Читать книгу Die verdwyning van Mina Afrika - Zuretha Roos - Страница 6

Mina Witgatspreeu

Оглавление

Dis 1955, en vanjaar is Mina twaalf. Sy en Sanet is albei in standerd 5. Mina stap elke oggend die twee kilometer na die primêre skool in die lokasie. As dit reën, neem Sara of Erik haar met die motor.

Mina hou nie van skool nie, want die kinders spot haar; hulle hou nie van haar nie. Soos vanoggend weer. ’n Troepie kinders uit haar eie klas het haar al drawwende ingehaal. Een meisietjie het voor Mina uitgedans, haar rok agter en haar ken voor gelig, en in ’n aansit-stemmetjie gesê: “Ek is Mina Witgatspreeu! Ek hou my neus in die lug en ek wip my wit gat solat ammal dit kan sien! Ek woon mos by ryk wit mense!”

“En ek is so ’n kwaai voletjie, met sukke kwaai ogietjies! Ek dink mos ek’s wit!” het ’n seuntjie in ’n falsetto gesing en Mina se springjurk gegryp en opgelig. Mina het hom geklap, dwarsdeur sy grinnikende bakkies, sodat hy sy boeke laat val en terstond op haar begin skel het. “Jou moer, Mina Witgat! En jou pa se moer ook! En al die De Graaffs se moere ook!”

Sy’t ’n skop na hom gemik, maar hy was te vinnig vir haar.

So gaan dit nou al jare lank. Boonop is sy doodongelukkig dat sy die slimste in die klas is, en vanjaar ook hoofmeisie – die personeel kies die prefekte. Sy wens sy was dom, maar vreeslik populêr. Sy hunker na vriendinne met wie sy ook speeltye kan staan en fluister en giggel.

Maar die bruin kinders wil nie eintlik met haar maats wees nie: daar is so twee of drie wat haar darem groet en soms met haar gesels, maar tot dusver het sy nog nooit daardie begeerlikheid – ’n beste vriendin – gehad nie.

Mina woon nie meer by Tietser nie.

Meer as twee jaar gelede het Sara gesê sy wil Mina weer naby haar hê, en Erik het die ongebruikte bediendekamer in die agterplaas laat verbreek en verbou. Sara is kort-kort met Mina Kaapstad toe, en daar moes Mina help besluit oor haar nuwe kamer en badkamer se binneversiering. Soms het Mina skool gemis, want dis nie verpligtend vir haar nie. Dan was sy baie bly.

Sara is gek oor inkopies doen, en met Mina by haar, neem sy sommer die kans waar om haar so met verdrag te leer van kleurskemas, teksture, materiale, kwaliteit. En Mina toon reeds, meen Sara, ’n aanvoeling vir wat Sara as goeie smaak beskou. Nogtans ervaar Mina ’n snaakse skuldgevoel op hierdie inkopietogte, en sien telkens haar eie mense se armoedige huisies voor haar.

In die winkels leer ken Mina verskillende soorte materiale, en Sara vertel haar waarvoor ’n mens elke soort kan gebruik. Sara kla dat daar ná die oorlog nog nie ’n groot genoeg verskeidenheid huisware en matte beskikbaar is nie. Sy neem Mina na die kunsgalery, verduidelik en beduie, en stap geesdriftig vooruit terwyl Mina verward agterna drentel.

“Mina Witgatspreeu …” fluister Mina saggies aan haarself. Sy sien hoe ander mense in die plek nuuskierig en soms geamuseerd na haar en Sara kyk: die vrou met die vlegsels op haar kop gedraai, gee skynbaar die skraal bruin kind ’n lesing oor die Impressioniste. Sara en Mina besluit op ’n wit en liggroen kleurskema vir Mina se kamer, met ietsie donkerpienk hier en daar. Dis nie vreeslik modieus nie; die huismodes neig deesdae eerder na ’n bontspul ná die grysheid van die oorlogsjare, sê Sara.

“Ek wens ek kan juffrou Lubbe se huisie spierwit uitverf, of met ’n helder geel, sodat dit lyk asof die son inkom. En sommer ’n rooi lap oor haar kombuistafel gooi …!”

“Sies tog, Mina, sy is seker maar gewoond aan haar outydse donker huisie! Maar hoekom soek jy nie vir haar iets vroliks nie? Dalk hierdie bont tafeldoek …?”

Op ’n versengende Maartmiddag dwaal Sanet en Mina luiweg met ’n wingerdpad na Tietser se huisie. Tietser sit in die koelte van die vyeboom in haar rottangstoel en hekel. Bo teen die bult ry ’n trein verby en blaas skril sy fluit. Die vinke sing in die riete langs die spruit. Oor Tietser Meraai se werf hang ’n vreedsame atmosfeer – soos altyd in volkome kontras met die gewoel in die najaarswingerde. Die werf is skoon gevee met die rietbesem. Die vrugtebome en struike sluit dit af van die omringende wingerde.

“Ahaa! Sien ek geselskap? Hoor julle hoe baljaar die vinke? Ou Ghoen loop verniet en sweep klap in die wingerdpaaie! Julle moet vir Erik sê hy beter kom vinke uitroei!”

Mina gaan druk haarself styf teen Tietser vas, en Tietser slaan haar arm om Mina se skraal heupies.

“Dis darem warm, nè? Kom ons gaan liewer in …” Tietser sukkel om uit die stoel op te staan; sy gee ’n kreun toe sy aanstap kombuis toe. Dit ontstel die kinders: albei dink angstig aan Tietser se ontsagwekkende ouderdom – 87! Hulle kan hulle skaars indink dat mens so oud kan word!

Veral Mina aanskou die ou vrou se moeisame opstaan en aanstap met ’n skielike ysigheid om haar hart, meteens verskriklik bewus van Tietser se sterflikheid. Sommer net so, ontstellend onverwags is die gedagte daar. Kan sy nie maar ewig en onveranderlik wees nie? Soos die berge om die Vallei.

“Is … is Tietser orraait?”

“Ag ja wat! Wie kla nou, met so ’n goeie oudag soos ek? Dis maar net die bietjie rumatiek, maar hierdie hitte is goed vir my ou lyf …”

Hulle sit by Tietser se kombuistafel en maak kleingesels: oor die oes; oor wie vanjaar die uitvoer-pakkers is; wie Saterdagaand moles gemaak het in die huise onder teen die rivier. Tietser vertel dat Aletta kom kuier het en vir haar geelperskes en ’n hele rolkoek gebring het, maar dié het die kleingoed wat so knaend kom kuier, alles verorber.

“Ons twee gesels tog altyd so lekker oor die ou dae. En daar’s mos maar altyd ietsie te skinder, soos oor voorman Tienie se vet vrou. Sy’t mos ’n stem soos die laaste basuin, en dan skreeu sy hoeka so oor die werf na haar man. Haal vir ons die gemmerbier uit die koskas, Mina, en skink …”

Mina is al stil sedert Sanet haar in haar kamer by haar huiswerk gekry het en hulle twee afgestap het pakskuur toe. Nou skink sy die gemmerbier ook in stilte, en kom sit weer. Sy vou haar hande om haar glas en kyk af in die amber vloeistof.

“Tietser …”

“Ja, ek kan sien iets pla jou, Minatjie. Wat is dit dan, my kind? Jy’s so stil vandag! Waar’s my babbelbek dan?”

Mina druk haar lippe styf op mekaar en bly afkyk sodat Tietser en Sanet nie die trane moet sien nie. Maar Tietser sien alles raak, en vat Mina se hand.

“Moet ek nou loop? Is dit private smarte?” vra Sanet onseker.

Mina vererg haar. “Moenie laf wees nie, Sanet!” Die trane is hoorbaar in haar stem. “Ons het saam grootgeword; vir wat sal ek geheime hê wat jy nie mag weet nie?”

“Nou praat dan, my kind …” moedig Tietser aan.

“Ag …” Nou vee Mina die trane af. “Dis sommer baie dinge. Party goed het my nooit vantevore gepla nie, en nou wonder ek skielik … Soos …” Sy sluk. “Niemand het my destyds gevra of ek in Missara-hulle se bediendekamer wil gaan bly nie. Ek verlang na Tietser se huisie …”

“Mina, jy is te groot om agter my rug te slaap.” Tietser sê nie hoe sy Mina se dartelende teenwoordigheid in haar huisie mis nie.

“Aag … ons kon ’n plan gemaak het … Missara is goed vir my, maar …”

“Lief vir jou, Mina, lief!”

“Ja. Miskien. Sy sal baie vir my doen. En gee.” Mina lig haar betraande gesig op na Tietser. “Maar hoekom is ek in die bediendekamer? Hoekom nie in die huis, soos toe ek klein was nie? As hulle my so danig liefhet?”

“Haai sies, skaam jou, Mina!” roep Sanet uit en stamp haar gemmerbier om. Sy vlieg op om ’n nat lap te kry. “Hemel! Ek moet ’n kamer deel met die simpele Ansie; ons huis het net een badkamer en soggens is daar altyd ’n bakleiery daaroor, en Mina kla! Sy het haar eie, yslike slaapkamer en haar eie badkamer! Jislaaik!” Verwoed vee sy die gemmerbier op en gaan spoel weer die lap in Tietser se skottelwater uit.

“Maar … Ag man, Sanet, dis nie waaroor dit gaan nie! Jy’s jou ma en pa se kind. Wie se kind is ek? Missara sê sy wil my ‘goed opvoed’, maar ek is nie goed genoeg om ’n slaapkamer in die huis te kry nie! Ek is lief vir Sarel en Pietie, maar ek voel darem ook … uitgestoot! Ek help al klaar middae kinders oppas! Tietser, ek wil nóóit ’n bediende word nie!”

Tietser se swart katjie kom in en spring op haar breë skoot. Sy streel ingedagte oor die spinnende diertjie.

“Mina, jy moenie jouself bejammer nie! Ek laaik dit niks nie! Sara het buitendien haar vrykamer nodig. Aletta sê vandat Erik voorsitter van die boerevereniging is, slaap daar baie besoekers oor. Sara meen niks kwaads nie, en jy’s nie nou skielik ’n bediende nie. Jy’s ’n bevoorregte meisie! Waardeer wat jy het!” Sy verander die onderwerp: “Sê my: wat hoor jy van jou pa?”

Toe Erik ’n paar jaar gelede ’n tweede plaas naby Doornrivier koop, het hy Gert Afrika en sy vrou soontoe gestuur om te help omdat die bestuurder wat hy aangestel het, pas uit die landboukollege en heeltemal onervare was.

“Dit gaan goed.” Mina pruil kop onderstebo en haar stem is stroef. “Sy vrou is al weer in die ander tyd …” Mina het haar pa al byna afgesterf.

“Jy vra netnou wie se kind jy is. Jy het ’n ma gehad, Mina, ’n dierbare vrou. Jy lyk baie na haar, maar smaak my jy’s mooier. En jy het mos ’n pa, al is julle nou nie meer so na aan mekaar nie. Ek weet hoe trots jou pa op jou is! En verder het jy vir my en die De Graaffs, en Sarel en Piet en Sanet en Schoeman …”

“Maar Tietser, ek bly in die buitekamer by Missara en baas Erik, en die kinders by die skool – en hier op die plaas – noem my nog altyd Mina Witgatspreeu!” Mina bars in trane uit. “Ek weet nie wat ek is nie! Ek weet nie wat julle almal wil hê ek moet wees nie! ’n Witgatspreeu is ’n nare, geniepsige voël wat die ander voëltjies wegjaag by die kos! Hy het kwaai ogies en … en ’n wit gat!”

Sanet onderdruk ’n giggel en Tietser gee haar ’n kwaai kyk. Maar Sanet kom agter dat Tietser sowaar nie antwoorde op alles het nie. Sy let op hoe Tietser haar hekelwerk vat, weer los, en dan met ’n lappie onnodig oor die bont plastiektafeldoek vee voor sy weer praat.

“… Ai, julle is op ’n moeilike stadium! Twaalf … Dan begin ’n mens maar wonder oor dinge … Hoe voel jy oor Erik en Sara, Mina? Ek meen nou, is jy lief vir hulle?”

“Natuurlik is ek lief vir hulle, maar Tietser moet onthou ek is nie ’n regte pa en ma gewoond nie! Nou hoe moet ek weet hoe voel liefde vir regte ouers? Missara voel vir my soos – Sanet, het jy ’n tissue? – soos … ’n baie liewe antie. So iets. Ek weet nie hoe om te sê nie. Baas Erik is soos ’n oom. Hulle kan mos nie regtig my ma en pa wees nie! Hulle is wit! Ek is bruin! Ag, julle maak sommer my kop deurmekaar!” beskuldig sy en begin weer huil: troosteloos, met haar kop op haar arms.

Tietser vat Mina se onwillige hand. “My kind, ons verstaan. Los dit nou maar. Vat net elke kans wat die De Graaffs jou gee. Wys die Vallei wat daar in Mina Afrika steek! Kyk, die ding dat die mense jou nie wil uitlos nie, het begin toe Sara jou as kleintjie vat en haar tong uitsteek vir apartheid en al daai stront … En al bly jy in die agterplaas en nie in die huis nie, dit maak g’n verskil nie. Almal sien jou mooi klere en jou goeie maniere en dat Sara jou behandel soos ’n wit kind. Strykdeur.

“Nou weet jy nie mooi wie jy is nie …

“Beloof my net vandag één ding: sorg altyd dat jy jou kop hoog kan hou! Moenie dat bruin of blank ooit ’n vinger na jou kan wys nie! Want dis wat hulle wil hê: dat mooi Mina wat die De Graaffs met soveel moeite grootmaak en opvoed, ’n verkeerde ding moet doen. Dan sal hulle lekker kry!”

Mina luister nie. “Daai buitekamer! Dis die ding van die buitekamer! Gaste se maai!” Mina vee haar oë met Sanet se tissue af. “Of ek slaap in die huis soos toe ek klein was, of ek loop bly in die lokasie! Dan weet ek ten minste wie en wat ek is! Dis alles baas Erik se skuld! Hy wil my nie in die huis hê nie!”

Tietser Meraai vat Mina se hand, maar sy trek dit vies weg. Tietser sug. “Mina, moet Erik nie kwalik neem nie. ’n Bruin mens in ’n wit huis sal nie betaal nie. Jy’s nie meer ’n baba nie. Jy sal mos net nóg anderster wees as onse mense as jy in die huis bly! Los tog nou maar die ding van die kamer! Jy’t genoeg ander voorregte!

“En jy’s nogal hoofdogter van jou skool vanjaar! Ons is so trots op jou, my kind! Dalk sou jy nooit so presteer het as Sara en Erik jou nie weggevat het van …”

“… O, so?” Mina, wat nog nooit haar stem teenoor Tietser verhef het nie, haal haar verwarring nou op die ou vrou uit. “O, as die wit mense my nie weggevat het van die bruin man nie, was ek vandag ’n flop?” skree sy huilend. “Ek gaan in die lokasie woon! Dis mý mense daai, maar hulle hou nie van my nie! Maar as ek hierdie wit lewe los … Tietser dink tog nie die wit mense gaan my eendag wit sien nie?” Mina slaan met haar regtervuis op Tietser se tafel. “Wat moet ek doen? Wat moet ek doen dat mense van my hou? Dat mý mense van my hou? Ek wil nie Mina Witgatspreeu wees nie!” Mina huil nou kinderlik droefgeestig.

Sanet sit met groot oë en toekyk.

“Daar’s net een manier, Minatjie. Wie ’n mens ook al is, jy is net op jouself aangewys. Jy moet self jou pad deur die lewe loop. Soos jy ouer word, en nog slimmer, wen almal na jou kant toe: die bruin mense wat jou ’n witgatspreeu noem, en die wit mense wat nog altyd sê jy’s net ’n bedorwe hotnoskind …”

“Tietser het ook nie juis raad nie, nè?” Mina lig ’n betraande maar verontwaardigde gesig van haar arms op.

“Dit is raad! En wat Sara en Erik betref: moet nooit vergeet wie’t jou stere afgevee en wie’t snags met jou rondgestap toe jy siek was nie. Nie jou eie pa nie. En jóú portret staan in ’n silwerraam op Sara se klavier. Erik en Sara maak miskien ook foute met jou: wys my die ouer wat nie soms foute maak nie!”

Mina se trane het opgedroog asof sy haar verwardheid weer diep weggesluit het. Sy staan op. “Ek moet huis toe. Ek help met die aandwerk …” Sy vra skielik weer ewe bedaard: “Tietser, waar kom ons bruin mense vandaan? Wie is ons?”

Tietser lag ongemaklik. Die kat glip van haar skoot af en gaan kyk nuuskierig hoe Sanet papier frommel en fynhout vir Tietser in die stoof steek.

“Nou hoekom vra jy so uit die bloute? Ons kom van oral en van nêrens. Ons dra die bloed van al die verskillende soorte mense in ons land. Daar is baie wit bloed in party van ons. Ook Griekwabloed, Hottentotbloed, bloed van die swart nasies, bloed uit die Ooste, van die Maleiers en die mense van Java, wat hiernatoe gekom het as slawe. Loop kyk na jou eie mooie gevreetjie, Mina – wit bloed en Maleierbloed, smaak dit my …

“Party van onse mense is donker met die bloed van hul swart vaders, soos Rammie. Ander is gelerig met hoë wangbene en daai smal ogietjies van die Boesmans, soos Oupa Krek! En dis goed so! ’n Mens moenie terugteel nie. Kyk die wit mense: dink mos dis goed as hulle kind trou met iemand van dieselfde kerk en politiek … Hou die nasie suiwer, sê hulle mos. Sommer nonsens. Wat gebeur? Hulle trou die familiekwale vas: hartkwaal en kanker en suikersiekte …”

Daar is nou ’n geurige vaalte in die kombuis, en buite draal die rokie uit die skoorsteen en slinger laag oor die wingerde in die windstil laatmiddag.

“Hy vat nou lekker, Sanetjie. Dankie, my kind. Sit nou ’n dik stomp of twee op, en ’n bietjie steenkool. Daar, in die ou emmer langs jou …” Tietser sug meteens hard. “Ja, my kinders … ‘Eenling is die mens gebore …’ Vra my. Ons het maar elkeen onse eie sorge …”

Mina druk haar hande in haar roksakke en leun teen die agterdeur se kosyn en wag op Sanet wat nog met die stoof sukkel. Alle traanspore op haar gesig is nou weg, maar daar is nog ’n effens weerlose blik in haar oë.

Sanet druk die stoof se ysterdeurtjie toe en vee haar hande aan die stooflap af. “Onthou Tietser hoe’t ons gelag vir daai storie van Mina en haar van?”

“Waffer storie?”

“Ag, Tietser onthou tog! Ons het kleintyd om Mina se ore gekerm oor hoekom haar van ‘Afrika’ is. Toe kom sy eendag en sê sy’t haar pa gevra. En hy sê haar van is ‘Afrika’, sodat sy nooit kan verdwaal nie, want almal sal mos weet sy woon in Afrika!”

Tietser lag haar skud-laggie. “Nou ja, Mina, moenie gaat staat verdwaal nie, hoor? Het jy al besluit oor ’n skool vir volgende jaar?”

“Tietser vra elke keer!” Mina se stem is bot. “Ek gaan nêrens heen nie! Skool verveel my en ek gaan nie weg uit die vallei nie! Ek gaan Missara vra of juffrou Lubbe my ’n bietjie kan help … Ek sê nóú: ek gaan nie weg nie. Ek is klaar ’n ‘witgatspreeu’! As ek na ’n fensie convent-skool gaan, gaan ek nooit nêrens inpas nie! Tietser sê ek moet mense na my kant wen. As standerd 5 goed genoeg is vir my maats, is dit goed genoeg vir my! Ek gaan volgende jaar begin katkiseer, en …”

“… Maar Mina! Jy moet jou matriek kry! So ’n ligkopkind soos jy kan mos nie op twaalf al die skool los nie! Wat is dit tog met jou?” Tietser is ongeduldig en wikkel haar stoel pynlik weg van die tafel om op te staan. “Jy’s net verveeld oor die werk te maklik is vir jou!”

“Nag, Tietser,” sê Mina net en spring die paar treetjies af.

Soos elke kind wat geen ander bestaan ken nie, het Mina haar lewe en omstandighede tot ’n jaar gelede as vanselfsprekend aanvaar. Niks het haar gepla nie; tuis het sy liefde, aandag en sorg in ruime maat gekry.

Dis maar onlangs dat sy begin besef waarom sy selde die Vallei saam met die De Graaffs verlaat, en waarom – toe sy destyds by Tietser ingetrek het – sy ook nie sommer weer genooi is om êrens heen saam te gaan nie. Net vir die strandvakansie gaan sy saam.

Dit was oor die verskille tussen bruin en wit, verskille waarvan sy as klein kind mos niks geweet het nie. Bruin kinders word nie toegelaat in restaurante of in Worcester se bioskope of in die Kaap se hotelle nie. Nou wat, wonder sy, maak bruin mense dan so anders, so sleg, dat hulle nie na daardie plekke kan gaan nie?

Dat bruin mense wat vuil of dronk is, of nie genoeg geld het nie, nie by sulke plekke kan ingaan nie, is vanselfsprekend. Maar wat van die ordentlikes? En hoekom kan arm, dronk en simpel wit mense ingaan net waar hulle wil?

Sy het Erik en Sara begin kwalik neem. Hulle het hierdie sake nooit met haar bespreek nie! Ergernis het stadigaan in haar kom nesskop wanneer sy moes tuisbly; wanneer Sara allerlei planne moes maak om verversings in die hande te kry as hulle twee die dag Kaap toe gaan. Waarom kon hulle – of sy en die De Graaff-gesin nie saam by die Delmonico of by Hildebrands instap vir ’n ete of koffie en koek nie? En sy sien mos hoe die mense kyk en kyk wanneer sy en Sara saam in Worcester of Kaapstad rondstap!

Mina onthou met groot helderheid ’n insident toe sy nog baie klein was. Sara was swanger met Piet, en sy en Mina het die dag gaan winterklere koop in Adderleystraat se winkels. Uiteindelik het hulle doodmoeg in Stuttafords se teekamer ingestap en gaan sit.

Hulle het skaars hul sit gekry, Sara met die stapel inkoopsakke langs haar, toe kom ’n maer vrou met ’n donkerblou rok na hul tafel toe en sê met ’n stywe gesig aan Sara: “We do not serve Coloureds …”

Mina se ogies was reeds op die aanloklike koektrollie. Sy het nie die gesprek verstaan nie, maar goed geweet dit het iets met haar te doen.

Sara het pienk geword van woede. “This is a small, tired, hungry child. I don’t care whether you usually serve Coloureds or not, but we shall stay right here, and I hope we’ll be served with your usual courtesy …”

Die suurgesig-vrou het haar dun skouers regop getrek en iets gesê van “… have to call the manager …”

Toe het Sara harder gepraat, sodat mense begin omkyk en luister het. “Listen dear, I have just spent a lot of money in your store. This poor child’s skin colour will not rub off on you or your patrons. Do call the manager! I’m pregnant and irritable and I’d love to make a scene!”

Suurgesig het vinnig weggeloop, geen manager het verskyn nie, en iemand anders het hulle stug kom bedien. Jare later het Mina Sara gaan uitvra oor wat die dag daar gesê is, want dit was die laaste keer dat sy en Sara soontoe is. Selfs die weerbarstige Sara het seker nie kans gesien om elke keer ’n scene te maak nie.

Mina draai ingedagte uit die plaaspad, op pad van Tietser af, en vat die paadjie langs die Oortzens se heining na haar eie agterplaas. Sy sien deur die struike en bome dat Sarel en Piet ’n voetbal op die grasperk rondskop.

“Haai! Mina!” Rooikop Schoeman Oortzen lê oor die heining by die agterplaas. “Hoe gaan dit?”

“Aaag … okei. En met jou?” Sy’s nie baie lus vir praatjies maak met Schoeman nie. Hulle saamspeeldae is verby. Hulle gesels dikwels so oor en weer, en ghaai met mekaar, maar sedert Mina teruggekom het na die De Graaffs en in die buitekamer ingetrek het, is Iris Oortzen, Schoeman se ma, uitgesproke ongeskik met haar. Schoeman het haar vertel dat sy ma jare gelede al geskok en ongelowig was dat die De Graaffs, van alle mense, ’n bruin kind in hul huis kon invat …

Teen hul saamspelery as kleuters het sy nie veel gehad nie; oral op die platteland speel wit en bruin mos saam as hulle klein is, maar nou het sy gemaan: “Hou jou afstand, my kind. Julle is nie meer babas nie. En jy’s ’n blanke Afrikaner …!”

Schoeman het dit self vir Mina oorvertel, en daarna wou sy dae lank nie met hom praat nie.

“Hoe lyk jy dan so sêd?” vra hy nou.

“Ek makeer niks nie. Waar’s jou ma?”

“Speel brug êrens.” Hy lê verder oor die heining en fluister hard: “Weet jy al waar babas vandaan kom?”

“Schoeman, loop! Ja, ek weet: Missara het my alles vertel. Ook dat ouens soos jy vuil praatjies maak daaroor!”

“Sy het nie! Sy’t nie gesê ek nie! Nou jok jy!”

“Wel, sy’t gesê ek moenie na ander kinders se stories luister nie. Baai, Schoeman, ek moet kombuis toe.”

“Sies tog! Klaar kombuismeid!”

Mina hang al singende haar fyn nag- en onderklere op die wasgoeddraad in die agterplaas. Sy’t dit so pas in Lux gewas en goed uitgespoel, soos Sara haar geleer het. Mevrou Oortzen is skielik by die heining, op dieselfde plek waar haar sproetgesig-rooikopseun altyd oorhang. Sy neem met skrefiesoë inventaris.

“Heidenland!” sê die dik vrou met die hooggestapelde donkerrooi hare, “dit lyk my mos na ingevoerde Hanro wat jy daar ophang! Jy weet, Mina, eendag gaan die De Graaffs jou nog onder jou gat skop en dan sal jy van voor af moet leer om weer hotnot te wees!”

Stomgeslaan laat Mina haar arms sak en ’n lam gevoel van onbeskryflike hartseer kom oor haar. Sy los die res van die nat klere in die wasmandjie en vlug die kombuis in. Hoe kan so ’n voorste kerk-vrou soos Iris Oortzen só nydig en vieslik praat?

Skaars drie dae later is Mina saam met ’n paar plaaskinders in die koöperasie om lekkers te koop. Ou Mara Jacobs, wat in die lokasie woon met tien kinders en geen man nie, skree vir haar buite op die stoep: “Já, Mina Afrika! Jou swaar dae gaat nog kom, en goed so! Hoekom deel jy nie ’n slag van daai smaart klere van jou yt aan onse tjinners wat in floiings moet rondloop nie!”

Mina loop in trane huis toe, en begin haar kaste vol mooi klere verwoed uitpak. Sy sal alles weggee. Miskien sal die mense dan ophou pik op haar. Sy sal lokasie toe gaan en die goed weggee. Sy wil nie meer anders wees nie. Toe sy al snikkende die laaie begin uitpak waarin haar winter- en onderklere is, kom Sara in. Terwyl Sara mooipraat, smyt Mina klere met geweld in bondels op die bed neer.

“Jy kan nie jou klere weggee nie, Minatjie! Dit sal nie help nie; daar’s te veel kinders in die lokasie! Dis mos nie jóú skuld dat Mara soveel kinders het nie! Ek sal jou sê wat: kom ons soek ’n klomp van jou ouer klere en speelgoed uit, dan neem jy dit vir Mara …” stel Sara radeloos voor.

Mina gaan dieselfde middag nog lokasie toe met die pakkaas klere en speelgoed, na Mara se vuil huisie waar snotneus-kleintjies heeldag skree en baklei op die kaal werfie. Die kinders bestorm haar gillend en gryp die goed uit haar arms terwyl sy sprakeloos bly staan. Mara kom uit en staan willoos en toekyk hoe die kinders oor die speelgoed baklei en sê smalend: “Jissis … ek wietie of ek jou ou weggooigoed wil hê nie …” Toe Mina wegstap, is twee kleintjies besig om in die stof tou te trek met ’n feitlik nuwe rooi trui.

“Jy sien,” troos Sara by die huis, “dit gaan nie oor velkleur nie! Dit gaan oor wat binne-in jou is. Dit gaan oor wat in jou hárt is. Eendag sal almal dit moet begin besef. Dink aan die verskil tussen Ida van ouma Aletta, en Mara Jacobs. Ida is ’n ware Xhosa-lady. Mevrou Oortzen is ongeskik met jou, en juffrou Lubbe is weer baie lief vir jou. Gaan kyk – daar lê al weer ’n boks Black Magic in die sitkamer wat sy vir jou gebring het. Gaan kuier en sê dankie, hoor? Sy sê jy’t ’n glimlag soos ’n sonstraaltjie …!”

Tietser Meraai stuur ’n boodskap saam met klein Emily van Selina: kan Sara haar kom sien? “Tietser sê ek moet vir nôi Sara sê haar ou bene dra haar nie meer so goed nie!” verkondig Emily belangrik in ’n skerp, skril stemmetjie.

Een oggend toe Mina in die skool is, stap Sara met die wingerdpad af tot by die spruit, en oor die bruggie na Tietser se werf. Tietser sit onder die vyeboom, en laat Sara ’n stoel in die kombuis gaan haal.

“Sara,” sê sy ná die groetery, “dis oor Minatjie. Sy word nou groot. En sy begin vrae vra. Lyk my die kind weet nie mooi watter kant toe nie. Sy begin nou goed besef sy’s bruin, en dat dit ’n verskil maak. Ek het jou destyds gevra vir watter wêreld maak jy die kind groot …”

“Vir alle wêrelde.” Sara is dadelik op die verdediging.

“Jy droom, Sara. Weet jy dat sy nie verder wil gaan leer nie? Omdat sy bang is haar eie mense verstoot haar nog meer?”

“Ja, ons weet.” Sara speel met haar vlegsel en staar ver na die wasigheid wat oor die voetheuwels van die berge hang. “Ai, Tietser, dis waar – ek wou die kind so graag ‘wit’ grootmaak.”

“Dis moeiliker as wat jy sou dink. Maar kyk, jy het haar só ver gebring – jy los my kind nie nou nie. Een van die dae is ek nie meer hier nie en na wie gaan sy dan met haar probleme?”

“Probleme? Ek weet sy’t probleme met die skoolkinders …”

“Sy voel sy word nêrens werklik aanvaar nie: nie deur haar eie maats of die dorp se bruin mense nie, en natuurlik kyk die blankes haar met lede oë aan … Sy begin nou eers besef hóé groot die verskil tussen wit en bruin is!”

“Wat moet ek doen?” kapituleer Sara.

“Praat met haar oor die weggaan hoërskool toe; sorteer daai ding uit met haar. Dan moedig jy haar aan om by maats in die lokasie te gaan kuier, en by Erik se plaasmense …”

“… Tietser! Nee! Die invloede … !”

“… Nonsens. Ek en jy maak haar mos groot om vir haarself te dink. Dink jy dan die lokasie is vrot van uitvaagsels? Wat van al die goeie mense? Jy kan haar nie langer weghou van haar eie mense nie, Sara. Jy moet help dat sy met haar eie mense meng.”

Sara oortuig Mina met groot moeite om ’n paar van haar skoolmaats te nooi om te kom kuier. Hulle kom huiwerig maar nuuskierig, en aanvanklik is hulle dikbek-skaam, maar ontdooi toe Baba en Stien koek en koeldrank grasperk toe aandra, en Mina haar kamer en badkamer vir hulle wys. Die afguns slaan hier en daar deur, maar die middag is ’n sukses.

Daarna begin ’n paar tentatief maats maak met Mina.

Ná ’n paar weke word Mina soms lokasie toe genooi, en later gaan sy partykeer ná skool na een van haar klasmaats se huise, en doen haar huiswerk daar. Sy kry selfs ’n uitnodiging na ’n troue.

Die bruin kinders se kritiese houding teenoor Mina verander egter nie oornag nie. Die proses neem lank, en Sara en Erik moet Mina telkens maan om nie oorgevoelig te wees, of te bekkig as iemand haar terg nie. “Hou jou regtervuis en jou skopvoet in toom!” lag Erik.

Op Erik se aandrang gaan kuier sy deesdae met ’n geskenk by die plaasmense as daar ’n nuwe baba of ander viering is.

“Onse harte gaan vir jou oop soos gousblomme vir die son …” verseker tandelose ou Marta een Saterdagmiddag vir Mina. “Jy was mos altyd so stywenekkie-opstêrs gewees! Maar nou kom jou hart reg …”

Ou Marta eet genadebrood in een van Erik se volkshuisies onder teen die rivier. Sy sit met ’n bottel hanepootwyn tussen haar skurwe tone en haar rooi ogies lê diep in die kasse as sy oplag na Mina, haar gesig ’n spinnerak plooie. Mina het vir ’n soveelste agterkleinkind ’n kombersie as geskenk gebring, en ’n koek wat sy self gebak en baldadig bont versier het, sodat Sara gesê het die koek lyk giftig. “Koek! Van die klein wipgat nogal …” mompel die ou vrou.

Sy lig die bottel na haar mond en sluk “ghloep-ghloep-ghloep …” Mina stribbel vredesonthalwe nie teë nie, want almal weet in watter vreeslike tale ou Marta kan skel as sy eers die langnek beetgehad het … Mina lag maar saam en vat aan Marta se dun boarm by wyse van tot siens sê.

“Skaam jou, Mina!” verwyt Sanet op ’n dag. “Wat van my? Ek is mos jou beste vriendin! Ek sien jou te min!”

Maar teen die laatlente word Mina bewus daarvan dat sy anders voel as aan die begin van die jaar. Sy sing weer as sy laatmiddae in die kombuis help, en sy lag weer vir Sarel en Piet se skoolgrappies: “Hoe vang jy ’n haas? Jy sit agter ’n bos en skree soos ’n wortel!”

“Ek het nou al baie maats, Tietser!” vertel sy. “En dis lank laas dat iemand my ‘witgatspreeu’ genoem het, en as iemand dit weer doen, sal ek nie my kop laat sak nie: ek sal hom opneuk!”

“Jy moenie begin lelik praat nie, Mina! Skop en slaan sal ook nie help nie; lag eerder saam! Ek is bly jy maak nou vriende onder jou eie mense, my kind. Nou wat nou van volgende jaar?”

“Ek gaan nie weg nie. En niemand sal my dwing nie!”

“Maar my kind! Toe Sarel de Graaff my destyds die kans gee om te loop leer in die Kaap, toe gryp ek dit met albei hande! En ek was vreeslik bang; ek was toe nog nooit anderkant hierdie berge nie! Gaan, my kind! Jy’s ’n moderne meisie, nie die arme hotnosmeidjie wat ek was nie!”

Teen Oktober bereik die rusie oor Mina se weiering om weggestuur te word na ’n hoërskool, ’n hoogtepunt. Gewoonlik inskiklik ten opsigte van Erik en Sara se voorstelle of planne, sit Mina nou haar fyn voetjie met mening neer: as standerd 5 goed genoeg is vir haar bruin maats, is dit goed genoeg vir haar. Sodra die ryk wit mense help om ’n hoërskool vir die Kleurlingkinders te bou, sal sy verder gaan leer. Al is sy ook twintig. Maar weggaan na ’n kosskool, sal sy nie.

Mina koester reeds geruime tyd gemengde gevoelens jeens Erik, en die skoolkwessie word vir haar hierin ook ’n handige wapen. Sy onthou die dae toe hy haar saans op sy skoot getel het en vir haar stories vertel het. Sy onthou dat hy haar op sy skouers of in sy arms rondgedra het, al was dit meestal net binne die vier mure van die huis. Sy het veel meer liefdevolle aandag van Erik gekry as wat haar eie pa haar ooit kon gee, maar wanneer laas het Erik ’n geselsie net met haar gehad? Haar soos lank gelede aan die wang geknyp of haar vlegsels getrek? Wanneer laas het hy haar in die verbygaan ’n vaderlike drukkie gegee? Nie sedert sy in die buitekamer bly nie! O, hy’s altyd vriendelik, ja, maar baas Erik is met almal so! Sy wil darem weet hy’t nog iets vir haar oor! Of is dit omdat die oulike bruin baba nou te groot is? Of omdat hy nou vir Sarel en Piet het, en nou’s sy niks meer nie?

Sy’t nuus vir hom! Mina Afrika gaan nóóit niks wees nie! Sy sal almal nog wys!

’n Herinnering wat al lank vergete was, omdat die klein kind van destyds nie die motief agter die woorde begryp het nie, het ook onlangs sy pad na haar bewussyn oopgedruk.

Sy het saam met Sanet en Schoeman naby Sara gespeel toe Sara swanger was en so sleg gevoel het. Erik het agter Sara se leunstoel kom staan, sy arms om haar skouers gesit en sy gesig in haar nek gedruk. Toe lig hy sy kop op en kyk na die spelende kinders, en sê: “Sara, dis nou tyd dat Mina na Tietser gaan …”

Sy kan nie die res van die gesprek onthou nie, en sy weet ook dat sy nie omgegee het om na Tietser Meraai te gaan nie. Maar nou weet sy Erik het haar uit die huis uitgewerk toe Sarel op pad was! En hy het die buitekamer laat verbreek en verbou toe Sara haar laat terugkom werf toe, sodat sy nie in die vrykamer kon intrek nie! En nou wil hy haar verder wegkry: na ’n ver, vreemde kosskool! Is sy motief dalk om die laaste bande los te wikkel wat haar aan die De Graaffs bind? En wat dink hy moet sy doen as sy die danige matriek het …? Gaan druiwe pak in die skuur? Of hopelik sommer land-in verdwyn?

Sy sal hom wys sy verstaan nou alles! Sy’s mos nie onnosel nie!

Mina se keel word dik en seer en ’n snaakse, verlate gevoel bemeester haar. Sy is tog eintlik so lief vir baas Erik: sy wil nie hê hy moet ophou omgee vir haar nie, nooit nie … Hy is wel stil, en hy wys nie heeldag sy gevoelens nie, maar hy word nooit kwaad en verskree mense, soos baie ander mansmense nie. En al die jare het hy vir haar gesorg soos vir sy eie seuns; haar veilig laat voel. Al is sy bruin, en al moet sy vir hom “baas” sê; sy gee nie om nie. Sy kan tog nie vir hom “Pa” sê nie, maar eintlik is hy haar pa … Orraait, haar stiefpa dan …

Sy wil tog nie weer ’n uitgebyte bobbejaan word nie: dink net wat wit en bruin sal sê as Jacomina Afrika na ’n kosskool gestuur word terwyl die res van die vallei se bruin kinders net standerd 5 het! Eindelik het sy maats; eindelik is sy welkom by haar eie mense, en nou moet sy kamstig loop leer by ’n spoggerige Engelse convent-skool? Om weer vir ’n witgatspreeu uitgeskel te word?

Sy bevind haar een middag weer in Erik se kantoor oor die hoërskool-storie.

“Baas Erik, ek sal skree en skop en gil! Baas gaan my nie wegstuur nie! Ek wil nie weggaan nie! Ek is doodgelukkig met standerd 5, en Sanet kan my help leer! Of juffrou Lubbe! Ek gaan nie verder leer nie! Wat, sê my, wat, moet iemand soos ek met matriek maak?!” Sy bars luidrugtig in trane uit.

Erik trek die ontstelde kind na hom en hou haar vas. Hy weet wat Tietser alles met Sara bespreek het. Vir die eerste keer in jare hou hy haar weer spontaan vas soos toe sy klein was, en wens hy hy kan haar beskerm teen die aanslae van die lewe.

En haar wrokkigheid verkrummel sommer gou teen sy breë bors. Onbevange slaan sy haar skraal arms om hom. O, om weer so veilig vasgehou te word deur haar baas Erik …! Sy wil nie slegte dinge van hom dink nie; hy het nog nooit eens in haar lewe hard met haar geraas nie!

“Toe maar, Mina-kind … Toe maar. Foei tog, baas se arme weeskind …! As jy regtig nie wil gaan nie …”

“… Ek wil nie, baas Erik, ek wil nie! Práát met Missara!” Mina snik nog ’n snik en vee, tipies kind, haar neus oor haar skoolhemp se mou, en roep haar verwyt: “Baas Erik wys nooit meer jy’s lief vir my nie. Baas Erik gee my nooit meer ’n drukkie nie! Baas Erik wil my wegstuur, dat ek uit die pad kan wees!” beskuldig sy.

Erik los Mina versigtig, trek haar arms weg van sy lyf. Hy gebruik die stadige ritueel van pyp opsteek om na woorde te soek. “Mina …” en hy pff … pfff … ongemaklik, bly dan stil en vroetel met die pyp. “Ek het nie besef jy voel so nie. Natuurlik wil ons jou nie uit die pad kry nie! Ons meen net dis vir jou eie beswil. En miskien het ek maar gedink jy’s al te groot vir drukkies! Of moet ek weer van Jan en die Boontjierank vertel?”

“Moenie grappies maak nie, baas Erik!” Mina snuif en verskuif van een voet na ’n ander. “Baas Erik moenie dink ek is maar nes ou Stien of Baba nie. Ek is nie! Maar ek het nie ’n ma nie en ook nie eintlik meer ’n eie pa nie, en … as julle my los … Ek is baaanng …!” Mina se stem begin bewe. “Ek is bang julle hou op om my lief te hê, ek is bang baas Erik het my nie meer lief nie, net oor ek bruin is! Ek ken mos nie ’n ander huis en ander huismense as baas en Missara en Sarel en Pietie nie! Julle is al wat ek het! Maar nou weet ek ook ek is ’n bruin kind; ek kan nooit wit wees nie …” Sy rammel haar vrese af in ’n staccato, en begin dan weer verdrietig huil.

“Ek meen nie ek wil wit wees nie; Tietser sê die Here weet wat Hy doen … Maar ek sal liewer na my pa toe trek as julle my nie meer liefhet nie! En as julle my na ’n convent-skool wegstuur, sal ek wegloop!”

“Nee, Minatjie!” Erik is verslae oor Mina se uitbarsting. Sy was altyd so ’n bedaarde, goedaangepaste kind, en skielik is sy skoon verward … Hoe kan hy vir die arme misplaaste kind sê hy kan nie meer ’n dertienjarige bruin kind troetel soos ’n mens vryelik met ’n baba kan doen nie? Hy trek die snikkende Mina weer nader en hou sy linkerarm om haar skouers terwyl hy dink.

Erik is nie ’n spraaksame mens nie, en hy vind dit moeilik om emosies te verwoord, maar teenoor homself erken hy nou sy skuld. Toe Mina op tienjarige ouderdom in die buitekamer ingetrek het, drie jaar gelede, het hy reeds aan haar gedink as … as hulp vir Sara; as kinderoppasser of kombuishulp: toekomstige bediende! Sy was toe lankal – so het hy homself wysgemaak – nie meer vir hom die surrogaatbaba van destyds nie. Hy het mos nou sy eie twee seuns! Selfs die plan om Mina verder te laat leer, was eintlik Sara en Tietser se idee; hy sou hom bloot berus by wat hulle besluit …

En hier staan die verwarde kind en probeer sê dat sy ’n pa nodig het; dat sy hom steeds so beskou; dat sy betuigings van toegeneentheid en liefde van hom wil hê. Tog besef sy deeglik watter kloof werklik tussen wit en bruin lê …

En sowaar as wragtag, hier wil hy staan en aangedaan raak! Jare lank wou hy glo Minatjie was maar net nog ’n bruin grootmaakkind wat in plaas van onder die kombuistafel ’n tyd lank in sy kinderkamer geslaap het. Hier, vanmiddag, besef hy skielik hy was nog altyd lief vir Mina, al druis dit in teen alle aanvaarde gedragspatrone. Hy was nog nooit ’n harde man nie, en ’n mens maak mos nie so ’n kleintjie groot sonder dat die kind in jou hart kruip nie …

Hy besef sy kan nie weer in die huis intrek nie, kan nie meer oral saam met hulle gaan nie. Miskien het hy gedink dat Mina uiteindelik heeltemal gaan inskakel by die Kleurlinge, maar dit lyk nie vir hom moontlik nie. Hy hou die snikkende dogter vas en weet nou dat haar velkleur nie vir hom saak maak nie, net so min as wat Sara nog ooit aan Mina gedink het as “bruin”. Maar om probleme en kritiek van buite te vermy, moet hy nou maar katvoet die status quo handhaaf.

“Minatjie, natuurlik het ek jou lief! Natuurlik sal ons altyd vir jou sorg, en ons sal jou nooit weggooi nie! Jy weet mos dit is maar ’n probleem – wit en bruin kan nie oral saamwees nie. Maar dit beteken nie dat ons jou ooit in die steek sal laat nie. Moenie jou ooit weer daaroor bekommer nie …”

“Maar ek sal nie ’n bediende word of in ’n pakstoor gaan werk nie!” Mina vee verwoed oor haar oë en wange.

“Maar dan sal jy self moet besluit wat jy in die toekoms wil doen …”

Onbeholpe haal hy ’n pondnoot uit sy broeksak en druk dit in haar hand. Die klein Mina is besig om in ’n fyngeboude, pragtige meisie te ontwikkel, met ’n gesiggie soos ’n Siamese pop, dink hy verras; kyk vir die eerste keer in ’n lang tyd goed na haar. En hy wonder hoe hy gaan reageer as die mansmense by haar begin aanlê! Hy sal haar mos met alle mag wil beskerm …

Die twee honde wat hy onlangs aangeskaf het, Flossie en Flenters, blaf in die agterplaas en hy kyk uit. Dis een van sy werkers wat hom soek. Dankbaar vir ’n verskoning om uit die situasie te kom, sit hy sy pyp in die asbak.

“Mina, dit lyk my April wil my sien. Luister, Minatjie, onthou nou, ek het jou nog net so lief, en as ek dit nie altyd wys nie, is dit omdat jy nou al ’n grootmeisie word. Ek sal weer met Sara praat oor die skoolstorie, oor jou voorstel dat juffrou Lubbe jou dalk verder help …”

Mina kyk afwagtend na hom met haar groot amandeloë wat deesdae geel liggies inhet.

Erik glimlag, wat sy gesig verhelder en sy blou oë laat blink. “Jy’s dan ons gelukbringerkind …! As ons jou nie gevat het nie, het ons dalk nooit vir Sarel en Piet gehad nie …”

Mina verstaan glad nie wat hy hiermee bedoel nie.

Daardie aand kom Sara by haar kamer in toe sy al in die bed is. Mina vra eerste die vraag wat haar sedert vroeër die middag dronkslaan.

“… Gelukbringer? Ja, ek kon jare lank nie verwagtend raak nie, en net ses maande ná ons jou gevat het, toe verwag ek vir Sarel! Die dokter het gesê dis oor jou! Omdat ek jou by ons ingevat het! Omdat ek begin ontspan het, of so iets …” Oor die skoolprobleem praat sy nie; dit sal net weer op histerie uitloop.

En Mina lê later en wonder waarom sy nie na die blanke hoërskool kan gaan nie. Sy’s tog slimmer as baie wit kinders! En sy ken baie wit kinders, net so goed soos haar eie maats. Sy’s slimmer as Schoeman ook; sy help hom gereeld met sy wiskunde! Sy sug diep: watter lawwe gedagte, om na ’n blanke skool te kan gaan. Die Liewe Here het haar vel mos bruin gemaak, al ken sy wit kinders wat bruiner is as sy …! Ag wat, sy sal tog nooit heeltemal verstaan hoe die dinge werk nie. Maar ai, sy is so bly baas Erik en Missara het haar darem nog lief.

Sy skuif regop teen die kussings, vat haar Bybel en soek Psalm 23 op. “Die Here is my Herder, niks sal my ontbreek nie …”

Dis haar geliefde psalm, en sy hou veral van “U berei die tafel voor my aangesig, teenoor my teëstanders …” en “net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe …”

Dis net die dal van doodskaduwee wat haar altyd bang maak.

Sy klim uit haar bed en kniel, en bid so lank oor die dinge wat haar pla dat sy byna op haar knieë aan die slaap raak.

Van middel Desember tot middel Januarie is vakansietyd, Kleinmondtyd, vir al die De Graaffs. Vir die kinders is dit die hoogtepunt van die jaar.

Sarel of Pieter sal teen Novembermaand eendag op die plaaswerf gaan stilstaan om die lug suspisieus te snuif: Kan dit wees …? Fyn, ontwykend, maar onmiskenbaar hang die geure van kaneel, gemmer, suurlemoenskil en brandewyn laag oor die werf. Ouma Aletta en Ida het begin bak vir die vakansie!

Ouma Aletta se bakkerasie begin gewoonlik so teen die begin van November, wanneer sy haar vrugtekoeke bak. Daarna kom die droëkoekies aan die beurt, wat later in ’n bliktrommel verpak en met ’n slot gesluit word.

Elke November kla Sara en Julia stilweg, want hierdie vakansietradisie dateer nog uit grootoupa Sarel se dae en word verbete deur Aletta aan die gang gehou. Sy orkestreer alle reëlings, die uittog, en regeer die groot vakansiehuis.

Mina help Baba met groot entoesiasme koekies bak en sy sing vrolik en luidrugtig van die meisie wat op Tafelbaaihawe staan en afskeid neem van haar matroos. “… Neem my … o matroos, neem my saam as jy swêêêrwe …”

“Dis nie altyd vir die grootmense so lekker nie!” sê Sara eendag onverwags toe Mina en Sanet verspot in die rondte spring van opwinding: die voorman het reeds die vragmotor voor die plaashuis se hek getrek sodat die volk Aletta se pakkaas kan begin oplaai. “Elke jaar is dit die blessitse Groot Trek van voor af oor – katte, honde, hoenders en al!”

“Haai, Missara …” verwyt Mina; hou op spring en kyk Sanet vraend aan.

“Dis ’n spul ekstra werk, en Aletta speel baas, en daar’s te veel vroumense in een huis!”

Sanet en Mina staar met groot oë na mekaar en trek hul skouers op. Grootmense is tog eienaardig!

Vanjaar is Mina blyer as ooit tevore oor die vakansie. Sy sal klaar wees met skool, en sy, Erik en Sara het toe uiteindelik ’n kompromis aangegaan. Juffrou Lubbe gaan volgende jaar vir haar klasgee in sekere vakke.

Op Kleinmond het Mina, tot sy tien jaar oud was, ’n kamer met Sanet en Ansie gedeel. Maar toe het Ouma Aletta gesê sy moet saam met die ander bruin vrouens in die bediendekwartiere gaan slaap. Sy het dikbek getrek en by Sara gaan kla, maar Sara het haar skouers gelig, en verskonend gesê ongelukkig is Ouma Aletta baas in die strandhuis. En bowendien is sy mos goeie maats met Wienet en klein Mietjie …? Mina het sommer geweet dat Sara verlig was om Ouma Aletta voor te gooi. Maar sy het taamlik gou berus, want Mina voel heeltemal tuis by die bediendes op Kleinmond; eintlik het hulle dikwels meer pret en grappe as die wit mense in die groot huis.

Buitendien is dit asof vakansies by die see anders is as die gewone lewe. Almal bring hul bediendes en dié se kinders saam, en die kinders jol deurmekaar.

“Niemand worry of ons wit of bruin is nie,” sê sy vanjaar aan Sanet.

“Hulle sal seker … nes ons groter is.”

Die kinders vul elke uur van die dag met bedrywighede. En, soos Aletta altyd tereg uitwys, ná ’n paar dae in die son kan ’n mens in elk geval nie meer tussen blank en bruin onderskei nie. Die De Graaff-kinders en Mina gaan saam wanneer Erik en Stefaans by Bettysbaai of Silversands of Rooi-Els gaan hengel. Hulle ry agter op Erik se bakkie Visbaai toe om te wag dat die skuite inkom, sodat daar vars vis gekoop kan word. Erik het ook ’n vaste bestelling by ’n ou visser om vir hom kreef te bring wanneer hy kreefluike uitsit; veral Erik en die kinders is dol oor kreef.

Kleinmond het ’n baie lang sandstrand aan die een kant. Om na die westekant strek die wye rotskus. Net met laagwater lê dit oop; verleidelik en verlokkend vir kinders. Maar wanneer die gety begin inkom, rol die golfies – eers verraderlik klein – skuimend in oor die ontblote rotse en die poele, totdat dit uiteindelik, met hooggety, in ’n bruisende waterwoesteny verander. Dan steek net ou Witklip, Swartklip en Spykerklip doer ver teen die oopsee bo die branders uit.

Met laagwater gaan vang die vyf kinders klipvis in die getypoele wat soos spieëlskerwe tussen die rotse lê.

Elke jaar, wanneer hulle met hul handlyne en hoekies met skulp-aas aan net oorkant Witklip by die Kreefpoel sit en visvang, het Mina ’n groot vrees vir ’n vloedgolf. Terwyl die res oor hul lyntjies sit en droom, kyk sy soms onrustig om na die laagwaterrotse agter hulle – na die lang, lang ent wat hulle oor die skerp, ongenadige rotse moet spring en klouter om weer veilig aan land te kom.

Soms laat die rustig deinende asemhaling van die Kreefpoel se oppervlak haar skoon vergeet van haar lawwe vrees. Die water onder haar lyk nes die ou vensterruitjies in Ouma Aletta se eetspens: onegalig liggroen. En diep onder tussen die bamboesstele loop groot oupa-krewe rond. Hier steur niemand hulle nie; min grootmense sien kans om so ver oor die puntige rotse te klouter.

Oupagrootjie Sarel het die groot huis met sy baie slaapkamers laat bou. “Toe was Kleinmond nog net bosse …” vertel Ouma Aletta graag, “… Skone wildernis om ons, en nou’s dit ’n dorp!”

“Ek wonder hoe lank nog, dan’s Kleinmond bederf deur vooruitgang,” sê Stefaans as Ouma Aletta die verlede ophaal, en lang aandstories vertel oor hoe volop vis was, en hoe hulle sommer in die rotspoele kon gaan kreef uithaal.

Die huis staan langs die rotskus, en as die hoogwater snags raas, wonder Mina of die huis darem veilig sal wees teen vloedgolwe … Daar is nagte wanneer die golwe met sulke geweld teen die rotse slaan dat Mina wakker word daarvan. Sy gaan staan dan by een van die oop vensters en kan sien hoe die spierwit skuim oor Spykerklip opskiet. Dan ruik sy die heerlike reuk van sout sproei en seebamboes.

Saans, as almal klaar geëet het aan die groot tafel, help Mina en Sanet afdek. Saam met Ida, Wienet, Mietjie, en Julia se bediende Frieda, was hulle skottelgoed en maak grappe en ghaai, en sien dat die kombuis en eetkamer aankant kom. Dan gaan Sarel, Piet, Ansie, Mietjie, Mina en Sanet – en enige ander kinders wat daar mag wees – sandduine toe waar hulle cowboys en crooks speel tot iemand onthou dat dit tyd is om huis toe te gaan.

“Eintlik wil ek nooit grootword nie,” bieg Mina een aand toe hulle langs die soom van die aandsee terugstap huis toe. “Ek wens ek kan liewer bly soos ek nou is. Partymaal is ek bang vir grootword …”

Die verdwyning van Mina Afrika

Подняться наверх