Читать книгу Kristalvlakte - Amy Jephta - Страница 3
Voorwoord
ОглавлениеKristalvlakte eer die lewe van professor Jakes Gerwel. Jakes was ’n groot liefhebber en ondersteuner van die teater, en dit is juis ’n gesprek tussen hom en Koos Bekker, mededirekteur van Naspers, wat gelei het tot die idee om Bertolt Brecht se drama Mutter Courage und ihre Kinder na die Kaapse Vlakte te verplaas. Ter ere van Jakes is die Suidoosterfees-teksontwikkelingsprogram geskep, met Naspers se ondersteuning, en só het Amy Jephta se besonderse verplasing van Mutter Courage ontstaan: Kristalvlakte.
Brecht het Mutter Courage in dolle vaart op die vooraand van die Tweede Wêreldoorlog geskryf. Hy wou waarsku teen fascisme en geweld, nog vóór die verskriklike misdade van die oorlog sou plaasvind. Hy plaas egter sy toneel 300 jaar vroeër, tydens die Dertigjarige Oorlog (1618-1648) – een van die bloedigste tydperke in die Europese geskiedenis. Aanvanklik was dit ’n bakleiery tussen Katoliek en Protestant, later net bloed om bloed. Sommige streke in sentraal-Europa het so gereeld van hand verwissel dat oor dekades heen tussen ’n kwart en twee-derdes van die bevolking uitgewis is. Brecht teken skuiwende grense en lojaliteite, met karakters wat in- en uitgewaai word deur winde van die oorlog. Die hoofkarakter smous uit ’n waentjie met wie ook al sy kan – ’n hiëna van die slagveld, kan mens sê – om haar kinders aan die lewe te hou. Een vir een vreet die stryd hulle op. Aanvanklik het gehore simpatie gehad met haar, wat Brecht só ontstel het dat hy die teks aangepas het om dit duidelik te maak: diegene wat wins maak uit die oorlog, verdoem ook hulself.
Brecht se toneelstuk kan as epiese teater beskryf word. Die verhaal strek oor lande en dekades heen, en wys vir ons ’n spesifieke sosiale of politieke verskynsel sodat ons op ’n nuwe manier daaroor kan dink. Sy tegniek was egter nuut: hy wou nie dat ons saam met Mutter Courage juig of huil nie; hy’t liewer gemik na ’n “vervreemdingseffek” – om ons op ’n afstand te hou en byna objektief na haar te laat kyk; haar met ’n koue oog te peil. Vervreemdingseffekte maak ons opsetlik bewus daarvan dat ons ’n toneelstuk kyk – dit wil ons herinner dat die toneelstuk, nes die sosiale en politieke werklikheid, geskep is, en daarom ook verander kan word. Die idee is om ons as kykers kwaad te maak vir die euwel, sodat jy uit die teater uit stap en iets aktiefs aan die saak gaan doen.
Mutter Courage is die eerste maal in 1941 opgevoer, in Zürich. Vandag weet ons dat Brecht se waarskuwing nie die verskrikkinge van die oorlog kon keer nie, maar tog dat dit die troos van groot letterkunde bring: ’n werk wat uit die as van selfvernietiging ons herinner dat die mens ook anders kan wees. Heelparty kritici dink dat Mutter Courage die grootste drama van die 20ste eeu was.
Kristalvlakte moet egter nie gelees word as ’n eenvoudige verplasing van Mutter Courage nie. Dit staan gemaklik op eie bene, sonder verwysing na Brecht se oorspronklike teks. Só speel Kristalvlakte byvoorbeeld nie in die verre verlede af nie. Dié oorlog woed sedert die vroeë dae van die Mongrels, die invloei van Mandrax en ander dwelms, tot by die tik-oorlog van die 21ste eeu. Dit is nie iets uit die geskiedenisboeke nie – die storie sou meer tuis wees op die voorblad van môre se koerant. Die idee dat die sosiale werklikheid geskep is, is ewe belangrik hier, maar dit is ’n minder abstrakte konsep as in Europa: die Vlakte is juis “[g]eskep uit die stof vannie Distrik soes ’n pikswart Eva”. Die reëls waarvolgens hierdie wêreld werk, verander tussen tonele, of dalk eerder tydens tonele. Op hierdie onvaste grond probeer die karakters ’n lewe onderhandel.
Kristalvlakte is betrokke, dit is eg en herkenbaar, dit vra die kyker om op te tree, maar dit doen dit ook met ’n groter, kouer blik wat die verbeelding losmaak van hier en nou, en ’n nuwe perspektief op die werklikheid gee. Op die verhoog kla, kritiseer en protesteer die karakters, maar hul woede is “lomp”, sy “kniekoppies soe lam soes ’n pasgebore bokkie”. Vanuit die gehoor sien ons meer: die onsekere grens tussen slagoffer en skuldige, ’n weiering om eenvoudige oplossings te aanvaar of metafisiese wondermiddels te sluk, en ’n vlymende beeld van ’n vervreemde wêreld, net buite die voordeur.
Tertius Kapp