Читать книгу 1 Recce, volume 2 - Alexander Strachan - Страница 8
2
ОглавлениеOperasie Acrobat17
Aggressiewe optrede aan die Russian Front
“Die terrs het op ons spoor geloop en gelukkig het ons ’n dogleg gemaak voor ons oplê. Een van die terrs se geweerloop het aan ’n tak gehaak en die geluid het ons gewaarsku. Ons het vuur oopgemaak en van hulle doodgeskiet en ’n paar gewond.”
Só herroep SW Fourie ’n noodlottige kontak vroeg in Februarie 1978 toe lt Kokkie du Toit se span die spoorlyn in die omgewing van Madulo-pan in die Gaza-provinsie in Mosambiek gesaboteer het. Daarna beweeg hulle na ’n afgooistrook (AS) vir ’n rantsoenaanvulling. Naby die AS neem die span ’n hinderlaagstelling in. Lt Douw Steyn, die span se vernielingspesialis, lê ’n paar Claymore-myne op hul spore en koppel dit met elektriese kabels aan die ontsteker. ’n Frelimo-groep loop onverwags in die hinderlaagstelling vas en Steyn detoneer die myne.
’n Hewige vuurgeveg volg en toe dit bedaar, vorm Du Toit sy span in ’n formasie om die doodsakker op te ruim. Hulle vee in ’n uitgetrekte linie deur die bos op soek na gewonde Frelimo-soldate – maar kyk een mis wat onder ’n bos ingekruip het.
“Toe die vuur afbreek, het Kokkie vorentoe geloop en teruggekom met een van hul AK47’s,” vertel Fourie. “Hy het my gewys daar is ’n tak in die loop afgebreek – die terrs het waarskynlik gedink as iemand die wapen afvuur, sal die loop in sy gesig ontplof. Toe het Kokkie beduie ons moet regmaak om te beweeg. Ons het agter ’n dik boom gelê en hy het linksom beweeg en ek regsom. Hy het nog ’n teken na links gewys … dit was vir die ouens om uit sprei, want ons gaan deur die doodsakker vee.”
Die gewonde Frelimo-soldaat onder die bos identifiseer Du Toit maklik as spanleier omdat hy die handseine gee en die span beheer. Hy vuur ’n enkelskoot op ’n kort afstand en tref hom in die sy. Kokkie du Toit sterf voordat hy die grond tref.
“Toe Kokkie vorentoe draai, skiet die gewonde terr hom. Hy het omgetol en agter my geval. Ons het mond-tot-mond-asemhaling toegepas, maar hy was reeds dood. Die koeël is deur sy regterarm en hart en ek dink anderkant uit.”
Fourie vermoed die gewonde Frelimo was dieselfde een wat vroeër die Claymore-myn se draad op die grond raakgesien het. “Die terr was tussen ons en die Claymore en hy het die draad al na die myn toe gevolg. Toe hy by die myn kom, het Douw dit gedetoneer. Die back blast van die Claymore het hom beseer. Nadat hy vir Kokkie geskiet het, het Joe de Villiers hom onmiddellik met sy wapen uitgehaal.”
Hierna onttrek die span en dra hul gesneuwelde makker se lyk saam. ’n Helikopter was nie dadelik beskikbaar nie – helikopters was skaars in die Rhodesiese lugmag en deurentyd ontplooi. Die span word nou geforseer om aan te hou beweeg.
Fourie onthou hoe hulle met die draagbaar gesukkel het: “Ons het sulke primitiewe draagbare gehad, daarom moes vier ouens vir Kokkie dra. Dit het ons met min ouens oorgelaat wat effektief kon skiet. Later jare sou die mediese toerusting verbeter en het hulle ’n draagbaar ontwerp wat net deur twee ouens gedra word wat boonop nog kon skiet ook.”
Teen laatmiddag sak ’n digte mis toe wat dit onmoontlik maak vir ’n helikopter om Du Toit se lyk te kom haal. “Ons het tot donker geloop en skuiling gekry teen ’n koppie wat baie ruig was. Nie een van ons wou naby die lyk lê nie en ons het ’n ent daarvandaan in rondomverdediging gegaan,” vertel Fourie.
Du Toit het altyd ’n bottel rum in sy rugsak saamgedra en daardie aand in die oplêplek haal Steyn die bottel uit en elkeen drink ’n sopie op hul gesneuwelde makker. In die donker verberg hulle Du Toit se lyk in die digte bos ingeval die span onverwags moet begin hardloop vir hul lewe. Getrou aan Recce-tradisie sou hulle nie toelaat dat sy lyk in vyandelike hande val nie.
“Willy Ward was die nuwe spanleier … Die volgende oggend kon ons nie die lyk kry nie, dit was mos donker toe ons by die plek aangekom het. Ons het Kokkie se lyk toe deur middel van die reuk opgespoor.”
Die helikopter kom toe taamlik vroeg in en land in die nabyheid. Onder vyandelike vuur word Du Toit se lyk uitgelig. Steyn, wat beseer was – tydens sy valskerm-boomlanding het ’n tak sy stewel deurboor en in sy voet ingesteek – word saam met die lyk na die Tak HK afgevoer.
Frelimo-soldate was steeds kort op hul hakke en die span begin dadelik weer hardloop nadat die helikopter opgestyg het. Hulle was nou te min in getalle om die Frelimo-oormag die stryd aan te sê. Uiteindelik is die span opgepik en na die Tak HK gevlieg waar ’n nabetragting onder bevel van kapt Hannes Venter plaasgevind het.
* * *
Sedert 1976–1977 het Robert Mugabe se Zanla-guerrillas Rhodesië op ’n gereelde basis uit Mosambiek se Tete- en Gaza-provinsie geïnfiltreer. Zanla se strategiese plan was ook om vanuit die Gaza-provinsie die logistieke roetes in Suid-Matabeleland na Suid-Afrika te saboteer. In die loop van 1976 het die Selous Scouts verskeie logistieke Frelimo-Zanla-basisse in die Tete- en Gaza-provinsie aangeval. Hulle het ook gedeeltes van die spoorlyn tussen Malvernia en São Jorge do Limpopo vernietig of beskadig.
Zanla het sy troepe by Xai-Xai aan die Mosambiekse kus saamgetrek. Hulle het opleiding in Tanzanië ontvang en is daarvandaan kuslangs na Xai-Xai vervoer. Hiervandaan is hulle per pad of spoor afgevoer na Aldeia da Barragem, Frelimo se brigade-HK in die Gaza-provinsie. Weens die Selous Scouts se aksies was die Zanla-guerrillas genoodsaak om te voet of per pad na die Rhodesiese grens met Mosambiek te beweeg.
Gedurende Oktober 1977 het die Selous Scouts die verantwoordelikheid om infiltrasies uit die Gaza-provinsie te beveg, aan die SAS Rhodesië oorhandig. Dit was in hierdie ongenaakbare operasionele area met min water en onbegaanbare sandelhoutwoude waar Suid-Afrika se Recces saam met die SAS militêr teen Frelimo en Zanla opgetree het.
* * *
Die Recces se voorbereiding en beweging na Rhodesië het altyd in groot geheimhouding geskied.18 Sodra die groepbevelvoerders die opdrag ontvang het om operateurs na Rhodesië te ontplooi, het die voorbereiding begin. Uitrusting, wapens en ammunisie is gepak, gekrat en genommer. Die groepsersantmajoor het ’n inhoudslys van elke krat opgestel waarna elke krat geweeg is. Terselfdertyd het die operateurs hul persoonlike gevegsuitrusting nagegaan en gereed gemaak vir die ontplooiing.
Operasionele sekerheid (OPSEK) is gehandhaaf en niemand in die eenheid het geweet waarheen die groep onderweg was nie – niemand het ook vrae gevra nie. Maj Wessel Maree, 1 Recce se logistieke offisier, onthou OPSEK as volg:
“Vanweë die operateurs se deurlopende opleiding het ons as ondersteuningspersoneel nooit geweet of die opleiding vir ’n spesifieke doel was (operasioneel) of net gewone opleiding nie. Sekere operateurs sou met die oggendparade nog in die eenheid wees, net om dan ’n ruk lank te verdwyn en eers weke of maande later terug te keer. 1.1 Kommando het sy eie store en stoorman gehad en die lede kon dus ontplooi word sonder dat die res van die eenheid daarvan geweet het. Niemand het ooit geweet presies wat die operateurs se program en take van dag tot dag sou wees nie.”
Vir sekerheidsredes het die beweging na Rhodesië meestal gedurende die nag plaasgevind, behalwe vir die eerste ontplooiing wat in die dag geskied het. Die groepe het altyd in burgerdrag met al hul toerusting na Durban se militêre lughawe beweeg. Dakota-vliegtuie van die SA Lugmag is gebruik om die groepe na Rhodesië te vlieg. Sodra die vlieëniers gerapporteer het dat hulle in Rhodesiese lugruim is, het die operateurs hul Rhodesiese gevegsdrag uit hul drasakke gehaal en aangetrek. Die burgerdrag is dan in die drasakke gesit.
Met die eerste ontplooiing het 1 VK se Bravo-groep onder bevel van kapt Hannes Venter gedurende die dag in twee Dakotas vanaf Durban na die Buffalo Range-vliegveld naby Chiredzi in Rhodesië gevlieg. Nadat hulle die Limpopo-rivier oorgesteek het, het die vlieëniers ’n hoogte van sowat 90 m bokant die grond gehandhaaf, wat binne reikafstand van AK47-vuur was. Die vlieëniers was onervare en het gereken hulle vlieg laag genoeg. Hulle het boonop ’n formasie gevorm met die tweede Dakota wat ’n vliegtuiglengte skuins agter die voorste Dakota gevlieg het.
Dit het die vliegtuie baie kwesbaar gemaak en Venter het die gesagvoerder van die Dakota, kapt Jaap du Preez, gevra om eerder op boomtophoogte te vlieg. Du Preez het hom nie aan dié versoek gesteur nie. Met die terugvlug het hulle dieselfde roete gevolg en net voor die Limpopo-rivier onder hewige AK47-vuur deurgeloop. Du Preez se Dakota was vol koeëlgate. Dit was ook die laaste keer wat die Dakotas nie op boomtophoogte gevlieg het nie.
Ná ontplooiings is die groepe weer in Rhodesië by die voorste taktiese vliegveld opgepik en na Durban se lugmagbasis gevlieg. Sodra die vliegtuig in Suid-Afrika se lugruim was, het die operateurs die Rhodesiese uniforms uitgetrek en hul burgerdrag aangetrek. Hulle het meestal in die nag by Durban se lugmagbasis aangekom. Voor sonop was die operateurs al terug in hul basis op die Bluff – nog voordat die res van die eenheid vir die dag se werk aangemeld het.
Soms het die Recce-groepe direk van Durban na die voorste taktiese vliegvelde soos Mabalauta gevlieg, mits die aanloopbane geskik was vir die Dakotas om daar met ’n swaar vrag te land en op te styg.
Venter en AO2 MJ (Yogi) Potgieter het vóór die 1 Recce-ontplooiings die SAS, Selous Scouts en RLI besoek om meer van die Rhodesiese operasionele doktrine, uitrusting, beplanning, uitvoering, en so meer te wete te kom. Dit was ’n inligtingsbesoek van drie weke en hulle het die geleentheid gebruik om ook die Tak HK’s te besoek. Terwyl Venter by die Selous Scouts was, het hy saam met hul bevelvoerder, ltkol Ron Reid-Daly, beweeg. Hulle het onder meer ’n Joint Operational Centre (JOC) besoek en Reid-Daly het aan almal vertel dat Venter sy adjudant is en dat hy hom in die reserwemag gewerf het. Dit was ’n ongemaklike situasie maar skynbaar het almal Reid-Daly se verduideliking aanvaar en geen vrae gestel nie.
Van Desember 1977 tot Desember 1979 is groepe van 1 Recce bykans voltyds ontplooi, hoofsaaklik in Mosambiek se Gaza-provinsie. Hierdie gebied het onder die operateurs as die Russian Front bekend gestaan weens die groot aantal Russiese en Oos-Duitse raadgewers wat saam met die vyandelike magte ontplooi was. Operasies is ook in Zambië en elders uitgevoer maar op kleiner skaal.
Die Russian Front het ook so bekend gestaan as gevolg van die ongenaakbaarheid van die terrein en die aggressiewe Frelimo-opvolgaksies. Tydens die Tweede Wêreldoorlog het die Duitse soldate na die Russiese oosfront verwys as die Russiese Front en dit is as ’n straf beskou om daar ontplooi te word. Net so het die Rhodesiese magte tong in die kies na Gaza verwys as die Russian Front.
In die twee jaar is sowat 143 Recce-operateurs van 1 VK, 2 VK, 4 VK en 5 VK in Rhodesië ontplooi. Hulle is hiervandaan na Mosambiek ontplooi met die doel om die vyand deur middel van gevegspatrollies te ontwrig en ook hul logistieke steun in die wiele te ry. In Gaza is daar hoofsaaklik op die spoor- en kraglyn tussen Malvernia en Maputo en op die aangrensende pad gekonsentreer. Die Recces se ander teikens was die gewapende observasie- en masjiengeweerposte wat in ’n lugafweerrol ontplooi is om Dakota-infiltrasies aan te val.
Valskermafgooistroke was ongemerk en die springers het gewoonlik in bome geland – dit was eintlik wonderbaarlik hoe min beserings voorgekom het. Een van die ernstiges was lt Douw Steyn wat in ’n sandelhoutwoud deur die bome geval het. Met die landing het ’n droë tak deur sy Waxie-stewel in sy voet gesteek. Die besering was van so ’n aard dat hy later afgevoer moes word.
Tydens een van die valskerminfiltrasies in Januarie 1978 het sers Jack Greeff tussen klippe in die Lebombo-berg geland en sy enkelligamente geskeur. Hy het egter uitgehou en is saam met die span na hul teiken, ’n spoorlyn, en is eers later uitgevlieg. Onder die ander valskermbeserings was dié van kpl FL (Frik) Gouws wat met sy landing ’n tak deur sy bobeen gekry het en ook afgevoer moes word.
Recce- en SAS-spanne was vir sowat sewe tot veertien dae en soms langer sonder steun ontplooi. Hierna is hulle óf onttrek óf afgewissel óf het aanvullings vir ’n verdere sewe tot veertien dae gekry. Hul taktiek was om myne op ’n pad te lê en die vyand deur middel van hinderlae aan te val. Dit het die gewenste resultate gelewer: wanneer die vyand op die pad beweeg het, is hul voertuie te voet deur ten minste ’n kompanie infanteriesoldate beskerm. Die gevolg was dat die vyand altyd ’n groot aantal troepe langs die pad moes ontplooi, wat ander ontplooiings beperk het.
Tydens kontakte was daar as ’n reël gewoonlik verliese binne die vyand se geledere. Die verliese het hul veglus en spoed gedemp, wat die Recces dan die kans gebied het om na ’n veiliger area te onttrek. Dit was altyd ontplooiings met ’n hoë risiko wat grootliks bygedra het tot die beveiliging van Suidoos-Rhodesië en die noordoostelike grens van Suid-Afrika.
Gedurende Desember 1977 het lede van Bravo-groep 1 VK onder leiding van kapt Hannes Venter met intensiewe opleiding begin. Die groep is ingelig dat hulle voorberei vir ’n Eheke-tipe19 operasie teen Swapo in Angola. Dit was egter weer een van die dekstories wat dikwels ter wille van geheimhouding opgedis is.
Groot was die groep se verbasing toe hulle by Durban se lugmagbasis aankom en twee Dakota-vliegtuie aantref wat gereed staan om hulle te vervoer. Normaalweg vind beweging na Suidwes-Afrika met ’n C-130- of C-160-vliegtuig plaas.
Tydens ’n ander ontplooiing was die dekstorie byvoorbeeld dat die groep vir heropleiding na die Oudtshoorn-area vertrek. Om meer stukrag aan die dekstorie te verleen, is selfs die groot HF-radio-antenna op die Bluff deur die seiners in Oudtshoorn se rigting geswaai. Daar is deurentyd baie aandag aan die dekstories verleen sodat dit as volkome geloofwaardig moet voorkom en op dié manier almal (ook eie personeel) se aandag moet aflei van die werklike missie op hande.
Op Durban se lugmagbasis het die groep in die twee Dakotas opgestyg en onderweg is hulle beveel om ander uniforms aan te trek. Pleks van die gebruiklike Swapo- of Oosblok-uniforms is die bekende Rhodesiese kamoefleeruniforms, wat in kartonhouers verpak en verseël was, uitgedeel. Vir die eerste keer het dit tot die groep deurgedring dat hulle eintlik na Rhodesië onderweg is. Tydens die eerste ontplooiing is nagelaat om Rhodesiese dollar aan die manne uit te reik en hulle moes in Rhodesië rande vir dollars verwissel. In toekomstige ontplooiings is spesifiek op hierdie aspek gelet.
Die groep is gedurende die vlug deur Venter ingelig dat hulle saam met die SAS ontplooi gaan word en vir sekerheidsdoeleindes voortaan net Engels mag praat. Laat die middag het die twee Dakotas by Buffalo Range geland waar hulle onmiddellik deur die SAS-inligtingsoffisier en SAS-bevelvoerder welkom geheet en voorgelig is. 1 Recce en die SAS se Taktiese HK’s was by Buffalo Range, maar is na Mabalauta op die oewer van die Nuanetzi-rivier verskuif. Dit was hoofsaaklik vanweë sekerheidsredes en omdat die afstande na die operasionele gebied en reaksietye korter was van Mabalauta af.
Mabalauta was ’n semi-permanente tentkamp waarvandaan die Recces en die SAS operasies na die Gaza-provinsie in Mosambiek geloods het. Daar was verskeie loopgrawe om die basis. Die tente het onder groot bome gestaan en ’n mediese pos is in ’n tent van 4 m × 4 m ingerig. Die kleinerige ablusieblok was ’n permanente struktuur.
Die basis was informeel in twee gedeel met die Recces en die SAS wat elk hul eie gedeelte gehad het. Elke groep het ook sy eie operasietent gehad van waar die operasionele bevelvoerders die operasies beheer het. Die manne het egter gemeng en oor en weer gekuier. Die gewoonte was om ná laastelig by ’n mortierput tussen die SAS- en Recce-deel van die kamp bymekaar te kom en ’n paar biere te drink.
Die Nuanetzi-rivier (nou Mwenezi-rivier) was ook ’n lekker ontspanningsplek en die manne het altyd teen laatmiddag in die rivier gaan was. Mabalauta was bekend vir sy mooi sonsopkomste en -ondergange. Dit was asof die rooigekleurde weste saans ’n groot kalmte oor die basis gebring het. Hoewel dit ’n stowwerige plek was, was dit tog altyd ’n baie welkome gesig wanneer die helikopters die operateurs ná ontplooiings daar afgelaai het.
Recce-spanne het onafhanklik geopereer en met valskerms geinfiltreer, waarna hulle dan met Alouette-helikopters onttrek is. Die doel van die ontplooiings was om die vyand met aggressiewe gevegspatrollies aan te val en hul logistieke steun te ontwrig. Venter het die meeste van sy tyd aan bevel-en-beheer bestee. Hy het dus elke dag baie tyd in ’n Rhodesiese Lynx-vliegtuig deurgebring waarmee hy die Russian Front deurkruis het. Die Lynx, met sy outydse push and pull-konfigurasie, was baie lawaaierig. Die vlieëniers was altyd vars en is telkens ná twee weke aan die Russian Front afgewissel.
Venter het dag vir dag Telstar20 gevlieg om kommunikasie te bewerkstellig en verkenning te doen. Hy het oorhoofse dekking verskaf vir Alouette-helikopters en Dakotas wanneer hulle met valskermtroepe ingevlieg het en daarna weer geëksfiltreer het. Die Lynx was bewapen met twee .303- Browning masjiengewere wat bokant die kajuit gemonteer was asook met twee 37 mm- Sneb missiellanseerders met vier missiele aan elke vlerk. Hulle het ’n paar keer oos van Mapai voertuie aangeval en dikwels tydens Dakota-valskerminfiltrasies lugsteun verskaf wanneer die Dakotas vuur getrek het.
Dakotas het altyd vuur getrek oor die Limpopo-vallei waar Russiese DShK 12,7 mm-masjiengewere ontplooi was. Die Lynx het dan op die wapenstellings afgeduik en hulle met die “swaar” wapens bestook. Dit het die gewenste effek gehad want die Lynx het die teiken geword en die Dakota kon in baie minder gevaar voortvlieg.
Om die Alouette-helikopters oorhoofse steun te gee, moes Venter-hulle die 23 mm-lugafweerkanonne wat by die spoorwegstasies en by Mapai ontplooi was, ontduik. Hulle het die Alouette-vlieëniers gehelp met navigasie omdat dié slegs die spoorlyn gevolg het. Wanneer hulle naby ’n stasie kom, het Venter-hulle die Alouettes dan om die stasie gelei en wanneer hulle verby was, weer terug na die spoorlyn toe.
Die 23 mm-lugafweerkanonne se effektiewe plafonhoogte was 1 400 m en die Telstar het net bokant dit gevlieg. Hulle het byna daagliks 23 mm-plofkoppe om en onder hulle sien ontplof, wat baie senutergend was. Wanneer dit bewolk was, het hulle net onder die wolke gevlieg. Sodra hulle vuur trek, het hulle opgewip tot binne die wolke, welwetende dat hulle steeds binne trefafstand was.
In die Telstar het hulle baie ou valskerms aangehad en op die valskermdoeke gesit. Venter het ook sy gevegsuitrusting sowel as sy AK47 aan sy lyf gehad en hy en die vlieënier was gereed om te spring indien nodig. Hy het egter nie geweet hoe hy by die vliegtuig sou uitkom nie weens die uitrusting en wapen aan sy lyf. Vanweë al die ure in die lug kon Venter teen hierdie tyd self ook al die vliegtuig hanteer ingeval ’n noodsituasie sou opduik. Hy was volgens hom in staat om die vliegtuig te beheer tot op die finale aanloop.
Die vlieëniers saam met wie hy gevlieg het, was jonk en waaghalsig, so ook die Alouette-vlieëniers wat onverskrokke was en noodonttrekkings onder baie gevaarlike omstandighede uitgevoer het. Hulle het soms weens te min brandstof in die bos geland sonder dat hulle presies geweet het waar hulle is. Soms kon dit selfs in Mosambiek gewees het. Die Lynx het dan Alouettes met brandstof na die gestrande Alouette gelei. ’n Hele paar vlieëniers en bemanning van die SA Lugmag het tydens die Rhodesiese konflik Alouette-helikopters gevlieg. Onder hulle was kapt Dave Atkinson wat met ’n Honoris Crux-dekorasie vereer is – ’n onverskrokke vlieënier en ou vriend van 1 Recce wat nie geskroom het om Recce- en SAS-spanne onder vyandelike vuur op te pik nie.
Kapt Arthur Walker was ook in Rhodesië ontplooi as Alouette-helikoptervlieënier. Die Honoris Crux Goud (HCG) is later aan hom toegeken vir sy onverskrokke optrede tydens ’n operasie op 15 Januarie 1981 in Angola. Later daardie jaar, op 29 Desember, onderskei hy hom weer tydens ’n operasie in Angola en word met die HCG-balkie vereer. Walker het dus twee keer die HCG ontvang en was die hoogs gedekoreerde soldaat in die SAW.
Net ses HCG-dekorasies is in Suid-Afrika uitgereik. Een van 5 Recce se operateurs, kpl Gabriel Fernando, is ook met die HCG vereer. Fernando het syne (HCG no 3) postuum ontvang vir sy optrede in aksie op 1 Augustus 1980. Walker het HCG no 4 plus balkie ontvang as lid van die lugmag; die leër het drie HCG-medaljes ontvang en die vloot een wat aan eerste bootsman Paul Burger Whiley toegeken is. Omdat Walker twee ontvang het, is no 5 die laaste nommer van die HCG wat toegeken is.
* * *
Op 4 Januarie 1978 sneuwel okpls CF Mennigke en C de Wilzem in ’n vyandelike hinderlaag – die eerste operateurs van 1 Recce wat in Rhodesië sterf. Op 28 Januarie 1978 sterf kpl Manuel Ganhão, ook van 1 Recce, tydens ’n hinderlaag wat die span onder leiding van lt Kokkie du Toit lê. Du Toit se span het ’n spoorwegsubstasie aangeval en die vyand het gevlug. Frelimo het vinnig opgevolg en hy besluit om ’n hinderlaag vir hulle te lê. Ganhão word in die hewige vuurgeveg noodlottig getref. Maar Du Toit en sy span wis nie dat die Frelimo’s wat in hul hinderlaag beland het, slegs die verkenningspan was van ’n veel groter opvolgspan nie. In die daaropvolgende gevegte met die groter groep laat spaander Du Toit-hulle terwyl hulle Ganhão se lyk uitdra.
Volgens SW Fourie was hulle ’n groot span van sowat tien man21 wat ontplooi is: “Dit was van die eerste ontplooiings van 1 VR. Ons het in die nag ingespring en soos gewoonlik was die landing sagter as jy ’n boom tref. Aan die Russian Front het ek gou geleer jy stamp binne twee dae ’n kontak. Die terrs was goed met spoorsny – ons het in elk geval sulke diep spore in die sagte sand getrap dat tekkieboots nie gehelp het nie. Ek onthou een nag het Kokkie my wakker gemaak en gesê ek moet my Puma-jagmes en Beta-liggie vat en die paddas gaan uitsort wat heelaand kwaak. Ons sou toe later agterkom dat jy omtrent 30 minute ver moet loop voor jy by die paddas uitkom.
“As junior operateur in die span was dit my ‘voorreg’ om die Syncal 30/TR 48-radio te dra. Ons was in die omgewing van die treinspoor, besig om in ’n formasie te loop, toe ons ons heel eerste kontak slaan. Net voor die skote klap, het ek ’n boskraai hoor roep – daai kras geluid sou my altyd bybly en vir die res van my lewe aan daardie dag herinner. Ek het terselfdertyd die eerste terr in my lewe gesien. Hy het geel gelaatstrekke gehad en ook die olive green cammies [kamoefleerdrag] gedra. Daai breukdeel van ’n sekonde terwyl ek gewonder het hoekom is hy geel, het amper my lewe gekos. In die oor-en-weer-skietery wat gevolg het, is Manuel Ganhão dood. Dit was baie sleg vir ons om ’n buddy te verloor en die helikopter moes hom kom uitlig.”
Maar dit was nie die span se laaste ongeval nie. Kort daarna, vroeg in Februarie 1978, vind die aanval op die spoorlyn in die omgewing van Madulo-pan plaas en word lt Kokkie du Toit deur ’n gewonde Frelimo doodgeskiet (die voorval waarvan aan die begin van die hoofstuk vertel word).
Getrou aan Recce-tradisie het hulle Du Toit met ’n groot gesukkel uitgedra terwyl ’n groot groep Frelimo’s kort op hul hakke was.
Een van die spanleiers, sers Louis Klopper, bevestig dat dit die modus operandi was om bykans tydens alle ontplooiings aan die Russian Front deur ’n oormag gejaag te word: “Dit was die patroon van die ontplooiing … spring met ’n span van ses tot agt man in, doen die aanval en word dan byna onmiddellik deur ’n Frelimo-oormag – soms tot kompaniesterkte – in opvolgoperasies agternagesit.”
Tydens die laaste ontplooiing van Du Toit se span besoek 1 Recce se bevelvoerder, kmdt Jakes Swart, die groep op Buffalo Range. Maj Hennie Blaauw, Alpha-groep se bevelvoerder, en kapt Woody Woodburne, SSO Ops Vloot, vergesel Swart. Blaauw het hom kom oriënteer om bevel by Venter oor te neem en was in die Tak HK toe Du Toit se span radiokontak maak en bevestig dat hulle so pas ’n kontak gehad het (dit was die hinderlaag).
Blaauw verlaat ’n paar minute later die Tak HK en hy, Swart en Venter staan ’n entjie weg en gesels toe die seinoffisier, lt Bam de Wet, vinnig naderkom. Hy het pas ’n berig van Du Toit se span ontvang dat dié noodlottig gewond is, sê De Wet.
Met lt Kokkie du Toit se dood op Vrydag 11 Februarie 1978 het 1 Recce binne die bestek van vier weke vier puik soldate verloor.
Die Sondag het almal by die Tak HK spontaan besluit om na Chiredzi se Metodiste-kerk te gaan. Volgens Venter was die paar manne die enigste in uniform by die kerk: “Ek dink nie die gemeente het al voorheen soldate in uniform by die kerkdiens gesien nie. Van die kerkgangers het met ons begin gesels en ’n oom en tannie het in Afrikaans met my gepraat en my bedank dat die Suid-Afrikaners hulle kom help het. Die Recces se dekking was dus nie waterdig nie. Maar ek glo nie dit het in hierdie geval enige nagevolge gehad nie. Die Recces het nie soos Rhodesiese soldate gelyk nie en die gemeente het dit opgemerk maar geen bohaai daaroor gemaak nie.”
* * *
Hannes Venter en sy eweknie in die SAS by Buffalo Range opereer nou onder geweldige druk. Hulle het verskeie spanne aan die Russian Front (in Gaza) ontplooi. Hulle spring met valskerms in, infiltreer na die voorafbeplande hinderlaagstelling en spring die hinderlaag. Dan onttrek hulle, beweeg na die volgende hinderlaagstelling en spring dit ook, waarna groot getalle Frelimo’s die Recce- en SAS-spanne van ses tot agt man jaag. Twee en soms meer kontakte per dag was nie buitengewoon nie, dit was trouens die norm.
Die daaglikse vuurgevegte met Frelimo- en Zanla-guerrillas was dikwels sonder volgehoue noue lugsteun. Helikopters en aanvalsvliegtuie was eenvoudig nie altyd beskikbaar nie. Die ontplooide spanne is byna elke dag besig met ontsnap-en-ontwykingsprosedures terwyl die Frelimo-patrollies kort op hul hakke volg. Soms word van die spanlede gewond en dan is daar nie helikopters om die verliese af te voer nie. Die Rhodesiese lugmag het onophoudelik gevlieg en probleme op die grond het by wyse van prioritisering aandag gekry. Dit het beteken dat die spanne wat ontplooi is, hul kans moes afwag om lugsteun te ontvang.
Bravo-groep was ses weke ontplooi en het vele kontakte gehad. Buiten die vier operateurs wat gesterf het, was daar ook beserings. Die spanne het vinnig aangepas en goed geslaag in hul doel om die vyand te ontwrig. Die gebruik van die daaglikse Telstar-ontplooiings het almal vertroue gegee en die kommunikasie was uitstekend. Dit was egter kwaai druk vir een offisier om daagliks in die Lynx-vliegtuig te sit terwyl daar geen ondersteuning by die Tak HK was nie. Om die druk te verlig, is ’n operateur-offisier betrek as operasionele offisier. Behalwe dat hy die operasiekamer beman het, het hy ook Telstar-dienste gedoen. Dit het die bevel-en-beheer verbeter en effektiewe ondersteuning is aan die ontplooide spanne gelewer.
Kmdt Swart het vervolgens besluit om Bravo-groep deur Alpha-groep te vervang. Hennie Blaauw is op 13 Februarie 1978 terug Durban toe met die vliegtuig wat Kokkie du Toit se lyk afgevoer het. Hy het aan sy groep orders gegee en was binne ’n paar dae weer terug in Buffalo Range waar hy by Venter oorgeneem het. Die omruiling van die twee groepe was binne enkele dae afgehandel.