Читать книгу 1 Recce, volume 2 - Alexander Strachan - Страница 7
1
ОглавлениеSAW ontplooi skakeloffisiere in Rhodesië
Die Rhodesiese Bosoorlog het ook bekend gestaan as die Second Chimurenga7 en verder as die Zimbabwe War of Liberation. Hierdie burgeroorlog het van Julie 1964 tot Desember 1979 geduur.
Aan die een kant van die konflik was Ian Smith se Rhodesiese regering en later biskop Abel Muzorewa se Zimbabwe-Rhodesiese regering. Aan die ander kant van die spektrum was die opponerende groepe: Robert Mugabe se Zimbabwe African National Liberation Army (Zanla) en Joshua Nkomo se Zimbabwe People’s Revolutionary Army (Zipra).
In Maart 1979 word ltgenl George Peter Walls GLM DCD MBE bevelvoerder van die Rhodesiese weermag. Die Rhodesiese Bosoorlog was nog in volle swang. Dit word georganiseer en beheer vanuit Combined Operations (COMOPS) wat Rhodesië in sewe operasionele gebiede verdeel het. In elke gebied is ’n Joint Operational Centre (JOC) gestig wat operasies in daardie gebied beplan en beheer het.
Genl Magnus Malan, hoof van die SAW, en Walls het die behoefte geïdentifiseer dat ’n Suid-Afrikaanse skakeloffisier op Walls (toe nog bevelvoerder Combined Operations) se staf moet dien. SAW-skakeloffisiere is toe van Junie 1977 tot Augustus 1980 met gereelde tussenposes by COMOPS in die destydse Salisbury (vandag Harare) ontplooi. Met die ontplooiing van die skakeloffisiere was kol Minnaar Fourie reeds as militêre attaché in Salisbury gevestig. Hy moes genl Malan op hoogte hou van die militêre en politieke situasie in die land.
Die skakeloffisiere se pligte het persoonlike skakeling met Malan en Walls behels, asook voorligting ten opsigte van beplande oorgrensoperasies en lugsteun vir komende oorgrensoperasies. Hulle moes ook omsien na maritieme steun vir ooskusoperasies en die verkryging van spesiale uitrusting vir die Special Air Service (SAS), Selous Scouts en Special Branch.8 Die skakeloffisiere was terselfdertyd ten nouste betrokke by die verskaffing van nie-konvensionele wapentuig.
* * *
Kol Hans Möller, ’n valskermsoldaat en voormalige bevelvoerder van 1 Valskermbataljon, was die eerste Suid-Afrikaanse skakeloffisier wat na Rhodesië ontplooi is. Hy was toe aan Militêre Inligting (MI) verbonde. Die skakeloffisiere het almal by die King George VI-offisiersmenasie (KG VI) in die voorstad Borrowdale in Salisbury gebly. Hul verblyf was ’n luukse eenslaapkamerwoonstel eenkant in die offisiersmenasie se tuin wat as die King George VI VIP Flat bekend gestaan het.
Vir sekerheidsredes is Möller in Salisbury toegerus met volle Rhodesiese uniform met die rang van kolonel. Sy “nuwe identiteit” het nie altyd gewerk nie en hy is eenkeer trompop deur ’n Rhodesiër gekonfronteer: “Colonel, who are you?” wou hy weet, waarop Möller geantwoord het: “I am a Rhodesian officer on the staff of COMOPS.” Die Rhodesiër het egter geantwoord: “Sir, with respect, that’s not true because I know all the officers on the COMOPS staff and you are not one of them.”
Möller was deel van die COMOPS-beplanningspan wat kruis en dwars oor Rhodesië gereis het en al die JOC’s besoek het. Die doel van die besoeke was om die operasionele behoeftes van elke JOC te bepaal asook spesifieke logistieke behoeftes waarmee die SAW die Rhodesiërs kon help.
Die Combined Operations Team het soms ook Spesmagte se basisse besoek, soos Fort Bendura en Fort Buffalo Range. Die basisse is uitsluitlik deur die Selous Scouts beman en hulle het daar voorligting ontvang ten opsigte van operasies, werkwyses, opleiding en die sukses al dan nie om gevange vyande “te laat draai”. Daar is dan ook bepaal watter steun die SAW sou kon gee en ’n inkopielys is oorhandig aan EMLC9, ’n hoogs gespesialiseerde en geheime ingenieursmaatskappy wat spesiale toerusting aan Spesmagte verskaf het.
Hans Möller het tydens so ’n besoek met twee Zipras gesels “wat gedraai is. Groot was my verbasing toe ek op ’n vlug na Pretoria ’n sitplek langs dié twee here gekry het. Al wat ek later verneem het, was dat hulle onderweg was op ’n sending na die ‘buiteland’.”
Möller het Rhodesië se behoeftes persoonlik aan genl Malan en genlmaj PW van der Westhuizen, hoof van staf inligting (HSI) van die Afdeling Militêre Inligting (AMI) oorgedra. Dit het wapens en ammunisie ingesluit en enige ander krygstuig wat die Rhodesiërs vir spesifieke operasies nodig gehad het of vir hul oorlogspoging as ’n geheel. Malan en sy topstruktuur het die verskaffing daarvan dan goedgekeur of afgekeur.
By COMOPS was die eerste oggendterugvoeringsessie ’n algemene terugvoering oor wat die vorige 24 uur aan die operasionele front gebeur het. Met die tweede sessie is ook algemene terugvoering gegee en na gelang van die oggendsessie ook toekomstige operasies beplan. Die derde sessie het op ’n ad hoc-basis plaasgevind en spesiale operasies van strategiese aard is tydens dié sitting bespreek en beplan. Hierdie tipe operasies is in uiterste geheimhouding uitgewerk op die grondslag dat “net diegene wat moet weet” teenwoordig kan wees.
Kol Fourie het uit die aard van sy aanstelling as militêre attaché in Salisbury toegang gehad tot inligtingsbronne wat nie altyd vir die skakeloffisiere toeganklik was nie. Hy kon en het ook waardevolle insette gelewer ten opsigte van versoeke vir ondersteuning met operasies.
Nadat Möller sowat tien maande (van Junie 1977 tot Maart 1978) as skakeloffisier in Rhodesië was, word hy terugverplaas na Suid-Afrika en hervat sy pos by MI. Nie lank nie of hy word na die Spesmagte-HK in Pretoria oorgeplaas as senior stafoffisier operasies leër (SSO Ops Leër). Hier dien hy op die staf van Spesmagte se bevelvoerende generaal, genlmaj Fritz Loots. Kapt (Vloot) Woody Woodburne was die SSO Ops Vloot en kol Karel van Heerden die SSO Ops Lugmag. Möller was die mees senior van die drie en genl Loots het hom aangewend as sy tweede in bevel (2IB) binne Spesmagte.
Tydens Möller se ontplooiing by Spesmagte was hy baie nou betrokke by die toekomsbeplanning van die eenheid. Hy was onder meer gemoeid met die sogenaamde Serfontein-kommissie (1977–1979) wat aangestel is om Spesmagte se strukture en aanwending te ondersoek en aanbevelings te maak. Dit was ’n baie stimulerende tyd vir Möller omdat hy ’n natuurlike aanleg vir en belangstelling in hierdie tipe organisatoriese werk en ondersoeke gehad het.
Hy word onthou as ’n baie gewilde offisier wat by almal aanklank gevind het. Hy het ook op sportgebied uitgeblink en het vir Noord-Transvaal sowel as die Junior Springbokke op vleuel uitgedraf. Op die rugbyveld was dit bekend dat hy een van die moeilikste spelers was om grond toe te bring omdat hy ’n geweldige sterk hardloper was en besonder stewig op sy bene. Die hoogtepunt ná baie uitdagings in sy militêre loopbaan was sy aanstelling as bevelvoerder van kommandement Oos-Transvaal met die rang van generaal-majoor.
* * *
Kol Ewald Olckers vervang Hans Möller as skakeloffisier in Rhodesië. Hy en sy vrou, Isabel, en Tau, haar gemmerkat, vlieg op 19 April 1978 met twee tasse klere op ’n vlug van die Suid-Afrikaanse Lugdiens Salisbury toe. Op hul reisdokumente word die doel van hul besoek bloot as “on business” aangedui. Olckers het ’n onderneming van genl Loots gehad dat sy ontplooiing “net vir ’n jaar sou wees”.
Nes Möller was Olckers ook ’n valskermsoldaat en voormalige bevelvoerder van 1 Valskermbataljon. Dit het egter ’n jaar en tien maande geduur voordat hy as skakeloffisier afgelos is toe kmdt André Bestbier, ook ’n valskermsoldaat, op 22 Februarie 1980 oorgeneem het. In Rhodesië was Olckers en Bestbier se funksies soortgelyk aan dié van Möller. Op die dag van Olckers se vertrek terug na Suid-Afrika (met gemmerkat en al) het duisende ondersteuners op die lughawe saamgedrom om Robert Mugabe in te wag.
Olckers het Bestbier by genl Loots aanbeveel as die aangewese persoon om by hom oor te neem.10 Hy en Bestbier was goed bevriend, het saam in die offisiersmenasie op Oudtshoorn gebly, saam vakansie gehou, sport beoefen en by geleentheid saam as kroegmanne opgetree.
Olckers het baie goeie herinneringe aan die Rhodesiese fase. “Afgesien daarvan dat ek baie lekker gewerk het, het ek ook baie mense ontmoet en boonop goed leer Engels praat … later sou dit my goed te pas kom in Durban. Saterdagmiddae is ek in baadjie en das saam met Isabel vir afleiding na die Owners and Trainers se VIP-losie by Borrowdale Race Course. Dit was ook ’n instelling om ’n drankie te gaan drink by die Monomatapa-hotel.11 Met die naderende verkiesing is bykomende Recces onder dekking in Salisbury ontplooi en moes ek by meer as een geleentheid gaan vrede maak tussen die Recce-operateurs en die Filistyne.”12
Met sy terugkeer uit Rhodesië word kol Olckers aangestel as die SSO Ops Leër by Spesmagte. Op 2 Maart 1981 word hy die eerste bevelvoerder van 1 Verkenningsregiment (1 VR), wat uit 1 Verkenningskommando (1 VK) ontstaan het. Hy was die bevelvoerder tot 30 Maart 1983.
Olckers sou buiten sy sterk leierseienskappe ook deur sy manskappe onthou word as die spreekwoordelike “man’s man”. Hy het op die Bluff in Durban saam met die manskappe geduik en saam by die walvisstasie visgevang. Verder het hy ook op die sportveld uitgeblink en selfs vir die SA Leër rugby gespeel.
* * *
Kmdt André Bestbier, Olckers se opvolger as skakeloffisier, kom uit ’n familie met sterk militêre bande. Sy pa was ’n AO1 in die SAW en sy ouer broer, Frank, ’n infanteris en valskermsoldaat wat tot brigadier-generaal gevorder het. Sy jongste suster is boonop met ’n gewese valskermsoldaat en bevelvoerder van 5 Recce, kol James Hills, getroud. Bestbier het sy aanvanklike militêre opleiding in 1964 by die destydse Leërgimnasium in Voortrekkerhoogte begin. Daarna het hy onder meer diens gedoen in Walvisbaai, Suidwes-Afrika, en die Infanterieskool op Oudtshoorn. Daar het hy onder Jan Breytenbach ’n “recce-keuring” ondergaan en daarna ook die basiese valskermkursus in Bloemfontein gedoen.
Sy pad was nie deurentyd “met rose besaai nie” en hy was onder meer in ’n ernstige persoonlike botsing met Breytenbach, wat tot sy spyt ’n stramheid in hul verhouding veroorsaak het. Met sy aanmelding vir die springkursus in Bloemfontein was sy ontvangs by 1 Valskermbataljon ook geensins gul nie. Hy het egter sy bes gedoen om die kursus suksesvol af te lê en het dit geslaag.
Die volgende jaar is hy boonop na 1 Valskermbataljon verplaas. Sy ontvangs deur die bevelvoerder en sommige van sy personeellede was weer eens kil. Bestbier het sy take egter na sy beste vermoë uitgevoer as onderskeidelik pelotonbevelvoerder, kompanie-2IB, transportoffisier en bevelvoerder van die valskermopleidingsvleuel. Hy was deurentyd gefokus en gedetermineerd om die hoogste vlak in sy veld te bereik.13
Nadat hy die SA Leër se senior bevel- en stafkursus in 1978 voltooi het, het genl Loots hom ingelig dat hy kol Olckers as skakeloffisier in Rhodesië moet gaan aflos. Tot tyd en wyl dit gebeur, moes hy egter eers by die Spesmagte-HK aanmeld om die nodige voorbereidings te tref. Hy het in die KG VI-offisiersmenasie tuisgegaan en Olckers het hom oor sy take ingelig. Dit sou hoofsaaklik skakeling met die hoof van die Rhodesiese weermag wees, asook met hul hoof van die leër en die lugmag.
Bestbier is ook voorgestel aan die hoof van die Special Branch, wat hy as ’n besonderse persoon ervaar het en van onskatbare waarde as kollega geag het voor en ná die eerste vrye verkiesing. Bestbier het elke oggend die operasionele voorligtings by COMOPS bygewoon. Derhalwe kon hy alle informasie na MI en Spesmagte deurstuur. Hy het vrye toegang gehad tot verskeie eenhede soos die SAS, Selous Scouts, Rhodesian Light Infantry (RLI) asook die lugmageskaders. Dit het hom in staat gestel om die Selous Scouts en die SAS se skakeling met Spesmagte (Recces) moontlik te maak.
Met die aanloop tot die eerste vrye verkiesing in Rhodesië-Zimbabwe kon hy reeds ’n gebeurlikheidsplan saamstel om bystand te lewer indien die nuwe regering vergeldingsaksies sou wou uitvoer. Bestbier het gereeld na Suid-Afrika gevlieg waar hy saam met genls Malan, Loots en Van der Westhuizen, hoof van staf inligting (HSI), samesprekings gehou het. Hy het terselfdertyd sy persoonlike beplanning op datum gehou ingeval hy aan die kaak gestel sou word as verteenwoordiger van die Suid-Afrikaanse veiligheidsmagte.
Ná die onttrekking van die Suid-Afrikaners – die Recces en lugmagvlieëniers – het Bestbier ’n ruk in Rhodesië agtergebly en steeds die voorligtings by COMOPS bygewoon. Wanneer hy dan Suid-Afrika toe gekom het, was sy samesprekings spesifiek gefokus op hoe Spesmagte die Rhodesiërs – in die besonder die SAS en Selous Scouts – in Suid-Afrika kon akkommodeer ná onafhanklikwording.
Daar is besluit om sensitiewe uitrusting en toerusting van die Fylde-lughawe uit te vlieg. Vir dié doel is vier C-160- en C-130-vragvliegtuie van die SA Lugmag gebruik. Die Rhodesiese personeel moes op hul eie stoom na Suid-Afrika ry. Lede van die Selous Scouts sou na 5 VK op Phalaborwa gaan, terwyl die SAS by 1 VK in Durban geakkommodeer sou word. Die rede vir die uitvlieg van die sensitiewe toerusting en uitrusting was om die “nuwe” Rhodesiese spesiale magte – nou Robert Mugabe se weermag – te kortwiek in hul aanwendingsmoontlikhede.
Die Rhodesiese konflik het tot ’n einde gekom ná samesprekings in Desember 1979 by Lancaster House in Londen tussen die Rhodesiese regering, Brittanje, Mugabe en Nkomo. Al die partye het die Lancaster House-ooreenkoms onderteken en Rhodesië is tydelik onder Brittanje en die Statebond se beheer geplaas.
Bestbier was steeds in Rhodesië met die verkiesing in Maart 1980, wat onder Brittanje en die Statebond se toesig plaasgevind het. Ná Zanu-PF se oorwinning is Robert Mugabe op 18 April 1980 as Zimbabwe se eerste minister ingehuldig. Mugabe het al die senior offisiere, onder wie Bestbier, ingeroep en hulle versoek om aan te bly en die land te ondersteun. Bestbier het elke dag sy volle Rhodesiese uniform gedra en hom as ’n Rhodesiër voorgedoen.
Hoewel Suid-Afrika hulp verleen het tydens die eerste demokratiese verkiesing was die verhouding met die RSA baie gespanne. Die verwagting in Rhodesië was dat Suid-Afrika sou ingryp indien die uitslag van die verkiesing nie na wense was nie. Hierdie vyandigheid het algaande opgebou en ná die verkiesing het dit vererger, wat daartoe gelei het dat die meeste Suid-Afrikaanse burgers, asook baie Rhodesiërs, die land verlaat het. Al hierdie faktore het bygedra om die spanning in die land verder te laat oplaai.
Loots en Van der Westhuizen het Bestbier opdrag gegee om hom gereed te hou om “met groot spoed onttrek te word”.
“Ek het te alle tye genoeg geld en my paspoort by my gehad,” vertel Bestbier. “Een oggend in Augustus 1980, net ná die oggendsessie by COMOPS, bel my vriend by Special Branch my. Hy het net gesê ‘André, get out … Now!’ Ek het gegroet en niks verder gesê nie, net genl Walls het geweet. Hy het my gegroet, maar niks gesê nie. Ek is met my handbagasie in groot haas na die lughawe in Salisbury waar ek ’n kaartjie op ’n SAL-vlug gekoop het. Die passasiers was reeds besig om aan boord te gaan. Ek was die heel laaste persoon wat in die vliegtuig geklim het.”
Bestbier het die sleutel van die skakeloffisiere se motor – ’n ou Peugeot14 wat tot hul beskikking gestel is – onder die sitplek versteek. Toe hy in Suid-Afrika land, het hy sy kontak by die ambassade in Zimbabwe gebel om die motor te gaan verwyder. Hy het ook met sy sekretaresse by COMOPS geskakel en gehoor dat Mugabe se nuwe Special Branch 20 minute nadat die vliegtuig opgestyg het, by die kantoor opgedaag het om hom in hegtenis te neem. Hulle het uitgevind dat Bestbier ’n Suid-Afrikaanse offisier was wat die ou Rhodesië ondersteun het.
In Pretoria het hy personeel van HSI, genl Loots en genl Malan oor die situasie ingelig.
Ná sy ondervinding in Rhodesië is André Bestbier in Augustus 1980 na die Spesmagte-HK ontplooi as SO1 Ops15 onder Hans Möller (toe die SSO Ops Leër by die Spesmagte-HK). Dit is hier waar hy een oggend in Februarie 1981 na genl Loots se kantoor ontbied is. Loots het hom ingelig dat hy na 1 VK in Durban toe moet gaan om die bevel van die Recces by kmdt Jakes Swart oor te neem.16
Bestbier beskou sy verplasing na 1 VK (en later 1 VR) as die beste ding wat in sy lewe kon gebeur omdat dit totaal nuwe horisonne vir hom oopgemaak het. Hy het twee jaar later op 30 Maart 1983 1 VR se bevel by Ewald Olckers oorgeneem en was vir vyf jaar tot Desember 1988 1 VR se bevelvoerder.
Hy het uitgeblink op organisatoriese en bestuursvlak. In sy tydperk as bevelvoerder het daar ’n groot omwenteling plaasgevind in die verkryging van toerusting van hoë kwaliteit en uiters gevorderde toerusting vir die Recces. Hy het goed omgesien na alle vlakke van sy personeel wat sein, medies, onderhoudstaf en elke ander afdeling in die eenheid ingesluit het. Op sportgebied het hy in sy jonger dae deeglik sy merk gemaak deur die Springbokke en die Vrystaat as haker te verteenwoordig.
Bestbier se voorganger as bevelvoerder by 1 VK, kmdt Jakes Swart, het gedurende 1977 die SA Leër se senior bevel- en stafkursus in Pretoria gedoen. Gevolglik was hy nie deel van die aanvanklike beplanningsproses oor samewerking tussen 1 VK en die SAS nie. Hy het dus nie aan die begin kontak met die SAS se bevelvoerder, Brian Robinson, of die Selous Scouts se bevelvoerder, Ron Reid-Daly, gehad nie. Swart het egter wel heelwat kontak met ltgenl Walls gehad, veral tydens Operasie Bootlace/Uric wat ná sy stafkursus in die Gaza-provinsie in Mosambiek uitgevoer is (sien deel 1, hoofstuk 7).
Die SAS het ’n groot tekort aan mannekrag gehad en die ontplooiings van 1 VK, 2 VK en 5 VK het hul hand in dié verband gesterk. Die Recces het gehelp met gebiedsoperasies en 1 VK het in uitgestrekte verantwoordelikheidsgebiede in die Gaza-provinsie geopereer en die gebiede wat aan hulle toegeken is, gedomineer. 1 Recce het nie slegs saam met die SAS in Gaza gewerk nie, hulle het ook heelparty suksesvolle operasies ter ondersteuning van die Mosambiekse weerstandsbeweging Renamo uitgevoer.