Читать книгу Die verdwyning van Mina Afrika - Zuretha Roos - Страница 4

Klein Mina, 1945

Оглавление

“Here, baas, het baas nie raad vir my nie?”

Gert Afrika staan met die kleuter op sy arm voor die agterdeur. Grys reënslierte, aangedryf deur ’n koue noordwester, sleep oor die Vallei se kaal wingerde. Die berge is halfpad bedek met sneeuwolke. In die agterplaas is die sement blinknat. ’n Skrefie kil sonlig glip vlugtig oor man en kind en verdwyn dadelik weer.

In die oop kombuisdeur, op die boonste trap, staan Erik de Graaff en suig aan sy pyp. Hy staar ietwat hulpeloos na Gert en sy dogtertjie.

“Ek kan nie lat sommer enigiemand na my kind kyk nie, baas! Baas ken die spul! Dis heeldag dronknes en messteek … Sy’s nou al wat ek oorhet van my eie, baas! Kyk net watse mooie kind is sy!” Gert se oë is blink van trots. Of is dit trane? Hy trek die pienk wolkappie terug van die kind se gesiggie. “Sy’s nog nie vol drie jaar oud nie. Wat gaan ek doen, baas? Ek kan haar nie oppas nie; ek het my werk!”

Erik haal sy pyp uit sy mond en blaas rook die klam winterlug in. “Gert, man, ja …” Hy frons en kyk af op sy velskoene; wens Gert wil koers kry met die kind, wens dat “die baas” nie altyd vir elke bagatel bygesleep word nie. Hoe sal hy nou raad hê met Gert se kind?

Maar dan weer: Gert is een van sy knapste en betroubaarste werkers. Gert is ongetwyfeld intelligent en iemand op wie hy altyd op Goedemoed se werf kan staatmaak, al steek hy sy dop op sy tyd.

Die afgelope jare het die noodlot Gert egter sleg gery. Eers sterf sy twee broers in ’n grusame bakkie-ongeluk in Bainskloof, en toe is sy tenger vrou kort na Minatjie se geboorte aan haar hart dood. Die kleintjie moes na ’n ouma in die lokasie bokant die dorp, maar nou is dié ook dood. Erik is bewus van Gert se string meisies, maar aan een van hulle kan hy sy kind nie toevertrou nie.

“Wat van Tietser Meraai, Gert? Kan sy nie uithelp nie?”

“Ek was al by Tietser, baas. Sy vrek oor my meisiekind, en sy het gesê as ek niemand kry wat ordentlik na Minatjie kan kyk nie, sal sy uithelp. Maar sy’s darem al oud vir kind grootmaak, baas. Sy’s 78 en sy kan nie meer agter ’n kleintjie aanhol nie. Ek weet darem nie: dis nie fair om so ’n woelige kind op ’n oumens af te laai nie. En die Keurbosspruit loop so naby haar huis verby, netnou versuip my kind!”

Erik sug en trek aan sy pyp. Arme ou Tietser is seker te oud vir kleuters. Hy frons en gaan sit op sy hurke in die kombuisdeur. “Waar’s jou ma dan deesdae, Gert? En het jou een broer nie ’n vrou gehad nie?”

Gert kyk weg. “My ma, baas …? Nee, my baas: sy bly op Touwsrivier by ’n stokou man en … en … sy is besig om haar dood te suip, baas! En my broer se jong vrou het gou weer man gevat na hy afgesterwe is. Sy’t lankal ’n kleintjie, en nog een is op pad. Ek laaik haar ook nie. Baas moet haar huis sien: vuil, baas. Vieslik!”

Sara de Graaff het agter haar man kom staan; ’n deel van die gesprek gehoor. Sy kyk sonder veel erg na die man met die kleuter op sy arm. Dan betrag sy die kind met meer aandag. Sy lyk snoesig in ’n ouerige pienk wolpakkie en het groot, lewendige ligbruin ogies. En haar velletjie, dink Sara, lyk kompleet soos ’n koppie koffie halfvol Jerseyroom.

Die kind kyk op na Sara, hou haar koppie skuins om die vrou beter te beskou, en lag dan meteens sodat twee diep kuiltjies in haar wangetjies verskyn.

Sara druk by Erik verby en stap met die vier treetjies af. Die reën begin weer fyn neersif. Onwillekeurig steek sy haar arms na die kind uit, en Minatjie val gretig na haar toe asof sy hunker na ’n vrou se vashou.

Sara druk haar wang teen die ronde gesiggie en ruik babapoeier. Sy voel-voel met haar een hand aan die vet armpies, die stewige lyfie. Hongerig beskou sy die ronde handjies met die klein duikies op die handruggie onderkant elke vingertjie. Dan druk sy die kind teen haar vas. “Ek sal na haar kyk! Erik, kom ons vat haar, net vir ’n rukkie! Asseblief! Sy’s pragtig!”

Die kind steek ’n handjie uit na Sara se blombont rok en gryp na een van haar dik bruin haarvlegsels: lag meteens ’n helder klokkielaggie. Gert en Erik kyk na die vrou en kind met die fyn reëndruppeltjies in hul hare. Sara dra Minatjie kloekend die warm huis binne.

Toe Sara met die kind die huis in is, kom Erik orent en stap af na Gert. “Jy weet natuurlik ons kan nie regtig na Minatjie kyk nie, Gert … Laat ek en Sara oor jou probleem praat. Miskien kan sy en Tietser Meraai saam ’n plan maak …”

Erik kry Sara in die byna leë kinderkamer. Sy sit op die enkele meubelstuk: ’n divan met ’n blou oortreksel. ’n Elektriese verwarmer staan voor die bed, en sy maak steeds babagesels met die kleuter op haar skoot.

Erik druk sy hande in sy broeksakke en kyk ’n rukkie na die vrou en kind, wat beide na hom oplag. Dit laat hom meteens ongemaklik voel. “Sara …” Hy klink effens bot. “Jy kan nie Gert se kind hier hou nie.”

Sara se donker oë trek nou. “Hoekom nie?” Daar is iets soos die waarskuwende sis van ’n wildekat in die twee woorde. Sy lig die kind dadelik beskermend teen haar bors.

“Sara, jy weet goed hoekom nie …”

“… Ek het gesê, vir Gert gesê, ons vat haar ’n rukkie! Kyk na haar, Erik! Kyk die heldere, intelligente ogies! En sy’t my sommer aanvaar … net so!” Sara kyk verwonderd na Minatjie. “Dit lyk my ook die ouma het haar goed versorg …”

Die kind kyk op in Sara se gesig, en draai dan haar hele lyfie na Erik, wat teen die deurkosyn leun. Sy kyk hom deurdringend aan, en die ronde gesiggie gaan oop in ’n breë glimlag wat die kuiltjies diep in haar wangetjies indruk.

Erik voel hoe hy vermurwe. ’n Bruin kind, nogal! Die Here weet, hy smag na kinders! Maar ’n bruin kind hier in sy huis! Dit sal net nooit deug nie.

Die drang om die kind van Sara se skoot op te raap en teen hom vas te druk, net om die babalyfie te voel, maak dat hy hom vinnig omdraai en wegstap.

Erik de Graaff boer met uitvoerdruiwe in die middel van die Vallei, op sy erfplaas reg langs die dorp.

Sara Schultz was destyds hoegenaamd nie die soort vrou wat Aletta de Graaff vir haar oudste seun sou gekies het nie. Sara was ’n stadsmeisie wat, van alle nuttelose en onvanpaste kursusse, kuns studeer het aan die Universiteit van Kaapstad.

Stefaans – Aletta en oorlede John se jongste seun en enigste ander kind – was besig met sy regstudie aan Ikeys. Een wintervakansie het sy verloofde, Julia Marais, op Goedemoed kom kuier, en vir Sara Schultz saamgebring. Tot Aletta se ontsteltenis het Erik onmiddellik verlief geraak op die onkonvensionele meisie met haar sigeunervoorkoms. Sara was “uitlands” en liberaal en beslis totaal onaanvaarbaar.

“Ma …” het Erik gepleit, “moenie so bevooroordeeld wees nie! Sy’t as klein kind na Suid-Afrika gekom! Sy praat vlot Afrikaans! Sy sal na ons kerk ook oorkom, Ma!”

“Sy sal nooit hier by die boeregemeenskap inpas nie!”

Maar Erik was vasberade. Hy wou Sara hê. Hy was mal oor die vurige meisie met haar dik vlegsels en rooi wange, oor haar onafhanklike persoonlikheid – so anders as die vaal, onderdanige meisies wat hy ken …

Hulle is dieselfde Desembermaand nog, nadat Sara afgestudeer het, in die Groote Kerk in Kaapstad getroud.

Gedurende die eerste jare van hul huwelik het Erik en Sara in een helfte van die groot ou Victoriaanse plaashuis gewoon en Aletta de Graaff in die ander helfte, waar sy vandag nog woon.

Aletta de Graaff moes Sara as skoondogter aanvaar, maar teenoor haar vriendinne het sy gebrom. Sara was te mooi, te aards en te onkonvensioneel om ’n Afrikaner se vrou te wees. ’n Regte boervrou sou sy nooit wees nie! Verbeel jou, sy swem sommer in die dam waar die volk haar kan sien! Vee die klôgoed se snotneuse af daar by die stoor waar hul ma’s druiwe pak … Dra rokke met lae halse en sy het nogal ’n bust soos Mae West.

Nee, ’n boer se vrou moet, meen Aletta, aan sekere ononderhandelbare vereistes voldoen. Sy is vaardig met huiswerk, naaldwerk en koskook. Sy bak haar eie brood, al is dit met die Gowwermint se oorlogsmeel …

Hierdie dinge, soos Aletta voorspel het, kan of wil Sara nie doen nie. Sy skets of skilder eerder in die vertrek wat Erik vir haar in die solder van een van die skure laat inrig het, kompleet met dakvensters. Een enkele ligpunt is dat sy darem sonder teëstribbeling Sondae kerk toe gaan saam met Aletta, haar twee seuns en Julia.

Wanneer daar in die winter bees en vark geslag word, vat Sara Erik se motor en ry na haar ma in die Kaap. “Ek gril my dood vir bloed en dooie vleis …”

Hieroor is Aletta gereeld hoogs verontwaardig. “Verbeel jou! Mors kosbare petrolkoepons in plaas van te help wors maak en te leer seep kook!”

“Jou ma moet ophou om haar idees oor ‘Kinder, Küche und Kirche’ op my af te dwing!” kla Sara gefrustreerd. “Ek sit reeds teen my sin elke Sondag in julle kerk!”

Maar die toppunt van hierdie skoondogter se tekortkominge is haar onvermoë om swanger te raak.

Ná ’n paar jaar van skimpe verduur, besluit Sara dis alles Aletta se skuld. Sy wil nie langer in ’n deelhuis woon waar haar skoonma elke dag klokslag oor die lang rooi voorstoep kan stap na haar kant om te loer wat sy doen of nalaat nie.

Dus laat bou Erik maar bo teen die dorpsgrens, in ’n hoek van die melkbeeste se groot weikamp, ’n nuwe huis vir hom en Sara.

Uit hul slaapkamer en die groot sitkamer het hulle ’n pragtige uitsig oor die kamp, die gronddam met die reusebloekoms op die walle, en Aletta se Victoriaanse plaashuis met die skure en wingerde. En daaragter strek groen morge wingerdplase tot teen die indrukwekkende berge.

Erik se voorman trek in die deel van die huis wat Erik en Sara bewoon het in, en Aletta moet nou met die pad langs die weikamp opstap om te kom kuier.

Maar die nuwe huis maak geen verskil nie: Sara en Erik bly kinderloos.

Op ’n koue, grou dag in Julie 1945 neem Sara klein bruin Jacomina Afrika in haar huis in en raak teen alle aanvaarde norme in verlief op die oulike kleuter.

Aletta de Graaff het by haar bediendes gehoor van die dood van Gert Afrika se skoonma, en hoe Gert naarstiglik na ’n oppasser vir die klein Mina soek, maar nie sover kom om iemand te vertrou met die kind nie.

“Gert is sommer betjoins!” vervies Aletta haar. “Die hele lokasie is vol vrouens wat nie werk het nie. Hier op die plaas ook. Hulle sit heeldag in die son voor hul huise …!”

En dis Ida, haar kok, Wienet die binnemeid, en klein Gloria, haar stuurmeidjie, wat mekaar een oggend vroeg dwars in die rede val om te vertel dat Sara Gert se kind ingeneem het. “En … en … en,” hakkel klein Gloria met groot oë en hou Aletta se gesig dop, “en sy s-slaap in nôi S-Sara se kinderkamer!”

Maar dit reën byna ’n week aaneen, en eers toe die weer eindelik opklaar en ’n waterige son op die talle watervalle en strome teen die berge blink, trek Aletta ’n warm gebreide baadjie aan teen die sneeubries en stap met ferm treë met die oorspoelde plaaspad langs die weikamp op na Erik en Sara se huis. Hierdie blessit onsin sal moet end kry: ’n bruin kind in ’n slaapkamer in haar seun se huis! Wat op Gods aarde sal die mense sê?

Voor die agterdeur vee sy haar skoene onnodig deeglik af teen die klapperhaarmat; sy soek steeds na woorde om soos klippe na Sara te gooi.

Onverwags maak Sara self die agterdeur oop en hou die sifdeur vir haar oop. Sy het die kind op die arm. “Kom binne, Ma! Dis snerpend koud met die sneeu op die berge!”

“Middag, Sara. En hier staan jy met Gert se kind?”

Toe Sara die onvriendelike stemtoon hoor, is haar antwoord opsetlik opgeruimd. “Ja, Ma. Is sy nie skatlik nie? Kom sitkamer toe; die kaggel brand heerlik. Erik is onder op die plaas.”

“Ek weet; ek het hom en van sy volk by die skure gesien. Ek kom uitvind wat jy hier aanvang! Jy kan mos g’n ’n hotnoskind in jou huis aanhou nie!”

Sara druk Aletta die sitkamer in. “Tog nie so hard voor ou Stien en Baba nie! Wil Ma koffie hê?”

Aletta sit stil en bot tot die koffie kom. Sy knabbel agterdogtig soos ’n eekhoring aan die gekoopte broskoekies. Mina draf heen en weer met haar nuwe speelgoed tussen die kombuis, Sara en Aletta. Onverwags hou sy ’n beertjie aan een arm op na Aletta om te bewonder. Eers ignoreer Aletta die kind en praat rigtingloos oor ’n vriendin van haar se kwale, maar later loer sy tog af na die besige klein kind met die melkkoffie-velletjie en die kuiltjies wat so maklik verskyn.

“Is sy ’n soet kind?” vra sy met ’n frons tussen die oë asof sy verwag dat Sara dit moet ontken.

“Baie soet. Sy is woelig, maar nie stout nie. Dit lyk my sy het ’n heel besonderse en aanpasbare geaardheid.”

“Hmmm …” mompel Aletta. “Jy sal natuurlik gou ’n ander plan met haar moet maak. Selfs jy, Sara, besef dit tog seker!”

“… Ja, Ma,” sê Sara om vredesonthalwe.

Maar in die loop van Aletta se kuier let Sara tog geamuseerd op dat haar skoonma teësinnig voor klein Mina se sjarme begin swig. Dis of die kind die ouer vrou opsetlik uitsonder vir aandag: kort-kort lag sy haar klokkielag op na Aletta. Sy vryf met haar handjies oor Aletta se wolromp asof sy die tekstuur van die materiaal geniet.

“Wel,” sê Aletta later, ietwat gevlei maar nietemin onbuigsaam, “ten spyte van haar oulikheid sal jy haar net eenvoudig nie in jou huis kan hou nie. Dis ’n onbesonne ding wat jy nou weer aangevang het! Ek skaam my dood: jy moet haar hier uitkry voor sy skoon bederf is vir haar eie soort, en voor die mense begin skinder. Maar ek dink die storie lê al klaar die Vallei vol …”

Mina gaan staan skielik weer met haar twee handjies op Aletta se been, en kyk vraend op na haar met skynbaar alwyse ligbruin ogies.

Aletta gee toe aan die versoeking en tel die kind op haar skoot, kyk na die popgesiggie, en skud haar kop. “Die Here alleen weet wat van die dierbare dingetjie moet word. Ida sê my juis Gert loop lekker rond onder die meide, en partykeer kyk hy ook maar diep in die bottel …”

Toe die eens leë kinderkamer, ten spyte van al die oorlogstekorte, ná ses weke min of meer klaar ingerig is, laat roep Sara vir Gert uit die lentewingerde om te kom kyk. Met sy hoed in sy skugter hande kom staan Gert nederig in die deur in sy kakie-werksklere, en staar in ongeloof na die bont droomwêreld waarin sy kind beland het.

Hy bid sommer hardop en met oop oë: “Ag, dankie, Here, dat U so goed is vir my kind! Seën tog vir nôi Sara en baas Erik …”

Dieselfde aand, toe Minatjie snoesig in haar kinderbedjie slaap met ’n teddiebeer en ’n pop weerskante van haar, roep Erik vir Sara na sy kantoor. Hy trek senuagtig, fronsend, aan sy pyp en sit op die rand van sy ou houtlessenaar.

Sara bly staan teen die deurkosyn aangeleun. As Erik haar hierheen roep, is dit ernstige sake, en sy weet waaroor dit gaan.

“My vrou, jy sal nou regtig ’n ander plan moet maak met Mina. Ek het lief geword vir die ou dingetjie, maar jy het totaal oorboord gegaan! Ons gaan vorentoe net probleme optel. Ons kan nie ’n hotnotjie grootmaak nie …”

“Moet haar nie so noem nie!”

“Sara …” Hy kap sy pyp uit in die asbak sodat hy sy vrou se kwaai donker oë kan ontwyk. “Sara, jy moet dit tog insien! Ons kan nie die kind hier hou asof sy blank is nie …”

Sara kom regop en vou haar arms beslis. “Erik, jy kan Minatjie nie nou van my wegvat nie. Moenie eens probeer nie! Luister, Erik …” Sy plaas haar hande uitdagend in haar sye en kom nader na hom. Erik stop sy pyp met vinnige bewegings; vir baklei is hy nie lus nie.

“Luister, my man … Ek het nagedink oor … oor die situasie. Maar ek sien iets so fyns, so intelligents, in die kind …”

“Nee wag!” keer sy toe hy haar in die rede wil val. “Dis nie bloot my moederlike gevoelens wat die oorhand kry nie! Dink net, Erik, ons kan hierdie kind ’n kans gee in die lewe! Wil jy dit nie as eksperiment beskou nie? Ek wil haar so graag fyn opvoed! Soos ’n wit kind! Gee haar die kans, Erik!”

Erik skud sy kop terwyl hy vloer toe kyk. “Moenie verspot wees nie, Sara. Die gemeenskap sal jou nie toelaat om dit te doen nie. Jy gaan dinge vir ons onmoontlik maak. Sy’s bruin, en sy sal moet uit! Jy wil die Godsonmoontlike doen!” Hy kyk op; hy kan sien sy vrou is woedend.

“Ek gee haar nie vir ’n suiplap-meid om te verwaarloos nie! Niks is Godsonmoontlik nie, behalwe al julle vooroordele …!”

Erik sug en gly van die lessenaar af. Hy vee oor sy sitvlak. “Kom ons gaan eet, ek is honger … Jy hoef haar nie vir ’n slegte meid te gee nie. Ek het met ou Tietser Meraai gaan praat. Sy sal uithelp …”

“Sy’s te oud!”

“Ag, sy’s nog vol energie. En sy ken Gert en die kind. Hoekom gaan praat jý nie met haar nie?”

“Nie nou al nie! Nee, Erik, nie nou al nie! En te hel met julle almal!”

Klein Minatjie is aan haar nuwe tuiste gewoond, en sy begin vinnig babbel. Ou Stien en Baba help kind oppas. Saans lees Erik of Sara vir haar kinderversies en later luister sy met verwonderde ogies na die eskapades van Rooikappie, Gouelokkies, Die Drie Varkies, Aspoestertjie. Party aande kom klop Gert aan die agterdeur om sy kind te sien. As hy met Mina speel en gesels, straal sy gesig altyd van plesier en trots dat sy so goed versorg word. Soms, wanneer Sara of Erik Mina se slaaptydstorie of versie lees, luister Gert saam, plat op die vloer met sy rug teen die muur.

“Sy’s maar net drie; sy’s maar drie maande by ons; dink jy sy verstaan die stories?” wonder Sara teenoor Erik. “Sy’s hoogs intelligent … Ons moet haar verstandjie voortdurend prikkel!”

Buite die kinderkamer skud Erik sy kop. Sara moet tot haar verstand kom. Waar het jy al ooit gehoor van … Mense maak soms bruin kinders groot, ja, maar darem wragtag nie in die kamer waarin jou eie kinders moes gewees het nie.

Tog, toe die bekende stories almal al ’n paar keer vertel is, begin Erik ’n “vervolgverhaal” vir klein Mina uit te dink. Hy skep drie karaktertjies: Besempie, Hoendertjie en Vadoekie. Hulle loop weg van die huis, en beleef allerlei avonture in die klowe van die Hexrivierberge. Erik glimlag dikwels stilweg by homself. Om te dink dat hy, die swygsame, so maklik (en met soveel plesier) vir ’n klein bruin kind stories uitdink!

Teen November praat Mina hele vlot sinnetjies. Sy het besluit Sara is “Ma-Saha”, maar diplomaties leer Sara, Stien en Baba haar om “Missara” te sê, en “baas Erik”.

Erik en Sara se voogdyskap oor Mina gaan nie ongesiens verby in die Vallei nie. Daar word baie gepraat, maar dis eers tydens die jaarlikse kerkbasaar in Augustus dat ’n paar boervrouens Sara trompop loop.

“Haai, Sara, is dit waar wat ons hoor? Dat jy ’n hotnotjie in jou huis aanhou?”

“Wat is julle planne met haar?” ’n Veroordelende laggie: “Haai jong, julle kan mos nie so iets doen nie!”

“Pie en poef sy nie oral in jou mooi huis nie?”

Sara, met ’n mandjie oor haar arm op pad na die koektafel, kyk van die een na die ander: hul gesigte die ene afwagting, hul oë koud en afkeurend. “’n Mens sou sweer julle praat van ’n wilde bobbejaantjie! Ek kyk vir ’n rukkie na haar, ja. En hoekom sou sy oral vuilmaak – net omdat sy bruin is?”

Die drie vrouens lag valse rinkellaggies.

“Liewe aarde! Jy was mos maar altyd ’n anderster een!”

“Sara, hoe lank is jou ‘rukkie’? Jy en Erik sal julle mos die ganse Vallei se gramskap op die hals haal! Jy weet mos so iets sal nie geduld word nie! Dis totaal ongehoord!”

“Tietser Meraai gaan my uithelp,” sê Sara kortaf en stap weg na die koektafels. Waarom tog, is daar net waar ’n mens jou draai, altyd taboes? Tree só op, nie só nie! Dit is reg; dat is beslis verkeerd … Plaas net een voet buite die duidelik afgemerkte paadjie van jou voorgangers of van die gemeenskap, trap net buite die diep spore van die kerk en politiek – en jy is gebrandmerk …

Maar die weke gaan verby en Mina is steeds in Sara se kinderkamer.

“Van so iets het ek in my dag des levens nog nooit gehoor nie!” word dikwels uitgeroep.

“Om darem ’n bruin kind te vat en so te bederf!”

“Sara gaan gou moeg word van popspeel met ’n Kleurlingkind! Dis oor die arme vrou nie kan kinders hê nie …”

“Wat van skoolgaan? Wat van kerk? En sê nou die Nasionale Party kom aan bewind in ’48? Sara sal sweerlik gedwing word om van die kind ontslae te raak!”

“Het julle gehoor? Sara het al weer in die Kaap vir die kind gaan klere koop!”

Wanneer Sara, met Mina se handjie in hare, teen die kind se pas na die koöperasie toe stap om iets te gaan koop, voel dit asof oë soos beskuldigende vingers in haar rug druk. Boeremense ry in hul motors verby en vind skielik iets aan die ander kant van die straat om raak te sien sodat hulle Sara nie hoef te groet nie.

Maar Sara klou verbete vas aan haar ersatz-kind.

Af en toe het iemand op straat, gewoonlik een van die Kleurlinge, ’n vriendelike woord vir hulle twee. Een winderige lentemiddag loop hulle die horingoue half-Boesman, Oupa Krek, op die koöperasiestoep raak. Hy leun op sy kierie en lag dat sy ogies in sy wangbeentjies verdwyn, sodat Sara moet saamlag. Net toe kom Elsie Lubbe verby en knoop ’n geselsie aan, wat later net om die oulike klein Mina draai. Elsie vra mooi of sy in die vervolg klein Mina kan oppas terwyl Sara gaan inkopies doen.

Onverwags het Minatjie ’n onwaarskynlike bewonderaar. Die vierkantige huisie van juffrou Elsie Lubbe staan op die hoofstraat met sy verdorde stukkie grasperk voor, en ’n gekraakte sementpaadjie wat lei van die lae hekkie na die stoepie en die voordeur.

Juffrou Lubbe het nooit getrou nie en die ouer mense praat van ’n groot liefdesteleurstelling in haar vergete jeug. Sy was al haar jare onderwyseres by die plaaslike hoërskool, maar het reeds afgetree. Sara weet sy is vereensaam en arm. Sy gee Mina dikwels aan Elsie Lubbe se sorg oor en Elsie neem die vriendelike, tevrede kleintjie in ontvangs soos iets kosbaars en breekbaars. Sara sorg soms dat sy langer wegbly as normaalweg, om Elsie genoeg kans te gee om met Mina te speel.

Wanneer Erik en Sara êrens heen wil gaan of vir ’n naweek weggaan, gaan bly Mina by Tietser Meraai in haar wit huisie in die wingerde.

Sanet – Stefaans en Julia de Graaff se dogtertjie – kom dikwels saam met haar ma om by Mina te speel. Sanet en Mina is ewe oud. Dan drink Julia en Sara saam tee en gesels en skinder so ’n bietjie. Julia keur dit ook af dat Sara Mina in haar huis ingeneem het, maar sy is lief vir Sara en spreek liefs nie oordele uit nie. Sy weet die ding sal tog nie so kan voortgaan nie …

Die De Graaffs se enigste bure is die Oortzens, wie se agterplaas aan hulle s’n grens; basies staan die twee huise saam op die einde van die dorpsgrens.

Schoeman Oortzen is ’n vermoënde man: hy besit ’n groot motorhawe sowel as ’n winkel bo in die dorp. Klein Schoeman Oortzen is net ’n paar maande ouer as Mina en Sanet, en die drie speel heerlik saam: Mina het die lekkerste en mooiste speelgoed, en sy gee nie juis om om dit te deel nie.

Daardie eerste Desembermaand van haar verblyf by die De Graaffs trek Mina met haar koffer klere en ’n mandjie geliefde speelgoed by Tietser Meraai in. Die De Graaffs gaan Kleinmond toe met vakansie. Erik, so lief as wat hy vir Mina is, het sy voet met mening neergesit: Mina kan nie saam nie. Dit sal net te veel komplikasies veroorsaak. Sara het hom eers ingevlieg, toe stilstuipe gekry, en later dikbek toegegee.

Sara sit by ou Tietser se kombuistafel terwyl Mina reeds op Tietser se groot koperdubbelbed in die enigste ander vertrek rondspring.

“Tietser, jy moet Minatjie mooi oppas … Daar’s klein Schoeman om mee te speel, maar Iris Oortzen … Ek weet nie of sy haar engeltjie sal toelaat om hierheen te kom nie. Gert praat van uithelp, maar jy laat nie toe dat hy haar wegvat vir die nag nie! Hy het nou te veel aanloop daar by sy huis; naweke steek hy dop. Gert was kamma so besorg oor sy kind, maar nou het hy ander belange. Moenie Mina blootstel aan …”

“Aan hotnosgedrag nie, nè?” merk Tietser wrang op terwyl sy haar Welcome vir aandete stook.

“Tietser, jy’s anders! Jy weet hoe die spul naweke te kere gaan, veral oor Krismis en Nuwejaar …! Help my dat ons Mina weghou van verkeerde invloede. ’n Mens kan mos sommer sien sy gaan baie mooi wees, en sy is deksels intelligent vir haar ouderdom!”

“Ja, Sara,” sug ou Tietser en kom moeisaam orent; vee haar hande aan ’n ou stooflap af. “Ja, ek weet alles. Gert kan haar hier kom sien. Maar sê my net: vir watter wêreld wil jy haar so goed grootmaak? Kyk die probleem vas in die oë: sy bly bruin. Moet haar nie spierwit grootmaak nie. Waar moet sy eendag inpas?”

“Tietser, moenie so negatief wees nie! Waarom sou ’n bruin mens wat ’n baie goeie agtergrond en opvoeding het, nie haar plek oral kan volstaan nie? Mina sal meer geleenthede in die lewe kry! Nie rede hê om te verval in ’n slegte lewe nie! Sy sál oral kan inpas!”

Tietser Meraai sug. “Ai, Sara, in hierdie land …? Jy’s amper jou hele lewe lank in hierdie land, Sara, maar dit lyk my jou oë bly bottoe!”

Die volgende oggend vertrek Erik en Sara na wat hulle spottend die “De Graaff Compound” noem, aangesien Aletta almal saam laat vakansie hou in die reusagtige dubbelverdiepinghuis op vier erwe. Die ou huis, wat Erik se oupa Sarel de Graaff in 1900 gebou het, het na voor ’n uitsig oor die strand en na regs oor ’n woesteny van ruwe rotse.

“Ons kon ’n kindermeid vir Mina gebring het!” kla Sara. “Jou ma kom met twee bediendes, en Julia bring ou Nakkie saam!”

“My liewe vrou, wees realisties! Ons gaan swem, ons gaan hengel en ons gaan brug speel by die Lategans en die Lawsons! Ons ry Kaap toe. Ons reël pieknieks. Hoe op aarde kan jy nou daar aankom met ’n bruin kind van drie jaar oud, met haar eie oppasser! Dink net watse geskinder dit in daardie klein plekkie gaan afgee.”

“Wat my betref, kan hulle skinder tot hulle blou is in die gesig. Almal beskinder my in elk geval al jare lank …”

Erik sug onhoorbaar en wikkel sy pyp uit sy hempsak.

Die verdwyning van Mina Afrika

Подняться наверх