Читать книгу 'n Klein lewe - Wilna Adriaanse - Страница 6

Оглавление

3

It was a childish ignorance, but now ’tis little joy to know I’m farther off from heaven, than when I was a boy.

(Thomas Hood)

Dis donker toe hulle die Kaap nader en hulle kan nie die berg sien nie. Haar ma is baie stil, maar sy huil nie meer nie. Hulle almal het gehuil toe hulle haar oupa en ouma moes groet. En vir Josef en Meisie. En die vorige dag is hulle ook nog eers kerkhof toe om blomme op haar oorlede oupa en ouma se grafte te gaan sit en te groet.

Die vorige keer toe hulle getrek het, was sy te klein om alles te sien en te verstaan, maar nou is sy groot genoeg. En al kom hulle elke jaar ná die seevakansie Kaap toe, is dit hierdie keer anders. Die pad lyk vreemd, want jy weet jy gaan dit nie weer gou ry nie. En wanneer jy dit weer ry, gaan jy nie huis toe nie, maar jy gaan net kuier, sê haar ma.

Sy weet nie wat ’n kettingwinkelgroep is nie, maar haar pa gaan help om een te begin en dis waarom hulle Kaap toe moet trek. Haar pa het hulle in die sitkamer laat sit toe hy vir hulle die nuus vertel. Haar ma was baie stil en haar pa het gesê dit was nie ’n maklike besluit nie, maar dis ’n goeie geleentheid vir hulle.

“Die Kaap het goeie skole.”

Haar ma was ’n rukkie stil en toe knik sy. “Dit sal nie maklik wees nie, want ons almal maak diep wortels, maar die Kaap het sy eie bekoring en ek is seker dit sal ’n interessante nuwe ervaring wees.”

By die losieshuis bly hulle in die kar sit terwyl haar pa eers alleen ingaan en sy sien hoe haar ma die plek bekyk. Dit staan styf tussen ander huise ingedruk.

“Hier is nie eers plek om spore te trap nie,” hoor sy haar ma sag mompel toe haar pa terug in die kar klim.

“Drie maande is darem nie ’n leeftyd nie,” paai haar pa en dan beduie hy dat hulle moet afklim. Op die stoep staan ’n groterige vrou met ’n wolfhond langs haar. Sy sê iets vreemds vir die hond en die hond gaan lê by haar voete.

“Waarom praat sy Duits met die hond,” wil haar ma weet toe hulle in die kamer kom, maar haar pa weet nie.

Hulle het twee kamers in die losieshuis. ’n Grote waar haar ma-hulle slaap en ’n kleiner een vir hulle drie kinders. Die eerste nag lê en luister sy na al die geluide wat sy nie ken nie. Dis ook vreemd om weer saam met iemand in ’n kamer te slaap. By die huis het hulle elkeen hul eie kamer gehad. Die volgende oggend lyk alles vreemd en sy sien haar ma het nog nie ophou kyk nie. Voor die huis staan ’n lukwartboom met klein vruggies aan. Die vrou met die wolfhond sê ’n mens kan die vruggies eet, maar toe sy probeer, spoeg sy dit uit, want dit smaak nie vir haar lekker nie. Sy hou van die stroopsoet sultanakorrels wat hulle somermaande onder die groen wingerdblare pluk.

Die grond agter die huis is sanderig en hoe hulle ook al probeer, hulle kan nie klei daarmee maak nie. Op die ou end vang hulle maar van die baie slakke wat daar is en probeer met hulle resies jaag. Daar is soveel slakke dat elkeen meer as een span kan inskryf. Sy mis grond, dink sy toe sy daardie aand in die bed lê. Veral wanneer die grond nat is, dan ruik dit so lekker dat sy soms sommer ’n stukkie daarvan in haar mond sal sit. Hierdie sand ruik na niks.

Die nuwe skool is nie ver van die losieshuis af nie en haar ma stap soggens saam met haar en middae kom haal sy en haar boetie haar weer. Hulle kom vroeër as die groter kinders uit en daarom kan sy nie saam met Boeta loop nie. Hy het in elk geval reeds weer maats gemaak saam met wie hy middae van die skool af stap.

“Waarom dra jy ’n blou rok?” Die meisie is saam met haar in die klas, maar is langer en groter en sy moet opkyk na haar toe.

“Ek kom van ’n ander skool af.”

“Waarom koop jou ma nie net vir jou ’n groen skoolrok nie?”

“Ek weet nie.”

“Ons is nie seker of ons na die drie maande hier gaan aanbly nie,” sê haar ma toe sy die middag vra. “As iemand vra, sê vir hulle die skoolhoof het gesê julle mag eers met julle ou skoolklere kom. Die kwartaal is te kort om nou ’n klomp nuwe klere te gaan koop.”

Sy is gereed met haar antwoord toe die meisie haar die volgende dag weer vra, maar haar verduideliking is blykbaar nie goed genoeg nie, want die meisie skud haar kop.

“Jy lyk snaaks met die blou skoolrok. As ek jy is, bly ek maar liewer by die huis.”

Sy beny haar boetie wat nog nie skool toe gaan nie en bedags by die huis kan bly. Hier en daar probeer iemand vriendelik wees, maar die meeste kinders het reeds deur die jaar groepies gevorm en daarom verkies sy dit om pouses alleen in die vierkant haar toebroodjie te eet. Dan kan sy kyk wanneer die groot vliegtuig oorkom. Hy is so laag dat sy al die wiele kan sien en vir daardie paar oomblikke is dit asof sy verder as die skoolmuur en die losieshuis se sandgrond kan kyk.

Naweke sorg haar pa dat hulle rondry en die Kaap sien.

“Die Kaap is ’n verleidelike plek,” sê haar ma eendag toe hulle teen ’n steil straatjie teen die berg uitry en afkyk oor die see. “Die Noordweste het aardse kleure, maar hierdie is ’n speelse plek met al die verskillende kleure en geure en aksente.”

Die mense in die Kaap lyk vir haar anders as dié waaraan sy gewoond is. Waar hulle vandaan kom, is dit asof die mense dieselfde skerp kante van die kliprantjies het en hulle lywe is dikwels riemdun en laat haar aan ’n wildsbok dink. En om hulle oë het die son diep plooie getrek. Hier lyk die mense sagter, ronder en hulle praat ook anders. In die Noordweste praat die mense baie mooi en duidelik, byna asof hulle die woorde daar ver in hulle kele gaan haal en dan met hulle tonge so aanrol tot op die lippe. Hier is dit of die woorde sommer so los op die voorpunt van hulle tonge lê. Baie is ook vinnig van tong. Sy luister vir hulle wanneer hulle op ’n Saterdag Parade of blommemark toe gaan. En sy sien hoe party mense gaan stilstaan en dan lag.

In die klas het hulle nou die dag ’n gediggie geleer:

Ma’ mêrim, pô-pô, pô-pô en banana

en juicy drywe yt die hartjie van die Kanaän,

of hoe fancy die mêrim so ’n vy . . .

Almal het gelag.

Hulle eet saans halfses in die losieshuis se eetkamer. Dis ’n groterige vertrek met ’n boogvenster wat straat toe kyk. Dis baie vroeg en haar ma koop brood waarmee sy later saans vir hulle toebroodjies in die kamer maak wanneer hulle weer honger word. Maar op ’n dag ontdek haar ma ’n klein restaurantjie nie ver van die losieshuis af nie en toe hulle die volgende aand weer honger word, laai haar pa almal in die kar en hy gaan koop vir hulle ’n heelgebraaide hoender. Van toe af kan hulle nie wag vir die uitstappie nie en hulle raak nooit moeg vir die hoender nie. Haar ma sê hulle is op soek na trooskos omdat hulle nie in hul eie huis woon nie. Soms hoor hulle hoe kom snuffel die wolfhond by die deur terwyl hulle die hoender sit en eet. Haar pa sê die eienaar van die restaurant is ’n Italianer en sy wonder of hy nie dalk van Meisie se pa familie kan wees nie. Hoeveel Italianers is daar dan in Suid-Afrika?

Aan die einde van daardie skooljaar besluit haar ouers om oor die berg tot in die Breëriviervallei te trek. Dit is naby genoeg aan die stad vir haar pa wanneer hy vergaderings moet bywoon, maar ver genoeg dat ’n mens weer die sterre kan sien. En op die groot dorpserf is dit nie sanderig nie. Hulle kan weer modder maak.

“Ek het Kalahari-kinders,” sê haar ma wanneer mense vra. “Hulle is gewoond om wyd te speel.”

Hier is ook ’n rivier. Van die huis se stoep af kan hulle die effens groener soom sien, maar dis nie so opsigtelik soos daar in die droë wêreld nie. En tog is sy altyd bewus daarvan en wanneer dit in die winter vir ’n week of wat onverpoos reën en die sneeu plek-plek op die berge smelt, oorstroom die rivier ook sy walle. Dan laai haar pa hulle in die kar om te gaan kyk. Hulle is dikwels die enigstes daar. Dis nooit so vinnig en raserig soos die Grootrivier nie. Die vloei is vlakker, wyer, stadiger.

“Julle is niks gewoond nie,” spot haar maats soms as sy vertel hulle het na die rivier gaan kyk. Dan probeer sy verduidelik van droogte wat ’n mens kan sien en van plantjies wat net na die reën opkom. Maar mense wat op sagter plekke woon, verstaan nie altyd nie.

Haar nuwe skool is ’n meisieskool en sy wens elke dag sy kan liewer by die huis bly. Sy is nie gewoond aan soveel meisies nie. Hulle stemme klink anders en hulle praat ander dinge as die seuns.

“Hulle maak my bang,” sê sy toe haar ma haar vra. “En ek verstaan hulle nie altyd nie. Die een dag praat hulle met my, maar die volgende dag hardloop hulle weg as ek nader kom.” Wat sy nie vir haar ma of enigiemand anders vertel nie, omdat sy bang is hulle lag vir haar, is die droom dat sy saam met haar broers kan skool toe gaan. Net sy. Dis altyd moeilik wanneer sy na so ’n droom wakker word.

Van die vroue wat by haar pa-hulle werk, dra lang doeke oor hulle hare. Hulle lyk soos die bruin mense, maar haar pa sê hulle is Moslems en hulle gaan na die kerk met die ronde torinkie waar ’n man met ’n lang wit rok soms op die balkon uitkom en hardop roep.

“Dis die imam wat hulle herinner om te bid,” verduidelik haar ma. Sy is nie seker vir wie hulle bid nie, maar hulle het baie mooi name: Moena, Ibrahim, Nazeed, Nabu.

Moena bak die lekkerste sjokoladekoek wat sy al ooit geproe het en toe sy verjaar, bak Moena vir haar ’n sjokoladekoek wat soos ’n hart lyk. Sy kook ook baie lekker kerriekos wat anders as haar ma s’n ruik en proe, en haar ma gaan gee soms vroegoggend kosbakke daar af en dan gaan haal hulle dit laatmiddag.

Haar ma sê die vreemde reuk in die huis is van al die speserye waarmee hulle kook.

“ ’n Mens kan van die vloere af eet,” hoor sy haar ma vir haar pa sê nadat hulle die eerste keer daar was.

Soms bring Moena self die kos en dan nooi haar ma haar in en hulle sit in die kombuis en haar ma maak tee. En hulle drink uit die gewone kombuiskoppies, nie die bekers onder die wasbak waaruit Japie die tuinjong of Maria die bediende drink nie. Toe sy haar ma eendag vra, sê haar ma iets van ’n beter tipe en daarna het sy nooit weer gevra nie, want sy kan sien haar ma sukkel om daaroor te praat.

Soos toe sy kleiner was, daar langs die kanaal en die Grootrivier, kry hulle lewe hier tussen die berge en wingerde ook mettertyd ’n patroon.

“Ek gaan nooit aan hierdie nat winters gewoond raak nie,” kla haar ma dikwels gedurende daardie eerste winter. “Wat maak die mense hier met die kinders in die winter?”

Sy hou nogal daarvan as die reën so ’n paar dae lank oor die vallei hang. Dan word die vuur in die sitkamer al vroeg-oggend opgesteek en kan sy middae na skool daar lê en boeklees. Dis vreemd om te dink die jakarandas voor die huis wat heeltemal kaal staan, gaan ooit weer blare kry.

“Wag vir die lente en jy sal hulle nie ken nie,” lag haar pa wanneer sy vra.

Soms ry hulle op ’n Sondag om na die watervalle in die berg te kyk.

“Waarom is ons so behep met water en dink jy ons sal ook eendag nie meer kyk nie?” vra haar ma toe hulle weer eendag uitry om te kyk hoeveel dit gereën het.

Haar pa het nie dadelik geantwoord nie. Eers net die wêreld om die motor sit en bekyk, terwyl die motorbande op die nat pad suis en die ruitveërs heen en weer op die voorruit swaai.

“Nee, want ons ken dors.”

Sekere dinge het nie verander nie. Hulle gaan steeds elke Sondag kerk toe en sit aan die linkerkant van die kerk en haar pa bekyk nog elke Sondag die mense aan die regterkant asof hulle op ’n dwaalpad is. Haar ouers werk hier ook vir elke basaar, skoolkermis en verkiesing. En hulle stem steeds Nasionaal.

Onder hulle in die straat woon Engelse mense en die pa is die leier van die Sappe op die dorp. Bloedsappe, sê haar pa. Toe dit weer verkiesingstyd is, ry sy en haar maatjie met hul fietse daar verby en skreeu kliphard: “Sappe!”

Sy weet nie hoe haar ma daarvan uitgevind het nie, maar sy was baie kwaad en hulle het dit nie weer gedoen nie. Na die verkiesing vergeet ’n mens in elk geval weer sulke dinge.

Sy dink nie sy hou daarvan om ’n kind te wees nie, besluit sy toe sy een aand op haar bed lê, haar kamerdeur op knip getrek. Daar is te veel dinge wat ’n mens nie weet nie en dan doen en sê jy verkeerde goed. Soos toe sy vanmiddag saam met haar pa by die werk was en ’n swart man hom kom soek het en sy hardop haar pa geroep het.

“Pa, hier’s ’n kafferman wat na Pa soek.”

Toe hulle huis toe ry, het haar pa na haar gekyk en sy gesig was ernstig.

“Ek wil nie hê jy moet die woord kaffer gebruik nie. Dis nie ’n mooi woord nie.”

“Wat moet ek hom dan noem?”

“Dis ’n bantoe of ’n swart man.”

By die huis het sy kamer toe geloop en op haar bed kom lê en lees, maar die woorde wil skielik nie sin maak nie en nou lê sy sommer net. Sy het al gehoor haar ma gebruik die woord skaamkwaad en dit is hoe sy voel. Soos met die Sappe-skreeuery, voel sy nou skaam sy het dit gedoen, maar sy is ook kwaad omdat niemand dit nog vir haar gesê het nie. Almal praat dan van kaffers. Hoe gebeur dit dat ’n woord wat een dag nog gebruik word, die volgende dag ’n ander betekenis kan hê. Wat dan van die woord blankes? En wat van hotnots? En as dit nie ’n mooi naam is nie, waarom is dit gegee?

En vir wie moet sy vra? Sy is nie een van daardie kinders wat sommer net vra nie. Dis makliker om soms maar net te kyk.

Dis vreemd dat haar ma ook nou werk, veral omdat hulle ver van die middedorp af woon en sy nie sommer daarheen kan stap nie. Soms kom haal haar ma haar vir balletklas of musiekoefening, maar die meeste van die tyd stuur hulle vir Jaffer. Hy kom laai haar by die huis op, neem haar en wanneer sy klaar is, kom laai hy haar weer op. Hy is bruin, maar sy is nie seker of hy dalk Moslem is nie. Sy het nog nooit so ’n naam gehoor nie. Hy maak altyd vir haar die motor se agterdeur oop wanneer hy haar kom haal. Van die kinders spot haar wanneer hy haar aflaai, maar sy gee nie om nie. Hy is vriendelik en praat mooi met haar, soos Josef altyd gedoen het.

Al is dit nie altyd vir haar lekker om ’n kind te wees nie, is die lewe hier bo teen die bult maklik. En haar pa was reg oor die jakarandas. Toe dit lente word, het die blare teruggekom en stadigaan het die pers blommetjies hulle verskyning gemaak. Die voëls keer ook weer terug van hulle oorwinterplekke en dit kweel en kwetter in die bome. Hulle fladder en vleg en bou ywerig neste. Smiddae kan hulle kinders nou onder die bome speel, of in die straat, maar van die lekkerste is wanneer hulle Vrydae die kaskarre se wiele afstof en olie. Langs hulle woon mense wie se kinders so oud soos hulle is en dis maklik om sommer oor die draad na mekaar toe te klim.

Sy dink nie alle kinders se lewe is so maklik nie. By haar in die klas is ’n kind wie se ouers gaan skei en een wie se pa na ’n inrigting in die Kaap gestuur is sodat hy kan ophou drink. Dié kind het nou die dag in die klas begin huil en die juffrou het gesê hulle moet haar uitlos en nie allerhande vrae vra nie. En by hulle in die kerk is ’n meisie wat ’n baba gaan kry, maar nie getroud is nie en nou mag sy blykbaar nie meer kerk toe kom nie. Sy het gehoor toe haar ma-hulle daaroor praat. Sy het ook gehoor toe haar pa vir iemand vertel van die Joodse man in die Kalahari wat ’n kind by sy swart vrou het. Hy wou nie die kind na die nie-blanke skooltjie stuur nie, maar die wit skole wou hom ook nie aanvaar nie. Op die ou end het die man sy kind na ’n privaat skool in Johannesburg gestuur.

“Ai, dit kos my tog baie duur om van Sammy ’n wit kind te maak,” het die man by haar pa gekla toe hulle nog daar gewoon het.

Sondagaande luister sy saam met haar broer in sy kamer na LM-radio se Top 20. Haar broer sê dit word uit Lourenço Marques uitgesaai en dit is waarom die klank so vreemd klink, asof dit in golwe aankom.

Haar pa moet dikwels Kaap toe gaan. Wanneer dit skoolvakansie is, kan hulle soms saamgaan. Maar sy kan nie glo toe haar ouers die oggend sê sy mag saam met haar broer Hippiemark toe gaan en daarna ’n fliek met die naam Woodstock gaan kyk nie. Die Hippiemark is in Loopstraat en dit ruik na wierook toe hulle instap. Oral teen die mure is plakkate van rolprentsterre, musiekmakers en ander mense wat bekend is. Die plek is in stalletjies verdeel en elkeen verkoop iets anders. Sy koop vir haar ’n paar rooi raffia-sandale, ’n leerbandjie vir haar arm en ’n silwer Peace-teken. En in die fliek sit sy doodstil en kyk. Dit gaan moeilik wees om vir haar maats te vertel wat sy alles gesien het.

Op pad huis toe ry hulle verby Distrik Ses en sy vertel dat sy gehoor het ’n verpleegster wat in haar uniform is, kan in die middel van die nag dwarsdeur dié gebied stap sonder om iets oor te kom.

“Ek sal nie so ’n kans waag nie,” sê haar pa. “Dis ’n skollie-nes.”

“Is almal wat hier woon skollies?”

“Nee, almal is seker nie skollies nie, maar hier is baie en dis waarom dit so ’n gevaarlike plek is.”

Sy het nog ’n hele ruk deur die motor se agterruit teruggekyk. Soms dink sy sy wil ook eendag ’n verpleegster word.

En toe een oggend is die koerante vol van die dokter by die Groote Schuur-hospitaal wat ’n hart oorgeplant het. Haar pa sê die nuus gaan wêreldwyd opslae maak en dit is ’n groot deurbraak vir Suid-Afrika. Maar toe haar oom-hulle ’n rukkie daarna terugkom van ’n vakansie in Europa, vertel hulle dat hulle ’n paar keer uit winkels gejaag is omdat hulle Suid-Afrikaners is.

“Ons het baie lank gevlieg, want al die Afrika-state het hul lugruim vir Suid-Afrika gesluit, wat beteken ons moes om die bog van Afrika vlieg.”

Toe haar tannie-hulle weg is, haal sy hulle groot atlas uit en kyk na die kaart van Afrika. Dis ’n groot stuk lug wat toegemaak is.

Juffrou sê hulle mag nie politiek in die klas praat nie, maar die oggend nadat die Amerikaners op die maan geland het, mag hulle ’n rukkie lank in die klas daaroor praat. Toe een van die kinders in die klas egter vertel dat haar ouer suster sê in Amerika het ’n groep vroue hulle bra’s verbrand, het die juffrou hulle ergerlik stilgemaak en gesê dis sommer nonsens.

Nou kyk sy saans na die maan en sy verbeel haar dit lyk nie meer dieselfde nie.

Die eerste teruggaan na die Grootrivier is toe nie om te gaan kuier nie, maar om begrafnis te gaan hou. Haar ouma het onverwags aan ’n beroerte gesterf. Die Saterdagmiddag toe hulle met die nuus bel, was daar ’n Tupperware-partytjie by hulle huis aan die gang en haar pa was rugby toe. Haar ma moes haar vriendinne nooi en ’n vrou het met ’n kar vol plastiekbakke daar aangekom en so tussen koffie en eetgoed verduidelik waarvoor ’n mens alles die bakke kan gebruik. Sy het nog nooit haar ma so sien huil nie, nie eers toe hulle getrek het nie. Haar broers was ook nie by die huis nie en iemand het met haar op en af in die straat gaan stap, terwyl sy net by haar ma wou wees. Sy weet nie waarom mense dit doen nie, want sy onthou die dag langs die rivier is hulle kinders ook in ’n kar gelaai en dorp toe geneem, terwyl sy by haar ma wou wees.

Hulle trek net na middernag by die huis weg. Haar pa het vir hulle met komberse en kussings ’n bed agter in die kar gemaak, maar sy raak nie dadelik aan die slaap nie. Hulle praat en vroetel nie soos altyd wanneer hulle met vakansie vertrek nie. Dit is doodstil in die kar en sy sien haar ma sit met toe oë.

Sy moes deur die nag aan die slaap geraak het, want toe sy wakker word, is die wêreld dor en net hier en daar is ’n verlate windpomp te sien. Net toe die son uit is, stop haar pa by ’n uitdraai met ’n betontafeltjie. Hulle laai die houer padkos agter uit die motor en pak dit op die tafeltjie uit. Die frikkadelle, toebroodjies, hardgekookte eiers en vetkoeke met die appelkooskonfyt en kaas het alles deur die nag koud geword, maar hulle is honger. Hulle staan sommer so om die tafeltjie en eet. Haar ma drink net koffie en sy hou die warm beker met albei hande vas terwyl sy ’n entjie wegstap. ’n Ligte windjie waai koud oor die vlakte en ’n paar vlieë zoem om die vuilgoedhouer wat aan die grensdraad vasgemaak is. ’n Ent verder staan ’n troppie skape met hul boude na die opkomende son gedraai.

Net een bakkie kom verby terwyl hulle daar staan en die man agter die stuur toet en lig sy hand. Daarna raak dit weer stil en haar pa sê hulle moet begin klaarmaak.

Die werf lyk verlate toe hulle daar stop en die rankwingerd het reeds sy blare verloor. In die somer maak dit ’n koel tonnel waar hulle graag gespeel het. By die agterdeur staan ’n halfgeroeste blikskotteltjie onder die kraan. Elke druppel water is kosbaar, het haar ouma altyd gesê, selfs al is dit net genoeg vir die akkedisse en geitjies. Die skotteltjie is vandag leeg en warm gebak.

Binne die huis lyk dit soos sy onthou, alles is nog daar, en tog voel dit nie dieselfde nie. Sy raak vlugtig aan die swart stoof, maar dis koud. Sy sien hoe haar ma van vertrek na vertrek loop, maar sy steek in haar ouma se kamerdeur vas en staar lank na die dubbelbed met die houtkopstuk. Aan die kant waar haar ouma altyd geslaap het, maak die beddegoed ’n effense holtetjie en ’n fyn kreukel.

Toe haar ma-hulle later die oggend na die lykshuis toe gaan, ry sy saam. Hulle wil haar eers buite laat bly, maar op die ou end laat hulle haar saam ingaan. Haar ouma lê reeds binne-in ’n kis en dit lyk asof sy slaap. Haar ma soen haar ouma se voorkop en huil toe teen haar pa se bors.

Die volgende middag staan almal in die kerk op toe hulle agter die begrafnisondernemer met sy swart pak die kerk instap. Die dominee praat lank en sy probeer nie eers luister nie. Sy kan voel hoe haar ma liggies teen haar bewe en sy wonder of sy enigiets kan hoor. Op pad graf toe ry hulle net agter die lykswa. Terwyl die dominee by die graf praat, probeer sy die nuwe grafte tel. Daar het nogal baie mense doodgegaan vandat hulle weg is. Teen die draad staan ’n paar bruin mense. Die mans met hul hoede voor die bors. Sy herken vir Maria wat by haar ouma gewerk het. Die plooie op haar gesig lyk vandag selfs van hier af dieper as gewoonlik.

Haar ma huil nie toe hulle twee dae later oppak om huis toe te gaan nie, maar sy praat baie min op pad.

’n Jaar later is dit haar pa wat stil is toe hulle weer een nag die pad Noorde toe moet vat. Sy pa is die middag oorlede. Toe sy in die nag agter in die kar wakker word, sien sy haar ma bestuur en haar pa sit met toe oë langs haar. Net na sonsopkoms stop hulle weer op dieselfde plek en haar ma pak die padkos op die betontafeltjie uit. Die son is skaars uit, maar dis reeds warm en hier en daar is ’n sonbesie al hoorbaar.

Daar is reeds van die ander kinders toe hulle by die werf indraai, maar haar oupa se stoel op die stoep is leeg. Hy het altyd daar vir hulle gewag. Die kinders en kleinkinders kom deur die dag aan en die huis en werf raak al besiger en raseriger. Dis vreemd om te sien hoe daar soms gelag word, maar uit die lag sal iemand iets onthou en dan loop die trane.

Haar ma sê haar pa se mense lag wanneer hulle wil en huil wanneer hulle wil. Sy sê dis waarom hulle so oud word.

Twee jaar later met haar niggie se begrafnis is sy een van die slippedraers. Haar niggie was negentien jaar oud toe ’n dronk man een aand voor haar ingery het. By die graf stap sy saam met die ander niggies, almal in wit geklee, agter die draers. Sy kan nie verstaan waar die woord slippedraer vandaan kom nie, want daar is beslis niks om te dra nie. Geen sleep of sluier nie.

Op pad terug huis toe is albei haar ouers stil en sy wonder of hulle bang is een van hulle kinders gaan dood. Sy wonder of haar ma ook so na hulle sal bly roep soos haar tannie wat die hele nag geroep het.

'n Klein lewe

Подняться наверх