wat op nagdiens was, van diens af kom, sal hulle eers kom stop om die uitslae te hoor.
Die dag van doktor Verwoerd se langverwagte besoek breek uiteindelik aan en haar pa trek sy Sondagpak aan en haar ma ’n nuwe pienk-en-wit pakkie met hoëhakskoene. Al die vroue wat die dag daar is, is deftig aangetrek. As dit dan nie nuut is nie, ten minste hulle Sondagbeste. Die vroue wat lekker kan kosmaak, moes resepte bring en help kook en dié wat mooi kan blomme rangskik, moes deur die dorp se tuine gaan soek en die saal die vorige dag met blomme versier. Die kinders is aangesê om agter die kerksaal te speel, maar sy is te nuuskierig en sorg dat sy naby die hoek van die saal bly. Daarom sien sy toe die stoet motors met die polisie vooraan by die skool verbykom. En sy sien hoe almal tot stilstand kom. Dit is amper soos met ’n begrafnis, dink sy. Langs die pad gaan staan mense. Die mans lig hulle hoede. Party is netjiese hoede, ander weer is laphoede. Sy sien hoe ’n paar bruin mans hul laphoede afhaal en in hul hande frommel terwyl hulle die stoet agterna kyk.
Sy bly loer toe die stoet voor die kerksaal stop en sien hoe ’n gryskopman en ’n klein vroutjie agter uit die swart motor klim. Hy is nie so lank soos háár oupa nie, dink sy en kyk hoe haar pa nader staan en handskud. Aan die manier waarop haar pa sy hand skud, so met sy kop effens vooroor gebuig, kan sy sien hy is baie belangrik.
Haar pa vertrek saam met die stoet verder en hulle kom eers teen middagete weer terug vir die ete in die kerksaal.
“Ek dink die besoek was ’n reusesukses,” hoor sy die aand haar pa vir haar ma sê.
“Doktor en tannie Betsie het na die ete vir ons in die kombuis kom dankie sê,” antwoord haar ma terwyl haar pa haar voete vryf. Haar mooi hoëhakskoene lê voor die kas in hulle kamer.
“Dit was baie bedagsaam van hulle.”
Die volgende aand sit haar pa en oupa buite op die stoep voor haar kamervenster en sy kan hulle hoor praat.
“Wat het Pa van sy toespraak gedink?”
“Ek het daarvan gehou dat hy gesê het ons veg vir ons bestaan en die wêreld moet dit weet.” Haar oupa het ’n diep stem.
“En dat dit noodsaaklik is dat ons die vryheid wat ons wil hê, sal bevrug deur die werk van ons hande en die arbeid-saamheid van ons gees. Sonder harde werk gaan ons dit nie maak nie.”
“Wat dink Pa daarvan dat hy gesê het ons hier in Suid-Afrika het nog nie ons goue eeu gehad nie? Ons is nog maar die bouers van ’n nasie. En dat ons ons eie toekoms moet skep sodat ons nageslag oor vyftig, sestig jaar kan terugkyk na ons en sê, daar was ook in daardie tyd ’n volk vol helde.”
Haar oupa sug eers voordat hy antwoord. “Dis ons bede.”
“Hulle sê hy is nie net ’n slim politikus nie, maar ook ’n knap boer. ’n Man vir wie die naturellevraagstuk ’n groot prioriteit is.” Dis asof haar pa met homself praat en toe hulle stil raak, weet sy hulle kyk so half die verte in, soos hulle dikwels doen wanneer hulle saans op die stoep sit en gesels.
’n Paar weke later kom daar ’n groterige bruin koevert deur die pos en toe haar ma dit oopmaak, is dit ’n vergrote foto waar haar pa saam met doktor Verwoerd staan. Sy kop is effens skeef gedraai, asof hy aandagtig luister.
Toe sy ’n paar middae later van die skool af kom, hang die foto in die gang saam met die ander familiefoto’s.
Op 6 September 1966 is sy by ’n buurkind se verjaardag-partytjie toe die ma kom vertel dat doktor Verwoerd in die parlement deur iemand met ’n dolk doodgesteek is. Tot die ander kinders se verbasing begin sy ontroosbaar huil. Sy weet nie hoe om vir hulle te verduidelik van die foto in die gang saam met die familie nie. Daarom besluit sy om maar huis toe te gaan. By die huis kry sy haar ouers voor die radio, albei se oë groot, en sonder dat sy weet waarom, voel sy meteens bang. Die volgende dag by die skool vertel ’n seuntjie die moordenaar het ’n wurm in sy kop gehad wat hom die moord laat pleeg het. Vir ’n klomp nagte daarna kan sy nie slaap nie.
“Hoe weet ’n mens as daar ’n wurm in jou kop is?” vra sy later haar ma, maar haar ma lag net vir haar en sê sy moet haar nie oor nonsens bekommer nie.
Op Saterdag 10 September sit sy saam met haar ma-hulle voor die radio om na die uitsending van die begrafnis te luister. Daar is selfs mikrofone in die kerk en hulle hoor hoe die dominee uit 2 Samuel 10 lees: Wees sterk en laat ons sterk hou vir ons volk en vir die stede van onse God. Mag die Here dan doen wat goed is in sy oë.
In sy gebed sê die dominee: As ons vyande ons hard wou slaan, kon hulle ons geen gevoeliger slag toegedien het as om hom van ons af weg te ruk nie. Maar as hulle meen dat hulle daarmee ons rug sou breek, dan ken hulle nie die gees van die volk wat ’n Hendrik Verwoerd opgelewer het en waarvan hy die geliefde leier geword het nie. Ons het ’n man verloor, maar goddank ons het die boodskap van sy lewe behou.
Hulle kan hoor hoe die mense sing en hoe die dominee die seën uitspreek. Toe vertel die omroeper dat die draers die kis onder die vlag op die kanonwa laai. Hulle kan selfs hoor hoe negentien kanonskote afgevuur word en die dodemars gespeel word. Volgens die omroeper ry daar veertig polisiemanne op perde met lanfervlaggies langs die kis. Die stoet beweeg stadig van Kerkplein af, maar by die hek van die begraafplaas kan die omroeper nie meer vertel nie, want van daar af mag net die familie by wees. Sy bly sit saam met haar pa-hulle tot die laaste note van die aandsinjaal stil raak.
“Die omroeper het dit goed gedoen. Sy stem het die gewydheid mooi oorgedra.” In haar ma se oë is trane toe sy dit sê.
“Ja, dit was baie stigtelik,” beaam haar pa en sy sien dat sy oë ook blink.
Sy het gewonder of ’n mens in die dorp sal agterkom daar het iets verander, maar die volgende dag en die dae daarna het die lewe tussen die kanaal, rivieroewer en kliprantjies maar min of meer dieselfde gebly. Selfs die foto in die gang het bly hang. By die winkel en kafee staan die bruines en enkele swartes wat op die dorp is, steeds by die buitevenster wanneer hulle wil koop. Die Sondag in die kerk waarsku die dominee weer teen die Roomse Gevaar en toe sy kort daarna saam met haar ma winkel toe gaan, sien sy hoe ’n kind agter sy ma se rok wegkruip toe een van die nonne van die sendingstasie buite die dorp verby hulle loop. In die groot afdelingswinkel sit die toonbankassistente steeds die geld in die klein grys houertjie en dan gly dit al met die oorhoofse draad na die kassiere bo in die kantoor terwyl die klante geduldig op die “geldkarretjie” wag om die regte kleingeld te bring.
’n Paar maande later word daar weer kerkbasaar gehou en die mense staan tou vir ’n pannekoek en ’n kerriesosatie. Die enigste nuwe ding is dat die biblioteek begin het met musiek-aande en haar ma het gesê sy kan saamgaan. Na die tyd kan hulle van die plate koop en sy besluit die mooiste lied wat sy gehoor het, is die Duitse liedjie “Muss I’ Denn”. By die huis gaan spog sy met haar eerste musiekplaat.
Ja, hier teen die rivier gaan die lewe min of meer sy normale gang.