Читать книгу Die verdwyning van Mina Afrika - Zuretha Roos - Страница 5
Tietser Meraai
ОглавлениеSara, altyd blakend gesond en energiek, begin op Kleinmond siek voel. Dit maak haar liggeraak en depressief, want sy het geen geduld met skete en kwale nie. Boonop kan sy ook nie haar vinger op haar probleem lê nie. Sy is bloot moeg, soos iemand wat nooit genoeg slaap kry nie. Daarby voel sy heeldag effens naar. Sy sou dit wou wegsteek, maar met die hele familie in die huis is dit nie moontlik nie. Erik raak bekommerd en wil Sara na die naaste dokter, op Caledon, neem, maar Sara weier.
Terug in die Vallei besoek sy haar eie dokter.
Sara is swanger.
Die nuus word allerweë met verligting ontvang, want bykans die hele Vallei weet van Sara se “probleem”. Miskien sal sy nou begin konformeer; haar losmaak van die hotnotjie …
Erik, stil Erik, glimlag net wanneer mense hom gelukwens, maar in werklikheid is hy in ekstase.
Sara voel egter nog niks beter as op Kleinmond nie. Sy is baie gesond, sê die dokter, maar fluisteringe bereik die onkundige Erik dat die vroumense duim vashou dat sy tog net nie ’n miskraam kry nie. ’n Mens meen nou maar, ná al die jare se gehoop en gesukkel …
Dit tref Erik eers ná ’n week of twee se kommer dat dit mos nou die ideale geleentheid is om Mina uit die huis te kry. Sy kan van nou af by Tietser bly.
Sara voel te sleg om te veel teë te stribbel. Sy het ook nie die energie vir stry of om Minatjie op te pas nie, en lê meestal skuins op die chaise longue in die sonkamer en lees.
Hulle verduidelik so mooi as moontlik aan Mina dat haar Missara siek is, en dat sy solank by Tietser Meraai gaan woon. Die meeste van haar kleertjies en speelgoed bly hier in haar kamer, want Tietser se huisie is veels te klein vir al Mina se besittings. En sy kan kom kuier net wanneer sy wil.
Mina het nie juis die skuldige verskonings nodig nie. Sy is tevrede om na Tietser te gaan, maar sy klim tog op Sara se skoot en gooi haar armpies styf om Sara se nek. “Mina weer kom …?” vra sy onseker.
“Natuurlik, my skat! Tietser …” sê Sara toe sy Minatjie teen haar vasdruk, “ek wil my kind weer terughê, hoor … Ek gaan nog van haar ’n regte lady maak … Hierdie blyery by jou is net tydelik. En dit is finaal.”
Inmiddels vat Gert Afrika weer vrou; teen die tyd dat Erik hom aanpraat tot voor die kansel in die Sendingkerk, is sy Lien reeds ver swanger. Mina verstaan nie veel nie, behalwe dat daar nou ’n onvriendelike vrou saam met Pa-Gert in sy witgekalkte huisie woon daar tussen die wingerde wat teen die dorpsgrens eindig.
Teen hierdie tyd het die klein kind al byna vergeet dat Gert haar vader is. Sy is te jonk om die bloedband te onthou; haar betrokkenheid by hom is reeds vaag, asof hy bloot ’n gawe oom is.
Gert self is lankal nie meer bekommerd oor Minatjie nie. Daar word mos mooi omgesien na sy pragtige kind! Nou kan hy weer aan homself dink; kan mense hom kwalik neem? vra hy. Aan die wat nog nie weet nie, vertel hy met trots dat sy kind so besonders, mooi en slim is, dat baas Erik en sy vrou vir Mina, jy-kan-maar-sê, geadopt het.
“Minatjie, jy moet darem nie jou pa loop staat vergeet nie, hoor? Jy moenie so wit word dat jy te smaart word vir jou pa nie, hoor?” Hy skud Mina op sy knie in Tietser Meraai se kombuis. Hy sê halfhartig aan Tietser Meraai dat hy eintlik sy kind kan terugvat, maar Lien is maar jonk en beduiweld, en haar baba kom een van die dae. Sy wil nie na Mina kyk nie, verstaan Tietser …?
“Ek sal haar ook nie aan Lien afgee nie, Gert …” sê Tietser sonder om ’n rede te verskaf.
Dit is oestyd in die vallei. Onder op die werf blaas Erik se voorman sy skril fluitjie donkeroggend vir die inval – drie lang fluite; drie sekondes stilte, en weer drie langes. Erik glip uit sy warm slaapholte langs Sara.
Op plase dwarsoor die vallei, in die nanagdonker, lui ou slaweklokke of blaas sirenes en fluite. Nou word die dae lank en uitputtend, want die druiwe moet af. Erik se trekkers en sleepwaens ry van oggenddonker tot skemeraand die wingerde in en weer terug met die rottangmandjies vol druiwe. In die stoor, wat na vertrapte korrels en mos ruik, sit die rye uitknippers en pakkers langs lang houttafels. Hul behendige vingers hanteer die pers en groen trosse vinnig maar lig, want die vaal blos op die korrels mag nie afvryf nie. Raak hande reik na die reuse-uitvoertrosse met hul toepaslike Afrika-fatsoen, draai hulle blitsig toe in sagte wit papier en lê hulle weg in die plankkissies in skoongewaste houtwol. ’n Laaste lagie houtwol bo-oor, en dan gaan die kissies na die kissieslaners verder agter in die skuur.
“Doef-doef-doef-doef” spyker vernuftige hande heeldag die houtdeksels vas, en ander hande stapel hulle op mekaar. Teen die laatmiddag staan die Chev-lorrie langs die groot oop bek van die skuur en haastig word die vragmotor gelaai. Oom Tienie skakel die enjin aan sodra die lorrie hoog gelaai is, en wag vir die krete van “Reg, Ouwaas!” Dan ry die Chev dreunend met die pad langs die weikamp op, draai by die hoofstraat in, stasie toe. Agter op die vrag kissies sit ’n paar werkers. Met die einde van die lang dag in sig en met die son in die weste, lag hulle weer maklik, en skree langs die dorpstrate vir die bruin vrouens met hul swaaiende heupe: “Niks daa’ nie!”
In die pakstoor werk die pakkers voort. In rottangmandjies by een van die oopskuifdeure staan die afvalkorrels en uitskottrossies en wag om na die wynkelder geneem te word.
Soms brand die ligte in die skure tot tienuur, elfuur, om die eerste vrag van die volgende môre verpak te kry sodat dit vroeg-vroeg in die koelte kan weg na die enorme goedereloodse in die stasie, waarvandaan dit per trein na die koelkamers by die Kaapse dokke gaan.
Party middae stap ou Tietser met haar groot lyf en met klein Mina aan die hand stadig in die plaaspad langs die weikamp op na die De Graaffs se huis. Sy bring ook Mina se wasgoed, sodat Baba dit in die wasmasjien kan was, en kan stryk.
Soms sit Tietser en Sara buite langs die grasperk op rottangstoele en kyk hoe Mina, Sanet en Schoeman Oortzen jil en speel. Sara leer hulle speletjies soos “Ring-a-ring-a-rosy” en, as daar ander maatjies of bruin kinders van die plaas ook is, speel hulle onder groot gejil “Vroteier” of “Wolf, Wolf, hoe laat is dit?” Dis gewoonlik klein Schoeman wat die wolf wil wees, en met vreeslike geluide omdraai om die gillende kinders oor die grasperk te jaag wanneer hy “Twaalfuur!” roep. Sara en Tietser verkneukel hulle in die kinders se oorgawe.
“Ek wens ek het ’n rolprentkamera!” sê Sara meer as een keer. “Kyk net die uitdrukkings op die gesiggies …!”
Oor Mina word daar graag in die Vallei gepraat. “Ek het mos gesê dit sal gebeur. Noudat sy haar eie kind verwag, nou word die hotnoskind uitgeskuif, en tog maar goed ook so …”
“Ag, dit was ’n dwase ding – skandalig – wat Erik en Sara aangevang het! Dit moes end kry. Net jammer die bruin kind is glo tot in “die afgrond bederf …”
“… En wat as ou Tietser iets moet oorkom? Daardie kind sal mos nie meer in die lokasie aanpas nie! Klaar wit!”
“En arme ou Tietser Meraai sit op haar oudag met ’n kleuter! Wys jou net: die kind moes van die begin af in die lokasie gebly het waar sy hoort.”
Sara voel beter soos die maande van wag verbygaan, maar Erik belet haar om Mina weer voltyds in die huis te neem. Sy kom wel soms oorslaap wanneer Sara mooipraat, maar Erik is vasbeslote dat sy nie weer kan intrek nie.
“Ek is tog nie lus dat die onaangenaamheid oor Mina weer begin nie, Sara. Een van die dae het jy die kinderkamer vir ons eie kind nodig …”
Maar Sara se dokter se woorde bly haar by; maak haar meer vasberade om Mina nie aan haar lot oor te laat nie: “Ja, die mense praat, maar Mina is myns insiens die direkte rede dat jy swanger geraak het: met die kind in die huis, op wie jy jou liefde kon uitstort, het jy ontspan en siedaar! Dit gebeur nogal baie. ’n Kinderlose egpaar sal byvoorbeeld ’n kind aanneem, en dis nie lank nie dan vind die vrou uit sy is moeiteloos swanger!”
In die stilligheid maak Sara planne, en een koue wintermiddag besluit sy dit is nou die geleentheid om te praat.
“Tietser, ek bly by wat ek jou laas jaar gesê het oor Mina …” Hulle twee sit en tee drink en kyk hoe die kinders met Schoeman se karretjies speel. “As Mina so tien of elf is – dalk vroeër – wil ek haar terughê. Jou jare stap ook aan …”
Sara en Julia de Graaff giggel oor die feit dat hulle albei daardie Desember van 1946 swanger geraak het. Julia, wat fyn en broos lyk, het egter ’n probleemlose swangerskap; die normaalweg gesonde, rooiwang-Sara is bleek en tam, en nege maande lank nooit haarself nie. In September word hul babas twee dae uit mekaar gebore. Julia se baba is weer ’n dogtertjie. Hulle noem haar Ansie. Erik en Sara het ’n fris en gesonde seun, en hulle vernoem hom na sy oupagrootjie: Sarel Johannes de Graaff. Die Vallei se mense lag goedig in die dorp, want Erik loop met ’n permanente glimlag op sy gesig rond. Hulle stuur stapels geskenke en arms vol blomme na die huis en die kraaminrigting. Die episode met Mina Afrika is vergewe. Tydelik.
Tietser Meraai se tweevertrekhuisie staan alleen op ’n werf omring met wingerdblokke. Voor die agterdeur is ’n reusevyeboom. Daar is ’n ry verknotte ou kweperbome neffens die wingerde aan die oostekant, ’n grenadillaheining aan die spruit se kant, ’n woeste granaatbos, en opslaankappertjies al rondom die wit mure.
In die kombuis staan ’n witgeskropte tafel waaroor Tietser soms ’n bont tafeldoek gooi, ’n dresser met haar beste breekgoed, ’n koskas met ogiesdraad in die deurtjies, vier kombuisstoele, twee veldstoeltjies met riempiesitplekke, en ’n Welcome Dover-stoof. Langs die stoof is die houtkas met fynhout en ou koerante. In die hoek naby die deur staan die werfbesem en ’n ingeduikte ou emmer met kole vir die stoof.
Die ander vertrek is Tietser se slaapkamer. Haar groot dubbelbed het ’n kopstuk en voetenent van kopertralies. Die bed is altyd spierwit oorgetrek, en die gansdonskussings het valletjieslope. Teen die voetenent is ’n kanferkis waarin Tietser ekstra lakens en kussingslope en komberse bêre. Teen die een muur staan ’n hoë embuia-wardrobe wat ’n diep laai onderin het. Tietser se dreskas is langs die een venster. Voor die twee vensters hang gordyntjies van geel-en-wit ruitjiesgoed wat bol maak as die wind deur die vensters waai.
Mina, nou ses jaar oud, is ’n vrolike babbelbekkie. Tietser, voel sy, luister goed na haar, amper asof sy ’n grootmens is. Mina weet ander grootmense luister nie regtig mooi wanneer kinders met hulle praat nie.
Sy en Tietser bak vanmiddag pannekoek.
“Gaan die Keurbosspruit weer hierdie somer afkom en in baas Erik se wingerde oorloop?”
“Net as daar ’n groot donderstorm kom, en as dit baie bo in die kloof by Keurbos reën.”
“Is Tietser bang vir donderweer?”
“Nee. Hulle sê daar bo in die Transvaal word die weer vreeslik swaar, maar vir onse Vallei se donderweer hoef ’n mens nie bang te wees nie. Toe, roer beter; ek wil nie klonte in die mix hê nie!” Mina het aanvanklik ’n paar keer gevra wanneer sy teruggaan na Missara en baas Erik. Tietser se: “Nee, ek sal nie weet nie …” het haar nie juis gepla nie. Deesdae vra sy nie meer nie. “Ek het twee huise!” het sy self op ’n dag verklaar toe Sara se tweede baba pas gebore is.
Sara se klein Sarel is nou al byna twee jaar oud. Aanvanklik was Mina jaloers op die baba, maar toe die tweede seun, Pieter, sestien maande ná sy broer opdaag, het sy vrede gemaak met die indringertjies. Nou hardloop sy byna elke middag met die pad langs die weikamp op om Sara te gaan help met die kleintjies se aandroetine. En as sy weer uitasem die onderdeur van Tietser se huisie oopstoot, se Tietser: “Ja, kom, kom, kom! Ons sopper is reg; loop was jou hande buite onder die kraan.”
In Tietser se slaapkamer net langs haar bed, bokant die bedkassie met die Bybel op, hang ’n swart-en-wit afdruk van ’n mooie engel met twee groot wit vlerke. Voor hom draf twee argelose, vet kindertjies en hulle is feitlik al op die rand van ’n afgrond. Maar die engel hou sy hand oor hulle uitgestrek, en Mina weet sommer hulle sal nie afval nie.
“Elke mens het so ’n engel,” vertel Tietser haar, “al kan jy hom nie sien nie. Hy pas ons op. ’n Mens noem hom ’n beskermengel.”
“Ouma Aletta ook? Missara ook? Én juffrou Lubbe …?”
“Almal. Ek sê mos.”
Hieroor het Mina goed nagedink. Juffrou Lubbe is baie lief vir haar, weet sy. Juffrou Lubbe woon so alleen in haar klein huisie en wanneer Mina daar kuier, voel sy altyd ’n atmosfeer van heimwee en verlatenheid aan wat soos ’n vaal wolk onder die donker plafonne hang. Sy kan haar gewaarwordinge nog nie verwoord nie; kan nie die deernis uitdruk wat sy vir die klein, eensame vroutjie voel nie.
Weke later vra Mina, toe sy weer intens na die afdruk staar: “Kan die engel nie maar met juffrou Lubbe gesels nie?”
Tietser, wat skoon wasgoed op die bed staan en opvou, is dronkgeslaan. “Watse engel moet dan nou met haar gesels?”
“Hierdie een!” Mina druk ongeduldig met haar vingertjie teen die prent.
“Ag heidenland, kind! Vir wat? Los tog nou maar die engel!”
“Hoekom het haar engel nie vir haar ’n man en kinders gestuur nie? Sy is baie alleen …”
“Maar Minatjie, ek het dan ook nie ’n man en kinders nie! Ek is mos ook alleen! Beskermengele soek nie vir ’n mens ’n man en kinders nie! Die kom of hulle kom nie!”
“Nee …” weifel Mina. “Tietser is anders alleen. En ek is mos hier! Tietser kry baie kuiermense, en Tietser kan koekies bak, en hier kom kinders speel, en hierbinne is dit …” Sy beduie woordeloos met swaaiende armpies om Tietser se hele domein in te sluit. “… Dit vóél lekker in Tietser se huisie!”
“Wat praat jy tog, my kind? Kom ons loop kyk of die melktert al gaar is …”
“… Dis lig hier in Tietser se huis, en die wind waai deur, en partykeers het Tietser blomme op die kombuistafel. Juffrou Lubbe woon in … in bruin … ’n Mens ruik nooit koekies of lekker kos of blomme by haar nie. Sy hou haar hortjies toe, want sy sê die son bleik die gordyne …”
“Elke mens leef maar op sy eie manier. Kom nou, dan maak ons koffie by die tert …”
Saans maak Mina en Tietser beurte om in die groot sinkbad voor die Dover te bad. Dan lees Tietser mooi stadig ’n stukkie uit die Bybel, en elkeen kniel by ’n kombuisstoel, en dan bid Tietser. Sy vra altyd dat die Here sy hande oor almal moet hou, en partykeer noem sy stringe name.
Dan vat Tietser die paraffienlamp van die kombuistafel, en hulle gaan kamer toe. Mina slaap agter Tietser se breë rug, en voor sy insluimer, lê en snuif sy saggies die geure van Tietser se naghuisie in: die rokende pit van die doodgeblaasde lamp, die speserygeur van die smeulende wingerdhoutvuur in die stoof, die sonlig in Tietser se wit beddegoed en Tietser se Cashmere Bouquet-poeier wat na rose ruik.
Een aand in November sit en eet Tietser en Mina hoenderkerrie en mesh by die kombuistafel. Mina is stil en sy eet ingedagte, want sy dink aan Sara se wonderwoorde van vroeër vanmiddag: “Jy moet Baba en Stien kom help koekies en beskuit bak, Mina: strandtyd kom nader …”
Sy het opgewonde afgehuppel plaas toe en sommer oor die draad gespring en kortpad deur die wingerde gehardloop, haastig om vir Tietser te kom vertel dat dit al weer amper strandtyd is.
Sedert Sarel se geboorte gaan Mina saam Kleinmond toe. Daaroor het Sara na daardie eerste Desember haar voet neergesit: “Niemand steur hulle eens aan die Kleurlingkinders nie! Dis ’n boere-strand, en almal bring hul bediendes se kinders saam! Jy kan sê dis ons kinderoppasser as jy wil! Sy kom saam, en basta!”
Ou Tietser is vanaand bewus van ’n emosie wat sy nie juis ken nie: so ’n effense jaloesie oor die plesier wat die kind het aan die vakansie, weg van haar. Tietser maal haar kos stadig in haar mond; so baie tande makeer al. Dis ’n lou aand. Die Dover ruik na smeulende wingerdstompies, en die agterdeur staan wyd oop.
Asof Mina haar gedagtes lees, vra sy: “Kan Tietser nie vanjaar saamkom Kleinmond toe nie? Dis altyd so lekker, maar ek verlang na Tietser.”
“Nee, daar’s nie vir my ook plek nie. Julle is al klaar so ’n treksel in daai huis. Gee maar die kosbak vir my aan, seblief …”
“Ken Tietser die see? Partykeer is dit blou en partykeer is dit groen, en die branders maak sulke wit skuim as hulle omslaan …”
“Kén ek die see?” Tietser se lyf skud ’n diep lag uit. “Ja, ek was baie saam met oorle’ Sarel en oorle’ Stiena see toe, maar die see is te onrustig vir my. Maak my so ongedurig. Kom nooit tot rus nie …”
Dit verstaan Mina nie, want die branders wat maar altyd aanrol en breek, aanrol en breek, betower haar.
“Tietser is partykeers vir my snaaks …!” Hongerig steek Mina die vurk in haar kerriekos. Sy wonder hoeveel nagte se slaap is dit nog voor die vakansie aanbreek.