Читать книгу Dis ek, Anna: die volle verhaal (filmuitgawe) - Anchien Troskie as Elbie Lötter - Страница 6

Оглавление

Ek was agt jaar oud toe my ma oom Danie huis toe gebring het. Agt jaar. Vandat ek agt was, tot met sestien jaar, was my lewe … anders. Dis al woord waaraan ek kan dink om my lewe te beskryf. Anders. Daarom sit ek vandag, nou, in my motor, op die pad vir agt uur, sodat ek agt jaar van onreg, van hel kan uitwis. As alles goed gaan, staan ek môreoggend drie-uur voor hulle deur. Drie-uur op ’n weeksoggend in Bloemfontein. Dis goed. Hulle sal nog vas aan die slaap wees. Is dit nie so dat die meeste misdaad in hierdie dooie uur plaasvind nie? Maar voor ek daar kom, voor ek iets kan doen, moet ek dít wat ek so lank onderdruk en uit my geheue gewil het, voor my sien. Dan, wanneer ek die pyn onthou, dit vóél, sal ek die moed hê om te doen wat ek moet. Ek moet dit weer kan sien, ek moet dit kan voel. Soos ek hom gaan sien, soos ek sy vrees gaan ruik.

My vroegste herinnering dat alles tussen my pa en ma nie goed was nie, kom uit my sesde jaar. Ek was in die kleuterskool, terwyl my ouers bedags gewerk het. My pa was ’n sersant in die SA Polisie, my ma het by Bantoe Administrasie gewerk. Ons het op ’n plattelandse dorpie in die Oos-Kaap gewoon.

Ek en my ma was in die sitkamer. Die radio het saggies in die agtergrond gespeel. Ek was besig om ’n toring van my houtblokkies te bou, my ma het net gesit. Soos een wat dood was. Of dood wou gaan. Toe stap my pa in, en daar kom lewe in my ma.

“Kyk mooi na hom, jou pa!” skree sy. “Hy is nie meer lief vir jou nie, Anna. Ook nie meer vir my nie.”

“Johanna!” waarsku my pa, maar my ma was buite haarself.

“Wil jy die waarheid vir jou kind wegsteek?” Sy snak na asem, skree nog harder: “Hy is liewer vir ’n ander vrou met drie kinders as vir ons. ’n Slet! Dis by háár wat hy wil wees, Anna. Alta die slet en haar drie kinders!”

Alta. Tot vandag toe haat ek daardie naam met ’n passie. Ek kan ook nie onderskeid tref tussen daardie Alta en ander Altas nie. As ek een ontmoet, word sy dadelik die vrou wat my pa van my gesteel het, die een met die drie kinders vir wie my pa liewer was as vir my. Ek is dadelik antagonisties teenoor die draer van die naam.

My pa het sonder ’n woord verbygestap en gaan stort, ná die tyd op die dubbelbed gelê en rook. Ma het opgestaan, uitgestap. Ek gaan lê by my pa, styf in sy arms, soos altyd. Toe stap sy in met Pa se dienspistool in haar hand.

“Vark! Jou fokken vark! Ek sal jou doodskiet. Dis wat ’n man verdien wat sy vrou en kind eenkant toe stoot vir ’n ander vrou!”

Ek was nie bang nie, miskien omdat ek nie geweet het mens moet bang wees as jou ma dreig om jou pa te skiet en hy trek jou oor sy bors en sê: “Skiet maar!” nie. Later jare, elke keer wanneer ek die toneel weer onthou het, het ek gewonder wie was lief vir my. My ma wat toe nie geskiet het nie, of my pa wat my gebruik het om my ma daarvan te weerhou om hom soos … ’n vark … dood te skiet.

My pa was die vriendelike een in ons gesin. Die een wat graag vir my tyd gemaak het. Wat my saamgesleep het, soms teen my wil, na rugby- en krieketwedstryde. Hy het kort-kort by sulke wedstryde lemoene uitgehaal en gerol tot hulle sag van binne was. Die lemoene was in twee aparte houers verpak. Myne was pure lemoen, die sap het taai teen my ken afgeloop, my vingers aan mekaar laat vassit. My pa het syne die vorige aand in die geheim met spuitnaalde vol brandewyn gedokter sodat hy ná die wedstryd nog vroliker was. As ons ná die wedstryd by die huis opdaag, vol lag, veral as ons span gewen het, sou my ma soos ’n dreigende donker donderwolk oor ons uittroon. Sy sou niks sê nie. My net kamer toe stuur ná ete. Haar woorde sou sy laat opbou tot sy so barstens toe vol van woorde was dat sy nie anders kon as om te skree nie. Op my pa. Nie op my nie. Nie toe nie. Terwyl ek in my bed opgekrul lê, toegerol in my komberse om die snerpende koue af te weer, het woorde, frases deur die mure gesyfer. “Hoe kan jy? Kan jy nie meer verantwoordelik wees nie? Hoe bang dink jy is sy as jy só lyk? Kar omgooi … ongeluk … Jy is veronderstel om die pa te wees, iemand na wie sy kan opkyk!”

Aan en aan tot ek van skone uitputting aan die slaap raak. Wat my altyd sal bybly, is dat ek nooit my pa se stem gehoor het nie. Asof hy nie daar was nie. Asof hy homself toe al onttrek het.

Een Sondagoggend ná kerk het ek die moed bymekaar geskraap om met my ma te praat.

“Mamma, Pappa kyk mooi na my as ons gaan rugby kyk, ek is nie bang nie.”

“Anna,” en toe kom sit sy voor my op haar knieë sodat sy my in die oë kan kyk, “ek weet dis vir jou lekker, ek weet jy het pret, maar dit is nie die regte manier van doen nie. Jou pa is veronderstel om jou te beskerm, met sy lewe as dit moet, nie jou lewe op die spel te plaas nie. Dit is ongelukkig wat gebeur wanneer hy drink en bestuur. Dan kan hy oordeelsfoute begaan. Dan raak dit gevaarlik. Verstaan jy?”

Ek het nie, maar ek het geknik: ja.

Ek kon nie verstaan hoe dit gevaarlik kan wees om pret saam met jou pa te hê nie. Ek is ná daardie dag verbied om saam met my pa te gaan rugby kyk. Ek moes op die stoep staan en vir hom waai, terwyl hy wegry.

Die Saterdag ná my ma met my pa geraas het omdat hy drink en bestuur, het ek en hy gaan visvang. Ek weet nie hoe my pa my ma oorreed het dat ek saam met hom kon gaan nie, maar dié keer het sy niks gesê nie. My net styf teen haar gedruk voor ek in die kar geklim het. Ons het nooit by die see visgevang nie, al was dit naby genoeg. “Te rof,” het hy gesê. “Ek is ’n gebore Vrystater, ons vang vis, ons hengel nie, en definitief nie in die see nie.”

Daarom was ons daardie dag langs die dam. Dit was nie ’n groot dam nie, net groot genoeg vir visvang. Dit was ’n mooi dag. Die son het warm geskyn, die wind het nie daardie dag gewaai nie, en my pa het genoeg koeldrank en eetgoed saamgebring sodat ons nie sou honger of dors ly nie.

“Anna,” het hy gesê, maar nie na my gekyk nie, hy het oor die water uitgestaar asof hy hulp soek, “ek en Mamma het besluit om te skei. Weet jy wat skei beteken?”

“Ja.” Baie kinders in my kleuterskoolklas se ouers was geskei. Dit het beteken dat hulle twee huise het en twee geskenke kry met hulle verjaardag en met Kersfees.

“Pappa wil hê jy moet weet dat ek en Mamma jou baie liefhet. Dit is nie jou skuld dat ons gaan skei nie. Ons, ek en Mamma, hoort net nie meer bymekaar nie. Verstaan jy?” Nou het hy vir my gekyk. “Ek is jammer, Anna, dat ek dit aan jou doen.” Die trane het in sy oë begin wys.

Ek het sy hand vasgehou, dit ’n drukkie gegee. “Dis orraait, Pappa.”

Van die egskeiding self onthou ek nie veel nie. Net dat my kat dieselfde dag doodgery is, en dat my pa my daarvan kom sê het net voor ons verhuis het. My hart was gebreek. Oor die kat? Oor die egskeiding? Dit weet ek nie. Ek weet net dat my hart nog altyd wil breek as ek aan daardie dag dink.

Na die egskeiding het ek en my ma stad toe getrek. By die see. My pa het ’n verplasing aangevra en ook in die stad kom bly. Hy het vir hom ’n huis naby die see gehuur. “Omdat ek net te veel na my meisiekind verlang,” het hy gesê.

My ma het gewerk en ek het by Paulina gebly. Paulina Willemse het kort na ons intrek aan ons deur kom klop vir werk. Mens kon sien sy kry swaar. My ma moet haar jammer gekry het, want sy het die volgende dag by ons kom werk. Sy het baie jare by ons gebly. Paulina was die een wat soms, veral as my ma met my geraas het, haar busgeld gevat en vir my roomys gaan koop het. Dan het ek op my maag op die mat gelê en aan die een kant van die roomys gelek. Spokie, die wit kat wat my ma vir my gekoop het na ons ingetrek het, het aan die ander kant sit en lek.

“Hoekom koop jy vir my roomys, Paulina? Vanmiddag sal jy huis toe moet stap. En dis ver.”

“My kinders bly by my suster. As ek vir jou goed is, sal die Here kyk dat sy vir my kinders ook goed is.” Sy het met haar hande voor haar maag gevou gestaan, die maag effens uitgestoot, ’n glimlag om haar mond en oë. Paulina het altyd so gestaan. Ek was baie lief vir haar.

Ek het my kat gehad, vir Paulina bedags, ballet twee keer ’n week, my ma saans en my pa elke tweede naweek. Ek was gelukkig.

Eers baie later het ek begryp dat hulle moes skei. Ek het hulle nog nooit kwalik geneem nie. Hulle het so min bymekaar gepas soos sneeu in die wildtuin. My ma was hipernetjies, ’n pyn eintlik, sy het nie gerook of gedrink of paarties gehou nie. Sy het dit gehaat. My ma was elke Sondag in die kerk, en ek elke Sondag in die Sondagskool. My pa het gerook en gedrink. Baie. Hy was mal oor vrouens en paarties. My ma het geglo dat dit ’n dodelike kombinasie was, en soos gewoonlik was sy reg; hy het Alta by ’n paartie ontmoet en toe hy te veel gedrink het, het hy saam met haar in die bed gespring en eindelik by haar en haar drie kinders in haar huis wat een van haar vorige mans betaal het, beland. Net soos my ma voorspel het dat dit eendag sou gebeur.

Hy het ’n uitval met die dominee gehad voor my geboorte, omdat hy nie as diaken ná die diens in die konsistorie wou afsluit met gebed nie en toe deur die dominee gedwing is. Hy het ’n belofte gemaak dat hy nooit weer kerk toe sou gaan nie.

“Mense, Anna,” het hy my op ’n dag gesê, “glo dat God in die kerk bly. Dat die predikant ons voorspraak by Hom is. Hulle is verkeerd. Hy bly hiér.” Hy het sy hand op sy bors gedruk. “As jy Hom nie hier binne het nie, sal jy Hom nie in ’n kerk kry nie.”

Hy het daardie belofte net een keer verbreek, en dit was die dag met my doop. Ek vermoed nog altyd dat my ma hom met iets verskrikliks gedreig het as hy nie saam met haar voor die preekstoel gaan staan nie. Selfs met sy begrafnisdiens is ons nie toegelaat om sy kis in die kerk in te bring nie.

Nee, ek het hulle nooit kwalik geneem nie.

Skool was alles waarvan ek gedroom het. Ek het leer lees, skryf, somme maak. Ek het van alles gehou, maar die meeste van lees. Met lees was daar nie perke in my wêreld nie. Ek het ander kinders asof vir die eerste keer gesien. Soos kinders werklik is. Lief vir speel, lief vir sports. Seuns het my gefassineer. Seker omdat ek hulle nie geken het nie. Wat maak hulle anders? Daarom, toe ’n seun in my klas my een pouse vra of ek na sy tottermannetjie wil kyk, het ek my nie twee keer laat nooi nie. Eenkant, weg van die ander kinders, onder ’n boom, het hy sy broek laat sak en my ’n vinnige kykie laat kry. ’n Wurmpie, het ek gedink.

“Ek het jou gewys, wys my nou joune!” het die seuntjie aangedring.

Ek het my rokkie hoog opgetrek, my broekie laat sak. Die geskokte uitdrukking op sy gesig terwyl hy oor my skouer na iets kyk, het my die broekie vinnig weer laat optrek.

Om op sewe in meneer Van Pletzen se kantoor te staan, terwyl hy jou ma bel, is angswekkend.

Sy het die hele pad huis toe nie met my gepraat nie. My kamer toe gestuur met: “Ek kan nie eens na jou kyk nie!” en sies in haar oë. Dat ek haar dit aangedoen het, kon ek myself nooit vergewe nie. Ek sal die hartseer en teleurstelling in haar oë nooit vergeet nie. Ek het geweet wat ek gedoen het was stout, maar ek het nie gedink dit was so erg stout nie.

My ma het my pa gebel, vir my kom sê dat ek nie uit my kamer mag kom nie, hulle wil privaat gesels. Daardie aand het daar nie net woorde deur die mure gesyfer nie, maar ’n gesprek. ’n Eensydige gesprek, soos gewoonlik.

“Waar kom sy daaraan?”

Stilte.

“Dit kan nie normaal wees nie, nie alle kinders doen dit nie.”

Stilte.

“Sy kry dit van jou.”

Stilte.

“Dit moet geneties wees.”

Stilte.

“Dis nie ’n grap nie. Jy is nie die een wat voor die skoolhoof moes staan nie. Wat maak ons groot, ek en jy? ’n Slet! Dis omdat jy nooit jou man teen haar staan nie. Sy draai jou om haar pinkie.”

Stilte.

My pa het my die volgende oggend skool toe gevat omdat my ma nog nie vir my kon kyk nie. “Pappa,” het ek hom gekeer toe ons voor die skoolhek stilhou, “wat is ’n slet?”

“Waar kom jy aan daardie woord?”

“Ek het gehoor toe Mamma –”

Hy het sy hand die lug in gehou, my gekeer. “Anna, wat jy gister gedoen het, was nie sonde nie. Jy was nuuskierig, en dit is normaal. Ek weet dat jy nie stout wou wees nie. En dis mos al wat saak maak, of hoe?”

Ek het geknik, nog steeds nie seker wat slet beteken nie. “Anna, wat jy ook al doen, Pappa sal altyd vir jou lief wees. Onthou dit.”

“Mamma sê ek is ’n vrot appel in haar boom. Ek moet luister na haar, dan sal my en haar lewe beter wees.”

“Jou ma sê baie dinge. Ek sou my nie so daaraan steur as ek jy was nie. Toe, draf, die klok het al gelui.”

My ma het ná die skoolepisode baie lank nie met my gepraat nie, sy was te kwaad. Maar op ’n dag het sy tog weer vriendeliker opgetree, my eetkamer toe geroep en by die tafel maak sit.

“Anna,” het sy begin, “ek wil hê jy moet mooi luister. Sal jy?”

Ek het ja geknik.

“Dit is nou net ek en jy. Jou pa wil ons nie meer hê nie. Ek gaan van nou af harder moet werk en jy ook. Ek wil hê dat jy jou beste in die skool moet doen. Hard moet werk. Verstaan jy?”

Ek het weer geknik: ja.

“Anna,” het sy swaar gesug, “ek het nog nooit met jou gepraat oor daardie dag by die skool nie.” Ek het my kop laat sak. Sy het nie nodig gehad om meer te sê nie, ek het geweet na watter dag sy verwys. “Ek wil net vir jou sê dat ek nie meer vir jou kwaad is nie. Maar,” en sy het haar vinger voor my neus geswaai, “dit mag nooit ooit weer gebeur nie, hoor jy? Wat jy gedoen het, was vuil, ’n mens se hande val sommer af as mens daar vroetel. Verstaan jy?”

“Ja, Mamma.” Bedees.

“Nou goed.” Sy het opgestaan. “Dan verstaan ons mekaar. Dis ons kans dié, Anna, om ’n nuwe begin te maak.”

Ons lewe het ’n rustige patroon aangeneem. My en my ma s’n. Ons het geleer om met mekaar se nukke saam te leef. Sy was minder streng. Meer verdraagsaam. Al het sy my nog steeds gedwing om rokke, wat ek gehaat het, te dra. My klasmaats het die somers in kortbroeke baljaar, ek moes in rokkies rondsit. By my pa het ek twee jeans en toppies gebêre. Hy het dit die vorige vakansie vir my gekoop. Dáár kon ek dit dra. My ma het jeans gehaat, dit as die klere van ducktails beskou. Wanneer my pa my kom oplaai het, het hy altyd netjiese langbroeke gedra, het ek opgemerk, maar by die huis het hy ook vinnig in sy jeans geklim. Al wat hy nie vir haar kon wegsteek nie, was sy baard. Dít het sy ook gehaat. Sy het afkeurend na hom gekyk, maar niks gesê nie.

Naweke saam met my pa was waarna ek die meeste uitgesien het. Hy het vir my altyd ’n klein geskenkie gehad, maar dít was nie die lekkerste nie, die lekkerste was dat ons saam was, soos in die ou dae. Ons het weer gaan rugby kyk, gaan visvang. En daar was niemand by my pa se plek wat vir ons vangs neus optrek nie! Ons het saam die vis skoongemaak, in happies gesny en gebraai. My pa het nie lank saam met Alta gebly nie. Hy het wel nog by haar gekuier, maar op my naweke het hy haar laataand, wanneer ek al moes slaap, gebel. Ek het haar nooit gesien nie. Dit was net mý naweke.

My ma het as verkoopsdame by ’n afdelingswinkel gewerk, iets wat sy gehaat het. “Ek moet ander werk probeer kry,” het sy menigmaal moedeloos gesê. “Ek voel dat ek daar in ’n doodloopstraat is, dit is dieselfde patroon oor en oor.”

Soms het ek haar so jammer gekry. Sy was nie gelukkig nie, mens kon dit sien. Haar hart was seer oor my pa. Oor haar werk. Sy het baie gehuil, soms net die niet in gestaar. Nie veel aandag aan my gegee nie, nie dat ek haar ooit daarvoor kwalik geneem het nie. Maar in sekere opsigte was die eerste twee jaar dat ons alleen was, hel. Dit was soos om aan die buitekant in die koue te staan en deur ’n venster die gelukkige huisgesin daar binne om die kaggel dop te hou. Van my klasmaats se ouers was ook geskei, dit is waar, maar daar was ook baie ander wie se ouers nog bymekaar was. Die verskil tussen die twee groepe was vir my ooglopend. Kinders wat uit ’n gelukkige huisgesin kom, so het ek dit gesien, is net gelukkiger, minder buierig, én hulle kruip minder gat, by die onderwyseres en by maats.

Ek was agt jaar oud, en in sub B, toe juffrou Lubbe ons eerste Engelse leesboekies uitdeel.

“Lees net die eerste bladsy vir môre,” was haar opdrag.

Ek kon nie. Ek het dieselfde middag die hele boekie deurgelees. Die naam van die boek kan ek glad nie herroep nie, dalk omdat die titel nie vir my belangrik was nie; die storie het gegaan oor ’n kameelperd, ’n olifant en ’n leeu. Die vreemde woorde het die eerste keer swaar oor my lippe gekom, die tweede keer makliker. Trots het ek die volgende dag vir juffrou Lubbe vertel dat ek klaar is met die boek. In haar oë kon ek sien sy glo my nie.

“Moet ek vir Juffrou lees?” het ek aangebied.

Sy was so beïndruk, sy het my die ganse oggend in die skool rondgesleep sodat ek vir al die onderwysers kon lees.

My ma was so trots toe ek haar die aand vertel dat sy hardop gelag het. Ek het selfs roomys na ete gekry. My ma het so selde gelag dat ek my voorgeneem het om nog harder te leer sodat sy meer gereeld vrolik kon wees. Sy het my pa gemis, ek kon dit sien. Sy het dit nooit gesê nie, maar ek het geweet dis na hom wat sy verlang as sy saans in haar bed lê en huil. Sy het baie gehuil die laaste ruk. Veral as my pa my na ’n naweek kom aflaai het. Hy het altyd ingekom. Bietjie met my ma gesels. Soms koffie gedrink. Ek het altyd gesorg dat ek weer my rokkie aanhet as hy my aflaai. Die ander rokke opgefrommel in my tas gedruk sodat sy nie moet weet en vir hom kwaad wees nie. Want dis al wanneer haar oë geglimlag het. Wanneer my pa daar was.

Toe bring Ma vir Danie du Toit huis toe.

“Ek het mos vir jou vertel dat ek verlede week ’n nuwe werk gekry het,” het sy glimlaggend gesê, “dis nou my nuwe baas.”

“Hallo, mooi ding,” groet hy en buk af om my kat te streel. Ek het dadelik van hom gehou, en hoekom nie? Hy was ’n mooi man, lank, donker met blou oë, hy het gedink ek is mooi en hy het van my kat gehou.

“My naam is oom Danie, jou ma werk vir my, ek’s haar departementshoof.”

“Hallo, oom,” groet ek bedees, soos deur my ma geleer. Ma het opgestaan om koffie te gaan maak, ek het met oom Danie gesels. Ek kan nie onthou oor wat alles nie, maar hy het my vertel dat hy ’n seun het wat so oud soos ek is, en dat die kind by sy ma bly, soos ek by myne. Hy sal hom volgende keer saambring, dan kan ons lekker speel.

“Werk Ma nou lekker?” het ek gevra terwyl sy suiker en melk na oom Danie uithou.

“Baie.” Sy het glimlaggend na hom gekyk.

“Ek is bly, Mamma.” Na hulle koffie gedrink het, is ek kamer toe gestuur om te gaan speel, en kort daarna om te bad en toe bed toe.

My pa het ook in dié tyd weer begin kuier; sy verhouding met Alta het tot ’n einde gekom toe hy haar in die middel van die dag met haar vriendin in die bed vang. My ma het haar kop geskud en triomfantlik geglimlag. “Ek het jou mos gesê!” Terwyl my pa kop onderstebo voor haar staan. Daar was ’n hartseer aan hom. Ek kon sien.

My ma het daarna selfs een Saterdag saamgegaan na ’n krieketwedstryd waarin my pa gespeel het. Ek was so trots op hom, my pa. Hy was die paaltjiewagter. Ek en my ma het op die pawiljoen tussen die ander trotse kinders en vrouens gesit. Ek met ’n rok aan, lang wit kouse wat tot by my knieë kom, swart skoene. Soos vir kerk. Geen papgerolde lemoene nie, in plaas daarvan het sy nou en dan my plastiekglas gevat en van die aangemaakte Oros daarin geskink. Terwyl die ander kinders blikkies Coke en roomys vashou.

Alles het so skielik gebeur, ek weet nou nog nie presies hoe dit gekom het nie. Die bouler het ingekom en geboul, my pa het agter die paaltjies gewag, en toe, skielik, sak hy vooroor op sy knieë, sy hande oor sy voorkop geslaan. Van waar ons sit, kon ek die bloed deur sy vingers sien sypel. Ons het met hom hospitaal toe gejaag. Daar was gelukkig nie ander skade nie, het die dokter ons verseker. Hy sou moes steke kry en die nag in die hospitaal deurbring. Die steke het soos ’n x-teken oor sy voorkop gelê. Sy linkeroog was besig om toe te swel.

“Kom sit hier by my,” het hy genooi en met sy hand op die bed beduie. Ek het versigtig gaan sit sodat ek hom nie seermaak nie. “Moenie worry nie, Anna,” het hy getroos, “ek is piekfyn. Onkruid vergaan mos nie so maklik nie, nè?”

My ma het aan die ander kant van die bed gaan sit. Ook sy het sy hand vasgehou.

En ek het in die stilligheid gehoop.

Maar toe kom oom Danie weer kuier en dié keer het hy sy seun saamgebring, en van hom het ek net mooi niks gehou nie. Ook ’n Danie. Klein-Danie, het sy pa hom genoem. Daar was niks kleins aan hom nie, het ek verwonderd gedink, hy was vét. En hy was ’n pyn, het ek later uitgevind, hy het altyd my vlegsel getrek, my kat geskop en stories by sy pa loop aandra. Oom Danie het nooit sy seun se kant gevat as ons baklei het nie, my ma het wel. Ek is ’n paar keer kamer toe gestuur om oor my sondes te gaan nadink, terwyl die vet klein Danie eintlik die sondebok was.

“Anna, maak vir ons koffie,” het my ma die dag gevra.

My hart het in my skoene gesink. Ek was bang ek laat die skinkbord val, dit het altyd te swaar gevoel. Maar ek het sonder om ’n woord te sê opgestaan.

“Doen jy altyd wat jou ma jou sê om te doen?” het oom Danie gevra toe ek die skinkbord versigtig op die koffietafel neersit.

“Ja, oom.”

“Sy beter! Ons het ’n goeie verstandhouding, ek en Anna. Sy weet dat ek van beter weet, en daarom luister sy na my.”

“Hoor jy, Klein-Danie? Ek hou van gehoorsame kinders,” het hy gesê met iets in sy oë wat ek nie geken het nie.

Oom Danie se kuiers het al meer gereeld geword. Soms het hy my ma uitgevat vir ete. Ander kere om te gaan dans. Op hierdie geleenthede het Paulina by my kom bly. Omdat ek bang was, het sy by my in die kamer kom slaap. Dan het ek vir haar gelees. Alles wat ek kon. Haar gunsteling was die Huisgenoot. Ek moes sommige artikels vir haar oor en oor lees. Wanneer ons dan my ma-hulle hoor terugkom, het sy haar komberse gegryp en in die kombuis gaan wag.

My pa het nog steeds gereeld kom kuier, maar nou het hy sy jeans aangehou.

“Jo,” – hy het altyd vir haar Jo genoem as hy vir haar lief was – “kan ons nie maar weer probeer nie? Geen drank nie, ek belowe,” het hy een aand vir haar gesê.

“Ek wens ek kon jou glo, Hendrik,” – sy het hom altyd Hendrik genoem, al was sy lief vir hom – “maar ek kan nie. Ek het ’n man ontmoet wat soos ek is. Hy drink nie, hy rook nie. Hy hou nie van rugby óf krieket óf visvang nie. Hy is welaf. Hy kan goed vir my en Anna sorg.”

“Klink vir my meer na moffie as man,” het Pa gebrom. Ek kon nie help om te lag nie.

“Anna! Hendrik!” het my ma gewaarsku. “Ek het hom lief, Hendrik.”

“Wat van my? Wat van Anna?” het my pa gesmeek.

“Anna is en bly my verantwoordelikheid. En wat tussen my en jou was, is lankal verby. Jy weet dit. As jy enige gevoel vir my oorhet, sal jy my hierdie geluk gun. Ek wil nie hê dat jy weer hierheen kom nie, jy maak net vir Anna deurmekaar. Skep verwagtinge wat daar nie is nie.”

“Dink jy nie dis goed vir Anna om te sien dat haar ouers nog vriende is nie?”

“Nee, ek dink die waarheid is beter: ons sal nooit vriende kan wees nie.”

Hy het nie weer ingekom as hy my kom op- of aflaai nie.

“Anna, ek weet jy sou graag wou hê dat ek en jou pa weer moet trou,” het my ma probeer verduidelik. “Maar dit kan nie. ’n Jakkals verander van hare, maar nie van streke nie.”

“Wat beteken dit?”

“Dit beteken dat hy ons kort voor lank weer sal los vir ’n ander vrou. Kyk na hom. Hy weet ek kan dit nie verdra as hy jeans of ’n baard dra nie, en tog doen hy dit.”

“Hy het ’n brief van die dokter vir sy baard. Dis sy vel.”

“Skelmstreke, dis wat dit is.”

Oom Danie hét my ma gelukkig gemaak. Sy het meer en meer gelag. As toegif het ek haar einde van die jaar verras met ’n gemiddelde A+. Tien van die skool se toppresteerders is afgeneem vir die plaaslike koerant. Ek ook. My ma het die foto versigtig uitgeknip en laat raam. Toe hang sy die foto in my kamer.

Vir my tiende verjaardag het my ma en oom Danie ons strand toe gevat. Dit was ’n wonderlike dag. Wolkloos. See potblou. Ek het die skokpienk bikini aangehad wat my ma net die vorige dag op my bed neergesit het. Die goue kettinkie met ’n hartjie waarop my naam gegraveer is, om my nek. Dit was my verjaardaggeskenk van my ma.

“Wat wil jy graag vir jou verjaardag hê, Anna?” het sy die vorige week gevra.

Ander jare sou ek net my skouers optrek, die opwinding van nié weet wat jou geskenk gaan wees nie, is soms beter as die geskenk self. Maar dié keer was ek reg met ’n antwoord. “Klere, asseblief, Mamma.”

“Klere?” het sy verbaas geantwoord. “Maar, Anna, jy het ’n kas vol rokke.”

“Ek wil nie meer rokke dra nie. Ek haat rokke! Ek wil shorts hê, en jeans en T-shirts.”

“Anna.” My ma het haar hier-kom-’n-preek-gesig opgesit. “’n Vrou moet altyd soos ’n vrou lyk én voel. Jeans en kortbroeke werk vir die strand, maar andersins gaan dit jou nie soos een laat voel nie. ’n Vrou moet sag, toegewend wees. Broeke laat ’n meisie so mannetjiesagtig voorkom. En dít wil ons nie hê nie. Jy is ’n dogtertjie en jy moet soos een lyk. In elk geval het jy mos daardie mooi broeke vir die winter, en sweetpakke.”

Dit was nie dieselfde nie, maar ek het stilgebly. Mens baklei nie met my ma nie. Jy wen tog nooit. Ek het die goue kettinkie gekry. Dit was baie mooi, maar ek sou die klere verkies het. Die bikini het sy as toegif gekoop. “Sien, dit is nou vir my mooi vroulik. Jy sal sien, as jy dit môre aantrek, gaan jy soos ’n regte prinses voel én lyk.”

Oom Danie was dié dag so gaaf, hy het saam met my en Klein-Danie gespeel. Hy het my gekielie totdat dit gevoel het of die lag al die asem uit my longe druk. Hy het nie omgegee as ons hom vol sand gooi nie. Ons het so baie gelag, ek en Klein-Danie, roomys geëet wat taai aan ons hande geword het. Geswem. Toe my ma en oom Danie onder die sambreel inskuif om die ergste hitte te vermy, het Klein-Danie gesê ek moet saam met hom die hoogste duin uitklim. Die sand het ons voete gebrand sodat ons met elke tree ons voete diep in die fyn korrels gegrawe het, op soek na daardie koeligheid ónder die warm sand. Bo gekom, het hy sy T-hemp uitgetrek sodat ons daarop kon sit. Dat ons boude nie ook so moes brand soos ons voete nie. Terwyl hy nog uittrek, het ons op en af gespring om die ergste brand onder ons voete te probeer stil. Ons het op die hemp gaan sit, styf teen mekaar, voete in die sand begrawe. Uitasem het ons na my ma en sy pa tussen die menigte gesoek.

“Jy weet dat hulle gaan trou, nè?” het Klein-Danie gevra.

“Wie sê so?”

“My pa sê so. Maar nie nou al nie. Later. Hy sê hulle moet mekaar eers goed leer ken. Hy wil nie dieselfde fout maak as wat hy met my ma gemaak het nie.”

“My ma sê ook altyd dat my pa ’n fout was.”

“Ek hou van jou ma.”

“Ek hou van jou pa.”

“Ek hou meer van my eie ma.”

“Ek hou ook meer van my eie pa,” het ek hom getroef.

“As hulle trou, sal ek vir jou ma Ma sê.”

“Hoekom?”

“Omdat ek van haar hou. Omdat my pa daarvan sal hou.”

Ek het ’n rukkie doodstil gesit, dit oordink. Wat sou my pa daarvan sê as ek vir oom Danie ook Pa sê? Miskien, het ek gewonder, hoef hy nie te weet nie. “Dan sal ek ook vir jou pa Pa sê.” Ons het na mekaar gekyk, toe gelag.

“Dan,” het Klein-Danie gesê, “hoef ons nie meer skaam te wees by die skool omdat ons pa’s en ma’s geskei is nie. Of omdat ek nie ’n boetie of sussie het nie.”

“Ja.” Ek was nog nooit dáároor skaam nie, maar daardie dag vol son sou ek met alles wat Klein-Danie sê, saamstem.

Ná aandete het oom Danie ons verras met ’n video wat hy gehuur het. “Vir die verjaardagnooi, omdat sy vandag so mooi in haar bikini gelyk het.”

“Nou toe,” het my ma ons aangejaag, “trek julle nagklere aan, dan kan ons kyk.”

Ek het gehardloop, al was dit streng teen die reëls, sodat ek die badkamer eerste kon gebruik. My ma het dié keer nie geraas nie.

Die televisie was in my ma se kamer, en die twee grootmense het op die bed gelê en kyk. Ons twee kinders onder op die vloer, voor die bed.

“Anna, kom lê hier by ons,” het oom Danie genooi. “Ons kan darem nie die verjaardagmeisie op die grond laat lê nie.”

Hy het opgeskuif sodat hy in die middel lê, met ma en dogter weerskante van hom.

Ek weet nie hoe dit gebeur het nie, eers het ek gedink ek droom, maar dit was te werklik. Toe ek regtig daarvan bewus word, was sy linkerhand, die hand naaste aan my, oral op my onderlyf. Hy het my gevryf, dáár. Ek was lam. Van skok. Kon nie beweeg nie. My ma het niks gesien nie. Of het sy? Hoekom doen sy niks? Is dit wat pa’s, of amperstiefpa’s dan, veronderstel was om aan kinders te doen? Hoekom doen my pa dit dan nie? Of sou hy dit nog doen?

Hy het sy mond teen my oor gedruk, ek kon sy warm asem voel. Die soet geur van Old Spice ruik. “Sjuut,” het hy baie saggies gefluister. “Dis ons geheim. Omdat jy so mooi is.”

Hy het eers sy hand uit my broekie gehaal toe ek begin ruk. Verskriklik ruk. Hoekom was my bene so lam? Hoekom kon ek nie praat nie? Toe die lewe terugkom in my bene, toe my lyf ophou ruk, het ek opgestaan. “Ek’s vaak, ek gaan slaap.”

“Maar die fliek is nie klaar nie!” het Klein-Danie gekeer.

“Los haar maar, sy het te veel son weg, dink ek. Lekker slaap, Anna.”

“Ma ook.”

Ek het toilet toe gestap. Lank gewag om te kan piepie. Die piepie wou net nie kom nie. Toe bed toe. Ek het so koud gekry onder die kombers en deken dat ek na die gangkas gesluip het om nog ’n kombers te gaan haal. Nog steeds was dit nie genoeg nie. Ek het gelê en bewe. My lyf was yskoud. Hoekom het hy dit gedoen? Hoekom? Ek het vir Spokie onder van my voete af opgetel, hom onder die komberse ingedwing, teen my maag, sodat ek ’n bietjie van sy warmte kon steel. Hy het hom lank uitgestrek, hard begin spin. “Ek is lief vir jou, Spook,” het ek vir hom gefluister.

Diep in die nag het ek wakker geskrik, die nattigheid tussen my bene gevoel. Spokie was lankal weg, die plek waar hy gelê het, was koud en nat. Handdoeke gaan haal, styf om my lyf gedraai sodat ek die nattigheid nie voel nie. Vroeg die volgende oggend die nat handdoeke tussen die ander in die kas weggepak. Ek sou later vir Paulina van die nat handdoeke vertel, saam sou ons ’n plan kon maak. Die ekstra kombers in die gangkas teruggesit. Self my bed opgemaak. Ma was so trots op my. Sy moes nie weet van die nattigheid in my bed nie. Ek wou my ma vertel, maar hoe? Wat sou haar reaksie wees? Ná wat by die skool gebeur het, kon ek nie. Ek het nie die moed gehad om met haar oor sulke dinge te praat nie. Tussen my en my ma was daar nog altyd ’n kloof waaroor nie een van ons ’n brug kon of wou bou nie. My ma sou nie verstaan dat dit nie my skuld was nie.

Die Maandagmiddag ná skool lê daar die mooiste pop op my bed. Met die fynste klere aan. “’n Porseleinpop. Is sy nie pragtig nie?”

“Sy is! Dankie, Mamma!”

“Dis nie van my nie, Anna. Dis van oom Danie. Hy bederf jou vreeslik.”

Die pop wás mooi, maar as jy goed gekyk het, sou jy die spot in haar oë gelees het.

Dis ek, Anna: die volle verhaal (filmuitgawe)

Подняться наверх